Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende XXXIX Dit is die lang-beloofde land, Die Kanaän wat ons welkom heet. Kom laat ons same, hand aan hand 'n Eed sweer dat ons nooit vergeet Wat ons gebring het in die land - Die Kanaän wat ons welkom heet. Om vry te lewe is ons wens, Om vry te sterwe is ons hoop. Wat voor lê - daarvan kan geen mens Die swart skuil-sluierdoeke stroop. Om vry te lewe is ons wens, Om vry te sterwe is ons hoop. Gevare het ons deurgekom: Daar lê nog smart en droefnis voor. Vir ons is dit 'n heiligdom Wat tot hernieude poging spoor. Gevare het ons deurgekom: Daar lê nog smart en droefnis voor. Hy het tot hiertoe ons gelei En sal nog verder uitkoms skenk. Dit is ons Kanaän, waar ons vry Kan lewe en Sy naam gedenk. Hy het tot hiertoe ons gelei En sal nog verder uitkoms skenk. Loof, loof Sy naam, verheerlik Hom, In ootmoed biddend voor Sy troon. Hier in die nuwe land gekom, Wil ons Hom prys en liefde toon. Loof, loof Sy naam, verheerlik Hom, In ootmoed biddend voor Sy troon! Vorige Volgende