Hollandse skrywers uit Suid-Afrika. Deel 2 (1875-1905)
(1949)–Elizabeth Conradie– Auteursrecht onbekend'n Kultuur-historische studie
[pagina 1]
| |
1. Geestestoestand en Taaltoestand.Tot in die tweede kwart van die 19de eeu was die Kaap nog 'n oorwegend Hollands-Afrikaanse stad, maar die ou ingesetenes het so maklik vreemde elemente in hul gemeenskap opgeneem en die taalbesluite van die Engelse owerheid is met soveel sukses in praktyk gebring dat dit alles nie sy uitwerking op die Kaapse gemeenskap kon mis nie. Die taalbesluite en hulle onmiddellike gevolge is histories nie moeilik na te gaan nie maar die verklaring vir die algehele verengelsing na die eerste helfte van die eeu, van die oudste en nog steeds enigste kultuursentrum van betekenis, moet dieper gesoek word. Geen hoeveelheid voorskrifte op taalgebied van 'n veroweraar sou tog 'n eeu later, wanneer 'n nuwe wêreldstroming oor ons aardbol golf, 'n verowerde kolonie van 'n ander moondheid so totaal verbaster nie. Die verklaring moet gesoek word in die tydgees, die wêreldrigting van die bepaalde tydperk, wat uit vir die mens verborge bron sy oorsprong neem, eers onderaards sy verborge are voed, dan deursyfer tot dit aanwas tot 'n magtige vloed om slegs op sy tyd weer in die woestynsand te verdwyn en opgevolg te word deur 'n nuwe stroming, wat reeds 'n tydlank parallel daarmee aan deursyfer was. In die 19de eeu heet hierdie wêreldstroming die Romantiek en het dit 'n bepaalde wêreldorde geskep wat die stempel gedra het, die vaandel geswaai het van vryheid, gelykheid en broeder- | |
[pagina 2]
| |
skap. Vryheid, die eerste leuse in belangrikheid van hierdie stroming, is die wildernis ingedra deur die Trekkers, waardeur die swaartepunt van die Hollands-Afrikaanse kultuur noodwendig noordwaarts aan skuif was. Vergroeidheid met die bodem was op die grense nog nie vas nie; hoe nader aan die hart van die ouer volksplanting, hoe vaster vergroei aan die grond. Vandaar dat die grensbewoners trek, in die agterblywendes in wie die vryheidsin ook bruis, slegs 'n broeiende ontevredenheid woel en gis, maar hulle bly op die erwe van die vadere. Gelykheid en broederskap, afgesien van die taal, kleur of ras, 'n wye, hoewel nie altyd diepe idealisme nie, getemper deur mensliewendheid, is die trekke wat in die Kaapkolonie die duidelikste opval, die stroming wat tot in die verste hoeke van die Wes-Europese beskawing sy rimpeling laat voel in die 19de eeu. Hierdie idealisme van die agtergeblewenes in die Kaap wat as 'n reaksie op die logika van die vorige tydperk gekom het, is waarneembaar in die daelikse omgang, in die politiek, in die godsdiens en veral in die letterkundige voortbrengsels wat self omwentelinge ondergaan na vorm en inhoud en sorgvuldig al die ander veranderinge, deur die geestestroming tot stand gebring, weerkaats. Die geestestoestand van verbroedering oor die gehele wêreld, 'n kenmerkende na-oorlogse toestand, kan ons ook goed peil in die geskrifte van Nederlanders, die voormalige besitters van die Kaap, waar hulle dit het oor hul stamverwante. As daar in 1856 deur samewerking van Kaapse predikante, meestal Skotte, en Nederlandse Réveil-manne, en Kaapse Afrikaners, jong emigrante uit Nederland, die land van herkoms, na Kaapstad en Graaff-Reinet gebring word, kry dié 'n bundel reisliedere mee waarin 'n tydsanger hulle verseker: ‘Oranje en Engeland
Zijn immer nauw verwant
In vreugd en smart
Die band zij onze kracht
Die eendracht onze macht’.Ga naar voetnoot1)
| |
[pagina 3]
| |
Beroemde Nederlandse skrywers soos Groen van Prinsterer, Nicolaas Beets, mr. J.H. Koenen wat die stamverwante van verre beskou, skaar hulle aan die kant van die Engelse in hul beskuldiginge, verheerlik Engelse sendelinge, betreur die wreedheid van die Boere, en gee hulle verbeelding vrye teuel oor die jagpartye op die Boesmans; ander Nederlandse digters wat die terrein van digterby bespied, wie se werke op ons bodem geinspireer word, en wat beter behoort te geweet het, soos Pierre Huet, kraam nog die sprokie uit van kafferbeule en slawejagters. Die algemene Hollandse pers in die Kaap, soos De Zuid-Afrikaan en Het Volksblad maak direk of indirek propaganda vir die eenstroom-politiek wat so kenmerkend is van optimistiese liberaliste wat weinig oog het vir eie regte wat in praktyk nog nie erken is nie; plattelandse blaaie soos die Grahamstown Journal, Cradock News, Albert Times, (Burgersdorp) is in naam broederlik tweetalig en teoreties goedgesind teenoor Hollandse handhawing, maar in wese deur en deur Engels-eentalig; Afrikaners self, soos ds. A. Faure, veroordeel die Trek op grond van die feit dat dit ongehoorsaamheid is aan die wettige Engelse gesag, moedig Engelse dienste in die Hollandse kerke aan, dring daarop aan dat hul kinders deur Engelsmedium opgevoed word. As dit met die groen hout geskied, hoe moes dit dan met die dorre afloop? Die tydgees, en nie die vreemde gesag nie, het in die eerste plek voorgeskrywe dat die Afrikaanse mensdom as 'n geheel, en nie die Hollands-Afrikaanse groep as saamhorige eenheid deur lot- en bloedgebondenheid binne-in die heterogene geheel nie, die ideaal sou wees van die 19de eeuer, wat in die ou Kaapkolonie na die lang, woelige pionierstyd nou rustig en onbewus aan kultuurbou was. Artikel 8 van die traktaat van oorgawe van die Kaap in 1806 wat in 1814 by die sluiting van die Paryse Vredestraktaat bekragtig is, het op papier altans gewaarborg dat die ingesetenes van die volksplanting wat toe al 150 jaar oud was, al die regte | |
[pagina 4]
| |
