'n Hele os vir 'n ou broodmes. Grond en die plaasnarratief sedert 1595
(2000)–Ampie Coetzee– Auteursrechtelijk beschermdGrond en die plaasnarratief sedert 1595
[pagina 89]
| |
5 ‘Ons boere is almal moerland toe’
| |
[pagina 90]
| |
Ampie en Annekie keer terug na Booysen na die dood van hulle kind, en ter wille van selfbehoud: ‘- mense deur swart opskrifte in die koerante bedien - Sommige het teruggegaan, alhoewel ons nie weer van hulle gehoor het nie; party het aanhou sukkel en uiteindelik van die toneel verdwyn; ander het stad toe gegaan en uiteindelik ‘Afrikaners in aansienlike posisies’ geword. Maar die meeste het stad toe gegaan en deel van die arm werkersproletariaat geword, die armblankes. Plase het gebloei binne prekapitalistiese produksieverhoudings, alhoewel arbeidsverhoudings nooit werklik idillies was nie, nêrens in die wêreld nie. Raymond Williams (1973:37) sê in sy seminale The country and the city oor hierdie vroeë landbou-produksiewyse: Arbeid is nooit in die vroeë Afrikaanse plaasroman as 'n besondere faset van produksie uitgewys nie. Maar toe industrialisasie 'n werklikheid geword het, toe depressies en droogte die boere begin teister het, sou hul produksiewyse moes | |
[pagina 91]
| |
verander om aan die lewe te bly. Oom Frans, 'n boer in Somer, beween die dilemma van die boer hier teen die einde van die twintigerjare: Wat se moeilikheid het die oumense gehad? Hulle het swaar gekry teen die barbare, maar hulle kon net soveel grond vat as hulle wou hê. En hulle het mos geen uitgawe gehad nie. En dan die oorlog wat ons moes deurmaak... Dis al 'n hele klompie jare dat dit verby is, maar dit het ons verrinneweer. Wat my so hartseer maak, is dat dit niks help om vas te trap nie. Die wêreld rol onder jou uit - skoon (C.M. van den Heever, 1957:95).In elkeen van die gekanoniseerde plaasromans word die rampe wat die plaasbestaan bedreig, deel van die intrige: droogte, filloksera, hael, sprinkane, siektes, doktersrekeninge, tabakbelasting, dalende markpryse en die boere se onkunde oor die markte. Wol wat teen te lae pryse verkoop, rentekoerse wat styg, depressie, grond wat gekoop is toe wolpryse hoog was en later nie betaal kan word nie, verbande op grond, borgstaan. Boere wat nie aan die maer jare gedink het nie, en nie mielies gestoor het nie. Mens en natuur het gelyke aandeel aan die ondergang gehad. Maar daar sou geen plaasroman gewees het as die bedreiging van die einde van 'n lewenswyse nie daar was nie. Vanuit 'n besef van die belangrikheid van ekonomiese faktore, soos verwoord deur C.M. van den Heever in sy ‘Die Afrikaanse Gedagte’ (Van den Heever & Pienaar, 1950:23-26), is veral sy romans oor verstedeliking geskryf. Die leiding wat die verteller in hierdie romans gee, die advies aan die boere, is nie fiktief nie, maar spruit uit die besorgdheid van die Afrikaanse skrywer vir 'n boerekultuur wat sienderoë bedreig word, soos byvoorbeeld: Mnr. Niemand verduidelik langsaam en versigtig hoe nodig dit vir die boere is om saam te staan, koöperasies te vorm, eerder voorskotte van die koöperasies te ontvang as om hul koring half verniet weg te gee, en om, langs bestudeerde weg, die markpryse te beïnvloed en die bokkespronge daarvan te kontroleer (C.M. van den Heever, 1957:99).Daarom moet die voortbestaan van die plaas gewaarborg word deur die narratiewe te vul met waarskuwingstekens wat die ondergang kan markeer. Gemene delers binne die plaasvertellings is deur die teks-skeppers geïdentifiseer as die wegwysers na die ondergang. Dit is: skuld, die Jood, die indringing van die stad. Die dreigende verkoop van die familieplaas Meulkloof, wat die sentrale | |
[pagina 92]
| |
gegewe van die roman Die meulenaar is, het gekom as gevolg van die natuur, maar dit is veral borgstaan en die feit dat die geleende geld onmiddellik terugbetaal moes word, wat die finale terugslag was. In Droogte hoop die winkelskuld op, plaasproduksie is beroerd weens die langdurige droogte, en oom Soois word gedwing om geld te leen waarvoor hy borge moet kry. Die patriarg in Laat vrugte (C.M. van den Heever, 1958:58) sê: ‘Jy weet wat ek van borgstaan dink. Dit is die graf van ons mense’, en hy is nie eens bereid om sy skoonseun te help nie; nog minder vyfhonderd pond aan sy swaer te leen. Hansie in Langs die grootpad dink terug aan die vernedering wat sy pa in die winkel op die dorp moet deurgaan oor sy skuld, en Gustav dink aan sy versukkelde broer op die plaas (in Groei) wat soos 'n slaaf deur die droogte werk en geen wins maak nie. Niks vreet 'n mens se lewe so op soos skuld nie, sê oom Frans in Somer (C.M. van den Heever, 1957:69): ‘... As jy op die dorp kom, moet jy gedurig met jou kop op jou bors loop, bang dat die winkelier of prokureur jou sal roep en sê dat, as jy nou nie betaal nie, dan gaan hy jou opskraap.’ Die ergste wat skuld egter kan bring, is die verlies van die plaas; die plaas wat aan die nageslag bemaak is, wat hulle verniet gekry het maar sal verloor deur die swaar jare van droogte en die lae pryse vir produkte. Daarom moet daar altyd die wil wees om die plaas los te boer, want, sê oom Tom in Somer wanneer hy aanbied om sy broer te help om sy plaas te behou: ‘Daar by die kerkhof... was dit vir my nou nes of een vir my sê dat Oupa-grootjie, Oupa, Pa en almal saam sal skaam kry vir ons as ons die grond loslaat’ (C.M. van den Heever, 1957:139-140). Die Jood is die binne-buitestander, die verpersoonliking van hardvogtige kapitalisme. In die eerste Ampie is hy al daar op die eerste bladsy wanneer die eenvoudige Ampie sy donkie wil verkoop. Dié ‘kort Joodjie’ is naamloos, spottend teenoor Ampie, en haal Ampie se gramskap op die hals. Tot Ampie se genot skop sy donkie die Joodjie, skrams. Die Indiër - hier ook 'n soort Jood - word beskryf as ‘langbaard-dikbuikkoelie’ wat net vriendelik is wanneer dit om geld gaan. In Droogte word die Jood, met sy swart wenkbroue en ‘laagafkruipende’ hare, 'n direkte bedreiging van die plaas wanneer hy plaas toe kom om te kyk en op te eis waar skuld nie meer betaal kan word nie. In die kleindorp-narratiewe van Jochem van Bruggen is daar gewoonlik 'n taamlik gemoedelike verhouding met die Jood (Landau, byvoorbeeld, ‘is 'n baie verdraagsame Israeliet, 'n vriend van almal...’), en boere en Jood is op goeie voet met mekaar. Die Jood se winkel - op 'n plaas met die naam Sukkelaar! - is 'n bymekaarkomplek vir die boere van die omgewing. En selfs die stereotipering is gemoedelik: 'n Jood lyk triestig as jy iets wil verkoop, want dit lyk altoos of hy gaan verloor!Ga naar eind31 | |
