Hollandse skrywers uit Suid-Afrika. Deel 2 (1875-1905)
(1949)–Elizabeth Conradie– Auteursrecht onbekend'n Kultuur-historische studie
[pagina 36]
| |
Hoofstuk III.
| |
[pagina 37]
| |
LingenGa naar voetnoot1) is in 1804 in Kaapstad gebore, die enigste kind van eerw. Aart Antony van der Lingen, 'n Nederlander wat deur die Londense Sendelinggenootskap uitgestuur is na die Kaap en van Agatha Catharina van der Scheijft, Afrikaans van geboorte, pleegdogter van Gottlieb Wilhelm Bruckner. Vandaar die Duitse voornaam van die seun wat dan ook tot sy neënde jaar, soos sy moeder voor hom, die pleegkind van die kinderlose familie Bruckner was. Sy vader wat in die binneland sendingwerk gedoen het, is deur Lord Caledon in 1809 aangestel tot kapelaan van die ‘Cape Corps’, die kleurling-regiment van Kaapland, wat in Wynberg geleër was; en toe dié na die grense gekommandeer is, is Gothlieb mee en het daar onderwys ontvang van meester Wehdemann, 'n plantkundige. Toe die regiment in 1817 ontbind is, is die familie Van der Lingen na Nederland in 1818 vir die opvoeding van hul seun. In Utrecht was die jong Afrikaner eers op die Latynse skool voor hy hom in 1822 as student in die lettere en filosofie ingeskrywe het aan die Utrechtse Universiteit. Na hy die kandidaatseksamen afgelê het in 1824, het hy hom gaan toelê op die teologie. In 1830 was ds. Van der Lingen gereed om as predikant na sy vaderland terug te keer. Toe hy in Kaapstad aanland in geselskap van sy moeder - sy vader is intussen in Nederland oorlede - begin 1831, was die vakature in Zwartland waarvoor hy beroep was, reeds gevul. Op versoek van 'n deputasie van die gemeente Paarl, bestaande uit die here Jan en Daniel du Toit, is hy deur ds. Abraham Faure tot predikant van die Paarl bevestig. In 1832 is hy getroud met Elizabeth Vos uit Kaapstad en tot aan sy dood in 1869 was hulle pastorie die toonaangewende sentrum van Afrikaanse beskawing in hulle omgewing. Buite en behalwe sy gereelde kerklike bediening het ds. Van der Lingen dikwels belangrike openbare voordragte gehou. Die bekendste is in 1833 in Kaapstad gehou, 'n lesing oor die profesie van Esegiël 38 en 39 aangaande enige volke van die hoë noordelike halfrond. Dit is | |
[pagina 38]
| |
later as inleiding toegevoeg tot sy profesieverklaring, wat in boekvorm uitgegee is, getiteld Aanwijzingen betreffende de Afkomst en Bestemming van sommige Noordsche Volken (1842)Ga naar voetnoot1). Daar het in ons volk (soos ook elders) 'n groot eskatologiese belangstelling geleef in die laaste drie kwarte van die 19de eeu, wat op sy sterkste verteenwoordig is in die werk van ds. Van der Lingen, sy vriende en leerlinge. Sy vernaamste studieveld het altyd die Bybelse profesieë gebly en hoewel die teologiese wetenskap in 'n teenoorgestelde rigting dan dié van profesie-verklaring ontwikkel het, is dit tog merkwaardig dat die ontwikkeling van die wêreldgeskiedenis veel van sy uitlegginge gelyk gee. In sy Aanwijzingen betreffende de Afkomst en Bestemming van sommige Noordsche Volken (1842) betoog hy dat die voorspelling van die profeet Esegiël in die 38ste en 39ste hoofstukke van die Bybelboek beteken dat Rusland die leiding sal neem teen die Oud-testamentiese godsdiens en die Pro-Russe of Pruise teen die Jodedom self. Van belang is, dat veel van sy profesie-verklaringe berus het op etimologiese of fonetiese verwantskappe. Die woorde ‘Ros’, ‘Meseg’, wat deur Esegiël gebruik word, verklaar hy etimologies dieselfde as ‘Rus’, ‘Moskou’. Naas die teologiese was die taalstudie dan ook sy vernaamste geestesarbeid en hy het nooit moeg geword om Oosterse, Klassieke, Germaanse en Slaviese tale na te gaan om 'n etimologie na te speur nie. Die ooreenkoms tussen Nederlands en Engels, die vergelyking van die Nedersaksiese dialekte om hierdie ooreenkoms te staaf, het hom die laaste twaalf jare van sy lewe, toe hy hom op sy studeerkamer teruggetrek het, groot intellektuele genot verskaf. In die Vrydagaand-byeenkomste daar, wat die onderwysers van die gimnasium, dr. Hoffman en A. Pannevis gereeld bygewoon het, het die vriende hul politieke beskouinge gelug en gedagtes gewissel oor Bybelwetenskap en oor taalkunde. Deur te soek na 'n verklaring van die onvervulde profesieë het hulle op die taalkundige verwantskappe en verskille gekom. Op sy onderwyser-vriend Pannevis en dié se latere leerling, die jong teoloog S.J. du Toit, het ds. Van der Lingen hier- | |
[pagina 39]
| |
deur 'n invloed gehad, waarvan hy die draagdiepte en wydte self nooit vermoed het nie. Hulle het sy taalkennis toegepas. Dringende briewe het in 1849 uit sy pen gevloei aan die Kaapse kerkleier ds. A. Faure - 'n predikant wat van mening was dat die bestaande drukpers voldoende was en die oprigting van 'n maatskappy van ‘Dompers’ onuitvoerbaar - om die bykans verengelste leraar op die noodsaaklikheid te wys van 'n kerklike nuusblad en vlugskrifte ‘in het Hollandsch’Ga naar voetnoot1). As gevolg hiervan het De Gereformeerde Kerkbode in 1849 ontstaan. Hy ywer vir die totstandkoming van 'n eie teologiese kweekskool, waarvoor ‘de twee eerste Hoogleeraren uit Holland moesten beroepen worden’Ga naar voetnoot2), 'n bepaling, wat hy alleen noodgedwonge prysgegee het toe een na die ander Nederlandse geleerde weier om op Stellenbosch 'n professoraat te aanvaar en hyself ook vir die eer bedank in 1858. Hy rig kerkskole op in die Paarl en Stellenbosch op die model van Hollandse gimnasia in 1860 en 1864 onderskeidelik, in opposisie van die Engelse staatskole, wat die hel volk dwarsdeur die land aan denasionaliseer was. Die oprigting van 'n soort volksbank in die Paarl om van die vreemde kapitaal te probeer loskom en sy mislukte spekulasie op die kopermyne in Namakwaland, waaruit hy gehoop het om sy onderneminge op onderwysgebied, die kweekskool, die kerkskole, die sendingwerk te bekostig, is uitvloeisel van dieselfde nasionale sin. Sy geslaagde teëwerking van die Sondagtreine het voortgespruit uit die oortuiging, dat die treine die houvas van sabbatsheiliging van sy volk bedreig. Fel was sy optrede teen die liberalisme tydens die kerkstryd, maar tegelykertyd, aanvanklik matig, sy goedkeuring, later beslis sy afkeuring, van die Metodistiese reaksie wat op die liberalisme gevolg het, 'n Engelsgerigte godsdienstige stroming, waarvan die naburige dorp Wellington, die setel van ds. Andrew Murray, die sentrum geword het in dieselfde jare. Van die ortodoks-godsdienstige strewe is hy een van die hoogste, indien nie die allerhoogste verwesenlikers van sy tyd, met wie die nuwe generasie van liberaliste in tragiese konflik te staan gekom het. Oosterse Oud-testamentiese Bybelgeskiedenis en westerse Afri- | |
