Hollandse skrywers uit Suid-Afrika. Deel 2 (1875-1905)
(1949)–Elizabeth Conradie– Auteursrecht onbekend'n Kultuur-historische studie
[pagina 175]
| |
Hoofstuk VII.
| |
[pagina 176]
| |
1875 onderwyser aan sy oom, F.D. Changuion, se Instituut op Zwartland (Malmesbury). In 1877 behaal hy ook die Eerste-Klas Onderwysersdiploma nadat hy die B.A.-graad aan die ‘South African College’ soos die ‘Zuid-Afrikaansche Athenaeum’ toe reeds verdoop was, verwerf het. Gewapen met hierdie vir sy tyd uitstekende opleiding, hoewel tipies Kaaps-dualisties Hollands-Engels en dus geen van beide, begewe hy hom na Richmond as onderwyser. In 1878 gaan hy van Richmond na Fauresmith as hoofonderwyser maar die volgende jaar het hy die onderwysersamp vaarwel gesê en is hy tweede klerk in die ouditeur-generaalskantoor te Bloemfontein. Die jaar daarop, 1880, is hy getroud met Alice Atkinson met wie hy reeds op Richmond kennis gemaak het, die dogter van 'n Engelse nuusblad-redakteur uit Graaff-Reinet, 'n keuse van lewensgesellin wat alweer tipies is van die heersende dualisme en waardeur sy huistaal Engels geword het. In 1881 word hy landdrosklerk op Rouxville, bevind hom algou op Smithfield waar hy in sy advokaatseksamen slaag maar in 1882 is hy terug op Rouxville waar hy hom as advokaat vestig. In 1885 is hy prokureur in Kroonstad maar in dieselfde jaar nog, alweer mynkommissaris te Roodepoort, Transvaal. In 1889 is hy advokaat in Heidelberg (Transvaal) en dan, terwyl sy vrou en familie by haar skoonvader in Kaapstad gaan woon, om van 'n ernstige siekte te herstel, verdwyn Van Oordt twee jaar lank van die Hollands-Afrikaanse toneel en lewe en skryf in die oostelike Kaapkolonie onder die naam van John Hill. In 1891 duik hy weer op in Richmond en is toe na Britstown waarheen hy sy familie laat kom het en waar hy ses jaar lank eers in 'n prokureurskantoor, later 'n tydjie in 'n skooltjie in die distrik, werksaam was, die langste tyd wat hy ooit op een plek uitgehou het. In hierdie Britstown-periode het sy beste joernalistieke werk ontstaan en hier is verskeie dele van die eerste serie van die ‘Zuid-Afrikaansche Historie-Bibliotheek’ geskrywe op versoek van die Hollandsch-Afrikaansche-Uitgevers-Maatschappij (H.A.U.M.)Ga naar voetnoot1) met wie hy in 1896 'n kontrak aangegaan het om ver- | |
[pagina 177]
| |
tellinge en romans met 'n historiese agtergrond te lewer vir 'n reeks wat die naam sou kry van die ‘Zuid-Afrikaansche Historie-Bibliotheek’ en gevolg sou word deur die ‘Zuid-Afrikaansche Volksbibliotheek’. In dieselfde jaar, 1896, gaan die skrywer na Pretoria om stof te versamel vir sy Kruger-studie en ander werk wat in Transvaal speel. Ongelooflik is die skrywersenergie in hierdie jare van die swerwer wat deur sy rondtrekkery 'n skat van kennis van sy land en 'n rykdom van ervaring opgedoen het. Deur die drankduiwel gekwel en opgejaag, kon hy hom in die maatskappy nie laat geld soos sy skitterende gees sou laat verwag het nie. Deur sy skryfwerk sou hy homself rehabiliteer in die oë van sy medemense en moes hy in sy onderhoud voorsien. | |
2. Sy joernalistieke bydrae.In die skrywersberoep was sy vader hom steeds ten voorbeeld. Eers redakteur van Het Volksblad, vername bydraer tot die Engelse blad Standard and Mail, later tot 1894 in die redaksiestoel van De Zuid-Afrikaan, weer-oprigter van Het Zuid-Afrikaansche Tijdschrift, tot byna aan sy dood in 1904 verbind aan Ons Land, het dr. J.W.G. van Oordt slegs een tussenpoos in sy Kaapse joernalistieke loopbaan gehad nl. die tydjie toe hy opgetree het as Transvaalse historikus. Die seun, Johan Frederik, het sy joernalistieke loopbaan begin met bydraes te stuur aan Engelse blaaie, meestal onder die skuilnaam van James King Hill, maar toe die ‘Zuid-Afrikaansche Taalbond’ na 1890 'n hele herlewing op literêre gebied in die Nederlandse taalvorm teweegbring, het James King Hill van die Engelse blaaie D'Arbez van die Hollands-Afrikaanse geword. Na die dood van die Zuid-Afrikaansche Tijdschrift het 'n nuwe blad, Jong Zuid-Afrika ontstaan onder redaksie van M.J. Stucki en toe dié in 1896 gestaak is, het dit plek gemaak vir 'n uitgebreider en daarby geïllustreerde tydskrif, Ons Tijdschrift (1896-1901), waarvan D'Arbez een van die vernaamste medewerkers was. 'n Enkele verhaal soos ‘Mimi de Wet’ wat oorspronklik tot sowat op die helfte in die Zuid-Afrikaansche Tijdschrift geplaas is toe hierdie blad gestaak word, het in Ons Tijdschrift die vorm en titel gekry, ‘David Malan’ | |
[pagina 178]
| |
(1896), wat dit in boekvorm sou dra deur duisende eksemplare in drie drukke tot 1917 en tot 1932 vyf drukke in vertaling in AfrikaansGa naar voetnoot1). 'n Ander vry verdienstelike historiese verhaal in dieselfde tydskrif in die jaargang 1899-1900 is ‘De Neef van den Kommandant. Een verhaal uit het einde der vorige eeuw’. Hiernaas staan suiwer historiese vervolgstukke soos ‘Oranje en Zuid-Afrika’Ga naar voetnoot2), geskryf na aanleiding van die feesviering in die hoofstede veral Kaapstad, Bloemfontein, Pretoria, by geleentheid van die kroning van koningin Wilhelmina op 31 Augustus 1898, ‘De Veldslagen en Gevechten in Zuid-Afrika geleverd’ waarin die skrywer begin met die Portugese en Hottentotte en eindig met die slag van Boomplaas in 1848Ga naar voetnoot3) en ‘Onze Groote Mannen’Ga naar voetnoot4), waarin die lewensloop van Johannes Henricus Brand, E.J.P. Jorissen en F.W. Reitz agtereenvolgens geskets word. Byna elke tydskrif-bydrae met 'n historiese agtergrond is net die eerste raamwerk vir 'n historiese roman in die serie bekend as ‘De Zuid-Afrikaansche Historie-Bibliotheek’. Die tydskrifsketse en verhale wat wortel in die sosiale lewe van die tyd van ontstaan en 'n uiting is van die humorkultus en die kopiëerlus van die daelikse lewe, is egter die eerste wat in boekvorm herdruk is onder die titel Kaapsche Stories (1896). Nie die verre verlede nie maar die daelikse werklikheid is letterlik en figuurlik die uitgangspunt, die spil waarom alles draai by die nasionale romantiek. Slegs die stof is by die een aktueel, by 'n ander histories, of soms aktueel en soms histories by een en dieselfde skrywer. Kaapsche Stories bestaan uit vier kort-verhale waarvan die titels agtereenvolgens lui: ‘Hoe Neef Piet zijn Predikant rond reed’; ‘Het Testament van Oom Piet’; ‘De Drankduivel’; ‘De Schoolmeester’. Smaakloos en soutloos is die eerste verhaal, wat vir 'n grappige vertelling moet deurgaan, van die broers Piet en Jan in 'n noordelike distrik van die Kaapkolonie wat hul ouderling en predikant dwing om saam brandewyn-sopies te drink, anders | |
[pagina 179]
| |
