Geskiedenis van Josef en Catharina, die dogter van die advokaat
(1940)–C.P. Hoogenhout– Auteursrecht onbekend
[pagina 43]
| |
4. C.P. Hoogenhout as prosaskrywer.As ons die Zamenspraak van Meurant uitsonder, dan kan ons as die eerste letterkundige proewe in Afrikaanse prosa beskou: Die Geskiedenis van Josef voor Afirkaanse Kinders en Huissouwens. In hulle eige taal geskrywe deur een vrind. 1 Cor. XIV:6. Kaapstad bij N.H. Marais, 1873.
Die eerste druk van Josef is 'n boekie van 36 bladsye in 6½ × 4 duim formaat, met 'n rooi omslag van nagemaakte leer. Dit is in 1873, dus vóór die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners, gedruk by Smuts en Hofmeyr, Houtstraat, Kaapstad, en uitgegee deur N.H. Marais. Mnr Gideon Malherbe het die drukkoste betaal. Die oplaag het bestaan uit 500 eksemplare, en sover ek weet, is daar nog net drie eksemplare van hierdie eerste uitgawe bekend.
In 1883 het daar by D.F. du Toit en Co. van die Paarl 'n tweede uitgaaf van 1,000 eksemplare verskyn, maar dit is slordig uitgevoer en die spelling in ooreenstemming met die reëls van die G.R.A. gebring.
'n Derde druk is besorg deur mnr P.I. Hoogenhout en uitgegee deur J.L. van Schaik in 1922, kort na die dood van C.P. Hoogenhout. Die outeur wou dolgraag vir Josef in sy nuwe baadjie sien, want die verhaal is nou met pragtige plaatjies geïllustreer.
Die Geskiedenis van Josef het geskiedenis gemaak. Lank voor sy verskyning was dit alreeds aan die lesers van De Zuid-Afrikaan bekend dat 'n boekie in Afrikaans in voorbereiding was en dikwels is in briewe na dié boekie verwys. Sy koms is met ongeduld afgewag soos blyk uit 'n brief van ‘Een Afirkaander’ op 3 September 1873: ‘Arrie! amper het ik gevergeet om te vrâ: weet meneer altemit ook wat daar geworde is van die Boekie wat hulle in die Affirk. zal laat druk het; dit lijk baijang vir mijn | |
[pagina 44]
| |
of die skrijwer in die bak geblij het of het hij altemit nie geld genoeg om die koste te petaal nie? dan kan meneer vir hom seh, dat ik regte graag vir hom wil help, want ik dink dit zal een regte goeije ding wees.’
Volgens 'n brief van ‘Criticus’ in De Zuid-Afrikaan van 13 Desember 1873 was Josef ook in die Sinode van daardie jaar ter sprake in verband met die vertaling van die Bybel in Afrikaans. Ds P.G.J. de Vos was ten gunste van 'n Afrikaanse Bybelvertaling, en dan merk ‘Criticus’ op: ‘Ik kan zeggen dat ZEerw. den bal raak geslagen heeft, want reeds is er onder eenige Christenvrienden sprake, een der Evangelies in het Afrikaansch te doen drukken, indien er door de voorgangers onzer kerk in deze zaak niets gedaan wordt. Dat het met de zaak ernst is, getuige het onlangs in het Afrikaansch verschenen boekje “die Geskiedenis van Joseph.”’Ga naar voetnoot*)
Graag wil ons hier nog aanhaal wat ds S.J. du Toit gesê het omtrent Josef in die Geskiedenis van die Afrikaanse Taalbeweging (1880), bl. 42: ‘Ons noem die boekie oek as 'n voorbereiding, en wel in die sin dat dit eintlik die sondebok was wat al die vyandskap moes dra, daar dit die eerste Afrikaanse boekie was. Nou dis wel waar dat die samestelling van baing volsinne te Hollans is; dat ons die spelling afkeur van woorde soos mot, et, seh, Afirkaans, ens. Mar die bewerking van die Geskiedenis self is uitmuntend. Die vorm kon gen verstandig mens meteens volkome verwag nie, as hy bedenk wat dit kos om 'n taal te vorm. En as ons kyk hoe ons nog altoos verskil op vele punte in die spelling, dan moet ons veeleer verwonderd wees dat so'n eerste proef van (nie 'n samespraak mar) 'n deurlopende verhaal so goed uitgeval is.’
