Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende XIX Wat vra ons vir ons kinders en onsselwe? Wat eis ons in die toekoms vir ons land? 'n Ongestoorde lewe, stil en rustig, In vrede, môre en aand, die jare deur; Om stil wat ons gegee word, aan te neem En stil wat ons geweier word, te laat staan; Met innerlike, ingebore vryheid Die wêreld rondom as ons vrind te hou; Nie vyand van ons buurman ooit te wees nie, Maar vrind sover ons moontlik vrind kan wees. Dit is ons eis! - nie meer en ook nie minder - En hoog gegryp! - want hy wat hoog wil reik, Kan laer iets met albei hande vat. Vorige Volgende