en vryhede sou behou wat hulle tot dan geniet hetGa naar voetnoot1). Die taalregte word nie direk genoem nie soos by later vredestraktate sou geskied na gewelddadige verowering. Dit gebeur eers as die volksbewussyn reeds wakker is. In 1806 is daar oor die Kaap, nie met die Kaap onderhandel nie, deur staatsliede wat weinig praktiese kennis gedra het van die kulturele of selfs ekonomiese stand van sake, en oorlogverblind slegs oë gehad het vir die strategiese posisie van die gebied. Maar toe die nuwe eentalige Engelse staatshoofde en hulle amptenare arriveer, kom hulle voor die probleem te staan hoe om 'n ‘andertalig-eentalige’ bevolking te regeer. 'n Halfdosyn kort jare het die owerheid die tweeslagtige taaltoestand geduld, toe die Luitenant-Goewerneur op 19 Februarie 1813 proklameer dat hy die aanleer van die Engelse taal noodsaaklik beskou vir die koloniste; verder dat die land eentalig Engels sal geregeer word daar die Engelse staatsdiens die beginsel van vertaling nie huldig nie, en dat ‘he will consider himself obliged ...... in all future appointments ...... to make the possession of the English language an indispensable condition’.Ga naar voetnoot1) Alle skriftelike verbinding tussen owerheid en ingesetene moes dus deur middel van die Engelse taal geskied. Die hele staatsdiens wat vroeër die amptenare-penniste opgelewer het, sou gevolglik Engels wees. Die van Riebeecks, die Grevenbroecks, word vervang deur die Somersets, die Barrows. Waar die aankondiging van 1813 die Hollands-Afrikaanse regeerder en amptenaar as skrywer laat swyg het, het dié van 5 Julie 1822, die wetgeleerde die mond gesnoer. Lord Charles Somerset proklameer op daardie datum dat Engels uitsluitlik die taal van die Hof sou wees vanaf 1 Januarie 1827. Teen die feit dat die proklamasie reeds van 28 Mei 1825 van krag sou wees in die Oostelike Provinsie wat oorstroom was met die Engelse nedersetters van 1820, kon weinig beswaar gemaak word, maar die Engelse inkomelinge het slegs 'n klein deel uitgemaak van die bevolking as geheel. Nege-tiendes van die bevolking was geheel en al onbekend met die nuwe taal van die geregshof. Gevolglik kom daar verset, veral van die kant van die dorpies | |
[pagina 5]
| |
soos Tulbagh, Worcester, Caledon. Tog het die Engelse ook daar hul intrek geneem, maar die groeiende Engelse toon het daar nog nie so luid geklink as in die hoofstad nie. Die redding van die Afrikaner was dat hy op die platteland kon wegskuil waar die weerstandsvermoë vry ongestoord kon aansterk. By die eerste hofsitting in Worcester het geblyk dat daar geen jurielede te vind was met die gevolg dat geen Hof gehou is nie. Toe is jurielede saamgery met die rondgaande hof van dorp tot dorp en hoewel geen protesvergaderings of gesamentlike optrede teen die proklamasie plaasgevind het, was die teenstand tog so sterk dat die inwerkingtreding daarvan 'n jaar uitgestel is en die voorskrif nooit tot op die letter nagekom is nie. Maar die Hollandse taal het letterlik volkome verdwyn, byna 'n eeulank, uit die mond en die pen van die bekleërs van een van die belangrikste beroepe vir die oplewering van skrywers in die 19de eeu: nl. dié van regsgeleerde. Die boer keer sy rug op die administrasie en trek hom so ver as moontlik daarvan terug. Maar die amptenaar, die regsgeleerde, die stedelike kultuurdraer, die skrywer, moet noodgedwonge in gelid val met die nuwe heersers. Aangetas deur die geestestroming van die tyd en as gevolg van spesiale landsomstandighede is daarby die weerstandsvermoë van die regsgeleerde nog minimaal teen die opgelegde maatreëls. Die Cloetes, die Van Reenens uit die geslagte wat regsgeleerdes opgelewer het, word ‘Clootys’ en ‘Wêns’ en as skrywers is hulle verlore. Die gewelddadige ingryping van die owerheid maak later plek vir meer vreedsame en gevolglik des te gevaarliker stelselmatige verengelsing. Die metode wat aangewend word, is die verengelsing van die onderwys. In Kaapstad word dadelik Engels as medium ingevoer, op elke dorpie 'n vrye staatskool geopen, met 'n goedbesoldigde, ingevoerde Engelse onderwyser. Die gees van ontevredenheid broei egter en oral groei Hollandse privaatskole met swakker opgeleide en swakker betaalde onderwysers op dieselfde dorp. Die Zuid-Afrikaansche Athenaeum in Kaapstad neem onvervaard sy anti-Engelse houding in, die vrye staatskole begin leegloop. Dan stel Sir George Napier onder die druk van versef van die Kolonie in 1839 sy ‘Government Memorandum’ op, 'n skikking, 'n versoeningsdaad, waarin voorsiening gemaak word vir die onderrig van Hollands maar met die doel om daaruit in | |
[pagina 6]
| |
Engels te kan vertaal, en sodoende ‘a sound grammatical knowledge of the English Language’ te kry. Die slot-advies lui dan ook: ‘his Excellency has to add one (advice) of paramount importance to this Colony viz. to render its Educational Establishments effective in diffusing a correct knowledge of the English language among all ranks of the people.’ Van veel groter belang as die taalwette wat van bo-op opgelê is, is die opvattings van die Afrikaners self oor hul taal en kultuur. Die geslag wat middeljarig was met die oorgawe van die Kaap, 'n geslag wat aan die Hollands-Afrikaanse kultuurtoestand gewoon was, het nog enige krag in hom gehad en was pynlik deur die gewelddadige verandering getref. Hulle het regmatig daarop gereageer, maar die volgende geslag wat 'n nuwe skoolwet oor hom sien passeer in 1865, was reeds lamgeslaan, sak terug, en aanvaar as 'n voldonge feit dat Hollands gedurende twee geslagte totaal uit die regeringskole geweer is. Onderwyswet No. 13 van 1865 bepaal dat alleen Engels as voertaal in alle eerste- en tweede-klas regeringskole sal gebruik word, en na 'n jaar ook in die derdeklas skole, d.w.s. die plattelandse. Waar Nederlands as vak nog behou word, word dit in sommige skole deur medium van Engels aan Hollandssprekende kinders geleer, met die gevolg dat die klasse in 'n ware klugspel verloop. In 1873 is Engels ook aangeneem tot die enigste taal van die Kaapse Universiteit, die inrigting vir hoër onderwys wat uit Changuion se Athenaeum gegroei het. En die Afrikaner het Engels, die wêreldtaal, met 'n ontstellende gemak aangeleer en as omgangstaal, as enigste kultuurtaal ook van sy land, aanvaar. Die onderwyskragte, die professie wat naas die regsgeleerdes die grootste aantal skrywers in die Dietse lande in die negentiende eeu opgelewer het, is deur tweetaligheid in skyn, Engelseentaligheid in werklikheid, as skrywers aan die Kaap stomgeslaan. Want 'n vreemde taal spreek, hoe onberispelik ook al, en daardie taal as literêre medium besig, is twee dinge. Die Changuions, die Van Oordts, moet wyk vir die Braids, die Andersons, die Fergussons. Die predikant-skrywers en die joernaliste bly nog oor. Maar ook die skool van die volwassenes, die Nederduits Gereformeerde | |