Die ervarings wat die boekie opgedoen het, blyk ook uit die voorwoord by die tweede druk, waarin C.P. Hoogenhout o.a. die volgende sê: ‘Dis ruim tien jaar gelede, dat di boeki gedruk werd. Dit was di eerste proef | |
[pagina 45]
| |
in Afrikaans. Ag. wat het di arme Josef oek in Suid-Afrika moet uitstaan; amper net so veul as die held van ons geskiedenis vanselewe in Noord-Afrika! Wat 'n haat en nijd, wat 'n koerant-geskrijf te'en di Afrikaanse Josef. En tog, hij leef nog!’
C.P. Hoogenhout was van die begin af 'n voorstander van 'n Afrikaanse Bybelvertaling, soos ons vroeër gesien het, en die Geskiedenis van Josef het hy beskou as 'n voorbereiding vir die groot werk van Bybelvertaling. Volgens die voorwoord was daar 'n vriend van hom (A. Pannevis) wat hom gevra het om vir ‘die Lammertjes van Christus syn Kerk’, 'n Bybelboekie in Afrikaans te bewerk, want soos Hoogenhout sê: in die Hollandse boeke kom daar ‘zulke hooë woorde voor, dat die Afirkaanse kinders et nie goet kan verstaan nie.’ Hy het die geskiedenis van Josef in Afrikaans oorgewerk, omdat dit vir hom die mooiste Bybelverhaal was van sy jeug af. ‘Hoe dikwels het ek nie in mijn gedagte met Josef saam gegaan nie na Dothan toe, hoe banja keer het ek nie gedag nie: Og kon ek tog maar voor jou waarskou, wat jou broers daar praat om voor jou dood te slaan. Hoe jammer was ek nie voor die arme Josef nie toe hy daar in die kuil leh. En hoe blij was ek nie toe hij eindlik na banja verdrukking Onderkoning van Egypte is geworde en sijn ou vader tog nog weer gesien het.’
Dat hierdie boekie vir Hoogenhout en Pannevis 'n voorbereiding was vir die Afrikaanse Bybelvertaling, blyk ook daaruit dat hy in die Besluit die kinders versoek: ‘As julle bid dan mot julle ook meteens aan onse liewe Heer vra, dat die Bijbel tog vertaal mag worde in die Afrikaanse taal ook. Hy sal dat seker doen; want die Bijbel is Syn Woord en die Woord mot aan alle mense bekend gemaak wort in hulle eige taal, Mark. 16:15, 16.’
Hieruit, nes uit soveel ander stukke van Hoogenhout, blyk sy groot geloof. Hy het 'n ontwikkelde nasionale gevoel gehad; hy het taalkundig en opvoedkundig suiwer gedink en geredeneer maar bo alles is wat hy wou doen | |
[pagina 46]
| |
deur sy bewonderenswaardige geloof gedra. Vandaar dat hy met so'n stelligheid kon sê: ‘Hy sal dat seker doen.’
Oor die inhoud hoef ons nie veel te sê nie, omdat die verhaal bekend is en ons dit in die Bybel kan nalees in die boek van Genesis vanaf hoofstuk 37 tot 50. Hoogenhout het die hele geskiedenis oorvertel, maar om dit so interessant en boeiend moontlik vir sy jeugdige lesers te maak, het hy hier en daar iets toegevoeg of weggelaat.
Wat ons dus veral interesseer is die wyse van navertelling. Hoogenhout het die siel van die kind uitstekend begryp en het presies geweet hoe hy hul aandag kan wen. Vertroulik begin hy met hulle gesels oor Josef se afkoms en pak dadelik met 'n uitspraak soos die volgende: ‘Hy was een man soo als daar min op die werelt gelewe het.’ Natuurlik wil die kinders nou baie graag meer van dié ‘held’ verneem. En 'n woordjie soos ‘reken’ is so reg na hul smaak: ‘Die famielje van Josef was veeboere en hulle het net banja vee gehat ook, want reken, toe Jacob van sijn oom Laban teruggekom het....’ Op sy vraag sal almal instemmend knik: ‘Nou een man wat soo'n present kan stuur kan nie een arm kerel wees nie, neh?’ Die jong lesers sal die skrywer ook nie kwalik neem dat hy hulle terloops 'n lessie leer nie: ‘Hoe sondig is et tog om nijdig op mekaar te wees!’ Die slotgedagte van die tweede hoofstuk het seker 'n diep indruk op die lesertjies gemaak: ‘Laat ons voor die drie sondes van die goddeloose broers van Josef oppas, dat is voor nyt, haat en leuëntaal, God die alles weet, die alles siet, kan ons ook net soo goed sien as Hy gesien het wat die broers van Josef gedaan het.’