[pagina 93]
| |
Hier was dit die Jood binne die vendusie- of plaasdorpmilieu. In die grootstad word meer verhaalruimte aan die verskynsel toegestaan; soms nog stereotipies en antisemities soos die beskrywing van die klein, maer en vuil Mozes Lamtowitz; bruin van voorkoms, waar slegs sy Jood-wees hom daarvan red om as Kleurling gereken te word. Vanuit sy vuil winkeltjie dryf hy handel in allerlei ou klere (J. Lub 1912:13) Die stad as ruimte het egter tot gevolg gehad dat daar 'n groter vermensliking gekom het. In J. Lub se Donker Johannesburg (1910) is daar 'n afdeling ‘Goudhandel’ met drie verwante stukke, ‘Podawsky’, ‘Jan’, ‘Tronk’, waar die voorstelling van die ou Jood Podawsky volgens die bekende stereotipering is: morsig, klein, krom, gierig. Hy word egter meer as net skuldeiser, want ook hy is arm en word uitgebuit. Hy en 'n Afrikanerman, Jan (stereotipe van die verarmde verstedelikte), word verraai deur 'n ander Jood. Hulle word gevange geneem, maar in die hofsaak lê die landdros se simpatie klaarblyklik by die onskuldige, nie-Engelssprekende ou Joodse mannetjie. Jan kry tronkstraf, ten koste van sy vrou se lewe. Die Jood binne 'n verwantskap met die Afrikaner het hier deel geword van die vroeë galery armes en uitgesaktes van die stad; van dieselfde klas as die werker, en in sy weerloosheid teen uitbuiting vergelykbaar met die swart man. Die swart man is in hierdie vroeë narratiewe die vergelykingsbasis vir alles wat aan menslikheid kortkom. | |
Die stadMaar dis veral die stad wat van vroeg af pejoratief gesien word. Vir die plaasbewoner, vir die boer, vir die Afrikaner moes 'n persepsie geskep word van die stad as verwerplik. Daar moes geen begeerte wees om daarheen te gaan nie, al is die omstandighede op die plaas ook hoe haglik. Ook diegene wat stad toe gaan, word voorgestel as uitgesaktes. Die behoud van die plaas, van die opeenvolging van geslagte, en uiteindelik van die ‘volk’ is afhanklik van voortgesette verblyf op die plaas. Van vroeg af al is daar negatiewe tekens wat die stad voorstel: die ‘haatlike gedoefdoef’ van die ‘motorysterperd’, die ‘mouter-baiesukkel’ met die meisie agterop, en die skeeloog-Engelsman wat haar verlei (Jochem van Bruggen, 1954:10, 22). Die ‘oppervlakkige dorpsmeisie, wat in 'n lekkergoedfabriek werk en haar tyd verdeel tussen lekkergoed, mooi klere en plesier’ (C.M. van den Heever, 1928:109) (die lekkergoedfabriek figureer ook in Opperman se gedig, ‘Ballade van die Grysland’). Daar is geld en kapitalisme wat met die stad geassosieer word, die ontdekking van diamante en die droom om 'n diamant te vind. Die oombliklike rykdom, wat egter nooit in enige plaasroman tot werklike geluk lei nie. Selfs die bywoner wat iets daar | |
[pagina 94]
| |
kry, erken ‘... ek wil dit bysê: daar is vir jou ellende op daardie plek wat hulle voor sê dieggens!’ (C.M. van den Heever, 1933:133). En die plaasmeisie wat trou met die stedeling (wat 'n hotel besit!) word uitgeroei. Die jong man van die stad, die stiefbroer, wat op die plaas kom kuier, is lui, sleg, en hy lees Engelse romans met geel omslae (C.M. van den Heever, 1928:86). Die stad dring die plaas binne met hierdie negatiewe tekens; en met die bewusmaking van vreemde gebruike, soos om te trou met 'n spessel laisen (Jochem van Bruggen, 1954:48). En as die dorpenaar of plaasmens stad toe gaan, voel hierdie ‘kinders van die veld... eensaam te midde van gebouestapeling en mensegewoel. Die gedwarrel en rumoer verdoof hul wil en hul persoonlikheid, en hulle is maar half die mense wat hul buite is; die hele sfeer werk bedwelmend op hul sinne’; en verder: ‘... 'n geweldige doodsheid heers om die massiewe blokke mensewerk, afgestreep deur kaal, stywe strate, waar oor die gehele lengte geen lewende siel te bespeur is nie... Dit lyk vir hom of die dag hier oud gebore word’ (Jochem van Bruggen, 1954:57, 59). 'n Mens onthou ook Friedrich Engels se beskrywing in The condition of the working class in England in 1844 (Raymond Williams, 1973:215): Diegene wat stad toe vlug, is lui: ‘Dis mos al woord wat hulle ken as hulle lui of bevoeter word: Johannesburg’ (C.M. van den Heever, 1957:97). Of: ‘As jy te lui is om te werk op die plaas, dan vlug jy maar stad toe. En wat word van hulle daar? As jy weer so 'n kêrel op 'n dag sien dan is hy totaal verander; hy drink miskien, of hy praat met allerhande Engelse woorde tussenin...’ (C.M. van den Heever, 1933:23-24). En die stad is een groot leuen: ‘Alles is net een infame, valse leuen in Johannesburg’ (Jochem van Bruggen, 1954:88). Die stad is ook die vernietiger van mense. Wynand, die swerwer in Somer, het stad toe gevlug, en daar het hy met wilde mense omgegaan, begin drink, geld gesteel, op die perde verwed, in die tronk beland: die clichés van die boosheid van die stad. 'n Onskuldige plaasmeisie in die | |
[pagina 95]
| |
