Hollandse skrywers uit Suid-Afrika. Deel 2 (1875-1905)
(1949)–Elizabeth Conradie– Auteursrecht onbekend'n Kultuur-historische studie
[pagina 237]
| |
1. 'n Dualistiese kultuurbeleid uit die staanspoor.In 1845 is Natal as Britse gebied geannekseer en die grootste gedeelte van die Voortrekkers het die land verlaat en na die Transoranje of Transvaal getrek. In die Transoranje, waar die oudste dorp, Winburg, reeds in 1842 aangelê is,Ga naar voetnoot1) het die moeilikheid al gou begin, tussen die Boere aan die een kant en aan die ander kant die Basoeto's onder Moshesh, die Griekwas onder Adam Kok, en hul bondgenoot die Engelse, wat uitloop op 'n neerlaag vir die Trekkers in 1848 by Boomplaas, en die totstandkoming van die Oranjerivier-Soewereiniteit wat sou duur tot 1854. Die hegte grondslae vir die dualistiese taalbeleid, die hink op twee gedagtes in die politiek, die gevaarlike sit op twee stoele van die kultuurleiers, wat so kenmerkend is van die hele geskiedenis van hierdie ‘modelstaat’, is in die tydperk van die Soewereiniteit gelê, toe 'n groot aantal Engelse en Skotte die streek binnegekom het, deur die Britse owerheid in gesaghebbende posisies geplaas is, en die kultuursentrum, in soverre daar sprake van so iets kon wees, van Winburg na Bloemfontein verskuif het. | |
[pagina 238]
| |
Die wortels van die dualisme gaan egter al verder terug in die geskiedenis van die Trekkers. Na die opstelling van 'n Konstitusie en die verkiesing van Retief as goewerneur, het die gepikeerde Potgieter en Uys verkies om nie saam Natal toe te trek nie, maar in die omgewing van Thabantsjoe te bly. Toe die broers egter in die hoogste nood in Dingaansland verkeer, het hulle 'n hulpekspedisie gestuur. By Potgieter se terugkeer het hy by Winburg verbygetrek, waar sommige van sy volgelinge agtergebly en 'n dorp gestig het, en hom aan Mooirivier gaan vestig. Die Trekkers in die gebied ten noorde van die Oranjerivier was dus heeltemal ongeorganiseerd en het daarby tussen verskillende stamme gewoon, Maroko, Adam Kok in die suide, en Moshesh in die suidooste. Waar dit hulle te pas gekom het en nie al te veel met hul individualisme gebots het nie, het die suidelike en suidoostelike groep na 'n sekere Michiel Oberholster as hul leier opgesien, en hierdie groep, in teenstelling met dié van Jan Mocke wat na vereniging met die ander Trekkers gestrewe het, het hom onderskei deur sy Britsgesindheid en oriëntering op die Kaapkolonie. Mocke se afwesigheid na Port Natal in 1842 om die Boere teen die Engelse te help, het aan Oberholster die gewenste geleentheid gebied om met die magistraat van Colesberg te heul. Dit het as gevolg gehad die dreigement van Mocke by sy terugkeer om die hele gebied onafhanklik van Engeland te verklaar, en die voorbarige verklaring van die streek tot aan die 25ste breedtegraad tot Britse gebied deur Regter Menzies van die Rondgaande Hof op Colesberg, en die Napier-verdrae met Adam Kok en Moshesh in 1843, waarby genoemde kapteins onafhanklik, en as bondgenote van Engeland verklaar is. Dat die boer nie net weiveld van die swartes kon huur nie, maar ook hul gesag moes erken, het die rassetrots en ingewortelde kleurgevoel in opstand gebring, en ondanks die Britse neiginge van die Oberholster-groep, het die resident, Majoor Warden, wat in 1846 in Bloemfontein geplaas is, sy hande tog vol gehad met die weerspannige Trekkers en sy wettige bondgenote, die Basoeto's en Griekwas, van wie hy meer sonde as plesier beleef het. Op 3 Februarie 1848 het sir Harry Smith in persoon die proklamasie, sy geestelike swaard, oor die gebied geswaai, maar hy moes sy swaard op 25 Augustus letterlik uit die skede trek voor hy die soewereiniteit van die Oranjerivier | |
[pagina 239]
| |
kon besit. Die Britsgesinde groep het nou 'n groot versterking gekry, 'n hegte grondslag vir 'n Engelse kultuur is in Bloemfontein gelê, en toe sir George Russell Clerk in 1853 in die Soewereiniteit kom om te onderhandel, na die neerlaag van Cathcart teen Moshesh by Berea in 1852, wat die Engelse tydelik moeg gemaak het vir die rol van beskermheer vir wie wars was van sy beskerming, het hierdie groep hemel en aarde beweeg om nog onder die soewereine vleuels te bly. Hulle het selfs 'n afvaardiging na Engeland gestuur, en dit onder leiding van die eerste Hollandse predikant van Bloemfontein, om teen hul vryheid te protesteer. Maar op 23 Februarie 1854 is die gebied tussen die Oranje- en die Vaalrivier as onafhanklike staat erken deur die Konvensie van Bloemfontein. Die beurt het aangebreek vir die republikeinse groep om te sien wat hulle tot stand kon bring in die staat wat volgens lotsbeskikking nou eenmaal in 'n dualistiese rigting gestuur is deur omstandighede van buite en eie innerlike gesteldheid van die Trekkers wat hul daar kom vestig het.Ga naar voetnoot1). Dit spreek vanself dat die psigologie van die Vrystater en gevolglik sy kultuurprestasie hierdeur 'n totaal ander is as dié van die noordelike buur, wat hom altyd op die land van herkoms en so ver moontlik weg van Engeland georiënteer het. Altyd moes daar in Transoranje rekening gehou word met die Engelsgesinde groep, anders het dié gou 'n vaatjie buskruit gekry om agter te skuil, soos die eerste president, Josias Philip Hoffman, wat net vyf maande die roer van die staat in sy hande gehad het, moes ondervind. Meer in die Engelse smaak het sy opvolger geval, J.N. Boshof, in die Britse Kaapkolonie gebore en opgevoed, eenmaal voorsitter van die Natalse Volksraad, wat ook na die anneksasie daar bly woon het, en na sy presidentskap van 'n onafhanklike staat in 1859 weer na daardie Britse kolonie teruggekeer het. Ook die eerste predikant van Bloemfontein het oor die algemeen hulle volle steun geniet. Die tweede deputasie van die Kaapse Sinode in 1848, bestaande uit dr. Robertson van Swellendam en ds. P.E. Faure van Wynberg, het 'n gemeente in Bloemfontein gestig | |
[pagina 240]
| |
en in hul teenwoordigheid het majoor Warden die hoeksteen van 'n kerk gelê op 8 Januarie 1849. In dieselfde jaar is die eerste predikant van die Nederduits-Gereformeerde Kerk deur sir Harry Smith, die man wat die boere met die geestelike swaard sou tem, benoem. Die man wat die eerste Hollandse geskrif op Vrystaatse bodem ontstaan, sou pen, het sy verskyning gemaak. | |
2. Andrew Murray doen elf jaar pionierswerk in Transoranje, (1849-1860), skryf daar Jezus de kindervriend (1858) en Wat zal toch dit kindeke wezen, (1863), en stig ‘de bloemfonteinsche kweekschool’.Andrew Murray,Ga naar voetnoot1) (1828-1917), is in Graaff-Reinet gebore waar sy vader, een van die Skotte wat deur lord Charles Somerset hierheen gebring is in 1822, predikant was. Op tienjarige leeftyd is hy saam met sy ouer broer John, die latere professor aan die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch, na Skotland gestuur om teologie aan die Marischall-College, Aberdeen, te bestudeer. Hulle het by 'n oom ingewoon, prof. J. Murray, en die kerkstryd waaruit die Vrye Kerk van Skotland voortgekom het in 1843, meegemaak, en saam met hul oom na die afgeskeie kerk oorgegaan. Op twintigjarige leeftyd is Andrew deur sir Harry Smith aangestel as predikant van Bloemfontein en konsulent van al die ander gemeentes in die Oranje-Rivier-Soewereiniteit. Toe ds. Andrew Murray, van Skotse afkoms, met 'n sewejarige opleiding in Skotland in sy puberteitsjare wanneer hy die meeste vatbaar vir indrukke was, wat die driejarige verblyf daarna in Holland nouliks kon neutraliseer tot iets wat in die verte op 'n Dietse inhoud lyk, in sy werkkring kom in 1849, was daar weinig wat op 'n Hollandse kultuursentrum gelyk het. Sy eerste publikasies het dan ook hul ontstaan te danke aan 'n besef van die skreiende behoefte aan die opleiding van die Voortrekkerkinders, en was bedoel as hulpmiddel vir die moeders op wie die taak van opvoeding meestal geval het. Daar het van hom in 1858 'n | |
[pagina 241]
| |
geïllustreerde lewe van Christus verskyn, Jezus de KindervriendGa naar voetnoot1) wat heeltemal binne die begripsvermoë van die kind en die eenvoudige van hart gehou is. 'n Tweede werkie, Wat zal toch dit Kindeke wezen (1863), is die samevatting van toesprake wat hy by doopsgeleenthede gehou het op sy reise in die noorde as predikant van BloemfonteinGa naar voetnoot2). Hierdie werkies het in 'n behoefte voorsien en is belangrik as spieël van wat in die jong skrywer se gemoed omgegaan het in sy eerste werkkring. Maar hoe verdienstelik sy pionierswerk op geestelike en algemeen kulturele gebied in die elf jaar van sy verblyf in die noorde ook al mag gewees het, tot die suiwer Dietse kultuurbou wat die Hollandse geskrifte betref, het hy weinig bygedra, ondanks die feit dat hy predikant was van die Hollandse kerk. Later het die beroemde skrywer van godsdienstige lektuur hom dan ook meestal van albei tale bedien maar dit is sy Engelse geskrifte waaraan hy sy populariteit te danke het. Deur sy toedoen het die stigting waarvan hy die eerste rektor was, ‘De Bloemfonteinsche Kweekschool’, die latere Grey College, tot stand gekom in 1856, met behulp van 'n geskenk van die Kaapse goeverneur, sir George Grey van £2000 en die rente van 'n verdere £ 3000 vir die salaris van die hoof. Dat die skool die dualistiese rigting ingeslaan het, lê voor die hand. Een van die voorwaardes van die skenking van 'n Engelse goewerneur aan 'n Afrikaanse republiek waarin die Hollandse taal as die enigste offisiële taal van die land verklaar is in die grondwet van 1854,Ga naar voetnoot3) was dat die Engelse taal in die inrigting geleer moes word. Die kommissie van beheer, bestaande uit ds. Murray en president Boshof - die derde, 'n boer, Griesel, wat buite die dorp gewoon het, en so goed as niks in te bring gehad het nie - het dit geïnterpreteer dat die medium van onderwys en die bestuur van die skool in die Engelse taal gevoer moes word, wat aanleiding | |