Die kinders leef nou mee met hul held, en hoe jammer het hulle hom nie gekry toe sy broers hom in die kuil neergelaat het nie: ‘Nou kan jy self begryp hoe of hy daar gehuil het; hoe of hy gesoebat het om tog daaruit te kom; en hoe of hy syn hande seer gemaak het om teun die kant op te klim - maar hy kon nie uit nie.’
Die derde hoofstuk vertel ons dat Josef in Egipte in die tronk gekom het. ‘Arme Josef! Maar laat ek vertel | |
[pagina 47]
| |
hoe dit gekom het, want julle is miskien al nieskierig. Let dan nou op!’ As hy dan gemoedelik voortvertel, merk die skrywer 'n traantjie in een van sy lesertjies se oë, maar hy neem hom dit nie kwalik nie, ‘want ek sien dat jy Josef ook lief het en banja jammer voor hem is.’ Maar as Josef onderkoning van Egipte word, vra hy opgeruimd: ‘Wat seh mijn kinders nou!.... Is julle nie blij dat onse Josef soo verhoog is nie?’
Gelaai met spanning is die beskrywing van die ontmoeting van Josef en sy broers, en dan uiteindelik die heerlike slot: Josef en sy vader vind mekaar weer terug op aarde!
Die hele geskiedenis is besonder aanskoulik voorgestel, nie alleen omdat Hoogenhout op so'n vertroulike voet met sy lesertjies verkeer nie, maar ook omdat hy 'n Afrikaanse atmosfeer geskep het: eerstens deur in hul eie taal met hulle te gesels, en tweedens deur alles in hul ervaringsgebied te betrek. Woorde wat vir hulle in die Nederlandse Bybel onverstaanbaar was, is nou vol betekenis en dan gebruik Hoogenhout telkens tipies Afrikaanse uitdrukkings. Ons volstaan met 'n paar voorbeelde: Josef se vader se oupapa was Abraham; sy veelkleurige rok het ‘een mooi baatjie van die mooiste kleure’ geword. Potifar maak Josef sy mandoor. Josef het sy broers ‘regte buffelachtig’ behandel, en sy kneg het hulle agterna gejaag ‘dat die stof soo staan.’
Die Geskiedenis van Josef moes 'n populêre boekie gewees het by die jeug, of liewer by diegene wat hom in die hande kon kry en geoorloof was om hom te lees. Ons sluit met 'n persoonlike getuienis: ‘Vir mij is dit so goed as onmoontlik om objektief te oordeel o'er die meriete van die boekie. As kind was dit van die eerste lektuur, wat ik gehad het, en ik het so dikwels gehuil van droefheid en medelijde met Josef onder in die put, en van pure blydskap waar Josef hom bekend stel aan sij broers in Egypte, dat die boekie bij mij tenminste altijd in die onaanvegbare posiesie van 'n trouwe vrind en ou bekende | |
[pagina 48]
| |
sal inneem.’ (Dr N.M. Hoogenhout in Die Brandwag van 1 Oktober 1910).
Hoogenhout het aan verskillende boeke meegewerk wat deur ds S.J. du Toit uitgegee is, maar die vernaamste is seker: Die Geskiedenis van ons Land in die Taal van ons Volk, 1877. Dit het in 'n oplaag van 500 verskyn.
Toe ons die aandeel van Hoogenhout in die Taalbeweging geskets het, het ons reeds gesien dat ds Du Toit in 'n brief van 25 November 1874 aan Hoogenhout meegedeel het dat hy lus het om die Geskiedenis van ons Land in die Taal van ons Volk te skrywe. Hy het Hoogenhout uitgenooi om mee te werk en laasgenoemde het ingewillig in 'n brief van 19 Desember 1874 in De Zuid-Afrikaan. Op 20 Februarie 1875 deel hy aan ds Du Toit mee dat sy aandeel in die Geskiedenis klaar is.
Wat sy aandeel presies is, weet ons nie, maar aan dr J.D. du ToitGa naar voetnoot*) het Hoogenhout meegedeel dat die eerste gedeelte van die Geskiedenis, d.w.s. ‘Die Kaap onder die Hollanders’, deur hom en Gideon Malherbe geskrywe is en dat 'n gedeelte van die laaste hoofstuk van sy hand is.