dreig hulle om so wild te ry dat die perdekar by elke draai byna omslaan. Weinig minder plat is die bas-komiek van die volgende verhaal waarin die familie in die kantoor van die prokureur krokodiltrane stort oor die dood van Oom Piet, maar by die opening van die testament, ontnugter deur die klein sommetjie wat aan hulself en die groot som wat aan die kerk nagelaat is, hulself in hul ware gedaante laat sien. Dit is die soort vertellinge wat heeltemal in die teken van die tyd van die Grappige Stories van Melt Brink staan, net soos die laaste twee kort novelle, veral ‘De Drankduivel’, in die moralisasie en in die allegoriese titel herinner aan die werk van J. Lion Cachet, hoewel dit as pentekening van sosiale toestande in die verste verte nie by die Sewe Duiwels haal nie. Meer as twintig jaar later is ook ander verhale van D'Arbez uit Ons Tijdschrift van 1897-8: ‘Hoe ik een Dief ving’; ‘'n Malmesburyse Spookstorie’, in boekvorm getiteld Losse Klippe, Zes Zuid-Afrikaanse Verhalen (1918) herdruk, saam met nuwe verhale wat oorspronklik in Die Brandwag, die 20ste eeuse opvolger van Ons Tijdschrift, die eerste lig gesien het. Die verhale uit die daelikse lewe is alles jeugwerk, dié element in die voorspel van die skrywer se werk wat nie tot die vernaamste historiese werklikheid uitgegroei het nie. Want D'Arbez sou nie ontwikkel tot sede- of sosiale romanskrywer nie; hy was geen realis by wie die aksent op die verstand en die werklikheid val nie, maar tot historiese romanskrywer omdat hy in wese romantikus was by wie die gevoel en die verbeelding die oorhand gehad het. Veel beter as in die aktuele stof kon hy in die historiese materiaal die gevoels- en gedagtesfeer van sy eie tyd lê, veel beter die volkseie wat daar gewoel en gebruis het teen die end van die 19de eeu vertolk deur dit 'n kostuum om te hang uit verskillende nasionaalhistoriese tydperke dan dit van die werklikheid self af te skilder. | |
3. De Zuid-Afrikaansche historie-bibliotheek. Twaalf romans van die eerste serie bestaande uit dertien dele.Die sukses wat D'Arbez met die fragment van sy historiese verhaal ‘Mimi de Wet’ in die Zuid-Afrikaansche Tijdschrift gehad het, het vir goed die aandag van die redaksie van die nuwe | |
[pagina 180]
| |
blad op hom gevestig en vir hulle skryf hy die verhaal om, onder 'n nuwe titel ‘David Malan’. En toe hy in 1896 eenmaal 'n kontrak met die uitgewers gesluit het, het die historiese romans dan ook een na 'n ander gevolg in boekvorm. Kronologies kom David Malan (1896) die eerste aan die beurt hoewel dit in die eerste serie van die Historie-Bibliotheek, bestaande uit dertien dele, as nommer tien genummer is. Hierdie Voortrekkerverhaal waarvoor dikwels letterlik uit G.M. Theal geput is, bring die geskiedenis van die Voortrekkers onder Piet Retief wat hul laer getrek het op die grasvlakte tussen die teenswoordige Dewetsdorp en Tabanchu as die boek open op 2 April 1837. Hulle besoek Maroko in Thabanchu en die ander Voortrekkers in Winburg en so word die leser voorgestel aan al die ander bekende figure van die trek, Maritz, Potgieter, Uys, Cilliers, en eerw. Lindley met wie hul in aanraking gekom het by Thabanchu. Die geskiedenis van die Basoeto-kafferkapiteins Sikonjella en Moshesh word ook geskets sodat die leser hom des te beter in die suidelike streek van die teenswoordige Oranje-Vrystaat kan oriënteer. Maar dan trek Retief wat tot Kommandant-generaal gekies is, met sy volgelinge na Natal en slaan sy laer op aan die voet van die Drakensberge. Opnuut moet die laer hom oriënteer en nou word die geskiedenis van die Zoeloes geskets. Die verder onbeholpe behandelde dramatiese historiese gebeure is oorbekend: Retief en sy manne kom om op Umkungunhlovu deur die lis van Dingaan, Maritz word tot Komandant-Generaal gekies, Uys en Potgieter kom hul broers te hulp in Natal en 'n straf-ekspedisie word teen die Zoeloes georganiseer, maar Uys en sy dapper seun Dirkie lê die lewe neer in die mislukte aanslag op die Zoeloe-mag. Parallel met die historiese gebeure loop die romantiese liefdesverhaal van David Malan, 'n neef van Retief en Martjie Joubert wat hul in die laer van Retief bevind. Dit is die ou-ou geskiedenis wat elke generasie van romanskrywers of liewer vertellers in die volkstaal opnuut vertel, elke generasie met klein plaaslike variasies. As hy op brandwag staan, kom sy in die helder maanskyn na hom toe; as hy twee leeus agtermekaar skiet, gloei sy van trots; as hy van plan is om saam met Retief en sy sestig man na Dingaan te gaan, word sy in slapelose nagte deur tweestryd gekwel; as ou Anna hom vergiftig waardeur hy verhinder word | |
[pagina 181]
| |
om mee te gaan, word sy deur die nuwe vrees dat sy hom deur die gifdood sal verloor, gemartel. Daar is niks nuuts onder die son in 'n liefdesverhaal self nie daar die mens sinds die dae van Adam en Eva nie veel ten opsigte van hierdie emosie verander het nie, maar die romanvorm waarin dit hier gegiet is, is tog kenmerkend nuut van die laaste dekade van die 19de eeu in die ontwikkelingsgang van ons letterskat. D'Arbez het by die Europese historiese romanskrywers Scott, Van Lennep, Conscience in die leer gegaan en hulle drakerighede, kinderagtige sentimentaliteit, weë patos, toevallighede, is ook syne. Na die moord op Retief wat David deur die toevallige vergiftiging ontsnap het, kry die held en die heldin mekaar maar hul huweliksgeluk is van korte duur want David moet op die strafekspedisie met Uys mee en hoewel hy bomenselike heldedade verrig, word hy tog dodelik gewond en sterf met die woord ‘Martje’ op sy lippe. Sy word kranksinnig van verdriet en volg hom in die dood met die woorde ‘Ja David, ik kom!’ Seer seker goedkoop-bioskoperig van styl vir 'n nugter later tyd, maar die tyd van die ontstaan van die Historie-Bibliotheek met sy Jameson-inval en bedreiging van die grootse prestasie van die Voortrek was geen nugter tyd nie. En geen versinsel kan meer romanties wees nie dan die werklikheid van die behandelde historiese Voortrekkerstof. Hoe onbeholpe ook al van styl, D'Arbez het veel beter as enige tydgenoot daarin geslaag om met sy eerste historiese roman die verlede van die nasionale dinamiese krag, die geskiedenis van die ekspansievermoë van die Hollandse Afrikaner te laat leef vir 'n tyd waarin die selfbeskikkingsreg van die Voortrekker-republieke aan alle kante bedreig is en daarmee die verwesenliking van hierdie reg van alle Hollandse Afrikaners vertraag en uitgestel is. 'n Vervolg op David Malan is Tusschen Berg en Zee (1897)Ga naar voetnoot1), 'n verhaal van die stryd van die Boere in Natal van 1838 af tot 1841. Die dood van Retief, die Zoeloe-aanval op die laers by Blauwkrans en Weenen, die betreurenswaardige toestand van die Voortrekkers in Natal tot op die koms van Andries Pretorius word | |
[pagina 182]
| |
