Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende XIV Nie vir die loon wat mense ag En wat die veld en berg versmaad, Tevrede met hul groen gewaad, Wat loon genoeg is vir die dag; Nie vir die woord wat sê: ‘Dis reg Wat jy gedoen het in jou krag’, Maar, soos die wilde blomme, wag Sonder besef van goed of sleg; Nie vir toejuiging wat bely Die waarheid van wat ewig waar Sal wees, tot eens die laaste snaar Breek voor die lied sy einde kry; - Net vir die lus en die genot Deur krag gegee om krag te win, Om van die stof wat is, te spin Sieraad vir jouself en God. [pagina 80] [p. 80] Vir Hom hierna om, as Hy wil, Te prys of laak; net doen vir jou En dan die hande saamgevou, Ootmoedig as 'n kind en stil. Neem wat die lewe vir jou gee En vra nie wat hiernamaals kom; Wat Hy beskik, laat dit aan Hom En vou jou hande saam in vree. Gedenk die dae van genot Van kindsgebeente af verloop; En kom daar donker tye, hoop Jy heers uiteind'lik oor jou lot. Sag bewe oor die bos die wind En sagter roer die wilgerblaar Wat deur die lente word gespaar, En dan sy sagte einde vind. Vorige Volgende