stad word van immoraliteit verdink, en pleeg selfmoord (Langs die grootpad); 'n ou man wat eens 'n plaas besit het, dobbel in die stad, verloor geld en steel om dit te vervang. Hy verloor sy verstand en gaan onder (Groei). Johnnie, die seun van die stad wat die geel romans lees, word uiteindelik daar gevonnis vir diefstal. Die uitgeboerde boer soek moedeloos en hopeloos na werk daar, en sluit aan by die rye werkloses (Groei). Waar die plaas- en kleindorpnarratief hoofsaaklik werk met tekens van die stad se boosheid, of die lotgevalle van die verskoptes volg wat stad toe gedwing is, word die stad agtergrond en karakter in Lub se Donker Johannesburg. Hierin word die verteller deur 'n ‘geleider’, 'n begeleier, die stad ingelei. Hy sien mense wat aangekla word van dronkenskap (wat dronk in die straat gelê het), die polisieselle, die Heilsleër-skuiling vir verskoptes (waar 'n altyd-besope Voortrekkerseun skuiling vind). Hy hoor van Oosterlinge wat opium wettig mag rook, sien winkels vir gesteelde goedere, mans wat hulle klein kinders mishandel, dronk vrouens. Hy ervaar die ellende van 'n mynwerker wat in die aarde afdaal ‘om die goud te grawe, wat hij als 'n vloek het beskou’, wat hom ‘... so... verlaag, om so met die sneese en kaffers te boer en orders te ontvang van 'n klomp mense, wat hij nie in sijn huis sou ontvang het nie’ (J. Lub, 1910:21). Hy hoor 'n storie van ellende so groot dat hy dit nie heeltemal kan oorvertel nie. En in ‘Armoede’ (‘Bruingrijs staan de oude huisjes op rijen in 'n achterstraatje van Fordsburg’) koop 'n waardige ou oom sonder geld 'n stukkie vleis vir sop vir sy siek dogter. Terwyl sy ander dogters die voorspoed van die goddelose beleef: ‘want daar is geen kwellings by hulle nie, gesond en vet is hulle liggaam’ (Psalm 73). Hierdie voorstellings, en die verteller se uitnodiging om self te kom kyk - ‘En 't weinige, dat ik u hier vertelde kun ge zelf gaan zien en veel meer nog, want wat er nodig is om ook hier te genieten is 'n sympathieke blik en gevoel voor smart en humor’ (J. Lub, 1910:57, 74) - sal meer as negentig jaar later in groter detail en meer skrikwekkend hervertel word in Triomf van Marlene van Niekerk. Gepaardgaande met industrialisasie is verengelsing. En taalbedreiging was binne die denkwêreld van C.M. van den Heever 'n groot bedreiging vir die Afrikaanse kultuur: die verdrukking van die Afrikaanse kultuur deur die groter en sterker Engelse kultuur en deur stedelike kultuurverskynsels (lektuur, bioskope, perdewedrenne noem hy). Die jeug wat in stadskole was, word hierdeur beïnvloed ‘... en behalwe die feit dat hulle 'n enigsins onsuiwer Afrikaans praat, is hulle gees reeds aangepas by begrippe wat vreemd staan teenoor die hele inhoud van die Afrikaanse Gedagte’ (Van den Heever & Pienaar, 1950:23). | |
[pagina 96]
| |
Ook in die tekste van Van Bruggen word hierdie invloed van die stad negatief gesien; die stad wat nie net die sedelike verval van die verarmde boere bring nie, maar hulle ook kultureel ondermyn. Daarby ontwikkel vanuit die onderskeid tussen welvarende Afrikaners in die stad en dié wat basies daar bywoners bly, 'n klassebewussyn (‘Die ou Afrikaanse familie-eenheid het verlore gegaan; daar kom 'n onderskeid wat op ekonomiese gronde gemaak word: arm Afrikaners word nou bediendes, nie net by “uitlanders” nie, maar by ander Afrikaners, en die ou skeidslyn wat so 'n diep kloof in Europa gesny het, die onderskeid tussen besittendes en nie-besittendes, neem helderder afmetinge aan,’ sê Van den Heever in die genoemde artikel). Van den Heever praat van ‘die ou plattelandse bestaan’; 'n mens moet vanuit sy argumente dan ook aflei dat ‘plaas’ en ‘platteland’ in 'n groot mate sinoniem is. Soos Engels nie die konsep grond het nie, het Afrikaans nie die konsep country nie. En die soort dorp wat in die Afrikaanse ‘dorpsroman’ 'n ruimte is, is dieselfde as wat in Wilma Stockenström se Uitdraai (1976:8) beskryf word as ‘'n dorp vir 'n boeregemeenskap’ (‘... asof kerk en sakegeboue bestaan om in hoofsaak diens te lewer aan die omliggende plase’). Om terug te keer tot die verhouding stad, grond, plaas. Die boer wat sy grond verloor het en in die stad vir 'n voortbestaan moet stry, staan altyd nog in verhouding tot daardie grond, tot daardie verlore idille. En die Afrikaner-boer bly dan in die stad minderwaardig, wanaangepas, gemarginaliseer. Soos Van den Heever hierdie vervreemdes skep in Die held. In terme van grondbesit, behoud van grond, is die stad die teken van verlies. In Somer, byvoorbeeld, beteken myne toe gaan, stad toe gaan, vaarwel sê aan die grond; dan raak ‘... die grond van die voorvadere uit die hande van die nageslag...’ Jou grond moet jy probeer behou, ‘want as jy dié verloor, dan moet jy na Johannesburg of een van dié plekke toe...’ Wynand die wandelaar in hierdie novelle, die kenner van die stad, waarsku dat hy Johannesburg baie goed ken, en hy adviseer oom Frans: ‘Hou maar Oom se grond. Bly weg daar. Oom moenie Oom se wortels hier uittrek nie’ (C.M. van den Heever, 1957:12, 19, 105). Vooruitboer beteken om jou grond te behou en die kontinuïteit van die geslagte op die plaas te verseker; agteruitboer beteken verlies van jou grond, ontworteling en agteruitgang. Suksesvol boer beteken behoud van geslagte en van identiteit. Die gevolg is: die bywoner, die armblanke het geen identiteit en geen nageslag nie. Die verlies van die grond, wat ook die verlies van die pastoraal en die idille is, was nie net 'n vrees eie aan die ou Afrikaanse plaasroman nie. Binne die konteks van die Westerse letterkunde was dit vir baie eeue al beween. In | |
[pagina 97]
| |
sy Ecloga IX, sy verse oor die plaas en die landelike, beween die Romeinse digter Vergilius se kleinboer ook sy plasie wat weggeneem word: O, Lycidas, dat ek moes leef om te aanskou
hoe 'n buitestander besit neem van my plasie
(iets wat ek nooit sou vrees); en aan my sê:
‘Hierdie dinge is nou myne; gaan weg, ou bewoner.’
