Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Aan my ou vrind Jy is al tagtig, en jou kop is wit - Wit soos die sneeu, en witter as 'n wolk Daar bo ons in die bloute van die lug. Jy is al tagtig, styf in elke lid - Maar nog vir my, en altyd vir ons volk, Van wat voorheen was, wat sal kom, 'n tolk Wat goed sy taal verstaan en praat kan sonder sug. Jou oog is flink nog, en jou hand is vas: Jy kan 'n jong mens nog as leier dien Oor al die paaie wat jy het deurkruis; Jy kan nog help met elke sware las - Jy, wat so veel gehoor het en gesien Van agtien-dertig tot aan neëntien-tien, So lank geswerwe het - so ná nou aan jou huis! [pagina 24] [p. 24] Nooit is jou hande swak vir goeie werk; Nooit dof jou oog - al dink jy aan die tyd, Die tagtig jare van jou lewensbaan. Soms was jy swak miskien; soms was jy sterk; Soms was jou hart gekwel deur haat en nyd; Soms het jy pyn gehad, miskien ook spyt, En soms as lewensprys jou fooi betaal - 'n traan. Die tagtig jare was nie almal goud, Selfs silwer nie! Die weer was somtyds swaar; Met wolke swart, met blits die hemel ryk; Ná elke somer kom die winter koud! Nie altyd nie het jy die son gewaar, Die goud sien blink soos vonke in 'n aar; Nie altyd het jou pad die vlakte deurgestryk. Vir tagtig jare het jy volgehou, En hou nog vol - al bewe ook jou hande, Al moet jy om te lees jou bril gebruik. Nog is jou stem nie afgedaan en flou; Nog is jou gees nie ingeklem in bande; Jou tagtig jare is nog nie 'n skande Waarvoor jou grys ou kop in rou hoef weg te duik. Jy kyk getroos jou tagtig jare t'rug, Op al jou lang, lang lewe op land en see - Jou loopbaan so met ondervinding ryk - En praat daaroor nog sonder traan of sug: Die hele reis daar het jy vrede mee. Ek self sou baie graag my beste gee As ek eenmaal soos jy getroos terug kan kyk! Vorige Volgende