[pagina 40]
| |
kaanse volkskultuur was vir hom nie alleen verenigbare begrippe nie, maar onafskeidbare begrippe, waarin geen wig van die evoluerende tyd ooit mag gedrywe word nie na sy beskouing. Vandaar dat die dikwels geroemde veelsydigheid van ds. Van der Lingen tog 'n groot eenheid in verskeidenheid vertoon. Al sy werksaamhede, kerklik, maatskaplik, kultureel, was altyd 'n uitvloeisel van sy groot konserwatiewe Hollandse godsdienssin op gereformeerde basis, wat sinoniem was met nasionale sin by hom. Vandaar die noue verband tussen sy skynbaar uiteenlopende werksaamhede. Teen die oorheersing van Engels in die skole het Van der Lingen 'n geweldige afkeer gehad en teen elke poging tot die vereniging van die Paarlse Gimnasium, wat hy in 1860 opgerig het en die staatskool met uitsluitlik Engels medium, was hy vierkant gerig, omdat in die staat alles Engels was wat die klok slaan. Hy het dit 'n vernedering, 'n skande, 'n oortreding van die vyfde gebod genoem, wanneer Afrikaners die vreemde taal en gewoontes oorneem, waardeur hul slegs te kenne gee dat hul skaamte toon vir hul ouers en hul afkoms. Vir die volksvorm Afrikaans het hy nie geywer nie, want dit was toe nog geen brandende vraagstuk watter vorm van Nederlands in Suid-Afrika bestendig sou word nie; maar as eksaminator van die Kweekskool in die Admissie-Eksamen, 'n taak wat hy met groot erns en toewyding jaarliks vervul het, het hy soms uit die Klassieke in die gesproke taal van die Afrikaner laat vertaal om aan te toon dat die Griekse vers maat hom beter leen tot vertaling in die eenvoudige landelike Afrikaans as in NederlandsGa naar voetnoot1). Ds. v.d. Lingen se uiteindelike onverganklike betekenis is nie in die eerste plek kerklik-godsdienstig nie, maar taalkundig-kultureel, vir hom onafskeidbare, vir 'n later tyd slegs verenigbare begrippe! Konfessionele verskille en ooreenkomste lê vanuit 'n prinsipiële standpunt gesien op 'n ander plan dan die plan van die natuurlike volkseenheid. Toe Van der Lingen van profesie-verklaring op taalontleding gekom het, het hy van die een plan op die ander oorgegaan. | |
[pagina 41]
| |
2. Arnoldus Pannevis (1838-1884)'n Gebeurtenis van die allergrootste betekenis in die ontwikkelingsgang van die taal en lettere op eie bodem, was die koms na Suid-Afrika, in 1866, en tydelike verblyf aan die Paarlse pastorie van Arnoldus Pannevis, 'n Nederlander gebore te Ouderkerk aan die YselGa naar voetnoot1) in 1838. Uit 'n familie van geneeskundiges geboortig, was ook hy vir die medisyne bestem en het selfs enige jare te Utrecht daarin gestudeer, maar het later die voorkeur gegee aan die studie in die lettere, waarin hy dan ook in 1864 kandidaatseksamen afgelê het. Reeds as kind het Arnoldus die begeerte gekoester om na Suid-Afrika te gaan, meer bepaald na die Oranje-Vrystaat, waartoe die omwentelinge in die Republiek tussen 1848 en 1854 die nasionaalbewuste seun aangespoor het. Miskien was dit die ideaal om die verre stamverwante te bereik en behulpsaam te wees wat hom op die gedagte van skeepsarts gebring het as hy dan nou eenmaal die voetspore van sy familie van geneeskundiges moes druk. Op sewentienjarige leeftyd het hy dan ook leerling geword aan die ‘School voor Rijks Zeemacht’, Den Helder. In 1859 is Pannevis bevorder tot Offisier van gesondheid by die Marine, maar weens swakke gesondheid en die al te ruwe taal en losse lewe van die matrose wat nie met sy streng godsdienstige opvattinge gestrook het nie, het hy sy ontslag gevra en gekry in 1861 en hom daarna op die studie van die lettere gaan toelê. Onder sy dosente in Nederland het hy dr. Van Oordt, die later beroemde klassikus aan die Zuid-Afrikaansche Athenaeum, vertaler van De Grevenbroeck se Epistolae in die Zuid-Afrikaansche Tijdschrift, getel. Hy self het so 'n vaardige klassikus geword, dat hy Grieks by wyse van ontspanning gelees het en 'n uitnemende dosent in die oue tale geword het enige jare lank aan die Paarlse Gimnasium. Nie alleen die klassieke nie, ook die moderne tale, Frans, | |
[pagina 42]
| |
Engels, Duits was hy volkome meester en het enige kennis van Spaans, Italiaans, Deens en Sweeds gehad. Bo alles ewenwel het sy moedertaal hom gegaan. Daarom het die agteruitsetting van al wat Hollands was aan die Kaap hom ook diep gegrief en het hy in sy onophoudelike letterarbeid telkens skande geroep op die Afrikaners wat hul Hollandse afkoms verloën en hom as 'n vreemdeling behandel. In tydskrifte en koerante, soms onder die letter P. of A.P., soms onder sy naam in ongepubliseerde manuskripteGa naar voetnoot1), lê sy verse versprei. Uit die jaar 1867, die jaar na sy aankoms aan die Kaap en tydens sy inwoning aan die pastorie van ds. Van der Lingen, dateer godsdienstige verse soos ‘Woord en Daad’, ‘Behoefte’, ‘Zekerheid’, ‘Plicht’, ‘Gebed’, ‘Wijsheid’. Uit die titels alleen al kan die didakties-moraliserende toond van sulke werk afgelei word; dit laat geen enkele indruk na nie. 'n Vers, vol verontwaardiging egter oor die ontvangs wat hy van sommige Afrikaners gekry het, ‘Aan een Afrikaan’, hoort tot die beste wat hy gedig het. Daar sit krag agter die woorde: Aan een Afrikaan.
Wat noemt gij mij een vreemdeling
Aan 't Afrikaansche strand?
'k Ben niet geboren in den kring
Van dit uw Vaderland,
Maar 'k ben een zoon van 't voorgeslacht
Dat 't uwe is als het mijn,
En 'k werk en streef met alle kracht
Om dat gelijk te zijn.
En dit 's hun land; nog heerscht hun spraak
Hoe zeer verduisterd, hier;
En ik, die voor hun grootheid blaak,
Ik hou dat voorrecht dier.
Maar gij, die vreemde klanken spreekt,
En der oud'ren taal veracht,
| |
[pagina 43]
| |
Waarom is 't dat gij hoogmoed kweekt,
Als trotsch op uw geslacht?
Sluit gij die 't woord uws lands versmaadt
U zelf het land niet uit?
Gij maakt u vreemdeling in der daad,
En geeft uw afkomst buit.
Maar ik die zoo veel mooglijk mij
Die afkomst waardig maak,
Ben minder vreemd'ling hier dan gij,
Gij vreemd'ling in haar spraak!
Neen, roem mij niet op dit uw land
Dat gij als vreemd, veracht!
Ik ben geen vreemdeling aan het strand
Welks glorie ik betracht.
Paarl, 26 Juny 1867. A.P.
