'n Hele os vir 'n ou broodmes. Grond en die plaasnarratief sedert 1595
(2000)–Ampie Coetzee– Auteursrechtelijk beschermdGrond en die plaasnarratief sedert 1595
[pagina 109]
| |
6 ‘Dis 'n land wat mense laat skuldig voel’
| |
[pagina 110]
| |
gegee het, wat sy toegedraai het in 'n stukkie skaapvel en tussen die stene in die begraafplaas gebêre het. En daar is nog die stemme, toegevou, weggevoer in woorde (Karel Schoeman, 1993:8, 21, 23, 25, 27, 31, 33, 58, 93). Die begin van Michel Foucault (1972) se beroemde lesing by die Collége de France op 2 Desember 1970, ‘L'ordre de discours’, maak ook melding van die stemme, van die produksie van diskoers. Haar soeke sou mens as argeologies kon beskryf. Net so wil hierdie hoofstuk argeologies te werk gaan in die ondersoek na die geopenbaarde kennis in die ‘nuwe’ of ‘moderne’ plaasroman; dié wat verskyn het sedert die verandering of vernuwing wat daar gekom het in die Afrikaanse letterkunde sedert die sestigerjare. Die ‘ou’ plaasroman is in hierdie studie nie eintlik geklassifiseer nie. Klassifikasie het 'n neiging om te verabsoluteer, en die plaas, of die besit van grond, behoort deurgaans binne 'n groter konteks gelees te word. So sal die narratief waarin die plaas die leef- en produksieruimte van die karakters is, ook betrek word. Dit gaan ook om die diskoers rondom die plaas en grond en nie om 'n ontleding van individuele tekste nie. Die tekste wat betrek word, lewer uitings binne hierdie diskoers; dit is die skerwe, fragmente, stemme wat die argeologie van kennis gevorm het waarbinne die Afrikaanssprekende mens gelewe het, of in die verbeelding gelewe het. | |
Herskrywing van die plaasroman: ou en nuwe narratieweOmdat die materiële omstandighede van die Afrikaanssprekende in die moderne tyd - veral sedert die sestigerjare - verander het, en omdat die persepsie van die werklikheid soos dit in taal geskep is daarom ook verander het, het die letterkunde verander. Die moderne plaasroman sal dus verskil van die ou plaasroman. Die diskoers bly dieselfde, maar die uitings het verander. Sewe dae by die Silbersteins van Etienne Leroux word gesien as 'n herskrywing in die plaasromantradisie. Uitdraai van Wilma Stockenström is genoem die ‘eerste herskrywing’ van die tradisionele plaasroman; en dit is destyds gelees as verwant aan Van den Heever se Laat vrugte (Herman Wasserman, 1997:101, 88; J.C. Kannemeyer, 1983:522). H.P. van Coller tipeer die moderne Afrikaanse plaasroman as deel van die ‘parodiërende literatuur’. Etienne Leroux, is gesê, het krities gestaan ‘teenoor die waardestelsel en ideologie van die vroeë plaasroman binne die plaasroman’. En Kroniek van Perdepoort ‘sluit aan by die ouer Afrikaanse verhaalkuns deur die gebruik van 'n plaasmilieu as agtergrond...’ (Herman Wasserman, 1997:89, 98; J.C. Kannemeyer, 1983:313). | |
[pagina 111]
| |
Sedert die verskyning van Sewe dae, sedert die verskyning van 'n moderne roman waarin die plaas as milieu, décor, verwysingsraam figureer, is daar vanselfsprekend gesoek na ooreenkomste met die ou plaasroman. Dit gee riglyne tot klassifikasie, ordeskepping, normering. 'n Narratief van verwantskappe is dus alreeds opgebou; een wat mens nie kan ignoreer as jy oor die nuwe/moderne plaasroman praat nie. Dis egter nie nodig om te herhaal wat alreeds vasgestel is nie; en daar sal sekerlik nog ooreenkomste en verskille aangewys word totdat die laaste plaasroman verskyn! 'n Oorsigtelike aanduiding van die gemene delers tussen die ou en die nuwe narratiewe van hierdie aard is egter nodig, sodat daar veral gewys kan word op die diskontinuïteite wat ontwikkel het in die skryf van hierdie genre: die variasies, verskille en vervormings. Hoe word die plaas gesien, voorgestel, in die moderne Afrikaanse plaasroman? Die representasies strek vanaf 'n landgoed met die aanloklike naam Welgevonden, skilderagtig geleë in 'n Bolandse landskap met wingerde, berge, bome en ‘gesellige riviertjies’ tot by 'n plaas met die naam Eindvlei ‘in die uithoek van die distrik, aan die einde van die pad’. Welgevonden funksioneer soos 'n fabriek, 'n geordende produksiemasjien, waar die voorstelling parodiërend is; die plaas kan ook gesien word as 'n klein wêreld waaruit daar nooit groot dade kan kom nie. Dan word die idille elders gesoek en is die begeerte vir ‘... 'n ander wêreld as dié waarin ons lewe’ en daar is 'n strewe om weg te kom van 'n patriargie waar die jeug ‘hulle’ geword het en teenoor ‘ons’ staan (Etienne Leroux, 1966:9; Karel Schoeman, 1967:17, 69). En as die idille van die plaas nog voorkom, is dit die herinnering aan die ou plaas van die verlede, soos dié wat Koos Nek geskep het in Kroniek van Perdepoort. Herinnerings aan 'n plaas, 'n ‘ou werf’ wat nie meer bestaan nie (Die jakkalsjagter) word 'n wyse van vertel waar die plaas die verlede geword het (Hierdie lewe), of 'n nostalgie wat ver terug bestaan het (‘In die dae van my grootjie... het hierdie vlaktes nog bont geloop van die wild: volstruis, gemsbok, blesbokke, wildebees, kwaggas’ (Eben Venter, 1993:111). Dan het die plaas ook 'n vakansieplaas - 'n ‘Hotel Halesowen’! - geword; en slegs die verlede as vakansieplaas kan herskryf word: die plaas toe dit nog plaas was, is nie meer in die herinnering nie (Kikoejoe). Die natuur - reën, droogte, die veld - en die verhouding daarmee, bly gemene delers. Die versugting ‘die reën bly uit’, spruite wat droog is, die veld wat vaal bly, bloedige warm dae, of die reën wat naby is, en die kennis van die tekens daarvan, droogte en water; dit word die basis van 'n hele narratief. ‘Die storie van water... is die storie van die Moolmans’; van Toorberg; van die plaasroman (Karel Schoeman, 1967:6 e.v.; Etienne van | |
[pagina 112]
| |
Heerden, 1986:2). Vandaar ook die ontstaan van die windpompboer wat bo van die windpomp af die hele wêreld bekyk: ‘Jy sit wydsbeen oor 'n gat wat tot diep in die onderwater aftonnel, onder klipbanke waar watergoggas en wiere lewe’ (Etienne van Heerden, 1986:161). Jock Silberstein in Sewe dae het ook sy toring gehad vanwaar hy die mense se doen en late kon bespied. En Breyten Breytenbach (1998:19) praat van die ‘boomboere’: ‘My grandfather spends his later days in an ancient pepper tree planted long before my time... As he grows more frail my father has the tree chopped down out of concern for Grandpa's safety.’ Dis ook opvallend dat die bewustheid van die veld skerper is in die nuwe plaasroman as in die oue. Die veld is gedurig aanwesig in sommige romans (soos Die jakkalsjagter), en dit word soms 'n liriese teenwoordigheid. Soos in die volgende: Voor na voor ploeg hy oop. Sooi na sooi val om. Renosterbossies kantel om, kakiebos, bitterappel, doringdissel, sewejaartjies en slangbos. Plate soet, kort gras en froetangs word omgedolwe. Kolle skaapdrolletjies. Ystergras, uintjies, oumakappies, suring, duwweltjies, skilpadbessie, gousblom en seidissel (Wilma Stockenström, 1976: 149).Soos die natuur 'n gemene deler is, is ook die pioniers en patriarge van die verlede: ‘... die wêreld was die ene doringbosse en onkruid gewees... daar was nie eers 'n kaffer om hulle te help nie.’ Die moderne verteller kan hulle nog besing (‘die grond het hulle opgeneem, en hulle het deel geword van die land’); maar hy kan hulle ook van 'n afstand af vaarwel sê (‘Die grond ontvang hulle en die tyd in sy verbygaan wis die herinnering aan elkeen van hulle genadig uit: hulle verdwyn en vind rus’ - Karel Schoeman, 1967:35, 113). Geeneen kan vandag in manlikheid kers vashou by die wilde StamAbel wat Toorberg se opstal gebou het nie, hy wat ‘... die harde pad van durf en geloof... met sy waens moes oopkap, weg van Hollandse en Engelse oorheersing aan die Kaap, die wildernis in’ (Etienne van Heerden, 1986:19, 150). Maar hierdie pioniers van die verlede kan ook gestereotipeer word wanneer hulle saamdrom met koelsakke en vleispakke: ‘Bier in die hand en in kakieklere doen hulle wat hulle altyd doen wanneer ernstige sake bespreek word - hulle maak vuur en gooi tjops en wors op die kole’ (Etienne van Heerden, 1993:322). Al was daar nog plase soos Eindvlei, word die isolasie van die plaas verbreek deur die nabygeleë dorp met die enkele sakegeboue, woonhuise, leë erwe, kerk in die middel: oop na die graanlande, oop vir die boeregemeen- | |
[pagina 113]
| |
