Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 23] [p. 23] Die sterretjie Vonkel, sterretjie, vonkel, Hoog in die lug so blou! Kort is die dag, en lank is die nag; Dood is jou skyn eer die son jou verwag: Snel sal jou glans in die môre verflou - Vonkel, sterretjie, vonkel! Vonkel, sterretjie, vonkel, Hoog in die lug so hoog! Engele daar kan jy byna gewaar, Onder die wolke die hemelse skaar, Elk met jou silwerwit skit'rende oog - Vonkel, sterretjie, vonkel! Vonkel, sterretjie, vonkel! Lag in die lug daar bo! Hier is dit sleg, want die dag is mos weg; Oor al die veld het die nag hom geheg, Tot as jy skyn - ja, dan kan 'n mens glo - Vonkel, sterretjie, vonkel! Vonkel, sterretjie, vonkel, Bo in die lug so blou! Kort is die nag, en lank is die dag, Hier, waar ons lewe en pligte verwag, Lig van die son, maar tog swart van die rou - Vonkel, sterretjie, vonkel! Vorige Volgende