[pagina 7]
| |
Kerk, is stelselmatig verengels, uit die staanspoor uit. Saam met die Skotse onderwysers word van 1822 af ook Skotse predikante ingevoer, en die pastorieë van die Kaldens die Van Liers, die Borcherdse, die Vosse, gevul met Murrays, McGregors, Robertsons. Die predikante word deur die regering aangestel, uit die staatskas betaal, met die gevolg dat die regering sy verteenwoordigers, die fiskaal of die kommissaris-politiek op die eerste sinodes het, wat kon rapport doen dat daar geen anti-Engelse of rewolusionêre gesindhede geheers het nie. In 1834 is besluit dat naas die gewone preekbeurte ook dienste in Engels sou gehou word, waar die predikant enigsins die taal magtig was. Vyf jaar later kondig Sir George Napier se staatskennisgewing van 23 April 1839 aan, dat gebore Suid-Afrikaners nie meer die voorkeur by aanstelling van predikante vir die Nederduits Gereformeerde Kerk sal kry nie, dat kennis van Engels en die bekwaamheid om daarin te preek 'n vereiste sal wees, en dat toekomstige predikante voortaan ook in Engeland 'n deel van hul opvoeding behoort te geniet. Kerkleiers soos ds. A. Faure neem nie alleen hiermee genoeë nie maar juig dit toe. Gewoonlik het die Skotte na hul opleiding vir die Presbiteriaanse Kerk, voor hul koms hierheen 'n kort tydjie in Nederland vertoef om 'n ‘working knowledge’ van Nederlands te kry, maar hoewel hulle dan op 'n manier die taal kon preek, spreek dit vanself dat van skryf of dig in Hollands niks gekom het nie. Die ‘Daily Lights’, Sankey en Bateman, vervang dan ook by die jeug die Preekbundel, die Psalmboek, en die Kinderharp, veral in die kerkskole wat op Amerikaanse model gestig word. Taalbewus was die Kolonialers nog nie, die nasionale gevoel was nog sluimerende, maar die godsdienstige gevoel kon tog moeilik duld dat die jong geslag met die taalmedium van die Statebybel en die Heidelbergse Kategismus heeltemal onbekend sou bly, en die ontevredenheid, hoewel flou en vaag, is nog daar. Dit is meer 'n godsdienstige as 'n nasionale verset wat aan die groei is. Maar as die Teologiese Seminarium in 1858 in Stellenbosch opgerig word, na heelwat teenstand, veral van die liberale Nederlandse groep, 'n nuwe bloedstroom in die kerklike lewe naas die Skotse en die ortodokse predikante, is die eerste professore soseer onder die invloed van die tydgees dat die hele boekery, wat as grond- | |
[pagina 8]
| |
slag van die toekomstige predikante van die Nederduits Gereformeerde Gemeente moes dien, byna uitsluitlik uit Engelse werke bestaan. Die pastorieë van die eerste in Stellenbosch opgeleide predikante word dan ook veelal die kweekplekke van Engels-Afrikaanse kultuur, 'n toestand wat op weg was om die nekslag te help toedien aan die opkoms van 'n eie Hollands-Afrikaanse gedagte. Tog in die tydperk van 'n geweldige vaart van anglisering, omstreeks 1865 tot 1870, is een van die weinige teenstandpunte hierdie eie kweekskool, hoe aangetas ook al deur die tydgees. Die Hollands-Afrikaanse kultuursentrum van die agtergeblewenes het uit die moederstad, Kaapstad, geskuif na groot dorpe. Van 1859 verskyn 'n eie godsdienstige maandblad, De Wekker met 'n onmiddellike sirkulasie van byna 5000 onder redaksie van ds. J.H. Neethling van Stellenbosch, met die pakkende spreuk: ‘Ontwaakt, gij die slaapt! En staat op uit de dooden; en Christus zal over u lichten!’Ga naar voetnoot1) Hierdie blad is vooruitgegaan deur die kwartaalblad Elpis, Algemeen Tijdschrift voor Zuid-Afrika onder redaksie van dr. Servaas Hofmeyr, van Montagu, en opgevolg deur 'n halfweeklikse koerant in 1862 met die uitgesproke doel om die ortodokse sienswyse te bepleit, nl. De Volksvriend onder redaksie van eerw. D.J.H. Ruytenbeek, later geredigeer deur Jan H. Hofmeyr, die beroemde ‘Onse Jan’ van die Afrikaanse volk, en in 1871 saamgesmelt met De Zuid-Afrikaan. Hierdie blaaie was in besonder bedoel as teenpropaganda teen die algemene pers: De Zuid-Afrikaan en Het Volksblad en die godsdienstige maandblad van die liberale party, De Onderzoeker wat onder redaksie van L. Marquard in 1860 verskyn het, en voortgesit is tot 1884, almal uitgegee in Kaapstad by die ondernemende uitgewer B.J. van de Sandt de Villiers. Vryheid van die pers was altyd die eer en die trots van die Engelse oorheerser. Na 'n kort, heftige stryd aan die begin van die 19de eeu is hierdie vryheid verseker, en kon ook die Hollands-Afrikaanse pers onbelemmerd sy gang gaan. In elke tydperk van die ontwikkeling van 'n volk, is die koerant en die | |
[pagina 9]
| |
tydskrif die spieëlbeeld van wat daar in die siel van die volk omgaan. Nog sterker was dit in ons land die geval by die nagenoeg algehele afwesigheid van boekuitgawes, behalwe die suiwergodsdienstige drukke van die ‘Christelijke Drukpers Vereeniging’ in 1861 gestig. Die ortodokse lektuur wat sinds 1853 deur die ‘Christelijke Boeken Vereeniging’ versprei is, is met weinig uitsonderinge geen vrugte van Afrikaanse bodem. Dit is die joernaliste, wat hoe onbedoeld ook, op besondere wyse die taal bewaar, leeslus onder die volk opwek, dit sy dan ook veral vir stigtelike lektuur, en literatuur en lektuur van die mees beskeie soort skep, wat die onmiskenbare stempel dra van die sosiale en politieke omstandighede waaronder dit tot stand gekom het. En die maatskappy van Kaapstad, die setel van die vernaamste Hollandse pers, was deurweek met Engelse sedes en gewoontes in die jare sestig. Engelse kleredrag, Engelse tafelmaniere, Engelse meubels, Engelse omgangsvorme, Engelse sport, veral perde-wedrenne, was die mode van die dag, en van die hoogste tot laagste lae van die stad het die Engelse taal op straat gepraat, so goed of so kwaad, so krom