daar vir die grootste sondaar nog genade is by die kruis van Christus. Hy word nou evangeliedienaar in Engeland en bring baie mense terug op die smalle weg. Vir 'n salaris werk hyy nie, maar het nooit broodsgebrek nie, want die Here voorsien altyd in sy behoefte.
Hoogenhout maak telkens van voetnote gebruik om sy eie sienswyse oor 'n sekere saak kenbaar te maak, of om die leser aan te moedig om George Müller se voorbeeld te volg. Op bl. 11 sê hy: ‘Leser, is jy self 'n gelowige, laat die geval jou dan anspoor om oek soos Moses die hand uit te strek en te sê tot menige Hobab wat jy ontmoet: ‘Kom ga met ons en wij zullen u weldoen.’ ‘Hoe sal die arme Wagner sig nou verbly in syn salige rus; dat hy hier die middel was om George Müller tot God te breng, en deur middel van hom so vele andere!’
Die doel wat Hoogenhout met die vertaling beoog het, was om te stig en mense tot godvrugtigheid te maan. Dat hy daarin geslaag het, ly geen twyfel nie, want Die Wege des Heeren met George Müller het, volgens getuienisse aan die vertaler, baie tot seën gestrek, en dit was 'n baie geliefde boekie.
Di Vinger Gods en sewe andere verhale is in 1884 uitgegee met 'n oplaag van 500. Dit is vertaal uit Nederlands deur C.P. Hoogenhout en E.J. du Toit en aan die oplossers van Bybelse raaisels in die Patriot opgedra. Daarom is die meeste verhale van 'n godsdienstige aard en het hulle ook 'n bepaalde strekking.
In 'n ‘woordjie vooraf’ word gesê: ‘Di geskiedenisse, wat di leser hierin aangebode word, is, naar ons stellig vertrou, ware gebeurtenisse uit die lewe genome, en sal ongetwyfeld in di smaak val. Di ‘Vinger Gods, sigbaar in di lewe van myn moeder’, is deur 'n Duitse leeraar, - die seun van di predikantsvrou, - self geskrewe; later is dit in Hollans vertaal, en deur 'n geliefde vrind en broeder weer in Afrikaans o'ergesit. Mog dit in syn nuwe kleed ewe welkom wees onder ons landgenote, as di verhaal in Duitsland en Holland gewees is; en mog menigeen daar nut uit trek!