Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende XXXVI Die son spat splinters goud en louter lig, Die hemel pronk met kleureprag en dig Lê weelde oor die wêreld in glans van goud en kleur; En orals in die rondte is rykdom te bespeur: Natuur se geil-gegewe buit; Die veld se bont-geverfde geruit; Die koor van voëls wat sing; Die blye pret van alles wat huppel en juig en spring; Van visse in die kuile wat bo die water stoot; Van spreeus wat hul neste bou daar in die droë sloot; Van bokke wat die gras verdeel In paaie wat die meerkat steel; [pagina 99] [p. 99] Van loerie-voëls wat, pragtig blou, Met trots-gekuifde hoogmoed die laeveld aanskou. Dit is 'n nuwe wêreld hier En anderste as tuis die veld die mooiste maande vier. Hier is nog net belofte van wat nog later kom: Groen grasskeutjies bo die grond; boom nog sonder blom; Vinkeneste, halfpad nat, nog maar halfpad klaar; Kafferboom al aan die bot, skoon nog sonder blaar - Groot belofte vir die Toekoms wat so baie hou. Soos die wolke vol met reën drywend teen die blou; Groot belofte vir die Toekoms wat so veel voorspel, Ryker oes wat later kom as die veld vervel. En hy staan teen sy perd geleun en kyk Noordooste toe, waar hemel en veld as een Skyn in die middaglig - 'n wêreldryk Met afdraand-vlaktes, opdraand-hellings pryk Daar voor hom. Waar die son se strale teen Die Draak se kettings val, daar vlam die rooi Met lyne wit daartussen, - stukkies goud Wat staan as eilande daar in die woud, En silwerdrade waar die laaste reën Die vlak riviere met hul waterprooi Belaai het. Waar die berg se skadu val Op kloof en sloot en dig-begroeide dal, Daar swewe, donkerpurper, donkergroen, Die swart vernis van blare nuut-geboen En skadu-kleure wat nog naam moet kry - So baie, so verskillend. Hier opsy Val weg die wêreld in 'n afgrond af, Om daar weer op te rys, te steier en styg Tot kranse, klip-gehak, wat rusplek skaf Vir aalwyn en vir naboom ingelyf Tussen die skeure waar daar skaars 'n steun Skyn vir die statige reuse wat daar leun. Lang doringtoue slinger daar en vas Klou koningblomme op die varingbas, En rooi en blou klooflelies geur die lug As van die see die seewind sukkel en sug Om deur die diep-gekloofde wêreld heen Te dring, en dal en vlakte met sy seën, Sy koel, sag ‘Vrede bly met jou’ te sus Voor op die middag hier die wêreld rus. Dis weelde hier - 'n wêreld stil met vree ... En veraf lê die blou lyn van die see. Vorige Volgende