Hollandse skrywers uit Suid-Afrika. Deel 1 (1652-1875)
(1934)–Elizabeth Conradie– Auteursrecht onbekend'n Kultuur-historische studie
[pagina XV]
| |
Inleiding.In Suid-Afrika leef daar twee siele, gevolglik twee tale, twee kulture naas mekaar, 'n feit wat met al die praatjies van Brugman nie weg te redeneer is nie. My is dit maar om een van daardie siele, die skrywers van een van daardie groepe, een van daardie tale, een van daardie kulture te doen nl. die Hollands-Afrikaanse. Daarvan wil ek die verlede naspoor en myself van daardie verlede rekenskap gee deur 'n groep verteenwoordigende skrywers uit hul vergeelde geskrifte na vore te bring. Daardie verlede het sy regte sowel as sy vorme wat ek wou eerbiedig. Om 'n begrip van ons eie tyd en eie vorme te kry, is dit noodsaaklik om te probeer raaksien en 'n betekenisvolle uiteensetting te soek van hoe die teenswoordige skakel in die hele ketting pas, van hoe die hede uit daardie verlede gegroei het. Die vernaamste vereistes daarvoor is dat ons eerlik sal wees en ons van allerlei geskipper sal onthou en van allerlei vooroordele ten opsigte van Hollands en die Hollandse skrywers sal losmaak. Onder 'n betekenisvolle uiteensetting van hul geskrifte verstaan ek nie 'n konstruksie van die verloop van die literatuurgeskiedenis volgens abstrakte begrippe van liriek, epiek en dramatiek nie, waarvoor allerlei ystervaste definisies soms gegee word, nog minder vooropgestelde meninge oor Eerste en Tweede Afrikaanse Taalbeweginge, maar die resultaat van ons ervaringe op skriftelike gebied sinds die dae van Jan van Riebeeck. Alles in die historiese verloop vorentoe en agtertoe is aanmekaar geskakel; in die teenswoordige is die verlede | |
[pagina XVI]
| |
opgeneem en verwerk, en ons beweeg ons op gevaarlike terrein as ons oor tydgenote 'n veroordeling gaan vel of 'n lofsang sing. Ek het dan ook sover as moontlik teruggegaan. Dis eers wanneer die kritikus en die geskiedskrywer 'n bietjie kan terugtree van sy voorwerp, dat hy soos in 'n bosryke landskap nie meer verwar word deur die afsonderlike bome en struike nie, maar 'n beeld in perspektief van die hele streek kry. Die beeld sal dan nog altyd syne bly. Versamel kan iedereen, koördineer kan die meeste, vir my moet die geskiedskrywer interpreteer. Wie van die verhouding van die verskillende generasies en die verskillende strominge 'n beskrywing gee, sal moeilik sy persoonlike oordeel kan uitskakel, onmoontlik sy standpunt kan verberg. Ek het dit dan ook nie probeer nie en hier van die premis uitgegaan dat dit noodsaaklik is om vas te hou aan die wortels van ons Dietse beskawing en telkens terug te keer na die bron van herkoms vir versterking van die eie geestesgoedere. Gelukkig is ons al ver weg van die chauvinisme van omstreeks 1920, toe nasionalisme vir ons beteken het, nie ‘ons hoort bymekaar’ nie, maar ‘julle hoort nie by ons nie’ as gebore Hollanders, wat Suid-Afrika hul tuiste gemaak het en hul lot met ons ingewerp het, met Afrikaners moes saamwerk. Gelukkig is hulle al ewe ver weg van die ‘moederlike’ inmenging, hoe goed bedoel ook al, in die sake van wie hom nie meer as kind, maar as jonger neef gaan voel het. Daar is oral tekens dat weersydse waardering langsamerhand die ouer en nuwer vooroordele, die vooringenomenheid, wat geen breë Dietse kultuurhistoriese beskouing toegelaat het nie, te bo kom. Ek dink veral aan die werk op ons universiteite gedoen in die departemente van Nederlands en Afrikaans, die instelling van 'n Nederlands-kultuurhistoriese instituut hier, van 'n leerstoel vir Afrikaanse taal, lettere en geskiedenis dààr, aan voordragte en lesings,Ga naar voetnoot1) aan die studie van Afrikaners in Nederland, aan Dietse studentereise hierheen. | |