of so skeef soos dit gegaan het. Die amptelike staatslewe, die regspleging, die skool, die kerk, die handel, die sosiale lewe van die Kaapkolonie, tot by Colesberg digby die Oranjerivier en tot in Grahamstown aan die oostekant van die streek, van Kaapstad in besonder, die moederstad van die Hollandse kultuurlewe, was duidelik georiënteer in die rigting van 'n nuwe Engeland. Sterk manne soos Changuion het in moedeloosheid erken dat die verengelsing die oorhand gekry het en dat die Nederlander wat sy lot ingewerp het met ons, nie meer kon reken op die steun van die Hollandse Afrikaner nie. Selfs die Hollandse toneel, wat 'n groot bindende faktor van die Hollandse gemeenskap op kultuurgebied in Kaapstad was, het 'n tydlank so goed as dood gekwyn. In hierdie omgewing het Melt Jacobus Brink opgegroei, hom, sedert 1865, in die grootste eb-tyd van die Hollands-Afrikaanse kultuur in Kaapstad, op die studie van die Nederlandse letterkunde toegelê, toneelwerksaamhede verrig wat hom 'n waardige voortsetter maak van die Hollandse toneellyn aan die Kaap, Villet-Tredoux-Boniface-Combrinck. Dit was moontlik omdat nie almal die knie voor Baäl gebuig het nie, - daar is kerk- | |
[pagina 10]
| |
skole en privaatskooltjies waar Nederlands die medium van onderrig is, waar selfs geen woord Engels geleer word nie, in die huise van eenvoudige lui heers nog die aartsvaderlike gewoontes, klink Afrikaans as enigste huistaal; in dié van die deftige, rustige buurt leef die besef nog, hoewel dit algaande flouer word, van verwantskap met Nederland; in Nederland deel nie iedereen die Engelse sienswyse ten opsigte van die Hollandse Afrikaners nie o.a. die professore Royaards en Vinke wat moeite doen om predikante te stuur. jhr. mr. F.W.A. Beelaerts van Blokland, aan die Kaap gebore toe sy vader fiskaal was onder die Bataafse bewind, skryf aan prof. Lauts, die groot Boerevriend wat hom in Nederland bemoei met die belange van die Trekkers, in 1848 na aanleiding van die illuminasies waarmee die nuwe goewerneur Sir Harry Smith in die Kaap ontvang is: ‘Die goede Kapenaars zijn nu weer vol vertrouwen; zij moesten liever afwachten 's mans daden, personen en woorden doen hier niets af, 't is 't systeem dat veranderen moet...... men schijnt de ondergang van al wat Hollandsch is gezworen te hebben en zich niet meer over de gegronde redenen van misnoegen onzer boeren te bekommeren’.Ga naar voetnoot1) Dan gaan hy voort om Groen van Prinsterer se opvatting van die boere te bestry net soos Jacobus Stuart, die skrywer van De Hollandse Afrikanen en hunne Republiek 1854Ga naar voetnoot2) in 'n ope brief protes aangeteken hetGa naar voetnoot3) in dieselfde jaar van die verskyning van sy geskiedenis van die Trekkers teen die gedig ‘De Christen-Zendeling’ van mr. J.H. Koenen waarin die digter dr. J. Th. van der Kemp van Bethelsdorp verheerlik en ‘den harden boer van 't Kaapgewest’ te lyf gaan. | |
2. Melt Jacobus Brink (1842-1925).Melt Jacobus Brink is in 1842 in Kaapstad gebore uit 'n Hollandse familie wie se Afrikaanse verlede teruggaan na die begin van die 18e eeu. Net soos dié van hulle buurman De Wet, | |
[pagina 11]
| |
die vader van die bekende Marie Koopmans - De Wet en ander van die mees vooraanstaande Kaapse families, het Melt as gevolg van die feit dat hulle wortels ver en stewig teruggegaan het in die eie verlede, sy jeug in 'n suiwer Hollands-Afrikaanse huisatmosfeer geslyt. Deur ekonomiese druk en bankrotskap as gevolg van borgstaan is die familie verplig gewees om vyftien jaar lank van bakboord na stuurboord te swerwe met die gevolg dat die talentvolle seun slegs die mees elementêre skoolopleiding kon bymekaar skraapGa naar voetnoot1). In 1849 het die familie Brink Kaapstad verlaat en hulle as boere gevestig in Saldanhabaai waar die seun Melt van 'n matroos, Jan Jansen, 'n jaar lank skoolonderrig gehad het. Na 'n jaar het Jansen, die gestrande stuurman, sy pos as meester aan die baai verruil vir 'n meer winsgewende op die nuwe dorpie Hopefield, maar sy leerling het dit reeds sover gebring dat hy ‘banketbakkerswinkelknecht zonder haperen kon zeggen’Ga naar voetnoot2) en alleen kon voortsukkel tot hy op twaalfjarige leeftyd taamlik vlot Nederlands kon lees en skryf. Sy skoolopleiding was bedroef gering maar in die skool van die lewe het hy van jongs-af allerlei tipes leer ken soos boere, werkvolk, ambagslui, vissers wat heerlik kon vertel aan die toekomstige volksverteller. Toe die familie in 1856 terugverhuis na Kaapstad, het Brink se vader 'n losieshuis begin en die kinders weer skool toe gestuur; maar in Kaapstad het Melt weer net een jaar skool gegaan by die inrigting vir laer onderwys ‘Tot Nut van 't Algemeen’ en ook tekenles gekry toe sy vader 'n wynplaats by Houtbaai koop en die familie in 1857 daarheen vertrek. Toe moes Melt behulpsaam wees met die boerdery, maar in sy hoof het die groot droom gelewe om 'n beroemde skilder te word en ondanks die drukte van die plaaswerk het die skoonheid van die omgewing van Houtbaai en die kun- | |
[pagina 12]
| |
stenaarsdrang van binne hom gereeld na sy teken- en skilderwerk gedryf. Sy vader het aan aardse sorge sy deel weggehad en toe hy in 1864 nogmaals in geldelike moeilikheid verkeer, moes die plaas verkoop word en is die familie weer terug na Kaapstad, dié keer na die Buitengrachtstraat, nie meer na die huis op die hoek van die deftige Lang- en Strandstrate waar die jong Metlt die lewenslig gesien het nie. Na 1864 het vader Brink eers 'n bakkery en daarna 'n slagtery gehad waarin die toekomstige volksdigter werksaam was ‘om mijn medezondaren zowel als mezelf de maag te helpen vullen’Ga naar voetnoot1). Hy is in Kaapstad in 1875 oorlede, die vreugde en die sieraad van sy familiekring, hierdie onbaatsugtige, mensliewende maar al te altruïstiese en onpraktiese man wat sy familie in armoedige omstandighede, sy begaafde kind half- of byna nie-geskoold agtergelaat het omdat sy hart te ruim, sy hand te gul was, en omdat die heersende stelsel die Afrikaanse boer uitgepers