Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende XXII Dis gevoed deur 'n gloed van sonneskyn En verwarm deur die strale van goud; Dit was nimmer jonk, maar al oud en oud In sy dag van geboortepyn. Dit was sterk vir die werk, was daar werk voor die hand; Dit was stadig, bestendig en vas; Dit was dapper genoeg om die swaarste las Te dra met geduld en verstand. [pagina 84] [p. 84] As die droefnis te straf was, die donker te swart, Was dit hoopvol, vertrouend en taai. Met die osse gespan en die roer gelaai, Was daar moed in die Voortrekker-hart. Die veld is oneindig, die vlakte só wyd En die Toekoms lê duister daarvoor; Op die veld en die vlakte, daar gaan sy spoor, Getrap in die dae van stryd. En die worstel en woel het hom taaier gemaak, Om te ly, om te beur en te dra; Om nimmer te huil nie, om nimmer te kla, Om hoopvol te werk en te waak. Maar die yster het diep in die hart ingeslaan En sy merke daar agtergelaat - En die diepste merk is 'n merk van haat Wat die Liefde alleen verstaan. Vorige Volgende