populêr vertel. In besonderhede word 'n beskrywing van die gelofte en die beslissende slag by Bloedrivier op 16 Desember 1838 gegee, 'n hoofstuk waaroor die skrywer self so tevrede is, dat hy dit aanprys as ‘wel een van de beste, die uit de pen van den schrijver zijn gevloeid’. Dit is 'n suiwer historiese verhaal, die ingevlogte gebruiklike romantiese liefdesgeskiedenis ontbreek hier omdat dit tog enkel bysaak is en hier miskien die aandag sou aftrek van die allergrootste gebeure in die Voortrekkergeskiedenis. nl. die vernietiging van die mag van die barbaredom van Dingaan. Waar die werklikheid soveel bloed en trane bevat het, hoef die romantikus nie nog sy verbeelding daarby te pas te bring nie, want inderdaad Tusschen Berg en Zee, ‘is de grond als rood van het bloed van brave mannen, trouwe vrouwen en onschuldige kinderen; daar is het gras doorweekt door de tranen van weduwen en wezen, van liefhebbende ouders, en troostelooze kinderen’. En hierdie land Natal is ‘den Afrikaner ontstolen...... door dat volk, dat zich in grootheidswaan de Paramount Power in Zuid-Afrika noemt’, eindig D'Arbez met 'n begryplike bitter opmerking. Dat die magsewewig so moes geskommel word dat Engeland die ‘Paramount Power’ in Afrika bly, was immers die enigste miserabele ekskuus vir die anneksasie-politiek van 'n eeu van onreg, 'n staaltjie waarvan, die Jameson-inval, weer so pas agter die rug was in 1897 toe D'Abez die roemryke dade van die Voortrekkers by die slag van Bloedrivier aan die Afrikaanse jeug aan vertel was. Hy wil nasionale trots by die jeug opwek om hul te staal by die selfhandhawing van hul eie veelbewoë tyd. Voor Land en Volk (1899)Ga naar voetnoot1) is in seker sin 'n vervolg op Tusschen Berg en Zee (1897) soos dié 'n vervolg is op David Malan (1896). Met die koms van die Boere-aanvoerder Andries Pretorius in Natal het daar 'n gunstige wending ‘Tusschen Berg en Zee’ gekom vir die Voortrekkers, maar as hierdie verhaal, wat hom afspeel in die laaste elf jaar van die lewe van die groot Voortrekker-Kommandant-Generaal (1798-1853), open in die jare veertig, stroom die emigrante uit Natal, ‘den Afrikaner ontstolen’, oor die Drakensberge terug. Sommige vestig hulle in die suidelike Transvaal, ander voeg hul by die landgenote tussen die | |
[pagina 183]
| |
Oranje- en Vaalriviere waar hul op eentonig sarrende wyse nogmaals agterhaal is en tot Britse onderdane deur Sir Harry Smith verklaard word. Weer kom die Boere-aanvoerder Andries Pretorius te hulp maar dié keer delf hul die onderspit in die slag van Boomplaats. Hierdie neerlaag, daarna die ontmoeting van die twee groot teenstanders Pretorius en Potgieter naby Lydenburg, die dood van Christina, die vrou van Pretorius wat haar man op haar sterfbed nog aanspoor om die Vrystaters te hulp te gaan - ‘Andries, ga Andries, luister na die roep van jouw volk’ - al hierdie historiese momente uit die laaste lewensjare van Pretorius word lewendig en aanskoulik vertel, steeds met die doel om die jeug aan te vuur om soos die groot Voortrekker ‘te doen wat uw hand te doen vindt, voor Land en Volk’. Die romantiese gedeelte bring die lotgevalle van Jan Rudolf, die dappere adjudant van Pretorius, en Mita Prinsloo, bekend uit die geskiedenis as een van die meisies wat by die aanval op die Voortrekkerlaer by Moordspruit swaar gewond is maar later herstel hetGa naar voetnoot1). Hulle liefdesverwikkelinge vind 'n oplossing in 'n gelukkige huwelik maar oor die historiese gedeeltes, Boomplaats, die dood van die leier, hang die sombere voorgevoel van die uitslag van die aangeknoopte worstelstryd vir land en volk. 'n Direkte bewys dat by die skrywe van hierdie romantiese Voortrekker-verhale, die eie benarde tyd, waarin die wolke vinnig aan saampak was oor die Republieke, D'arbez steeds as uitgangspunt gedien het, lewer sy voorwoord tot Onder de Vierkleur (1898)Ga naar voetnoot2). Hierin vertel hy dat hy aangeraai is na die verskyning van Tusschen Berg en Zee om ‘liever geen politieke kwesties in zulke boeken te behandelen’, maar dat dit 'n raad is wat geen geskiedskrywer van Suid-Afrika, wat vir sy mede-Afrikaners skryf, kan volg nie. Hier waag hy hom aan die skokkende politieke gebeure, die voorspel van die oorlog wat spoedig sou volg, die Jameson-inval self. Sy opgegewe bronne is die pasafgelegde getuienis voor die Engelse Parlements-Komitee in 1897 en The History of a Crisis deur | |
[pagina 184]
| |
E. Garret, die redakteur van die Cape Times, albei Engelse bronne. Maar die beste bron van D'arbez is sy Afrikanerhart wat hom so 'n sin in die pen gee: ‘Ik schrijf niet en ik hoop nooit te zullen schrijven ten gunste der algemene politiek die Engeland jaren lang (ik had bijna gezegd een eeuw lang) in Zuid-Afrika volgt. Ik schrijf niet voor Engelsche lezers.’ Dit is Afrikaanse lesers aan wie hy vertel wie die hoofpersone van die sameswering was - Jameson, Rhodes, ens. word almal sprekend in die verhaal ingevoer -, hoe die sameswering inmekaar gesit is, hoe Kruger op die hoogte van die plan gekom het en hoe hy ‘toen de schildpad zijn kop uitstak’ by Doornkop gehandel het. Vir sy mede-Boere wil hy laat sien hoe vier jong Boere met Nuwejaarsfeesviering plotseling opgekommandeer is en nog in hul feesklere die stryd vir hul vryheid en onafhanklikheid by Doornkop meemaak. In die romantiese gedeelte is die Vierkleur die band wat die minnende harte verenig en uit die hele verhaal klink die nasionale propaganda van begin tot end: ‘Wees paraat onder die Vierkleur’. Hierdie strooptog en die daaropvolgende Transvaalse sukses het weer moed gegee, die weerstandsvermoë versterk, die gevoel van eenheid deur bloedgebondenheid van Transvaal tot Kaap laat oplaai soos met die anneksasie en die daaropvolgende sukses van 1881 vyftien jaar vroeër ook gebeur het. Die brutale daad van Jameson het ineens weer dié van Shepstone lewendig voor die gees geroep. In Macht en Recht (1899)Ga naar voetnoot1), oorspronklik twee dele, later omgewerk tot 'n lang historiese roman, beeld D'arbez die teenstelling van hierdie twee begippe uit in verband met die Eerste Vryheidsoorlog van 1881 waar reg tog oor mag geseëvier het. Vir sy mede-Afrikaners wat deur die politici van die Paramount Power hoe langer hoe skeller die leuen toegeskreeu is dat hierdie begrippe sinoniem is, het D'arbez die historiese gebeure van Amajoeba as die onomstootlike bewys van die teenoorgestelde voorgespieël. Die rol van leiers soos Kruger, Joubert, Bok, Jorissen, persoonlikhede toe nog in lewe, wat ook hier sprekend ingevoer word, word so mooi as moontlik voorgestel en uitgebeeld met fel romantiese gloed. Dit moes die nasionale trots | |
[pagina 185]
| |
op die keerpunte in die vaderlandse geskiedenis in hierdie uur voor die grootste gevaar op die drumpel van die allergrootste keerpunt, enorm gestyf het. Hoewel die geskiedenis van die Voortrek wat uitgeloop het op die Republieke, veral Transvaal, die grootste prestasie van die Hollandse-Afrikaner, begyplikerwyse die grootste plek inneem in die ‘Zuid-Afrikaansche Historie-Bibliotheek’, het D'arbez uit die staanspoor uit besef dat die pionierswerk van die stigters wat die Kaap bewoonbaar en veilig gemaak het vir hul nakomelinge, nie minder hulde verdien nie. Mooi Annie, die populêrste roman van D'arbez wat gewoonlik as die dertiende, die laaste nommer dus, van die reeks van die ‘Historie-Bibliotheek’ aangekondig is, het ook al in 1896 die lig gesien, vier drukke in die taal van die skrywer beleef, en tot 1934 nie minder as agt in die vertaling in AfrikaansGa naar voetnoot1) en is omgewerk in 'n toneelspel wat steeds vol sale trek. Hierdie roman gryp dwars-oor die tydperk van verengelsing heen, voer ons terug na die dae van Jan Kompanjie, waarin die begin van ons Afrikaanse beskawing lê en word daardeur die grootste inspirasie vir die jeug van die tyd van ontstaan sowel as vir dié van later geslagte. Mooi Annie of Anne Marie de Sully, soos sy in werklikheid heet, word deur Wolraad Woltemade, 'n jong Kaapse wewenaar wat op die punt staan om die ja-woord te ontvang van die weduwee Miemie Sevenblad, uit die gestrande skip ‘De Jonge Thomas’ gered op 1 Junie 1773. Die held vind self die dood in die golwe maar die twee-jarige kindjie wat 'n groot goue medaljon met haar naam en geboortedatum om die halsie gedra het, groei op as pleegkind van die weduwee Miemie Sevenblad tot die beeldskoonste Kaapse nôientjie van die laaste kwart van die 18de eeu. 'n Franse skip strand aan die Kaap en een van die skipbreukelinge, Majoor de Sully, 'n skatryk oom, ontdek sy doodgewaande niggie aan die medaljon, 'n geskenk van hom aan sy skoonsuster. Mooi, en nou ook ryk, trou Annie tog met Piet Joubert, 'n eenvoudige, onbemiddelde en daarby deur 'n tier verminkte Graaff- | |