skap (Uitdraai), en die uiteindelike aftreeplek vir oues en vereensaamdes (Hierdie lewe). Uiteindelik word die plaas binnegedring deur die stad, en die euwels van die stad word besoek aan die plaas, soos Johannes van Wildeperdehoek hom vergryp aan 'n vrou in die stad, sy naam verander na John-John, en die plaasroman ingeneem word deur 'n representasie van nagklubs en vreemde verskynsels (Foxtrot van die vleiseters). Die plaas word gereduseer (‘En Uitdraai, spogplaas, spookplaas, skandplaas, is Gerhardus Tredoux s'n’); in Die stoetmeester getransformeer tot vakansieplaas met die naam Fata Morgana, gedekonstrueer, die opstal herbou met gemonteerde wildskoppe, arend en leeu. En hier eis die aktivis MaNdlovu: ‘Ons wil ons grond terughê... Ons was eerste hier; voor daardie simpel Setlaarskippies met die klomp pienk Britte, en voor die waens wat die bedonnerde Boere hier ingedra het’ (Wilma Stockenström, 1976:118; Etienne van Heerden, 1993:167, 189). Die navorsing is veral gebaseer op die volgende werke: Etienne Leroux, Sewe dae by die Silbersteins, 1966; Karel Schoeman, 'n Lug vol helder wolke, 1967; Anna M. Louw, Kroniek van Perdepoort, 1975; Wilma Stockenström, Uitdraai, 1976; Etienne van Heerden, Toorberg, 1986; Etienne van Heerden, Die stoetmeester, 1993; Karel Schoeman, Hierdie lewe, 1993; Eben Venter, Foxtrot van die vleiseters, 1993; Etienne van Heerden, Kikoejoe, 1996. In al die moderne plaasromans of narratiewe - met die uitsondering van Die jakkalsjagter (1990), waar die plaas minder op die voorgrond is as die jag, die veld en 'n liefdesverhouding - is erfopvolging, erfreg, afkoms betekenisvolle uitings. Die narratief wat sedert die sestigerjare - toe ‘modernisme’ ongeveer in die Afrikaanse prosa begin het - die mees verteenwoordigende voorstelling van die gewigtigheid van die erflas gee, soos dit bestaan het in die ideologie van die patriargie teen die einde van die eerste dekade van hierdie eeu, is 'n Lug vol helder wolke. Hier is dit die oorsaak van verset en verwerping van die ‘erwe van die vader’. Kobus, die hoofkarakter, word in die middel van sy studies teruggeroep na die familieplaas omdat sy vader sterwend is en hy oor die plaas toesig moet hou. Na die afsterwe bepaal die testament dat Eindvlei aan hom behoort (‘Dit is syne... hierdie verlate vlaktewêreld met sy sand en bossies en droë skeure, sy klipperige rante en bome’). Hy wil egter nie die plaas hê nie, want hy is nie 'n boer nie. Maar 'n weiering om sy erfenis op te neem is bykans onmoontlik. Nie net is 'n erfplaas iets om op trots te wees nie; die behoud daarvan is 'n plig: ‘Jy't 'n plig, 'n dure plig, teenoor jou hele familie | |
[pagina 114]
| |
om dit te bewaar, nie net teenoor jou eie nageslag nie, maar teenoor jou pa en jou oupa en sy pa, al die mense wat hier begrawe lê. Dis hulle wat die wêreld hier skoongemaak het en die plaas uitgelê en opgebou het sodat jy dit kan erf soos dit vandag is.’ Die plaas is dus meer as net 'n besitting, dit het historiese waarde, dit verteenwoordig ontwikkeling, produksie, 'n land; en dit bind hom, hy is ‘verskuldig’, aan sy voorgeslagte; dit is die plig en verantwoordelikheid wat God aan hom opgedra het. So redeneer die figuur van gesag, die dominee, die spreekbuis van God. 'n Verset teen erfreg word nie net 'n verset teen die ouer geslag nie, maar 'n verset teen 'n hegemonie. Slegs deur die daad kan hy bevry word. In terme van wat deur sy toedoen in die verhaal gebeur, is sy handeling eintlik immoreel: 'n meisie word swanger en pleeg selfmoord (Karel Schoeman, 1967:56, 62, 84). Die begeerte om van die plaas bevry te word, veroorsaak bitter smart. Die erfenis van die besittings van die verlede word egter nou gesien as 'n onregverdige verantwoordelikheid. In 'n ligter trant, parodiërend, maar ook bevraagtekenend oor die erfenis, gaan Henry en Salome as 'n huweliksgeskenk vir Brutus ontvang, die bul geteel deur Oom Giepie Ollenwaar, wat in 'n toonhoogte onhoorbaar vir die menslike oor bulk. Die bul met 'n smet op die ras, so uniek geteel dat dit 'n afwyking het. Dit is wat die erfgenaam van die landgoed Welgevonden ontvang. Brutus is voorspel tot 'n later afstammeling; dié voorbeeld van degenerasie: die groteske, vertraagde reus, Adam Kadmon Silberstein, seun van Henry en Salome. Die een wat nie die landgoed kan erf nie (Sewe dae by die Silbersteins en Een vir Azazel). Die bloedlyn as uiting van herkoms word tot surrealistiese hoogtes gevoer in 'n latere roman soos Die stoetmeester. Dit is interessant, maar waarskynlik nie semioties betekenisvol nie, dat 'n hoofkarakter se verlating van die plaas, soos in 'n Lug vol helder wolke en ook in Uitdraai, gekoppel kan word aan die beëindiging van 'n swangerskap. In laasgenoemde roman, waar Flip, die vader van Cornelie se geaborteerde kind, sy plaas Uitdraai opveil en ses geslagte Vermeulens se suksesvolle boerdery tot 'n einde bring, trou Cornelie noodgedwonge met 'n jong boer wat haar pa se plaas erf en Uitdraai bykoop. Haar pa is verheug om van sy plaas ontslae te kan wees; nou kan hy aftree by die see. Aan die een kant is daar diegene wat nie langer op hulle erfplase wil bly nie, en aan die anderkant diegene wat bykoop en groter boer. Of afstand doen, of skatte vergader. Erf kan welvaart bring, soos die verteller in Hierdie lewe ons dikwels meedeel: die ‘beskeie en onopsigtelike welvaart’ wat hulle geërf het. In hierdie herinnering word die rol van die erfgename nie oorspeel nie; maar | |
[pagina 115]
| |
dikwels wanneer die verteller van haar oudste, gestorwe, broer en sy kind praat, dan inkanteer dit: ‘... en Jakob was die oudste seun en die erfgenaam...’; ‘(d)it was die oudste seun se kind, die eerste kleinkind en die toekomstige erfgenaam... en daar (is) reeds lankal met die opbou van sy erfporsie begin...’: ‘... en hy is Maans genoem... en daar was nooit enige ander erfgenaam as hy nie...’; ‘... die kind was ten slotte Jakob s'n, die erfgenaam...’. Haar vader het boeke en skryfpapier na die plaas toe laat kom ‘... nie vir my, hul dogter nie, maar vir die kleinseun en erfgenaam...’; ‘... (v)ir Vader het dit baie beteken om Maans weer by die huis te hê, want ten slotte was hy die enigste kleinkind, die naamgenoot en erfgenaam...’; ‘... (o)ns het Vader in die begraafplaas agter die rant begrawe, en Maans het die plaas geërf’ (Karel Schoeman, 1993:14, 36, 51, 56, 81, 104, 131, 138). Hierdie herhaling beklemtoon egter nie net die belangrikheid van erf nie, dit loop ook op tot die ironisering dat Maans, die erfgenaam, nie te helder van verstand was nie: ‘Hy was geneig om kop onderstebo te loop; wanneer hy opkyk, was sy blik effens eenkant toe, en as hy jou moes aankyk, was sy oë versluier, asof hy bang was om iets prys te gee’ (Karel Schoeman, 1993:131, 143). Dieselfde Maans beland nietemin in die parlement! Die kronieke, die groot familieromans - die plaasroman is meestal die familieroman van die Afrikaner, die Afrikaner as familie (is dit waar die hegemonie begin het, in die nukleêre familie?) - Kroniek van Perdepoort, Toorberg, Die stoetmeester, Foxtrot van die vleiseters, sentreer rondom die handeling in die hede of die verlede van die patriarg. Daarom sal erf en die erfgenaam hier besondere aandag kry. Terwyl die beeld van die erfgenaam in Hierdie lewe nie baie positief is nie, is die seuns van die aartsvader Koos Nek in Kroniek van Perdepoort sonder meer mislukkings. Attie glo dat hy die naaste aan sy pa is, en oor die ander dink hy: ‘Elke worp het sy kwar - die gedagte is onweerstaanbaar - maar Koos Nek se worp is almal kwarre’ (Anna M. Louw, 1975:93). En hy, Attie, herbegrawe sy ouers, pleeg die laaste gruwel teenoor hulle nagedagtenis, omdat hy die grond nodig het waarin hulle begrawe is. Hy koop die stukkie erfgrond van sy broer; hy bewaar die silwer in die sitkamer; hy is suinig en inhalig. Die ander seuns het geërf, maar kan ook niks sinvols daarmee doen nie. Die naam van die hoofkarakter - van die verlede, maar ook van die hede - StamAbel Moolman, dui ondubbelsinnig op sy rol, as stamvader wat die lewensloop van die karakters in Toorberg sal beïnvloed en selfs na sy dood sal bepaal. Testamente of tekste van die Abel Moolmans bepaal die volgende: dat die Skaamfamilie grond sal hê om te bewoon vir een honderd | |
[pagina 116]
| |
jaar; dat die een seun, De la Rey, omdat hy die plaas verlaat het, nie meer 'n erfgenaam van Toorberg mag wees nie; dat elke Moolmanvrou en -man vruggebruik van die plaas mag hê; dat al die Moolmans ‘in testamentêre opdrag van StamAbel begrawe word met hul voete na die Ooste sodat hulle, as die Wederkoms aanbreek, met die regopsit reguit in die nuwe more kan inkyk’; dat Posmeester Moolman van sy erfgrond afgesny word oor hy met 'n Katolieke vrou getrou het; dat nie almal in die Moolmans se begraafplaas begrawe mag word nie (soos Druppeltjie Pisani, byvoorbeeld, omdat hy 'n dwaler is: ‘die Du Pisani's is die soort mense wat iets verloor het en vergeet het om op te hou soek’); dat Andreas Moolman, die digter, omdat hy koningin Victoria besing het, nooit weer sy Hanskakievoet op die erwe van die vadere mag sit nie (Etienne van Heerden, 1986:14, 54, 66). En Abel Moolman sterf met die kaart en transport van Toorberg in sy hempsak. Alhoewel die Moolman-mans nie die manlikheid van die oer-Moolman kon erf nie, het hulle afstammelinge tog die ‘neuke’ en die ‘kêns’-bloed geërf. En waar dinge nie reg verloop nie, het StamAbel en OuAbel uit die dood uit kom kuier om hulle te vergewis of Abel vorentoe of agteruit boer, want dis noodsaaklik om te weet ‘... waarheen gaan jy met die erwe van jou vadere’. Hier erf jy nie net van hulle wat gesterf het nie, jy leef saam met hulle. Dis ook daarom dat Abel soms windpompe klim om van die smarte van sy voorgeslagte weg te klim. Maar ook hier gaan nageslagte eindig, want die laaste Abel, DwarsAbel, is onvrugbaar en sal eendag as 'n bitter ou man op sy stoep sit en oor die boerdery kyk: ‘Wat sal hy sien? Waarop sal hy hoop? Waarvan sal hy wegvlug?’ Die magistraat wat die dood van Druppeltjie in hierdie narratief kom ondersoek, word gedwing om te dink oor oorerwing: oorerwing en die Afrikaner se respek vir die tempelagtigheid van 'n groot familiehuis met die voorgeslagte teen die mure, die kieries in die voorhuis, die solder ‘wat soos 'n kollektiewe geheue geslagte en uitskotsels vergaar’. En hy skryf neer van die ketting van gebeure wat gekoppel is aan die oorsaaklikheid van skuld en van bloed. As oorerwing so belangrik is, en die besit van grond 'n geboortereg, dan is misdaad ook 'n erfenis: dié van die hele stam (Etienne van Heerden, 1986:159, 162, 81). Nogtans kry die ‘Ander’ ook geleentheid vir die saamwees met hulle erfenis. StamAbel het HansBoesman, toe hy sterwend was, na die grot laat gaan om daar by die tekeninge van sy voorvaders te sterf. Hy het die geleentheid gekry om te rus omdat hy in die verlede ver langs StamAbel se stiebeuel gedraf het. Die stoetmeester werk met verskeie voorstellings van oorerwing. | |
