Hollandse skrywers uit Suid-Afrika. Deel 2 (1875-1905)
(1949)–Elizabeth Conradie– Auteursrecht onbekend'n Kultuur-historische studie
[pagina 64]
| |
Hoofstuk IV.
| |
[pagina 65]
| |
kaanse nasionalis in die 20ste eeuse betekenis van die woord, Stephanus Johannes du Toit. Die vinger is nou vir die soveelste keer gelê op ontstellende ongerymdhede op die pad van Suid-Afrika, maar dié keer deur 'n hand wat die krag blyk te hê om enige daarvan uit te pluk en nie soos tot dusverre die geval was, betreklik gelate af te wag tot hul soos afgeleefde plante-kruisings wat geen vrug ooit kan afwerp nie, vanself verwelk. Stephanus Johannes du Toit (1847-1911) is op die plaas Kleinbos in Daljosafat, naby die Paarl, in 1847 gebore uit 'n Frans-Hugenote geslag. Voor die koms van die stamvader in 1688 was die familie reeds tydelik as vlugtelinge in Leiden woonagtig. Alleen uit Hugenote-bloed waarvan die Europese are totaal afgesny, algeheel afgekap was in die eerste stadium van die saamgroei van verskillende Europese elemente tot 'n nuwe kultuureenheid op Afrikaanse bodem, kon hierdie geweldige Afrikaanse gevoelsmens ontspruit het; en alleen deur inwerking van 'n Nederlandse gedagtesfeer, selfs van voor die koms van die familie na die Kaap, en van geniale Hollandse leermeesters op hierdie gevoelsmens self, kon hy tot die mees geniaaldenkende Afrikaner van sy tyd gebring word. Na sy eerste opleiding op die derde klas-regeringsbuiteskooltjie in die Dal, het Du Toit op die familieplaas Kleinbos gaan boer tot sy neëntiende jaar toe Pannevis in 1866 soos 'n ster aan die Afrikaanse hemel verskyn en sy lig op hom laat val. Ses jaar vantevore, in 1860, het die groot godsdienstige opwekking in dié streek plaasgevind, waarmee ds. Van der Lingen dit net sover eens wat tot die bidure in histeria en wanorde oorgegaan het. Dit was die bewys dat ook hierdie Réveil nie uit suiwer Dietse bron opgewel het nie en daarmee het hy hom daarvan afgewend. Op die jeugdige gemoedslewe van Du Toit het die opwekking egter 'n onuitwisbare indruk gemaak. Met ds. Van der Lingen as voorbeeld, die predikant onder wie se gehoor hy weekliks gekom het, die geleerdste gebore Afrikaner van sy tyd wat hom gereeld van lektuur voorsien en 'n groot liefde by hom opgewek het vir die Nederlandse letterkunde, het die bewuswording van sy roeping as predikant gegroei en ryp geword toe die regte leerkrag, Pannevis, op die toneel verskyn om hom te bekwaam vir toelating tot die eie jong kweekskool op Stellenbosch. In 1866 het Du Toit nominaal leerling aan | |
[pagina 66]
| |
die Paarlse Gimnasium geword maar in werklikheid privaat gestudeer by die onderwysers T.S.A. Hoffman en Pannevis. Laasgenoemde het voortdurend die stilte van Kleinbos kom opsoek en later vas daar gewoon. Aangespoor en geïnspireer deur sy leermeesters begin hy in De Zuid-Afrikaan prosa plaas, in Nederlands na die taalvorm natuurlik, soos ‘Aan mijn Vaderland’, en ‘Wedersta de Beginselen’. Ook volg 'n aantal hekelverse teen die liberale rigting in die kerk soos ‘De moderne asprofeet’, ‘Het Serpent en het aanbeeld’. Soos alle polemiese werk het dit waarde as spieëlbeeld van wat daar aan gis was in die gemeenskap maar origens is dit soos alle jeug-hekelwerk waardeloos op sigself as verskuns. Op die kweekskool op Stellenbosch het hy vier jaar lank onder prof. Hofmeyr gestudeer, maar die atmosfeer en die rigting was vir hom te Engels en te liberaal. Hy slaan die aanbod af om in Nederland sy teologiese studie te gaan voortsit, weens die heersende liberalisme daar en die voorwaarde verbonde aan die aanbod van 'n professoraat aan die kweekskool, daar hy met die heersende, na sy opvatting nie streng genoeg gereformeerde, rigting nie sou kon saamgaan nie. Na voltooiing van sy studie, het hy 'n reis onderneem na die noorde in 1873 waar hy as proponent van die Nederduits Gereformeerde Kerk orals in die Republiek, waar die Hervormde Kerk van ds. Van der Hoff die heersende staatskerk was, gepreek het. Hieruit het 'n interessante reisbekrywing voortgevloei wat in Elpis 1874 gepubliseer isGa naar voetnoot1). Tekenend is die voortsetting van die populêre dagboek-reisjoernaal-genre. Du Toit het veral sy bewondering geuit vir wat sy mede-Boere, sy volksgenote in die noorde tot stand gebring het. Hy verklaar ‘en zelfs in de burgerlike samenleving zal men verbaasd staan als men de maatschappij aldaar uit dit oogpunt beschouwt, om te zien hoe deze ,uitgeweken boeren' zichzelve een staatkundige en maatschappelijke opvoeding hebben gegeven. Een vrije Republikeinse geest heerst gevolgelik in het huisgezin, de staat en de kerk’. Terug in die Kaapkolonie, het ds. Du Toit in die Moederkerk, | |
[pagina 67]
| |
Kaapstad, waargeneem vir ds. Heyns en daarna vir ds. A. Murray op Wellington. Ook was hy 'n kort tydjie werksaam op Tulbagh in die afgestigte gemeente Kruisvallei voor hy beroep is na die Noorder-Paarl waar hy, soos alle profete in eie land, die grootste eer maar ook die diepste smaad sou ondervind. In opdrag van die predikant van Wellington, en in samewerking met Hoogenhout, was hy op Tulbagh besig om die metodistiese Engelse liedere van Sankey wat op sommige van die Nederduits Gereformeerde gemeentes in die Kaapkolonie en elders 'n geweldige houvas gekry het, in Nederlands te vertaal. Die kwaad van denasionalisering sou gepropageer eerder dan gestuit gewees het, as hierdie vertalings van liedere wat in hul wese vreemd is aan die Afrikaner, sou ingeslaan het. Alleen as oefening in de verskuns het die toekomstige digter baat by de vertaling gehad. Sy gerugmakende pamflet, sy eerste afsonderlike publikasie De Christelike School in haar verhouding tot Kerk en Staat is ook op Tulbagh opgestel. Dit het in 1876 soos 'n donderslag geval in die Britse Kaapkolonie, wat toe al 'n paar jaar verantwoordelike bestuur besit het, oor 'n numerieke meerderheid van Afrikaanse stemme in die parlement beskik het maar nog moes leer hoe om gewonne regte in praktyk te bring en 'n skool van eie gading af te dwing. Geskool deur die groot leermeesters Van der Lingen en Pannevis het Du Toit met groot toewyding en met insig, kennis van sy vak en die aanverwante literêre vakke vergaar; met eie oë het hy sy landgenote van suid en noord betrag, in die praktyk gestaan in Kaapstad, Wellington, Tulbagh. Sy christeliknasionale insigte is beter bevredig deur Burgersdorp waar 'n Gereformeerde Teologiese Skool in 1869 geopen is met di. D. Postma en J. Lion Cachet as eerste werkkragte wie se taak dit nie alleen was om die studente in die teologiese vakke op te lei nie maar om hulle ook die nodige literêre opleiding te gee. 'n Beter sentrum as Stellenbosch, ver weg van die verengelste Kaapstad, in die hart van die onvervalste boerebeskawing van die distrik Albert van die Kaapkolonie, was Burgersdorp, in 1844 Klipdrift in die Boeremond gedoop, dan ook bepaald vir wie streng gereformeerde, christelik-nasionale ideale daarop nagehou het. Op taalkundige en godsdienstige gronde sou hy die Afrikaanse taal verdedig en verhef tot skryf- en literêre taal, die | |
[pagina 68]
| |
Hollands-Afrikaanse nasionaliteit as selfstandige eenheid propageer op grond van bloedverwantskap wat oor alle staatsgrense van Kaap tot Transvaal heenskry. Die roering in die volk was daar, hoofsaaklik danksy die geweldige prestasie buite die grense van die KolonieGa naar voetnoot1) deur dié deel van een en dieselfde Boerevolk wat die ekspansie-vermoë besit het om hul los te woel uit die Kaapkolonie ten spyte van die materiële offers wat dit geverg het; wat volhard het teen binne- en buitelande seë van teenspoed en uitgebloei het ‘tot eie nasie-geen imitasie’ soos die seun van S.J. du Toit dit later sou uitsing in ‘Trekkerswee’. Die voorbereidings van die nuwe fase in die ontwikkelingsgang van ons kultuurgeskiedenis is getref met die strewe na 'n Bybelvertaling. In die persoonlikheid van S.J. du Toit het die betekenis van Hollandse onderwys vir 'n volk wat geen Nederlandse ooit was nie maar 'n hoër eenheid in wording is sinds 1652 van hoofsaaklik Nederlandse maar daarnaas ook Franse en Duitse en ander Wes-Europese elemente, gestalte gevind. Die Genootskap van Regte Afrikaners met die uitgesproke doel ‘om te staan ver ons Taal, ons Nasie en ons Land’ het 'n historiese noodwendigheid geword. Die proses van integrasie van die Hollandse Afrikaner het aangevang op kultuurgebied. | |