Ook dit is 'n vers uit die skool van Bilderdijk, waartoe Pannevis hom in alle beskeidenheid gereken het, met die gebruiklike geslete beeldspraak en retoriese taal van 'n generasie van digters wat nou eenmaal woorde soos ‘blaak’ en ‘dier’ 'n poëtiese noodwendigheid gevind het. Maar wat 'n gloedvolle teregwysing onder die verouderde taal van die hand van 'n taalmeester! Die vers moes 'n onuitwisbare indruk op sy leerlinge en die klein sosiale kring van enersdenkende Nederlanders wat hul lot met die gebore Afrikaners ingewerp het, gemaak het. Nie minder treffend is menige prosastuk van sy hand nie. Daar is sy felle kritiek op die Skotse digter Robert Burns ‘dat ellendig zingertjen’. Toe die kritiek weerleg is deur A. Scot het Pannevis daar verder op losgetrek in De Volksvriend van 1867Ga naar voetnoot1) en die digter beskuldig van veinsery en van gewetenloosheid en sy verdediger van botheid. Daar is verder die bestraffing van die Afrikaners wat ‘te laauw en laf’ is om na te dink, en mekaar ge- | |
[pagina 44]
| |
bruiklik onderling betitel met Mr., Miss, Mrs.Ga naar voetnoot1). Daar is sy stukke in die reeks skoolboeke Lees met Lust o.a. ‘Taalmoeilikheden van een Hollander’ en daar is die ses dieresketse ‘Uit de Nagelaten Geschriften van Arnoldus Pannevis, overleden 14 Augustus 1884’, wat C.P. Hoogenhout aan die Advertentieblad gestuur het na sy dood. Hierdie diereverhaaltjies geskrywe in suiwer Nederlands is geput uit die werklikheid van sy eie ervaring. Dit is deurtrokke van sy gevoel, sy verbeelding, sy gedagte en behoort tot die romanties-realistiese werk van dié fase van die 19de eeuse romantiek wat op literêre gebied bestempel is as die kopiëerlus van die daelikse lewe. Daar is die gevoelige verhaaltjie van die kanarievoël wat agter die tralies sy lied sing; daar is die geestige vertelling van die vark Goliath wat so 'n vraat is, dat hy sy weldoener agtervolg en met sy modderlyf teen sy wit pak aanskuur; daar is 'n verhaal oor hane, wat geen gelyke duld nie en spektakel maak op die werf, almal voorsien van 'n moraaltjie aan die slot. Die wyse lesse wat te leer is uit die dierewêreld, het ‘Meester’ op aanskoulike wyse voorgelê aan sy lesers. Het Zuid-Afrikaansch Tijdschrift in die letterkundige rubriek ‘Gezellig Tijdverdrijf’ bevat ook menige interessante stuk van hom. As gevolg van die groeiende gevoel van volkseenheid oor die skeidende staatsgrense heenGa naar voetnoot2) het hierdie blad van 1878 tot 1893 onder redaksie van dr. J.W.G. van Oordt, die vroeër dosent van Pannevis, gesteun deur die politieke leier ‘Onze Jan’ 'n groot herlewing geken. Dit is begryplik dat Pannevis sy medewerking gegee het of altans nie kon onthou het aan hierdie blad nie, maar dit moes hom dikwels in 'n hopelose tweestryd gebring het. Hy was besig om deur te dring tot die groot grondwaarheid, dat 'n taal die oerfeit van 'n volkseenheid en saamhorigheid is, terwyl die tradisionele geleerde dr. Van Oordt, hierdie begrip nie meer geken of bewaar het nie en geen begenadigde gees soos Pannevis was nie om deur die bewuste inspanning van die wil en die gedagte tot grondwaarhede deur te dring. | |
[pagina 45]
| |
Reeds onmiddellik na sy aankoms in Kaapstad het die spraak van die Afrikaners in die losieshuis Pannevis opgevalGa naar voetnoot1). Hy het opgemerk dat vir so verre hul nie ‘vreemde klanken’ gebruik nie, hul 'n Nederlands besig wat so ‘zeer verduisterd’ is, dat dit na 'n afsonderlike ontwikkeling lyk van ‘der oudren taal’. Vir Pannevis, opgevoed in die skool van Bilderdijk wat aan 'n vaste onveranderlike standaardtaal geglo het, moes dit 'n geestesworsteling gekos het om Afrikaans, 'n ‘verduisterde’, 'n ‘bedorven’, 'n ‘verbasterde’ Nederlands, maar die Nederlands van Suid-Afrika nogtans, nie alleen as 'n afsonderlike gesproke taalvorm te herken nie, maar al spoedig daarvoor te gaan ywer om dit tot Bybeltaal en selfs algemene skryftaal te verhefGa naar voetnoot2). Dat Afrikaans niks anders kon wees as die nuwe Afrikaanse gedaante van dieselfde taal van Vondel en die Statebybel, van die ‘voorgeslacht dat 't uwe is als het mijn’, was sy enigste troos. In die Paarl aangeland, het hy vanselfsprekend by die predikant tereg gekom. Op die pastorie het die gesprekke tussen hom en ds. V. d. Lingen gedurig gegaan oor Bybelverklaring, etimologiese verwantskappe, musiek, epiese en dramatiese kuns. Hulle het saam Bybeltekste getoonset vir die Paarlse Philharmoniese geselskap en die skema vir 'n heldedig opgestel, wat 'n oratorium moes word getiteld Sion en Babylon. Maar die groot digter vir die taak kon hul nie vind nieGa naar voetnoot3). Groot behae het hulle geskep in die saam lees en bestudeer van die treurspele van Vondel met die opstandsmotief en albei het verlangend verwag om eenmaal in die hemel die grootse drama van die Hemelse en Helse magte in wapenstryd met eie oë te aanskou. Met Bybelstudie was Pannevis voortdurend besig, want die evangelieverkondiging was vir hom die allerhoogste taak van die mens. So helder het sy taalkundige insigte geword, gebaseer op waarneming van die werklikheid, dat hy begryp het, dat die Statebybel nie meer letterlik verstaanbaar was vir die Afrikaanse gekleurdes en die eenvoudige Boerebevolking nie. Deur politieke strewe, wat geen rekening gehou | |
[pagina 46]
| |
het met taalgrense nie, was hulle daarvoor te lank reeds van alle grondige onderwys in die taal van die Statebybel verstoke sedert die begin van die eeu. Dat hul in werklikheid 'n nuwe volkseenheid was, wat 'n eie taal moes voortbring, sou eers later tot die bewussyn deurdring. By insig en begrip het Pannevis dit nie gelaat nie, want hy was ook pedagoog, sendeling, propagandis vir sy oortuiging. Vandaar sy pleidooi in De Zuid-Afrikaan van 7 September 1872 vir 'n Afrikaanse Bybelvertaling. 'n Paar maande later, in 1873 in dieselfde blad, verskyn uit die pen van 'n vriend en buurman van Pannevis, C.P. Hoogenhout van Groenberg, Wellington, die ‘Gesprekke tussen Oom Jan Vasvat en Neef Daantje Loslaat’, na die taal- en letterkundige vorm en selfs skuilnaam onder invloed van Meurant, Klaas Waarzegger Jr., maar na die gees onder invloed van Pannevis. En in 1874 weer in dieselfde koerant kom die drie briewe deur S.J. du Toit onder die skuilnaam Ware Afrikaander, getiteld ‘De Afrikaansche Taal’, 'n pleidooi in suiwer Nederlands, die taal van die meester, vir die regte van Afrikaans, die moedertaal van die leerling, waarop die meester hom gewys het. In 1874 skrywe Pannevis helaas die ongelukkige brief aan die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap om hul te vra of hul bereid sou wees om eventueel 'n Bybelvertaling uit te gee, waarop 'n afwysende antwoord gevolg het. Die afwysing was 'n verkapte seën, maar deur die brief is die eie Afrikaanse uitgawe van die staanspoor uit in die sfeer van 'n Britse uitgewery gebring wat 'n half-eeu later, as die ideaal van Pannevis, 'n Afrikaanse Bybel, verwesenlik is, die ontstellende ongerymdheid sou vertoon dat 'n eie Afrikaanse Bybel nie op eie bodem gedruk en uitgegee is nic, selfs nie eers in die land van die ‘voorgeslacht dat 't uwe is als het mijn’, maar in die land van die oorheerser, van die onderdrukker van die Taal! In die welbeproefde dialoogvorm, in die Nederlandse taal skryf Pannevis in 1875 sy samespraak ‘Gesprek over het Kaaps-Hollands’Ga naar voetnoot1) tussen Oom en Neef, waarin die waardige, in die wetenskap ervare Oom, alle argumente van die teenstanders weerlê en | |