[pagina 117]
| |
In die eerste plek met die betekenis van die testament: as 'n laaste wilsbeskikking, en die ‘testate erfreg’ as 'n brug tussen lewende en dode. Seamus, die stoetmeester, wil deel van sy plaas, Fata Morgana, verkoop om kapitaal te kry, om meer geld te maak, ten spyte van die feit dat sy pa se testament bepaal het dat dit in die familie moet bly; dat hy dus daardeur nog aan die familie verbind word (om ‘fata morgana’ te verkoop is natuurlik 'n dekonstruksie: om 'n lugspieëling, niks, te verkoop!). Die wens van Seamus is geheel en al merkantiel. Die koppeling met die voorvaders word verder in stand gehou deur die absurde jakkalsjag: ‘dis 'n bevestiging van herkoms en manlike uitbundigheid; 'n huldiging van die voorvaders en, les bes: groot sports’ (Etienne van Heerden, 1993:118, 63). Dit is ook 'n simboliese daad; dit dui op die herinnering aan die opdrag aan die mens om die aarde te oorheers. Ten tweede is daar die aandag aan die erfreg van ander, van die swart mense. Aan die een kant die manne wat op die myne werk en eenmaal per jaar by die vrouens kom kuier, hulle swanger laat en hulle agterlaat met slegs 'n OK Bazaars-radio. Maar aan die ander kant die grond wat voorheen aan die Xhosas behoort het; hulle erfgrond waarop die katedraal staan. Grond is nou meer as net plaasgrond; nou is dit politiek, en erfreg word 'n bedreiging. In die derde voorstelling is daar die oorerwing van die voorvader. Seamus ly aan depressie wat hy van sy vader geërf het, en die moontlikheid bestaan dat hy dit aan sy seun Cawood kan oordra. Cawood noem homself trouens die ‘derde selfmoord-Butler’. Cawood konformeer ook nie soos sy vader gehoop het nie, net soos daar soms by sy teelbokke 'n ‘nukram’ voorkom, 'n rammetjie-uitnek wat met niks tevrede is nie. Die vergelyking tussen Cawood en die bokke bring mens by die vierde aspek van oorerwing; en daarin lê die hoofmetafoor van die verhaal: die teling van Seamus se besondere bokke, die ‘Caper timidus’, die skytbangbok wat flou val wanneer daar 'n harde geluid gemaak word (Etienne van Heerden, 1993:234). Hier is ook 'n bobbejaan sonder arms, 'n kalf met twee koppe, 'n floubok met rooi oë: in Sewe dae by die Silbersteins is dit genoem ‘die tikkie afwyking wat perfektheid verydel’. Ons het dus die voortsetting van 'n literêre erfenis: Brutus die bul van Giepie Ollenwaar in Sewe dae; en die groteske van daardie verhaal rondom oorerwing word dan intertekstueel betekenisvol. Daar was 'n offerbok in Een vir Azazel, en hier praat die verteller van 'n offer wat gebring moet word: ‘Al die tekens was daar dat ons tot afrekening gedwing wou word en dat ons 'n Offer sou moes bring vir die vergrype van die verlede (Etienne Leroux, 1966:65).’ En die Afrikaner dan? Teling kan ook gelees word as kondisionering, en | |
[pagina 118]
| |
die uiteindelike skepping van 'n konstruk, soos 'n identiteit. 'n Gekondisioneerde bok? 'n Laaste aspek van oorerwing: waar daar geen teler meer is nie. Die verteller vertel van anderkant die graf, en hy het nooit kinders gehad nie. Die erfgenaam, Cawood, is waarskynlik gay: ‘Die graffitinommer in die toilet is die nommer van Cawood se huis’ (Etienne van Heerden, 1993:316, 158). Die stoetmeester is 'n onverbiddelike satirisering en ironisering van die kultuur van erfenis. Alhoewel Foxtrot van die vleiseters ook 'n familie- en plaasroman is, het die stad in so 'n mate ingedring in die plaasbewussyn dat een van die seuns, Johannes (in die stad heet hy John-John), wanneer hy plaas toe geneem word, skielik besluit dat hy nie daar wil wees nie - nie gereed om weer plaas toe te gaan nie. Daar is 'n breuk met die plaas en met daardie tradisie. En wat hulle erf van Hendrik Douw Steenkamp is die swaarte van die vader. Gerugte dat swart mense plase kan koop, is ook in die omgang, met die implikasie dat daar 'n einde aan 'n erfenis kan kom. Waar die plaas 'n vakansieplaas geword het, die testament 'n ingewikkelde trust waardeur die Oupa vanuit die graf speel met sy afstammelinge - daar wil Pa ontsnap: in waansin en dagga. Dit is een aspek van die obsessie met oorerwing in Kikoejoe. Daar is ook 'n tante wat 'n familiegenealoog is ‘om die takelwerk van ons bloed te karteer’, en wat ook, omdat daar kanker van die borste en vrouedele in die familie is, hare laat verwyder. Om oorerwing stop te sit. Die verteller, Fabian, is halfblind gebore en het ook swak longe geërf. Maar daar is ook 'n literêre erfenis: hy word aangemoedig om meer van Olive Schreiner, wat ook van hierdie wêreld is - en eintlik die eerste plaasromanskrywer - te leer ken. En familieverhale, eerder as plase en welvaart, word erfstukke. Die teks wat hy oor die plaas van die verlede produseer, is Fabian se herinnering aan die plaas van sy jeug; dis 'n herskryf van die verlede. Hy het 'n verhaal huis toe gebring: ‘Dit is my erfenis, en ek dra dit... saam na ieder, ieder breedtegraad’ (Etienne van Heerden, 1996:144, 293). Dit is dan ook een van die erfenisse van die Afrikaanse leser van vandag: die plaasroman, die oue en die nuwe; en die konstruk Afrikaner soos dit daaruit gemaak kan word. | |
IdentiteitDie kwessie van identiteit word in feitlik elke moderne plaasroman óf direk by name genoem óf implisiet betrek in die ontwikkeling van 'n karakter (of | |
[pagina 119]
| |
'n volk). Sonder om vooraf daaroor te teoretiseer, en gebruik te maak van bekende studies oor identiteit en kultuur,Ga naar eind35 gaan gekyk word hoe die plaasromans hiermee omgaan. Die aanname was immers nog deurgaans dat die narratief ook kennis is. Dan, natuurlik, met dié kwalifikasie dat die struktuur, modus, van die narratief ook deel van daardie kennis is. Die diskoers bestaan nie net uit wat gesê word nie, maar ook hoe dit gesê word. In die plaasroman kan die beste voorbeelde daarvan ook gesien word. Sewe dae by die Silbersteins van 1962 en Die stoetmeester van 1993 is in 'n groot mate - dit hoef natuurlik nie suiwer net dít te wees nie - geskryf binne die troop van die allegorie, waardeur die verhaal, karakters en insidente só geskep is om op iets te wys, om vir iets te staan. Maar daarby word die betekenis op verhaalvlak in Sewe dae verder geproblematiseer deur die outeur se klaarblyklik satiriese siening van gebeurtenisse en karakters. Hierdie vermenging van satire en allegorie veroorsaak dikwels 'n inversie van die betekenis wat deur die allegoriese modus gemaak is. Byvoorbeeld: Jock Silberstein deel Henry van Eeden, die inisiaat, mee dat hulle hier op die landgoed 'n liberale leefwyse vestig, prikkelend en beskaafd, met gaste en partytjies elke aand, met gesprekke en debatte. Die vestiging van 'n kulturele identiteit. Henry is teenwoordig by elke diepgaande gesprek, daar word direk met hom gepraat, gereageer op sy opinies; maar hy spreek nooit 'n opinie uit nie. Wanneer hy - in die hoofstuk ‘Ballet van die Boere’ - verkeerd vir die partytjie van die boere aantrek: 'n kakiehemp en -broek, waar die boere en hul vrouens aandpakke en aandrokke dra (met dié spottende kommentaar: ‘Natuurlik! Die boere is die aristokrasie van die land’, p. 56) sê dr. Johns dat dit 'n openbaring van Henry se individualisme is; maar Henry wou eintlik by elke partytjie konformeer deur dieselfde klere te dra. Só word daar dan ook parodiërend vir hom 'n identiteit geskep. Pas voor hierdie toneel het Jock egter aan hom gesê dat daar geen enkelinge is nie, slegs karikature. Henry se soektog na Salome die bruid is 'n soektog na eenwording, met haar en met Welgevonden; sy strewe om elke dag in sy kleredrag dieselfde as ander te wees, is 'n begeerte om identies in voorkoms te wees met diegene op die partytjies. Om identies te wees, om te identifiseer, is deel van die proses van identiteit skep. So ook is Jock se drogredenasie oor apartheid gesatiriseer: ‘(d)is 'n individuele bydrae tot die geheel, 'n bewaring van die onderliggende identiteit ter bereiking van die algemene doel.’ 'n Bewaring van 'n onderliggende eendersheid wat deur kolonialisme en apartheid gekonstrueer is, en rampspoedig was. Die soeke na identiteit is ook 'n soeke na eenheid, eenvormigheid. Dr. Johns verduidelik dat die Katolieke Middeleeue, sonder nasionalisme, 'n een- | |