[pagina 186]
| |
Reinetse boer en die roman eindig op die stoep van die woonhuis van die plaas Klipheuvel in Zwartland waar 'n mooi jong vrou met 'n kindjie op haar arm die tuiskoms van die jong boer van sy landerye af inwag. Veel geskiedenis word hier nie gegee nie, dit is in hoofdsaak 'n liefdesverhaal - vandaar ook die populariteit daarvan - maar die sosiale toestande aan die Kaap en die lewe op die grense van die kolonie in die laaste helfte van die 18de eeu word goed weergegee waardeur die roman sosiaal-historiese betekenis kry. Daar is die spanning en opgewondenheid as 'n seilskip by die Kaap van Storme in moeilikheid raak; daar is die daelikse gebruik van 'n glasie brandewyn om te voorkom dat die koue en angs op die maag slaan; daar is die melkboer se melkwaentjie met een perd daarvoor gespan wat dou voor dag stadwaarts ry, voor hom die slapende stad sien lê en die woeste see hoor storm met die skepe ‘als zovele notedoppen’ daarop aan dobber in doodsgevaar; daar is 'n jag op die Boesmans op die grense; 'n geveg met 'n tierwyfie; 'n reis per ossewa na Kaapstad om die produkte van die grens af na die mark te bring; kaartspel van die jong mense, ens. Hoewel daar dus minder historiese uitweidinge as gewoonlik gegee word, minder suiwer historiese feite, is hier verdienstelike historiese atmosfeer geskep as agtergrond vir 'n romantiese verhaal so boeiend en kleurryk dat dit as jeuglektuur hom nog steeds bly handhaaf. Die volgende verhaal wat ook in die dae van Jan Kompanjie speel en wel in die tyd van die beroeringe onder Willem Adriaan v.d. Stel aan die begin van die 18e eeu is De Strijd om Recht (1897)Ga naar voetnoot1). Die bronne is weer Theal en 'n enkele weer KolbeGa naar voetnoot2) en in sy inleiding getuig die skrywer dat ook hy in die geskil die kant gekies het wat deur die historie geregverdig is ‘als meer overeenkomende met ons algemeen Zuid-Afrikaansch nationaal gevoel, om onze voorouders ten minste de eer voor het oogenblik te laten dat zij streden voor hun recht’. Hier is dit 'n geval van 'n baie dun romantiese kleed om die bekende historiese gebeure | |
[pagina 187]
| |
gehang; die hooffigure is almal historiese persone, Willem Adriaan van der Stel, Adam Tas, Henning Huising, Etienne Nel, nie soos in die vorige romans uit die skrywer se verbeelding gekonsipieer nie. Die betekenis van hierdie historiese verhaal is dan ook allermins literêr maar lê in die politiek-historiese daarvan. Die Jameson-inval in die Zuid-Afrikaanse Republiek was so pas agter die rug; opnuut het die Afrikaner in politieke en geestelike reaksie teen dwangbeleid en heerssug gekom en vanuit sy eie tyd gryp die historiese romanskrywer terug na 'n uiterlik enigsins ooreenstemmende hoewel na die wese totaal verskillende historiese geval, projekteer hy die gevoelens van sy eie tyd in 'n verre verlede om dié des te duideliker te omlyn vir sy lesers, om hul politiek voor te berei om te bly stry vir hul selfbeskikkingsreg soos hulle dit in die verre en nabye verlede gedoen het. De Familie van den Ziekentrooster (1898)Ga naar voetnoot1) is die familieroman van die eerste skoolmeester en sieketrooster van Stellenbosch, Sybrandus Mankedan. Waar die seun goewerneur Willem Adriaan v.d. Stel, in die voorafgaande roman daar so sleg van afgekom het, word hierin die vader, goewerneur Simon van der Stel, verheerlik as die stigter van Stellenbosch, as die ondernemende reisiger na die kopermyne van Namakwaland toe sy koets by Piketberg deur 'n renoster aangeval is, as die beskermer van en ontfermer oor die Franse Hugenote-neersetters wat in 1688 in die wyk Stellenbosch en omgewing grond gekry het. Deur toedoen van 'n vreemde onderwys-owerheid is stelselmatig Jan Kompanjie in die geskiedenis van Suid-Afrika genegeer of verkleineer totdat die Hollandse Afrikaner die ‘onbeduidende’ van die allergrootste gebeure in sy geskiedenis, die beplanting van 'n nuwe bodem deur Jan Kompanjie, self gaan glo het. Dwarsdeur die 19de eeu het die tradisie, gedeeltelik uit godsdienstige oorweging ontstaan, gedeeltelik gekweek deur die vreemde heersers wat in die Franse anders as in die Dietse bloed geen gevaar meer gesien het nie, die betekenis van die Hugenote oordryf en hulle bydrae op kultuurgebied geïdealiseer. Hierdie idealisering het egter nie alleen die letterkunde goed te pas gekom nie, maar ook | |
[pagina 188]
| |
die enigste historiese houvas uit die 17de eeu gebly van die Afrikanervolk in donkere ebtye. Byna sonder uitsondering word 'n Hugenoot of afstammeling van 'n Hugenoot in die mooiste rolle geteken deur D'Arbez in die ‘Zuid-Afrikaansche Historie-Bibliotheek’. In David Malan is dit Malan, in Mooi Annie is dit Joubert, hier is dit Hercule du Pré wat die jong held van die romantiese gedeeltes, die hooffiguur deur die skrywer geskep, van die verhaal is. Die jong Hugenoot raak verlief op Annie Mankedan, die bevallige dogter van die skoolmeester, wat van hom les in die Franse taal ontvang met soveel sukses, dat sy die betekenis van Je t'aime gou agterkom. Na allerlei verwikkelinge met haar broer en heftige rusie met sy sleggehumeurde en bitsige aanstaande skoonmama, want ‘vrouw Grietje had den broek aan’, kry Du Pré uit Drakenstein die jonge dogter van die Sieketrooster van Stellenbosch. 'n Kenmerkende gebrek van die ou historiese roman is die vaag getekende, byna week-vroulike jong held, vol sentimentele versugtinge wat aan die end altyd die geliefde aan sy hart druk. Die natuur word dan dikwels te pas gebring as agtergrond vir die liefde en hier ‘ook hoorden de moschjes het, die vroolijk in de boschjes sjilpten.... (zagen), dat de jonge dochter van den zieketrooster den jongen Hugenoot uit Drakenstein had gezoend’. Veel beter is die karaktertekening van Mankedan self, hoewel dit die karikatuuragtige nader in sommige gedeeltes. Die sieketrooster is rond en geset, vandaar dat hy dan ook die bynaam het van De Dikke; hy praat in sy slepende plegtige katedertaal onder alle omstandighede, sy toesprake is hoogdrawend retories, as hy 'n gedig maak, is dit hom veral te doen om hoe dit te giet in die mooiste ‘sierlijke krulletters, waarin de meester een kunstenaar was.’ Sy vrou is 'n feeks en alleen met die grootste moeite kan hy sy waardigheid teenoor haar volhou. Die kontras tussen die Dikke Mankedan tuis waar hy onder die plak sit en op skool waar hy die plak hanteer, die geestige opmerkings van die skrywer soos dié na aanleiding van die lagwekkende van die Sieketrooster te perd - ‘wie er niet om lachte was zeker het arme paard, dat niet gewoon was aan zulk een zwaar gewicht, en dat het dan ook zuur genoeg had’ - gee aan hierdie verhaal 'n grappige toon wat bygedra het tot die populariteit daarvan by die jeug. Ook hier weer die bewuste en geslaagde strewe om uit | |