[pagina 242]
| |
gegee het tot heelwat wrywing met die Volksraad.Ga naar voetnoot1) Heeltemal tereg het oud-president Hoffman en sy aanhangers soos Hamelberg en Groenendaal in 1856 geëis dat die Hollandse taal, as die taal van die regering en van die meerderheid van die bevolking, die hooftaal van die skool sal wees, anders sou geen regeringstoelaag toegeken word nie. Maar die trustees het volgehou ‘dat het maar niet mogelijk zou zijn aan de Akte getrouw te blijven en tevens te voldoen aan de letter en de geest van het Volksraadbesluit van 1856.’ Geen wonder dat ondanks die fraai geboutjie en volop vreemde geld die skool 'n veertienjarige ebtyd tegemoet gaan van voortdurende afwisseling van hoofde en van beleid, voor die man uit die stamland van die Trekkers, dr. J. Brill, in 1873 arriveer, en dit opvoer tot 'n hoë vloed van Dietse beskawing. Ds. Murray het gearbei by die lig wat in hom was, en sy hele werksaamheid in Transoranje van 1849-1860 was in harmonie met die troebele dualistiese kultuurbeleid van die jong staat, wat nog aan worstel was om koers te vat in Dietse rigting. Daar het die later beroemde skrywer van talryke godsdienstige stukke sy eerste twee publikasies gepen, maar tekenend is dit dat die eerste, wat nooit in Engels vertaal is nie, Jezus de Kindervriend (1858), in die vergetelheid geraak het, terwyl die vermeerderde Engelse uitgawes van die tweede, Wat zal toch dit Kindeke wezen (1863) onder die titel The Children for Christ later die oorspronklike Hollandse publikasie totaal verdring het. | |
3. Joernalistiek voor 1875. The friend - de vriend.Die predikant was die aangewese skrywer, godsdienstige lektuur die enigste leesstof voor die koerant in die lewe geroep is in 1850. So groot was die behoefte aan kragte vir allerlei vertakkinge van die lewe dat J.G. Groenendaal, wat deur die Utrechtse professor Lauts in 1850 uitgestuur is om onderwys te gee aan kinders van die Trekboere, spoedig die roede op Rietrivier vir die pen op Bloemfontein verruil het deur in | |
[pagina 243]
| |
regeringsdiens te gaan, en een van die opstellers te word van die grondwet van die Oranje-Vrystaat van 1854Ga naar voetnoot1), 'n voorbeeld wat deur etlike onderwysers soos J.W. Spruyt en later C.W.H. van der Post gevolg word. Die ongeletterde Afrikaners moes na hul stamgenote omsien om hul gees te vertolk so goed of so kwaad soos dit gegaan het, in The Friend of the Sovereignty and Bloemfontein Gazette, 'n tweetalige blad wat omstreeks die middel van 1850 deur Godlonton en White uitgegee is, die Hollandse gedeelte waarvan geheet het De Vriend van de Soevereiniteit en Bloemfonteinsche CourantGa naar voetnoot2). In vry suiwer NederlandsGa naar voetnoot3) is die artikels oor buitelandse nuus, hofsake, finansies, kafferoorloë, handel, volksraadsittings, in hierdie afdelinge van die blad. Maar die politiek en die hele gees is deur en deur Engels, soos ons kan verwag van 'n blad wat byval gevind het by Sir Harry Smith, en opgerig is op voorwaarde dat die Soewereiniteit £150 as hulpfonds daarvoor stort. Oppervlakkig beskou het die blad herhaaldelik sy staatkundige rigting verander, soos na die Tweede Vryheidsoorlog toe dit die belange van die inheemse bevolking teenoor die oorheersers bepleit het, terwyl dit voor die oorlog die Vrystaatse regering help ten gronde bring het, maar in werklikheid was die gees nooit iets anders as Brits-imperialisties, of op sy beste Engels-Afrikaans nie. Die voor die hand liggende vorm was weer die satiriese politieke vers en die hekelsamespraak of brief om andersdenkendes te bestry, waarin ons vandag die Engelse kant van die beeld lees van die staatkundige en sosiale beroeringe van dié tyd. Tekenend is dit dat die eerste spotrympieGa naar voetnoot4) in die rubriek Origineele Correspondentie in 1852 teen Winburg gerig is, die Voortrekkerdorp wat steeds die doring in die vlees was van Bloemfontein, die Engelse militêre kamp. | |
[pagina 244]
| |
Die rymelaar dig die Winburgers allerlei gemeenhede toe, hulle neem jou perd, saal en geweer af onder voorwendsel van proteksie, en vertoon geen kleurgevoel of huweliksmoraal nie, - net vuige laster: ‘Een bijwijf wit, wordt 't u belet?
Behoef g' niet veel te klagen.
Zoo gij in plaats zwart meiden zet,
Daar zal geen mensch na vragen
te Winburg.’
Na die opheffing van die Soewereiniteit en die verkiesing van president Hoffman het die Republikeine nog 'n enkele keer in dieselfde blad probeer antwoord in net sulke onsmaaklike skeltaal op rym, bv. in 1854 in twee lang satiriese verse deur Tjaart en A.B.C. uit Burgersdorp, teen Oom Jan wat die petisie teen President Hoffman geteken het, getiteld ‘Aan Oom Jan’, en ter ondersteuning van die president, getiteld ‘De Oranje Vystaat’. Oom Jan wat aangeraai word om verder te trek, desnoods sonder die hulp van esels as trekdiere omdat hyself 'n esel is, heet: ‘Gij oproermaker in het land
Wie vraagt u om uw raad?
Gij zijt aan Beelzebul verwand,
Een wolf in schaaps gewaad.’
Almal word aangeraai in laasgenoemde vers om nie die vreemdelinge nie, maar die president te raadpleeg, want: ‘Het volk heeft hem tot Hoofd gemaakt
Tot zulk een hoogen rang’Ga naar voetnoot1).
| |
4. Joernalistiek voor 1875. H.A.L. Hamelberg. De Tyd.Die pers was 'n dorpsinstelling van Bloemfontein, en die min of heeltemal nie geskoolde Boere van die platteland het aanvanklik slegs die invloed daarvan ondergaan, hulle eerste smaak in | |
[pagina 245]
| |
vers en prosa anders dan godsdienstige, is daardeur gevorm, maar self het hulle niks van hulle kant kon bydra of meepraat nie. Die Boere se skrywers in Transoranje sowel as in Transvaal, die onmisbare meesters en agente wat in Nederland dikwels die mees uiteenlopende beroepe uitgeoefen het, maar in ons land die grootste deel gelewer het van die gesamentlike Hollands-Afrikaanse skriftelike en letterkundige besit van die twee Republieke, het ongelukkig aanvanklik selde die kuns verstaan om in die verwarrende dualisme konsekwent hul natuurlike aansluiting by die Dietse groep te vind, net so min soos hul die kuns verstaan het om mekaar te steun. Hul verskoning is dat die verwarring in die dorpe in Transoranje vir die Afrikaners self dikwels nie te ontrafel was nie in 'n tyd toe bloedverwantskap kultureel nie sterk bewus gespreek het nie. In Bloemfontein was J.A. Smellekamp wat na sy rusie met ds. Van der Hoff in Transvaal in 1854 na die Vrystaat afgesak het, waar president Hoffman hom landdros gemaak het, 'n betrekking wat hy gou verruil het vir dié van prokureur, een van die vroeë joernaliste in die Hollandse deel van The Friend. Daar kon hy sy kennismaking hernu met J.W. Spruyt, 'n Transvaalse onderwyser, vroeër uit Oosterwolde, wat in 1850 deur prof. Lauts aan die Overvaalse Boere gestuur is, deur die Volksraad in Rustenburg geplaas, en eweneens betrokke in die Lydenburg-Potchefstroom-rusie tussen Smellekamp - Bührmann - Van der Hoff. Spruyt is aangestel tot goewernementsekretaris in Bloemfontein, is in 1866 terug na Transvaal toe hy daar tot staatsekretaris benoem is, maar dit is in verband met die vroeë Vrystaatse joernalistiek dat sy naam in die herinnering gunstig bewaar bly. 'n Ander ex-onderwyser uit Amersfoort, Groenendaal, wat in 1848 uitgekom het en ook staatsekretaris van die Oranje-Vrystaat geword het onder president Boshof in 1855, was verantwoordelik vir die koms in 1856 van die grootste Dietse joernalis wat Transoranje voor 1875 gehad het, H.A.L. Hamelberg. Hierdie groep Nederlanders waarvan Hamelberg van die begin tot die einde van die republiek 'n oorweënde invloed uitgeoefen het op die landsake, het fel kant gekies teen die Transvaalse nasionale leier genl. Pretorius, en na sy dood in 1853 teen sy seun en opvolger Marthinus Wessel Pretorius, en deur middel van hul vaardige penne eers in The | |
[pagina 246]
| |
