Versamelde gedigte(1980)–C. Louis Leipoldt– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Oktobermaand Viooltjies in die voorhuis - Viooltjies blou en rooi! Viooltjies orals op die veld, En orals, ai, so mooi! Dit is die maand Oktober, die mooiste, mooiste maand! Dan is die dag so helder, so groen is elke aand, So blou en sonder wolke die hemel heerlik bo, So blomtuin-vol van kleure die asvaal ou Karoo. Dit is die maand Oktober! Die varkblom is in bloei; Oor al die seekoegate is kafferskuil gegroei; Die koppies, kort gelede nog soos 'n klip so kaal, Het nou vir welkomsgroetnis hul mooiste voorgehaal. [pagina 12] [p. 12] Dit is die maand Oktober! Die akkerboom is groen; Die bloekoms langs die paaie is almal nuutgeboen; En orals in die tuin rond ruik jy sering en roos, Jasmyn en katjiepiering, lemoen en appelkoos. Al was die dag soos yster lank in die vuur gesteek, Die varings in die klofies deur hitte geel verbleek, Tog, as die son daar onder agter die berge gaan, Dan word oor heel die wêreld die mooiste geur geslaan. Dit is die maand Oktober! Die kokkewiet is uit; Boomsingertjies en kriekies dié hoor jy orals fluit; Fiskaal is op die oorlog - daaronder by die sluis, Daar is 'n dor ou doringboom sy spens en sy kombuis. Dit is die maand Oktober! Ek dink die mense vier Vir ewig in die hemel Oktobermaand soos hier! Wat wens jy meer as blomme, as helder dag en nag? Wat kan jy beter, mooier of heerliker verwag? Ek is nog in Oktober! My tuin is nog so groen, So wit met al wat mooi is, met bloeisels van lemoen, So pragtig in die môre, so heerlik in die aand! Ek is nog in Oktober, die mooiste, mooiste maand! Wat gee ek om die winter? Wat praat jy nou van Mei? Wat skeel dit as ons later weer donker dae kry? Ek is nou in Oktober, die mooiste, mooiste maand, [pagina 13] [p. 13] Met elke dag so helder, so pragtig elke aand! Viooltjies in die voorhuis - Viooltjies blou en rooi! Viooltjies orals op die veld, En orals, ai, so mooi! Vorige Volgende