2. Die genootskap van regte Afrikaners.Die oprigters van die ‘Genootskap van Regte Afrikaners’ wat op 14 Augustus 1875 in die Paarl bymekaar gekom het, die onderwysers C.P. Hoogenhout en D.F. du Toit (oom Lokomotief), die teologiese student A. Ahrbeck, die aspirant onderwyser S.G. du Toit, die wynboere G. Malherbe, D.F. du Toit (Dokter) en P.J. Malherbe, blyk by dieper studie net die goud te wees waarin die diamant S.J. du Toit geset is. Sy leermeester Pannevis was nie aanwesig nie, het wel aangesluit op die derde vergadering, maar in 1877 alweer bedank vir 'n deel om gesondheidsredes, waarskynliker om verskil in insig. Die ouer gees (Pannevis) was hoofsaaklik vervul van sy lieflingsidee, 'n Afrikaanse Bybelvertaling; | |
[pagina 69]
| |
sy taalwetenskap moes dien om sicle vir die Koninkryk Gods te wen. Wie opkomende genie (Du Toit) daarenteen was in die eerste plek 'n politieke genie; sy taalwetenskap moes tot volksbewussyn voer. As produk van die voortskrydende volksontwikkeling kon Du Toit nie die suiwer godsdienstige alleen nie, maar moes hy die nasionale be-oog. Later het o.a. eerw. J.P. Dempers, J.W. van der Rijst, G.R. von Wielligh tot die Genootskap toegetree. Ander soos dr. J.W. Brill het sonder om aan te sluit, die juistheid van hul taalstrewe bevestig met koel wetenskaplike insig, tipies van 'n verlede, waarin teorie en praktyk van 'n wetenskap nog geskei was. Nog ander, soos F.W. Reitz, het hul morele steun daaraan verleen, maar dit bly alles slegs noodsaaklike agtergrond, gunstige vatting vir die fonkelende steen S.J. du Toit. Naam, statute en huishoudelike reëls van die Genootskap is opgedra aan 'n kommissie maar in die ‘Algemene’ en ‘Aparte Bepalings’, soos in alles, merk ons maar al te duidelik die hand van die gebore leier Du Toit. Onder die vernaamste bepalings kan genoem word die tweede, vierde, negende, tiende, elfde en sewentiende waarin onderskeidelik neergelê word dat: Die doel van ons Genootskap is om te staan ver ons Taal, ons Nasie en ons Land; Op al onse vergaderings en in alle officiële stukke moet die Afrikaanse Taal gebruik worde; Ons eerste werk sal wees om alle maande 'n blad uit te gê, wat die naam sal dra van Di Afrikaanse Patriot, in die vorm van 'n boekie van sestien (16) bladsy'e; Van tyd tot tyd word daar prysvra'e uitgeskrywe; 'n Woordeboek en Spraakkuns gé ons uit so gou as mo'entlik, en verder ander skoolboekies; Idere vergadering sal met gebed geopen en gesluit worde. Uit hierdie bepalings blyk dat vir die eerste maal in die ontwikkelingsgang van die Afrikaanse kultuurgeskiedenis nie alleen raakgesien is dat taal die oer-feit van die gemeenskap, die ‘pacte social’ self is nie maar nou ook en doelbewus die feit gepropageer word dat die betekenis van 'n taal in sy sosiale karakter alleen lê. Dit wil hoegenaamd nie sê nie dat alle geskrewene wat in 'n | |
[pagina 70]
| |
ander ouer nouverwante taalvorm sinds 1652 voorafgegaan het met hierdie insig waardeloos geword het nie. Dit wil alleen sê daar kom 'n nuwe wending in die kultuurontwikkeling van die Hollandse Afrikaner. Die volk tree 'n nuwe stadium in, die stadium van bewuswording maar bly presies dieselfde volk; soos die Nederlandse volk presies dieselfde volk van Maerlant, net in 'n nuwe stadium, gebly het toe hul Algemeen Beskaafd Nederlands begin skryf het. En soos die Engelse volk van Caedmon presies dieselfde Angel-Saksiese volk gebly het in 'n verder stadium toe hul moderne Engels begin skryf het. Hierdie insig is op die huidige dag eers aan deurdring tot ou kultuurvolke wat 'n opstanding beleef en waartoe die Nederlande in hul berusting in hul staatkundige gespletenheid miskien nooit sal kom nie. Daar is twee soorte van denke en gevolglik twee gebruike van taal nl. aan die een kant die wetenskaplike of ‘vrye’ denke met vaste begrippe waarvoor die taaltekens onveranderlike waarde het soos die H2O van die chemicus vir ‘water’; en aan die ander kant die gewone taaldenke waarvoor die teken die woord, lewend en veranderlik, in sy betekenis toepasbaar op verskillende dinge isGa naar voetnoot1). Die eerste soort denke en soort ‘taal’ is onbruikbaar in die gewone lewe, hoe waardevol dit ook al mag wees vir die natuurwetenskap wat met vaste begrippe werk, en dit is juis tot hierdie soort taal wat Nederlands in Suid-Afrika geraak het teen die end van die 19de eeu. Hoe vaster die begrip was vir die Afrikaner bv. van die Bybel, hoe moeiliker was die oorgang na gewone taaldenke en gevolglik van Nederlands na Afrikaans as taalvorm. Vandaar die voorlopige onuitvoerbaarheid van die Bybelvertaling wat die uitgangspunt was van Pannevis en wat as direkte aanleiding gedien het tot die eerste bespreking waaruit die Genootskap voortgekom het. Bewus of intuïtief of albei het die groot intellektueel en gevoelsmens Du Toit dit geweet. Op onmiddellik bereikbare ideale is die voornemens om 'n Afrikaanse volkslied, 'n eie blad, 'n woordeboek en 'n grammatika en 'n vaderlandse geskiedenis uit te gee dan ook gebaseer. Die notule van die eerste vergadering meld dat S.J. du Toit voor- | |
[pagina 71]
| |
stel dat al die lede ‘so veul as mo'entlik is, die Afrikaanse Volkslied sal versprei en die gevoelens van mense daaro'er sal hoor. Dan kan ons dit naderhand op naam van die Genootskap verbeter en uitge.’Ga naar voetnoot1) Hierdie geïnspireerde en inspirerende ‘Afrikaanse Folksliid’, ‘'n Ider Nasie het syn land’ letterkundige vrug van samewerking van S.J. en D.F. du Toit, Pannevis en Hoogenhout wat oorspronklik in De Zuid-Afrikaan geplaas is, het roerend die insig en strewe van die klein groepie vertolk. Die Afrikaner soos elke volk, elke eenheid van verlede, hede en toekoms, van bloed en strewe op eie bodem, het sy Land, sy Taal, sy Wet, sy Reg, sy Tyd. Sy vertroue op en geloof in God waarborg ‘'n dag fer ons oek, ja’, ‘Want al di nasiis het één God.
Hy regel ider folk syn lot;
Hy het fer ider folk syn taal,
Syn land, syn reg, syn tyd bepaal.
Wi dit ferag sal Syn straf dra.
O God, beskerm Suid Afrika!’
Nie minder treffend want nie minder uit die hart ontstaan en met sterke, moedige pen woordvorm gegee, is die manifes wat eweneens vir die eerste maal in De Zuid-Afrikaan verskyn het en daarna in Die Afrikaanse Patriot en in pamfletvorm versprei is. Gerusstellend en kalmerend lui die aanhef: ‘Die Genootskap van Regte Afrikaanders groet al hulle landgenote en wens hulle vrede.’ Waarskuwend, krities en kragtig strewend is die slot, fris en direk die styl van die geheel: ‘Mar daar is daarom drie soorte van Afrikaanders. Dit moet ons in die oog hou. Daar is Afrikaanders met Engelse harte. En daar is Afrikaanders met Hollanse harte. En dan is daar Afrikaanders met Afrikaanse harte. Die laaste noem ons Regte Afrikaanders, en die veral roep ons op om an ons kant te kom staan. En wat gaat ons maak? ...... Regte Afrikaanders, ons roep julle op om same met ons te erken dat die Afrikaanse taal ons | |
[pagina 72]
| |
moedertaal is wat onse Liewe Heere ver ons gege het; en om same met ons te staan ver ons taal deur dik en dun; en nie te rus nie vóór dat ons taal in alle opsigte algemeen erkend is as die volkstaal van ons land.’ Die maandblad wat onmiddellik in die lewe geroep is, Di Afrikaanse Patriot, het aanvanklik as redaksie-adres gehad ‘Oom Lokomotief - kantoor De Zuid-Afrikaan’. Die agtereenvolgende redakteurs tot 1892 was C.P. Hoogenhout, J.W. van der Rijst, M.L. Rousseau, D.F. du Toit, D. Psn., wat die redaksie-adres as vaste bynaam gekry het. Maar hoewel S.J. du Toit eers na 1892 openlik optree as redakteur, na daar in sy politieke insigte so 'n wending gekom het dat sy mede-stryers hom nie meer kon volg nie en hulle uit die redaksie tree, beheers hy tog uit die staanspoor uit die hele onderneming. Die opgang wat die blad gemaak het na die eerste moeilike jare agter die rug was, het geskied ondanks de taal, ten spyte van die Afrikaans, 'n taalvorm wat uiterlik van Nederlands sterk afgewyk het in sy (onnodige?) ultra-fonetiese spelling. Die populariteit was te danke aan die nasionale koers op politieke gebied wat die koerant ingeslaan het en die uitnemende voorligting in politieke sake wat dit verskaf het aan die plattelandse lesers. En die politieke genie van die groep was S.J. du Toit. In 1878, toe die finansiële posisie van die onderneming haglik was, kon hy 'n sterk pleidooi lewer - wat egter op die verset veral van D.F. du Toit afgespring het, - om die uitgestoke hand van die politieke leier J.H. Hofmeyr, ook op taalgebied aan te neem en saam te werk met ‘Het Nederlandse Genootschap’ wat sou opgerig word. Deur Di Afrikaanse Patriot in eenvoudige Nederlands i.p.v. Afrikaans voort te sit, wou hy 'n set op die politieke skaakbord maak om die nasionale eenheid, die politieke integrasie van die Hollandse Afrikaner te bevorder. Daarvoor en ook miskien in 'n vlaag van mismoedigheid, was hy selfs gewillig om die Afrikaanse taalvorm wat die simbool is van hierdie oerfeit van die eenheid van die gemeenskap, tydelik op te offer. Gelukkig is die offer nie geverg nie en het die Genootskap in homself die nodige veerkrag gevind. Vir diegene wat hul nog te veel erger aan die Afrikaanse taalvorm, bring Di Patriot daarop 'n byblad in Nederlands ‘De Tolk’. Gelyktydig met die verwesenliking van die ideaal van 'n eic | |