[pagina XVII]
| |
Dit is my oortuiging dat ons geestesgoedere veel groter is as ons tot dusver gemeen het. Sonder om nodeloos polemies op te tree, wil ek ernstig die vraag aan ons geleerde wêreld stel of die tyd nie aangebreek het om ons tentpenne veel wyer uit te slaan nie, sodat dit ons hele Dietse letterveld sal omvat en nie langer die Hollandse geskrifte wat in Suid-Afrika ontstaan is en deur Suid-Afrikaanse aangeleenthede geïnspireer is, uit te sluit nie? Literatuurgeskiedenis as 'n selfstandige wetenskap bestaan nog maar sowat 'n honderd jaar waarom ons ons dus nie hoef te verbaas dat nie alleen die sintetiese samevatting van ons literêre bronne ontbreek nie, maar ook nog 'n massa voorbereidende werk moet gedoen word. Daar is meer oor naturellehoofde geskryf dan oor ons voorvaders. Voor 'n deeglike literatuurgeskiedenis geskrywe kan word, voor ons tot klaarheid en helderheid kan kom wat die afmetinge van ons letterveld presies is, is twee dinge broodnodig, nl. ten eerste 'n volledige vaderlandse geskiedenis uit Afrikaner-standpunt bekyk, deur 'n Afrikaner wat deur geboorte en opleiding ons hele verlede van die eerste dag van die Volksplanting af, intuïtief aanvoel en ten tweede 'n streng wetenskaplike Biografiese Woordeboek soos die Nieuw Nederlandsche Biografische Woordenboek van Molhuysen en Blok deur 'n paar Afrikaanse samestellers. Daarsonder het ek herhaaldelik voor die probleem gestaan: ‘Durf ek nou hierdie geskrif as van ons annekseer, of hoort dit tot die Nederlandse penneproduksie?’ My voorgangers het die vraag ontduik of dit heeltemal nie nodig gevind om dit eers te stel nie. Prof. dr. G. Besselaar in Zuid-Afrika in de Letterkunde (1914) was die eerste en tot dusver nog die enigste wat 'n poging aangewend het om ons hele letterveld op te meet. Van sy boek het ek 'n dankbare gebruik gemaak, maar vir die sewentiende en agtiende eeue het hy hom so verdiep in wat vreemdelinge, Portugese, Franse, Duitsers, Swede oor ons geskrywe het, vir die neëntiende eeu het hy hom ook nog die taak gestel om die Engelse geskrifte te behandel met die gevolg dat wat die studie aan breedheid wen dit in diepte verloor vir die | |
[pagina XVIII]
| |
oplossing van my probleem. Hy het vernietigende kritiek ontvang by die verskyning van die werk maar 'n mens hoef geen groot profeet te wees nie om te voorspel dat 'n omgewerkte uitgawe met vreugde ontvang sal word. Die literatuurgeskiedskrywers wat ná hom gekom het, wyle prof. dr. Lydia van Niekerk met De Eerste Afrikaanse Taalbeweging en zijne Letterkundige Voortbrengselen (1916), prof. dr. E.C. Pienaar met Taal en Poësie van die Twede Afrikaanse Taalbeweging, dr. P.C. Schoonees met Die Prosa van die Twede Afrikaanse Taalbeweging, het die slot-episodes in die Afrikaanse taalstryd wat hom langsamerhand in 'n stryd teen Hollands ontwikkel het, meegeveg. Hul het die seëviering van Afrikaans teenoor die Hollands van die Taalbond-manne