[pagina 120]
| |
heid van kultuur en geloof gehad het. Maar die basis van daardie eenvormigheid kan hulle nie definieer nie, behalwe om te vra: ‘Waar en wat is die mite wat hulle verenig? Hoe lyk die aangesig van die nuwe syn?’ (Etienne Leroux, 1966:73, 84). Identiteit kan nie omskryf word nie; voor die koms van Henry se beloofde bruid, Salome, teen die einde van die verhaal, dink Henry oor die beeldloosheid van die syn. Henry se vereniging met Salome, hulle identifikasie met mekaar, vind nie opsigtelik in hierdie boek plaas nie; ons weet slegs in Een vir Azazel wat die resultaat daarvan was: die groteske, vertraagde reus. Identiteit is hier gesatiriseer en geparodieer selfs op die vlak van die dier: die perfek geteelde bul wat 'n spesifieke rasidentiteit moet hê, kan nie ordentlik bulk nie. Deur die teling van diere kan identiese eienskappe verkry word. Dit was die groot prestasie van die stoetmeester (in Die stoetmeester): om bokke te teel wat so presies dieselfde is dat hulle dieselfde reageer op prikkels, soos om almal saam flou te word wanneer hulle skrik. Floubokke, kantelbokke! Dit sou mens seker ook kon lees as 'n satirisering van identiteit. Soos in Sewe dae by die Silbersteins kan mens ook in Die stoetmeester betekenisse aflees, veral hier van karakters se identiteit, wat doelbewus geskep is om die tipes van 'n koloniale leefwyse te representeer. Die tipering van karakters wat hier volg, soos saamgevat uit die narratief, is eintlik die konstruering van elkeen se identiteit. Die verteller, die regsgeleerde Max (Siener) Wehmeyer, beskou homself as 'n bevoorregte lid van die besittersklas. Sy kliënte is die swart minderbevoorregtes, maar hy leef Westers en koloniaal, met gevestigde beleggings. Sy tipering van sy besittings identifiseer hom verder: Opeens dink ek aan my huis. Die onvervangbare boekeversameling! Die seël- en munteversameling! Die handtekeningversameling, wat die handtekening van die volksplanter Van Riebeeck, die apartheidsargitek Hendrik Verwoerd, die ontdekkingsreisiger Dias en die kruisie van die Zoeloekoning Dingaan insluit! Die stoomtreine! Die roostuin! Die bonsaiboompies in die sonkamer!Ga naar eind36Hy is eksentriek, individualisties, en die buitestander-intellektueel (van toeka se dae die gunsteling van die plaasromanskrywer); ook ‘alternatief’ in dié sin dat hy ekologies bewus is, sensitief teenoor ander, en in opstand teen die geveinsde leefwyse van die rykes, soos geopenbaar op die groot onthaal op die plaas waar hy sy mening lug oor die onderduimsheid van die rykes. Die plaasonthale, sedert Sewe dae by die Silbersteins, is 'n ander aspek van identiteit: dié van die nuwe plaas-Afrikaner. | |
[pagina 121]
| |
Ook ander karakters se identiteit kan opgebou word: Seamus, die stoetmeester, se soeke na identiteit in Afrika - die boer wat nie 'n Boer is nie; Sarah, sy vrou, strewend na verandering. Elkeen dra iets by tot die identiteitsprofiel van die welvarende wit mens in Suid-Afrika. Ook die ambivalente identiteit van 'n swart vrou soos MaNdlovu word geskep, wat predik dat die jeug hulle tradisies moet eer, hulle geskiedenis moet onthou: ‘Julle moet jul tradisies eer... Daardie geskiedenisboeke van Bantoe Onderwys leer julle net van die Boeretrekkers en die 1820-Setlaars met hul skippies. Maar julle moet jul afkoms gedenk. Niemand anders gaan dit vir julle doen nie. Julle's afgestam van die Damaqua, die geel mense, die Koi, en die Tinde, die swartstes onder die swartes, die groot beesboere...’Maar sy kies 'n Boer as prokureur, en daar hang 'n skildery van Christus in haar werkkamer ‘... wat met vroom gevoude hande buig oor 'n seuntjie wat 'n lammetjie vashou’ (Etienne van Heerden, 1993:26, 82). Dis egter die identiteit wat Seamus en Sarah se seun Cawood vir homself geskep het waarin ons sou belangstel, Cawood as verteenwoordiger van die bevoorregte wit jongmens van vandag. Die verteller praat van hom as 'n ‘onverantwoordelike klein bliksem’; hy is die toonbeeld van die bedorwe kind, beskermd grootgemaak, sy ma se liefling, maar onbesorg oor haar, en in opstand teen sy pa omdat dié sy deel van die plaas wil verkoop. Sy erfporsie wil hy behou, nie om op te boer nie, maar om merkantiele redes; en om te speel. Hy is van die nuwe tipe, ryk kolonis: wildvanger, safarileier, helikopter-vlieënier: Oornag het Monomotapa Safaris en Cawood die middelpunt geword van die sosiale lewe van die distrik se jongmense. Iedere jaggeselskap uit München of Washington, uit Tokio of Montreal moet aan tipiese Oos-Kapenaars, die bewoners van die Kei en die afstammelinge van die beroemde 1820-Britse Setlaars bekend gestel word.Maar hy was in die weermag, en daar sal geen gemoedsrus vir hom en sy geslag wees nie. Hy stel nie belang in politiek nie, wil nie van die politiek van die ouer mense weet nie. Hy moes veg in Angola, net om daarna te hoor dit was alles 'n fout (‘“Nou moet ons ons vlag bêre en dis skielik 'n skande dat ons in Angola geveg het en ons mag nie “Die Stem” sing as die All Blacks hier kom speel nie”’) (Etienne van Heerden, 1993:282, 167, 202). En, uiteindelik, is hy waarskynlik ook gay; sodat daar van hom geen nageslag sal wees om die erfenis van die plaas voort te sit nie. En daarmee | |
[pagina 122]
| |
dan ook die implikasie van die uiteindelike de(kon)struksie van die plaas, en van die plaas as bron van identiteit. Het Cawood ‘identiteit’? Bestaan dit? Henry van Eeden het gesoek om te identifiseer; Cawood soek om anders te wees. Die versugting om anders te wees as ‘hulle’ op die plaas is sekerlik een van die hoofuitings in 'n Lug vol helder wolke. Reeds aan die begin beleef Kobus, die hoofkarakter, die stemme van die plaasmense as klanke wat wegdryf in die stilte. Vervreemd: ‘Wanneer hy uitkyk deur die venster, weg van die mense in formele kring, is dit vir Kobus asof die stemme inmekaar skuif... en die woorde hulle identiteit verloor...’ Identiteit op die plaas beteken eenvoudig dit: om eenvormig te wees, dieselfde as almal, nie anders nie (‘As iemand hiér anders wil wees, dan lag hulle, hulle verstaan nie. Hulle wil hê dat hy soos hulle moet wees.’) Deur boeke te lees, onder invloed van Meester, het hy begin besef dat daar iets anders bestaan. So het hy begin wegbreek van die eenselwigheid, van die wette en voorskrifte, van 'n aanvaarding van 'n lewe sonder protes, van dié clichés: ‘Ons moet vashou aan wat ons eie is, ons moet veg teen al die nuwe opvattings en gewoontes wat in ons volkslewe rondsluip soos 'n pes in die donker, ons moet hulle keer en uitroei voordat hulle posvat’ (Karel Schoeman, 1967:19, 27, 58). Deur die tragiese gebeurtenisse in die narratief word hy uiteindelik bevry van die plaas - 'n bevestiging van die feit dat hy nie meer een van ‘hulle’ is nie. Dit is dan sy identiteit: om nie identies te wees nie. 'n Identiteit van anders-wees. Maar dit kon nie gebeur sonder die tragiese gevolge nie. Jan, Janneman, Jan Knakkie, Jan Dak, Jan Pampoen, eenkantmens, boekmens, sterrekyker, mislukking, ontvanger van byname van die ‘bond van mede-boere’ weet dat jy mettertyd word wat ander van jou verwag, sodat jy ander se verwagtings vervul: jy word die identiteit wat hulle vir jou skep. Ook ander seuns van die trotse, hoogmoedige stamvader, Koos Nek in Kroniek van Perdepoort (Anna M. Louw, 1975:50, 185) is anders. Chris weet nie waarom hy en sy broers, wat van die begin af goed toegerus was, langs die pad uitgesak het nie. Hy, ‘'n klein bebrilde seuntjie’, gaan weg om te leer. Klaas ook, ‘'n eienaardige ou seuntjie’. Kobus het begin vreemd voel in sy ouerhuis. Nie een van hulle kon hulle vereenselwig met die beeld van die vader nie, met sy ontsettende selfvertroue nie. Hulle identiteit sal hulle ook dus elders gaan soek, in andersheid. 'n Sentrale uiting van Uitdraai is die titel. Die hoofkarakter, Flip, is bewus van sy andersheid: ‘Hy is van Uitdraai, al gaan hy ook waar in die wêreld. Hy is die blas seun van Uitdraai, die halfnaatjie wat in die groot, | |
[pagina 123]
| |