en van sy grondbesit begin ontroof het. Andries, die enigste stiefbroer van Melt junior - Melt Senior was tweemaal getroud, die tweede maal met Alida Frederika Louw, die moeder van Melt junior - het landmeter geword en kon die tekentalent in die ‘verfsmeersels’ van sy jonger broer bespeur. Andries het die skilderstukkies en tekeninge aan 'n vriend getoon en dié het hom aangeraai om sy stiefbroer na die inrigting vir gevorderde onderwys te stuur om vas te stel of daar werklik talent skuil in die outodidak wat alle leesstof, maar by voorkeur Nederlandse, verslind het en so vaardig met pen en penseel kon krabbel. In 1865, die jaar wanneer dr. A.N.E. Changuion in wanhoop sy rug keer op onderwystoestande in Suid-Afrika, o.a. daardie stigting van die kerk, die Zuid-Afrikaansche Athenaeum, word Melt leerling aan dieselfde inrigting wat toe reeds verdoop was in die Zuid-Afrikaansche College en vinnig op pad was om ook die eerste deel van sy beroemde naam te verruil vir die lensiesop van ‘South African.’ Slegs een jaar het die drie-en-twintig-jarige aan die kollege soos 'n besetene gestudeer, te kort om in die maalstroom van stedelike denasionalisering te | |
[pagina 13]
| |
kom of aan die ander kant tot wetenskaplike taalinsigte te geraak, te lank om die wesensverskil tussen die skryftaalvorm en die spreektaalvorm van sy moedertaal meer intuïtief aan te voel. Sy hele lewe sou hy teen Afrikaans as skryftaal wees en 'n tussentaalvorm besig, maar wat juis die gewenste vorm was om 'n groep lesers gewend te maak aan 'n taalvorm wat nie meer Nederlands was nie. Omdat dit tog ook weer nie so vreemd in sy Afrikaanse kleed was dat dit hul totaal sou afskrik nie, het hierdie tussentaalvorm die Afrikaanse lesers voortdurend die waarheid onder die oë gehou dat die taal van Nederland nie meer die taal van hul land was nie. Die oorgang na suiwer Afrikaans is daardeur vir menigeen vergemaklik. Melt Brink se eerste literêre poging in die vorm van 'n betekenislose grappige versie ‘Op die Snyder Kakatoe’ dateer reeds uit die jaar 1856, tydens die skooldae van ‘Tot Nut van 't Algemeen’, maar dit was in die Zuid-Afrikaansche College in 1856 dat hy met verwoede skryflus behep, bladsye vol verse en grappe, veral uit die Nederlandse literatuur en lektuur begin oorskryf het en in die trant van sy modelle begin dig het of liewer napraat het soos 'n egte ‘kakatoe’. En in die loop van die volgende sestig jaar het hy honderde verse en vertellinge gedig wat aanvanklik slegs in tydskrifte en koerante geplaas is soos Het Zuid-Afrikaansche Tijdschrift, Jong Zuid-Afrika, Ons Tijdschrift, De Zuid-Afrikaan verenigd met Ons Land, asook De Goede Hoop en De Unie. Veel later is dit uitgegee in die bundels Grappige Stories e.a. VersiesGa naar voetnoot1) waarvan die eerste bundel in 1893 verskyn het. Die digwerk uit die eerste twintig jaar tot omstreeks 1884, is in Nederlands opgestel, ernstige, didaktiese, vervelende gerym vir 'n groot deel, waarvoor sy tydgenote in die bloeityd van die predikantekuns juis hoë lof gehad het. Slegs die titel van een van die vroeë verse, ‘Het Graf’, kan volstaan om die aard en strekking van die eerste verse aan te dui, 'n vers wat hy voorgedra het in die rederykerskamer ‘Aurora’ volgens die voordragaandprogramma van 1867. In die jaar van die stigting 1867 het Melt Brink lid geword | |
[pagina 14]
| |
van die Vrye Protestantse Kerk. Hy was jarelank sekretaris en toe weer tesourier van die Kaapse gemeente van die Unitariërs en tot aan sy dood een van hulle getroue kerkraadslede. Dit lê dus voor die hand dat hoewel die direkte sedepreking en moralisering van sy streng Gereformeerde modelle ruimskoots sal verteenwoordig wees in sy verskuns, dit die kern van sy kuns nie kon wees nie. Wie 'n Vrye Kerk help oprig, bly nie voortrym op 'n verstarde tradisionele wyse nie, maar loop ook altyd gevaar om steeds losser te raak van die tradisionele volkseie en tot oppervlakkigheid te verval. Tot die ortodokse Nederduits-Gereformeerde Kerk het die Unitariër met 'n aangebore geestigheid en 'n sin vir die aardse skoonheid en goedheid hom nooit aangetrokke gevoel nie. Maar hy het nie alleen sy hele lewe deur ywerige lid gebly van die opposisie-kerk op meer liberale grondslag gebaseer as dié van die gevestigde kerk nie: hy het ook in 1874 die stigter en leier geword van 'n buitekerklike vereniging ‘De Roode Ster’, 'n soort vrymesselaarslosie wat hom as doel gestel het die veredeling van die hele mensdom deur liefde, waarheid, deug, vrede en troue vriendskap te bevorder. Uit die verstarring het hy uitgekom maar op gevaar af van eie identiteit te verloor in die ‘breedheid’ en ‘gelykheid’ van 'n nuwigheid! Die hooftoon van sy kuns kon nooit ernstig wees nie. Langsamerhand het Melt 'n toonaangewende leier geword in die verenigingslewe van Kaapstad. Hy was nie alleen leier van ‘De Roode Ster’ nie, maar later lid van De Zuid-Afrikaansche Societeit, Het Algemeen Nederlandsch Verbond, De Zuid-Afrikaansche Taalbond, Vereeniging Hollandia in Kaapstad, erelid van die Maatschappij der Nederlandsche Letteren in Leiden, ens. Maar dit is tog veral aan die rederykersvereniging ‘Aurora’ dat hy sy grootste kragte gewy het. ‘Aurora’ is in 1866 deur vyf gebore Nederlanders W.F. Stamrood, (voorsitter); M.N.J. Gyselman (sekretaris); F. Koster, A.H. Koster en H.W. Teengs opgerig onder die smspreuk ‘Onvermoeide vlijt komt alles te boven’. Op beskeie wyse het hulle hul verrigtinge aanvanklik bepaal by die voordra van fragmente uit Nederlandse treur- en toneelspele en die resiteer van verse. 'n Enkele keer het hulle 'n poging aangewend tot eie literêr-skeppende werk. Toe Melt Brink sekretaris of faktor van die kamer word en F. Koster voor- | |
[pagina 15]
| |
