die groente; as dit ‘ligtelik aanbrand’, neem dit dan dadelik van die vuur af en sit die boonste gedeelte in 'n ander pot; daardeur kan dit nog gered word.
Was intussen die wateruintjies - neem net die blomme en blomblare en die jongste, sagste stengels - in soutwater; droog af, en sit dit op die vuurherd in 'n ysterpot met genoeg water om dit te bedek. Laat dit opkook. Die water trek die bruin, bitter sap uit die stengels, en sodra die water rooibruin is, moet die pot afgehaal word. Gooi deur 'n vergiettes en gooi die rooi water weg - oorlede tannie Trifosa het dit altyd gebruik vir haar jakobregoppe en was eerlik oortuig daarvan dat dit hulle 'n veel beter kleur gee. Wat kan die bygeloof jou ook nie laat veronderstel nie! Voeg nou die waterblommetjies by die gesmoorde vleis, en sit 'n klont vet by. Sommige mense sê botter, maar ek kan nie insien waarom nie; vet en botter akkordeer nie mooi nie. Voeg na smaak by 'n lourier- of suurlemoenblaar of 'n plukseltjie van watter ander kruie jy verkies. Ek het reeds al opgemerk dat my ou tannie bra gesteld was op roosmaryn, en dit is die moeite werd om dit te probeer. Sit die deksel op en laat goed smoor, twintig minute lank; skud gereeld en sorg dat dit nie brand nie.
Neem nou twee, drie hande vol suringblare - die geel suring wat in die wingerd groei is die beste. As jy tuinsuring gebruik, sny die dik stengel eers weg en kerf die blare goed. Gooi kokende water op en droog weer goed af. Met die wilde suring, wat veel sagter is, hoef jy nie eens die blare op te kerf nie. Druk dit net goed uit in water om die blare te kneus. Voeg dit dan by die bredie en laat weer smoor. Roer goed sodat die groente mooi in die vet smoor, en deur en deur daarmee geolie word. Sorg dat die hitte van die vuur nie te sterk is nie, anders verloor die bredie sy groen kleur. Eindelik die speserye: sout na smaak, 'n stukkie groengemmer, 'n flentertjie groenrissie, 'n vingerhoedjievol fyn witpeper. Skep op en bedien met pap rys.
Ek weet daar is mense wat room byvoeg. Dis 'n kwessie van smaak, maar ek verkies my wateruintjiebredie sonder room. 'n Puree van wateruintjies, soos spinasie sonder vleis of vet - dáárin kan jy soveel room sit as jy verkies. Maar die wateruintjie- en