[pagina 73]
| |
blad in eie taal, is 'n aanvang gemaak met die opstel van 'n Afrikaanse woordeboek en 'n grammatika. Eers in 1902 verskyn die Patriot Woordeboek, Afrikaans-Engels, Engels-AfrikaansGa naar voetnoot1). Al in 1876 egter, vermoedelik van die hand van Pannevis wat hom in 'n brief aan HoogenhoutGa naar voetnoot2) daartoe bereid verklaar het, verskyn die Eerste Beginsels van di Afrikaanse Taal wat in 1882 'n tweede druk beleef. By- en omgewerk in 1897 deur Du Toit kry dit die titel van Fergelykende Taalkunde fan Afrikaans en Engels. Hiervan het 'n verbeterde herdruk in 1902 verskynGa naar voetnoot3). Die herdrukke is 'n bewys dat die grammatika in 'n behoefte voorsien het en hoewel begrypelik chauvinisties en onvolledig, getuig die vergelyking en kontrastering van die twee landstale tog van goeie insig in die wese van die Afrikaanse taal as die ‘pacte social’ van die Afrikaners. In 1877 verskyn, ook onder die naam van die Genootskap, maar weer hoofsaaklik uit die pen van Du Toit, Di Geskidenis van ons Land in di Taal van ons Volk wat in 1895 'n tweede druk beleef. In die korrespendensie in De Zuid-Afrikaan in 1874 met Klaas Waarzegger Jr. het Ware Afrikaander betoog dat die allereerste wat in Afrikaans moet geskryf word, is 'n vaderlandse geskiedenis en hy het die daad by die woord gevoeg. Een van die vernaamste bronne was die Nederlander G. Lauts, skrywer van De Kaapsche Landverhuizers (1847) en Geschiedenis van de Kaap de Goede Hoop (1854), werke wat aan die lesers voorgehou is omdat hul tot op datum dat sy boek verskyn die enigste waaragtige beeld van die verlede van die Afrikaner inhouGa naar voetnoot4). In Di Geskidenis van ons Land in di Taal van ons Volk word veel aandag gegee aan die Franse Hugenote, dié volkselement wat, hoewel nie | |
[pagina 74]
| |
die primêre nie in die nuwe sintese, tog 'n gewigtige aandeel gehad het in die vorming van die Afrikaanse volksaard en karakter. Die verlede van 1652 af word uit Afrikanerstandpunt uit bekyk en die partydigheid en onbetroubaarheid van die Engelse geskiedskrywers van ‘Cape History’ aan die kaak gestel, in die natuurlike, frisse styl van die joernalis. As die skrywers by die nuwe vaderlandse geskiedenis kom, veroorloof hul hul selfs 'n tikkie ironie waar gevra word ‘Klaas Waterboer, deur wie sou hy tog opgestook wees? David Arnot seker nie!?’ Die polemiese van 'n strydskrif kom telkens om die hoek loer; maar dit was die juiste teëwig vir die Engels-imperialistiese geskiedskrywers van ‘Cape History’ waardeur hierdie werk van die vaderlandse geskiedskrywers onskatbare waarde vir sy tyd gehad het. Hoogenhout, Pannevis, Gideon Malherbe het almal saamgewerk aan die geskiedenis maar die hoofsamesteller was S.J. du Toit. 'n Publikasie van die ‘Genootskap van Regte Afrikaners’ wat groot byval gevind het, was Die Afrikaanse Almanak waarvan die eerste uitgawe in 1877 verskyn het. Die wapen met die lyfspreuk van die Genootskap, ontwerp deur G.R. von Wielligh, het op die buiteblad gepryk, maar die vernaamste bydraes is heel waarskynlik uit die pen van S.J. du Toit, nl. dié oor die Hugenote en ‘'n korte O'ersig van die Geskiedenis van ons land.’ Die leuse bly ‘één land, één volk en één taal’ en die beproefde middel om die doel te bereik, kennis van die verlede bevorder, word dus weer aangewend. Daar is 'n teks vir elke dag van die jaar en 'n versie vir elke maand, meestal met 'n godsdienstige strekking. Die nasionale en die godsdienstige bly onafskeidbaar. Dit is ook die geval met 'n Spel- en Leesboek vir Afrikaanse Kinders saamgestel deur J.W. van der Rijst wat die Genootskap in 1878 uitgegee het. Die hele leerboek in die volkstaal asem 'n nasionale en 'n godsdienstige gees. Drie jaar na die verskyning van die vaderlandse geskiedenis kom in 1880 die Geskiedenis van die Afrikaanse Taalbeweging, ver vrind en vijand uit publieke en private bronne bewerk deur 'n lid van die Genootskap van Regte AfrikanersGa naar voetnoot1). Die lid was | |
[pagina 75]
| |
S.J. du Toit self. As tydgenotelike bron van informasie is hierdie geskiedenis van die eerste jare van die doelbewuste strewe om Afrikaans tot skryftaal te verhef enig in sy soort. Daarin word behandel die vroegste propaganda in en vir Afrikaans, die oprigting van die Genootskap van Regte Afrikaners, die saak van die Bybelvertaling, die eerste publikasies, veral die grammatika, waarmee hy besonder ingenome is. Wat die waarde daarvan nog verhoog is dat verspreide oorspronklike stukke soos die korrespondensie van Ware Afrikaander in De Zuid-Afrikaan en die lesing van dr. J. Brill op Bloemfontein in 1875 oor ‘De Landstaal’ hierin opgeneem en vasgelê is. Maar dit openbaar pynlik een van die minder mooie trekke in die karakter van die skrywer, nl. sy eersug. Van erkentlikheid aan sy groot leermeester Pannevis is daar geen sprake nie; dié se uiters belangrike rol net soos dié van Hoogenhout, in die ontstaan van die beweging word so goed as doodgeswyg, 'n ydelheid en 'n eersug wat bitter gewreek word aan die end van sy lewe, toe 'n nuwe geslag die rug op hom gedraai het en hom en sy geniale werk eenvoudig genegeer het as rigsnoer by die verder uitbou van die kulturele lewe. Hy redeneer dat 'n Vrywillige Konfederasie wat uit die volk self voortkom, die Afrikaner-Bond, en nie deur Engeland opgelê is nie, die voorwaarde sine qua non is vir die nasionale ontwikkeling en in die weg daarvan staan - die Engelse vlag, simbool van vreemde oorheersingGa naar voetnoot1). Vandaar dat die mees geïnspireerde liedere uit die anneksasie, en tydens die eerste Vryheidsoorlog en op die glorieryke oorwinning, vlagliedere is. Dit klink in die lied ‘Transfaalse Stemme’ soos die toon van 'n sketterende koperinstrument, ondiep, hortend maar skel, oorverdowend; wie ore het om te hoor, moet teen wil en dank hoor dat die ‘faders flag’ hoe gehawend ook al, nooit neer te haal is nie: | |
[pagina 76]
| |
‘Ons hys nou weer ons faders flag;
Ferpletter ons deur julle krag,
Ferniil, fertrap ons arme land,
Bring julle dwinglandy tot stand,
Ferbreek, ferskeur ons Fryhydsband;
Haal neer nou weer ons faders flag:
Fermorsel ons deur julle mag; -
Di Reg sal altyd lewend bly;
Di Hemel sal regfêrdig bly.’
Dié vers het in Europa ontstaan, waar Du Toit in 1878 op reis was om op krag te kom en as een van die vrugte waarvan sy opgewekte reisverhale verskyn het: Op Reis door Duitsland, Zwitserland, Italië, Egypte, Palestina, Turkije, Hongarije, Oostenrijk, Frankrijk, België, Holland en Engeland (1881) en Bijbellanden Doorreisd (Egypte en Palestina) (1883)Ga naar voetnoot1). In die vreemde groei sy wil tot verset, versterk sy weerstandsvermoë met die toename van kennis van die kulturele en politieke omstandighede van ouer Europese volksgemeenskappe. Europa was vir hom, benewens sap vir nuwe lewe, 'n groot leerskool soos hy self getuig in sy brosjure Jong Afrika, bij Oud-Europa ter School. As Di Patriot na die oorlog 'n prys uitloof vir die beste Transvaalse volkslied wordt dit volkome juis toegeken aan die onsterflike ‘Transvaalse Fryhydsliid’ van S.J. du Toit, wat jubelend opklink maar onmiddellik dreigend afwerend vervolg asof gekonsipieer in 'n voorgevoel dat die gevaar slegs kortstondig teruggeslaan is, dat die geluk van korte duur kan wees, dat die volk paraat moet bly: ‘Di Fiirkleur fan ons dierbaar land,
Di waai weer o'er Transvaal,
En wé di Godfergete hand,
Wat dit weer neer wil haal!
Waai hoog nou o'er ons diirbaar land,
Waai, Fiirkleur fan Transvaal!
En wé di Godfergete hand
Wat jou ooit neer wil haal!’
| |
[pagina 77]
| |
In 1883 toe hy as lid van die Transvaal Deputasie, 'n triomftog deur die stamverwante Nederlande gemaak het, word sy kunstenaarsoor gestreel deur die verse en liedere waarmee die deputasie toegejuig is en by sy terugkeer verskyn sy versameling Loverkransen voor Transvaal gevlochten en de Transvaalse Deputatie aangeboden, tijdens haar bezoek in Europa ten jare 1883 en 1884Ga naar voetnoot1). Weelderig het die geleentheidsvers getier in Nederland en ook Di Patriot het die geleentheidspoësie beoefen. Die versameling besluit met as enigste Afrikaanse bydrae 'n ‘Welkomstgroet aan het Transvaalsche Gezantschap, bij zijn terugkomst in Zuid-Afrika’ (in Nederlands) deur die erkende versmaker van die Genootskap van Regte Afrikaners, Hoogenhout, waarin die digter by voorbaat waarsku teen moontlike ydelheid en hoogmoed onder al die versiering met lowerkranse: ‘Houdt hen needrig als voor dezen;
Geef ons hen als Broeders weêr;
Laat hen tot geen valstrik wezen:
Al die wierook, al die eer.’