[pagina 47]
| |
tot dieselfde slotsom kom as dié van die onervare, maar intuïtief begrypende Neef nl., dat Nederlands en Afrikaans twee te onderskeie tale is: ‘Oom: Mijn lieve Neef, wat maakt het onderscheid van taal? Niet de mindere of meerdere platheid van spraak, niet de kleinere of grotere rijkdom en verscheidenheid van uitdrukkingen; neen, gans niet; 't is de eigenaardige geest en het biezonder karakter van iedere taal, waardoor zij zich onderling onderscheiden. Alle bewoners van Zuid-Afrika spreken het Afrikaans niet even plat en uit dezelfde voorraad van uitdrukkingen, maar de geest, het karakter der taal is bij allen zonder onderscheid hetzelfde, en wordt nergens gemist.’ Pannevis was nie onder die klein agtal geesdriftiges, wat op 'n voorlopige vergadering op 14 Augustus 1875 in die Paarl byeengekom het om te beraadslaag oor sy korrespondensie met die Britse en Buitelandse Bybelgenootschap insake die Afrikaanse Bybelvertaling nie. Die vereniging wat hieruit voortgevloei het ‘Die Genootskap van Regte Afrikaners’ het 'n ander wending aan die oorspronklike ideaal van Pannevis gegee. Deur hierdie genootskap waarvoor die reëls opgestel is in hoofsaak deur gebore Afrikaners uit Hugenotebloed, leerlinge van Pannevis: S.J. du Toit, G.J. Malherbe, D.F. du Toit. D.P. seun, verskuif as dit ware die leiers sowel as die opset na 'n ander plan van werk en gees. As leiers moet gebore Nederlanders en Afrikaners in die eerste generasie van toe af plek maak vir Afrikaners in die oudste Afrikaanse geslagte; 'n werkplan wat uit suiwer godsdienstige oogpunt benader is, verskuif in die rigting van een wat meer op kulturele grondslag berus, waarby godsdiens en geesteswetenskap nog verenigbare, maar nie meer onafskeidbare begrippe sou wees nie. 'n Groepie wat bymekaar gekom het om te beraadslaag oor 'n weg om die Boek van die voorgeslag beter bekend te maak op eie bodem, kom tot die ontdekking: ‘Ons staan vir ons Taal, ons Nasie en ons Land.’ Arnoldus Pannevis het die voorbereidingswerk gedoen vir die oprigting van die Genootskap; hy het meegedig aan die gesamentlike produk daarvan, die volkslied ‘'n Ieder nasie het sy land’, hy het die Bybelvertaler daarvan, S.J. du Toit, aangewys; met gefundeerde argumente in die populêre literêre vorm van die dag, | |
[pagina 48]
| |
die samespraak, het hy die teenstanders verslaan en die voorstanders taalkundig wetenskaplik voorgelig. Maar reeds in 1877, twee jaar na die stigting, neem hy afskeid daarvan om ‘die stilte weer op te soek’Ga naar voetnoot1) van die omstreke van die Paarl, die familieplase van die Du Toits en die Malherbes in Daljosaphat. Hier waar die ‘Gedenkschool der Hugenoten’ op 1 Februari 1882 geopen is, en op Groenberg by Wellington, waar sy landgenoot en medestryer vir die Afrikaanse taalsaak, C.P. Hoogenhout, werksaam was as skoolmeester, het hy hom die gelukkigste gevoel. Die sewe jaar wat hom daar gegun is van sy kort lewenspan van 46 jaar, is deurgebring met studie en lesgee aan boere-kinders wat die mees elementêre kennis nog moes bygebring word. Daar het sy swak senugestel nog enige rus gevind. Jarelank is hy gemartel deur angste en het hy aldeur geesverskynings gesien in sy oorspanne brein. Die waan het hom gepynig dat sy in roekeloosheid gestorwe seevarende broer ewig verdoem is. Sy gesondheid is hierdeur totaal gesloop. Die allereerste, die allervoorste voortrekker op die gebied om Afrikaans doelbewus as volkskryftaal te propageer, is op 14 Augustus 1884, die negende verjaardag van die Genootskap van Regte Afrikaners, die liggaam wat hy in die lewe help roep het om sy grootse gedagte in daad om te sit, oorlede op Groenberg in die huis van die heer W.P. du Plessis, in die onmiddellike nabyheid van sy vriend C.P. Hoogenhout. Sy stoflike oorskot rus in die familiekelder van 'n ander groot vriend, ds. Van der Lingen in die Paarl. 'n Siel gekwel deur vreeslike angste van 'n eskatologiese tyd, 'n hart waardeur swaarde gegaan het, 'n verstand wat menigmaal ontspoor het deur oorspanning, het die ewige slaap ingegaan na die wonderwerk verrig is, dat dit 'n volk op die pad gevoer het om eie taalvorm wat hy, die stamverwant, as nuwe taalspesies erken het, ook te erken as eie onvervreemdbare besitGa naar voetnoot2). | |
[pagina 49]
| |
3. Casparus Petrus Hoogenhout (1843-1922).‘Op 14 Augustus, zijnde de negende verjaardag van het Genootschap van Regte Afrikaners is ontslapen mijn dierbaarste vriend en broeder Arnoldus Pannevis, aan wien ik zulke verplichting heb als de eeuwigheid eens zal openbaren.’ Die volle betekenis van hierdie woorde van C.P. Hoogenhout sal ons miskien nooit vat nie, maar hoe verder ons aftree van die nasionalistiese tydperk van die laaste kwart van die 19de eeu, hoe meer besef ons ons verpligtinge teenoor die gebore Nederlanders, wat in elke tydperk van ons kultuur-ontwikkeling as geworde of aangepaste Afrikaners die pen vir ons help voer het. In die onderhawige tydperk begin hul ten opsigte van die taalvorm in twee groepe te val, nl. diegene wat die tradisionele vorm, Nederlands, sonder verder ernstig nadink bly besig omdat vir hulle skryftaalvorm nou eenmaal sekundêr was of omdat standaard-taal na hul nou verouderde mening onwrikbaar was, in werklikheid omdat hul die oorgang tot Afrikaner nie kon deurmaak nie, en aan die ander kant die enkelinge wat in tragiese konflik kom met hulself, voorlopers van 'n nuwe taalbeskouing, peilers van grondwaarhede. Naas Pannevis neem Hoogenhout die ere-plek in in laasgenoemde groep. Casparus Petrus Hoogenhout is op 11 Maart 1843 in Amsterdam geboreGa naar voetnoot1). Weens minder aangename huislike omstandighede waardeur hy hom 'n vreemdeling gevoel het in sy vaderland, het die jong man in die begin van die tweede helfte van die 19de eeu met 'n seilskip na Suid-Afrika verhuis en in Kaapstad aangeland. Hy het werk gevind as klerk op die kantoor van die Nederlandse konsul maar al gou vind ons hom as privaatleerling van Pannevis in die pastorie van ds. Van der Lingen in die Paarl. Hy sit sy studie in die lettere voort en voltooi dit by sy | |
