Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende XI En sawends om die uitspan-vuur, Ná al die dagwerk afgedaan En die seiltente opgeslaan, Sit oom en neef in babbeluur. Bo skyn die blink suidsterreskaar En rondomheen is swart en sag Ons liewe Afrikanernag, Wat met die dag in pronk kan paar. Die vuurtjies flikker rook-bekroon En vonkies fladder oor die rook; En in die lewende skadu's spook Die honde wat die naglug hoon. En eensaam in sy wa apart Daar sit 'n man en droom en dink, Totdat gedagte in droom versink, En tot in pure vreugde-smart. Want in die flikker van die vuur Bespeur hy prentjies wat hom steun - Pilare waar hy teen kan leun -, Al dreig die Noodlot nog so suur. Profete-hande in sy droom Wys waar die toekoms weemoed paar Aan groot genot onrekenbaar, Wat Tyd, nog Tyd se terge, toom. Gun, droewige Snyers van die Draad Wat stel die voorgeskrewe uur - Gun hom sy drome by die vuur Waar ander droom en dink versmaad! Vorige Volgende