Uit Du Toit se eie pen verskyn in 1886 Alweer op Reis, di slag as Lid van di Transvaalse Deputasi in 1883-4Ga naar voetnoot2), opmerklik opgewek na buite soos al sy reisverhale maar tog op 'n somber gestemde ondertoon. Hy het hom namelik in 1882 die benoeming tot superintendent van onderwys in Transvaal laat welgeval en na Pretoria verhuis en Transvaalse burger geword. Hy word die opsteller van die Transvaalse onderwyswet van 1882, op christelik-nasionale grondslag gebaseer, in die toeligting waarvan hy o.a. verklaar: ‘Wij willen dat onze kinderen de gelegenheid hebben om alles wat nuttig is te leren, maar zij moeten beginnen met het noodzakelikste. Zij kunnen andere talen leren zo zij willen, Engels, Duits, Latijn, enz., maar eerst onze Hollandse taal. Zij kunnen leren zingen Kinderharp, Sankey, enz., zo zij het verlangen, drieof vierstemmig; maar laat hen eerst onze Psalmen en Gezangen kunnen zingen. Laat hen desverkiezende Geschiedenis, Aard- | |
[pagina 78]
| |
rijkskunde, enz. leren; maar altoos in de eerste plaats dié van ons eigen land en daarna van andere landen. Zo doet men in alle landen en waarom moeten onze kinderen dan tot vreemdelingen gemaakt worden door slechts het vreemde te leren?’ Maar die eenvoudige nasionale waarhede is juis die moeilikste om te vat en vir die Afrikaanse praktiese nasionalisme, die volgroeide volkse van Du Toit, was Transvaal met sy konsessiepolitiek van die Boere-leier, Kruger, sy aanwassende leër van Nederlandse amptenare as kollegas aan die een kant en Engelse geluksoekers aan die ander kant, nie ryp nie. Na sewe jaar was hy terug in die Paarl, 'n droewiger maar wyser man wat sy skeppende genie nooit weer aan die amptenaredom sou leen nie. In Transvaal is sy vrou oorlede en uit droefheid is gebore sy Lijden en Vertroosting bij het afsterven mijner geliefde echtgenote, 'n werkie wat nie in die handel gebring is nie maar slegs onder intieme vriende versprei is. Beter as uit hierdie prosa of uit die lyksang op haar dood, peil ons die droefheid, maar taaie lewenswil in sommige van die Transvaalse Volksliedere van die begaafde man, wat positief helder kon sien en ten koste van wat ook, die onvolkomene na eie wete wou verbeter. ‘Hendrik en Letti’, gedateer Pretoria 1863, is die verhaal van 'n deur die oorlog verwoeste jong huweliksgeluk waarin die agtergrond van die botsing met wapengeweld, breedvoerig geskilder maar ook veral die aandoeninge van die persone gevoelvol weergegee word. Nie die liggaamlike lyding van die boere-generaal en sy manskappe in die eerste plek nie, maar die geestelike lye van die fynbesnaarde, sterke vrou, vind weerklank in sy siel en neerslag in sy vers. Tastend, vraend die slot van hierdie historiese vertelling: ‘Min 'n trouwe hart één keer
En dan hiir op aard nooit weer?’
Op hierdie soort gebore kunstenaars-politici wat dit met die oorgelewerde of opgedronge toestande nie kan vind nie, maar persoonlik ook geen ontlading in geweld soek nie, wat voortgedryf word deur hul sug na verandering, in werklikheid hul vurige begeerte na vooruitgang van hul ideaal van volksintegrasie, rus die hele beskawing. | |
[pagina 79]
| |
Nehemia als Volkshervormer, ook ons ten voorbeeld (1885)Ga naar voetnoot1) is 'n tekenende geskrif van die Superintendent van Onderwys in die Suid-Afrikaanse Republiek voor hy die Republiek verlaat het in 1889 om terug te keer na die Kaap, die brandpunt van die geestelike worstelstryd. Onder die skuilnaam ‘Ware Afrikaander’ het hy jarelank met krag van oortuiging die oprigting van 'n nasionale skool bepleit en toe dit hom te moeilik geblyk het om in Transvaal sy onderwysbegrippe in praktyk te bring, het hy hom weer met nuwe ywer gewerp op die ‘Gedenkschool der Hugenoten’ in Daljosafat waarvan hy ook die oprigter was in 1882. In verlede en hede is die groot onderwys-probleem steeds dié van die voertaal gewees. Die standpunt van Du Toit het hierop neergekom: ‘Hollans en Engels en alles wat tot 'n beskaafde opvoeding behoor, moet grondig geleer worde, mar alles in ons eie taal en vollens ons eie beginsels.’Ga naar voetnoot2) Die grondslag van hierdie beginsels was vir hom die christelike, meer bepaald nog die calvinistiese, waarvan al die werk van hierdie rustelose, veelsydige man deurtrokke is, en die nasionale. Op sy eerste pamflet De Christelike School in haar verhouding tot Kerk en Staat (1876) het direk oor dieselfde onderwerp geskrifte gekom soos Repliek op alle recensien van het Werkje: De Christelike School in hare verhouding tot Kerk en Staats (1877)Ga naar voetnoot3), De Vrije School door het Kaapse Parlement onrechtvaardig veroordeeld (1886)Ga naar voetnoot4). Oor al die terreine wat sy geskrifte beslaan, kerklik, politiek, opvoedkundig, taalkundig, literêr ens. het in die daelikse werklikheid die newel van tweeslagtigheid, van twee-taal-heid (nog nie tweetaligheid nie) gehang. Hy persoonlik het tot op die grond van die taalprobleem, wat meteen 'n volksprobleem is, deurgedring. En hoewel geboortig in 'n eeu wat in Europa in die teken van die individualisme gestaan het, staan al sy werk in die teken van die ongedifferensieerdheid van 'n Boerebevolking waartoe die kollektivisme van 'n Europa van later eers sou terugkeer. Vandaar al | |
[pagina 80]
| |
die nadruk op die huisgesin en op die reg van die ouers en die Kerk, die groot samebindende mag van die Afrikaner, om die opvoedkundige beginsels neer te lê vir die uitvoering waarvan die Staat, die mag van de oorheerser in dié geval, slegs die nodige geld moes verskaf. Oor beginsels kon hy met 'n vuur en 'n welsprekendheid disputeer wat hom die skrik van uitheemse genootskappers en die sektariste veral op kerklike gebied, gemaak het. Oor sy groot beginsel, die ‘vrye’ skool op calvinistiese basis teenoor die algemene onderwys van die staat sonder verpligte godsdiensonderrig, was hy nooit uitgepraat en uitgeskryf nie. By ideologie het hy dit nie gelaat nie maar syne in die praktyk so ver as moontlik omgesit. Vir die bevordering van hierdie opvatting van verpligte Bybel- en Katkisasie-onderwys het hy ook in Afrikaans opgestel 'n Handboek ver Godsdiins-onderwys (1892)Ga naar voetnoot1) 'n uitstekende handleiding vir skool-, katkisasie- en huisgebruik. Van die dispute wat hy orals in die land gehou het en wat enorm bygedra het tot sy groot bekendheid, het o.a. in druk verskyn Matigheid tegenover afschaffing, 'n openbare disputasie in Pretoria gehou in 1886 tussen die ‘hoogwaardige hoofdtempelier van de hoge loge van midden Zuid-Afrika’ (Theo Schreiner) en die Superintendent van onderwys van wie kort te vore verskyn het De Vrucht des Wijnstoks en haar gebruik volgens de SchriftenGa naar voetnoot2), pamflette wat in 1894 herdruk is in een band met toevoeging van 'n derde stuk ‘matig drinken aanbevolen, door Sir Duce Duckworth’; De Leerstukken der Sabbatariers, 'n disputasie tussen hom en die sabbatariër D.G.J. Scholtz; Disputatie over de verschilpunten tussen de Apostoliese Broeders en de Leer der Nederduits Gereformeerde Kerk (1910) om slegs enkel te noem. Die disputasie, die debat, die samespraak, is die 19de eeuse vorme by uitnemendheid wat getuig van geestelike worsteling om deur die vaagheid en verwarring van ou kennis heen te dring en as propaganda-vorme, nuwe insigte te versprei en bekeringswerk te verrig. Daar was slegs een groot volksboek, die Bybel, wat die daelikse | |
[pagina 81]
| |
voedsel was van iedere volksgenoot. Op teologiese gebied publiseer Du Toit voortdurend en onder die drukke werksaamhede deur ryp die plan van die Bybelvertaling in Afrikaans, die eie volkstaal. Byna al sy teologiese geskrifte is in die kanseltaal Nederlands geskrywe en die meeste na die gees 'n voortsetting van die gedagtesfeer van Van der Lingen, van wie hy 'n bundel Tijdpreken uitgegee het met aantekeninge voorsien. Genoem kan word De onvervulde Profetien (1878)Ga naar voetnoot1 waarvan 'n tweede druk in 1880 gekom het en in 1899 'n uitgawe onder dieselfde titel, maar met uitgebreider aantekeninge van toepassing op die eie tyd en die profesieë na tydsorde gerangskik; Een sprekend portret van de laatste dagen (1880) weer met verklaringe en toepassing op eie tyd; De openbaring van Jezus Christus (1896) waarvan 'n vertaling in Afrikaans in 1898 gekom het getiteld Di Openbaring van Jesus Christus gesiin deur sijn dinaar Johannes; De brief van Judas, als profetiese waarschuwing voor onze tijd (1899); Gangen der Eeuwen, met profetiese tydkaart - alles voortsetting van dieselfde eskatologiese verlange wat in die werke van Van der Lingen tot uiting gekom het, alleen meer toegespits, meer gerig op eie omstandighede. Uit verskillende bronne, breed opgeset, bewerk hy ook twee dele, hoewel die tweede deel onvoltooi gebly het, van De Schriftverklaarder of Bijbels-Dagboek (1907) waarvan hy in samewerking met andere in 1880 reeds 'n kleinere uitgawe besorg het, nl. Bijbels Dagboek. Van sy beste preke is gebundeld uitgegee getiteld De Verdorde Vijgeboom (1885), twee preke waarin hy veral op beginselvastheid die nadruk lê en De Huiskerk (1893)Ga naar voetnoot2), bevattende 'n vyftigtal preke benewens 'n soort Bybelgids vir die huisgesin. Na sy terugkeer uit Transvaal werp hy hom op die BybelvertalingGa naar voetnoot3). Die manne wat op 14 Augustus 1875 bymekaar gekom het om te beraadslaag oor 'n Bybelvertaling uit watter byeenkoms die Genootskap van Regte Afrikaners ontstaan het, het op 'n vergadering in 1878 besluit om nie die Statebybel te verafrikaans nie | |