[pagina 50]
| |
vriend. Hy word daarop gevra deur die vooraanstaande vrugteboere van die wyk van Wellington wat bekend is as Groenberg, om vir hulle kinders 'n buiteskool op te rig. En vir meer dan veertig jaar, van 1867 tot 1908 wanneer hy aftree, gee Hoogenhout leiding en rigting aan die jeug van Groenberg. Hy word die instrument om deur hulle, uit daardie hoek uit, krake en barste in die Angel-Saksiese kors op die kultuur van die Afrikaanse dorp, Wellington te maak. Daar het die geweldige invloed van ds. Andrew Murray, van Skotse afkoms, en sy Amerikaanse en Skotse opvoedkundige helpers aan die Hugenote-Seminarium vir meisies en die ander onderwysinrigtinge soos die jongenskool 'n vreemde laag bo-op die eie gelê. Die kors te help opkrummel om in die loop van tyd miskien die roof heeltemal af te kan skraap, sodat die eie weer in volle bloei kan staan, is die taak van Hoogenhout gewees. Hier het Hoogenhout kennis gemaak en in die huwelik getree met Catharina Maria Marais, uit die bekende Hugenote-familie MaraisGa naar voetnoot1). In teenstelling met die dorp Wellington waar die verengelsing hoogty gevier het, was die voertaal van die skool op Groenberg steeds die Hollandse moedertaal, d.w.s. Nederlands na die skryfvorm, Afrikaans na die gesproke vorm. As verskil van mening oor moedertaalmedium wat 'n gewonne stryd is op pedagogiese gebied oor die gehele wêreld, nog telkens in ons dag op ons grondgebied weer opduik by 'n politieke stryd, is dit te begryp voor watter muur van verset die klein kring opvoedkundige kragte, waartoe ook Hoogenhout behoort het, gestaan het in 'n tyd toe byna almal in die Kaapkolonie nog van mening was dat die heil van die volk gesoek moet word in Engels as voertaal van die jeug. In hul godsdienstige oortuigings, hul geloof, hul vroomheid, het hul krag, hul weerstandsvermoë gelê. Onder invloed van die pedagoog Pannevis het Hoogenhout nie alleen tot selfstandig denkende man ontwikkel nie maar kort na sy aankoms in die Kaap het hy veral 'n groot verdieping van sy godsdienstige lewe ondergaan. Die Bybel het ook sy daelikse voedsel geword. | |
[pagina 51]
| |
Daarvoor is 'n ereplek ingeruim in die buiteskooltjies en in die moedertaal-medium-gimnasia, wat uit die Kerk ontstaan het en owerigens dieselfde leerplan van die Engelse regeringskool gevolg het. Naas die Bybel het die Kort Begrip 'n plek gekry en na aanleiding van hierdie Bybellesse en Katkisasie-onderwys het die leerlinge gereeld hulle lewenswysheid, hul filosofie, in die vorm van sedeprekies van hul meesters gekry. Oor die siele van die Kaapse kleurlinge was Pannevis en Hoogenhout nog die meeste begaan en albei het dan ook op eie manier sendingwerk gedoen en dienste vir die gekleurdes gehou. Maar soos die sluimerende potensialiteit van volksbewussyn in elke mens, van nasionale bewusssyn in elke volk begin groei het, het vir beide, Pannevis en Hoogenhout, die Bybel 'n noodsaaklike vereiste geword, vir die voortbestaan van die Afrikanervolk, wie se ewige bestemming as aparte volk hulle besef het, sy dit dan nog meer intuïtief as intellektueel. En 'n selfstandige Afrikaanse nasie wat hom teenoor die Britse element sou kon handhaaf, was vir hulle hoe langer hoe meer ondenkbaar sonder 'n Bybel in die Afrikaanse spreektaal. Die uitgangspunt, wat doel in sigself geskyn het, Bybelstudie en die verkondiging van die Evangelie, ontwikkel dus in die rigting van middel te word om die volk tot nasiebewussyn te bring. In die brief van Pannevis gerig aan die British and Foreign Bible Society in 1872, waarin hy gepraat het van 'n ‘corrupted Dutch’, 'n dialek waarin hy die Bybel wou vertaal hê, het hy geklae dat ‘in our days the secular and clerical authorities conspire wholly to eradicate the Dutch language and to secure for the English language a thorough and universal dominion.’ Dit het as gevolg dat die Nederlandse Statebybel vir duisende 'n geslote boek word wat weer as gevolg het ‘the degradation, rapidly increasing, among the colonists, especially the coloured population’Ga naar voetnoot1). | |
[pagina 52]
| |
Om hierdie toenemende sedelike verval te stuit moet die Bybel as middel gebruik word. Op aansporing van Pannevis wat oor die saak ook al met die outoriteite van die kweekskool op Stellenbosch gekorrespondeer het, (want in dieselfde brief deel hy mee dat ‘Professor Hofmeyr of the Seminary of the Dutch Reformed Church at Stellenbosch lately acknowledged to me in a letter the necessity of a Cape Dutch translation of the Holy Scriptures’) sit Hoogenhout Matteüs 28 oor in Afrikaans. Hy stuur sy vertaling na De Kerkbode, die orgaan van die Nederduits Gereformeerde Kerk onder redaksie van die teologiese professore aan die kweekskool. Dit word nie opgeneem nie maar die afwysing ontmoedig nòg die aanmoediger nòg die vertaler, want in dieselfde jaar 1873 waarin die ‘Gesprekke tussen Jan Vasvat en Neef Daantje Loslaat deur Klaas Waarzegger Jr.’ in De Zuid-Afrikaan verskyn, kom in boekvorm Die Geskiedenis van Josef voor Afrikaanse kinders en Huissouwens in hulle eige taal geskrywe deur een vrind (1873)Ga naar voetnoot1). C.P. Hoogenhout is die skrywer onder die skuilname Klaas Waarzegger Jr. en Een Vrind. En in die voorwoord van die Bybelverhaal staan dat 'n goeie ou vriend, (niemand anders as Pannevis kan dit wees nie) hom gevra het om 'n geskiedenis van Josef vir die Afrikaanse kinders in hul eie taal te skryf. In die populêre, grappige toon vang die ‘Gesprekke tussen Jan Vasvat en Neef Daantje Loslaat’ aan. Die toon verstom gou want soos Oom Jan dit in sy kernagtige idiomatiese Afrikaans uitdruk, ‘kom alle gekheid op een stokkie’ as daar moet gestry word vir 'n volksaak. Die saak is hier die geskil tussen die Oranje-Vrystaat en Waterboer oor die Kimberleyse diamantvelde waarin Engeland haar aan die kant van die Griekwas gevoeg het. Elke saak het twee kante, 'n regte en 'n verkeerde vir wie glo in die geregtigheid en Oom Jan Vasvat beskou die bondgenote Engeland en Griekwaland in hierdie geskil as voëls van enerse vere. Die een, die Griekwas het die land van die Korannas verower, wat dit weer van die Boesmans verower het, net soos die ander, die Britte, dit van die Boere afgevat het nadat dié die Westerse beskawing in daardie streek gebring het: ‘Die Grikwas het | |
[pagina 53]
| |