groot wêreld buite hierdie distrik as mens aanvaar word, en nie as beskamende seldsaamheid nie...’ (Wilma Stockenström, 1976:76). Hy oorskry bewus die grense van die gemeenskap op die dorp en plase, breek bewus weg van identies-wees. Die verkoop van die plaas is 'n beslissende wegbreek. Hy neem nie eens die familieportrette saam nie, en weer word identiteit gevorm juis in die wegbreek van die identies wees met ander (dis opvallend watter vanselfsprekende rol die familieportret speel as teken van identiteit, ook in Perdepoort). Alhoewel Flip se andersheid deur sy afkoms bepaal is, handel hy self daadwerklik wanneer hy weggaan van Uitdraai. Daarteenoor word die identiteit van mense in Toorberg deur die hegemonie van die patriargie bepaal: as loslopers van OuAbel se stam, as ‘stiefkinders... op die rand van Toorberg’ (Etienne van Heerden, 1986:33, 151); en De la Rey wat sy rug op Toorberg gekeer het, die ‘dwaalseun’, word uit die testament gesny. Maar die mees navrante geval van identiteitsoeke is die geval van Floors Moolman wat in sy soeke na homself skinderstories oor homself versprei. In die kroeë van die Groot Karoo en die Kamdeboo het hy sy eie naam help voortleef in die halwe waarhede van stories: ter wille van identiteit 'n teks geskep. Dit ook is kommentaar op die frenetiese soeke na identiteit. Verskeie faktore wat die konstruk identiteit vorm, word in Hierdie lewe as dryfvere vir die handeling van karakters gegee. Die rol van die moeder in terme van hebsug, begeerte tot grondbesit, en mag; maar dan ook die sentrale rol van die familie, veral dié waarin daar groot verdeeldheid geheers het. Dit is moeilik om te bepaal watter eienskappe, watter soort identiteit hierdie faktore sou kon veroorsaak; en mens sou ook nie wou veralgemeen nie. Verdeeldheid is nietemin 'n eienskap wat kenmerkend van die geskiedenis van die Afrikaner is. Daarteenoor ‘is ons in ons afsondering tog weer telkens saamgedrywe in die stryd om oorlewing in daardie harde wêreld’ (Karel Schoeman, 1993:62). En hierdie noodgedwonge saamkom het gelei tot die skepping van gemeenskappe, soos hier beskryf: in die begin met 'n gemeente, 'n kerk wat gebou word en erwe vir 'n kerkdorp, waar die dorpshuis van die boer uiteindelik gebou is. Rondom die predikant en mense van aansien sou daar dan ook 'n hegemonie ontwikkel. In epiese trekke word dit hier voorgestel. Daaruit sou mens ook kon aflei dat die plaas, die plek van eensaamheid - Eindvlei, Uitdraai, Perdepoort, Basterfontein, Toorberg, Wildeperdehoek - die ruimte van die patriarg was, maar waarskynlik nie die soort terrein vir die skep van die magshegemonie van die Afrikaner nie. Ook omdat hierdie afsondering plekke van stilte was; 'n stilte waarin karakters verdwyn het, en waarin geen identiteit met 'n ander sou kon ontstaan nie. Dat kultuur die behoud van die volkseie is; die strewe tot mag by | |
[pagina 124]
| |
Afrikanermanne Suid-Afrika die sterkste land in Afrika kan maak; 'n trots op die verlede noodsaaklik is; suiwerheid van bloed deel van jou wese as Afrikaner is; 'n geloof dat die Afrikanervolk hier geplaas is as deel van God se raadsplan - dié frases wat opklink uit Kikoejoe was sekerlik boustene in die konstruksie van 'n vroeër Afrikaneridentiteit (Etienne van Heerden, 1996:29, 33, 54, 190, 191, 192, 193, 196). Uitsprake soos hierdie is deur die Broeders gemaak. Een voorbeeld van so 'n uitspraak is die volgende: ‘Die Broederbond is gebore vanuit 'n diepe oortuiging dat die Afrikanervolk in dié land geplaas is deur God-Drie-enig, en dat dié volk sal voortbestaan solank God dit wil...’ Deur die satiriserende, parodiërende toon van die verteller is daar 'n problematisering van die begrip identiteit. Soos die karakters in ander romans hier genoem hulle weggedraai het van die eendersheid van identiteit, so draai die verteller en skrywer hom en sy teks daarvan weg. In 'n poging om 'n inventaris op te stel van wat identiteit is en watter vormende magte sodanige identiteit skep, is dit nodig om die houding en hantering van stof deur die verteller/outeur deurgaans in ag te neem. Daaruit kom deur satirisering en parodie die feit dat 'n identiteit nie geskep kan word nie (Henry van Eeden), en dat die bekende ‘waarhede’ van die verlede oor die Afrikaner eintlik lagwekkend is (Kikoejoe). 'n Gemene deler vind mens in die karakter wat wegbreek van die eendersheid, die identiese, van die plaasmense en hulle moraliteit: dus eintlik 'n wegbreek van 'n identiteit. Daar word geen ander identiteit gesoek of gevind nie: die wegbrekendes verdwyn, of hulle is mislukkings. En diegene wat uitgeskuif word deur 'n patriargie of hegemonie, die loslopers, stiefkinders - hulle word die bywoners. Dit veroorsaak 'n kompleksiteit van denke oor hierdie saak: die skrywer/verteller koester die alleenlopers, maar tog kom daar min van hulle in terme van die gekonstrueerde moraliteit in die tekste. Die tentatiewe slotsom waartoe mens kan kom oor spesifiek die kwessie van identiteit is dat daar geen duidelike Afrikaner-identiteit kristalliseer nie; ook nie eens 'n duidelike beeld van wat die konsep identiteit is nie. En taal kom ook nêrens voor as 'n bindende faktor nie. Daar is nog ander gemene delers in die plaasnarratief wat ondersoek moet word en verband kan hou met die konstruk identiteit, naamlik welvaart, klas, arbeidsverhoudings, skuld. | |
WelvaartSedert die 17de eeu sou die welvaartstrewe by die Westerling gekoppel wees aan grond en grondbesit. Die verteller in Hierdie lewe het dit besef ten opsigte van die optrede van haar moeder: ‘... maar namate ek oor die jare | |
[pagina 125]
| |
waarneem hoe sy trotser en meer onversetlik word, het ek besef hoe belangrik grond en eiendom vir haar is, en hoe 'n hoë prys sy bereid is om te betaal vir dit wat sy begeer, akker vir akker, morg vir morg en plaas vir plaas’. Dis eers in die moderne plaasroman waar welvaart as 'n definitiewe strewe gesien word. Aanvanklik - in die verre verlede, en nog lank voor die Anglo-Boereoorlog, as 'n mens die historiese tyd in Hierdie lewe in ag neem - was welvaart onopsigtelik. Die verteller praat van hulle ‘beskeie en onopsigtelike welvaart’ (Karel Schoeman, 1993:29, 14);Ga naar eind37 en hierdie soort welvaart word klaarblyklik gesien as positief. Maar welvaart het ook 'n teenpool en 'n oorsaak: armoede. En in 'n poging om haar moeder se ‘gedrewenheid’ tot besittings te verklaar, onthou sy dié dag toe daar 'n trekgeselskap op die plaas aangekom het, met 'n lendelam kar, maer honde en brandsiek skape - 'n verslae klein trekgeselskappie met 'n vrou wat geen woorde van welkom verwag nie, sku, armoedige kinders en 'n man met 'n wilde baard - en haar moeder se donker, flitsende oë en haar reaksie op die geselskap. Sy wonder of dit die wêreld is waaruit haar moeder gekom het: dié van die bywoner? En haar strewe sedertdien was die veiligheid wat geld en mag en aansien verseker het; wat die sekuriteit van 'n hoër klas gebring het. Besittings het dus 'n klasseverskil gebring. Maar die bereiking van hierdie strewe het vir die Afrikaanse skrywer van die plaasroman ook negatiewe beelde gebring. Die verteller in 'n Lug vol helder wolke vertel van die boerevrou ‘... wat haar hande vou en sug sonder om veel te sê, kommerloos voortgevoer deur baie geld en baie bediendes...’ wie se man welgesteld is, gesiene, ‘... en vader van 'n aansienlike aantal onegte kinders, sowel wit as swart’ (Karel Schoeman, 1967:49). Van rykdom wat inhaligheid kweek, en van die obsessie met besittings, soos StamAbel in Toorberg wat sy voorletters in goud op al sy besittings op Toorberg aangebring het (Etienne van Heerden, 1986:32). En die houding van die verteller in Die stoetmeester teenoor die nageslag van die Britse Setlaars in privaatskole met ‘... 'n vierwielaangedrewe Range Rover vir natuurkundige uitstappies en ouerdae met plate Mercedesse en Rolls Royce's’ (Etienne van Heerden, 1993:39). Henry van Eeden word gewaarsku dat dit nie 'n skande is om ryk te wees nie, dat hy ontslae moet raak van sekere gevestigde idees: soos dat ryk mense geen integriteit het nie. En die leefwyse wat in Sewe dae by die Silbersteins op Welgevonden gevestig word, is die liberale, beskaafde en prikkelende - wat net in 'n ryk gemeenskap kan bestaan. 'n Mens moet onthou dat hierdie roman satiriseer. Die ryk Butlers in Die stoetmeester, waarin geld en welvaart sleutelgegewens is, het ook al die jare die beginsels van liberalisme voorgestaan. | |
[pagina 126]
| |
Die vooruitsig van welvaart lei onverbiddelik tot die merkantiele: erfgrond wat verkoop sal word ter wille van 'n belegging in die olie-ontdekking (in Die stoetmeester). Gelees in terme van die ruiltransaksies van die 17de eeu is daar nou dié omsetting: voorheen was dit geld of 'n ruilmiddel vir die besit van 'n plaas; nou is dit die plaas vir geld. Grond het ‘dooie grond’ geword (Etienne Leroux, 1966:12, 16; Etienne van Heerden, 1993:3). ‘Ek het nou kapitaal nodig; ek moet nou in die stad belê... Daardie stuk dooie grond moet nou af’ (Etienne van Heerden, 1995:119). Ook ander sake-ondernemings word geïnisieer: die plaasopstal word herbou, die plaashuis word 'n ‘hunting lodge’, verruil vir ‘goeie sake’. Die plaas word gedekonstrueer. Die ontdekking van olie, die aankoms van groot geld, sal ‘almal se inhalighede’ weer na vore bring. Maar dit sal die politieke konflik tussen wit en swart verskerp; want die grond waar die olie ontdek is, is die grond van die voorvaders, en ‘oil is black... greed is white’ (Etienne van Heerden, 1993:233, 242, 224). Daarmee bring die gaping tussen ryk en arm, wat ook die gaping tussen swart en wit is, die apokalips nader. | |