[pagina 189]
| |
die argivalia van die verbygegane tyd van Ou Jan Kompanjie 'n ander gees en sfeer aan te voel en aan die jeug voor te tower dan dié wat hul op skool ‘op zijn Engelsch’ voorgehou word of in 'n ander styl deur geleerdes te boek gestel is ‘zoo hoog geschreven dat het hun een te zware taak is, om uit de lange ingewikkelde Hollandsche zinnen los te komen’. Die Nederlands van D'Arbez is dan ook so skerp Afrikaans gekleur en in die dialoog gebruik hy soveel Afrikaans, hoewel in 'n inkonsekwente spelling, waarvan hy net soos Melt Brink alleen die reëls geken het, dat sy werk net soos dié van Brink onbedoeld die oorgang op taalgebied van Nederlands na Afrikaans bevorder en help bewerkstellig het. Ook Aan Tafelbaai's Strand (1898)Ga naar voetnoot1) en Van Klerk tot Goeverneur (1897)Ga naar voetnoot2) speel in ‘den goeden ouden tijd’ van Hollands-Afrikaanse beskawing voor die teenstelling met die Engelse kultuur op die Afrikaanse bodem aanwesig was. Die romantikus probeer om die sleur of die bande (soos in hierdie geval) van die werklikheid te ontvlug deur homself en sy lesers terug te voer na 'n tydperk in die nasionale verlede wat in sy kunstenaarsverbeelding as 'n ooreenstemmende worstel- of as 'n ideale tyd leef. Sy eie haat en afsku van bedrieërs, vlottende onverwerkte vreemde elemente in die volk of gedenasionaliseerde verraaiers, gebrek aan eenheid van strewe by 'n geweldige sosiologiese teenstelling, wat die Jameson-inval help voorberei het, en hoewel voorlopig afgeweer, nog noodlottig kon en sou word vir die Republieke, word weerspieël in sy tekening van figure soos Gordon, Pringle, Van Ryneveld in Aan Tafelbaai's Strand of Twintig jaar uit het leven van een Kapenaar (1791-1811). Dit is die geskiedenis van die laaste jare van die regering van die Kompanjie, die treurige bladsy in ons geskiedenis van die inbesitname van die Kaap in 1795 deur die Engelse sonder dat slag of stoot gegee is om dit te verdedig deurdat die bestuurders en aanvoerders in 'n staat van algehele gevoelsvertroebeling en korrupsie verkeer het. | |
[pagina 190]
| |
Die Kapenaar Jan van Eck wat in 1791 op Papendorp, die teenswoordige Woodstock, woon, hou 'n dagboek - die bekende en vrywel enigste vorm van die vroeë skrywers op Afrikaanse bodem - waarin hy die denkbeelde en toestande van sy tyd uiteensit, die tyd van die Franse Revolusie, van die werke van Voltaire, Rousseau, Diderot, werke wat die dagboekhouer aan die Kaap Jan van Eck verslind het. Van die Engelse bestuur moet hy niks weet nie, nog minder van die werk van die Londense sendelinge; die futloosheid wat eufemisties ‘geduld’ en ‘gehoorsaamheid’ heet en die onderlinge verdeeldheid van sy landgenote beskou hy as die vernaamste redes vir die gebrek aan weerstandsvermoë in die politieke krisis van die jare 1791-1811. Maar wie is Jan van Eck anders as J.F. van Oordt self wat sy eie tyd honderd jaar terugkaats? Luister ons na die gesprekke oor die inbesitname van die Kaap, dan is dit asof ons die Boere oor die Jameson-inval hoor: ‘En wat men ook zeggen mag, zal de Engelschman altijd de vloek voor ons land blijven’. Dit is die slotsom waartoe Jan van Eck kom in 1795, maar die figuur kan tog net 'n spreekbuis van die skrywer wees, wat op sy beurt die vertolker is van 'n eeu van ervaring van die Hollands-Afrikaanse bevolking; 'n 18de eeuse Kapenaar wat nog geen ervaring van die Britse bewind kon opgedoen het nie, kon hierdie gevolgtrekking nie maak nie. As sy niggie Annie trou met 'n Engelse offisier i.p.v. dat hy haar nie meer as lid van die familie beskou nie spreek deur hom die 19de eeuse minderwaardigheidsgevoel van die Hollandse Afrikaner wat die eie bestaan slegs in negatiewe terugtrek kan bewaar in 'n uitspraak as die volgende: ‘En nu gij Engelsch-gezind gaat worden.... verzoek (ik) voortaan niet meer als een lid dezer familie te worden beschouwd’. Van karaktertekening uit 'n historiese tydperk van menslike wesens wat 'n eie bestaan voer, is hier geen sprake nie. Ook nie om die tydsbeeld wat die skrywer probeer gee nie van 'n vervloë tydperk, maar om die onbewuste weerkaatsing van sy eie tydsbeeld is ook hierdie historiese verhaal van kultuur-historiese betekenis. Vir die teenstellinge, kontrastekeninge wat so kenmerkend is van die romantiek het die vaderlandse geskiedenis hom buiten- | |
[pagina 191]
| |
gewoon goed geleen. In die roman Liefde en Plicht (1897)Ga naar voetnoot1) waarvan die titel reeds as teenstelling bedoel is, word die verskil in rassebeskouing tussen Boer en 19de eeuse Europeër, tussen Afrikaner en Brit, weer die hooftema. In hierdie verhaal van die opstand van Slachtersnek in die jare 1815 en 1816 is daar karakterontwikkeling te bespeur in die hooffiguur Henri Rousseau, Luitenant by die Hottentot-korps en bevelhebber van die afdeling Hottentotte wat Frederik Bezuidenhout moes gevange neem en toe hy hom verset, doodgeskiet het. Rousseau is verlief op die dogter van Cornelis Faber, maar sy luitenantsrang by 'n Hottentot-Korps staan soos 'n muur tussen hom en sy aanstaande skoonfamilie. Vir die liefde is egter geen muur te hoog nie in die fantasie van die romanskrywer en Rousseau laat sy nôi na Cradock kom waar hul in die geheim trou. Die klandestiene huwelike wat 'n nasleep het van eindelose verwikkelinge was 'n geliefkoosde tema van die romantiese, historiese romanskrywers wie se sukses in die eerste plek van die mate van spanning in hul verhaal afgehang het. Van diep-menslike worsteling tussen jong liefde en tradisionele ouerlike opvattinge of tussen liefde en sogenaamde plig teenoor 'n vreemde maghebber wat Afrikaner as Hottentot-aanvoerder teenoor mede-Afrikaner gebruik om sy gesag te handhaaf, is hier nie veel sprake nie. Tog na afloop van die opstand neem Rousseau sy ontslag uit die Engelse diens; hy het tot ander insigte gekom. Die skokkende gebeurtenis van die galgdood van vyf Afrikaner-aanvoerders wat die smadelike dood van 'n broer wou wreek waaraan luitenant Rousseau ten dele skuld het deur die voos plek van binne wat geen rasseverskil meer kon aanvoel nie, het hom toe hy hom laat gebruik het as bevelhebber van die Pandoere plotseling nugter wakker geskok. Die hele opset van die verhaal, die hele manier van probleemstelling is kinderlik onbeholpe soos trouens die geval met al hierdie verhale is maar by die kontrastekeninge seëvier sonder uitsondering die natuurlike reg soos die Afrikanervolk dit intuïtief dwarsdeur sy geskie- | |
[pagina 192]
| |
