'n Hele os vir 'n ou broodmes. Grond en die plaasnarratief sedert 1595
(2000)–Ampie Coetzee– Auteursrechtelijk beschermdGrond en die plaasnarratief sedert 1595
[pagina 1]
| |
1 ‘My geboortereg gee my 'n serwituut oor dié grond’
| |
[pagina 2]
| |
alhoewel hy beweer dat die grond sy vader s'n was. Hy word weggedryf van die grond, sy hartbeeshuisies afgebrand. Sy onthou hoe hy, met hoed in die hand in sy armoedige klere van gebreide velle, voor hulle deur gestaan het, ontsteld en magteloos; en haar moeder se stem: ‘Sê vir die Hotnot dat hy moet padgee!’ En iemand wat gesê het, toe sy versukkelde wa wegry: ‘Daar gaan Jan Baster-hulle.’ Die enigste herinnering aan hom is die naam van die plek waar hy gewoon het: Bastersfontein. Dit is 'n toneel uit Karel Schoeman se roman, Hierdie lewe (1993), waarin die hoofkarakter stemme probeer tekstualiseer. Bessie Head begin haar voorwoord tot Sol T. Plaatje se Native Life in South Africa (1982:ix) met die opmerking dat daar waarskynlik geen ander wetgewing was wat die lewens van swart mense in Suid-Afrika so drasties beïnvloed het as die Naturelle Grond Wet van 1913 nie. Dit het daartoe gelei, sê sy, dat die besitreg van grond onherroeplik in die hande van die wit mense gekom het; en dat daar 'n ronddwalende landlose werkersklas geskep is wie se arbeid misbruik kon word. In 1994 is Nelson Mandela die spreker tydens die 90ste verjaardag van die Suid-Afrikaanse Landbou-unie. Hy sê dat in die loop van die 90 jaar ongeveer drie miljoen mense onwettig van hulle grond verwyder is, en dat dit die taak van 'n grondkommissie sal wees om ondersoek in te stel na transaksies waar grond onteien is tydens die verskuiwing van swart mense en dat die nuwe regering verbind is tot 'n proses van grondhervorming.Ga naar eind6 Die gemene deler hier, in fiksie en in werklikheid, is grond en grondbesit. Die plaasroman is 'n literêre verskynsel wat sedert die 19de eeu in Suid-Afrika in die Afrikaanse en Engelse skryfkuns voorkom, maar dermate in die Afrikaanse prosakuns van veral die twintiger-, dertiger- en veertigerjare dat dit eintlik 'n afsonderlike genre vorm. Hierdie plaas-grond-diskoers keer telkens terug, veral in Afrikaans, soos Etienne van Heerden se Kikoejoe in 1996, Anna M. Louw se Vos in 1999, en die ‘plaasroman’ van J.M. Coetzee, Disgrace (1999), waarin magsverhoudings op ontstellende wyse verskuif word. Wat is die genealogie van die plaasroman? Die konsep genealogie word filosofies beskou in 'n essay, ‘Nietzsche, de genealogie, de geschiedskrywing’ (Foucault & Deleuze, 1981:8). Foucault begin sy studie op kenmerkende poëtiese wyse: De genealogie is grijs: pietluttig en geduldig is zij met dokumenten bezig, met ongeordende, afgekrabde, meermaals beschreven perkamenten. | |
[pagina 3]
| |
Ons weet wat die verskyningsdatum is van die eerste roman waar 'n plaas die milieu is: 1883, Olive Schreiner se The story of an African farm. As 'n mens verder wil teruggaan na geskrewe tekstualiserings (want tekeninge is daar ook) van plase of plaasmense, is daar die beskrywings van die ‘boor(s)’, van plaasboere en hulle huise in Thomas Pringle se Narrative of a residence in South Africa. 'n Mens sou selfs verder in die verlede voorbeelde kon vind: die dagboeke van Johanna Duminy van 1797, waarin sy die plaaslewe en die plaasgemeenskap in die buitedistrikte beskryf - beskrywings gedoen in 'n taalvorm wat die oorgang van Nederlands na Afrikaans aandui (Franken, 1938). En in die tekste van die vroeë reisigers, avonturiers en fortuinsoekers word talle plase op hulle trekroetes genoem. Johannes Tobias RheniusGa naar eind7 noem in sy dagregister van September 1724 die plase van Joannes Heufke, die weduwee Ten Damme, Jacobus Smit, Jacobus van der Heiden, Gerrit van Wijck, kaptein Bergh, Andries Grove, Daniel Hugo, die weduwee Van der Bijl en H.O. Eksteijn. Jacobus Coetzee vertrek op 14 Julie 1760 van