beleef, maar die gewonne stryd het 'n dekade gelede die hartstogte nog so verblind dat ons perspektief gevaar geloop het om benewel te word. In aanmerking geneem die tydsomstandighede waaronder genoemde drie werke tot stand gekom het, is dit begryplik dat hul teenswoordig die indruk wek en dit ook gevestig het, dat ons Hollandse literêre geskrifte met een stoot vergoed oorboord gegooi is met die erkenning van Afrikaans as skryftaal. Daardie werke is gewy aan 'n afsonderlike onderdeel van die groot geheel, uit 'n estetiese oogpunt die belangrikste onderdeel, maar desnietemin is dit alleen die moderne literêre bloei wat daar ter sprake kom. Die jongste geskiedskrywer wat hom op hierdie terrein beweeg, dr. G.S. Nienaber met Die Afrikaanse Beweging (1932) en Honderd Jaar Hollands in Natal (1932) en Charles Etienne Boniface wat in die pers is, kom op teen die aanvalle op Taalbondmanne soos professor De Vos, sien dat die lyn verder moet teruggetrek word as die ontstaan van die Genootskap van Regte Afrikaners in 1875, maar so sterk is die mag van ons voorgangers en leermeesters dat hy hom nog nie heeltemal kan losmaak van die ou beskouing nie. Met die verskyning van dr. F.C.L. Bosman se Drama en Toneel in Suid-Afrika (1928) het daar 'n wending in ons literatuurgeskiedbeskouing gekom. Aan hom kom die eer toe dat hy 'n massa onbekende stof uit ons vroeë verlede bekendgemaak, allerlei vraagstukke vir verder ondersoek opgewerp, | |
[pagina XIX]
| |
en ander vorsers deur woord en daad besiel het om hul ondersoekinge in dieselfde bane te voer. Ek sluit my dan heeltemal by hom aan en wens hiermee my hoë waardering van sy werk te betuig. Naas sy werk was die Geschiedenis van de Nederduits Hervormde Kerk in Zuid-Afrika van prof. dr. S.P. Engelbrecht vir my 'n openbaring. By die lees daarvan het dit duidelik geword dat ons op 'n dwaalspoor is as ons 'n streep deur ons kerkgeskiedenis gaan trek met veronagsaming van die honderd-en-vyftig jaar Evangelieprediking voor die koms van die Engelse, wat my op die gedagte gebring het dat ons in ons jeugdige oormoed dieselfde fout begaan met ons literatuurgeskiedenis, deur die Hollandse geskrifte op Afrikaanse bodem ontstaan te verwerp as nie van ons nie, enkel en alleen omdat die vorm van ons taal in die loop van jare aanmerklik verander het. Hoewel daar soos in alle organiese ontwikkeling 'n nuwe tipe voortgekom het, het die neersetters aanvanklik tog al die karaktertrekke van die moederland in hul beliggaam. Nasionalisering is 'n langsame proses, die aanwas van 'n nuwe taalsoort nog langsamer, hoe gunstig ook al die omstandighede, hoe bykans algeheel ook al die afwesigheid van remmende invloede soos die van skole en aristokratiese kringe, van letterkundige lewe. Later, en dit is veel later as algemeen aangeneem word, as die nuwe tipe tot volkome ontwikkeling gekom het, gaan die ooreenkoms met die oue, hoe ook al verdof en verflou, tog nooit heeltemal verlore nie. Die Afrikaanse taal en die Afrikaanse geskrifte word voorafgegaan deur die Hollandse taal en deur Hollandse geskrifte en jare ná die onderskeid voltrek was, bedien almal hul nog van 'n gemeenskaplike skryftaal, nl. die Hollandse. Met ander woorde, die raamwerk van die gees het nog tot onlangs digby die oorsprong gebly op die gebied van die lettere. Die gees, die siel van 'n volk vind uiting in sy godsdiens, sy kuns, sy argitektuur, sy lettere, sy maatskaplike vorme, sedes, gebruike, ens. en dié dateer tog by ons van die sewentiende eeu af. As ons pennevrugte inderdaad eers in die derde kwart van die neëntiende eeu opkom, lyk dit my logies om te konkludeer dat ons tot dan | |