denis by alle botsinge aanvoel of dit nou al ooreenslaan met die staatsreg of nie. Soos die titel laat vermoed word weer 'n teenstelling gemaak in Zwart en Wit (1897)Ga naar voetnoot1), maar hier is dit nie tussen slaafse Pandoer, 'n gemengde volk met al die ondeugde van verbastering aan die een kant, en Blank aan die ander kant nie, maar tussen swart Natuurvolk en wit Kultuurvolk wat ook nog dig by die natuur lewe, elk met 'n selfstandige volksbestaan. Dit is die verhaal van die eerste Vrystaatse Basoeto-oorlog, 1865-1866, wat vir die aanvoerder van die Boervolk, Louw Wepener, noodlottig word op Thaba Bosigo. Die onafwendbare noodlot van die Basoeto wat hom sou dwing om hom in sy berglandskap terug te trek en nie oor die Vrystaatse vlaktes te dwaal nie, het hom nog nie voltrek nie. Die kanse in die dramatiese worsteling tussen Swart en Wit in die jong Boere-Republiek was aanvanklik nie ongelyk nie en in die eerste botsing het die Boereleier Wepener dit dan ook afgelê teen die Basoeto-opperhoof Moshesh. In sang en verhaal word die gesneuwelde Vrystaatse held deur die Romantiese skrywers verheerlik in die nasionalistiese tydperk van die laaste kwart van die 19de eeu soos ook hier die geval isGa naar voetnoot2). Histories het Moshesh hier getriomfeer, maar in die gefantaseerde, romantiese gedeelte red sy seun Tsekelo 'n Boerefamilie uit die hande van 'n woeste bende, as teenprestasie vir 'n weldaad aan hom verrig deur die jong Boer wat hom eenmaal gewond in die veld gevind en tot genesing op die boereplaas verpleeg het. Oppervlakkige sentimentele romantiek wat tog by nadere beskouing kan berus op die diepe waarheid dat die mens in sy allerdiepste wese enkeling is vir wie, afgesien van kleur of ras, een en dieselfde grondwaarheid van die liefde teenoor 'n medemens naas die eerste lewenswet van selfbehoud standhou. Maar D'Arbez was geen volkpsigoloog wat met beklemming die wonderlike lotsteenstelling op Afrikaanse bodem tussen natuurvolk en kultuurvolk volg nie, maar 'n eenvoudige volkse verteller van die wel en die wee uit die verlede van die Boervolk. | |
[pagina 193]
| |
In Een Vader des Volks (1896) word die verdere geskiedenis van die Oranje-Vrystaat vertel van 1869 af tot 1871 soos beliggaam in die figuur van president Brand. Die romantiese gedeelte bring die lotgevalle van Jan Bronkhorst, 'n brandarm jongman wat deur allerlei verrassende kronkelinge van die lewenslot en eie voorvaderlike deugde 'n skatryk boer word. Die diamantvelde, ontdekking, ontginning, anneksasie, is die spil waarom alles draai. Histories-sosiologies van betekenis is die tekening van die daelikse bestaan van die diamantdelwers in die jare sewentig, maar van nog groter betekenis kultuur-histories is weer die weerspieëling van die eie tyd van die skrywer in die keuse sowel as die behandeling van die historiese stof. Die natuurlike teenstelling tussen Boer en Brit, elk met 'n selfstandige volksbestaan, die een enkel en alleen op Afrikaanse bodem, die ander op Engelse bodem met imperialistiese uitlopers oor die gehele aarde, het menslike magshebbers op 31 Mei 1902 by Vereeniging uitgewis. Aan die slot van hierdie roman word as byvoegsel na 1902 meegedeel dat hierdie werk die ‘Zuid-Afrikaanse Historie-Bibliotheek’ wat die Hollands-Afrikaanse jeug sy eie geskiedenis wou eer, afsluit daar dit te verwag is ‘dat de wereldsche machten die over ons regeren, het beter beschouwen dat wij zoo min mogelijk er van weten, en slechts dat hooren, dat dienen kan tot verheerlijking van Groot-Brittanje’. Dreigend profeties eindig die onoorwinlike tydelik-oorwonnene as hy sy pen, sy swaard, voorlopig in die skede steek. ‘Men mag de waarheid een tijdlang onderdrukken; haar vermoorden kan geen mensch en geene regering; éénmaal moet en zal zij zegevieren, en verschrikkelijk zal dan de wraak zijn die ze nemen zal op hen die haar aan banden hebben gelegd’. D'Arbez is 'n gestaltewording van 'n nasionalistiese tydperk, waarin die nasionale besef eers nog half intuïtief leef, maar algaande sterk bewus aan opkom is. By die ontstaan van die eerste reeks het hy die onderdrukte of bedreigde nasionale gevoel gestreel en behaag. In die lig van die historie gesien het hy dit juis daardeur aangemoedig in die Kaapkolonie waar aanmoediging broodnodig was en dit versterk in die Republieke waar versterking die enigste kans op die behoud was van die selfbeskikkingsreg wat deur selfgevoel verkry is deur die Voortrekkers. | |
[pagina 194]
| |
4. De Zuid-Afrikaanse historie-bibliotheek. Tweede reeks, bestaande uit ses dele.Dit sou ruim twintig jaar duur voor die tweede serie van De Zuid-Afrikaanse Historie-Bibliotheek in 1918 aangekondig word en dan het 'n totaal nuwe tydperk in die geskiedenis van die Hollands-Afrikaanse lettere reeds 'n groot afstand bestryk, is daar soos D'Arbez in sy inleiding van die eerste deel sê ‘een Zuid-Afrikaanse literatuur geboren die veel voor de toekomst belooft’. Van die nuwe serie het ses dele verskyn, verskeie posthuum daar die rustelose swerwer D'Arbez in 1918 die ewige rus ingegaan het: 1. De Nichtjes van de Kommandeur (1918); 2. Antje de Boerin (1919); 3. Van Klerk tot Goeverneur (1919); 4. De Dochter van de Zeekaptein (1920); 5. De Grensbewoners (1920); 6. De Zoon van de Hugenoot (1921). Van hierdie ses is vyf verhale nuut en val gevolglik kronologies na tyd van ontstaan buite die tydsbestek van die onderhawige nasionalistiese tydperk. Maar die derde deel, Van Klerk tot Goeverneur, of het Leven en Bestuur van Rijk Tulbagh (1699-1771) is oorspronklik in Ons Tijdschrift in 1897 geplaas en val dus in alle opsigte binne die kader van die reeds besproke verhale uit die dae van Jan Kompanjie. Nie dat daar die minste verskil te bespeur is in tegniek tussen die eerste en tweede reekse nie. | |
5. De Zuid-Afrikaanse volks-bibliotheek.Onder redaksie van D'Arbez is ook 'n Zuid-Afrikaanse Volks-Bibliotheek aangekondig, waarvan die eerste twee dele: Van het Veld tot de Kansel (1907) en Het Leven van Johannes Calvijn (1908) verskyn het. Om in dieselfde serie te kom is in die vooruitsig gestel: 3. Hoe Amerika zijn Vrijheid verkreeg en 4. Levensgeschiedenis van President Brand, wat eventueel in 1914 as Nos. 4 en 6 onderskeidelik in De Bussy's Groene Serie geplaas is; 5. Bladen uit de Geschiedenis onzer Voorouders en 6. De Twee Zusters wat oorspronklik in een band in die eerste serie van die ‘Zuid-Afrikaanse Historie-Bibliotheek’ verskyn het. Laasgenoemde twee verdien nadere beskouingGa naar voetnoot1). | |
[pagina 195]
| |
In Bladen uit de Geschiedenis onzer Voorouders word op populêre wyse in agt afsonderlike sketse vertel van die ou Germane, die Galliërs en die Bataviere, Karel die Grote, Floris V en Jeanne d'arc en hoe die Wes-Europese volke gelewe en oorlog gevoer het tot aan die regering van Keiser Karel V. Die voorgeskiedenis van die afsonderlike Wes-Europese elemente, Nederlanders, Franse, Duitsers, wat op Afrikaanse bodem tot 'n hoër eenheid gegroei het, kan nie sonder voorbehoud die geskiedenis van ons voorouers genoem word nie. Die stamboom van die Afrikaner begin in die dae van Jan van Riebeeck, nie daarvoor en nie daarna nie. Maar D'arbez en sy tydgenote, aan wie 'n Engelse onderwysstelsel wat vaderlandse geskiedenis ‘Cape History’ genoem het, opgedring is, kon tot geen helderheid gekom het oor die vraag van datering van die ontwikkelingsgang van die Afrikaanse kultuur nie. Vertroebel was hul gedagtegang, hul wetenskaplike insig oor hul volksyn deur die Britse teenstelling en ook deurdat hul nog nie ver genoeg op die pad van Suid-Afrika gegaan het om perspektief op die wegspringplek te kry nie. Radeloos het hulle na elke houvas gegryp teen die stroom van verengelsing en 'n groot houvas was ongetwyfeld