sy plaas by Piketberg op sy onsuksesvolle tog na die noorde om olifante te jag. Die relaas van die arme, skadelose, ongeletterde Jacobus Coetzee word die stof vir die novelle van J.M. Coetzee, waarin Jacobus verteenwoordiger is van die Boer en die Kolonis, die wrede wraaksugtige vernietiger van die Boesman en die Khoi.Ga naar eind8 En die joernaal van Carel Frederik Brink van die tog van kaptein Hendrik Hop na Groot NamakwalandGa naar eind9 in 1761 noem die plase van Christiaan Bester, Witske, Pieter van Zeyl, Jochem Koekemoer, Gerrit Kloete, Theleman Roos, Pieter Marais, Abraham Meyer en Petrus Eksteen. In sy uiteensetting van Nietzsche se opvattings oor die genealogie onderskei Foucault (1981:8-24) veral dié drie konsepte in Nietzsche se woordeskat: ‘Ursprung’, ‘Entstehung’ en ‘Herkunft’. Laasgenoemde term blyk nie van toepassing te wees binne die verband van hierdie studie nie. Die Meulenaar (1926) van D.F. Malherbe word as die eerste werklike plaasroman in die Afrikaanse literatuurgeskiedenis beskou. Hierdie voorbeelde dui egter nie op 'n spesifieke begindatum nie, want is 'n begin 'n oorsprong of 'n ontstaan? Oorsprong impliseer presiesheid, 'n absolute statiese begin, waar die rol van die toeval en van die disparate geïgnoreer word, en 'n historiese aanvang gesien word as iets verhewe, terwyl dit niks besonders hoef te wees nie. Voorheen is daar gepoog om die soewereiniteit van die mens in sy goddelike afkoms te verklaar; nou kan daardie geloof nie meer bestaan nie, want aan die mens se begin staan daar volgens Nietzsche 'n aap. Ontstaan kan verwys na 'n punt van ver- | |
[pagina 4]
| |
skyning, wat ononderbroke kontinuïteit impliseer, wat ontwikkel of streef na 'n eindpunt of verwerkliking; en dan word die ontstaan vanuit die eindpunt verklaar. Op dié manier sou dit verstaanbaar wees om die huidige Suid-Afrikaanse grondkwessie toe te skryf aan die toewysing van plase aan vryburgers sedert die 17de eeu. Dit sou egter 'n nuttelose monoloog wees wat weinig verklaar omtrent 'n enorme korpus tekste en die redes vir die ontstaan daarvan, asook die feit dat daardie tekste werklikhede was en werklikhede geskep het waarvolgens mense gehandel het. Ontstaan moet eerder gesien word binne 'n verhouding van magte, kragte wat teen mekaar te staan kom. ‘Het ontstaan is dus het moment waarop de krachten het toneel betreden, hun irruptie, hun sprong uit de koulissen op het toneel, elk met de hun eigen jeugdigheid en kracht’ (Foucault & Deleuze, 1981:21). Oorsigtelik, en dus vereenvoudigend, het die Afrikaanse plaasroman in terme van kragvelde twee stuwings gehad. Die eerste stuwing kom in die twintiger- en dertigerjare, waarin magte soos die Depressie (1929-1932), die groot droogte (1932-1933), toenemende armoede onder boere en bywoners, en die verstedeliking van ongeskoolde mense inbreuk gemaak het op en die Afrikaner se lewenspatroon dramaties versteur het. Daarvan word vertel in die werke van D.F. Malherbe, Jochem van Bruggen, C.M. van den Heever en Abraham H. Jonker. Dit was die ontstaan van die eerste reeks plaasromans, geskryf binne die tradisies van die romantiek (die verlange en idealisering van die verlede) en die realisme (die poging tot weerspieëling van die werklikheid). Apartheid as staatsbeleid het in die sestigerjare gelei tot 'n ekonomiese opbloei; maar ook tot die verbreding van die perspektiewe van 'n nuwe geslag skrywers, wat hulle begin verset het teen die Afrikaner-hegemonie. Gedurende hierdie era vind die tweede stuwing plaas. Die plaasroman het weer ‘ontstaan’, maar anders: modernisties in die parodieë van Etienne Leroux en in die simbolies-allegoriese in die familiesage van Anna M. Louw. Die naderende katastrofe van 'n politieke ontploffing in Suid-Afrika en 'n verskerpte bewustheid van die betekenis van teks binne die postmodernisme het aanleiding gegee tot die plaasromans van Karel Schoeman, Etienne van Heerden en Eben Venter. Die apokaliptiese as vernietiger van die ou orde, 'n handeling wat inherent aan hierdie postmoderne plaasromans is, hoef nie noodwendig 'n einde beteken nie, soos wat in die sin van 'n teleologiese ontwikkeling na 'n einde beweeg word. Daar was eerder 'n onderliggende wens of begeerte by die skrywers van hierdie tekste dat 'n apokalips die koms van geregtigheid sou beteken - 'n wil tot geregtigheid, tot vergelding, soos wat brandende | |