In sy eksemplaar van dr Lydia van Niekerk se proefskrif het Hoogenhout sy naam geteken by 'n aanhaling uit die Geskiedenis. Dit handel oor die Grikwa-oorlog van 1845 en stem nagenoeg ooreen met die verhaal wat hy daarvan in die Sesde Gesprek aan Danie gee. Hierdie aanhaling vind ons op bl. 21 van dr Lydia van Niekerk se proefskrif (De Eerste Afr. Taalbeweging...1916):
Die Boere vorm toen een Gouwerment ver hulle selwers. Die wat van Natal weggetrek het, trek twé derdes o'er Vaalrivier en die ander kom oek in die Vrystaat woon. Mar die arme Boere het hier oek nie lank rus gehad nie, want in die begin van 1845 kryg hulle weer oorlog met die Grikwas, waar Adam Kok kaptein van is. Dit het so gekom. Een Barolong - gen Grikwa - het kwaad gedaan onder die Boere. Hy wort gevang en die veldkornet het hom goed laat afransel met die aapstert | |
[pagina 49]
| |
en toen laat loop. Hy gaat toen by Adam Kok kla. En die swartjong het regtig die permantigheid om die veldkornet te laat dagvaar om voor hom te verskyn.
‘Dit spreek van self dat die veldkornet nie wou verskyn op die dagvaring nie. Toen stuur Kok een patroljie Grikwas om die veldkornet gevange te neem. Die gebruik geweld en begin te skiet. En die Boere nie links nie, werk toen oek met die blouboontjes onder hulle.’
Deur sy aangename verteltrant is Hoogenhout 'n uitstekende historieskrywer, hoewel hy soms al te gemeensaam word in sy woordkeuse. Die boek as geheel bespreek ons elders afsonderlik.
Die eerste novelle in Afrikaans is Catharina, die dogter van die advokaat, en dit is geskrywe deur C.P. Hoogenhout onder sy skuilnaam Klaas Waarsegger, Jr., in 1879. Dis in 'n oplaag van 500 uitgegee. Die boekie het sy ontstaan te danke aan 'n prysvraag wat uitgeskryf is volgens artikel X van die statute van die Genootskap van Regte Afrikaners. Die prys is gewen deur C.P. Hoogenhout met Catharina.
Kostelik is die ‘Woordjie Vooraf’, waarna ek die leser graag wil verwys.
Catharina het as vervolgverhaal in die Patriot verskyn en is in 1879 in die vorm van 'n boekie in oktaafformaat van 57 bladsye uitgegee. Dit is in 'n omslag van groen papier gebind en op die agterste binnebladsy staan die laaste paragrawe van die verhaal. Die druk is helder, maar die papier swak, en tog, hoe waardevol is die ou boekie nie!
Catharina het as vervolgverhaal in die Patriot verdoel en strewe van die Patriotmanne, verwerk hul lewensbeskouing in die vorm van 'n boeiende verhaal. Hierin kom duidelik die teenstelling uit tussen die twee kulture in Suid-Afrika: die eie en die ingevoerde. Daar word openlik en ongeveinsd propaganda gemaak vir 'n suiwer Afrikaanse kultuur. Die toestande hierin beskrywe, is selfs vandag nog in baie gevalle waar. Dit is 'n liefdesgeskie- | |
[pagina 50]
| |
denis, maar dit gee die skrywer die geleentheid om baie beskouings daaraan vas te knoop en sy lesers te verduidelik hoe groot die sonde van Advokaat X. se Engelsgesindheid was. Klaas Waarsegger is 'n gemoedelike verteller. Eers neem hy ons na die huis van Advokaat X. en lig ons vertroulik in omtrent sy lewenswyse en -beskouing. Dit is juis die advokaat se verjaarsdag en hy gee 'n ‘ball’ aan die vernaamste Engelse inwoners van die stad. By die maaltyd word al die toesprake in Engels gehou en ‘wat ons egter bisonder trof was, dat daar geen enkele “toast” gedrink word met Kaapse wyn; die was glad nie op tafel nie - alles was uitlandse dranke.’ Iemand wat nie Engels verstaan het nie, sou hom daar baie ontuis gevoel het, ‘want alles was Engels en geen wonder; want Advokaat X. was daar hoogmoedig op dat hy by baing hooggeplaaste Engelse ver 'n Engelsman deurgaat. Stellig was dit meer as eens syn wens dat hy waarlik Engelsman was; maar syn naam kon nie goed verengels worde nie.’ Die Advokaat het 'n dogter, Catharina, maar in die Engelsgesinde huis word sy Kate genoem. Gelukkig is sy in 'n Hollandse dameskool op koste van haar peettante opgevoed, en sy het die Afrikaanse gees daar haar eie gemaak. Natuurlikerwys moes daar soms botsings kom tussen Catharina en haar ouers, as die draers van twee verskillende kulture, en moes sy haar teen wil en dank as ‘I don't speak Dutch’ aanstel. Van Catharina se persoon kry ons 'n romantiese beskrywing - 'n prag van 'n meisiemens moes sy gewees het, iemand om te skaak: ‘Helder blauwe, sielvolle oge, blonte hare, 'n griekse neus, hoge voorhoofd en 'n mondje waarom 'n egte (nie soos 'n mens dikwels ontmoet valse) glimlag speul; van middelbare lengte en 'n netjiese postuur; gekleed soos al die andere dames in wit, met ope hals en kaal arms.’ Met 'n likeurtjie in die hand, begin die gaste oor die onderwerp van die dag, die Transvaalse anneksasie, te | |
[pagina 51]
| |
gesels. Advokaat X. het teen die Transvalers te velde getrek op grond van ‘inherente swakheid’, hy het uitgewei oor die seëninge van die Britse bestuur. 'n Onaangenaamheid vind plaas op die fees, want Jan H., een van die gaste wat ‘'n Afrikaander in hart en siel’ is, het geweier om op die anneksasie te drink. Nou verplaas die skrywer ons na die huisgesin van oom Jan M. om die kontras na vore te bring, 'n kontras wat hy baie skerp belyn. Dis ook 'n kontras tussen stad en platteland - die stede het voorgegaan in die verengelsingsproses, terwyl die platteland 'n vrugbare akker was vir die Hollandse kultuur. Oom Jan hou vas aan sy voorvaderlike tradisies; hy is ouderling van die kerk, hy laat sy kinders goed leer, ook Engels, want hy beskou dit as baie noodsaaklik, hoewel dit geen hoofsaak nie, maar bysaak is. Hy is 'n getroue leser van die Patriot, en saam met sy drie seuns is hulle lede van die G.R.A. Op skool het Catharina 'n vriendskap gesluit met oom Jan se dogter Lenie, en op haar uitnodiging gaan Catharina by haar kuier. Haar broer David, wat vir 'n boer goed ontwikkeld is, raak op Catharina verlief. Wanneer sy haar taal verbrou, help die familie M. haar reg. Dit gee die skrywer die geleentheid om ook sy hart te lug oor dié euwel wat in sy dae onder die Afrikaners reeds soveel veld gewen het: ‘Helaas! hoe die gees al meer en meer in ons land begin te heers dat Engels te ken, die toppunt van geleerdheid is! Hoor maar selfs onder ons boerebevolking as hulle van iemand spreek: die of die is goed geleerd hy ken Engels! of: hy of sy het 'n baing goeje opvoeding gehad - hulle ken Engels! As of al die opvoeding, wetenskap of geleerdheid daarin leg om Engels te ken.’ David en Catharina raak verloof, maar hulle weet vooraf dat haar Engelsgesinde vader nie sy toestemming sal gee dat sy met 'n Afrikaanse boer mag trou nie. | |
[pagina 52]
| |
Die skrywer maak met ons 'n uitstappie na 'n sekere dorp wat vroeër Afrikaansgesind was, maar nou is die bordjies verhang en neem die verengelsingsproses met rasse skrede toe, en dit alles onder invloed van die nuwe predikant. Hierdie verwyt is bedoel vir die baie predikante wat die kerkdeure vir Engels oopgesit en so die Afrikaanse volk langs die pad van die godsdiens gedenasionaliseer het. Maar meer, die predikant het 'n Skotse prinsipaal in die skool ingewerk en op dié wyse ook die jeug aan 'n vreemde taal en kultuur gewen. Aan sy seun op die teologiese kweekskool te Stellenbosch skryf die predikant A. ook nog o.a.: Luister tog nie langer na die esels en domkoppe, wat van Hollans of Afrikaans praat. Ne, myn jong, Engels!...Die tyd sal kom dat die Vrystaat ook Engels word en dan, dan sal alles goedgaan.’
Soos David en Catharina verwag het, het die moeilikhede nie uitgebly nie. Advokaat X. het hul geheime korrespondensie ontdek, en was rasend: ‘ik 'n boer, 'n lompe boer ver skoonseun kry, hoe sal die wereld met myn spot en myn uitlag!’ Hy belet dan ook die korrespondensie, maar David en Catharina flous hom op 'n ander manier.