sitter, het die vereniging 'n groot bloei wat meer as twintig jaar geduur het, tegemoet gegaan. Tussen 1868 en 1877 het Brink nie minder as veertien toneelstukke nie in Nederlands geskryf en almal is deur ‘Aurora’ opgevoer. Die eerste is Het origineele Testament (1868), 'n blyspel in drie bedrywe en die laaste 'n historiese drama in ses bedrywe uit die Tagtigjarige Oorlog, De Slagers van Ghent (1877). Hierdie toneelstukke het dikwels ontstaan in 'n gees van strydvaardige handhawing van die Hollands-Afrikaanse kultuur aan die Kaap wat vinnig aan verengels wasGa naar voetnoot1). Hoewel die stof dikwels nog uitheems was soos selfs in die geval van die genoemde historiese drama, word die idee daarin opgesluit, toegepas op die nasionalistiese strewe van die Afrikaner en weerkaats die stukke die sosiale agtergrond van Kaapland en nie van die land van die stof waarop Melt Brink sy stuk baseer nie. Dit is geen literatuur wat in die ivore toring ontstaan het nie maar dit is die uitdrukking, hoe onbeholpe en melodramaties ook al plekplek, van die stryd en aspirasies en oorwinning van iemand wat self slagter en bakker was, wat met albei voete binne in die breë volksgroep van die Afrikanerdom gestaan het en as hulle tolk kon en wou optree. Daar is veel uiterlike aksie, daar is momente van spanning en styging en selfs van 'n aangrypende klimaks wat hierdie historiese drama De Slagers van Ghent tot 'n hoogtepunt maak van Brink se ernstige toneelwerk. Maar die grootste betekenis lê in die weerspieëling van die maatskaplike lewe van een van die historiese gebeurtenisse in eie land, daar dit ontstaan het in die Anneksasiejaar, 1877, van die Zuid-Afrikaanse Republiek. Hierdie gebeurtenis het in alle Afrikaners binne, sowel as buite die staatsgrense van die getroffe republiek wat geen rekening hou met taalgrense nie, 'n samehorigheidsgevoel, 'n nasionale bewussyn wakker geroep wat op 'n vryheidsoorlog uitgeloop het. In die Tagtigjarige Oorlog van die land van herkoms vind Melt Brink, die Afrikaanse slagter, sy teenhanger om aan die geskokte gemeenskap voor te hou. | |
[pagina 16]
| |
Nog 'n stuk uit die eerste periode van sy toneelwerk wat 'n gebeurtenis van die allergrootste ekonomiese belang, die ontdekking van diamante en die daaropvolgende instroming van vreemde fortuinsoekers en dwase diamantkoors van eie eenvoudige landbewoners, weerkaats, is Naar de Diamantvelden in 1870. As toneelstuk is dit swak maar dit vorm 'n duidelike weerspieëling van Brink se sin vir die aktualiteit en vir die daelikse werklikheid.Ga naar voetnoot1) Onder die veertien geskrewe Nederlandse bly- en klugspele is ook later bekendes in Afrikaanse bewerking soos De Weddenschap en De onaangename HuishoudsterGa naar voetnoot2), alles na die voorbeeld van Nederlandse realistiese klug- en blyspele en romantiese toneelstukke waarmee Brink in ‘Aurora’ kennisgemaak het wat die tegniek betref, maar deurgaans adem elke stuk die eie Afrikaanse sosiale sfeer. In sy toneelwerk is die bonte romantiese struikrowery, die uitspattige kroeglewe, die soldatebrassery wat in enige land op die aardbol kan aangetref word, maar daar is ook die tipiese Kaapse boere- en ambagslewetjies, die hotnotstoeiery oor 'n oulap of 'n bottel wyn, die geheimsinnige goëlery van die Kaapse Slamaiers wat die stukke onmiskenbare Afrikaans en meer bepaald Kaaps bestempel. Dit is waar, die klugte is dikwels plat en ru en grof van aksent; wie humor soek, moet hom tevrede stel met komieklikheid; in plaas van geestigheid kry ons hoogstens luimigheid en wat komies bedoel is deur die skrywer word dikwels laf en kinderagtig, stuitig, bas-komiek op die toneel; maar op die konstruksie en speelbaarheid van die klug- en blyspele val weinig te sê en altyd is hul kultuur-histories van belang in hul weerkaatsing van die toneelsmaak en/of die omgangslewe van die publiek, die historiese gebeure van eie land. Net soos die geval was met sy toneelwerk in ‘Aurora’ het sy digwerk oorgegaan van die ernstige gediggies in Nederlands, na die grappige in Kaaps-Hollands. Taamlik gou het hy sy ware toonaard en dan eers kom die grappige verse en vertellinge op | |
[pagina 17]
| |
rym wat sy lesers verslind het en wat by alle moontlike byeenkomste aangehaal en voorgedra is. Dan blyk dit dat hy boeiend kon vertel, goed rym, tergerig-raak menslike tekortkominge en eienaardigheidjies teken, komies-satiries sosiale wantoestande belig in 'n taalvorm wat nie die boeketaal-Nederlands was nie, maar ook nie die ultrafonetiese Afrikaans van die eerste skrywers van daardie vorm nie. Vir ons smaak is sy grappige verse dikwels kinderagtig en soutloos, maar dit het in die smaak geval van die Afrikaanse publiek van dié tyd en deur te voorsien in die behoefte aan grappige lektuur het Brink enorm veel gedoen om die leeslus aan te wakker. Die allerbekendste vertelling is seker Die Reis na Kaapstad van Oom Gysbert van Graan. Maar daar is nog talryke andere wat 'n skaterlag telkens weer uitgelok het soos Die Slangbyt. Hierin word vertel hoe Oom Piet Nugter die ewigheid ingeslinger is omdat sy oorvrome dogters wat hom van die drankgewoonte genees het, die doktersvoorskrif van drie glase brandewyn in 'n halfuur tyd, van die hand gewys het in hul oordrewe angs vir bedwelmende drank; of die verhaal van Hotnot Adonis wat in sy vergeetagtige beneweldheid g'n sin vir verhouding het nie, maar na hy vier dae lank gery het om vir sy ounooi drie oulap se spelde saam te bring, met die spelde maar sonder die stukvat tuiskom. Nie altyd in die beste smaak nie maar ongetwyfeld grappig berym hy die benoudheid van die vrome kerkman Oom Daantjie wat by die doopplegtigheid van sy tiende kind soveel pyn te verduur het van sy splinternuwe kapstewels dat hy hardop by sy gebruiklike Sondagse smeekbede om seën en reën byvoeg: ‘Ag hoor ons liewe Heer
En send Uw seën op ons Kerk
En op my stewels neer.’
Of die onortodokse versmaker lag oor die swakheid van Oom Paul wat onder die rusbank verstop lê as die dominee op huisbesoek kom en sy twee veldskoene laat uitsteek met die gevolg dat sy onderdanige vrou wat vertel het dat hy nie tuis is nie lelik op haar neus kyk as die dominee opmerk: | |
[pagina 18]
| |
‘Dit skyn my by jou ook nie pluis
Jy sê dat jou man na sy buur is gegaan,
Maar hoekom is sy voete nog thuis?’