[pagina 5]
| |
plaashuise 'n teken van wraak is. Nadine Gordimer se gebruik van die beroemde woorde van Antonio Gramsci as motto vir haar roman July's people (een van die apokaliptiese boeke), ‘Die oue sterf en die nuwe kan nie gebore word nie; in hierdie interregnum verrys daar 'n groot verskeidenheid morbiede simptome’, sou kon impliseer dat daar deur die aftakeling 'n historiese progressie tot geregtigheid en 'n ewige waarheid is. Haar roman eindig egter in vlug. Karel Schoeman se herbesoek aan die tradisionele plaasroman, Na die geliefde land (1972), word gesitueer in 'n interregnum waar die nuwe heersers bloot ‘hulle’ genoem word, waar die verteenwoordigers van die ou hegemonie slegs in die verlede kan bestaan en die jong karakters in 'n tussenwêreld leef met nêrens om heen te gaan nie. In die wynplaasromans van Etienne Leroux, waar die plaas 'n stigting geword het, word die apokalips gesatiriseer. 'n Mens kan dan die apokaliptiese sien as 'n versteuring van wat slegs 'n verbeelde eenheid was, 'n dissosiasie van identiteit, en nie as 'n sintese nie. Die herhaalde terugkeer na die plaasroman, vanaf die twintiger- tot die negentigerjare, is waarskynlik nie 'n tekstuele soeke na identiteit nie, maar 'n verbintenis tot verstrooiing: ‘Om die plaas as tuiste te aanvaar, is die aanvaarding van 'n lewende dood,’ sê J.M. Coetzee (1988:66) in sy essay oor die siening van die plaas by Olive Schreiner. In hierdie werke is daar geen universele meer nie, en die eenheid van die onderwerp verdwyn - selfs die patriarg van die vroeë romans. Uiteindelik eindig die bestaan van die teks ook, en net die spore daarvan bly oor, soos in die geval van Die stoetmeester van Etienne van Heerden. | |
Die Remonstrantie van die eerste aankomelingeOp 15 Maart 1647 strand die Nieuw-Haerlem in Tafelbaai, een van 'n konvooi van drie Hollandse skepe, op weg vanaf Batavia na die Patrai. Dit was 'n ongeluk; maar indien noodlot of ongeluk as deel van geskiedskrywing gesien moet word, soos wat in hierdie studie wel die geval is, was hierdie gebeurtenis 'n betekenisvolle moment. Onderkoopman Leendert Janszen word die kommandeur van die seelui wat hier aan die uithoek van die aarde uitgespoel het. Hulle moes nog omsien na die belange van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie. Vir ongeveer 'n jaar moes hulle hier bly totdat 'n retoervloot hulle kon oplaai. Hierdie verblyf in Afrika, tussen die Strandlopers (Hottentot-stam) en naby die berg het gelei tot die skepping van 'n teks: die Remonstrantie, gerig aan die Kompanjie in Holland (E.C. Godée Molsbergen, 1912). | |
[pagina 6]
| |
Die teks is gestileerd, retories gestruktureer om te kan oortuig. Dit is klaarblyklik 'n beskrywing van 'n toneel, maar dit gaan oor van beskrywing tot 'n narratief van gebeurtenisse. Dit is geskryf in die kenmerkende styl van die redevoerder, soos byvoorbeeld: ‘nieteenstaande die feit dat... wil ons dit nietemin stel...’