Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 78] [p. 78] XII Hy wat alléén 'n deurtog soek Waar nog geen mens se voetstap was, Voortsukkelend met sy eie las, Beroof van hulp, deur hoop gevloek; Wat skimp nòg swaar verdrukking skort En werk nòg harte-smarte spaar Om deur die jare in te gaar Die oes wat stadig ryper word; Wat, waar die sterre oor hom skyn Snags in die stille duister-groen, Volhardingsvol sy arbeid doen As hoop op seë kleiner kwyn, En, met die sterre van die nag Getuie van sy lydenswee, Sy siel en wat hy liefhet, gee Vir alles wat hy heilig ag - Net soos in middeleeuse tyd Die kloostermonnik wank'lend staan, Nog onbeslis om voort te gaan, Met smartvol, angstig sielestryd: Daar lok die wêreld met sy prag, Wat hom wat seëvier, bekrans. Met roem, met rykdom en met glans En op die kloeke vegter wag; En daar hang Hy wat boontoe wys En bowe aardse rykdom troon, Die Heiland met die doringkroon, Wat, driemaal heilig, eerbied eis. - Hy sal vergelding ryklik smaak In ruime mate in sy hart, Want lang-verduurde sielesmart Is wat die sielskrag sterker maak. Vorige Volgende