Die baas-werker-verhoudingSonder grond en besittings is daar geen welvaart nie; maar sonder die arbeid om produksie te verseker kan daar ook geen welvaart wees nie. Daarom is dit dat in narratiewe oor grondbesit en die representasie van die plaas verhoudings tussen die besitter en die werker, die heer-kneg-verhouding struktureel deel daarvan is. Oorsigtelik gelees, sal mens 'n definitiewe ontwikkeling in die bewussyn van die moderne Afrikaanse skrywer kan waarneem. En miskien is dit ook 'n weerspieëling, of 'n rekonstruksie, van die ontwikkeling van die Afrikaner se persepsie oor die verhouding tussen baas en werker. Die aanvaarding van die veronderstelling dat die roman, of die prosanarratief, ook die herskryf, of selfs die konstruksie, van ervarings en handelinge van die verlede en die hede kan wees, maak dat die moderne plaasnarratief, al het dit soos 'n Lug vol helder wolke reeds in 1967 verskyn, die verhoudings van die verlede kan herskep, met narratiewe kommentaar. So sal hierdie narratief nog gebruik maak van benamings soos ‘volk’, ‘kaffers’, ‘meide’, ‘naturelle’, terwyl in latere romans, wat ook nog verwys na vroeër tye, die woord ‘volk’ eerder vir werkers gebruik sal word. Die woord ‘Hotnot’ word soms nog gebruik in Kroniek van Perdepoort, maar deur 'n spreker wat 'n spesifieke konnotasie soek; en waar die woord ‘kaffer’ hier gebruik word, korrigeer een van die karakters ('n vroeë voorbeeld van politieke korrektheid!): ‘“Bantoes”, verbeter Johnnie streng, “hulle gaat saamstaan, julle moet respekte hê.”’ | |
[pagina 127]
| |
Stereotiperings kom dikwels voor: die ‘volk’ kan nie in beheer van sake wees nie; hulle laat slaplê sonder toesig. En, natuurlik, daar is altyd die verwysings na ‘hulle’: ‘Hulle moet kortgevat word...’ (Karel Schoeman, 1967:9, 17, 22, 25, 52, 56). Dis nogal opvallend dat 'n mens nooit eintlik lees wat ‘hulle’ besig is om te doen nie; maar hulle is 'n noodsaaklike afwesige teenwoordigheid. Meestal, in hierdie herskeppings van vroeër verhoudings, word daar nie direk met hulle gepraat nie, slegs oor hulle, en dan word dit iets van 'n parodie op die styl van die ou plaasroman. Hierdie afwesige teenwoordigheid is egter gedurig in die bewussyn van die sterwende verteller in Hierdie lewe, omdat sy haar versorg: ... dat Moeder daar was, kan ek nie onthou nie, net Dulsie gedurig langs my met 'n karos om haar skouers getrek teen die koue en haar voete op 'n stofie, of saans opgekrul op die vloer voor die bed. Dulsie was my stut... (Karel Schoeman, 1993:85).Dikwels kry 'n mens dieselfde soort dialoog en aanspreekvorm as in die ou roman; maar dan wanneer 'n bejaarde wit persoon aangespreek word (‘Nee, Mies, is mos sy pa...’) (Eben Venter, 1993:44, 114, 119). Die Engelsman, Mr. Muriel, se liberale houding teenoor die swart mense in hierdie roman staan die boere van Wildeperdehoek nie aan nie. Hulle stereotipeer hom gou as 'n ‘Kafferboetie’, en patriarg Hendrik in die beskrywing van die meesterplan van 'n plaas lig hom - miskien in tergende luim? - soos volg in: ‘Die swartes wil jy nie te naby aan jou huis hê nie... Hulle raak Sondae dronk en skop 'n vreeslike lawaai op. Maar nou darem ook nie te ver nie. Sodat jou bediendes in 'n japtrap by jou kan wees.’By die enorme ete waar oom Bertus hom - letterlik - dood geëet het, bring Maggie die ‘glansende oondgebakte skaapboud... En om te verhoed dat haar liggaamsreuk die geur van die sagte merinovleis in sy neusvleuels verwoes, draai hy sy kop heeltemal weg van haar af...’ en sê: ‘Hulle ruik tog darem maar anders. Jy kan nou maar vir my sê net wat jy wil. Al is hulle ook nou so opgetrain soos Mr Muriel s'n.’ Ma, in Kikoejoe, vertrou haar hoofkelner Reuben totaal (‘Reuben sal nooit sy pos verlaat nie’) en sy is opreg in haar optrede teenoor hom. Maar dis tog 'n egtheid wat nie sonder 'n mate van wit patronisering kan wees nie: ‘Hy is 'n wit kaffer... So ordentlik as kan kom. Ek sweer hy't Kleurlingbloed in hom. Hy praat die mooiste Afrikaans en was elke aand.’ En oor die feit dat Reuben drie Reader's Digests in een aand deurgelees het, sê sy: ‘... Maar Reuben, ons moet jou daar by Kaizer Matanzima kry dat | |
[pagina 128]
| |
jy hom kan help met die tuisland wat doktor Verwoerd vir julle wil gee.’ Reuben se handeling is openbarend van sy reaksie op haar woorde: hy draai sy rug op haar, vir die eerste keer in al die jare. Daar is talle stereotiperings in hierdie roman; en, alhoewel die vertelling vanuit die verlede is - toe mense nog openlik rassisties was - is opinies en karakteriserings soos die volgende deur die verteller (wat bewus vertel) gekoppel aan definitiewe sprekers. Pa, wat sê Reuben is 'n kaffer, en hulle glo in toordokters; ma, wat sê die ‘swartgoed’ teel so aan; tant Retha, wat dink oor die ‘veldmeide’ en haar ‘meidjie’ Tsitsi in die motor laat slaap wanneer hulle op die vakansieplaas is; Ma, wat sê die Xhosas het nie 'n sin vir tyd nie ‘... en die konsep diens is vir julle so vreemd as 'n polshorlosie vir 'n blouaap’. En daar is altyd blatante rassisme, soos tant Retha wat kla oor die kindermeide wat op die vloer slaap in die kombuis waar die kos gemaak word. En die beskrywing van die bediendes se longdrop met die koerantpapier waarmee hulle hulle kan afvee (die werkers het die toiletpapier gesteel wat Ma vroeër daar gesit het) (Etienne van Heerden, 1996:68, 13, 24, 151, 198, 199, 234, 240, 271). Naas die stereotipering van ‘hulle’ handelings, gewoontes, gedragswyses, is daar ook die stereotipiese handeling van die wit man. In 'n Lug vol helder wolke (Karel Schoeman, 1967:52): wanneer die ‘naturelle’ werk, is Freek daar ‘wat uit gewoonte gebly het om toesig te hou en op hulle te skreeu’. Attie, in Kroniek van Perdepoort (Anna M. Louw, 1975:162), skreeu guitig op die werkers want ‘om die een of ander rede skree hy altyd vir die bruinvelle of hy duidelik moet stel daar's nie 'n kwessie van vertroulikhede nie’. Uitdraai (Wilma Stockenström, 1976:24) begin met 'n geskreeu op 'n ‘swernoot’, Sagrias; en Flip, bevry soos hy is, kap self hout, omdat dit vir hom lekker is, maar ook omdat hy die twee werkers ‘nie vertrou om op hulle eie te werk nie’. Die geskreeu op die bediendes beteken dat die generasie van die baas nooit geluister het wat bediendes te sê gehad het nie. Die oujongnooitante in Hierdie lewe (Karel Schoeman, 1993:24) wat altyd aan die rand van die geselskap was (‘aan die rand van ander mense se lewens waaraan sy geen deel het nie, besig om te kyk en te luister’) besef nou, te laat, dat Dulsie dikwels met haar gepraat het, soos een gemarginaliseerde tot 'n ander. Hoekom het sy nooit geluister nie? Omdat sy 'n afstammeling was van hulle wat net geskreeu het en nooit geluister het nie. Dis 'n opvallende jukstaponering dat die narratief waarin die oorskryding van die ou kleurskeidslyn 'n betekenisvolle ondermyning van die idilliese plaasmilieu aankondig - Uitdraai - ook die mees gruwelike rassistiese gedagtes bevat. Cornelie, wat geslaap het by Flip met sy gemengde afkoms, | |
[pagina 129]
| |
raak swanger. Sy dink oor Flip se herkoms en probeer onthou of daar enigiets is aan sy liggaam wat mens aan 'n bruin mens kon laat dink, want ‘... hulle sê dat dit nie noodwendig altyd uitslaan nie, dat dit geslagte kan oorslaan, en skielik kry jy 'n kind met oë flets soos 'n merinoskaap en hare wat lyk of dit van sifdraad gemaak is’. En dan wonder sy hoe die kind sal lyk, en ‘(p)artykeer het dit vir haar gevoel asof kroeshare die binnekant van haar buik skuur soos 'n klein hotnotjie sy kop draai om te bevestig dat hy is, dat hy ontstaan het, deur haar toedoen, haar wellus. Dan wou sy dat sy dit kon vernietig, kon uitkrap en vermorsel en die bloed uit haar laat stroom om weer gereinig te word’. Die kontrastering van Cornelie se gevoelens oor ras met Flip se verhouding teenoor sy werkers aksentueer die noodsaak van bevryding van rasse-vooroordeel by wit mense. Hy verbreek die konvensies van die baas-kneg-verhouding. Cornelie is ‘ontstemd’ wanneer sy Mieties se siek kind in Flip se slaapkamer vind, waar hy hom neergelê het omdat dit daar vir hom beter is as in sy ma en pa se bed. Natuurlik het sy gewonder of dit dalk sy en Mieties se kind kon wees; maar ‘(s)y het geweier om te glo dat 'n man wat met haar geslagsomgang kon hê en so daarin kon opgaan, sin sou kon hê in 'n meid’ (Wilma Stockenström, 1976:86, 87, 85). In terme van parallelismes met die ou plaasroman bring hierdie boek ook bevryding: die ‘volk’ het hier nie meer 'n parallele, maar tog hiërargies laer bestaan met dié van die baas nie. Hulle leef nou hulle eie lewe; soos die feit dat Ai Bella se slim kleinkind in die stad studeer. Alhoewel die werkers in Perdepoort gestereotipeerde bruin Afrikaans praat, praat hulle ten minste self, en hulle handelinge is ook bevry van die afskaduwing van die wittes se handeling. Mietjie se kind, Fielies, is meer wit as bruin. Lees mens dit semioties, sou dit die klein-klein begin wees van die opheffing van die apart en naasmekaar leef, want Fielies staan tussen die twee groepe, en sy dood vra ook om 'n begrafnis met 'n predikant. Fielies se begrafnis het meer egtheid as Koos Nek se herbegrafnis, en die predikant sal wel by Koos Nek s'n wees. Die verdere bevryding van die naasmekaar-spieëlbeeld-bestaan van bruin en wit in die Afrikaanse plaasroman kom in Toorberg, waar die verhaal begin vanuit die vertelhoek van Kaatjie Danster, en nie as 'n gestereotipeerde gesigspunt nie. Perdepoort en Toorberg gee albei stamregisters van die twee families (wit en bruin) voorin: in eersgenoemde staan die Lotriets van Perdepoort se register bo die Bruinmense van Ertmanstasie; in Toorberg staan die Skaamfamilie naas die Familie; en die dubbele skeidslyn tussen die twee families word gekruis by Floors Moolman se naam. Floors, die gekruisigde, wat ronddwaal agter 'n identiteit aan; Andries Riet wat homself bevry van die Moolman-naam deur die oorspronklike van van sy voorvader terug te koop. | |