. Daar word redes aangevoer vir die ontwikkeling van die Kaap as 'n tuin en 'n plaas, met die volgende ondersteunende feite: die swak situasie op Sint Helena wat as 'n halfwegstasie moes dien; die groot afstand na Batavia; die groot onkoste wanneer bemanning siek word in Batavia. Daarteenoor sal daar by die Kaap vars produkte wees, sodat die bemanning gesond kan bly sonder onkoste vir die Kompanjie, met minder tuiniers en gebruikmaking van gevangenes van Sjina. Hulle gee ook 'n ontleding van die koste en beklemtoon die beskikbaarheid van vis, elande, steenbokke, voëls, walvisse en robbe. In 'n boek oor vroeë plase in die Kaap, waarin die Kaap dan alreeds beskou kan word as die eerste plaas, is die plaas 'n onafskeidbare deel van die stigting van 'n ander volksgreep, en word die plaas deel van 'n diskoers wat al in 1647 begin het. Die volgende uittreksel uit Dorothy Fairbridge se Historic farms of South Africa is 'n samevatting van hierdie skipbreukelinge se bevindings (1931:16): Die grond is baie goed in die vallei... en gedurende die droë seisoen kan die water vir besproeiing gebruik word, soos benodig. Alles sal daar groei net soos in enige ander deel van die wêreld, veral pampoen, waatlemoen, kool, wortels, radyse, rape, uie, knoffel en alle ander soorte groente... Daar is ook geen twyfel dat alle soorte vrugtebome daar sal aard nie, soos lemoene, lemmetjies, appels, suurlemoene, sitroene... asseblief, dink dus hoeveel siek mense gesond gemaak kan word deur God se goedheid wanneer al die vrugte wat genoem is, in oorvloed beskikbaar is en veral wanneer 'n groot hoeveelheid beeste en skape by die inwoners geruil kan word vir voorrade teen 'n lae prys. Van die beeste kan ook botter, kaas en melk verkry word [eie vertaling].Die eerste aankomelinge het voorgestel dat hierdie planne alles vermag kan word ‘... door't maecken van een forte ofte redoute mitsgader een thuin’ [deur die oprigting van 'n fort en dan ook sommer 'n tuin]. In Februarie 1657 kondig kommandeur Jan van Riebeeck, wat toe in beheer van hierdie landbou-onderneming was, die eerste grondvrypagvergunnings aan vryburgers aan. Hulle sou uit die Kompanjie se diens ontslaan word om beeste, varke en ganse te teel: | |
[pagina 7]
| |
... in werklikheid enigiets waaruit hulle profyt kan maak, hoewel die hoofbedoeling van die Kompanjie is dat hulle in die eerste plek landbou moet beoefen... Aangesien die Kompanjie groot waarde heg aan die bevordering van landbou deur vryburgers... sal hulle in vrypag soveel grond kry... as wat hulle kan ploeg... (Davenport & Hunt, 1974:2, eie vertaling).Die verloop van grondeienaarskap geskied hierna volgens spesifieke datums: 1732 en 1743, en in 1805 is daar 'n opdrag oor die instelling van plaasgrense. In 1820 ontvang Britse Setlaars ewigdurende ‘quit-rent’, en in 1880 word besitreg vir die Boererepublieke ingestel. Ingevolge Republikeinse wetgewing is sertifikate van burgerreg op aansoek uitgereik aan goedgekeurde persone, wat aan hulle die reg verleen om 'n plaas op oop grond te kan kies (Davenport & Hunt, 1974:8). Dat grond weggeneem is van die inheemse bewoners en bewerkers daarvan het vanselfsprekend gelei tot weerstand. 'n Bepaalde gebied is kragtens gewoontereg bewoon deur die Khoi, en vreemdelinge moes toestemming kry om daar te jag of om dit as weiding te gebruik. Grond is deur almal saam gebruik; dit het nie aan 'n hoofman behoort nie, kon nie vervreem raak nie en ook nie aan 'n individu oorgedra word nie. Hier is 'n inskrywing in Van Riebeeck (1957) se dagboek oor 'n konfrontasie op 10 Februarie 1655: Net verlede nag het dit gebeur dat ongeveer 50 van hierdie inwoners hulle hutte wou opslaan naby die walle van die moot van ons fort, en toe hulle op 'n vriendelike manier deur ons mense gesê is om 'n entjie verder weg te gaan, het hulle manhaftig te kenne gegee dat die land nie ons s'n is nie maar hulle s'n, en dat hulle hul hutte sou plaas waar hulle wou. As dit ons nie pas om hulle toe te laat om dit te doen nie, gaan hulle ons met die hulp van baie mense uit die binneland doodmaak [eie vertaling].Daar bestaan ook 'n verslag van 'n grondtransaksie tussen die Kompanjie en die Khoi in 1676. 'n Khoi-kaptein, Cuijper, het sy kraal gebou op die plek waar die Goewerneur en sy mense hooi wou maak. Hy is gevra om sy kraal te verwyder: ‘Hy het dit, sover ons kon vasstel, aanvaar sonder ontevredenheid nadat hy getrakteer is op 'n bietjie arrak, waarmee hy baie tevrede vertrek het’ (Davenport & Hunt, 1974:11). Die verhaal gaan voort: in 1819 verduidelik Cungwa, hoofman van die Ggunukwebe, die ontevredenheid van die Xhosa-hoofmanne oor die verlies | |