[pagina XX]
| |
'n volk van analfabete was maar hierdie opvatting word deur die stapels geskrifte, wat voorhande is, geloënstraf. Die Afrikaanse geskrewe bronne uit die tyd van die Oos-Indiese Kompanjie kom my voor as gemeenskaplike besit waarop Afrikaners sowel as Nederlanders aanspraak kan maak. Die Nederlander hoef dit nie te doen nie, want deur die hoeveelheid van sy geestesgoedere kan hy hom 'n growwe sif veroorloof. Daardie bronne val vir hom onder koloniale letterkunde; hulle is net een nietige ongebruikte geboutjie in sy gebouekompleks; vir ons is dit die oudste pennevrugte op ons bodem, die fondament van 'n nuwe huis. Onder die werk van ons Hollandse skrywers verstaan ek die Hollandse geskrifte, wat deur Suid-Afrikaanse aangeleenthede geïnspireer is, op Suid-Afrikaanse bodem ontstaan is, werke wat in 'n ou vorm opgestel is, 'n vorm wat nog bestaan of in 'n ander oorgegaan het, die vrug van die arbeid van wie korter of langer hier vertoef het. ‘Skrywers’ is hier dan ook in die wydste betekenis van die woord opgevat. Vir ons is dit noodsaaklik om ernstig oor hierdie vraagstuk na te dink en tot klaarheid te kom oor wat ons onder Afrikaanse letterkunde verstaan. Op die taalvorm alleen kan ons nie langer gaan nie. Ons het ons blind gaan staar op die Afrikaanse vorm en vergeet dat dit die gees is wat lewend maak. As dit ons werklik erns is met ons kultuurstryd, moet ons volk hom weer in die Hollandse periode van sy verlede terugvind, moet ons gees dwarsoor die tydperk van verengelsing heengryp, moet ons vir ons inspirasie heeltemal teruggaan tot die dae van Jan Kompanjie, waarin die wortel en die stam van ons beskawing lê. 'n Blik in die sillabus vir die B.A.-graad met Hollands as een van die hoofvakke, 'n kennisneming van die Afrikaanse uitgawes van Nederlandse Klassieke met uitvoerige inleidings en aantekeninge, 'n opsomming van die aanwassende aantal klein kritieke, kritiese studies, dissertasies oor moderne Hollandse en Afrikaanse skrywers, lei tot die vreemde ontdekking dat ons jare lank al besig is op ons inrigtinge vir hoër onderwys om die wortels van die boom van ons beskawing te versorg, d.i. die Nederlandse literatuur, middel- | |
[pagina XXI]
| |
nederlandse sowel as moderne, te bestudeer, om die vrugte, rype sowel as onrype blink te vrywe, d.i. die Afrikaanse letterkunde te troetel en streel, maar die stam, die werk van ons vroeë Dietse skrywers in Suid-Afrika, te laat opvreet van die miere. Waarom sou ons ons geestelik armer maak as wat ons reeds is, deur langer hierdie toestand te gedoog? In die lig van die geskiedenis weet ons dat diegene wat aan Afrikaans 'n selfstandige ontwikkeling wou ontken en dit probeer forseer het op die obsolete weg, op 'n dwaalspoor was. Die Afrikaanse taal en die Afrikaanse nasionaliteit is 'n voldonge feit hoe ver die nasionaliteitswette ook al op die lange baan mag geskuif wees, maar jeugdige oormoed en gebrek aan tradisie alleen kan die wanbegrip staande hou dat ons generasie heeltemal opnuut begin het. Hierdie studie is 'n poging om die betekenis van enkele van ons ouer skrywers, van diegene wat hul van die ouer vorm van ons taal, van Hollands of ‘Hoog-Hollands’ soos dit later algemeen bekend gestaan het, bedien het, uit hul geskrifte in Suid-Afrika ontstaan, toe te lig, en hul in die kader van hul tyd, te midde van die heersende tydstrominge van hul eeu te bekyk. 