Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende XLI Fluit, windswael, sing en fluit, Hoog oor die akkerbome! Die son strooi goud, En groen skyn al die bome. En voor die middag sluit En die aandwind waai koud, Daar is nog tyd genoeg, Windswael, vir sing en fluit: Dit is nog alte vroeg Vir nag en slaap en drome. Fluit, windswael, fluit en sing, Hoog oor die akkerbome! Die son skyn warm, En stil rus al die bome. En voor die aandster bring Die donker in sy arm, Daar is nog tyd genoeg, Windswael, vir fluit en sing. Dit is nog alte vroeg, Windswael, vir slaap en drome. Vorige Volgende