| |
'n Praatjie oor die trougees
Akkedissie, waarom trou jy nie?
Mame wil nie hê nie! (lokasieliedjie)
Ag, akkedissie, as jy eenmaal weet
Wat 'n getroude mens het uit te staan,
Hoe hy moet spartel, hoe hy rond moet slaan,
Om deur te kom moet worstel, dan sal jy
Nie so voorbarig praat nie - glo vir my!
Ag, akkedissie, man, die wêreld weet -
Die wêreld wat 'n mens so gadeslaan! -
Wat man en vrou tesame uit moet staan;
En jy weet niks daarvan nie; glo vir my,
Dis beter om nie te trou, en tuis te bly.
Jy gaan so teen jou ma te keer; jy sweet
Van stoutheid en astrantheid; jy wil gaan
Met vroumense op reis nou na die maan;
Jy wil gaan trou, wil kinders hê en vry -
Maar dink, oormôre, wil jy sito skei!
| |
| |
Ag, akkedissie, jong, jou mame weet
Meer van vroumense af as jy verstaan;
Sy wil jou nie sien spartel en vergaan
Net om 'n meisie wat jy na gaan vry!
'n Vroumens is astrant - ja, glo vir my!
Bly liewers tuis, ou kêrel. As jy meet
Die jonkmanskap teenoor die huweliksbaan,
Dan sien jy tog hoe sleg die maat moet gaan
Vir man en vrou; hoor dus na my, en bly
Maar tjoepstil tuis, en laat jou ma jou lei.
Wat wil jy met die meisies? As jy eet,
Is daar genoeg vir een: wat nou gedaan
As jy 'n vrou het, kinders ook? Vergaan
Van honger? Nee, ou jong, jy moet maar bly
Stil by jou mame, vrolik aan haar sy.
Ag, akkedissie, het 'n vrou jou beet?
Kêrel, ek voel vir jou, ek stort 'n traan!
Hoe kon jy ooit so iets, ou man, begaan?
Jou hart is mos jou eie: laat dit bly;
Vry na jou mame as jy tog moet vry!
| |
Akkedissie aan my:
Ag ja, Tweebene, ek sit in die klem,
Vas in die ou slagyster van 'n vrou!
Haar mondjie, man, dit is so rooi soos bloed;
Haar hare, man, dit is so swart soos roet;
Haar stemmetjie soos wind wat oor die baai
Die soetste deuntjie fluister as dit waai;
Haar ogies net soos sterretjies so mooi;
Haar wangetjies soos kersies net so rooi;
Haar tandjies, soos my eie, net so wit
As seesand of 'n appelkoos se pit!
Sy is die mooiste meisie op die veld;
Sy het ook, soos ek hoor, 'n bietjie geld -
Nou het jy alles, man; ek moet gaan trou,
Al hou jy my ook agter met 'n rem!
Jy praat, Tweebene, net asof jy dwars-
Deur heel die formulier gekruip het. Jy -
Wat weet jy self van meisies, van 'n vrou?
Is jy die soort van vent van wie hul hou?
Jy self het mos 'n meisie nooit gesoen nie -
Het ek dit nie al duisendmaal gedoen nie?
Weet jy van daardie pret? Verbeel jou maar
Jy het in een minuut so opgegaar
Die ganse pret van heel die wêreld; dan
Weet jy nog niks, of amper niks, daarvan!
| |
| |
Laat staan maar, man, al jou bangmakery:
Jy praat my tog nie om, selfs as jy bars!
My hele twis met mame is maar dit:
Ek wil gaan trou, en mame wil nie ja sê.
My meisie is kordaat; ons is geskik
Een vir die ander; nie te arm nie: ek
Het ook 'n bietjie oulappe gespaar
Om bruilofsfees te vier op Nuwejaar.
Die kinders is nog in die verte, man:
Waarom so vroeg begin jou in te span
En honger ly? Nou ja, dit kan ek ly
As sy maar by my is en aan my sy!
En as my kinders later vir my Pa sê,
Sal op die klippers tog nog vliegies sit.
| |
Akkedissie se Mame aan ons altwee:
Wat praat julle die liewe lange dag?