[pagina 82]
| |
maar om na die bron en oorsprong terug te gaan. Dit was makliker gesê as gedaan. Hoogenhout alleen was so vol van die dringende noodsaaklikheid om 'n Bybel in Afrikaans te hê dat hy in dieselfde jaar nog die Evangelie van Markus uit die Statebybel vertaal het, 'n werkie wat egter nooit verskyn het nie. Op 'n vergadering in 1885 is die vertaalwerk aan S.J. du Toit opgedra en aan die hand gegee dat hy ‘hoofsaaklik die nuwe Engelse vertaling en die State-vertaling moes volg’, maar hy het volhard by die oorspronklike besluit om uit die grondteks te vertaal. In 1889 het drie proewe verskyn nl. 'n letterlike vertaling van Gen. 1 tot 3, 'n bewerking van 2 Sam. 5 en 6 en 1 Kron. 11 tot 16 en 'n vergelykende vertaling van Luk. 11:2-4 in die brosjure Di Bybel in Afrikaans, Dri Proewe. In 'n flinke inleiding word aangetoon hoe ver die saak gevorder het, twee planne van vertaling uiteengesit: 'n letterlike vertaling en 'n histories samehangende verwerking en aangegee wat sy eie voornemens is vir die verder verloop van die vertaling. Di Eerste Boek van Moses, genoem Genesis, het in 1893 gevolg, Di Evangeli vollens Matheus in 1895, Openbaring in 1898, Hooglied in 1905, Di Psalme in 1907, Handelinge en Markus in 1908, almal met belangrike toegevoegde aantekeningeGa naar voetnoot1). Die handskrif van Lukas het onuitgegewe gebly daar die dood in 1911 'n end aan sy werk gemaak het. Hoe juis sy uitgangspunte as vertaler was, hoe waardevol sy kommentaar en hoe getrou sy vertaling, het die Kollege van Bybelvertalers wat 'n kwarteeu later, in 1933, die taak verrig het, ondervind. Terwyl hy Superintendent van Onderwys in Transvaal was, het Du Toit op groot skaal gespekuleer in die goudvelde (ontdek 1886), want soos hy self vertel in Di Bybel in Afrikaans (1899): ‘met di roeping van di Genootskap voor my het ek 'n gelofte vir God gedaan: as die Heere my segen binne 'n sekere tyd en tot 'n sekere bedrag, dat ek net genoegsaam daaruit myn huisgesin kan versorge, dan sou ek ver alle betrekkings bedank, en my wy aan di Bybelvertaling.’ Die bedrag in sy gelofte bepaal, is verdubbel, maar ‘zoo gewonnen, zoo geronnen’ en reeds die volgende jaar | |
[pagina 83]
| |
het hy sy hele vermoë verloor. In die Bybelvertaling het S.J. du Toit troos en genesing gesoek vir die diepe kneusing wat sy titaniese siel gekry het deur teleurstelling, smaad en hoon, waarvan hy sy volle deel weg gehad het. Sy dramatiese worsteling met die lewe het ook hierin, soos in sy reise tydelike ontspanning gevind wat hom die krag verleen het om die geweldige lewenstryd van 'n openbare genie telkens opnuut aan te knoop. Met die Jameson-inval in Transvaal het daar 'n stuwing van verontwaardiging deur die hele Afrikaanse kultuurgebied gegolf wat die besef van saamhorigheid, die bewussyn van die volkse 'n end verder gestoot, en die taalprobleem wat identies is met die kultuurprobleem,Ga naar voetnoot1) 'n end digter by sy oplossing gebring het. Aan die taalkongres wat in 1890 in Kaapstad gehou is en waaruit ‘De Zuid-Afrikaansche Taalbond’ gebore is, is een-en-sewentig stellinge deur Du Toit voorgelê wat die volgende jaar uitgegee is onder die titel Afrikaans ons Volkstaal (1891) met 'n opdrag aan president F.W. ReitzGa naar voetnoot2). Onder die sewe hoofde van Afrikaans as moedertaal, landstaal, volkstaal, skryftaal, Bybeltaal, skooltaal, kerktaal word met onverbiddelike logika 'n pleidooi vir Afrikaans gelewer waarteen geen taaladvokatery ter wêreld iets kan inbring nie. Sy uitganspunt is: 'n taal word gebore, nie kant en klaar gemaak nie, dit groei altyd, dit is altyd in wording, dit het sy eie innerlike wette, dit is die portret van die gees van die volk, dit is die voertuig vir gedagte-wisseling waarvan die enigste betekenis in sy sosiale karakter lê. Skryftaal, 'n portret van die portret, moet die spreektaal volg en nie omgekeerd daaraan wil wette voorskryf nie. Waar daar 'n nasionaliteit is, sal daar 'n taal wees en wie 'n volk van sy taal wil beroof, handel in stryd met die volkereg. Altyd is hy egter ook taalpolitikus. Hy betoog nadruklik dat, deur Afrikaans te beoefen as skryftaal, die ‘Hollandse’ letterkunde nie oorboord gegooi word nie, hoewel van eerherstel van | |
[pagina 84]
| |
dié taal geen sprake meer kan wees nieGa naar voetnoot1). Daarmee en met tasbare bewyse in die vorm van publikasies van Di Patriot-drukkery het hy steeds die wind uit die seile gehaal van die teenstanders van Afrikaans wat vreesbevange was vir die prysgee van 'n erkende Europese letterkunde. Saam behoort hul te staan teen die algemene oorheersing van Engels en vandaar dat hy in die stellinge tot die slotsom kom dat 'n Afrikaanse Taalkongres gebiedend noodsaaklik is om 'n plan van samewerking te beraam as die twee partye mekaar nie kan oortuig nie. Die gedagte sou vyf jaar groei teen die verdrukking in, tot die Jameson-episode as klimaks die wesenlike taalteenstelling weer so verskerp het dat die onwesenlike proporsioneel so vervaag, dat nog in Januarie 1896 die voorstel werklikheid word en 'n taalkongres in die Paarl bymekaar kom onder voorsitterskap van S.J. du Toit. Die kongresgangers, sowat honderd verteenwoordigers uit alle dele van die landGa naar voetnoot2) het hulle verklaar ten gunste van die beginsel ‘skryf soos jy praat.’ Die Bybelvertaling is ter sprake gebring en die proewe van die vertaler goedgekeur. Maar die vernaamste uitkoms van die kongres was 'n nuwe Afrikaanse blad onder redaksie van Du Toit, wat op voorstel van J. Lion Cachet die naam van Ons Klyntji gekry het, - 'n blad wat tot Desember 1905 bestaan het. Die invloed van Di Patriot, wat honderde Afrikaans leer lees en skryf het, was aan taan omdat dit nou eenmaal vereenselwig was met die politiek van die redakteur waarin daar 'n wending aan kom was wat sy lesers nie kon aanvaar nie. Ons Klyntji sou tientalle leer beter skryf en was meteen 'n doelbewuste poging om literatuur en partypolitiek van mekaar te skei. In die eerste | |
[pagina 85]
| |
aflewering. Maart 1896, lui dit in dieselfde pakkende, frisse styl van die gebore joernalis van Di Patriot: ‘Met hartkloppings waag ek dit fer di eerste maal di drempel fan di deur o'er te stap; omdat ek self heel goed weet, hoefeul daar nog aan my ontbreek. As ek dit self ni goed sou weet ni dan sou daar frinde genoeg wees om my dit te vertel, want di tyding, dat ek an di kom was, het al heel wat anmerkings opgewek. Myn doel is: di lus en liifde fer ons moedertaal op te wek en an te kweek. Ek kan ni anders praat as ek geleer het, en dit is Afrikaans. Ek sal ni preek ni, dit kan ek oek nie. mar myn opvoeding sal ek, hoop ek, ni fergeet ni. O'er poletiik sal ek ni praat ni, maar as daar miskiin 'n woordji my ontfal, denk dan mar, dat 'n jonge mens partykeer onfersigtig is.’ Daar medewerking van beproefde kragte soos Hoogenhout en Cachet direk toegesê is, lê dit voor die hand dat dit swaar gegaan het om die belofte na te kom om oor die politiek te swyg, veral in 'n tyd wanneer die skynbaar effe geskiedenis aan verkramp was en Kaapse partypolitiek en Transvaalse staatsbehoud (of ondergang) identiek was. Heftige verontwaardiging of vrolike spot word gelug in verse soos ‘Di mislukte Jameson Komplot’ deur Neef Jan en ‘Di Infal fan Jameson en syn Rowersbende’ deur Volbloed Afrikaner. In eersgenoemde heet dit volksetimologies besonder gevat en geestig dat Rhodes, die eerste minister van die Kaapkolonie, en tewens beheerder van die ‘Chartered-gespuis’ van Rhodesië, se kaart te vroeg rooi was; in laasgenoemde dat ‘Jiem syn seun’ mag deug as pilledraaier maar nie as krygsman nie, alles aan die adres van openbare vyande van die Afrikaner met wie Du Toit, hoewel agter die skerme, sy kragte aan meet was op die politieke skaakbordGa naar voetnoot1). Diep verskuil, oneindig meer gekompliseerd want steeds aanpassende aan die snel ontwikkelende tydsomstandighede, lê die nasionale politieke opvatting in sy eie verse wat die redakteur opneem, soos ‘Hoe die Hollanders die Kaap ingeneem het’Ga naar voetnoot2) of in ‘Nag en Dageraad in Matabele- | |
[pagina 86]
| |
land’Ga naar voetnoot1) altyd afwerend, strydend aan twee fronte, 'n Nederlandse en 'n Engelse, positief handhawend en bouend aan eie huis. In die grappige vers word by monde van Ou Danster, 'n Griekwa, raak skilderend vertel hoe die Kaap ingeneem is deur 'n volk van ruilhandelaars wie se handelsmoraal nogal te wense oorgelaat het. ‘Di Duusfolk kom, hul waai di doek,
Hul waai, en wys di koperdraad;
Hul wys di koper, waai di doek;
Maak tekens, plek fan praat;
Hul wys di koperdraad.
