aanneem en tog onderhewig is aan ewige wette wat vir elke volk op sy bepaalde tyd geld.
As ons die literatuurgeskiedenis van 'n ander jong volk, die Amerikaanse, nagaan, merk ons 'n verrassende ooreenkoms met ons eie in die ontwikkelingsgang daarvan. Die lettere van die pionier-skrywers begin met stof wat voortgebring is sonder die minste literêre bedoeling - rapporte na die vaderland, dagboeke, joernale, briewe, preke, 'n enkele geleentheidsvers, of 'n psalmberyming. Dit is die werk van praktiese mense wat diep onder die indruk is van hul pionierswerk in 'n nuwe wêreld. Ons dink hier aan die Dag-Verhaal van Jan van Riebeeck (1652-1662) en A True Relation (1608) deur Captain John Smith, in Amerika, om maar 'n enkele voorbeeld te noem uit wat in albei lande kan genoem word die aanvangstydperk. Die skrywers uit so 'n tydperk is almal manne wat natuurlik nie in die nuwe land gebore is nie, en val vanself in verskillende klasse, bv.:
a) hooggeplaatste amptenare wat korter of langer tyd in die nuwe land werksaam is en wie se geskrifte in daardie tyd op die nuwe bodem ontstaan, of onmiddellik na hul terugkeer in die vaderland tot stand gekom het, en op eie ervaring gebaseer is;
b) amptenare wat eervolle ontslag gekry en burgers van die nuwe land geword het;
c) vreemdelinge wat die kultuur van die nuwe land aangeneem het.
Die geskrifte in hierdie allereerste tydperk van wat later 'n nuwe volk word, weerspieël 'n gemoedsgespletenheid, 'n hink op twee gedagtes tussen die ‘vaderland’ en die nuwe land, 'n aarseling om die onbekende in te gaan wat tog onweerstaanbaar roep en dwing.
Op hulle volg die eerste generasies van die landseuns, maar hulle is nog so digby die pioniers in geestesgesteldheid dat ons hulle feitlik in dieselfde groep, hoewel in 'n verskillende klas, kan plaas. Ons dink hier aan die joernaalhouers, die broers Van Reenen uit die einde 18de, begin 19de eeu, in ons eie land, Cotton Mather in Amerika in die begin van die 18de eeu, om weer net 'n enkele voorbeeld te noem uit die literatuurgeskiedenis van die twee lande. Hierdie pionierskrywers het ek behandel in Deel I van die Hollandse Skrywers uit Suid-Afrika (1652-1875).