Wat wil jy hier vir Dissie wysmaak, jy
Tweebene? Affronteer jy nog vir my
En staan vrygeestig ginnegaap en lag?
Ek is sy ma! Ek wil nie dat hy trou:
Hy is nog nie agter die ore droog;
En ek is nog sy mame en sy voog!
Wat moet hy weet van kinders en 'n vrou?
Tweebene, dink jy nou dat dit betaam
Om met 'n kind soos Dissie oor die saak
Te sanik? Is dit iets wat jou moet raak?
Vervlaks, Tweebene! Man, jy moet jou skaam!
Ek bring my kinders op in sedigheid:
Wat moet die goed van sulke dinge weet?
En Dissie moet maar al jou praat vergeet;
Want as hy groter word, is daar nog tyd.
Nou moet hy maar die nonsens uit sy kop
Glad uitveeg. Hoor jy, Dissie, wat ek sê?
Ek wil geen koppigheid en nukkies hê:
Ek weet die vroumense die sal jou fop.
Jy's so onnosel, Dissie! Elke meid
Kan jou net vir 'n appel en 'n ei
Laat bokspring na die maan; en dis vir my
'n Teken weer van jou wysneusigheid.
As jou oorlede pa nog hier was, dan
Sou hy jou goed die kop gewas het. Nou
Dink jy dat jy kan kinders kry en trou -
Ja waarlik, soos 'n opgegroeide man!
| |
| |
En jy, Tweebene, styf hom in sy nuk:
Jy praat met hom oor dinge wat 'n kind
Glad nie verstaan nie. Dissie is nog blind,
En moet gehoorsaam wees, en moet maar buk.
Ek sê vir jou, daar kom niks van nie! Trou?
Hy, half onnosel nog, hy kinders kry?
Hy bruilof vier, om later weer te skei?
Vir my 'n skoondogter, vir hom 'n vrou?
Nee, glo vir my, jy het dit mis! Ek sweer
Daar kom niks van nie! Dissie, jy bly hier!
Jou meisie kan met iemand anders vier
Haar bruilof: jy het nog te veel te leer.
| |
'n Jaar later
Ek was weer in die veld, en die son het so mooi
Goud, silwer en goud, oor die klippe gestrooi;
Die wind het weer lekker die bossies geswaai
En fluks oor die geil afrikaners gewaai;
Die lug was so helder, so soet en so blou;
Die hele veldwêreld was weer uit die rou;
En oral was blommetjies, oral was groen;
Die gras en die grond het die son weer gesoen;
Daar onder, daar waar die oliewenboom staan,
Het vinke hul neste gebou; en die graan
Was hoog in die koringveld, groen soos die see;
En vér in die vlakte was skape en vee -
En ek was gekom om te vra of miskien
Ek Dissie of Dissie se mame kon sien.
Ek het by die klippe gestaan en geskree
In vlot akkedissietaal toe vir die twee;
En daar het 'n klein akkedissie gekom,
Gekruip uit sy skeur. En ek vra toe vir hom:
‘Waar's Dissie? Ek glo mos dis Dissie se huis.
Is hy, of miskien missies Dissie, nou tuis?’
Die kleintjie die kyk my onnosel oorheen
En slaan met sy stertjie so fluks teen sy been,
En sê toe verleë: ‘Ouseur, ek sal vra
As ouseur 'n oomblikkie wag, vir my ma.’
Daarmee gaan hy weer soos die blits in sy skeur,
En een-twee-drie later toe kruip hy daardeur,
En agter hom kom Akkedissie se vrou:
Die vent het - ja regtig, dis waar! - mos getrou,
En daar was vyf kinders! Ek moes toe ook praat,
Met klein missies Dissie gesels - ja, tot laat,
Tot Dissie toe self - hy was uit op die jag -
Weer huis toe gekom het daar diep in die nag.
En toe het ou Dissie my alles vertel
| |
| |
En die hele geskied'nis voor oë gestel.
‘Die ergste van alles’ - so sê hy vir my -
‘Die ergste van alles waaronder ek ly,
Is dat ons so oud worde, ek en my vrou:
Ons oudste seun wil al - verbeel jou! - ook trou!’
|
|