Vanaf die Eerste Vryheidsoorlog 1881 tree Brink ook telkens sporadies op as nasionalistiese volksdigter wat alle Boeretradisies, sedes en gewoontes verdedig in sy verse. Maar dit is eers in die vierde bundel Grappige Stories en andere Versies wat in 1896 verskyn het dat die eerstes van hierdie genre opgeneem word, hoewel sommige daarvan reeds meer as 'n dekade vroeër in nuusblaaie en tydskrifte verskyn het. Dit is veral na die Jamesoninval in 1896 dat Brink hom gaan toelê het op verse wat die nouste verband hou met die politieke gebeure. Die meeste daarvan is opgeneem in die laaste drie dele van sy Grappige Stories en andere Versies. Sy nasionalistiese verskuns vind 'n hoogtepunt in die drie bundels Nationale en Afrikaanse Gedigte waarvan die meeste die digter in die pen gegee is deur die worsteling van die Tweede Vryheidsoorlog. Hy was egter te ondiep om die nasionale ontroering as vanself in hom om te dra. Een van die belangrikste gebeurtenisse in sy lewe, wat spore nagelaat het op sy verskuns, was sy reis na die Noorde in Mei 1899 op uitnodiging van die Algemeen Nederlandsch Verbond, juis in die tyd toe die Engelse imperialisme 'n klimaks begin bereik het. In Pretoria is hy op 'n feestelikheid amptelik deur die Zuid-Afrikaansche Republiek ontvang en soos hy self vertel ‘In menig huis geïnviteer
En ook die President se huis
Het ons besoek, alwaar die ou
Met Tante Sannie, sy ou vrouw
Daar lekker met ons het gepraat......’
Onder voorsitterskap van ‘ons digter Reitz’, die toenmalige staatsekretaris, is 'n geslaagde byeenkoms gereël: ‘Om van my versies, een of meer
Naar dit beval mag, te resiteer.
Ik was dus op die plek alhier
Vir hul sowel als my plesier.’
| |
[pagina 19]
| |
In Bloemfontein, die hoofstad van die Republiek van die Oranje-Vrystaat, het dr. Brill, die rektor van die Grey College, die voorsitterstoel ingeneem van 'n byeenkoms van letterliewendes wat in groot getalle opgekom het om te luister na ‘Zuid-Afrika's dichter’. Talle van verse het hy toe en daarna gemaak op nasionale figure soos die Presidente Kruger, Steyn en Burgers, die generaals De Wet, Botha, Hertzog, De La Rey, die staatsmanne Reitz en Onze Jan om maar enkele van die bekendes te noem. Hoewel Kruger vir hom die ideaal beliggaam het van die Trekkervolk wat in die Noordelike Republieke uitgebloei het tot 'n eie suiwer Hollands-Afrikaanse nasie, is dit die leier van die Afrikaner-Bond, Jan Hendrik Hofmeyr, wat vir Brink, die Kaaplander, die tolk gebly het van die eenheidsgedagte wat alle Afrikaners, Republikeine sowel as verengelstes, wou omvat. Van hom sê hy dan ook telkens weer met enigsins variërende verouderde beeldspraak: ‘Het erekruis dat hem versiert,
Is niet gewrocht in goud,
Maar in de harten van zijn volk,
Dat hem in ere houdt.’
Vir Melt Brink was die taal altyd die vernaamste draer van nasionale selfstandigheid. In ‘Ander Tye, ander Sede’ bestraf hy die jeug wat in hul onbesonnenheid die vreemde vermaaklikhede najaag, Engels praat, hul name verengels. Uithuisige vroue, inkonsekwente ouers wat die lippetaal van ‘Land en Taal sal ons steeds eer’ gebruik en: ‘toe hul kinders stuur na skole
Waar hul net maar Engels leer,’
en dan vergeet dat:
‘Met de taal gaan ook de zeden
Van 't voorgeslacht te loor meteen.’
Oor die taaltoestand is daar tientalle verse en steeds is sy standpunt dat die skuld by die ouers lê dat die jong geslag die Dietse | |
[pagina 20]
| |
taalvorm so skandelik verwaarloos. Dit is niks meer as die verdiende loon van ou Piet Visagie nie dat klein Piet wat van die Kaapstadse kosskool op die plaats terugkom, hom ‘daddy’ voor en agter noem totdat die ou Boer wat hom doof aanstel en ironies op alles lag op die vraag van die seun: ‘Well! Old man! ......... for what do you laugh?
antwoord: ‘Ik glo’ sê die ou man ‘my kind is nooit gaaf,
Hy maak wel sy mond oop, maar 'k hoor geen geluid
En niks maar as wind kom sy keelgaatjie uit.’
Die wortel van die kwaad is volgens Brink die verdraaide opvatting dat die eie taal vanself kom: ‘Zo lang de leuze bij ons Volk
Nog altijd steunsel vindt,
Dat eerst het Engels dient geleerd,
Van jongs af bij het kind,
En dat het Hollands komt vanzelf,
Zo lang vecht gij met wind.’
Sy standpunt ten opsigte van die offisiële skryftaal van die Afrikaner was dat dit Nederlands was en moet bly. Tot ongeveer 1884 gebruik hy self vry goeie Nederlands in sy toneelwerk en versies, maar dan begin hy 'n eie koers in te slaan en besig 'n eie taalvorm wat nog vis nog vlees was, maar wat hoe langer hoe meer in die rigting van suiwer Afrikaans gegaan het. Daardeur het hy, in 'n periode van stryd oor die taalvorm, lesers ingeoes van albei partye, sy wye leserskring gewoond gemaak aan 'n taal wat geen suiwer Nederlands meer was nie en ‘toe die afwykinge eers begin het, moes die eindresultaat suiwer Afrikaans wees.’Ga naar voetnoot1) Die vorm van sy taal was die gewenste oorgangsvorm wat uit die nood van die tyd gebore is. Per slot van rekening kom dit daar minder op aan dat die vorm nooit enige lewensvatbaarheid kon hê | |
[pagina 21]
| |
nie so lank dit maar die tolk was van die hartstogtelike liefde vir eie volk en taal wat verstaanbaar was vir die Afrikaners. En dat Brink die Afrikanerhart getref het, vermaak verskaf het en ook liefde vir land, volk en taal aangewakker het, ly geen twyfel nie. Die digterlike besieling van sy gedig ‘Mijn Land, mijn Volk, mijn Taal’ kon nie anders as aansteeklik werk nie: ‘Ik min mijn Land, ik min mijn Volk
Ik min mijn eigen Taal!
Zij zijn mij dierbaar, heilig schoon,
Waar ook mijn voet mag dwaal.
Ik zeg niet, dat er op onz' aard
Geen schooner land kan zijn!
Of dat geen eed'ler, groter volk,
Bestaan kan dan het mijn'
Maar 'k min mijn eigen land, alleen
Omdat het eigen is,
Omdat ik op een vreemde grond,
Mijn eigen land zo mis.
Omdat ik in een vreemde taal
Voor weemoed en voor smart
Of voor mijn vreugd, geen klanken vind
Die spreken tot mijn hart!’Ga naar voetnoot1).
Die nasionalistiese in die digter kom in verset teen die verengelsing, teen die jingoïsme van die tydperk van Britse inmenging in die binnelandse politiek van die Republieke wat uitgeloop het op anneksasie eers van die diamanthoudende grond en dan van die onafhanklike state self. Die suiwer nasionale toon klink in die alombekende vaderlandse lied ‘Aan de Trekkers’ wat in 'n mooi toonsetting opgeneem is in die Hollands-Afrikaanse Liederbundel: | |
[pagina 22]
| |
‘Afrikaners, mint het land,
Waar ge zijt geboren!