Nou is ons uitgewerp, droewig, kyk hoe die noodlot
teen ons gedraai het. Hierdie is nou sy jong bokke
wat ek na die mark toe neem.Ga naar eind32 [eie vertaling]
Die weggaan van die plaas was klaarblyklik 'n traumatiese fase in die geskiedenis van die Afrikaner. Ook die moderne Afrikaanse poësie het sy gekanoniseerde, bekende, herskepping daarvan in D.J. Opperman se ‘Ballade van die Grysland’, uit sy bundel Negester oor Ninevé van 1947. Die verhaal van die gedig is bekend: die boer wat weggedryf word van sy plaas as gevolg van droogte, die soektog na werk, die bedrog met geld (selfs die lekkergoedfabriek van Van Bruggen figureer), die uiteindelike waansin. Die gedig verwys ook literêr na die verval van die Afrikaner in die stad soos Totius dit in sy epiese gedig ‘Trekkerswee’ vertel: ‘Die vroeëre boere-paradys is nou een molshoop, groot en grys’. Die verlies van die idille, maar ook die verlies van onskuld. Dit wat histories en materieel met die Afrikaner gebeur het, word metafisies verwoord deur die Afrikaanse digter; en die verlies aan betekenis in die stad word ook die verlies aan God. Hierdie geskiedenis is kultureel in die Afrikaanse letterkunde getekstualiseer. Opperman se ‘Ballade van die Grysland’ het ook intertekstuele verbintenisse; byvoorbeeld met T.S. Eliot se gedig ‘The Waste Land’, spesifiek assosiasies met die volgende (1963:65): | |
Teenstelling: stad teenoor plaasMet verstedeliking word die kontras tussen stad en land/plaas versterk, en fundamenteel ontwikkel 'n nuwe lewenswyse. J.C. Kannemeyer (1984:265) vat hierdie veranderings sedert die twintigerjare saam: | |
[pagina 98]
| |
In die Afrikanergemeenskap is daar felle teenstellings en innerlike spanninge werksaam, soos dié tussen platteland - stad, boer - fabriekswerker, welgestelde burger - bywoner en intellektueel - massamens.'n Krisis van waardes ontstaan, en waardes verander. Ook die letterkunde verander. Mens sou kon veralgemeen deur te sê dat die Afrikaanse letterkunde tot die begin van die dertigerjare hoofsaaklik 'n landelike letterkunde was. Die plaasroman net byvoorbeeld 'n spesifieke patroon gehad: die aard van die narratief het saamgegaan met die visie of persepsie wat die skrywer wou oordra. Meer ‘naturalisties-materialisties’, aards, in die geval van Van Bruggen, en meer ‘ideëel-mymerend’, romanties, in die geval van Van den Heever. Williams (1973:154) omskryf Dickens se visie van Londen: ‘It lies in the form of his novels: in their kind of narrative, in their method of characterisation, in their genius for typification... What matters is that the vision... is the form of the writing.’ 'n Noukeurige analise van die fiktiewe metode, die narratiewe metode, van die vroeë plaasromanskrywers sou beslis hulle ‘visie’ openbaar. En vanaf die groei van 'n industriële samelewing word die letterkunde ‘modern’, meer universeel, wyer - in tegniek en konstrukskepping. Die oorgang in produksiewyse, van 'n prekapitalistiese, pastorale, na 'n kapitalistiese, industriële maatskappy het spanning veroorsaak tussen die werklikheid van die hede, en dit wat verby is. So sal karakters in plaasromans wat die stad positief ervaar het, daarna verlang, soos mev. Hendriks, die plaasonderwyser se vrou in Droogte, wat verlang na Johannesburg waar sy voor haar troue gewoon het. Sy haat hierdie plaasomgewing met die koolkinders ‘... treurige wesentjies, party met hulle kaal, skurwe, stofbedekte voete, ander met die weselose oë. Alles maak op jou die indruk van so armoedig, verlate, dood te wees’. Sy verlang na die goudstad se skitterligte, en haar vriendin Joey Schoeman bring iets heerliks van die stad wanneer sy kom kuier; maar die mense hier sien haar as 'n onbeskaamde persoon (‘sy ry wydsbeen op mnr. Hendriks se perd alleen in die veld rond’). En sy ontwrig ook die onderwyser met haar opvattings oor Afrikaans, wat volgens haar nie eens 'n letterkunde het nie, nie 'n taal is nie (C.M. van den Heever, 1932:31, 35, 117, 120). Hendriks se vrou is die draer van die spanning tussen stad en plaas. Aan die ander kant is die plaas ook nie altyd die paradys nie. Die glans van die idille word byvoorbeeld verdof deur die houding van oom Sybrand teenoor sy seun in Laat vrugte, of die wêreld waarin die bywoners leef in | |
[pagina 99]
| |
Bywoners of die Ampie-trilogie. Dit was hierdie verstotelinge - die buitestander-kind, die uitgeboerde boer, die bywoner - wat 'n ander heenkome moes vind. In sekere gevalle wou die teksskepper hulle ook nie meer op die plaas hou nie; hulle net die gesigveld van die suksesvolle boer besoedel. Daarom eindig die novelle Bywoners met die hoofstuk ‘Die bywoners af’, waarin Andries Vry se bywoners hom almal verlaat. 'n Feodale idille sterf (Jochem van Bruggen, 1930:71-72): Maar oom Andries bly stil. Sy oog dwaal vol weedom oor die ou lande. Hy sien die hawerland vol stoere werkers en die roer van so baie hande en die gees van vrye arbeid na elkeen se aard en kragte en dis of daar 'n stuk uit sy ou lewe geskeur word. Sy hart heg alte vas aan die gemeensame lewe, waarin hy as 'n koning was. Hy voel die jare druk en sy ou hart is dood vir die nuwigheid. | |
Armoede: die ontstaan van 'n Afrikaner-werkersklasDie nuwigheid is die verdwyning van die ‘vrye’ wit plaaswerker, en die ontwikkeling van 'n arm wit proletariaat, die ‘armblanke’. Die verskynsel van ‘Plattelandsverarming en plaasverlating’ het 'n hoofstuk geword in die verslag van die Carnegie-kommissie: Die armblanke-vraagstuk in Suid-Afrika (J.F.W. Grosskopf, 1932). Dié verslag, wat van mening was dat dit ‘... 'n ramp (sal) wees wanneer ons landboubevolking feitlik net nog uit kapitaliste en kaffers bestaan’, het die verskynsel ‘armblanke’ omskryf. Daarvolgens het dié groep bestaan uit persone van Europese afkoms wat hoofsaaklik uit boerdery hulle bestaan gemaak het; die grootste groepe daarvan was arm bywoners, huurlinge op plase, diegene wat stukkies plaas besit het waaruit geen bestaan gemaak kon word nie; arm nedersetters en ongeskoolde of swak geskoolde werkers buite die boerdery. En bywoners was ‘almal wat wit is op 'n plaas en nie baas is nie’, of ‘... elke wit man wat op 'n ander se grond is en nie huurder is nie’ (J.F.W. Grosskopf, 1932:V, 121). J. Lub, Donker Johannesburg, 1910 Die Carnegie-kommissie het armoede as verskynsel empiries in die samelewing bestudeer. Die plaasroman en die vroeë verstedelikingsroman het dit effektief deel van die Afrikaner se kultuur gemaak. In die | |