En ons wat Grikwas was breng fet,
Tamaai fet skaap en bok en bees;
Hul gé ons klyn stuk koper net;
Ons gé tamaai fet skaap en bees;
Ons was nog dom gewees.’
Oppervlakkig beskou, hoogs komies die Griekwa-mentaliteit, buitengewoon geskik vir populêre voordrag is hierdie siening van die ‘duusfolk’ wat in ‘'n wit ding, nes 'n skaap’ soos ‘'n grote watergans’ uit die seegat opkom. Dit vou sy vlerke op, gee kleintjies af en dié ‘sak af o'er die rant’ en beweeg landwaarts. Daar die Griekwas na vertrek van die ‘duusfolk’ hul ‘gepiir’ weet deur die ruilhandelaars, besluit hul om wraak te neem by die volgende verskyning van die ‘ding’. ‘En ons wat Grikwas was maak plan,
Ons maak toen reg ons boog en pyl,
Ons smeer di slang syn gif daaran,
Ons slyp toen skerp di fuurklip byl,
Wi Grikwa is, het pyl.’
Maar hulle onderskatting van die vyand en hul goedgelowigheid as hulle die ‘groot koper’ sien, word hul ondergang. Ironies is dit dat hulle self die ‘groot koper’ help ‘uitsleep op di land, daar op di droge sand’ en dan beloon word met: | |
[pagina 87]
| |
‘Di koper hoes; di derrems waai;
En in di lug di laaste man!
Wat leef di hardloop wat hy kan.’
Vir wie 'n politieke neus het, is dit die Afrikaner-standpunt in die hoogtyjare van ‘Krugers Hollanders’, van Transvaalse spoorweg- en ander konsessiepolitiek, ten opsigte van 'n Europese moondheid, Nederland, wat ons duidelik speur in hierdie vermaaklike vers, sogenaamd uit inboorlingmond opgeteken. Onmiskenbaar is dit dan ook dat die gedrag van die Nederlander in Transvaal die tendens vertoon het om hoe langer hoe minder te verskil van dié van die Britse imperialis ten opsigte van die AfrikanerGa naar voetnoot1). En deur teenwerking van spoorwegverbinding veral het die Transvaal die mede-Afrikaners in die Kaapkolonie hoe langer hoe meer van hom vervreemGa naar voetnoot2). Egter nog veel hagliker was die posisie aan die ander front. Hoogs merkwaardig is die dramatiese gedig ‘Nag en Dageraad in Matabeleland’ waarin die geeste van die Matabeles, onder aanvoering van Lobengoeloe en Silkaats, 'n krygsdans uitvoer en in woeste botsing kom. Fantasies-romanties die atmosfeer op die kruine van die Matabeleberge, 'n romantiek wat verhoog word deur die tipiese herhalinge in die taal van die geeste van die inboorlinge: ‘Kom, kroos van Matchobaan,
Kom, kroos van Matchobaan, hoor aan
Hoe julle, ontaarde lafaards,
Myn ryk het laat vergaan.’
Geïnspireer deur die onderwerping van die Matabeles deur die stigter van Rhodesië, lui die bittere klag van die Afrikaner by monde van die Kafferhoof: | |
[pagina 88]
| |
‘Ons land het net een fout,
Ons land het net een fout: di goud!
Daar hol di Rojes agter,
In lande warm en koud.’
Die digter laat die gees van Piet Retief die twisstorm die swye oplê met die strenge kalme uitspraak dat die Matabele-ondergang slegs tuiskoms op hul kop is van onskuldige Voortrekkerbloed. En ten slotte, as die geeste en die nag in hul kerker neergedaal het, sien die sanger in 'n visioen ‘'n spoortrein, handel, delwery, die Boere aan graan maai -’, hoor hy die aankondiging van die engel van die daeraad: ‘Eens is di goud
Ver Salomo hiir gehaal;
Di tempel word haas weer herbouwd,
Di goud sal weer daar straal.
Graaf, Delwer, hiir leg skatte meer
As Schebas Koningin beheer.’
Dit is vir die toekoms van die volk van Piet Retief waarvoor die verbeeldingryke Afrikaanse digter-politikus aan skerm was met die grote finansier Rhodes van die Britse imperium. Ter plaatse het hy die terrein gaan verken en die gedig, gedateer 9 September 1894, is geskrywe ‘tussen die geraamtes van gesneuwelde mense en perde’ en geplaas in Sambesia of Salomo's Goudmijnen bezocht (1895)Ga naar voetnoot1), een van die uitvloeisels van sy reis na Matabeleland in 1894. Veral na sy terugkeer van 'n Europese reis in 1890 tot aan die Jameson-inval, het Du Toit met Hofmeyr die noordelike politiek van uitbreiding van Rhodes sterk gesteun in Di Patriot en in die ander periodieke uitgawes, waarvan hy hoofredakteur was, De Getuige van 1882 tot 1903, De Paarl en Het Dagblad (1896-1897). Laasgenoemde is as proef in Kaapstad 'n tydlank as Hollandse dagblad (die enigste) uitgegee. Dit is die gangbare mening dat | |
[pagina 89]
| |
hy, die groot voorloper van die erkenning van die Taal as volkse grondslag van elke staatsbestel, deur sy samewerking met die Engelssprekende Rhodes hoe langer hoe meer van sy volk vervreem en die koers kwytgeraak hetGa naar voetnoot1). Maar soos in die politieke krisis oor die Adendorff-trek tussen Engeland en Transvaal, waarin hy bemiddelend, hoewel sterk aan die kant van eersgenoemde, opgetree het, het hy telkens 'n botsing wat noodlottig vir laasgenoemde moes afgeloop het, vermy of altans uitgestel. En as reële, gebore staatsman is sy hele strewe gerig gewees op die nasionale bewusmaking en kragontplooiing en opening na die noorde in belang van die handel van die Afrikaanssprekende volk in die staatkundig-verskillende dele van die land, tot hul altans 'n redelike kans sou hê om as één geheel uit die greep van Engeland los te kom. Aan alles terug te neem wat hul ontneem is, het hy as nugter-denkende mens gewanhoop en die Afrikaanse lotsgebondenheid met die ‘koloniale’ Engelssprekende aanvaar na 1890. Alleen was hy noodgedwonge genoodsaak om te hoop, en miskien ook digterlik-naïef genoeg om te glo, dat die Britse imperialis en koloniale Engelsman werklik in Engelse Afrikaner aan verander was, tot die ‘flater’ van die inval in Transvaal hom van die teenoorgestelde oortuig het. Toe het die samewerking dan ook opgehouGa naar voetnoot2), maar hy was vir goed bestempel met die betiteling ‘Rhodesman’ en, hoe skitterend ook, sy verantwoording in die geskrif Onze Politieke Aardbeving (1879)Ga naar voetnoot3) kon niks baat nie. Die volksgevoel tree in 'n ander stadium, die ganse verhouding tussen suid en noord verander ten gevolge van die skokkende gebeure, Kruger en sy Hollanders het gelyk gekry, die Bonds- | |
[pagina 90]
| |
manne ongelyk, alle foute van eersgenoemde word ineens goed gepraat.... en Transvaal as staat hol sy einde tegemoet soos Du Toit voorsien. Wantroue teenoor 'n broer wat 'n fout begaan het, vervaag nie in een dag nie, en gelyk gegee word, is nie bevorderlik vir selfkennis nie. In Sambesia of Salomo's goudmijnen bezocht is Du Toit reisiger, digter, politikus, geskiedskrywer gewees, 'n boek waarin die verskillende persoonlikhede in hom telkens afgewissel het en afwisselend aparte vorme gevind het, nl. reisbeskrywing, vers, pamflet, geskiedskrywing. In Di Koningin fan Skeba, of Salomo sijn oue Goudfelde in Sambesia (1898), vrug van dieselfde reis na Matabeleland, is hy romanskrywerGa naar voetnoot1). Wat hy in Sambesia in die vooruitsig gestel het, nl. om later ‘in de vorm van een histories roman, die oude tijden te doen herleven.... en u dan te doen beseffen, dat die ouden ook mensen waren, die leefden, gevoelden, beminden, haatten, vreugde en smart kenden evenals wij’, is nagekom en die historiese roman, 'n brok egte Afrikaanse letterkunde, as vervolgverhaal in Ons Klyntji geplaas van 1896 tot 1898 voor dit in boekvorm verskyn het. Die reisondervindinge weet hy op handige wyse te gebruik as agtergrond en as afwisseling vir die eintlike roman, menende om sodoende konsekwent sy opvatting deur te voer dat die mens van die verlede van gelyke beweging is as die mens van die hede. Dit is 'n tipiese opvatting van sy tyd, dat die historiese romanskrywer 'n hele tydperk uit die verlede weer lewend maak en na die algemeen-menslike in die figure soek. In werklikheid het die nasionale romantiek die eie tyd as uitgangspunt en word wat ooreenstem met die figure van eie tyd uit dié van die verlede gehaal en is dit die hede wat in die verlede geprojekteer is (en nie andersom nie) waardeur die teenwoordige des te duideliker, al hoe sigbaarder omlyn word. Die blywende betekenis van Di Koningin fan Skeba lê dan ook in die weerspieëling van die realiteit van die laaste jare van die 19de eeu. Daar is geen boek wat 'n sprekender autobiografie van | |
[pagina 91]
| |