Friend-De Vriend, later in hul eie blad De Tyd, die droom van Pretorius, die vereniging van die twee republieke, die hardste help verydel. Almal het hul buiging voor die Vrystaatse publiek in die eerste Vrystaatse koerant gemaak. Hendrik Anthonie Lodewyk HamelbergGa naar voetnoot1) gebore te Zalt-Bommel op 2 Mei 1826, het skoolgegaan op Amersfoort waar sy vader yker en skoolopsiener was en lektor in wis- en natuurkunde. Aan dieselfde skool was Groenendaal vroeër verbonde voor hy na Suid-Afrika gekom het, en deur korrespondensie het hy die familie Hamelberg op die hoogte gehou van die nuwe landsomstandighede. Hendrik het eers op die ‘Nutsschool’ daar skoolgegaan en toe op die Franse skool, voor hy na die gimnasium is. In Utrecht het hy in die regte gaan studeer, waar hy 'n groot rol in die studentelewe gespeel het en 'n boesemvriendskap gesluit het met J.M.L. Heyligers wat hom na die Vrystaat gevolg het, en eweneens 'n joernalis van betekenis geword het. Reeds in sy studiejare het Hamelberg 'n aanvang gemaak met sy letterkundige werk, as redaksielid van die Utrechtse Studenteblad en as opsteller van die studente-adres wat in Januarie 1849 aan die Koning aangebied is, en sy hele lewe lank het hy geen boeke maar joernalistiek gelewer, wat indien eenmaal gebundel, etlike boekdele sal beslaan. Na hy in 1853 in die regte gepromoveer is tot Meester het hy na sy ouerlike huis teruggekeer waar hy klein, swakbetaalde baantjies beklee het, maar dit tog gebring het tot regter-plaasvervanger in die Amersfoortse regbank. Sy vrye tyd, waarvan hy as jong advokaat 'n oorvloed gehad het, het hy opgevul met letterkundige arbeid wat bestaan het in die opteken van flou grappe en uitvoerige redenerings oor onbelangrike gebeurtenisse. Hierdie betekenislose jeug-prulwerk is nogtans 'n weerkaatsing van die benepenheid en kleinheid van sy Amersfoortse omgewing, en het hom oefening gegee wat hom goed te pas gekom het toe hy eenmaal in 'n werkkring beland wat groot eise aan sy talent gestel het. En toe Groenendaal wat staatsekretaris van President Boshof, die opvolger van President Hoffman, geword het, hom laat weet in 1855 dat die nuwe, jong staat nog geen enkele gepromoveerde regsgeleerde het nie, het Hamelberg | |
[pagina 247]
| |
besluit om sy geluk en talent in die stamverwante land te gaan beproef. Vanaf sy vertrek uit Nederland het hy 'n DagboekGa naar voetnoot1) aangelê, wat hy bygehou het dwarsdeur sy vyftien jaar regspraktyk in die Oranje-Vrystaat en tot in sy konsulêre jare in 's-Gravenhage daarna. Dit vorm die vernaamste bron vir ons kennis van die oue tyd in die republiek en op sigself as letterkundige genre het dit ook verdienste. Van begin tot end is dit 'n hoogs boeiende geskrif van autobiografiese en sosiaal-historiese belang. Hamelberg besig onberispelike Nederlands, 'n foutelose styl wat deur te groot sorgvuldigheid en te veel sinspelings soms swaar en moeisaam word. Aan vreemde woorde in Nederlands het hy 'n hekel, vir woordspelings 'n groot voorliefde gehad. So bv. word die kaptein aangeraai om hom as volg teenoor sy bemanning te gedra: ‘Geef allen vrij een oorlam; er is geen enkele lamoor bij’; of van die prisma waardeur sy hut lig kry, word gesê: ‘die daaraan 't minste blootstaan, zijn zij, die 't minste bloot staan’; of van Kaapstad heet dit ‘die door de Engelschen gekaapt is’. Tog, die tyd in aanmerking geneem, is dit 'n styl wat moderner en losser is as die toenmalige deftige stadhuis-prosa. In Kaapstad het Hamelberg 'n halfjaar gebly om georiënteerd te raak voor hy koers geneem het na die Oranje-Vrystaat in letterlike sin, en figuurlik gesproke in die liberale kerklik-politieke rigting. Hy het hom as advokaat in Bloemfontein gevestig. 'n Paar maande na sy aankoms in 1856 begin sy artikels oor staatkunde in Het Volksblad wat in daardie jaar herleef het onder redaksie van prof. Roderick Noble, die woordvoerder van B.J. van de Sandt de Villiers se strewe na ‘samenwerking der beide kolonistenrassen ten behoeve van hun Zuid-Afrikaansch vaderland, en van zichzelve als heerschend volk’Ga naar voetnoot2). Politiek het hy hom dus aan die kant geskaar van die Afrikaanse liberaliste, meestal jong predikante waaronder T.F. Burgers, 'n vaardige joernalis, wat omstreeks die middel van die 19de eeu na hul vaderland teruggekeer het na afgelegde teologiese | |
[pagina 248]
| |
studie in Nederland, en 'n opskudding verwek op kerklike, politieke en sosiale gebied. As die Hollandse Afrikaners se oë self nie oop was vir die gevare van die oppervlakkige idealisme van hierdie rigting wat dan ook te pletter geloop het op onwil van Engelse kant om in meer dan teorie goedgesind te wees teenoor Hollands-Afrikaanse handhawing, kan dit beswaarlik verwag word dat die pas aangekome Nederlander eie Dietse regte eers prakties erken sou wou sien alvorens hom vir samewerking te gaan beywer. Die ortodokse, nasionalistiese groep het Hamelberg dan ook sy hele lewe deur hopeloos onderskat, hoewel hy later duidelik ingesien het dat samewerking tussen twee verskillende kolonisterasse in sy aangenome vaderland altyd uitloop op magsoorskryding van die sg. ‘paramount power’ in Afrika. Behalwe politieke artikels het hy ook in dieselfde jaar nog 'n reisbeskrywing vir Het Volksblad gelewer onder die skuilnaam L.C.G.H. HalbermaGa naar voetnoot1). Dieselfde boeiende beskrywings vind ons terug in die Dagboek van die vertrek uit Rotterdam, die ruwe gedrag van die bemanning aan boord, die seremonies by die passeer van die linie, die vermoeiende maar interessante reis noordwaarts per kar oor Paarl, Letjesbosch, Beaufort West, Richmond, Colesberg, Philippolis, Boomplaats tot in Bloemfontein. Tegelyk begin hy in The Friend-De Vriend die wetsontwerpe van die nuwe jong staat bespreekGa naar voetnoot2) waarvan president Boshof toe die roer in taamlik onvaste hande gehad het, en bied hy sy dienste aan as sekretaris van die Volksraad. Van toe af is hy dadelik nie alleen die vernaamste joernalis nie, maar ook die vernaamste staatskrywer van die Vrystaat met kort tussenposes. Van die dramatiese verskyning van M.W. Pretorius in die Volksraad in Februarie 1857 en opeising van die land sowel as van die Renosterrivier-episode, 'n paar maande later, 'n noodlottige begin van die edele saak van vereniging van die twee Hollands-Afrikaanse republieke, kry ons breedvoerige beskrywings in die Dagboek, alles uit liberale oogpunt gesien en sterk anti-Pretorius m.a.w. teen die ortodoks-nasionalistiese rigting van die Boere; so sterk selfs dat hy herhaaldelik verklaar weer | |
[pagina 249]
| |
inlywing by Engeland verre te verkies bo vereniging met Transvaal wat toe dan ook in 'n taamlik chaotiese toestand was. Die loftuitende adres wat President Boshof aangebied is na sy terugkeer van RenosterrivierGa naar voetnoot1) en die skerp antwoord van die Vrystaters op die proklamasie van M.W. PretoriusGa naar voetnoot2) is beide opgestel deur Hamelberg, maar 'n paar dae later as die vrede herstel is tussen broers van deeskant en Overvaal en Boshof handhaaf die krygswet waarvan hy self voorsitter was ex officio om die skuldiges aan landverraad self te oordeel, verskyn die hewige protes van advokaat Hamelberg in The Friend-De VriendGa naar voetnoot3). Hierdie protes wat wrok gewek het onder die Afrikaners kan geïnterpreteer word as brandende ywer om die advokateberoep hoog te hou, maar daar hang ook 'n luggie aan van geldsug wat nie kon gedoog dat die ryk buit van landverraaiers - die gevoel van die oorgrote meerderheid van Boere het in die rigting van vereniging begin loop en verskeie Vrystaters het hulle in die laer van Pretorius bevind - hom deur die vingers loop. President Boshof motiveer sy versoek dan ook om van hom ontslae te raak as goewermentsekretaris, deur te sê dat hy te veel in koerante geskrywe het, waarop Hamelberg hom met 'n paar sarkastiese opmerkings oor die gedweeheid en bewondering vir die president wat blykbaar van sy sekretaris verwag word, uit die Volksraad verwyder het. In die pers moes M.W. Pretorius en J.J. Venter, die leier van die ultra-republikeine in die Vrystaat, waarnemende president as Boshof in 1859 finaal bedank, dit gedurig ontgeld. Venter was 'n tipiese Voortrekker met 'n buitengewone Bybelkennis, 'n oorspronklike, hoewel weinig ontwikkelde gees, wat uiting gevind het o.a. in talryke karakteristieke godsdienstige brieweGa naar voetnoot4), 'n pamflet Wat is Waarheid?Ga naar voetnoot5) oor die kerkgeskil met ds. J. Lion | |
[pagina 250]
| |
Cachet van die Afgeskeie Kerk, en nie al te fyne hoewel kernagtige vergelykinge en uitdrukkinge waarvan Hamelberg sommige in sy Dagboek opgeteken het soos: ‘Er zijn twee soorten van beschaving; God heeft een schaaf en de duivel heeft een schaaf, en elk van hen schaaft met de zijne. Zoo is er dus een Goddelijke beschaving en een duivelsche beschaving’; of ‘ik zal hem een oorkonkel geven dat zijn hartslag hem voor de voeten valt’. Venter was ook nie al te goedgesind teenoor die verenigingspolitiek nie, maar op 'n merkwaardige avontuurlike manier het 'n vurige voorstander daarvan, J.P. van der Walt uit Middelburg, Kaapkolonie, hom en twee ander volksraadslede, A.S. du Toit en J. Vorster, daartoe probeer beweeg in 1859. Hy het 'n Bybel van ds. Murray geleen, met die drie volksraadslede op 'n goeie dag na Blomberg of Tafelberg (nou ‘Naval Hill’) gestap, en hul daar vertel dat hy 'n visioen gekry het dat Venter nog as hoëpriester en koning van die Vrystaat sou gesalf word. In 'n vers van C.G. in De Vriend, 1859, vol growwe plathede, getiteld ‘Lied van de zalving’Ga naar voetnoot1) kry ons een van die eerste spotverse op hierdie voorval, wat 'n dekade lank die lagspiere geprikkel het. Tekenend van die trant van die Hollands-Afrikaanse verse in The Friend is die slot van hierdie beledigende lied aan die adres van 'n aantal volksmanne: ‘Ou A. du Toit, Vermaak en Vorster, die verkoos,
hy dan tot ouderling te maken,
En u neef Papenfus benoem ik als diaken.