[pagina 100]
| |
narratiewe van minstens drie dekades (1910-1942) word armoede in verskeie gedaantes, op verskeie wyses en in verskillende ruimtes voorgestel. Die verpersoonliking van die vroeë armblanke is Ampie. Gevorm deur ontbering, onverfynd, ongedissiplineerd, sku vir die beskaafde omgang met mense, met 'n klein intellektuele en emosionele register. Hy kom uit 'n familie waar die pa minderwaardig is en die ma eenvoudig van gees; basies is hulle krotbewoners. Vir die skrywer, sy skepper, besit hy egter die potensiaal om opgevoed te word. Uiteindelik groei hy tot vaderskap met 'n elementêre verantwoordelikheidsin; maar hy bly eenvoudig van gees - dié argetipiese armblanke, en die voorloper van die familie Benades in Triomf. In Blikkiesdorp, die wit plakkerskamp, in die gevangenis saam met die eerste voorbeeld van 'n Afrikaanse lumpenproletariaat, en op die plaas as wilde natuurkind, sien die leser sy klein wêreldjie. En later op die delwerye, verdwaal, totdat hy weer terug is op die plaas. Nog altyd alleen. Sy skepper is sy leidsman, verteenwoordig deur die plaaseienaar wat hom opvoed, oor hom besorg is, vertederend na hom verwys as ‘Afrikanerkind’ wat nie tot niet mag gaan nie. Sy geleenthede is egter nul, want opwaartse mobiliteit is nog nooit bedink nie: ‘Geen prikkel spoor die begeerte na die gerief van 'n witmenslewe meer nie. 'n Strewe om hoër te staan as die kaffer, wat net so, en beter in baie opsigte as hulle lewe, is dood’ (Jochem van Bruggen, 1924:69). Die vergelyking met swart mense, swart werkers, is vir verteller en karakters die zeropeil van nutteloosheid en verval. Wanneer ‘ons volkie’ tot hulle peil gedaal het, het God nie meer 'n doel met ons nie (‘Die werkloosheid sal toeneem, en ons armeblankes gaan vermenigvuldig soos Kaffers in 'n Kafferstat. Waarheen moet die stomme slagoffers vlug om 'n bestaan te maak?’ - Jochem van Bruggen, 1946:5). Ander dom armes bevolk die vroeë plaasroman. Soos Faans, die meulenaar, wie se lewe verstrengel is met die plaas wat verkoop moet word (Die meulenaar). Maar die voorloper van die groteske wat in die moderne tyd voorgestel gaan word, is Ou-Datie, die doofstom skaapwagter, die idioot wat dikwels in parallelle beskrywings met swart werkers gesien word. Of benoud worstel met nagmerries: ‘Hy sluimer naderhand in en toe droom hy dat 'n pikswart Kaffer hom vermoor met sy skerpgeslypte mes’ (C.M. van den Heever, 1932:152). Hy vermoor later sy broer. Boere wat nie kan boer nie is ook armes, die ‘agterstevoorboere, wat met praatjies die plaas aan die gang wou hou’. Hulle verloor alles wat hulle geërf het; en die kranige patriargale plaasbesitter sien neer op hulle. Daar is geen ruimte vir diegene wat gedwing word om te doen wat hulle miskien nooit wou doen nie. Ook hulle wat nie op plase kan voortbestaan nie, en nie werk in die stad kan kry nie. Voorbeskik tot armblankedom: of dit op 'n | |
[pagina 101]
| |
plaas, in die dorp, of in die stad is. Hulle plek is miskien op die land, maar die land wil hulle nie meer hê nie. Dis ook nie hulle skuld dat hulle ‘losgeskroewe’ het van hulle voorouers se gewoontes nie. Die verarmde boerevrou wat moet ‘werk soos 'n meid’, en die dorpsmeisie wat met die blink stedeling trou en uiteindelik wasgoed was vir die rykes, staan ook in die galery van die armes.Ga naar eind33 Al die gevalle van armoede waarna hier verwys word, staan in 'n direkte verhouding tot die uitgesaktes en vertraagdes op plase, of tot die proletarisering van boere en bywoners. Maar nog voordat die koppeling plaasarmoede gemaak is, aan die begin van verstedeliking, is die Afrikaner al in armoede in die stad voorgestel. Daar is al verwys na voorbeelde uit J. Lub se Donker Johannesburg. Armoede het egter nooit ontwikkel tot 'n diskoers in die vroeë Afrikaanse verhaalkuns nie; dit het die aspek van 'n oorgangsverskynsel behou, hoewel dit vormend was binne die sosiale en politieke ontwikkeling van die Afrikaner, of wat destyds as die Afrikaner beskou is. C.M. van den Heever het in sy formulering van die ‘Afrikaanse Gedagte’ die mening uitgespreek dat armoede in 'n sekere mate kultureel behoudend kon wees. Afrikaners wat suksesvol kon voortbestaan in die stede het verengels en neergesien op die plattelandse en plaasmilieu. Die verbondenheid met die natuur het hy ook gesien as 'n kulturele krag, en geglo dat industrialisasie die skeppend-kulturele kan vernietig (J.C. Kannemeyer, 1984:24, 30). 'n Betekenisvolle verskynsel uit die narratiewe is dat armoede en plaasverlating dikwels gekoppel word aan die ‘volk’ en die hand van God. Alhoewel dit nooit ten volle ontwikkel word nie, is daar gedurig die vermoede dat armoede en 'n sukkelbestaan op die plaas herlei moet word tot 'n raadsplan van God met die ‘volk’. Teenstellings wat geskep is deur vergelykings te tref met dít wat sleg is, stel die benadeelde Afrikaner telkens gelyk aan die swart persoon. 'n Ontstellende kondisionering van swart-as-pejoratief, van blank teenoor swart, is daardeur ontwikkel. As hierdie soort persepsie by herhaling in die vroeë letterkunde geskep is, het dit betekenis verkry; en bestaan dit sekerlik vandag nog in die ‘Afrikaner’ se denke. Armoede en armblankes in al die verskriklikheid daarvan ontplof in die gesig van die leser in die moderne Afrikaanse roman Triomf van Marlene van Niekerk, wat afspeel aan die begin van ‘die Nuwe Suid-Afrika’, met die onsekerhede voor die komende verkiesing van 1994. Dit is die voortskryf van die diskontinuïteite van die verlede: plaasverlating, vervreemding, armoede, agterlikheid, die gronddiskoers, klas en ras. Triomf is veral die kulminasie van die verhaal van armoede soos dit vertel is in die plaas-kleindorp-stadsnarratiewe van J. Lub, Jochem van Bruggen en C.M. van den Heever. 'n Mens | |