Du Toit in die omlysting van sy tyd bring, as juis hierdie Bybelse historiese roman nie. Sprekend vir die opkomende internasionalisme in hierdie teorie dat die mens universeel is, in alle tye van gelyke beweging bly, sprekend van die opkoms van wetenskaplike opgrawinge in die 19de eeu in klassieke en Bybellande, sprekend van die verte-drang, die trekgees van die Afrikaner wat in dagjoernaal en reisbeskrywing sy mees natuurlike vorm vind, sprekend van 'n politieke worsteling met die probleem van kleurlinge en kaffers, sprekend van die opkoms van Afrikaanse Bybelvertaling en van die gebruik van Afrikaans vir woordkuns, sprekend van 'n tyd van goudontginning in rasende tempo en fantastiese drome oor alles wat goud vermag aan volksekspansie op die onmeetlike groot Afrikaanse kontinent. Vergesel van enige vriende, Neef Gideon en Neef Hendrik, en 'n tolk Henni, het die skrywer die moeilikste deel van die reis na die goudvelde van Salomo afgelê in 'n ossewaentjie waarvoor Klaas as drywer meegeneem is. Hul bevind hul tussen die ruïne van Simbabwe, waar die drade van die dubbele verwikkeling geweef word. Goed word die geheimsinnige atmosfeer aangedui deur 'n natuurskildering, waarin tipiese, romantiese ontroering sit: ‘Dit was al skemerdonker. 'n Donderweer broei an di lug wat bedek was met 'n digte fliïs fan fyne wolke. So nu en dan fal enkele grote druppels, nes enkele trane, bo uit die lug. Ongemerk was di son ondergegaan, en begin duisternis di aarde te bedek....’ ‘Di lug was stil en swoel. Hiir en daar sing 'n kriki, en tussenin steun 'n uil.’ Met die hulp van 'n toordokter, Umsalomi, ontdek hul 'n perkamentrol, wat verwys na die berg Afoer, waar die laaste Koningin van Skeba begrawe lê. Voor hul eindelik die berg met sy onderaardse grafkelder bereik, speel 'n hele reeks bont avonture hul af tussen die blankes aan die een kant, en die toordokter en Boesmans aan die ander kant, wat daarop uit is om die ondersoekers in die verderf te stort, poginge wat op die kritieke moment deur die vry onwaarskynlike goeie geluk altyd verydel word. Dit is die bekende truc van die avontuur-roman, waarin die handelwyse van die persone ongemotiveer is en grotendeels op toeval berus. Knap egter word hier terloops die afskuwelike praktyke van die toordokters en die gewoontes van die Boesmans ingevleg, wat die spanning van die verhaal verhoog en ook | |
[pagina 92]
| |
interessant bly uit volkekundige oogpunt. Eenmaal in die aangeduide gewelf aangeland, vind hulle die rolle, wat deur Salomo se geheimskrywer Elihoref opgestel is, en begin die historiese verhaal binne in 'n werklikheidsverhaal. Hier slaag die skrywer daarin om die twee verwikkelinge uitstekend te verbind deur as lid van die geselskap die rolle te vertaal en saans om die kampvuur kommentaar en besprekinge van die res van die geselskap uit te lok op die inhoud van wat hy die dag vertaal het, terwyl hulle besig was om na goud te soek. Elihoref vertel op perkament en die skrywer vertaal, van die Paradys, van die Sondvloed, van die stigting van die Ryk van Skeba, van Egipte wat opperheerskappy voer vanwaar Skeba haar koninginne ontvang, almal verhale wat meestal op Joodse en Egiptiese geskiedenis berus. In die besprekings wat volg op wat voorgelees word, word die inhoud met die Bybelverhaal vergelyk of getoets aan die resultate van die jongste argeologiese opgrawings. Dit is alles openbarend van die skrywer in die raamwerk van sy tyd, maar soos hy die stof gegee het, hoort dit dikwels meer tuis in 'n wetenskaplike verhandeling dan in 'n roman, daar hy dit nie genoeg verwerk het voor hy begin skep het nie. Aan die ander kant wen die romanties-historiese verhaal daardeur aan realiteit, 'n faktor van belang vir wie 'n leserskring moes vorm uit 'n boerebevolking met 'n sterk realiteitsin. Waar die begin van die gedenkrolle grotendeels op historie berus, wat gedeeltelik bekende stof vir die Bybellesende publiek was, skep die skrywer vryer as hy by die tyd van Salomo kom, hoewel ook hier die legende van Saba die basis van die liefdesverhaal is, 'n legende wat egter aan die eenvoudige lesers onbekend was. Die sterk Bybelse invloed op sy styl word merkbaar minder en die orakeltaal, die versierde gebedstyl, boeke-Afrikaans wat egter verrassend suiwer as taal is, maak plek vir 'n eenvoudige, gemaklik vloeiende, lewendige styl soos die rolle die geheim ontvou van die Koningin van Skeba, genaamd Balkis. In al haar luister kom Balkis 'n besoek bring aan die wyse, maar in liefde lig ontvlambare Koning Salomo. Haar halfsuster op wie sy sprekend lyk, Hanes, een van die sewehonderd vroue van die opperheerser, is verlief op sy geheimskrywer Elihoref en as Balkis en Salomo dan verlief raak, besluit die twee halfsusters | |
[pagina 93]
| |
om plekke te ruil. As die uur van afskeid neem en van terugkeer na die ryk van Skeba geslaan het, is dit Hanes, met wie Salomo sy geheimskrywer Elihoref meegee, wat as koningin na die goudvelde terugkeer, terwyl Balkis by Salomo agterbly. Kort na hul tuiskoms sterf Hanes en word in die berg Afoer begrawe, waar ook in die gedenkrolle van die bedroefde Elihoref hul geheim verborge gelê het, daar die ryk kort daarop in die hande van die Arabiere geval het, tot die Afrikaanse ondersoekers in hul dors na argeologiese en minerale skatte daarop afgekom het. En ontdek dat ‘die ouden ook mensen waren, die leefden, gevoelden, beminden, haatten, vreugde en smart kenden, evenals wij’. Dit is 'n avontuur-roman en hoofsaak is die lotgevalle van die reisigers en van die Skebaanse koningin maar in albei die verhale, veral in die een aan die werklikheid ontleen, slaag die skrywer tog daarin om die figure te tipeer, hoewel van sorgvuldige, diepgaande karakteruitbeelding en -ontwikkeling weinig sprake is. Die skrywer self is die hooffiguur van die een verhaal, 'n tipe van die ware ondersoeker met vernuf en verbeelding, speursin en belangstelling wat die feite versamel en orden, die gesprekke daaroor lei en die gevolgtrekkinge daaruit opmaak. Sy teenhanger is Henni, die nugterheid in persoon, die materialis met gebrek aan enige begrip van of eerbied vir opgrawings met 'n ander doel dan goudontdekking. Klaas is die swygsame tipe, die wadrywer wat altyd handelend optree sonder enige omhaal van woorde as die geselskap in die moeilikheid sit. Vaer, oppervlakkiger getipeer, net figurante, is die res van die klein geselskap. Die spanning word in hul avonture gehou. Die Boesmans steel hul osse, die toordokter, Umsalomi, mislei hulle, die onderaardse gange kerker hul in tot driekeer toe. En as hul deur die vertaler met groot moeite gered word, verlaat hul die onherbergsame oord in geselskap van olifantjagters sonder om verder na goud te soek in die ou goudvelde van Salamo in Sambesi. Di Koningin fan Skeba is 'n roman van die grootste kultuurhistoriese betekenis wat spieëlgetrou die gees van sy tyd van ontstaan weerkaats, boeiende onderhoudende lektuur wat die leeslus van 'n volk wat as lesers nog in sy kinderskoene was, aangevuur het, nog steeds prikkelend werk as jeuglektuur en waarvan 'n blywende bekoring uitgaan om die volkse, vertrouelike | |
[pagina 94]
| |
toon van die verteller op sy beste in die taal van die volk. In Januarie 1897 is weer 'n taalkongres in die Paarl gehou onder voorsitterskap van S.J. du ToitGa naar voetnoot1). Hy doen verslag van die nasionale letterkundige werk van Ons Klyntji in die eerste jaar van sy bestaan en beken dat Di Patriot te veel op 'n politieke nuusblad gaan lyk het. Tekenend van die hoek, waaruit die politieke wind aan waai gebly het op die eenmaal bestempelde ‘Rhodesman’, is die voorstel van 'n kongresganger, dat die kongres dit wenslik ag dat behalwe Afrikaans, die moedertaal van die oorgrote meerderheid, ook Engels, die taal van die magtige minderheid, sal aangeleer word. Asof die wenslikheid of noodsaaklikheid van tweetaligheid nog beklemtoon moes word deur Afrikaanse taalkongresse wat juis gebore is uit die wil om die denasionalisasie teë te gaan deur die eie te versterk en te ontplooi! Daar word griewe en klagtes ingedien oor die verwaarlosing en vertrapping van die taal van die Afrikaner in die staatsinstellings, die geregshowe, die spoorweë, ens. Weer was dit S.J. du Toit, Afrikaner, Dietser, wêreldburger, wat met sy ryke ervaring en kennis van Europese toestande 'n vergelyking kon trek met die toestand in Vlaandere, en meedelings kon doen oor wat op Nederlandse taalkongresse besluit is om die euwel te bestry nl. om 'n kommissie te benoem om die klagtes by die regering in te dien. Toe die vernaamste punt van bespreking, die Patriot WoordeboekGa naar voetnoot2), wat ten slotte in 1902 verskyn het, aan die orde was, het die samesteller aan die hand van proewe van die woordelys wat toe reeds op 20,000 woorde gestaan het, verduidelik hoe Afrikaans put uit Nederlands en nie uit Hottentots nie soos die vyande van die volkstaal beweer. Die stamverwantelike gebondenheid met Nederlands en die lotsgebondenheid met Engels, het S.J. du Toit wat die eerste betref altyd, en wat die tweede betref teen dié tyd lank reeds, aanvaar as die enigste basis waarop die grootse bouwerk van 'n Verenigde Suid-Afrika kon tot stand kom. Die politieke ideaal van 'n Afrikaner-blok wat hy aanvanklik nagejaag het, tot aan die end van die jare tagtig, het | |
[pagina 95]
| |
