Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende My nuwe vaderland Ek het so lief ons blougroen see, Ons witgeskulpte strand; Was ek geen Blikoor nie, dan was Die see my vaderland. My tuiste-veld is baie mooi, In winter baie groen - Ja, goudgeel blink die doringboom daar As son en wind hom soen. My eie veld is baie nat (Vervloek die tyd!) met bloed - Daar sing vandag die mense nog Van Volk en Heldemoed! Die see is baie, baie mooi, Die see is blou en groen: Daar's niks so mooi die wêreld deur As son en wind hom soen. Die see is vol met trane, vol, Tot in sy hart, met bloed - En tog sing nie die skulpe daar van Volk en Heldemoed! [pagina 35] [p. 35] Ek is 'n Blikoor, want my wieg Het op die veld gestaan; Maar as ek na die branders kyk, Loop oor my wang 'n traan. My land is nie meer myne nie; My volk is doodgestry; My moed is nie meer heldemoed - O God, vergewe my! Ek wil nie dat ek sterwe sal, Geen pyn meer voel of leed; 'k Wil see toe, waar die koel wind waai: Die veldson brand so heet. Ek wil nie meer die mense eer Wat slegter is as vee - Nie meer die volksgeskied'nis lees Met al sy leuens mee. Ek wil vergeet en uithou - ja, Ek kan nog jare ly, Solank die branders tot my sing, Die skulpe praat met my. So lewe ek my lewe deur, Neem wat die lewe gee: My volk sal nou die visse wees. My vaderland die see. Vorige Volgende