[pagina 102]
| |
sou C.M. van den Heever se strewe nou kon herformuleer: Triomf en die Afrikaanse Gedagte; of: Armoede en die Afrikaanse Gedagte. En die moontlike spel met die satiriese bly mens ook by: die triomf van die Afrikaanse Gedagte! Soos die aanleiding tot hierdie narratiewe meestal teruggevoer kan word tot grond- en grondverlies, begin hierdie roman met grond. Letterlik. Lambert, een van die vier hoofkarakters (die ander is Mol, Pop en Treppie), grawe 'n gat in die erf van hulle Gemeenskapsbou-huis in die voorstad ‘vir minder gegoede blankes’, Triomf. Hy grawe glas, klippies, sement uit; alles rommel wat die vorige (swart) inwoners van dié buurt nagelaat het toe hulle huise platgestoot is. Hy grawe argeologies, histories, in die grond wat voorheen aan ander behoort het. Want toe die Nasionale Party-regering in 1948 aan bewind gekom het, moes die toevloei van arbeiders na die stede beheer word deur paswette, waarvolgens elke individu wat nie 'n stadserf besit het nie, 'n pas moes hê. Hulle moes in en uit beheer word. In Sophiatown (wat nou Triomf geword het), wat ongeveer ses kilometer wes van Johannesburg se stadsentrum was, kon swart persone grond gekoop het voor die Stadsgebieden Wet van 1923. Hulle hoef dus nie passe te gedra het nie; en hulle het ook nie in 'n ‘lokasie’ gewoon nie, want Sophiatown was 'n voorstad van Johannesburg. Hulle kon dus nie beheer word nie, en dié gebied het 'n plek van weerstand geword; daar was 'n sterk tak van die Kommunistiese Party voor die verbanning daarvan in 1950, en daar was ook 'n kultuur van 'n lumpenproletariaat (met bendes, selfs kinderbendes) (vgl. Tom Lodge in Belinda Bozzoli, 1983:337-364). Die regering het met sy veldtog vir die verwydering van hierdie ‘Western Areas’ begin in 1950, en in 1955 het die sloping van Sophiatown begin as deel van 'n proses wat noodsaaklik was vir die implementering van apartheid. Die grond waarop swart mense gewoon het, is oopgestel vir die bou van 'n wit voorstad: Triomf. Op die grond wat weggeneem is van die swart werkersklas het die arm Afrikaner-familie, die Benades, soos bywoners kom woon; maar met die vrees: ‘“jy scheme die kaffers gaan hulle huise kom terugvat hier in Triomf?”’ Want die idille van Sophiatown het nog altyd bestaan. Ook ander kon hulle idilles van grond, ruimtes, nahou (Marlene van Niekerk, 1994:91).Ga naar eind34 Die ‘organiese intellektueel’, Treppie, se naam vir Triomf, naamlik Soek-vir-kak-fontein of Rondom-stront-stasie, het plaasnaam-assosiasies. Die plaasgedagte is dus nie ver in die agtergrond nie. Redelik vroeg in die verhaal, wanneer Pop vir hom 'n mango in die stad koop, roep die reuk assosiasies op: die mango se skil wat na vars lakens ruik (‘Vars lakens wat op die plaas in die son hang, voor hulle gestryk word’). | |
[pagina 103]
| |
Dit moet 'n taamlik navrante herinnering wees, wat die belangrikheid van die plaas in die verlede beklemtoon. So ook kan 'n mens in die bewustheid van die weer, en die gemeensaamheid van die beskrywing daarvan iets meer lees as net agtergrondskildering: ‘Die weer is aan die opsteek. In die een hoek van die lug is daar 'n donderwolk met 'n wit kop wat borrel, sulke groot, wit oorkook-borrels’. Die verstedeliktes kyk na die landskap tydens donderweer; en die feit dat hulle doelbewus probeer om die stadslandskap te beskryf, beeldend te beskryf, staan binne die tradisie van landskapbeskrywing soos in die plaasroman. Hulle transformeer die natuur tot die simbole van die stad: die donder en weerlig het ooreenkomstes met Flash Gordon, Lost City, Guy Fawkes, Peking Ducks, ‘... ouens wat agter 'n groot dowwe ruit sit en weld aan 'n donnersse lang silencer van 'n Mobil-petrollorrie, of iets...’. Maar ook die natuur in terme van die natuur, en van die verlede: ‘Morning glory... Oupa se hoed, soos die ou mense gesê het’ (Marlene van Niekerk, 1994:67, 70, 77). Die aansluiting van hierdie roman met tekste van plaasverlating en verstedeliking is duidelik wanneer Treppie terugdink aan hulle koms stad toe. Saam met sy oupa en ouma het hulle die plaas, Klipfontein, verlaat: ‘Die depressie het vir hulle kaal uitgetrek en daar was in elk geval nie water nie, net klippe...’. Die tekstekens is bekend uit die verlede: droogte, depressie, die spoorweë as arbeidsbron vir die verarmde wit man, verarmde Afrikaner. Dis eintlik hier waar Triomf begin, maar met 'n klein bietjie suggestie: ouma, Oermol, wat voordat hulle - kaalgestroop - wegtrek, die stinkafrikanertjies natgooi met die laaste watertjies; en die pa wat sê: ‘So, nou word die oues van dae bywoners en die nuwe geslag trek af na Gomorra’ (Marlene van Niekerk, 1994:113). Afrikaners en bywoners in die stad. Soos die moderne plaasroman 'n herbesoek aan die plaaseienaar en grondbesitter is, is Triomf 'n herbesoek aan die bywoner, 'n herskryf van verstedeliking en van die lot van die armblanke. Met die aanloop: oupa wat sy grond verloor het, die ma wat haar doodgehoes het aan tering, en die pa wat hom opgehang het in 'n spoorwegtrok. Bywoners in die stad, bywoners op die grond wat van ander weggeneem is. Dit is die verhaal van die Benades, van die Afrikaner-werkersklas wat nou weer gevra word om vir die Nasionale Party te stem; van verarming, plaasverlating, proletarisering, en politisering soos in die spottende toesprake van Treppie: ‘Voor in die wapad brand 'n lig. Nie voor in die wapad lê 'n geweer of 'n brood of 'n fabriek of 'n smouslisensie nie. Nee, altyd 'n fokken líg, 'n vuurkolom, 'n Gees, 'n Hoër Idee, 'n Ideaal van fokken eenheid of | |
