Voorberig.
Hierdie werk Hollandse Skrywers uit Suid-Afrika val vanself in twee dele nl.
Deel I, 1652-1875. |
Tydperk van heerskappy van die ouer vorm van ons taal. |
Deel II, 1875-hede. |
Opkoms van Afrikaans en algehele agteruitsetting van die ouer vorm. |
Die eerste deel kan onderverdeel word in (a) 1652-1795. Tydperk van die Hollandse gesag, van groot voorbereidingswerk. (b) 1795-1875. Koms van die Engelse en verbrokkeling van die Dietse kultuur.
Tydens die voorbereidingswerk is daar 'n geweldige energie aan die dag gelê, diep is die fondament gegrawe waarop die Hollands-Afrikaanse huis sou verrys, maar hier en daar was lelike swak plekke te bespeur. Die hoër ontwikkelde klas was nie altyd van tirannie vry te pleit nie, nog minder van 'n al te groot aanpassingsvermoë wat uit eie belang voortspruit, die minder bevoorregtes dikwels twissiek en nie bedeel met 'n oormate van werklus nie, waardeur 'n verwydering ontstaan het tussen groepe wat by mekaar gehoort het.
In die jare 1795-1875 sien ons die verbrokkeling van wat met soveel moeite en lyding opgebou is, gedeeltelik deur kragte van buite maar vir 'n deel deur eie swakheid. In die swak plekke is daar skeure en bresse geskiet deur die veroweraar.