Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende IX Die Toekoms werp sy skadu op die Hede Soos wolke van die hemel op die grond; Die vooruit-skitter van die skemer-vrede Maak sag die awendstond. Kan ons dit sien - die son wat diep hieronder Die anderkant verlig? Hierna sal ons sy heerlikheid bewonder, Vol in ons aangesig. Profeet, wat fier die toekoms wil spioen En wil voorspel wat kan of sal gebeur, Tuur in die duister van die skemergroen, Die nag so bont-gekleur: Sê wat sal worde in die ver woestyn, Waar kommer lê, en sorg, en louter smart! Voorspel! - Soos wind-speel in die lug verdwyn Die vrede uit ons hart. Dood en berou en smarte lê hier voor, En magtelose moed wat net kan ly [pagina 74] [p. 74] Om mart'laarskroon te kry. Bloed op die pad, en bloed-bevlek die spoor Wat lê die vlakte oor, Die bosse en die berge op, en deur Die onbewoonde, woeste, nuwe land, Waar nog geen mensehand Vir huis of herberg klip op klipsteen bou; Waar net die gousblom-geur Jaar uit, jaar in sy eerste rang behou. Maak dit ons bang, voorspelde rou en bloed En worst'ling wat die wins hierna vergoed? Ons wag die dood. Nou ja, ons wag hom lang, Verwelkom hom met vreugde en gesang! Vorige Volgende