hoe langer hoe minder prakties uitvoerbaar geblyk na sy beskouing, en in 'n konsiliasie-politiek het hy meer kans van slaag gesien. Daarmee, d.w.s. met sy konsiliasie-politiek, was Di Patriot en Ons Klyntji en sy ander blaaie gedoem tot ondergang, en nie soos hy later van mening was, in sy Afgeperste Getuigenis 1899Ga naar voetnoot1), in die eerste plek om sy kritiek op Transvaal nie. Die kritiek het weliswaar veel skerper onder Du Toit geword en het veral gegaan teen die konsessie-politiek, teen die onderwerping van die geregshof aan die Regering en Volksraad, teen die onthouding van die stemreg aan die uitlanders, maar ook Oom Loko het al in 1890 dergelike kritiek uitgeoefen en gewaarsku teen halsstarrige onthouding van die stemreg, teen spoorwegkonsessies, wat die koloniale spoorwegpolitiek dwarssit, teen die wantroue, waarmee elke Kaapse Afrikaner deur sy Transvaalse broer aangekyk word. Die stormjaar 1896 het Du Toit afleiding in meer literêre en wetenskaplike werksaamhede laat soek, 'n poging om homself te rehabiliteer in die oë van sy lesers sonder om sy gewysigde politieke oortuiging wat versetting van die bakens met die gety was, prys te gee. Nog 'n lang gekoesterde idee, 'n heldedig oor die Voortrekkers, vind prosa-vorm in Magrita Prinsloo, of liefde getrou tot in die dood (1897), 'n toneelstuk uit die dae van die Voortrekkers wat met groot sukses by geleentheid van die Taalkongres in 1897 opgevoer is. Die dramatiese gegewens is die volgende: Magrita en haar ouers maak deel uit van die trek van Retief, maar haar verloofde Pieter Botha moes in die Kolonie agterbly. 'n Mede-Trekker Koos Potgieter raak op haar verlief en versprei die gerug in die Trekkerslaer, dat Botha op weg na die noorde vermoor is. Sy bly egter doof vir sy aansoeke en liefdesbetuigings. Dan gaan Retief met sy manskappe die sake met Dingaan reël. Die Soeloes val die waens aan en Pieter Botha wat ondertussen inderdaad die Kolonie verlaat het, maar die gevare van die reis getortseer het, kom betyds aan om die swaargewonde Magrita te red. Dit is die gewone driehoeksintrige teen 'n historiese werklikheid wat as agtergrond hoogs dramaties is daar die hoofpersoon, Magrita, bekend is uit die geskiedenis van die Groot Trek as een | |
[pagina 96]
| |
van die meisies, wat deurseef met assegaaisteke by Moordspruit, tog later herstel het. Vir afwisseling van toon is gesorg deur tafereeltjies in te voer, waarin die Hottentot Danster en die Kaffer-dolosgooier Swartland, beide verslaaf aan lawaaiwater, maar getrou aan hul ‘klein noî’, met hul gebroke Afrikaans aan die woord kom. Die naïewe grappigheid bly hier tog op 'n hoër peil as dié van die kleurlinge van Melt Brink. Die onderliggende geweldige erns van die skrywer het alle lawwe snaaksigheid hierin of die wilde romantiek in die liefdestafereeltjies of in die dramatisering van 'n historiese tafereel soos dié tussen Retief en Dingaan, by voorbaat uitgesluit. Die bou van die stuk is so los, dat dit eintlik net 'n aaneengeskakelde reeks historiese taferele is wat tog deur die voorstelling van die geskiedenis in lewendige, natuurlike gesprekvorm nie nalaat om indruk te maak nie. Dit het groot algemene bekendheid verwerf en is verreweg die belangrikste dramatiese werk uit die tydperk toe reeds 'n besef van die waarde van die toneel in die nasionale opbou begin deurskemer hetGa naar voetnoot1). Du Toit se versameling wat o.a. enkele samesprake en toneelstukkies, oorspronklike sowel as vertaalde, bevat, het in 1901 gekom, getiteld De GezelligeGa naar voetnoot2). Die versameling debatte, toneelstukkies, droomuitleggings, raaisels, ens. is veral bedoel om jongmense aangenaam besig te hou met volkslektuur en -vermake op die Afrikaanse weg deur die wêreld. Die oorlog het intussen uitgebreek en die skrywer van die Afgeperste Getuigenis wat nou totaal uit verband met sy volk geraak het, het hom gaan besig hou met die skrywe van meditasies geput uit die boek van Jeremia, getiteld Gedachten des Vredes te midden van Oorlog 1899-1902, wat oorspronklik geplaas is in sy periodieke uitgawe De Getuige. Reg of verkeerd, teen alle smaad en verwensinge in, het Du Toit volgehou om te getuig dat Transvaal ongeregtigheden gepleeg het wat herstel moet word. Met Micha het hy in sy getuienis uitgeroep: ‘Indien gij enigszins met vrede wederkomt uit de strijd, zo heeft de Heere door mij niet gesproken’. Maar toe sy profesie waarheid word, | |
[pagina 97]
| |
was dit tog verre van hom om te verwyt en kon hy in hierdie Gedachten des Vredes slegs neerlê dat ‘God alleen weet wat wij voor onze lijdende stamverwanten gevoelen’. Niemand kon hom egter glo nie. Tekenend van 'n mentaliteit wat staatsreg sonder volkse grondslag en volksgeregtigheid ten slotte tog gaan verwar het, miskien verklaarbaar uit die swaard wat deur sy Afrikaanse siel gegaan het in die Transvaal, miskien uit sy gekrenkte eersug, is sy waarskuwings aan die koloniale Afrikaners, altyd met Bybelteks en kapittel daarby: ‘Zit stil; moeit u niet in de strijd; want tegen uw wettige overheid moogt gij niet opstaan (Rom. 13) en tegen uw broeders in Transvaal kunt gij ook niet strijden’Ga naar voetnoot1). Miskien ook dat in sy diepste kern Du Toit as denker 'n religieuse siel, geen volkse denker was; twee aparte dinge is godsdiens en nasionalisme wat mekaar nie uitsluit nie, maar so gou as die godsdiens d.w.s. ewigheidswaardes aangewend word tot politieke, aardse metingsartikel, ontstaan die verwarring van ideologieGa naar voetnoot2). Terwyl die redakteurs van al die Hollands-Afrikaans periodieke uitgawes op kommando is of in die gevangenis sit, gaan S.J. du Toit met volle goedkeuring van die owerheidGa naar voetnoot3) voort met Di Afrikaanse Patriot en Ons Klyntji en De Getuige. Van Mei 1900 tot 1902 verskyn in Ons Klyntji as vervolgverhaal, ‘Liifde en Oorlog’, ongetekend, maar na styl en strekking ongetwyfeld uit die pen van die redakteur. Die held van die verhaal, die Vrystater Dani kuier by sy vriende Jan en Gert op Colesberg as die oorlog uitbreek. Hy word gekommandeer en sy vriende sluit by sy kommando aan en word dus rebelle, teen die sin van die vader van Jan en Gert by wie gehoorsaamheid aan die owerheid swaarder weeg as bande van bloed. Dapper veg die drie saam tot na die verowering van Bloemfontein en dan verlaat hulle hul kommando omdat hul die voortsetting van die stryd as nasionale selfmoord beskou. De Wet neem hul gevange, stuur hul na Pretoria, waar hul egter deur Roberts verlos word met die inname van die Transvaalse hoofstad, en die verhaal sluit met die dubbele huwe- | |
[pagina 98]
| |
lik van Dani en Jan met mekaar se susters. Die Colesbergse boer is net die kapstok waaraan die skrywer die idee ophang dat kolonialers aan eie volksaard trou kan bly en tegelykertyd lojale Britse onderdane moet bly en dat rebelle onverbiddelik moet veroordeel word. Waar die strekking so dik daarop lê, verstik dit die karaktertekening. Nie voldoende gemotiveer is ook die verandering in houding van die hooffigure na die val van Bloemfontein nie. Die vurige nasionaliste wat alle misnoeë van 'n vader en alle gevare van ontsnapping uit 'n gevangekamp in Simonstad getrotseer het, word plotseling papbroeke sonder geloof in hulself of hul saak. Deur die bitter-einders Steyn en De Wet in 'n minder gunstige lig te stel, het die skrywer die veranderde houding iets meer waarskynlik, maar tog nie aanneemlik gemaak nie. Waar hy goed in geslaag het, is in die agtergrondskildering veral in die eerste gedeelte van die verhaal. Met groot liefde is die Colesbergse Afrikaanse huisgesin geteken, waar onder die leiding van 'n verstandige vader en 'n beminlike moeder vrede en orde en geluk heers. Dan volg die raak tekening van die opgewondenheid aan die grens en die tweestryd, waarin die gelowige Afrikaners verkeer het in 'n eeu wat die volkse grondslae van elke staatsbestel nog nie erken het nie, en die Bybel, die geskiedenis dus van 'n volk, die Joodse, sonder staat, as enigste rigsnoer gehad het. Die stelligheid waarmee die hoof van die gesin egter sy keuse verdedig en propageer, 'n keuse, waarin Du Toit onder sy volksgenote so goed as alleen gestaan het, is so hinderlik, dat die goeie kenmerke van die verhaal, agtergrondskildering, volgehoue spanning, vermenging van Afrikaanse realisme en romantiek, daardeur heeltemal verdring word. Na die oorlog het ds. Du Toit 'n oproep gepubliseer tot stigting van 'n Vredesbond, die instrument wat altyd moet klaarmaak wat geweld begin het, ‘Na de Oorlog’; hy het twee nuwe tydskrifte Stemmen des Tijds van 1905 tot 1913 (as vervolg op De Getuige en Ons TaalGa naar voetnoot1) van 1907 tot 1909 (as vervolg op Ons Klyntji) uitgegee, hy het nog voort bly praat tot aan die einde | |
[pagina 99]
| |
daar hy nou eenmaal nie die man was om moed op te gee of stil te bly nie, maar gewig het sy woorde nie meer gehad nie. Die wanklank in sy stem sinds 1890 oor konsiliasie het op dowe ore van die nuwe geslag geval, omdat dié vir goed vir alle wanklanke toegeslaan het deur die gebulder van die Engelse kanonne. |
|