Zij zeiden: Andries, gij dwaalt, waar is het licht?
Hij zeide: In den Bijbel met het grootst gewigt.
Ik denk den besten zalf voor Koos Venter is
Een hoop van natte beesten mist’Ga naar voetnoot2).
Die Afrikaner se behoudende nasionalisme en konserwatiewe godsdienssin skyn 'n onuitputlike bron van vermaak te wees vir sy vyande, en om van kwaad tot erger te gaan, word die felste | |
[pagina 251]
| |
belediginge kort daarop by voorkeur in die volkstaal gegiet. Opmerklik is die pogings om met 'n doeltreffender en vaardiger taalmedium as die geykte Nederlands, die volksiel van die Afrikaner te raak, sy volkstaal te gebruik juis om sy republikeinse staatsinstellings, veral die nuwe president, Marthinus Wessel Pretorius wat tog in 1860 verkies is as president van beide republieke, en ex-fungerende president J.J. Venter, die hele republikeinse party, te verkleineer en te beveg op die mees listige wyse. Voor die einde van die jaar 1860 het die Kaapse blaaie Het Volksblad en De Zuid-Afrikaan die Zamenspraak tusschen Klaas Waarzegger en Jan Twijfelaar van Meurant begin oorneem uit The Cradock News maar die Vrystaatse blad het 'n stap verder gegaan in dieselfde jaar van die verskyning van die beroemd geworde samespraak, 1860-1861. Die Cradockse Meurant-impuls van Klaas Waarzegger en Jan Twyfelaar het 'n drietal Klase in The Friend tevoorskyn geroep, wat in hulle briewe en samesprake die platste Afrikaans gebesig het, wat geen ander uitwerking kon hê dan die toenemende verengelsing in die hand werk. Merendeels stukke wat verband hou met politieke gebeure, oppervlakkig beskou grappig-geestig van toon, maar in werklikheid venynige aanvalle. Die briewe van Klaas Waarzegger aan Jan Twyfelaar deur Meurant het as model gedien en is skandelik uitgebuit deur The Friend. Die bedoeling van die oorspronklike was ook om die boerebevolking in die strik van die Engelse te lei, in 'n vorm wat besonder geskik was as medium vir politieke aangeleenthede, maar in die kopie was die vorm veel platter, die toon een en al imperialistiese en negrofilistiese beswaddering. Louis Henri Meurant was nou verbonde met die uitgewers van die Vrystaatse pers, en toe hy aan die einde van die jaar 1860 sy Zamenspraak begin skrywe, het hy slegs teruggekeer tot 'n taal en vorm wat hy tien tot sestien jaar in die grensblaaie en gevolglik in Transoranje reeds gepopulariseer hetGa naar voetnoot1). As Meurant uit Grahamstown na Cradock verhuis in 1851 word sy blad vir 'n jaar gestaak, maar die volgende jaar het Het Kaapsche Grensblad herrys met John George Franklin van The Cape Frontier Times self in die redaksiestoel tot 1861, toe ook | |
[pagina 252]
| |
hy Grahamstad verruil vir 'n ander dorp, Bloemfontein. Ook Het Kaapsche Grensblad het die Zamenspraak van Meurant uit The Cradock News oorgeneem in die laaste jaar van sy bestaan, die eerste Afrikaanse stukke wat daarin weer opgeneem is na Meurant se vertrek. Van 1844 af het Meurant al talryke briewe en samesprake in die Afrikaanse taalvorm en op grappig-propagandistiese toon, soos o.a. dié van ‘Grietje Beuzemstok’ in 1850 en ‘Elsie Beuzemstok’ in 1845 geskrywe, toe die blad nog sy eiendom wasGa naar voetnoot1), lank voor sy beroemde Zamenspraak oor die brandende vraagstuk van die tyd: of die Oostelike Provinsie van die Kaapkolonie van die Westelike sou afskei en 'n cie wetgewende liggaam moes besit. Ook met Robert Godlonton van die Grahamstown-pers, was hy 'n hele paar jaar van 1834-1839 geassosieer voor dié na Bloemfontein gekom het om in die Soewereiniteit 'n pers op te rig. Die uitgewers van The Friend - De Vriend het dus ook van hierdie stukke kennis gedra toe hulle hul pers in Transoranje opgerig het. Soos Meurant propaganda maak vir afskeiding van sy provinsie van die aangrensende streek, maar nog steeds onder die Britse kroon, in 'n taalvorm en 'n letterkundige vorm waarmee hy die Hollandssprekende publiek makliker kon bereik dan met sy inleidingsartikels, so word daar ook in Transoranje propaganda gemaak om die skeiding tussen die noordelike Republieke te bewaar en nouer aanhegting by Engeland te propageer deur geesverwante, indien hy self nie die skrywer was van sommige van die briewe nie. In 1861 begin die briewereeks in The Friend-De Vriend van die Vrystaatse ‘Klaas Waarsegger, Klaass zoon, aan Klaass Waarsegger de Oude’, waarin boertig-plat alles neergehaal word. Die Volksraad is ‘een verspotte spul’, hulle sekretaris, ‘een baviaan nog nat agter zijn ooren’, president M.W. Pretorius, die voorstander van die Transvaal-Vrystaatse konneksie wat die voorstanders van die Brits-Suid-Afrikaanse state dwars gesit het, ‘is een groote lompe kerel en ziet regt dom uit, maar een van zijn aanhangers zeg hij denk dus te meer net als een kalkoen Allah’. Aan die end van die brief kom die aap uit die mou, die ware rede | |
[pagina 253]
| |
vir die neerhalery van die Afrikaner: ‘Victoria zijn vlag zal weer eendag hier waay, en ik denk het zal maar best wezen vaayer want de vrotte speul van de Vrystaat Gouvernement kan toch nie lank staan nie’Ga naar voetnoot1). In 'n volgende brief is Paul Kruger ‘de man die in de berg in de nacht na openbaringe zoek, net zoo als Oom Cobus’, die Vrystaat ‘een dopper kind zijn kleeren hoe verspot kan vaayer wel begrijpen’ en die populêre Klaas Waarseggers natuurlik manne na die hart van die lesers wat hulle oë wyd oopmaak en ‘schut hulle kop als hulle de vernukkorie wat vaayer uitbring hoor lees, en hulle zeg het is so waar als de schrift’. Klaassie voeg hom nou ook in dieselfde aflewering van die koerant aan die kant van Klaas Waarsegger, Klaass zoon en rig briewe aan sy neef Klaas Waarsegger de Jonge. Ook hy misgun Pretorius sy woonhuis ‘amper zoo groot als koning Nebukatnezar zijn’, hoon die Volksraad ‘als een party kalkoene wat wil bakkly, maar hulle was voor die President bang, want hy het gezeg de eerste wat zijn bek oopmaak, die zalde moort steek, Allah’ en tree op as die kampvegter van ‘ons arme Engelsmanne’Ga naar voetnoot2). 'n Week later antwoord Klaas Waarsegger, Klaass zoon sy nefie Klaassie wat hulle die geleentheid gee om nogmaals die draak te steek met die ‘salving’ van Oom Cobus, waarvoor ‘de groote Kerk Bybel die predikant Murray hem het geleen’ meegeneem is. Die bytende geestigheid van hierdie briewe, die handige gebruikmaking van die pittige spreekvorm, die deursigtigheid van die verbloemde kritiek van die felste soort, die onmiddellikheid van die toon maak hierdie reeks in The Friend van 1861 tot een van die beste voorbeelde van hierdie genre. Hoe suksesvol die briefskryfkuns en die samespraak in diens van die politiek gestel is, bewys die feit, dat die Volksraad die blad vir laster wou dagvaar oor hierdie briewe van die geesverwante van die oorspronklike Klaas WaarseggerGa naar voetnoot3). Dan is die redakteur minder seker van sy saak, gedagtig aan die dagvaardings van sy koerant vir laster tydens die ampstermyn van Majoor Warden en president Boshof, en praat in die knyp maar tog uit die hoogte oor vryheid | |
[pagina 254]
| |