Om oor sy smart te kom, onderneem David 'n lang reis na die Transvaal, maar terwyl hy in Pretoria is, lees hy in die Zuid Afrikaan van die bankrotskap van Advokaat X. wat te hoog gevlieg het vir sy ‘stand’. Catharina skryf nou aan Lenie M. 'n betraande brief en vra haar om vir David te sê dat hy onder dié omstandighede maar van haar moet afsien. David keer dadelik terug om Catharina te gaan opsoek by haar tante Kaatjie waar sy kuier. Op sy deurreis deur Bloemfontein was hy verstom oor die ingang wat Engels daar reeds gevind het. ‘Met uitsondering van die setlaarsdorpe in die Oostelike Provincie is daar in die hele Kolonie geen plek wat so Engels is as Bloemfontein.’
David het baie moeite gehad om Catharina te oortuig dat hy haar terwille van haarself en nie terwille van haar geld liefgehad het nie, dat hy haar nou liewer het as ooit | |
[pagina 53]
| |
tevore, en graag met haar wil trou. Die onweerswolke trek verby ‘en die son van geluk ver die toekoms kom deur en skyn vrindelik, asof hy goed wou maak dat hy so lank verborge was gewees.’ Versag deur die teenslae, het Advokaat X. nou sy toestemming gegee, en stil is David en Catharina getroud. So eindig hierdie romantiese geskiedenis, maar vir ons 'n waardevolle dokument om die tydgees wat dit openbaar, die geestelike toestand van so baie Afrikaners (van wie die Advokaat 'n voorbeeld is) van daardie tyd wat dit blootlê. Ds S.J. du Toit het hom in die Geskiedenis van die Afrikaanse Taalbeweging 1880, bl. 75 as volg oor hierdie boekie uitgelaat: ‘Die verhaal op sig self is nie bisonder boeiend nie; mar dis deurdronge van so'n eg patriottise Afrikaanse gees, dat dit al 'n dojerige Afrikaner moet wees wat dit nie met smaak lees nie.’ Heelhartig kan ons ook die woorde van dr N.M. Hoogenhout in Die Brandwag van 1 November 1910 onderskryf: ‘Al sou alles wat indertijd gedaan en gepreek en geskrewe werd deur die Genootskap van Regte Afrikaanders en sijn aanhangers behalwe Catharina verlore gaan, sou o'er 'n honderd jaar die geskiedskrijwer tog nog 'n vrij volledig en nauwkeurige kennis van hulle strewe en wense kan put uit die inhoud daarvan.’ Catharina is nie 'n gefantaseerde verhaal nie, maar berus op werklike gebeurtenisse, want in 'n verdere mededeling sê dr Hoogenhout: ‘Dit is jammer dat daar nog altyd geen name mag genoem word nie, anders sou 'n mens die saak sonder doekies om te draai kon uitleg en die persone kon aanwijs op wie maar al te duidelik gesinspeel word.’ Die kultuurhistoriese waarde van Catharina kan ons nooit oorskat nie, maar anders is dit met sy letterkundige waarde, want dit is heel gering. Hoewel ons die voortbrengsels van die G.R.A. in die eerste geval nie uit 'n kunsoogpunt moet beoordeel nie, omdat dit 'n onderge- | |
[pagina 54]
| |
skikte punt by die leiers was, moet ons tog op 'n paar gebreke wys vanuit die oogpunt van die teenswoordige leser. Die bou van die verhaal is los en onsamenhangend, sodat daar dikwels tussen die verskillende dele haas geen verband bestaan nie. Die skrywer spring van die een tak op die ander en maak gebruik van 'n manier wat destyds nog in die mode was: die leser word vriendelik versoek om hom van die een plek na die ander te volg. Die ou man (Oom Jan M.) gaan na die biduur, ‘en die lesers word uitgenodig om terug te keer na die huis, waar die mense nou al an tafel sit.’ Na die skrywer 'n bietjie gesels het oor die feesvreugde, vra hy weer: ‘Laat ons saam gaan en hulle 'n bietjie nader bekyk.’ Later: ‘Terwyl die dames hulle in die voorkamer vermaak, sal ons 'n kykie by die heere gaan neem.’ En ten slotte: ‘Hier neem ons afskeid van die familie M.; ons sal hulle later wel weer besoek.’ Hoogenhout is al te lief om die objektiwiteit van die verhaal te verbreek, nie alleen deur persoonlik die woord tot die leser te rig nie, maar ook deur lang uitweidings wat nou nie juis in verband met die verhaal staan nie, maar hom wel die geleentheid gee om sy opinie oor 'n saak uit te spreek. Die karakters is nie lewende mense nie, maar tipes wat 'n deug of 'n ondeug moet beliggaam. Daarom dat die verhouding tussen verskillende karakters so onnatuurlik is, en daarom dat ons niks meer van die liefde van David en Catharina vir mekaar weet as wat deur die skrywer aan ons vertel word nie. Self verklaar hy: ‘Die lesers sal nie verwag om hier 'n versameling van briewe te kry waarvan myn hartjie, myn liefie, myn skatjie instaan. Die wat vanslewe sulke briewe geskrywe het ken die inhoud, en die wat dit nog sal skrywe, sonder hulp van ander dit wel leer.’ Soms trek hy liewers 'n ‘sluier’ oor die sielelewe van sy karakter. Die taal is nog onbeholpe en Hoogenhout soek sy weg deur die duisternis heen, maar hoe kon dit anders? Die rou taalklei moes nog eers gebrei word en ons mag nie | |