[pagina 104]
| |
iets. En dit alles oorlat ons almal sogenaamd dieselfde kultuur het. Watse fokken ding is dit? Vrá ek julle met trane in my ligblou armblanke-oë?’ (Marlene van Niekerk, 1994:133).Tot hiertoe C.M. van den Heever se ‘Afrikaanse Gedagte’. Oupop was 'n man van die grond wat nie in die stad sou aard nie; en Treppie het 'n spesifieke, skewe verbintenis met Oupop gehad na 'n verskriklike pak slae. Treppie is die nageslag van die boere, die parodie op hulle, die siniese grapmaker. Treppie wat al die Einde leer ken het ‘... toe dit aan 'n belt in 'n spoorwegtrok gehang het met 'n tong wat tussen die tande uitpeul in 'n stoker se overall’ (Marlene van Niekerk, 1994:169). Triomf word 'n verskriklike gelykenis, waar daar geen nageslag kan wees nie, waar die familie geparodieer word, die ‘erfgenaam’ 'n yskashandboek eh yskasgereedskap erf, die stamboom 'n boom vol bokslagters is, die Afrikaner geen genealogie het nie. Geen identiteit. Die waarheid is veel erger. Skewe Lambert weet nie wie sy pa is nie, die Benades is ‘een lekker gescrambelde pot’: ‘As Pop sy ma se broer is en jy by haar kan slaap, en Treppie is ók sy ma se broer, dan... Wie de fok is dan sy pa? Wie se fokken kind ís hy?’ (Marlene van Niekerk, 1994:112, 440). Lambert, vanuit 'n bloedskandelike verbintenis, kry stuipe, is al amper veertig en sal nooit by 'n vrou kan wees nie, sal nooit 'n nageslag kan hê nie. Bloedskande as verskynsel kan ook semioties gelees word as die daad wat totale chaos in 'n gemeenskap kan skep weens die negatiewe genetiese gevolge daarvan. Die verbod op bloedskande is dus noodsaaklik vir die vorming van menslike kulture en samelewings. Deur die verbod word die opdrag volbring om uit die familieverband te trou, waardeur die noodsaaklikheid van die vermenging voltrek word (vgl. C. Levi-Strauss, 1978. Huntington & Metcalf, 1979). Dit kan ook gesien word as 'n manifestasie van manlike gewelddadigheid, deur die verbintenis tussen seksualiteit en mag. Mol glo sy hou die familie bymekaar met die seksuele, maar eintlik is hierdie band fataal; en Lambert se onbewuste poging om die bloedskandelike te verbreek deur met 'n gehuurde prostituut te slaap, is 'n patetiese mislukking. Die meisie is nie wit nie; en daardeur word apartheid by assosiasie by bloedskande betrek: apartheid as verbod op vermenging met ander ‘van buite’ is dan 'n betekenaar vir bloedskande. Dit hou die ‘Nasionale familie’ wat gemaak is deur depressie, armoede, droogte, proletarisering bymekaar. Maar die behoud daarvan skep 'n bloedskandelike gemeenskap. Armoede is die gemene deler, van Donker Johannesburg tot Triomf. Maar in Triomf het dit uitgegroei tot 'n diskoers: van die Afrikaner as bywoner, waar die konsep bywoner dan meer word as die oorspronklike | |
[pagina 105]
| |
verbintenis met die plaas; maar iets verkry van die betekenis van 'n vreemdeling, 'n gemarginaliseerde, 'n vervreemde. 'n Ondergeskikte. Armblankes en bywoners: die Ampies van die negentigs; en armoede word hier gekoppel aan die politiek, armoede en etnisiteit, armoede en die Nasionale Party, armoede en apartheid; en die Afrikaner soos geskep in verhouding tot armoede in die Afrikaanse letterkunde. Soos die droogte deel van die psige van die karakters in die roman Droogte geword het, bestaan armoede hier nie net in die fisiese omstandighede van die karakters nie, maar is dit ook 'n betekenaar van 'n armoede van die bewussyn: die armoede van etnisiteit, van die politiek (spesifiek die Nasionale Party), van apartheid, van Afrikaner-wees. En veral van rasseverhoudings. Die rassisme van die bywoner van ouds is hier bevestig, ten spyte van die enkele mooi oomblikke van toenadering tussen rasse, 'n bedoelde toegewing van die skrywer aan nasiebou. Klassevorming, wat sy oorsprong in proletarisering en armoede het, word soms aangeval op rassegrondslag, soos die toneel in Newlands-biblioteek waar Treppie die ‘beter klas kaffer’ betrek om sy argument teen klassediskriminasie te versterk. ‘So praat Treppie die vrou hierie kant toe en daaikant toe, al hoe harder, tot sy naand nie meer weet watter kant toe nie. Hy vra of sy kan onthou hoe lekker jolly dit was in die kaffers se shebeens in Sophiatown, maar nee, sy was seker van 'n te hoë klas om ooit te gegaan het’ (Marlene van Niekerk, 1994:171-172). Alhoewel die milieu, die keuse van karakters in 'n mate, en die sosiale problematiek 'n voortsetting is van die vroeë narratiewe oor proletarisering en die bywoner, is dit noodsaaklik om uit te wys dat hierdie roman van hierdie verskynsels 'n diskoers gemaak het. Dus nie net in die sin van tematiese uitbreiding nie, maar veral wat tekstualisering betref. Treppie is die korrelaat waardeur die verteller praat. Hy bring ook die tekstuur van verweefdheid met ander uitings, bring die bewustheid van die teks. Hy bedink woorde vir liedjies, hy het baie boeke gelees (hy sê as jy tien Afrikaanse boeke gelees het, het jy almal gelees), hy skryf versies, hy verwys na ander Afrikaanse tekste oor armoede (soos D.F. Malherbe se ‘Red ons, red ons, nooddruf besmet ons’) waardeur hy één Afrikaanse verhaal van armoede maak, sodat Lambert terugverwys na Ampie en bywoner Benade na bywoner Nortjé. Hy vertel stories soos Lambert ‘paint’, en Lambert se beskrywing van die aard van hierdie stories klink of hulle heeltemal postmodernisties is; as Lambert weet wat postmodernisme is: dis deurmekaar en hy weet nie hoe om sy storie te eindig nie, daarom hou hy voor die einde op, sodat jy jou eie einde maak. ‘Deesdae end hy nog voor hy begin het. Hy | |
[pagina 106]
| |