Zijt ge niet er aan verwant?
Is Uw gaard niet hier geplant?
Laat dan nooit het vreemde strand,
Noch een schooner, rijker land
U het hart bekoren.’
Na 1900 en bepaaldelik in 1904 na die erns van die oorlog, begin die komiese aar weer te vloei en breek 'n tweede tydperk van toneelwerk aan. As mede-oprigter in 1903 en medewerker van die tydskrif De Goede Hoop onder redaksie van adv. J.H.H. de Waal, begin Brink daarin toneelstukkies publiseer waaraan daar 'n groot behoefte ontstaan het met die herlewing op kultuurgebied na 1900. Die eerste uit die tweede tydperk van hierdie genre waarmee hy vroeër in ‘Aurora’ reeds soveel sukses gehad het, is die blyspel Hoe Oom Jacob Hoogvlieg gefop werd. Onder die populêrste van sy komiese stukke kan ons verder noem Die Echtscheiding (1905), De Haat verstomt waar Liefde komt (1905) wat ieder drie drukke beleef het; Bij die Tandedokter (1905), Maljan onder die Hoenders (1906), O, die Muizen! of Het Stemrecht voor Vrouwen (1908), waarvan daar vier drukke gekom het, Grootvader se pijp. Van die ernstige stukke wat verdienstelik is en populêr geword het, verdien melding Voor Volk en Taal (1905), Berouw komt meestal te laat (1905), Die National Scout of Die Verloren Zoon (1913), Die Diamant; of, Verborgen Liefde (1917). Die grappige stukke weerkaats dikwels 'n sosiale probleem van die tyd soos die huweliksprobleem in Die Echtscheiding of die probleem van vrouestemreg in O, die Muizen wat dan met heelwat baskomiek tot 'n gelukkige oplossing gebring word volgens die insigte van die tyd. Die ernstige stukke is meestal romantiese melodramas, drakerige treur- en toneelspele teen 'n historiese agtergrond, meestal met motief uit die Tweede Vryheidsoorlog van die Republieke, net soos die eerste ernstige stukke direk, of indirek die Eerste Vryheidsoorlog van Transvaal tot agtergrond gehad het. Stukke soos Die National Scout en Voor Volk en Taal word gekenmerk deur 'n nasionale tendens en is 'n weerspieëling van | |
[pagina 23]
| |
Brink se vaderlandsliefde en volkstrou. Hoewel die stukke in die 20ste eeu verskyn, is die oorheersende toonaard nog presies dieselfde as dié van die laaste kwart van die vorige eeu, naamlik grappig, sonder werklik geestig te wees. In die 20ste eeu breek daar 'n nuwe tydperk aan in die Hollands-Afrikaanse literatuur waaraan Brink part nog deel gehad het. Die gedagte was vir hom pynlik dat die jonger geslag sy kuns nie meer op prys kon stel nie en dit as ‘Karikatuur’ gaan bestempel het. In die sesde deel van sy Grappige Stories en andere Versies skryf hy: ‘Ik weet wel, dat gij in mijn eenvoudige versjes geen dichtersgenie zult zoeken; ik schreef slechts wat mijn hart gevoelde. “Melt is geen dichter” heeft een mijner beoordeelaars gezegd; en niemand weet beter dan ik dat hij de waarheid heeft gezegd......’ Ook uit die voorwoord vir die reeks Nationale en Afrikaanse Gedigte blyk dat hy hom daar weemoedig van bewus was dat hierdie reeks waarskynlik nie die letterkundige smaak van die 20ste eeuse leser sou streel nie. Sy dagtaak was afgedaan en dit het langsamerhand donkerder om hom geword. In 1908 is hy as amptenaar op pensioen gestel en het hy die kantoor van die Landmeter-Generaal vaarwel gesê. Hy het daar sedert 1867 'n betrekking as tekenaar van landkaarte en diagramme beklee, 'n pos wat hy deur bemiddeling van dieselfde vriend wat sy stiefbroer oorgehaal het om hom na die Zuid-Afrikaanse College te stuur in 1865, gekry en veertig jaar lank behou het. By sy afskeid is daar van regeringsweë by monde van die Landmeter-Generaal en die toenmalige Minister van Landbou (F.S. Malan) met waardering gepraat van sy uitstekende werk veral van die samestelling van die keurige offisiële kaarte van die Kaapkolonie in 1866 en 1896 uitgegee. Verder is sy groot vriendelikheid en beleefde hulpvaardigheid as vernaamste karaktereienskappe genoem. In sy ‘Afscheidsgroet’ antwoord hy dat hy nog brandende is van lewenslus, dat die gees nog gewillig is maar die vlees verswak: ‘Mijn levenstaak is tans volbracht,
Mijn dagwerk heb ik afgedaan;
Een stemme fluistert stil en zacht;
Neem tans uw rust, straks daalt de nacht,
Dat gij naar huis zult moeten gaan.’
| |
[pagina 24]
| |
Een na die ander het sy ou vriende hom ontval deur die dood waarvan so menig lykdig getuig. Dat Onze Jan heengegaan was, kon tot die troue Bondsman Brink maar nie deurdring nie en hy sê na die begrafnis: ‘Ik wacht nog op de dag, alsof een stem van boven
mij zeggen zal: hij leeft en werkt nog voor zijn volk.’
By die afsterwe van sy boesemvriend, dr. S.J. Krige in 1919, klink dit weer met 'n vonkie digterlikheid onder die ou retorika so tipies van sy tyd: ‘Ik mis hem, als de morgenstond
mij uit mijn sluim'ring wekt;
Ik mis hem, als de avond weer
mij met zijn sluier dekt.’
Die grootste slag tref hom egter die jaar daarop as sy vrou, Nanet Albertien Combrink met wie hy in 1870 getroud is, na 'n gelukkige hoewel kinderlose egverbintenis van vyf-en-veertig jaar, die drie-en-sewentigjarige deur die dood ontneem word. In afwagting van sy naderende einde skryf hy: ‘Neen, ik kan u niet vergeten.
En mijn wens blijft elke dag,
Dat ik spoedig aan u zijde
In het graf ook rusten mag.’
Melt Brink sou nog 'n volle dekade in sy woning, Pretoria Villa, in Kaapstad kalm berustend op die einde bly wag, 'n figuur uit 'n verbygegane tydperk, 'n kultuurfaktor van groot betekenis in sy eie tyd. Sy werk lewer 'n uitnemende beeld op van die laaste kwart van die neëntiende eeu, want sy motiewe is altyd ‘kwesties van de dag of algemeen menselike zwakheden, weerkaatst door het Afrikaner karakter-prismaGa naar voetnoot1)’. Deur sy humoristies-realistiese verse en toneelstukke het hy 'n skaterlag in sy eie tyd opgewek en sosiaal-histories het dit betekenis behou vir 'n later tyd wat in die taak van nasionale bewusmaking die nasionale letterproduksie sinteties en kultuur-histories betrag. |
|