van die pers en beskerming van skrywers deur die publiek, toe die staatsekretaris die name van die skrywers van die Klaasbriewe opeis met die doel om vervolging in te stel. Klaas Waarsegger, Klaass Zoon, alias Klaassie, want heel waarskynlik het die briewe uit een en dieselfde pen gevloei geoordeel na die styl, moet nou 'n toontjie laer sing onder die gedugte houe van Jan de Boer en Een Burgervriend wat hom vir 'n Engelsman en 'n vyand van die Boer uitmaak, miskien gefingeerde name vir een en dieselfde Klaas om die lesers op dié manier sand in die oë te strooi en Klaas die geleentheid te bied om water in sy wyn te doenGa naar voetnoot1). Met 'n splinternuwe program kom hy nou voor die dag. Net soos sy meester op skool uit Knikkebokker's Geschiedenis van Nieuwe York voorgelees het as hy in 'n vrolike bui was, so sal hy in luimige trant gaan vertel van die Pieter Stuyvesants en Rip von Winkels uit die Oranje-Vrystaat wat groot ooreenkoms met die eerste Amerikaanse immigrante vertoon, ‘die ik hoop uwe lezers niet alleen hartelyk zal laat lach, maar hulle oogen ter gelyke tyd zal oop maak voor hulle beste wil’Ga naar voetnoot2). Nie alleen propagandisties nie, maar ook opvoedend-didakties word Klaas en Klaassie nou. Van begin tot end is hierdie in Afrikaans geskrewe briewe en samesprake in The Friend niks anders as propaganda, hoofsaaklik teen president Pretorius, in 'n aanneemlike vorm vir die ongeletterde boer wat smaak het in 'n grap, veral as dit in sy eie pittige volkstaal vertel is, sonder om al te diep na te dink oor die landsvraagstukke wat die onderwerp van die listige spot is. Dit is 'n bekende metode van skrywers van skimpskrifte en hekelverse om die volkstaal in sy laagste uiting te gebruik vir eie politieke doeleindes. Die gebruik van Afrikaans deur 'n koerant wat die Afrikaner vyandig gesind was, moet dus allermins as 'n bewys vir 'n sterk gevoel vir die taal beskou word, en in plaas van die taal te help populariseer het dit slegs die teenstanders versterk in hulle mening, dat dit 'n kombuis- en hotnotstaal is. Die realisme en die frisheid van die sketse is egter onmiskenbaar en treffender as die in Nederlands geskrewe stukke soos die lang reeks ‘Zamenspraak bij eene Uitspanning’. | |
[pagina 255]
| |
Dit spreek vanself dat die Engelse ‘Friend’ op die duur die oorweënd Hollandssprekende bevolking nie kon bevredig nie en so ontstaan in 1862 De Tyd wat ons die keersy van landsvraagstukke gee. Die stigter en die voorsitter J.W. Spruyt en J.F. van Iddekinge onderskeidelik, die redakteur Heyligers en die man wat die siel daarvan was, Hamelberg, was almal Hollanders en al sou 'n enkele aandeelhouer daar miskien aan gedink het om die mondstuk van die volksparty in die volkstaal uit te geeGa naar voetnoot1), die saak waarvoor die blad in die lewe geroep is, die presidentsverkiesing, was veels te ernstig om met 'n taalmedium te gaan eksperimenteer wat soveel vyande het onder die invloedrykes. Die blad het die kandidatuur van J.H. Brand en J. Venter gesteun by die ophande synde verkiesing na die bedanking van Pretorius in 1863, die een die geleerde advokaat, die ander 'n ongeletterde boer, en daar is geen mooier voorbeeld van hoe die gehoor die styl bepaal nie dan hierdie eleksie-propaganda. Aanvanklik is hierdie orgaan van die nasionaalgesindes wat hul staatkunde uitsluitend laat bestuur het deur die belange van die Oranje-Vrystaat so goed as geheel deur Hamelberg geskryfGa naar voetnoot2). Rigting bly konsekwent Afrikaans, maar vorm en styl wissel af tussen Nederlands en Afrikaans al na gelang Hamelberg hom rig tot die ontwikkelde Afrikaners en Hollanders of sy landsbroeders, die Boere. Hoewel hy ook die volkstaal vir politieke doeleindes gebruik, die spelling net so ultra-foneties is, is die taalvorm tog iets meer versorg en die toon hoër dan dié van dieselfde politiekletterkundige genre in The Friend. Op waardige toon, vol idiomatiese uitdrukkinge uit die volksmond opgeteken motiveer hy sy kandidatuur en waarsku die lesers teen die kandidatuur van die teëparty: ‘Ons het al lang twee kandedaats voor die presedentspos, dat alleby gebore Aferkaaners is, Brand en Venter, en dat is nou heel te maal genoeg. Een die nou denk dat een boer voldoenelyk zal wees om ons land te bestuur en om vrede te bewerk | |
[pagina 256]
| |
die kan voor Koos Venter kies, maar een mens die denk dat ons een geleerde kerel noodig het om ons te regeer, die kan zyn stem voor de heer Brand uitbreng. En als ons een boer wil kies, het is nie noodig nie na die Kalonie te gaan om daar een Engelse boer te loop haal, want ons kan banje boeren in ons land kry. Maar die Engelse van Bloemfontein wil ons net omloop en voor ons een Engelse presedent aandraai, want als ons een Engelsman an de hoofd het, dan zal die Engelse die baas speul en dan kan hulle die Afrikaners lekker voor leg’Ga naar voetnoot1). H.A.L. Hamelberg is in 1858 tot lid van die Volksraad vir die wyk Onder-Valschrivier (Kroonstad) gekies, maar in 1860 het hy sy bedanking ingestuur, omdat hy met sy kiesers verskil het oor die verkiesing van M.W. Pretorius tot opvolger van J.N. Boshof en die hele verenigingspolitiek met Transvaal, waardeur drie jaar lank een president heen en weer ‘gekuier’ het tussen die twee onafhanklike state. In The Friend se voortdurende neerhalery van Pretorius in die sketse van Klaas Waarsegger, Klaass zoon het hy ongetwyfeld toe behae geskep, maar toe die geleentheid hom aanbied om 'n nuwe president te kies en die Engels geöriënteerde pers 'n Engelse boer Bowker uit die Kaapkolonie propageer, het hy, die voorstander van 'n selfstandige Republiek, nie onder Transvaal maar nog minder onder Britse vleuels, in die volle besef, dat uit eie geledere alleen die heil kan kom, sy advokate-vernuf tot die uiterste ingespan om sy kandidaat verkies te kry. Van die staanspoor uit neem De Tyd Afrikaanse stukke op en kry Hamelberg se propaganda onder die Boere in hul eie taal versterking o.a. van Uw Vriend van Overkant, wat dit met hom roerend eens is en dieselfde waardige toon bewaar: ‘ik zou my wat schaam om een wild vreemde man zoomaar voor ons als Presdent te stem, dan veel liever Coos Venter, en als die kerel wat meer had geleerd, dan was hy niet te dom voor ons - maar dan weer als ik denk aan ons geregtshof dan moet ons tog maar een | |
[pagina 257]
| |
knappe kerel hebbe of anders gaat het ook niet’Ga naar voetnoot1). In dieselfde gemaklike styl, lig ironies maar nêrens bitter sarkasties of plat nie, beveg hy 'n week later die kandidatuur van die Engelse seksie: ‘hulle mag goed wees om mee te smous, maar om over ons te regeer neen, dat nooit niet, zoo lang als de wereld staan, want toen hulle weggetrek is, toen is de sprinkhanen ook weggetrek en ons is allemaal te danig bly daaroor en nouw zal ons weer de Engelsman roep, neen warentig niet, dan kom de sprinkhanen ook weer met al de andere plagen in ons land’Ga naar voetnoot2). Geen wonder dat The Friend stik in woede, glad vergeet om takvol sy ware houding teenoor die volkstaal wat hy vir sy eie propagandadoeleindes soveel maal al gebruik het, te verswyg en in deftige Nederlands na die vorm, in toon homself getrou, uitblaker dat De Tyd se korrespondent hom verbeel ‘de lompe boeren styl knaphandig nageaapt te hebben.... Het is geen Afrikaansch Boer Hollandsch, maar de taal van de Platbergsche Hottentots, waarvan hy de geestelyke leidsman is’Ga naar voetnoot3). 'n Ander vriendelikheidjie in dieselfde brief aan die adres van Uw vriend van Overkant werp miskien lig op sy identiteit, ‘de oude spinnekop die in het groote College gebouw weggekropen heeft’ en laat ons vermoed, dat die vriend van Hamelberg een van die Hollandse hulponderwysers was (Kruze en later Willemse) wat beskuldiginge ingebring het oor onaangename behandeling deur die opvolger van ds. A. Murray, rektor Brown. Die eentalige hoof Brown het in sy driejarige ampstyd aan die kweekskool, 1860-1863, uitgevind dat dit nie so maklik gaan as hy gemeen het om die amptelike taal van sy land van broodwinning aan te leer en gevolglik die agteruitsetting en verdrukking daarvan kragtig in die hand gewerkGa naar voetnoot4), waarteen die hulponderwysers geprotesteer het. De Tyd word tydelik gestaak van 28 Okt. 1863 tot 4 Okt. 1865, 'n welverdiende rus, want Hamelberg en Heyligers het hul kandidaat J.H. Brand veilig deurgeloods met 'n oorgrote meerderheid | |
[pagina 258]
| |
by die volksreferendum in 1863. Heyligers vertrek na Holland en The Friend roep hom 'n vaarwel toe in 'n spotvers, waarin spytig gesinspeel word op die neerlaag wat hy en Hamelberg Klaas Waarsegger, Klaass zoon besorg het. The Friend se poging deur die jaar om nogmaals die Oranje-Vrystaat geannekseer te kry deur Engeland, onder die voorwendsel, dat die Basoeto-oorloë dan op 'n end sal wees, het jammerlik misluk danksy die Hollander se veglus en vandaar die persoonlike steek in die rug: ‘Landgenooten ik wensch u vaarwel.
Naar Holland vertrek ik met een enkel mannel.
Stukkende broek met hemd hangende uit -
Een eenige doek de neus in te snuitGa naar voetnoot1).