'n Enkele keer het ek my deur estetiese maar gewoonlik in sterk mate deur kultuurhistoriese oorweginge laat lei. Dit is onbillik om die werk van die verlede wat volgens ander norme en kunsbegrippe geskep is, by teenswoordige opvattinge te meet. Wat bly daar in die sif oor as ons die versies van Di Patriot by die norme van Die Nuwe Brandwag beoordeel? Wie sê dat wat ons vandag met goud en silwer bekroon oor twintig jaar nie as waardeloos bestempel sal word nie deur later estetici? Wat gee ons dan die reg om ons van die studie van die vroeë geskrifte af te maak met die eiewyse oordeel dat hul almal prulle is? Die resultaat van my ondersoekinge is in baie opsigte teleurstellend as dit van 'n suiwer letterkundige standpunt beskou word, want werk van 'n hoë peil moet hier nie gesoek word nie. Die beste onder heel veel middelmatigs is nog maar onbeduidend, konvensioneel, maar dieselfde koerantelektuur, tydskrifkuns, eendagskinders het as sleutel tot die kultuurtoestande van verbygegane tydperke gedien en my toegang | |
[pagina XXII]
| |
verleen tot die siel van 'n volk wat teen 'n groot oormag worstel om vir homself 'n plek onder die sonnestelsel wat hom regmatig toekom te verower. Ek wil drie klasse van Hollandse skrywers onderskei, nl. van amptenare-penniste wat 'n tydlank hier vertoef het en tydens hul verblyf, hetsy korter of langer, deur ons aangeleenthede geïnspireer is, soos Jan van Riebeeck, Pieter de Neyn, Aernout van Overbeke, ens.; verder gebore Hollanders of vreemdelinge wat verhollands was, wat hul lot met ons ingewerp het soos Jacob Wikar, H.D. Campagne, C.E. Boniface, Suasso de Lima, A.N.E. Changuion, ens.; en ten slotte gebore Afrikaners soos P. Cloete, D. van Reenen, M.C. Vos, Louis Trigardt, T.F. Burgers, ens. Vir my loop daar 'n onafgebroke Dietse draad van die Dagboek van Jan van Riebeeck af tot by die jongste Afrikaanse geskrif. Al verskil ons oor wat ons as letterkunde kan beskou, of wat ons verwerp omdat dit nie aan die eise van die estetiek voldoen nie, van alle Hollandse geskrifte in Suid-Afrika ontstaan, moet kennis geneem word as ons 'n opgawe van ons geestelike besit wil saamstel. As die vergete Hollandse literêre bronne van die Afrikaanse bodem nie om eie literêre verdienste, wat inderdaad klein is, ons aandag verdien nie, dan tog wel om die bewys wat hulle lewer dat ons van die vroegste tye van die volksplanting af, tot vandag, hoewel sover verwyder van Europa, alle Europese literêre sowel as politieke strominge, die wêreldorde van elke tydperk, hier in die Suidhoek weerkaats. Om die belangrike rol wat hulle kan speel in ons kultuurstryd, waarin van alles, van ons hele geestelike besit moet gebruik gemaak word, is dit noodsaaklik dat die ou Hollandse geskrifte van Suid-Afrika in eer herstel en met eerbied en liefde op dié Universiteite, wat 'n Afrikaanse beleid volg, bestudeer word, nie alleen in die departement van geskiedenis nie maar ook in die van Nederlands en Afrikaans. |
|