amper op soo'n aart as Englant nou baas gewort. Magt is regt.’ Vol ingehoue verontwaardiging is hierdie stukke. Dit is die produk van die veronregte nasionale gevoel, in 'n taal wat vry is van vreemde invloede in sy struktuur, maar plat in die uitspraak van menige klank soos die skryfwyse aandui van bv. Gorment, mot, skry, ravier. In die Bybelverhaal, Die Geskiedenis van Josef, het die polemiese van die samespraak plek gemaak vir die opgewekte praattoon van Meneer. Hy gesels met die ‘Afrikaanse Lammerkies van Kristus se Kerk’ oor ‘veeboere’ uit die Ou-Testamentiese geskiedenis van die Jode, oor Ismaeliete wat die ‘smouse’ van daardie tyd was soos die Jode dit nou op hulle werf is; hy vertel van Josef wat ‘sy broers op die oesland’ tegemoet gaan met sterrelig in sy hart soos elke lesertjie of hoordertjie op sy beurt ondervind het toe hy as die jongste in 'n aartsvaderlike Boeregesin 'n boodskap of koffie of ete na die oesland, waar die broers aan maai is, gebring het. Deur binne die begripsvermoë van die kind te bly en deur in die taalidioom self die ooreenkoms tussen die landelike Bybelvolk en die Afrikaanse Boer te laat uitkom, het die aanskoulike verhaal 'n maksimum van aanskoulikheid vir die Afrikaanse kind gekry. Deur die invoeging van direkte vrae aan die kinders in die Sondagskool-styl van die tyd, het die verhaal aan objektiwiteit ingeboet, maar in die subjektiewe, ook in die karakterisering van die verskillende persone en in die vertolking van die gemoedstoestand bv. van Josef in die kuil en van die broers in Egipte, lê juis die persoonlikheid van die skrywer. Daardeur is Die Geskiedenis van Josef geen vertaling nie, maar literêre werk in die Afrikaanse taalvorm, kultuur histories van die allergrootste belang en van estetiese waarde nie heeltemal ontbloot nie. Met hierdie daad van bewerking en selfs uitgawe, verwerking en omsetting van internasionale stof in eie kultuurbesit, het die grootste wiel in die raderwerk van die geesteslewe van die Afrikaner, die erkenning van die spreektaal ook as medium van die verhewenste gedagtes van die volk, begin draai. En toe beweging, gang eenmaal in die wiel gebring is, kon die aansetters dit self nie meer stuit nie al het hulle uit praktiese oorwegings 'n enkele keer sin gekry om die rem aan te draai. In 1877, in 'n brief aan | |
[pagina 54]
| |
S.J. du Toit, die voorsitter van die Genootskap van Regte Afrikaners, begin Hoogenhout twyfel of hulle moet staan of val by die taalvorm en of hul liewers as 'n skandelike val.... 'n eervolle vereniging met die Hollandse Genootskap, waarvan daar toe sprake was en in die voorbereiding waarvoor Hoogenhout 'n rol gespeel het, moet aangaanGa naar voetnoot1). S.J. du Toit en J. Lion Cachft is ook in verbinding met die politieke leier J.H. Hofmeyr gewees om die voorlopige besprekings te hou waaruit nie 'n taalgenootskap nie, soos hul aanvanklik vaag vermoed het, maar 'n groot politieke bond, die Afrikaner-Bond sou groei in 1880. In hierdie organisasie het die aksent nie soos in die Genootskap van Regte Afrikaners op Nederlands of Afrikaans geval nie, maar op Hollands-Afrikaans of Engels. 'n Hollands-Afrikaans nasionale beweging, waarvan die Afrikaanse taalbeweging die sterkste uiting was, was aan die gangGa naar voetnoot2). Die skerpsinnigste geeste wat volkome gelyk gegee is deur die afloop van die historiese taalgebeure, maar in eie tyd die grootste verguising moes ondergaan, die aardse beloning vir alle skerpsinnigheid, was natuurlik diegene, wat geywer het vir die regstreekse erkenning van die spreektaal. Maar nie minder van betekenis en behorende tot dieselfde Hollands-Afrikaanse geestes- en gevoelstroom van hul tyd, alleen produk van remmende konservatisme, is dié werk van hulself en van verskeie tydgenote, wat in die Nederlandse taalvorm geskryf is of in 'n taal wat sterk Nederlands gekleur is. Teenoor elke bladsy Afrikaanse prosa uit die pen van Hoogenhout kan wel tien van dieselfde hand in Nederlands geplaas word uit die rubriek ‘Boerderij en Gezellig Tijdverdrijf’ van het Zuid-Afrikaansch Tijdschrift waarvan hy mede-redakteur was. Die geheim van die sukses van die eerste beoefenaars van Afrikaans as kunstaal lê daarin dat hul die toon van die onderste sport van die volkstoonladder uitnemend getref het. 'n Volk bestaan egter nie net uit een laag nie en terwyl Afrikaans sy natuurlike groei deur die hele toonladder moes voltooi, moes Nederlands die toon van die hoër sporte daarvan bly, wat geleidelik verstom voor die steeds sterker wordende nuwe geluid in al | |
[pagina 55]
| |
sy toonvariasies. Dit is primêre gevoelens wat vorm vind in die verse van Hoogenhout, wat in die suiwerste Afrikaans gedig is. In ‘Moeilikheid om liedjies te maak op 'n Boereplaas’ word met boerehumor vertel hoe ‘pa’ sukkel om 'n gedig te maak om na Di Patriot te stuur, maar telkens gesteur word deur 'n hond, 'n meid, 'n jong, 'n kind. In ‘My vroutjie het 'n seun gekry’ roep ‘pa’ kinderlik trots uit: ‘Ek is so bly, ek is so bly,
My vroutjie het 'n seun gekry,
Hy lyk presies nes ek:
Hy het my oë, mond en neus,
En is 'n dikke, vette reus,
Ek is so in my skik.’
Byna net soveel ‘rympies’ in Afrikaans as wat daar uit die pen van Hoogenhout gevloei het, het daar in die tydskrifte en koerante in die Nederlandse taalvorm ‘verse’ van dieselfde hand gekom. Die gehalte hiervan by 'n estetiese norm van afgerondheid gemeet, is eerder hoër as laer hoewel die onmiddellikheid, die kinderlike frisheid van die stukke wat in Afrikaans geskryf is, ontbreek. In 'n vers uit 1879 ‘De ijselike nederlaag der Britse troepen te Isandoela in Zoeloeland op de dag der zonsverduistering, 22 Januarie 1879’ word in ballade-vorm 'n getroue afgeronde verslag van die gebeurtenis gegee, 'n waarskuwing aan alle ‘broeders in Transvaal’ gerig, om hul nie in hul vyand, Engeland, se leed te verheug nie, maar om van die geleentheid gebruik te maak om haar toe te roep: ‘Engeland! neem onze hand!
Slechts maar één bepaling,
Schenk ons geen betaling,
Geef maar net ons land.
Dan kunt ge geloven,
Met Gods hulp van Boven,
Houdt geen vijand stand.
Neem ons hand
Maar geef ons land
En herroep de annexatie.
Wee dan, Zoeloenatie.’
| |
[pagina 56]
| |
In die eerste tyd toe die gevoelens onseker en vertroebel was oor die lot wat die Republiek te beurt geval het, neem die digter sy toevlug tot mooipraatjies. Op 24 Mei van dieselfde jaar in sy geleentheidsvers ‘Ter verjaring van Hare Majesteit Koningin Victoria’, waarvan hy, tekenend van die dwase tyd, jare agtereen 'n variasie gegee het, voor sy Afrikaanse nasionalisme volgroei was, lui sy smeekbede weer: ‘Dat Hij het hart van Eng'lands Koninginne
Mag neigen, om genadiglik te horen
Naar 't smeekgeroep van Uw Transvaalsche broeders!’