hierdie voorgeskiedenis van die afsonderlike Wes-Europese stamvolke. Dit het die gevoel en die versekering gegee dat hoewel 'n nuwe volksoort op die Afrikaanse bodem ontstaan het, die Boer, dit 'n volksoort is, ontstaan uit Wes-Europese elemente in wie die tradisie, die opgehoopte beskawingservaring van Wes-Europa leef en wat dus geen nuwe primitiewe volk is, geen Melchisedek sonder vader of moeder, maar 'n nuwe Wes-Europese Germaanse nasie op Afrikaanse bodem. Teenoor hierdie eie geweldige prestasie van die aanwas van 'n nuwe kultuur-volksoort op Afrikaanse bodem met 'n eie boustyl, eie staatsinstellings, eie regspraak, eie geskrifte, eie taal in 'n ouer en jonger vorm, eie aard, kon die Britse ‘colonial’ niks inbring nie dan sy lasterlike hoogmoed en pratgaan op Engeland, ‘een land dat niets met Zuid-Afrika te doen had voor 1795’ soos D'arbez in sy inleiding tereg opmerk. Die Afrikaanse kind is volgeprop met feite en eensydige interpretasies van feite uit die geskiedenis van Engeland totdat hy geleer het om hom te skaam dat hy geen Engelsman is nie. As teëwig vir hierdie van owerheidsweë hooggeroemde grootheid van | |
[pagina 196]
| |
die Engelse verlede het die verhaal van die verlede van Nederland, Frankryk en Duitschland, die lande van herkoms van die Afrikaner, diens gedoen, want daar kon op gewys word dat dit 'n verlede was net so oud en net so roemryk as dié van die Engelse. Die Hollands-Afrikaanse jeug word aangemoedig om hul te spieël aan die ‘Oud-Germaanse volhouding voor het behoud van onze eigen haard, van ons volksrecht en van onze moedertaal’ in die strewe om ‘een zuiver Afrikaans-nasionaal gevoel aan te kweken’. De Twee Zusters, die verhaal wat aanvanklik saam met Bladen uit de Geschiedenis onzer Voorouders gebundel is, is geen historiese verhaal nie maar 'n sosiale, en is dan ook later uit ‘De Zuid-Afrikaanse Historie-Bibliotheek’ verwyder om dié rede. Hier word die kontras geteken tussen 'n huwelik wat wortel in die volkstradisie en een wat gesluit is deur 'n ontwortelde Afrikaanse nôi en 'n Engelsman. Die werk ly verskriklik onder die tendens, die slot van die gemengde huwelik tussen Truitje van der Walt en Arthur Robinson is bankrotskap en selfmoord, dié tussen haar suster Hannie en Hans Viljoen 'n stel engelagtige kindertjies, die teenstelling van die plaas- en die dorpslewe teen die end van die 19de eeu is aangedik hoewel elke milieu opsigself nie onverdienstelik geteken is nie. Daar is die plaasdogter wat na 'n verblyf van twee jaar op 'n kosskool in Kaapstad haar nie meer tuis voel op Ongegund waar huisgodsdiens gereeld gehou word nie, waar niemand Engels praat nie en niemand gesteld is op haar met Engels deurspekte taal nie, waar nog Hollands geskryf word en die mooi Engelse briefies ongelees bly. Op die dorp Buffelsvlei word daar ‘parties’ en ‘balls’, ‘entertainments’ en ‘social evenings’ gegee. As masker vir die lewensmoegheid en ontevredenheid, is die huwelik van die een stel hoofpersone kinderloos, die besigheidsmoraal laag. Dit is verregaande oordrywing en kinderagtige romantiese verheerliking van die landelike lewe by estetiese maatstawe van literatuurbeskouing gemeet, maar deur die vaderlandse gees van die verhaal pas dit uitstekend in die kader van die nasionalistiese tyd en het dit kultuur-historiese betekenis. Die politiek-wetenskaplike insig van D'arbez in die konsekwensies van 'n huwelik tussen man en vrou uit verskillende groepe van die kultuurteenstelling is waarskynlik gegrond op | |
[pagina 197]
| |
persoonlike ervaring. Die outobiografiese breek orals deur in die verhaal ‘vrolik begonnen, treurig geëindigd’ so tipies van die romantiese realisme van die tyd van die nasionale romantiek. | |
6. De kinderbibliotheek.Naas die Historie- en Volks-Bibliotheke het ook De Kinderbibliotheek tot stand gekom in 1917. Hierdie kinderlektuur bestaan uit twaalf deeltjies, in numerieke volgorde getiteld: 1. 'n Mooi Feest; 2. Het Katje; 3. Amper in die Hande; 4. Iets o'er 'n perd en 'n donkie; 5. Het grijze vogeltje en Die Kneg van Koning Salomo; 6.Groot Piet en Klein Piet; 7. Die verlore Geldtrommel; 8. Willems Boompje; 9. Het Veldbloempje; 10. Dokter Slim; 11. As-muisje; 12. Wachter.Ga naar voetnoot1) Ook hierdie twintigste eeuse werk wat moes voorsien in die behoefte van 'n totaal ander jeug as dié wat De Historie-Bibliotheek verslind het, wat 'n onderwysstelsel wat algeheel ander taal- en literatuureise gestel het aan die Afrikaanse literatore, moes bevredig, val buite die tydsbestek van hierdie studie. | |
7. Biografieë.In die kader van die nasionalistiese tydvak val ook twee lewensbeskrywings van die Transvaalse staatshoof, een 'n biografie wat tot op sekere hoogte 'n standaardwerk kan beskou word, Paul Kruger en de opkomst van de Z.A. Republiek (1898), die ander 'n populêre vertelling vir die jeug, Van Schaapwachter tot President (1904)Ga naar voetnoot2) wat in vlugtige taferele drie dramatiese lewensloop van Voortrekker-skaapwagter-seun tot Banneling-President laat verbytrek. Dit is 'n hooggekleurde rolprent wat, tog op die werklikheid gegrond, 'n blywende inspirasie is. In Napoleon Bonaparte (1917) word 'n ander lewensloop wat op ballingskap | |
[pagina 198]
| |
uitgeloop het, geskets, maar ondanks die matelose bewondering vir die Franse van D'Arbez, veral vir die Franse Hugenote, is dit 'n biografie wat nooit die hart van die Afrikaner getref het nie soos dié van die eie volksheld. | |
8. Toneelstukke.Ook die drama het J.F. van Oordt beoefen onder die skuilnaam Nemo. Groot sukses het hy gehad met De Koekdief (1904), 'n platte klug in die trant van die toneelstukkies van Melt Brink, en De Erftante wat op 'n enigsins hoër toneelplan staan.Ga naar voetnoot1) 'n Kombuis in 'n agteraf plattelandse dorpie is die eerste toneelskikking vir die klug. Doortje Allemans wat net 'n koek gebak het vir haar man se verjaarsdag word deur Mita Snuffel na buite geroep en dan neem Piet Slik 'n ondeunde skoolseun wat homself in die koskas skuil gehou het, sy kans waar en verdwyn met die koek onder sy arm. Die gevolg is dat Doortje 'n pak van haar man kry met 'n stuk saalleer waarby sy skreeu: ‘Ek is dood! Ek is dood’ en dat 'n hofsitting plaasvind waarin die slim seun die magistraat, die konstabels, Doortje, Jan en Mita almal vir die gek hou met sy deurtrapte antwoorde. Hoewel nie fyn nie, lok menige geestigheid tog 'n skaterlag uit. As die hoogwaardigheidsbekleër verklaar dat die Hof van mening is dat die koek gemaak is van stoommeel, krente, rosyntjies en ander dinge waarvan die name hulle nie bekend is nie, hou Doortje vol dat dit gemaak is ‘met mijn eige sweet en niks anders nie.’ Die sukses van Nemo wat verseker was deur hierdie kinderagtige grappigheid, komiese situasietekening, neerhaal van misplaaste ingevoerde poppekastery, was ongetwyfeld 'n aansporing vir Melt Brink om sedert 1904 sy toneelwerk te hervat. Daar het 'n groot behoefte bestaan aan speelbare toneelstukke met die kulturele opstanding van die Hollandse Afrikaner na die nederlaag van die Tweede Vryheidsoorlog, en hier was Nemo die eerste om voorsiening in te maak hoewel hy dit gou in bevoegder hande, Melt Brink, J.H.H. de Waal, ens. oorgelaat het en teruggekeer het tot sy historiese romankuns waarin hy so bedrewe was, reeds voor die instorting van die Republieke. | |
