Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Roulied vir A.G. Visser Nou is dit winter op die Suikerbosrand - 'n Winter wat die kort veldgras laat rou Vir die afgeleefde lente wat die land Verlaat het eer die dou Verstyf tot diamante en in die kloof Ouhout en waterboom en wilde-olyf En rooiblaar met sy pontakwynkleurloof In die koue winterdroogte stil en styf Die son se goud bo op hul blare voel, En die lug se blou saffier Sy wolk'loos glorie oor die wêreld spoel Wat met sy glans en gloed 'n wintersdag versier. Nou is dit rustyd op die Suikerbosrand - 'n Rustyd wat 'n nuwe krag sal baar Vir die afgesloofde lewe wat die land Verslyt het eer die jaar Vergaan in groen wat tot bruin stof vergruis, En berg en bulte en vlakte, laagte en vlei Waaroor die koel sug van die nagwind suis, Lê in die skemer as skaduwees uitgesprei; En die bleek sekel van die jong, wit maan Bo die swart lyn van die hang Strooi silwerskyn wat in die swart vergaan Voordat die dag se rooi sy flou weerkaatsing vang. Nou slaap die Sanger van die Suikerbosrand Naas die gebroke snare van sy luit Waarop met kunstenaarstowerkrag sy hand Gespeel het, en waaruit Sy kuns die akkoorde wat sy siel vertolk, Gelok het met die krag wat liefde win Vir hom wat met sy skeppingskrag sy volk Kan leer om wat hy lief het, te bemin. Sy wintertyd is oor. Die donker nag Met sy sterre wat verskiet, [pagina 375] [p. 375] Is syne nou, en ons wat treur en wag, Hoor in die skemer groen die weerklank van sy lied. Nou is dit dagbreek op die Suikerbosrand, En in die ooste is malagiet en groen, Die wisselend' kleur van seegras op die strand, En roos en perlemoen. En in die ruigtegewas ontwaak die vink, En blouborssysies in die doringbos Eer oor verweerde krans en klip die blink Sonstraal sy môreglans in oorvloed los. Van aalwyn rooi en bruin-groen suikerbosblaar, O, vleg vir hom krans en kroon As 'n huldeblyk aan die kunstenaar Wat ewig, ewig rus daar op sy sterfbedtroon. Vorige Volgende