Versamelde gedigte
(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 51]
| |
Ek weet nie of die mense lieg -
Dis alles uit die ou swart dosie! -
Maar jy is tog - miskien onreg -
Vir al ons mense nog 'n josie.
Van Noodt, Van Noodt, jou tyd kom weer!
Al maak jou dade my verdrietig,
Jou greintjie goedheid is tog werd
'n Lofspraak, is dit ook hoe nietig.
Daar is geen mens so aaklig goed,
Daar is geen vent so vals en swart,
Of in sy bors klop daar nog deur
'n Brokkie van 'n mensehart.
Van Noodt, Van Noodt, daar in jou graf -
Waar het die mense jou begrawe? -
Daar kan jy deurslaap tot die dag
Dat die geskied'nis jou kom lawe
Met lof en prysgeskal, en jou
Gedoentes nie meer as misdade
Gereken word nie, goewerneur,
Met al jou papbroek-hemerade!
|
|