[pagina 55]
| |
vergeet dat Hoogenhout 'n Hollander was wat die spreektaal aangeleer het nie. En waarlik, hy het 'n oog vir die besondere, vir die volksaardige uitdrukking - hy is 'n aangename verteller: ‘Die stomme man, hy weet nie hoeveul beurse ver die saak oopstaat al sou die inteekenaars oek so gemeen wees om nie te betaal nie.’ En dan hierdie mooi sinnetjie: ‘Die senuwagtige meneer stamp met syn voet en swaai met syn arms dat dit 'n naarheid was ....’ En hoe tuis is Hoogenhout nie in die beskrywing van oom Jan se plaas nie! Ons het hier op 'n paar gebreke gewys soos ons die dinge vandag sien, nie om die novelle te verkleineer nie, maar om helderder te laat uitkom dat die betekenis van Catharina nie lê in sy letterkundige, maar wel in sy kultuurhistoriese waarde, en 'n kultuurhistoriese waarde só groot, dat die boek sal leef solank as wat daar 'n Afrikaanse letterkunde sal wees. In geen enkel goeie Afrikaanse Literatuurgeskiedenis sal Catharina, die Dogter van die Advokaat, ontbreek nie. Een van die eerste boekies wat deur die Genootskap van Regte Afrikaners vir kinders uitgegee is, is die Spelen Leesboek vir Afrikaanse Kinders, deur Oom Willem (J.W.v.d. Rijst), 1878. In 1879 volg 'n belangrike boekie, en wel deur ons kindervriend, C.P. Hoogenhout: Eerste Afrikaanse Printjies Boeki ver Soet Kinders, deur Oom Jan wat Versies maak, met 'n oplaag van 1500. In 1885 het 'n tweede, vermeerderde en verbeterde uitgaaf gevolg. Hierdie boekie was volgens die inleiding van oom Jan, bedoel vir kinders wat reeds deur oom Willem se boekie leer lees het. As die kinders van die stories hou, moet hulle dit vir oom Jan in die Patriot skrywe en dan gee hy hulle nog 'n groter prenteboekie ‘met 'n leersame verhaal daarby.’ ‘Nou, beste groetnis van Oom Jan, kinders! en syn wens is, dat julle almal soet en leersaam | |
[pagina 56]
| |
en gehoorsaam mag wees, en almal ver onse Here Jesus mag lief hê. Want sulke kinders is gelukkig en bemind op aarde en kom eenmal by die Here Jesus en by die Engeltjies in die Hemel.’ In die inleiding van die tweede uitgaaf sê oom Jan: ‘Daar moet glo regte baing soet kinders in ons land wees; want di eerste uitgawe van Oom Jan syn Prente Boeki vir Soet Kinders was een, twe, dri uitverkog. Deur baing ander werk kon di uitgewers dit ni dadelik weer herdruk ni.’ Deur die inleiding by die eerste uitgaaf is die boekie reeds gekarakteriseer: Oom Jan wou die kinders stig en onderwys, hy wou aan hulle leersame verhaaltjies gee, waaraan hy dikwels 'n sedelessie vasknoop. Hy rig persoonlik die woord tot sy jong lesertjies, waardeur hy in staat is om 'n vertroulike atmosfeer te skep en gemoedelik met hulle te gesels. Eers begin oom Jan om 'n paar wapens te verklaar, o.a. ook die van die Genootskap van Regte Afrikaners. By die prentjie van 'n lokomotief, vertel hy opgewonde: ‘Dis di vuurwa, kinders! Dis hy, wat die hele trein trek. Hulle noem hom Lokomotief. En daarom het hulle di man, wat vóór trek ver ons Nasi ons Taal en ons Land oek die naam gegé van Lokomotief. Hy loop mos voor en trek almal agter hom an.’ Dit bring oom Jan dan tot die Patriot en hy skroom nie om propaganda vir dié koerant te maak nie, ‘want hy pleit mos ver ons reg. En hy geef alles te lees, wat ver ons nuttig en goed is.’ Oom Jan se Versies op al di maande van di Jaar wat in die Afrikaanse Almanak van 1877 verskyn het, word hier ook afgedruk, maar nou natuurlik met prentjies. Dit is ook die geval met die versie van Willem Malherbe: | |
[pagina 57]
| |
Vanselewe en te'enswoordig1780
Boer ploeg hom moe;
Dogter melk di koe;
Vrou is an d' spinne;
Seun ry gerwe binne;
Geld in die kas!