As die Eerste Vryheidsoorlog in 1881 tog uitbreek, dig hy o.a. ‘Bede om Hulp voor de Transvaal’, ‘Transvaal’, ‘Transvaals volkslied’, 'n opsomming van die veldslae, ‘Feestzang’ by geleentheid van die gedenkwaardige Dingaansdag 1881 op Paardekraal, nadat ‘onze vrijheidsvlag herplant is’, ‘Transvaalse Lofpsalm’ in samewerking met S.J. du Toit, met die aansporing: ‘Laat de schone Vierkleur wappren,
Trouw bewaakt door 't alziend Oog;
Hijst haar op, hoog, hoog, omhoog.
God zij de eer, en dank de dappren!’
Van die hand van Hoogenhout is ook die verhale van die stryd in balladevorm ‘Die Slag by Bronkers Spruit’, ‘Die Slag van Lange Nek’ en ‘Slag van Majubaberg’Ga naar voetnoot1). In eersgenoemde tref hy goed die objektiewe balladetoon. Daar is soberheid, eenvoud, vlugge beweging in die vertelling, hoewel gedeeltes tog veel te lank uitgerek is en eentonig word. In die verhaal van Lange Nek is die aanvang sarkasties, die geheel veel meer subjektief en nog breedsprakiger, maar die voorstelling van die geveg self is besonder aanskoulik gemaak deur 'n enkele treffende beeld, soos dié waarin hy die vyand sien wegstuif: | |
[pagina 57]
| |
‘Soos in die herfs die blare val
En wegwaai voor die wind.’
Die beslissende geveg van die kryg was die Sondagslag van Majuba wat hier dan ook lewendig geskilder word in die verteltrant van die volkskunstenaar, vol stoplappe selfs in die beste gedeeltes, berymde prosa grotendeels, maar presies na die hart en die smaak van die eenvoudige lesers wat tot nasionale bewussyn moes opgevoed word. En na die verklaring van die vrede, sing Oom Jan sy Vredeslied ‘Vrede, vrede in Transvaal’ en vermaan hy in ‘An Jingoes’ almal wat nie saam verheug is oor die afloop van sake nie: ‘Bly nou maar stil
En sluk die pil.’
As die driemanskap uit Europa terugkeer, klink sy ‘Welkomstgroet aan het Transvaalse Gezantschap Julie 1884’, soos hy by hulle vertrek gedig het ‘'n Sug tot die Koning van die Konings vir die Transvaalse Deputasie’. Hoewel Hoogenhout van 1875 af aan in Di Patriot en van 1896 af aan in Ons Klyntji en in menige koerant hoofsaaklik meegewerk het aan die popularisering van die verskuns, is hy ook die skrywer van die roman Catharina die Dogter van die Advokaat, onder sy skuilnaam Klaas Waarzegger Jr.Ga naar voetnoot1), 'n verhaal wat die bekendheid van sy Geskiedenis van Josef ewenaar. Catharina voel haar nie meer tuis in haar verengelste huislike omgewing nie en deur haar liefde vir 'n boerseun kom haar nasionale gevoel in botsing met die berekendheid van haar vader, die advokaat wat volksbewussyn as burgerlike vooroordeel bestempel. Eers as hy sy geld kwyt raak, leer hy die les, dat daar hoër waardes is as goud en gee hy sy toestemming tot die huwelik van die jong paar. Die nasionale tendens is daar dik opgeplak. In plaas van uitbeelding kom daar dikwels beskouinge, subjektiwiteite in plaas van besielde nasionale objektiwiteit. Maar deur die sterk vaderlandse gees bly die roman 'n monument van die nasionalistiese tydperk. In die historiese sintese wat die ontwikkeling | |
[pagina 58]
| |
van die kuns organies weet te verbind met die algemene volkslewe, neem dit 'n ereplek in. Toe die beskouing egter dat taal 'n natuurkrag is, nie iets wat ‘Meester’ na willekeur aan sy leerlinge en hul gemeenskap kan opdring nie, tot Hoogenhout deurgedring het, het hy van 1875 af sy gewig ingegooi met die sistematiese strewe na Afrikaanse taalen volkseenheid van die Genootskap van Regte Afrikaners. Die grootste populariteit het hy ingeoes as ‘Oom Jan wat versies maak’ in Di Patriot. In die rubriek wat aan sy sorg toevertrou is, het hy almal uitgenooi om bydraes te stuur wat hy sou verbeter en hyself het die voorbeeld gegee met dosyne verse. Hiervan is sommige in die sewe ‘Versamelings’ deur die firma D.F. du Toit in die Paarl oorgedruk, die bloemlesings uit wat in Afrikaans in hul blaaie Di Patriot en later Ons Klyntji verskyn het. So is reeds in die Eerste Versameling ‘Ons toekomstige Volkslied’ opgeneem. In die Afrikaanse Gedigte (1881) kom sy ewe bekend geworde vers ‘Vooruitgang’, waarin die taaltoestand raak gekarakteriseer word met die wanhopige kreet ‘Engels, Engels, alles Engels, Engels was jy sien en hoor.’ Tydens die konfederasieplanne van Lord Carnarvon om die kolonies en Republieke 'n sekere eenheid te gee, het die Afrikaner gehoop om in samewerking met die Brit tot 'n verenigde onafhanklike Suid-Afrika te kom onder eie Afrikaanse vlag. Toe het Hoogenhout gesing in volle bewussyn dat die taaleenheid weerspieëling is van volksaamhorigheid: ‘Waar Tafelberg begin tot ver in die Transvaal
Woon een verenig volk, een algemene taal;
'n Volk voorheen misken, 'n taal voorheen gesmoord,
Maar nou beroemd, geëerd, in oos, wes, suid en noord.’Ga naar voetnoot1)
As J.H. Hofmeyr in 1892 Ons Land oprig, klink die ‘Welkomstgroet aan Ons Land’, die blad van die Afrikanerbond deur die troue Bondsman Hoogenhout. Poësie is dit nie, slegs prosa op rym, die gebruiklike praattoon van die versmakers-propagan- | |
[pagina 59]
| |
diste uit die tyd. Heeltemal anders word die toon egter van sy politiek-historiese verse, ook dié wat in Nederlands ontstaan het, wat betrekking het op die toenemende spanning in die jare neëntig tussen Boer en Brit. Aan die adres van Jameson en Rhodes met wie Hofmeyr 'n tydlank in dieselfde sog geseil het, is gerig ‘Misgerekend’, 'n sarkastiese vers vol geregverdigde leedvermaak oor die afloop van die Jameson-inval. As openingsreël lui die woord van Caesar ‘ik kwam, ik zag, ik overwon!’, hier natuurlik ironies gebruik. In dieselfde trant is ‘Engelands klokkenluider’ waarin 'n Engelse hofpoëet uitgejou word, omdat hy verse aanmekaar gelym het waarin hy o.a. Jameson en sy ‘helden’ aanspoor om op te ruk na die ‘Gold Reef City’, want ‘zijn “girls” daar waren in gevaar. Onfyn, grof, maar tog vol heftige geregverdigde verontwaardiging is verse soos ‘Aan het adres van Star en Advertiser en alle vijanden der Zuid-Afrikaanse Republiek incluis’ of ‘Aan de Jingopers en alle razende Jingoes opgedragen’ met die aanvangsbevel: ‘Stil Jingoes! stil en houdt de bek
En denkt terug aan Slachtersnek.’