Van 4 Oktober 1865 verskyn De Tyd weer en dan kan die tweegeveg wat so fel gewoed het oor die presidentsverkiesing en waarvan die eerste ronde aan die nasionaalgesinde blad toegeken is, voortgesit word, dié keer nog feller, wat vir die opposisieblad die naam van ‘The Fiend’ - ‘De Vyand’ uitgelok het. Alleen die gemeenskaplike swart gevaar onderbreek die rusie op gesette tye. Dan gee 'n pasbeëindigde Basoeto-oorlog aanleiding tot allerlei verse, net berymde nuusberigte, sommige waarvan in albei die weekblaaie van Bloemfontein gepubliseer word soos die lang gedig van dertien sesreëlige strofes van H.C. van der Berg en P.P. Hugo, waarin die oorsaake van die stryd van 1865-1866, die heldedood van Wepener, die onderhoud van die president met Moshesh getrou weergegee word in 'n taal wat baie meer op Afrikaans dan op die offisiële taal lyk. Die aanvang lui: ‘O droevig lot en nare klag:
De Kaffer steel bij dag en nag.
De boer word nu al te kwaat
Omdat het hun zoo kwalijk gaat.
Hun vee wort daaglijks weggehaal
Het gaat maar na Pasoelies kraal’Ga naar voetnoot2).
| |
[pagina 259]
| |
Hierby sluit aan die poging tot heldeverering, net berymde prosa wat 'n kritikus nogal as ‘een kostbaar letterkundig produkt’ bestempel, oor die terugkeer van die landdros na Fauresmith ‘Aan onzen geëerden en onpartijdigen Landdrost Siebert’Ga naar voetnoot1) en die Kommandoliid van H. Bruwer van Bethlehem, een van die beste verse uit die tyd uit die Vrystaat afkomstig, wat opgeneem is deur S.J. du Toit in sy bloemlesing Afrikaanse Gedigte: ‘Kom, frye burgers fan ons land!
Te same in Basutoland....
Laat waai die Frye Staat syn doek
Tot in di ferste Kaffers-hoek!’Ga naar voetnoot2).
| |
5. Uitslag van The Friend versus De Tyd.By die Konvensie van Bloemfontein is dit aan die Vrystaat oorgelaat om die Basoeto-probleem self op te los, voorwaar geen gemaklike taak vir 'n staat sonder finansiële inkomste en 'n listige sterk teenstander, want Moshesh was geen katjie om sonder handskoene aan te pak nie, maar ook geen onoorkoomlike moeilikheid vir die republikein, as die oplossing maar kon geskied volgens Hollands-Afrikaanse insigte sonder die voortdurende bemoeiinge van Engeland. Dit is hierdie moeilikhede wat die eerste pogings onder Boshof en Pretorius om die Kafferopperhoof klein te kry, aanvanklik telkens laat misluk het, en nie alleen die Engelse opposisie nie maar ook etlike kleingelowige republikeine se gedagtes laat gaan het in die rigting van federasie met die Britse kolonies in Suid-Afrika. Weer in 1868, in 'n ‘Zamenspraak tusschen Groot Brittanje en Jonge Vrystaat’ in The Friend, word die Republiek voorgestel as die verlore seun wat smag om terug te keer na Vader BrittanjeGa naar voetnoot3). Klaas Waar- | |
[pagina 260]
| |
segger, Klaass zoon se voorspelling in 1861: ‘Victoria zijn vlag zal weer eendag hier waay’Ga naar voetnoot1) is op pad om in vervulling te gaan. Maar in 1865 onder die nuwe president Jan Brand is die probleem met krag aangepak en spoedig opgelos. By die ooreenkoms wat die volgende jaar met Moshesh gesluit is, het die ‘Frye Staat syn doek tot in di ferste Kaffers-hoek’ gewaai. Maar toe sou die bemoeiinge van buite in die Vrystaatse binnelandse politiek eers met erns begin. Moshesh weier of is magteloos om sy stamgenote uit die streke wat aan die Vrystaat afgestaan is, te verwyder, en onder voorwendsel dat die Basoeto's wat landeloos geword het 'n gevaar is vir die Kaapkolonie se grens, begin sir Philip Wodehouse, die opvolger van sir George Grey, met die opperhoof heul. Die ware rede was dat hy die konvensies afgekeur het, en daarop uit was om Britse gesag in die republieke benoorde die Oranjerivier te herstelGa naar voetnoot2). En toe die oorlog tussen die Vrystaat en Moshesh in 1866 opnuut uitbreek om laasgenoemde te dwing om hom aan die ooreenkoms te hou, tree die Kaapse goewerneur openlik tussenbeie aan die kant van Moshesh, tot verontwaardiging van die digters in De Tyd wat net mondstukke was van die Hollands-Afrikaanse groep. 'n Korrespondent wys daarop dat dit die oorlog is wat in Griekeland die digkuns laat ontvlam het, ‘en zelfs in dit land onzer inwoning heeft het aan dichterlijke ingevingen niet ontbroken’Ga naar voetnoot3). So gou die gemeenskaplike swart gevaar enigsins afneem, is dit maar weer die tradisionele vyand wat moet afgeslaan word, soos blyk uit die vers getiteld ‘Sir Philip en de Vrystaat’, waarin geprotesteer word teen die houding van Engeland: ‘Op Bosigo's kruin gezeten
Is Sir Philip's dierbre zoon
De zwarte dief, Moshesh, geheeten’Ga naar voetnoot4).
Die begeerte word uitgespreek dat Hamelberg in ‘Engel’-land die duiwelstreke van die ‘dierb're zoon’ moet gaan blootlê, en | |
[pagina 261]
| |
gaan protesteer teen die skending van die Bloemfontein-Konvensie, waarby bepaal is dat Engeland geen ooreenkoms met die kafferstamme in Transoranje sou sluit, 'n skending deur die eie seun sir Philip Wodehouse wat Basoetoland in daardie jaar, 1868, geannekseer het. Die verse en samesprake oor hierdie gewetenlose daad en oor die opposisieblad is vol gal en bitterheid, die volmaakte uiting van 'n volk wat nou begin voel waarheen sy oriëntering op die Britse Kaapkolonie hom voer, en nou begin insien dat sy heil in weg-oriëntering van Engeland lê, as hy nie alleen die streek wat hy met moeite en opoffering van die Basoeto's verkry het, maar ook sy vrygevogte onafhanklikheid wou bewaar. Daantje Donderbosch proklameer dat hy en veertig man sou kom om The Friend se Engels-imperialistiese pers in hulle Vrye Staat plat te slaanGa naar voetnoot1). In 'n samespraak tussen Neef Piet en Oom Gert, bars die twee Boere uit:Ga naar voetnoot2) Neef Piet: Wel sabels, maar dat gaan toch hoe langer hoe dolder, je kan maar zeg hij beschuldig ons President reguit van moord en maak hem zoo sleg as ik nog nooit aan een Kaffer gezeg het. Oom Gert: Ja, neef, daarom word ik zoo kwaai; maar gebruik nog maar een beetje tijd en geduld, ons zal weet wat ons met zulke knaape moet maak; as ons Goverment nie gaauw genoeg nie met al zulke kerrels werk, zal ons publiek dat zelf doen. Maar Jack Donderbosch het die groot kanonne aan sy kant gehad in 'n eeu toe mag reg was. En veilig van agter hulle, kon hy skree in The Friend: ‘Jij is gek,
Hou jou bek,
Arme zot
Gij zijt verspot:
Bang praten is geen dood maken’Ga naar voetnoot3).
Net soos in De Tyd vind hierdie staatkundige verrigtinge ook weerklank in die tweetalige blad The Friend, maar dit is 'n klank | |
[pagina 262]
| |
van gans andere timbre. ‘De Vrystaat het de Brandziekte, alles: de Land, de Gouvernement, de Publieke Kas, de Politiek, onze Schapen, onze Beesten; de Paarden ook krij een soort van vuurziekte; ja, magtig, allerlei plagen heeft wij nu’Ga naar voetnoot1). Kundige mense is ‘bezig om middels te vinden’ en 'n beproefde middel is weer spot en hoon, in die vorm van die samespraak. In 'n reeks van drie-en-dertig samesprake van Junie 1868 tot 1871, sommige in Afrikaans, andere in Nederlands, en 'n paar in albei media, in 'n rubriek ‘Zamenspraak bij eene Uitspanning’ word die Engelse standpunt gepropageer. Die Volksraad se afgevaardigdes na die Engelse Sekretaris van Buitelandse Sake en Koningin Victoria, om protes in te dien, die Hollandse koerant en redakteur, die president, word gedurig in 'n bespotlike lig gestel en die onafhanklikheid van die land wat hierdie imperialiste bewoon, skyn die grootste bron van vermaak te wees. Die Hollanders word in die samesprake ‘platvoet annas’, ‘platannas’, ‘platvoete’ ens. genoem, die Afrikaanse worsteling om die onafhanklikheid te bewaar deur teen alle skending daarvan te protesteer heet ‘alles pure verneukery van die Platannas’ ‘Wij hebben Hamelberg en Brand
En nix nie komt nu regt’Ga naar voetnoot2).