1880
Boer is op swier;
Dogter speul klavier;
Vrou sit in Satyn;
Seuntjie leer Latyn;
Plaas is belas!
In 'n reeks ‘Skadelike Dinge waarteen ons die kinders waarskuw’, word genoem: pyprook, want ‘dis mar net 'n verkwisting van geld, en nadelig ver di gesondheid oek.’ Daar volg 'n spotrympie op 'n seuntjie wat hom verbeel dat hy groot is met die pyp in die mond. Gevaarlik is ook drink, kaart- en biljartspel, want dit lei dikwels tot rusie. ‘Né, kinders! pas op ver biljart tafels in die hotels! Van die soort vrolikheid kom olikheid. En kinders moet nooit rusie maak en bakly ni.’ Die gedig van Oom Jan: Jan Bantjies was 'n Hotnotsjong word ook afgedruk, want dit moet die kinders afskrik van die resies. Vervolgens kom dans, die modes, en vrymesselary aan die beurt. Daar is egter ook ‘nuttige dinge waartoe ons di kinders opwek’, soos leersaamheid, opregtheid, eensgesindheid, werksaamheid, ens. In 'n hand word 'n hart afgeteken, en goedig verduidelik oom Jan: ‘Dit beteken, kinders! dat 'n mens ni halfhartig of wispelturig moet wees ni. Wat jou hand doet, moet jy doen met jou ganse hart. Onthou dit, kinders, hand en hart moet altyd same gaan!’ By die prentjie van 'n meisie wat 'n koei melk, merk oom Jan op: ‘Kyk, kinders, werk is ni 'n skande ni, mar luiheid is 'n skande.’ In die lewe is daar baie mooi dinge, en daarom gesels oom Jan met die soet kinders oor musiek, blomme en | |
[pagina 58]
| |
diere. Hy toon hom ook die ware vaderlander wat nie kan begryp waarom ons nie ons eie fabrieke kan oprig nie. ‘Wanner sal Afrikaners tog ophou om so dwaas te wees? Waarom ni liwers self ons velle gelooi en onse eie skoene en stevels gemaak ni? Geloof myn, di wat ons deur ons eie skoenmakers laat maak is baing sterker, maski kos hulle 'n bitji duurder. Ondersteun tog jul eie nasi, mense!’ Spelenderwys het oom Jan aan sy soet kinders 'n mooi klompie stories vertel, maar nuttige stories wat vir hulle van waarde kan wees op hul lewensweg. Hy was nêrens dringerig-prekerig nie, want sy oë glimlag gedurig as hy gesels, en wie kan dan aanstoot neem as hy jou 'n wenkie gee wat om liewers te laat? Hy beveel jou ook nie, maar sê net wat hy dink die beste is, bv. ‘Daar is in ons land oek al baing Vrymesselaars, en hulle wil graag ander oek daarin hê. Mar ons denk di kinders moet liwers daaruit bly.’
In verband met Die Geskiedenis van Josef, spreek dr. J. du P. Scholtz (Die Afrikaner en sy Taal, bl. 236) die vermoede uit dat Hoogenhout se boekie 'n verafrikaansing sou wees van De Geschiedenis van Jozef in 1796 uitgegee deur die Nut van 't Algemeen, en deur die Z.A. Christelijke Boekvereeniging in 'n enigsins veranderde vorm herdruk. Mnr. Jan Bouws het hierdie boeke in die Amsterdamse Universiteitsbiblioteek met mekaar vergelyk en beweer dat daar geen ooreenkoms is nie. |
|