In 1897 dig Hoogenhout ‘Herinnering aan de bange dagen in het begin van 1896’. Hiermee wil hy die Vrystaters aanspoor om in 'n bondgenootskap met Transvaal te tree want ‘Is eerst Transvaal genomen,
Dan komt de beurt aan u;
Vergeefs van vrede dromen:
Wy staan-of vallen nu!’
'n Tekenende vers is ‘Op de Gedenkdag van de verjaring van haar enige zoon’ opgedra ‘aan een eenzame weduwe wier echtgenoot in de Vrijheidsoorlog 1880-1881 sneuvelde en wier enige zoon 15 jaar later door de roofbende van Herodes vermoord werd’. So eenvoudig, kinderlik-naïef dat dit 'n glimlag aan die teenswoordige leser ontlok, moes dit 'n aandoenlike waarskuwing gewees het in 1898: | |
[pagina 60]
| |
‘Uw kind was jong
Nog nauwliks vijf jaar oud
Toen lag zijn pa
Reeds op het slagveld koud.
Juist vijftien jaar
En weer bekroop de Brit
Ons arme land,
Op Boerenbloed verhit.
Het roofgebroed,
Herodes lijfwacht, kwam,
Belust op buit,
Die u uw al ontnam.
Uw eenge zoon
Viel voor het woest geweld;
Het moordend lood
Heeft hem ook neergeveld.’
As die Brit weer die land bekruip in 1899, styg 'n bange ‘Zielzucht’ uit die digtergemoed op: ‘O Heer, getrouwe Heer, merk op het godloos razen
Van 't ons vijandig volk, dat trots en opgeblazen,
Ons dag na dag bedreigt en tot de strijd komt tergen.’
‘De vrystaatse Jonkmans’, 'n humoristiese vers uit die jaar 1895, die jaar, waarin begin aangestuur word, deur nasionaalvoelendes, op 'n militêre verbond tussen die Republieke in die noorde, waarvan die een Republiek, die Oranje-Vrystaat, staatkundig tot dan steeds meer op die Kaapkolonie georiënteerd was as op haar suster-republiek bevat dieselfde tema. In ‘Mijn Vriend’ worstel Hoogenhout met allerlei botsende gevoelens van vriendskap en vaderlandsliefde na die politieke regsomkeer van sy vriend S.J. du Toit in die jare neëntig. Waar die gevoel meer gedifferensieerd, meer gekompliseerd geword het, is die konkretisering daarvan nog dikwels in Nederlands by Hoogenhout. Dan lui sy versugting: | |
[pagina 61]
| |
‘Ik had een vriend, een kerel naar mijn hart;
Ik ben hem kwijt en schrijf dit neer met smart.
Was vriendschap, vroeg ik, louter maneschijn?
En zou er dan op aard' geen trouw meer zijn?’
Lustig en vrolik was die spot met die Paarliet wat hom 'n Britse titel laat welgeval, in ‘Die Nuwe Seur’: ‘Goeie more,
Piet Faure,
(Ekskuus, jy 's mos “seur”),
Dis gedorie
'n Glorie
Vir 'n Perl-prokureur!
Druk maar op
Want al skop
Jou die Bond buiten deur,
By my siks,
Dit is niks,
Want jy's mos 'n Seur!’
Dieselfde ou spottoon kan hy in die oomblik van die grootste gevaar tog nie onderdruk nie en in ‘Die Dapper Money-penny’ hoon hy die held van die ‘Star’ met ‘3000 per jaar’ en roep hom toe: ‘druk jou hoedjie stewig vas’. Die lafaard wat jaar in en jaar uit die vuur aangestook het, is die eerste om te vlug vir die rook as die vlam uitslaan. Na afloop van die ongelyke stryd, probeer Hoogenhout manmoedig homself en die vernederde volk moed inspreek in pogings soos ‘Goede Hoop?’ opgedra aan die tydskrif De Goede Hoop by sy eerste verskyning in 1903 en ‘Tot Afscheid van Milner 1905’ met die opbeurende voorspelling: ‘Richt het hoofd op landgenoten!
Beter dagen breken aan,
Nu de Afrikanerhater
Naar zijn land is heengegaan.
Vloekt hem niet, hij komt nooit weer,
Laat het oordeel aan de Heer.’
| |
[pagina 62]
| |
Die Afrikanerhaters het deur hul vernietiging van die Republieke die staatkundige verwagtinge van menige Afrikaner wat Hoogenhout in ‘Ons Toekomstige Volkslied’ so ronduit vertolk het, skromelik vertraag en een van die weë waarlangs dit bereik kon word, vir goed tot ydele drome gemaak. Kenmerkend is dit van die kompromis wat gebore Nederlanders op Afrikaanse bodem moes sluit, dat Hoogenhout in sy verse getiteld ‘De Moedertaal’ byna altyd die Nederlandse taalvorm gebruik ondanks sy ywer vir die Afrikaanse taalvorm. In 1883 het die koor van ‘De Moedertaal’ gelui: ‘Dierbaar is mijn moedertaal,
Dierbaar als mijn bloed!
Van de Kaap tot in Transvaal
Klinkt zij schoon en zoet.’
Dit was alles uit die hoopvolle eerste jare van die nasionalistiese tyd, wanneer geesdrif sy jeugdige gemoed vervul het. Maar in 1906 klaag die ontgogelde stryer, wat moeite het om die moed daarin te hou en met die nuwe geslag die herbegin te maak, in 'n vers met dieselfde titel ‘De Moedertaal’: ‘Wat baten Taalbond en Kongres?
Het blijft maar immer “No” en “Yes”.
Menig Afrikaner, ach!
Die bromt “Koetbaai” voor goeden dag!’
Dieselfde begryplike mismoedigheid oor die taalverbastering klink uit ‘'n Afgeluisterde Gesprek’, waarin staaltjies gegee word van die koeterwaalse gebrou wat tot aan die begin van die twintigste eeu veral onder die dames mode was en na 1902 gedreig het om 'n ware taalverwildering te word: ‘Na die dresses en die hats
Het sy deeglik opgelet;
Some looked pick-fine, some looked flat,
Sy 't haar sides gesplit van pret.’
| |
[pagina 63]
| |
Ongetwyfeld is die beskamende mengelmoes spontaan uit die kultuurverbasterde volksmond opgeteken, maar in 1909 was die digter van die nasionalistiese tydperk reeds te oud om bo dié wanklanke uit die bruisende nuwe toon van die nasionale tydperk te verneem. In liedere soos ‘Sing in ons Taal’Ga naar voetnoot1), ‘'n Afrikaanse Liedjie’, ‘My Volk en Taal’, bly die moedertaal tot aan die end van sy rympies-maak 'n motief wat hom steeds tot uiting dwing en die draer word van sy nasionale tendens. Casparus Petrus Hoogenhout, Klaas Waarzegger Jr., Oom Jan wat Versies maak, Pro Bono Publico, Cupido, B. en J. ViljoenGa naar voetnoot2), die pedagoog in al sy uitinge, 'n betreklike eenvoudige persoonlikheid, het ook na sy aftrede in 1908 as hoof van die buiteskool Groenberg, tot aan sy dood in 1922, koers gehou as gelowige én as nasionalis van sy tyd. Sy letterproduksie is in wese didakties en nasionalisties. Het in eersgenoemde opsig geen stylverandering plaasgevind nie met die oorgang van Nederlander na Afrikaner, laasgenoemde kenmerk getuig van sy vergroeidheid met die nuwe bodem, waarvoor hy teen 'n magtige indringer die stryd aan die voorpunt help voer het. |
|