Werklik vermaaklik, afgesien van die politieke houding wat dit vertolk, is die allegorie waarin met literêre realisme en beelde direk aan die boere-omgewing ontleen, die vernaamste groepe en figure in die drama geteken word in die gesprekke van die boere by die uitspanning, in 1868:Ga naar voetnoot3) Andries: Maar hoe is ou tante haar wagen dan zoodanig gebreek? Dit lijk mos amper of daar niet meer kans is om het regt te maak. Tanta Victoria: Wel, dat is de schuld van die twee dolle | |
[pagina 263]
| |
voorossen Hamelbrand en Bergbrand, hulle spook mos om de heele dag met de zwarte ossen van mijn buurman te baklei. en dan wil hulle ook niet in de regte pad blijf nie, maar loop gedurig daaruit. Jacob: Waarom laat Tanta Victoria dan niet Philip de voortou vat nie? Tanta Victoria: Ik het voor Philip gestuur om de voortou te vat en hulle in die regte pad te lei, maar hulle is zoo parmantig en wil voor Philip stoot en Philip wordt bang om hulle nekke scheef te trek, zoo het hij die touw laat blijf, maar toe neem hulle de hol en loop met de wagen over gaten en slote, en nouw is alles stukkend, de wagen omgeslaan in een grote sloot, en hulle het dit een end, tot hiernatoe, gesleept. Andries: En daar is nie ander schade en ongeluk nie? Tanta Victoria: Ja, daar is regte banja van mijn kinders dood en bezeerd, sommige de beenen en armen af, anderen de kakebene aan stukken en...... Jacob: En hoe is het met de goed en de geld wat in de wagen was? Tanta Victoria: Al de goud, zilver, en koopergeld en goede koloniale banknoten, ja alles, weg en verloren, en niks anders overgeblij als een beetje bluebacks en goedvoors. Andries: En is dat nog al veel wat overgeblij het in de wagen? Tanta Victoria: Ach, amper niks meer nie, en dan is het zoodanig slegt en vuil bemorst dat het amper nix meer waard is as scheurpapier. Jacob: Hoe wil Tanta nouw maak? Het die agterosse dan nie geprobeer om te rem? Tanta moet een paar goede achterossen zoek als Tanta die voorossen weer laat trek. Tanta Victoria: Ik weet nie wat de achterossen mankeer, hulle kijk gedurig maar na de voorossen, en van de middelossen is amper twee bezeer. Needeberg en Reedberg wou nog pad hou, maar dit was nie mogelijk nie. Als ik weer altemit diezelfde span inspan, dan zal ik Philip order geef om de voorosse te koppel en te kniehalteren, en dan moet Philip hulle maar terdege onder de voorslag zet. Maar nou moet ik plan maak om de wagen eerst reg te krij. Goeden dag.’ Koningin Victoria stuur die deputasie, ‘twee stout kinders | |
[pagina 264]
| |
met die kous op die kop’Ga naar voetnoot1) huil-huil huis toe. Hulle gaan nog eers hulle nood klae in die land van die ‘plat annas’ maar: ‘O Wee,
Van de Zuider Zee
Kom geen assistensie
De clique zijn in een dikkedensie’Ga naar voetnoot2).
Van Pontius na Pilatus is die afgevaardigdes gestuur, van die Engelse Minister van Buitelandse Sake na die Minister van Kolonies, wat hulle op sy beurt weer verwys het na die goewerneur van die Kaapkolonie - 'n duidelike bewys dat Engeland die Oranje-Vrystaat nog altyd as een van sy kolonies beskou. En tot vreugde van The Friend wat in dié tyd in die boeremond die bynaam gekry het van ‘The Friend of the Enemies of the Free State’ en ‘The Fiend’ in die mond van die stamgenote, die Hollanders, met nog groter sin vir geestige woordspelinge, is al antwoord wat die deputasie op hul protes teen die anneksasie van Basoetoland kry: ‘Hip, hip Hoezee!
Weg met dat brandziek Vee!’Ga naar voetnoot3)
Voordat daar tyd was om weer aan die slaap gesus te word deur die wysiginge tot op sekere hoogte in die houding van Wodehouse en sy konfraters, kom die tweede ongelooflik brutale daad, die anneksasie van Griekwaland-Wes, in 1871, die Vrystaatse diamantvelde wat vier jaar vantevore ontdek is. Die nasionale golf van verontwaardiging hieroor was nog groter dan oor die anneksasie van Basoetoland, en The Friend en De Tyd gryp na die beproefde vorm, die samespraak, elkeen om sy eie kant van die saak te verdedig. Die titels alleen van samesprake soos ‘Zamenspraak tusschen Oom Vaalpens en Neef Blikoor’ in The FriendGa naar voetnoot4) en ‘Zamenspraak tussen Divad Tonra ('n omsetting van | |
[pagina 265]
| |
David Arnot, die agent van Waterboer, die Griekwa-Kaptein vir wie hy oorgehaal het om Britse beskerming in te roep in die dispuut met die Vrystaat) en Nicolaas Waterboer’ in De TydGa naar voetnoot1), weerspieël die verskerpte wrywing tussen Boer en Brit in die Vrystaat. Uit laasgenoemde hekelende dialoog blyk duidelik, dat die planne van Engeland glashelder was vir die Republiek; effens flikker 'n vlammetjie van hoop op dat die troue stamgenoot met sy meerdere kennis en gladder tong miskien ook nou raad sal weet, om slegs des te meedoënloser uitgeblus te word by die gedagte aan die bittere ervaring met die Britse politiek: Divad Tonra: Goede morgen, Niklaas, hoe gaat dit met jou, ou Zwaer? Nicholas Waterboer: Zoo op twee beene, ou broer, maar ik kan bijna nie meer 's nachts slaap nie oor die Kembel se gronden. Divad Tonra: Ne wat jong, maak jou hart gerus, ik zal die zaak ver ons heeltemal goed regkrijg, ik zal die Governeur maklik een gat in die kop praat. Nicholas Waterboer: Nee maar, Tonra, jij het net zoo gepraat oor die Vetberg zijn lijn, en toe jij voor die Vrijstaats Commissie kom, toe het jij nix voor jou zelve te zeg nie; die Hollander Vels het jou zoomaar mors gedaan gepraat. Divad Tonra: Nee Klaas, wag maar een beetje, ons het nou de Governeur op onze kant, want die Engelse Gouvernement wil zelf graag die Kembelze gronden van ons koop; daarom zal hulle ons regt gee; al honderd en tien dat de Vrystaat ze Gouvernement dit gekoop het, moet nie zoo haastig wees nie, ou baas, jij moet met politiek in die zaak werk.’ Tonra se politiek het gewerk, die Vrystater se proteste en dreigemente, in vers en samespraak het niks gebaat nie. Kimberley was Britse gebied, en is deur 'n aparte Britse Administrasie beheer, tot 1880, toe dit by die Kaapkolonie gevoeg is. Die Hollands-Afrikaanse groep het nogmaals die onderspit gedelf en in 1872 verneem The Friend dan ook spottend na die welstand van De Tyd, die orgaan van die Republiek wat op sy laaste dae was: | |
[pagina 266]
| |
‘Mijnheer de Editeur!
Ik bespeur
Dat “De Tyd”
Eens zoo wijd
Verspreid
Tot mijn spijt
Bijna op zijn rug leit!’Ga naar voetnoot1)
Die blad wat in die lewe geroep is om Jan Brand tot president verkies te kry, kon die skok van vertroue wat die burgers in hom gekry het deur sy gematigde houding (wat hulle as 'n neiging in die Britse rigting vertolk het), in hierdie groot nasionale verlies van die wêreld se rykste diamantvelde, nie oorleef nie. By die nasionalistiese liriek en politieke prosa klink die orige bydraes in die Vrystaatse koerante flou en betekenisloos. Soms keer die persoonlike aanvalle in De Tyd terug, soos in ‘De Moordaanslag te Smithfield of Schoenmaker blijf bij je leest’, 'n berymde verhaal van 'n hofsaak in tien sange met 'n leuse, 'n voorsang, en 'n slotkoorGa naar voetnoot2), of in ‘Een aangename wijze. Elk vogeltje zingt zooals het gebekt is’, wat volgens die insender bedoel was as 'n vrolike sangstukkie tot afwisseling van die ‘klagen, treuren en peinzen’, maar in werklikheid niks anders is as 'n bespotting van 'n Harrismithse ‘saakbederver’Ga naar voetnoot3). 'n Enkele keer word ook geleentheidsverse opgeneem in die ou konvensionele trant soos ‘Gedachten by het droevig verlies van onze braven predikant’Ga naar voetnoot4), of ‘Kruis Nuwejaarswensch’Ga naar voetnoot5), maar in kwaliteit sowel as in kwantiteit lê die prosa en vers in die rubriek ‘Stukken van verschillende aard’, die letterkundige rubriek van die tyd, wat buite die volkstuwing staan en in hul tyd die beskeie bewuste poging tot literêre arbeid was, soos doodsbeendere onder bloedwarm mense. Waar die hekelvers of samespraak as bliksemafleier in 'n persoonlike rusie moes dien, is dit net die irriterende geblaf van 'n brak waarvan geen notisie hoef geneem te word nie. | |
[pagina 267]
| |
Terwyl brandende politieke vraagstukke by voorkeur in die vorm van die samespraak ingeklee is, is die losse briefvorm in die maklik-verstaanbare, grappige taal by voorkeur gebruik om 'n beeld te gee van die maatskaplike milieu. Die een het meer historiese (want die politiek van gister is die geskiedenis van vandag) die ander meer sosiale betekenis as letterkundige genre. Tog word die samespraak ook 'n enkele keer met groot sukses gebesig om 'n voorval of gebeurtenis van suiwer maatskaplike belang uit te beeld. In ‘een scena der oude tijden’ deur J.M.H. word in 1866 in The Friend raak-realisties 'n opsit-toneeltjie op 'n Saterdagaand gesketsGa naar voetnoot1). Oom Gert brom dat Tjaart elke Saterdagaand konsuis na 'n verskalf kom soek net om by sy dogter Tryna te kom vlerk sleep. Tante Aantje verleen haar toestemming vir die opsittery, maar gee Tryna net 'n vier duim stukkie kers. Dié weet darem om 'n langer een te vind by die flou lig waarvan sy Tjaart ewe koket vra: ‘Hoe kom je altoos hier na jou vaars zoek?’ Tjaart: Zij is mos hier. Tryna: Je is gek. Tjaart: Tryna, kom laat ons onze schaapjes door malkaar jaag. Tryna: Je is mal. Hoeveel schapies het je? Hulle word gesteur in die optelsom van hul vee en die hele vryery deur Tante Aantje, wat kort-kort roep dat Tryna moet kom slaap. Tevergeefs spook Tjaart om 'n soen, haar handjie mag hy wel vashou: ‘In mijn handje mogt je houden, eh, eh, eh,
Maar komt je nader
Dan klaag ik bij vader. Eh, eh, eh.’