[pagina 199]
| |
In De Erftante het ons die gebruiklike oppervlakkige oplossing deur 'n deus ex machina van 'n probleem waarvoor die skrywer geen natuurlike oplossing meer kon vind nie en toe maar sy toevlug tot die toeval geneem het. Jan Lamp en sy deur die kosskole verengelste familie weet nie hoe om die tering na die nering te sit nie met die gevolg dat hul hoe langer hoe dieper in die skuld gedompel word. As hy ten einde raad op die punt staan om boedel oor te gee, kom die berig dat sy skatryk suster sy vier dogters, waaronder die beeldskone Kitty wat die held tot man kry en die skurk ontmasker, as haar erfgename aangewys het. Die erftante lees en leer hulle eers almal 'n les deur te weier om dadelik die rekeninge te vereffen en wis dan soos 'n grootmoedige beskermengel uit die ouderwetse voorvaderlike boeregeslag alle tekens uit van die skuld van die kultuurverbasterde familie Lamp in wie deur swaarkry en vernedering die lig van verre Afrikanerdae weer gaan skyn het. Tema en opset, moraal en toneelrolle van prokureur, predikant, boeretannie, kleurling, toon en inhoud van hierdie blyspel staan alles in dieselfde nasionalistiese sfeer as dié van die historiese romans van ‘De Zuid-Afrikaanse Historie-Bibliotheek’ - 'n bewys dat die aandag van die publiek voorlopig eensydig gekonsentreer bly op sake van nasionale belang. | |
9. Taalstandpunt.Na 'n verlore stryd in die Noorde toe alles Engels was wat die klok slaan van Kaap tot Transvaal, het die taalprobleem 'n saak van die allergrootste nasionale belang geword in die 20ste eeu. Eers toe daar geen onderlinge staatsgrense meer was nie, toe alle Hollandse Afrikaners met mag en geweld in vreemde staatsverband gebring is, losgeskeur is van die kulturele invloedsfeer van Nederland, die land van herkoms wat soos 'n al te besorgde moeder menigmaal die selfstandige ontwikkeling op kultuurgebied geweldig gehelp, maar ook begin dreig het om dit te strem soos die 19de eeu na sy end loop, eers toe kon daar aan die moderne wêreld die eerste bewys gelewer word dat spreektaal tot amptelik erkende taal verhef kan word deur die onverbiddelike wil en vasberadenheid van 'n volk wat diep bewust geword het | |
[pagina 200]
| |
dat daar geen wesenlike grense bestaan nie ander dan dié wat 'n eie taalgemeenskap aandui, dat daar geen band te lê is nie ander dan dié van bloed wat kruip waar dit nie kan loop nie. Net soos Melt Brink was D'Arbez 'n oorgangsfiguur, 'n 19de eeuse gestaltewording van 'n oorgangstydperk van Nederlands na Afrikaans wat die skryftaalvorm van Hollands betref. Uit die staanspoor uit het hy sy historiese romans deurspek met Afrikaanse uitdrukkinge en dialoog uit die volksmond opgeteken; dadelik het hy die Vereenvoudigde Nederlandse Spelling oorgeneem toe dit deur die Zuid-Afrikaanse Taalbond in 1905 ingevoer is, geleidelik sterker oorgeneig na Afrikaans, maar behalwe in sy toneelstukkies, nooit uitsluitend Afrikaans as skryftaalvorm gebruik nie. Die Hoog-Hollandse Taalparty het in hom hulle allergrootste steun gehad hoewel hy hom nooit persoonlik in die stryd om die taalvorm gemeng het nie, 'n bewys dat hy in alle opsigte konstant verteenwoordiger van die laaste kwart van die 19de eeu gebly het in die ontwikkelingsgang van die Hollands-Afrikaanse kultuur. As tolk van die nasionale verlede het hy 'n Nederlands gebesig wat hom so ver as moontlik na die volkstaal gerig het en daardeur het hy sy mede-Afrikaners leer lees soos niemand voor hom nie en weinige na hom. Gedurende en na die oorlog het hy dit blykbaar sy plig geag, of miskien was dit slegs terwille van sy broodwinning, om die Engelssprekendes Afrikaans te leer. Hy het 'n tydjie les gegee aan die ‘South African College’, Kaapstad, onder professor W.S. Logeman, die hoogleraar in sogenaamde ‘moderne talen’, 'n vak waaronder Nederlands ook inbegrepe was en privaatlesse in Afrikaans. As gevolg van die betrekking het ontstaan How to speak Dutch (1902), in samewerking met professor Logeman, English-Cape Dutch vocabulary for the use of Englishmen (1902) en Phrases and Dialogues with translations in Cape Dutch preceded by short grammatical notes on the latter language. (1903).Ga naar voetnoot1) Omstreeks dieselfde tyd het Van Oordt ook sterk geïnteresseerd geraak in die studie van Bantoetale. In 1905 slaag hy daarin om' n Kaapse regeringstoelaag vir twee jaar te kry vir navorsings- | |
[pagina 201]
| |
werk in Bantologie. Twee boekdele van 'n voorgenome reeks van vyf het verskyn toe by wisseling van die Kaapse ministerie die toelaag opgeskort is. Die gerug van sy groot talekennis wat in werklikheid skreiend oppervlakkig was, het berus op 'n vergelykend-taalkundige proefskrif uit verskillende woordeboeke in sy vader se biblioteek saamgeflans. Hierop is hom eenmaal 'n Russiese professoraat aangebied wat hy gelukkig die verstand gehad het om nie aan te neem nie!Ga naar voetnoot1) Toe het die rustelose skrywer wat tog nie vir navorser of professor in die wieg gelê was nie, nog minder geskik was om hom in die maatskappy te laat geld, in 1907 weer 'n tydjie op Harrismith onderwys gegee en daarna van plek tot plek rond getrek, dikwels te voet, steeds voortgedryf deur die kwelling van drankmisbruik, aldeur skrywende om in sy onderhoud te voorsien, om die drang tot uiting te bevredig, en om die vloek wat op hom gerus het, soos hy dit self noem in ‘A Mad Passion’Ga naar voetnoot2), te besweer. In 1917 tref ons hom aan in 'n siekehuis in Johannesburg, in 1918 is hy terug in sy geboortestad Kaapstad, en hoewel nog siek, alweer ywerig aan die opstel van 'n nuwe reeks historiese romans, die tweede serie van die Z.A. Historie-Bibliotheek, maar voor die jaar ten einde geloop het, het die dood 'n end gemaak aan die swerwersneiging, hom van die vloek verlos en sy pen tot stilstand gebring. Die blywende en allergrootste betekenis van D'Arbez is nie dat hy die oorgang van Nederlands na Afrikaans help bewerkstellig het nie, nie dat hy tot ons letterskat bygedra het in kwantiteit soos niemand voor hom nie, self nie eens dat hy ons volk behaag en leer lees het deur sy romanties-historiese verhale nie - maar dat sy ‘romantiek’ ons ‘geskiedenis’ gered, altans help red het. Tot diep in die twintigste eeu het op die gesag van soveel vreemde sogenaamde ‘Cape Historians’ die Hollandse Afrikaner totaal los, indien nie vyandig nie, teenoor die stigtingsperiode van sy bodem gaan staan of die onkruid van provinsialisme het hom verdeel. Ondanks hierdie soort ‘wetenskap’ het | |
[pagina 202]
| |
die kunstenaars altyd volledig gelyk en D'Arbez was deur en deur kunstenaar van sy tyd in wie 'n volwaardige nasionale besef geleef het, wesenlik nie verskillend van die hedendaagse nie, al word dit met eie bewoordinge van die tyd uitgedruk. Ondanks menige feil in die klein besonderhede het hy die groot lyne van die werklikheid van Jan van Riebeeck af tot aan die end van die 19de eeu juis gesien en wesenlik getrou afgeteken in sy literêre werk, soos ons wetenskap nog wag op 'n sintese van ons volksverlede deur 'n eie vaderlandse geskiedskrywer. |
|