Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende IX 'n Handvol gruis uit die Hantam - My liewe, lekker Hantam-wyk! 'n Handvol gruis en gedroogde blare, Waboom-blare, ghnarrabos-blare! Arm was ek gister, en nou is ek ryk. Arm in herinnering, arm in verbeelding, Arm in onthou van die vroeër jare Deurgebring in die Hantam-wyk. 'n Handvol gras en gedroogde blare Maak my, wat arm was, koning-ryk - Ryk in herinnering, ryk in verbeelding, Ryk in onthou van die vroeër tyd Toe die Hantam-wêreld al die wêreld Vir my was in die vroeër tyd. 'n Handvol gruis en gedroogde blare Vertel so veel van die wonderjare In my liewe lekker Hantam-wyk - Waboom-blare, ghnarrabos-blare - Arm eergister en nou skatryk! Vorige Volgende