Hy dring aan op die jawoord, en dat sy haar so gou as moontlik moet laat aanneem, maar dan dreig die moeder, die ‘nacht merrie’ met die sambok uit die slaapkamer uit, waarop Tryna in een asem albei antwoord: ‘Ik kom mos, moeder. Ja Tjaart, net om moeder mij zoo vererg, anders zou ik nie ja zeg. Nacht Tjaart’. | |
[pagina 268]
| |
Dis 'n verademing om tussen die fel politieke samesprake op so 'n juweeltjie van humor en realisme uit die maatskaplike lewe af te kom. Maar nog beter as die samespraak is die brief geskik vir die geselstrant van die sosiale omgang. Die allerbeste briewe in die Hollandse joernalistiek van die Oranje-Vrystaat is gepen deur Tryna Snaaks in De TydGa naar voetnoot1). Die epistolêre kuns is by uitnemendheid die kuns van die vrou, en is nog 'n bewys van mensekennis en verbasende insig in maatskaplike sake. Op 'n frisse, aangename, opgewekte toon lag Tryna oor die uitheemse modes, die nuwerwetsheid wat die Vrystaatse dorpsbewoners na-aap, die vreemde van oor die see aangewaaide vermake en sosiale gewoontes. Die geestige steek en fyn spot ontbreek nie, maar die angel is tog nie al te skerp nie. In 1867 skryf sy aan haar moeder wat in Colesberg woon: ‘Moeyer moet mij toch een pond goud en halwe kroon, silling en zespens zulver stuur. Ik vraag dit nie uit gebrek van geld, want wij het blauwbekke genog, maar ik wil graag goud en zulver geld weer zien, het is nou drie jaar van dat ik zulke goed gezien het’Ga naar voetnoot2). Na ontvangs bedank sy: ‘Ik dank Moeyer voor de pond, banje mense, engelsche ook, het kom kijk, en Tjaart het daar door een gat geboor regt in Victori haar oog, en draag het nu aan zijn horlogie ketting en stap daarmee net als een pauwmannetje’Ga naar voetnoot3). As sy oor haar man se ydelheid met die horlosieketting lag, skater sy dit uit oor dié van haar buurvroue met hul lang slepe, ‘piering’-hoede en ‘teepot’-coiffures: ‘Die hoepelrok het de vrouwens heeltemal afgeschaft, zies de leelyke ding, maar nou, na hulle die drag zo lang gedraa het, lijken hulle na verkluimde hoenders op een regendag, hulle drag nou een slip van achter, en ik is blij, want hulle veeg de straaten schoon’. Die lang sleep bewys dus ten minste nog 'n diens aan die maatskappij, maar die hooftooisel, ‘piering’-hoede soos sy hul noem, dien net tot blote vermaak: ‘Moeyer het toch opgelet dat in Grahamstad dikwels de gekleurde meisjes, die ook hoedjes draag, rusie krijg. Nou moet | |
[pagina 269]
| |
Moeyer jou een denkbeeld maak, denk dat na hulle uitbaklij het, hulle weer afmaak, en vind dan dat hulle hoetjes stukkend geskeur is, en dat hulle dan een van de hoetjes die de minste gelei het, zusterlijk in twee stukken verdeel, voor iedereen een stuk, en daar het Moeyer nou die ding wat hulle op die kop draag’Ga naar voetnoot1). En die ‘piering’-hoede, niks anders as ‘een zoort van een strooi mat, heeltemal plat’Ga naar voetnoot2), moet nou 'n ‘teepot’-coifure bedek. As Tryna haar dogter na die dorp stuur om 'n nuwe teepot en piering te koop, om die gebreektes te verplaas op haar kombuisrakke, kom sy terug met haar hare in die nuwe ‘teepot’, en 'n ‘piering’ op die kop! Geen wonder dat Tryna by haar moeder klaag oor die modesug van die kleindogter Tryna, hoewel sy uit selfverdediging en behaagsug ook ten prooi daaraan begin te val, want die mans vind die mode aantreklik: ‘Ach, Moeyer, als ik denk aan die tijd toe ons kort lijfvies, en kappies, en leerschoenen het gedraag, toe was daar liefde onder de mense; maar van al de nuwe modes ingekom het, word een op de andere jalours over kleeren. Klaas het ook weer een piering gekoop en hy dwing Tryna moet het draag, en onze schoolmeester zeg het staat mooi; en het zal voor mij ook mooi lijken. Maar Moeyer moet nie praat daarvan; ik het ook voor mij een laat kom, om bij de kerk te drage’Ga naar voetnoot3). Sartor Resartus, die spotter het met die spot na bed gegaan, die ‘piering’-hoed op die ‘teepot’-coiffure, in die strakke atmosfeer van die Calvinistiese Hollandse Kerk! 'n Ander snaakse mode van die ‘Jufvrows’ wat haar dwars sit, is die ‘stuk harde glansachtige pampier onder de voordeur met hulle naam daarop geschreif’ ingeskuiwe. ‘Klaas zeg het beteken een “call”, maar wat “call” meen weet hy daarom niet met alle zijn slimmigheid. Ik het toe vir een Engelischman gevraag wat “call” meen en de Lunsriem zeg het is een beroep, de vent het natuurlijk met mij de gek gescheer. Wie zal mij beroep, ik het hem toe met een vuile vadoek gegoi, een andere gek wat ik gevraag het “call” zeg het beteken een “helm”, mijn hemel zou dan alle de vrouens die ik | |
[pagina 270]
| |
ken met de helm geboren wezen’Ga naar voetnoot1). As die dames nie ‘call’ nie, speel hulle ‘grokie’, 'n nuwerwetse uitheemse spel met 'n stok en 'n bal wat in die middaghitte van ons somer nageloop word. Tryna is 'n voortreflike voorloper van Neelsie en sy sonde met die bure en sy Stoffel Gieljam se ergernis oor die Filistyne is ook hare. Soos Vroutjie-Soetlief sy takhaar-baard afgeskeer en sy mond vol valstande gestop het, tot hy by die verkiesing saam met Makpaatrie en ou Broes Dekstrooi en Miesies Ja-mes werk in die salige waan dat hy hulle bekeer het, so het Tjaart-Klaas Tryna 'n ‘piering’-hoed en 'n ‘teepot’-coiffure op die kop gedruk om eers mee kerk toe te gaan en later te gaan ‘call’, tot sy deur die sirene-sang van die vreemde uitheemse modes en vermake aan die slaap geneurie was: ‘Klaas zeg, hij het gister na die grokie speul gaan kijk, en ik raas voor niet zoo banje over de grokie, en de theepot en de piering. Hij zeg het is toch te mooi om de lieve meisje mense te zien speul krokie’Ga naar voetnoot2). In die jare sewentig na die anneksasie van die diamantvelde aan albei kante van die Vaal 'n voldonge feit was, brei die Engelse taal en kultuur so geweldig uit dat Afrikaans (en trouens ook Nederlands) in die Engelse pers as middel nutteloos word en as doel in sigself natuurlik die aandag nie werd is nie. In die Hollandse pers was toe reeds die skryftradisie in die gesproke taalvorm geskep en gevolglik sou daarin weldra 'n stryd ontbrand tussen die geskrewe en gesproke vorm. Oor die algemeen kan ons sê dat albei koerante, The Friend en De Tyd, hulle in die jare voor 1875 aan die stelreël vashou dat die gehoor die styl bepaal, en Afrikaanse prosa en verse opneem uit die pen van die minder geletterdes of met opset in die vorm dig vir die minder ontwikkeldes, terwyl Nederlandse verse uitsluitend uit die pen van die ontwikkeldes vloei en vir hulle bedoel is. Nie alleen in vorm nie, maar ook veral in toon is die skeiding merkbaar - almal wat grappig, sarkasties en ironies wil wees, kies die Afrikaanse vorm; in die ernstiger poësie en prosa neem Nederlands die plek van die volkstaal in. Afrikaans is middel, nog geen doel op homself nie. Die intensiteit van nasionale gevoel | |
[pagina 271]
| |
word algaande dieper in die Afrikaanse dan in die Nederlandse verse, maar die Vrystaatse volkslied van H.A.L. Hamelberg in 1866Ga naar voetnoot1): ‘Heft, Burgers, 't Lied der Vrijheid aan
En zingt ons eigen volkbestaan!’
hoef nog vir geen enkel gedig uit dié tyd in diepte van nasionale gevoel agteruit te staan nie. Van oorspronklikheid wat die vorm betref, is daar geen sprake nie, want Hamelberg het kennelik by die Nederlandse ‘predikant-digters’ van die eerste helfte van die 19de eeu, in besonder by Tollens, die digter van die Nederlandse volkslied ‘Wien Neerlands Bloed’, in die leer gegaan, getuie die brallende chauvinistiese reël in beide volksliedere ‘van vreemde smetten vrij’. Tog is die twee kenmerke van die Afrikaner, vaderlandsliefde en godsdienssin, in 'n besielende taal en kragtige maat, wat goed pas by die gees van die volkslied, so goed daarin beliggaam dat dit die mees geliefde Vrystaatse lied geword het en nog steeds bly. Moedig en sterk spreek die nasionale bewussyn uit die hele vers, kragtig is die melodie van Nicolai wat by elke openbare geleentheid uit volle bors aangehef is deur oud en jonk, want die digter het gesorg dat die lied dadelik aangeleer is deur die leerlinge van die Bloemfonteinse Kweekskool, toe ds. Radloff in 1869 die rektoraat van O.C. Kays, die opvolger van Brown en eweneens 'n Engelssprekende wat sy taak nie as roeping opgevat het nie, oorneem, en die vername kultuurinstelling vir die eerste keer 'n Hollands-Afrikaanse nasionale kleur kryGa naar voetnoot2). |
|