[pagina 130]
| |
Alhoewel die baas-werker-verhouding op die plaas nog tradisioneel voorgestel word in Foxtrot, is die aard van die voorstelling anders: die leefruimte van die werkers word beskryf, baas en werker gesels met mekaar sonder om te skreeu. 'n Meisie, Buziwe word beskryf as mooi, en is selfs 'n bietjie geïdealiseerd voorgestel. Die verteller is skerp bewus van die situasie van die werkers in terme van lone en griewe. En die beskrywing van die seksuele koppeling tussen 2e lt. Anton Ghoen en Buziwe in die perdestal, soos ervaar deur die verteller, het geen rassekonnotasie op daardie oomblik nie. Wanneer Buziwe op 'n middag foto's by die verteller kom haal wat hy van hulle geneem het, ontvang sy die foto's op die tradisionele manier, met albei hande. Daaroor sê hy: ‘Net die twee oop swart hande, gevolg deur twee kort klappies: daarmee sement sy my en haarself vir oulaas in by Baas: Klaas-fondasies. Fondasies wat ek dankbaar sien wankel...’ (Eben Venter, 1993: 164, 176, 204). Dan volg die botsing tussen swart en wit op die boereskoudag. Mens besef dan dat hierdie roman ook pertinent gaan oor Baas: Klaas-fondasies wat gewelddadig verbreek word: dat dit hier op die mespunt staan tussen die tradisionele en die veranderende binne die heer-kneg-verhouding, 'n gegewe wat regdeur die plaasroman loop. Die mate van intimiteit, maar ook aggressie wat tussen die verteller en Buziwe ontwikkel, bevestig hierdie oorgang. Wanneer Windpomp - sekerlik 'n stereotipe naam - in Kikoejoe binne 'n hooimied aan die brand gesteek word deur die soldate, troos sy vrou die wit verteller terwyl haar seuntjie verwese na hulle kyk. Die wit verteller beskryf vir ons die gevoelens wat die mooi kinderoppasser Tsitsi vir Reuben het, en hy fiksionaliseer Reuben se bevrediging by Tsitsi. Hier het die leser fokalisasies deur die werkers, wat aan hulle narratiewe ruimte gee. Die bevryding van die Afrikaanse skrywer van stereotiperings wat saamgegaan het met ras, en die fokalisasieruimte wat afgestaan word aan swart karakters, het gepaardgegaan met die besef dat die kneg teen knegskap in opstand sal kom. Die besef word gekarteer in die plaasroman sedert Sewe dae by die Silbersteins in 1962; en die spookbeeld van 'n apokalips vergesel dikwels die verset. In Sewe dae by die Silbersteins word die opstand van die werkers byna skertsend meegedeel; maar Jock vra tog: Wie se skuld is dit? Wat skort? Die ‘naturelledorpie’ staan in rook, slegs 'n derde van die werkers is by die stookketels en wassery (‘Jy het nog nooit so 'n opeenhoping van bottels gesien nie.’) Die orde is broos: 'n kind is dood, twee polisiemanne, drie vrouens en sestien ‘naturellemans’. Die Katolieke Vader is in sy kerk vermoor, vermink en geëet. Word dit in die naam van die duiwel gedoen? vra Jock. Die satiriese toon en allegoriese aanslag werk egter distansiërend. Die | |
[pagina 131]
| |
erns van die opstand word ook gekussing deur die deurlopende interpretasie en filosofering. Perdepoort se verset begin by dronkpraatjies oor hoe die onderdruktes uiteindelik die Boere gaan ondertoe druk, want die ‘Bantoes’ gaan help. Ons wag nog net: ‘Waarom stuur ons vrinne oorie see nie gewere nie’ (Etienne Leroux, 1966:93; Anna M. Louw, 1975:17). Dit eindig by 'n gesprek oor grond aan die ‘bruines’; maar 'n gesprek waarin niks nog besleg word nie. Ook in Toorberg is daar tekens van verset: die optrede van Shala Riet, wat snags die bokke onderdeur die grensdraad jaag om in die verbode Vlei van die wit mense te wei; hy is egter nog net 'n moeilikheidmaker, nie 'n opstoker nie. Die aanloop tot meer substansiële opstand sal egter kom van Pastoor Oneday Riet, aktivis, wat reeds deur die veiligheidspolisie aangehou word. Die neiging tot die epiese, die groot narratief, wat soms gesuggereer word in die verwysings na kolonisasie, veral binne die konteks van ryk plase, toerleiers en toeriste van Amerika, plaas die Die stoetmeester, oor grond, oorerwing en welvaart binne die gees van verset.Ga naar eind38 MaNdlovu moedig stryders aan om by die Beweging aan te sluit; daar is gevaar op die plase; daar is opstand in die townships; politieke aktiviste word aangehou. En met die fontein van olie wat uitspuit op die grond van die katedraal, kom die wete: dis Xhosagrond. Die woorde van Oneday in Toorberg oor die onreg met die toekenning van grond aan koloniste, word weer 'n werklikheid: Maar toe StamAbel na die goewerneur toe gaan, toe kry hy die grondbrief. Omdat hy wit was... Omdat die ander twee 'n arm pandoer en 'n stief Boesman was. En hulle was van hierdie aarde: Hans Boesman se mense het dié Oog geken toe StamAbel se oupa nog in Holland, oorkant die see, gebly het. En toe StamAbel se pa met die skippie oorkom en met skeurbuik en al by Tafelbaai afgestap het, toe't die Boesman al hier gebly. Toe't Jan Swaat se moedersmense al hier deurgetrek. Maar wie sit nou met die kaart en transport? Wie sit nou in die Stiefveld met 'n turksvylandjie, 'n bokkraal, 'n klomp konyne? (Etienne van Heerden, 1986:130).Visies van 'n apokalips word opgeroep wanneer die oliefontein in Die stoetmeester opgeblaas word, die mense begin marsjeer, die histeriese geroep kom: hulle wil ons plase afbrand! Ons van ons grond afjaag! Restaurante blaas hulle op! Hulle skiet op vroue en kinders. Net soos daar op die landbouskou-boere in Foxtrot toegesak is, so kom die onderdruktes aan. Ook reaksionêre verset volg: die verteller, die ‘Kafferprokureur’, word gevange geneem en doodgemaak. | |
[pagina 132]
| |
Die finale apokalips bly egter uit, want daar sal gepraat word oor versoening. Aan die einde van dié roman neem twee vrouens - wit en swart - mekaar se hande: ‘“Ons moet vorentoe,” sê sy. “Daar is vir ons niks anders nie,”...’ (Etienne van Heerden, 1993:325). Daar is minder hoop op versoening in Foxtrot van die vleiseters. By drie geleenthede word opstand voorgestel. Die reeds genoemde toyi-toyi by die boereskou is een. Dit is betekenisvol dat die geleentheid gekies is, een waar die prestasies van die boere tentoongestel word: hul stoetbeeste, hul kos, hul plesier. Die oomblik van die aanval is ook so gekies dat 'n aantal gebeurtenisse gelyktydig plaasvind: die kopulasie van wit man en swart vrou, 'n geweldige stormwind, dronk boere, toyi-toyi, mense wat op die vlug slaan, fisiese geweld. 'n Tweede voorval van verset is wanneer Hendrik, die baas, en Laang, die kneg, bots in die veld en Laang aangesê word om te loop. 'n Derde is wanneer Oupa Dzozo ook moet loop, na 33 jaar in die diens van die Steenekamps. Nadat hulle weg is, is van die skape ook weg. Daar is 'n konfrontasie tussen die trekkendes en die soldate, maar Anton Ghoen word afgedreig omdat hy Buziwe ‘gevat’ het. Daar is vele situasies in Foxtrot van die vleiseters wat te make het met die voorbereiding en genot van kos. Dit sou 'n afsonderlike ontleding verg om die betekenis daarvan te bepaal. Dit hou klaarblyklik verband met kultuur en identiteit - en met 'n spesifieke, soms satiriese, vertelhouding. Wat egter veral betekenisvol is, is dat 'n buitelughuweliksfees waar veral die kosse beskryf word, beëindig word deur 'n groot vuur, 'n ontploffing en 'n vuurwolk. Een van die laaste paragrawe beskryf op filmiese wyse ook die einde van die ete. En as mens in ag neem dat kos en eet belangrike kultuurtekens in Foxtrot van die vleiseters is, is dié gedeelte nog meer effektief: Mirtel Marés bly uiteindelik alleen by die hooftafel agter met die klaaren halfgeëte vleisdisse en verruklike krummels van die soetterte, die leë feesborde, die kaal skaapkopskedels, die vuil drinkglase en wit lapservette met rooi lipstiffiesoene. Voor haar op 'n bord loop 'n mot al langs die oorskiet op 'n sosatiestokkie (Eben Venter, 1993:258).'n Droewige apokalips. | |
Skuld en boetedoeningWelvaart, arbeidsverhoudings, rasseverhoudings, waar dit nie in geregtigheid verkry of beoefen is nie, het skuldgevoelens of 'n skuldbewussyn tot gevolg gehad. Die oproep van immorele handelinge in die verlede, soos die | |
[pagina 133]
| |