end sonder 'n end. Hy sê net it's all in the mind en mens moet maar self figure wat vooraf of agteraf gebeur het’ (Marlene van Niekerk, 1994:157-158). Daarmee sê hy natuurlik dat teks-maak konstruk-maak, werklikheid-maak is. Daar kan met vrug bespiegel word oor Treppie se teksteorieë (soos byvoorbeeld muurpapier as representasie); en dis veral nuttig om te kyk na sy besinning oor die betekenis van die gelykenis, en die yskas as beeld. Lambert moet die ‘teks’ van die yskas leer voordat hy yskaste kan regmaak. Die yskas is 'n sentrale gegewe, en die taak van yskasherstel is bisar (volgens die motto: ‘Removing the heat from inside a refrigerator is somewhat like removing water from a leaking canoe...’). Mens sou miskien kon sê dat die yskas dan ook gelykenis is, soos die teks gelykenis is van hierdie werklikheid: die storie wat vertel moet word sodat ons van hulle kan weet. Die teks skep hulle. Teksbewustheid kom ook uit die wisselende fokalisasies en uit Treppie se toespraak oor perspektief; perspektief wat ook konstruk is, en perspektief waaraan elkeen glo (Marlene van Niekerk, 1994:286, 322, 325, 163). As 'n mens die gelykenisteorie van Treppie ook kan lees as die gebruik van simbole, dan staan sekere tonele en voorvalle uit om hulle beeldwaarde. Byvoorbeeld Hoofstuk 14 met die opskrif ‘Vyf November’: die beskrywing van 'n vuur wat Lambert maak en die enorme epileptiese aanval wat hy kry. Dis Guy Fawkes, maar ook veel meer; soos 'n apokalips met vuur en diere soos in Openbaring. Dis simbolies van 'n einde; en hierdie toneel is in die middel van die boek. Die einde is in die middel, soos Treppie se stories waar eindes problematies is. Treppie praat van die einde van 'n storie wanneer hy sê: Ons hele storie hier bymekaar tussen ons mure vol pleisterbarste en ons dak wat lek oor ons koppe en ons vloer vol gate en ons molle wat hopies stoot op ons lawn en... (Marlene van Niekerk, 1994:325.)Bewus gemaak van eindes, lees mens dan meer aanduidings van die apokaliptiese: Treppie se ‘profesie’ oor Lambert en die meisie; die Benades se storie wat vertel moet word ‘... Want netnou... is hulle Benades fluit-fluit in hulle moere in en dan het niémand nog ooit van hulle gehoor nie’; die ‘reportback’ van Lambert se tyd by die meisie, wat ook 'n afrekening is; die huis wat geverf gaan word, wit lorries en wit overalls; 'n geskietery, visioene van die laaste armblankes in Sophiatown. En dan wat ná die verkiesing gaan gebeur: Ja, sê hy, Lambert moet oplet, want dís wat hy die hééltyd nog bedoel het met die kak wat gaan spat ná die verkiesing, en hy wat Lambert is, | |
[pagina 107]
| |
moet vir hom reghou vir 'n strontstorm, of soos dit geskrywe staan, die vervulling van die wet en die profete. (Marlene van Niekerk, 1994:329, 365, 390, 396, 420, 427, 429.)Die apokaliptiese in Triomf staan nie los van die apokaliptiese in die moderne plaasroman nie; en die koppeling daarvan met plaasverlating, proletarisering, armoede, bywoners, bloedskande - en die groteske - kan nie ontken word nie. Net soos sekere tonele simboliese waarde verkry, hier spesifiek die apokaliptiese, is daar ook sekere voorstellings van mense en situasies wat méér as net beskrywend is. Soos die groteske van Treppie se voorkoms nadat Oupop hom 'n pak slae gegee het; die beskrywing van hoe die bure Mol sien (sekerlik die lelikste figuur in die Afrikaanse letterkunde van Bywoners tot Triomf); die beskrywing van hoe Treppie destyds geslaan is (‘een klont scar tissue met 'n hart in die middel’); die beskrywing van Lambert deur die prostituut (‘fuckin backward piece of low class shit...’). Maar die duidelikste voorbeeld van die groteske is wanneer Lambert na homself kyk teen die einde: Want nou sien hy sy groot knieë, hol kuite, knopperige, opgeswelde monsterenkels, skewe monstervoete met monstertone. Tien! Almal verskillende shapes en sizes, al sy toonnaels, hóndetoonnaels. Hy voel oor sy gesig. 'n Monster, 'n dywelmonster. G'n wonder nie! G'n fokken wonder hy's so 'n fokop nie, g'n wonder hy kan nie eers 'n meid naai nie! G'n wonder net sy ma is goed genoeg vir hom nie! Dis in die familie in! Die pes! (Marlene van Niekerk, 1994:141-2, 226, 361, 382, 441).Die gebruik van die groteske in die letterkunde het 'n spesifieke funksie. In die werk van Mikail Bakhtin hou dit hoofsaaklik verband met die fisieke, alhoewel dit gewoonlik ook vreugdevol is; wat hier egter nie die geval is nie. Die komiese is nie afwesig nie want die onverenigbare reaksie tussen lag en afgryse, of die abnormale en afstootlike veroorsaak die groteske. Die effek van die groteske is emosioneel en intellektueel. Aangesien die groteske die dissonante is, is dit die uitdrukking van 'n wêreld van vervreemding, en kom dit voor in die letterkunde in gemeenskappe waarin daar onenigheid, transformasie of disoriëntasie is. Maar dit bring nie 'n oplossing vir konflik nie: as die konflik van onversoenbares verdwyn, bestaan die groteske nie meer nie (Philip Thomson, 1972). Die groteske aard van die representasies, die apokaliptiese assosiasies dwing mens daartoe om in Triomf te lees die einde van die bywoner, die | |
[pagina 108]
| |
armblanke en die uitgeboerde boer wat stad toe moes gaan.'n Groteske en verskriklike einde. Maar dis ook die einde van die plaas as idille van die verlede. Sal die herbesoek aan die plaas in die moderne plaasroman deel uitmaak van hierdie diskontinuïteit, hierdie breuk? Wat dan ook die breuk van ‘Die Afrikaner’ is? Die kultuur van die Benades is brandewyn en Coke en stukkende motors; maar die jong bourgeois- Afrikaners wat stemme werf vir die Nasionale Party moet hulleself oortuig dat hulle ook hier by die bywoners die stryd veg vir Afrikaans, sodat hulle 'n Afrikaans-medium-universiteit kan behou. Die politieke en kulturele teks hier teen die einde van die eeu rondom Afrikaans word geskryf vanuit 'n besorgdheid oor Afrikaans, met 'n Stigting vir Afrikaans en 'n ‘Oorlegplatform’. Die konsensus is nietemin dat 'n Afrikaans-medium-universiteit eksklusief sal wees in 'n meertalige land. Alhoewel hierdie roman die wense van die jong NP's satiriseer, is dit nogtans dus profeties oor die ontmagtiging van Afrikaans tot bywonertaal. |
|