wegjaag van Jan Baster van sy grond af, maak dat die verlede as ‘onredbaar’ (Hierdie lewe) ervaar word; dat die verteller moet sê: ‘As ek dan móét onthou, as ek dan verplig moet word om hierdie rekenskap te gee, waar moet ek begin, en wat moet ek noem, wat verswyg? Maar ek moet begin’ (Karel Schoeman, 1993:39, 66). Om te moet onthou, moet 'n morele noodsaak as oorsaak hê, en al word dit nie in hierdie teks regstreeks aan skuld gekoppel nie, is daar 'n besef van skuld in ander tekste wat klaarblyklik nie materialisties gefundeer is nie maar eerder ideologies-Calvinisties. Skuld word vandag aan die Afrikaner toegesê, en omdat dié volksgroep maklik van skuld 'n konstruk maak, is dit miskien nodig om na die skepping van die konstruk in spesifiek die plaasromans te kyk. Want dit is daar waar die wit-swart-verhouding, op arbeidsvlak en op persoonlike vlak, op die mees direkte wyse voorgestel word. Die plaasteks waarin sonde die meeste prominensie geniet - en dít meestal geabstraheer, soos die twee motto's waarsku - is Kroniek van Perdepoort. Soos wat die leser die seuns van Koos Nek ná sy herbegrafnis ontmoet, word dit duidelik dat dit veral Chris Predikant is wat die duidelikste kan nadink oor kwaad: of hy ook die ‘stigma van die geheime kwaad’ dra; dat hy 'n keuse het tussen die duiwel en die dood; of daar iets soos erfsonde is en of die vrye wil moontlik genoeg is om die sonde te verslaan. Hy dink oor die sonde van die vlees, en of die huweliksliefde dalk niks anders as wellus is nie. Chris se teoretisering is uiteindelik net pose, want die sonde is konkreet: hy vergryp hom aan die jong Adriana, oorweldig deur vleeslike begeerte (Anna M. Louw, 1975:53, 131, 179, 200, 243). Ook Toorberg begin met 'n ongekwalifiseerde ‘sonde’ waarvoor die Moolmans gestraf sal word deurdat die boormasjien geen water sal raakboor nie (en straf word dan direk gekoppel aan oorlewing op die plaas). Sondes soos trots, inhaligheid en verknogtheid aan besittings word wel genoem, maar nie aan straf gekoppel nie. Maar die dood van die kind Druppeltjie, wat in 'n droë boorgat val en daar doodgeskiet moet word, het iets met sonde te doen. Oorsaaklikheid is nie ter sake nie: binne die ideologie van die Calvinisme is almal in sonde gebore. Maar met die dood van Druppeltjie is daar nou die moontlikheid van skuld, wat meer konkreet as sonde is, en 'n magistraat as verteenwoordiger van die gereg kan dit nou ondersoek. Hier het 'n mens byna 'n allegoriese direktheid in vertelstrategie. Die tekens van ‘erfsonde’ lê oral in die Afrikaanse prosa: vanaf die abnormale meulenaar in Die meulenaar tot die groteske familie in Triomf. As mens tekens wil soek - so staan geskryf in Perdepoort - dan kan jy maar kyk na ou Koos se kinders: ‘Sagkens gestel: waterlote. Of abnormaal’ (Anna M. Louw, 1975:5). Dieselfde trekke vind jy in Toorberg - wat eintlik | |
[pagina 134]
| |
in vele opsigte 'n herskrywing is van Perdepoort - ten opsigte van die groteske: die ‘kêns Moolmanbloed’ wat behoorlik ‘uitgeslaan’ het in Kêns Tillie: ‘So word die sondes van die vaders besoek aan die kinders, tot in die derde en die vierde geslag...’. En die magistraat wat die skuld kom soek, vind dat die mense hier wat op plase ver van mekaar af woon, nie spontaan is in hulle getuienisse nie: ‘Daar is vrese, ou vrese, vrese van die bloed en die ou tyd... Hulle lewe onder 'n vloek, dié mense van die verste distrikte.’ Uiteindelik is die ‘skuldigheid’ ook die oorsaak van die vreemde handeling van Abel Moolman: dat hy windpompe uitklim en bo by die vlerke sit en dink, en om van daar af die sondes van die wêreld te sit en bekyk (Etienne van Heerden, 1986:33, 40, 54, 55). Skuld is ook oorerflik, en Sarah van Die stoetmeester weet dat sy en Seamus nie daarin kon slaag om hulle seun, Cawood, groot te maak sonder die ‘floubokgeaardhede’, die ‘verknoopthede’ van die geslag nie. Dit gaan hier oor die oorerwing van skuld - parallel met oorerwing by die floubok - en ook die selfmoord van die vader. Seamus besef dat hy hom moet losruk van die patrone van die vader. En wat het van Cawood geword, wat sy moeder gebreek en sy vader verwerp het? Skuld word ook verabsoluteer. In terme van die moraliteit en politieke ideologie van die gemeenskap in Uitdraai lei Cornelie se swangerskap by Flip tot 'n dubbele skuld: dit is buite-egtelik, en die kind kan dalk nie suiwer wit wees nie. Dit betrek ook die skuld van die Vermeulens, spesifiek van Flip se geslag: ‘Dit is in die bloed en jy sal dit met loog nie uitkry nie’ (Wilma Stockenström, 1976:107). Dit is dan nie net skuld wat verabsoluteer word nie, maar die verbreking van 'n politieke konstruk (oor ras) word tot skuld verhef. Hoe lank sal die sondes wat die vaders gepleeg het nog met ons wees? Die magistraat het een antwoord: Dis 'n land, het die magistraat in sy jare op die bank geleer, wat mense laat skuldig voel. 'n Land wat jou laat voel daar moet 'n rede wees waarom die genadige reën net so dan en wan oor jou trek (Etienne van Heerden, 1986:56).Skuld wat ontdek is, wat gepleeg is, wat verabsoluteer is; skuld het ingegroei in die vesels van die geskiedenis van die Afrikaner. Die magistraat kom ná sy ondersoek tot die slotsom dat daar ‘'n ketting van gebeure was waar oorsaaklikheid in oorsaaklikheid gevloei het, waar een insident tot die ander gelei het...’, en dit gaan ook ‘om die oorsaaklikheid van skuld en die oorsaaklikheid van bloed en trots’. En later, in nog 'n brief aan sy vrou - deur die tekstualisering van sy gedagtes soek die magistraat helderheid - sê hy dat | |
[pagina 135]
| |
‘elke handeling wat 'n onontbeerlike voorwaarde vir 'n bepaalde toestand is as 'n oorsaak van daardie toestand beskou moet word’. Deur die soeke na oorsake beland die magistraat natuurlik in diep water. Genealogie, ontstaan, kan miskien te maklik binne 'n patroon van oorsaak en gevolg verklaar word. Die oorsaak van Druppeltjie se dood in die boorgat is die gevolg van 'n tekort aan water op Toorberg, sodat daar oral boorgate vir water gesink moet word. In terme van die sekerheid dat gedurige droogte veroorsaak is deur skuld, word die dood van Druppeltjie dan veroorsaak deur die skuld van die vaders en van die voorvaders. Hierdie historisering van skuld en teleologisering van geskiedenis kan natuurlik bevraagteken word via die denke van Nietzsche oor genealogie. Ook betrek dit Foucault se teorie oor die ‘voorval’ en die ‘toeval’: die ongeluk, wat totaliteit, kontinuïteit en kousaliteit vernietig; waar daar dan oor ontwrigting en breuke gedink moet word (Etienne van Heerden, 1986:56, 85, 85, 96). Vergelyk Nietzsche (1956:151) se Zur Genealogie der Moral (1887), veral vrae soos: ‘In watter omstandighede het die mens waarde-oordele soos goed en sleg gekonstrueer?’ En, baie kortliks, oor Foucault: ‘It is precisely “the singular randomness of events” that enables him to reintroduce the central role of chance into historical discourse’ (Gary Cutting, 1994:40). Wat as Druppeltjie se val in die boorgat net 'n ongeluk was? Dan was daar geen skuld, maar dan ook geen teks nie. As daar skuld was, moet daar boete wees. Boetedoening en offer is 'n belangrike uiting in Die stoetmeester. Seamus besef dat boetedoening deel is van hierdie landskap. In sy gesprek met die priester verduidelik hy die simboliek van sy bokke se offer: dat daar miskien 'n genetiese geheue is wat teling aktiveer; die gewilligheid om jouself vir ander te offer - 'n soort selfmoord. Op die vlak van politieke geregtigheid sou dit verband kon hou met die smagting na die apokalips: dan sal die beoefenaars van apartheid en onderdrukking vernietig word. Seamus se geweerskoot laat die kuddes bokke kantel: dít is die verlossing, net soos die apokalips. Skuld kan ook gekoppel word aan verlossing. Die verteller wil Seamus laat sê: ‘Die groot ontdekking lê nog voor... en dit is dat skuld onverhandelbaar is. Skuld is deel van die land. Ons moet, soos 'n kind wat leer loop, die onseker bewegings van versoening uittoets.’ Maar hy sê dit self, omdat hy - die verteller, en hy Etienne van Heerden, die outeur - wil hê dat daar versoening moet wees, eerder as 'n apokalips. Daarom word hy - die verteller, die Caper timidus - die sondebok en word hy aan die einde geoffer (Etienne van Heerden, 1993:62, 301, 316). | |
[pagina 136]
| |
‘Dit is met dié mirakel (of is dit vloek?) van die floubok as draer van teenstrydige betekenisse (die duiwel, Christelike verlossing, die grensoorskrydende, die tragiese) dat Siener hom identifiseer. Binne die konteks van 'n Suid-Afrikaanse samelewing wat worstel met skuldgevoelens, herinner dié bokke aan die polities byna onmoontlik geworde moontlikheid van selflose opoffering en versoening’ (Marion Hattingh, 1995:79-93). Boetedoening en die offer hou ook verband met suiwering. Die plaashuis en die plaaserf van Uitdraai word skoongemaak en ontboom deur Cornelie se man. Selfs die primêre boerderyhandeling, ploeg, word 'n suiwering: ‘Voor na voor ploeg hy oop. Sooi na sooi val om. Renosterbossies kantel om, kakiebos, bitterappel...’ (Wilma Stockenström, 1976: 149). En die narratief word gesuiwer van die verbode man, Flip. Sonder om die konsep suiwering te ver te dryf, kan mens tog vra of dit nie ook verband kan hou met die konsep dekonstruksie nie. As alles gesuiwer is, as daar geen skuld meer is nie, kan daar ook geen teks wees nie. Teen die einde van Toorberg skryf die magistraat: Maar hier, in dié geweste, broei iets wat buite my gebied lê. Is dit waarom my kollega in sy verslag beweer het dat daar geen rede is om misdaad te vermoed nie? Is dit nie maar beter, veiliger - en selfs geriefliker - om die boek te sluit nie? (Etienne van Heerden, 1986:158). |
|