[pagina 8]
| |
van hulle grond; in 1829 stel generaal Stockenström voor dat die Khoi by die Katrivier gevestig word; in 1846 word Naturelle-reservate in Natal gevestig; in 1863 word 'n Boesman-reserwe gevestig; in 1867 vestig die Oranje-Vrystaat 'n reservaat (Witzieshoek). Daar is egter geen logiese historiese progressie in hierdie onteieningsproses nie (onbekende gebeurtenisse, toevallighede, wat weer eens die verloop van die geskiedenis bepaal?). In 1883 verskyn 'n verslag van 'n Regeringskommissie oor Naturelle Wette en Gebruike wat ingestel is om ‘die omstandighede van die Naturelle deur middel van wetgewende handeling’ te verbeter deur gebruike betreffende besitreg na te gaan en ‘... sodanige voorstelle te maak met betrekking tot die Besitreg van Grond wat die mees gepaste mag wees om uit te voer, waar prakties moontlik, die beleid van hierdie Kolonie in die saak van persoonlike Besitreg’ (Jacob Dirk Barry, 1883:52, 40, eie vertaling). Die doel was skynbaar om terug te gee wat weggeneem is. In 1913, met die Naturelle Grond Wet, begin territoriale segregasie: Dit was spesifiek daarop gemik om daardie eienskappe van Swart grondbesit en bywonerskap te verwyder wat wit boere onwenslik gevind het, en terselfdertyd om die Swart reservate groter te maak sodat arbeid vir die myne meer gerieflik gewerf kon word (Davenport & Hunt, 1974:259).Die narratief gaan voort, maar nou in die hede. In 1994 begin die nuwe Suid-Afrikaanse regering met onderhandelings gerig op die hertoewysing van grond. Met die voorbeelde wat tot dusver verskaf is, word 'n aanduiding gegee van die vele uitings binne die diskoers rondom grond en grondbesit. Vervolgens word inleidende opmerkings gemaak oor een spesifieke aspek van hierdie diskoers: die plaasroman. | |
Die plaasromanSol Plaatje se Native life in South Africa is in 1916 in Londen gepubliseer. Die skryf daarvan was 'n direkte uitvloeisel van die Naturelle Grond Wet; dit het deel uitgemaak van die appèl gerig tot die Britse Imperiale Regering, wat op daardie tyd nog die bevoegdheid gehad het om wetgewing te veto wat in Suid-Afrika goedgekeur is. Plaatje was lid van 'n afvaardiging na die Britse regering. Hy het sy boek begin skryf op die boot na Engeland. Alhoewel hierdie boek nie net oor grond handel nie, is dit nietemin 'n hoogs betekenisvolle narratief binne hierdie diskoers, ten spyte van die feit dat | |
[pagina 9]
| |
Plaatje enige literêre meriete daarin ontken, synde 'n ‘Suid-Afrikaanse naturelle-werker’: My verhaal is slegs 'n opregte narratief van 'n mistroostige situasie, waarin ek, met tekortkominge en al, probeer het om die swarighede van die Suid-Afrikaanse naturelle onder 'n baie vreemde wet te beskryf, sodat dit maklik verstaan kan word deur die simpatieke leser (Sol T. Plaatje, 1982:15, eie vertaling).Die teks is ook uniek aangesien dit een van die min, miskien die enigste, tekste is oor grond en boerdery wat spesifiek deel van daardie diskoers is, geskryf deur een van die onterfdes, deur een van die gemarginaliseerdes. In 'n sekere sin is Plaatje se teks, waar dit oor grond handel, vergelykbaar met Janszen en Proot se Remonstrantie, maar met dié verskil: hulle het 'n pleidooi gelewer vir die oopstel van plase vir latere koloniste, sy appèl is vir die behoud van die grond van die indigeen. | |
Plaas en grond: betekenis en etimologieDit is nodig om vlugtig te kyk na die woord ‘plaas’ en die etimologie daarvan. Dit kom byvoorbeeld nie in Xhosa voor nie, behalwe in die vorm ‘ifama’, of ‘iplasi’, of anders moet dit omskryf word. As dit nie oorspronklik bestaan het in 'n outochtone taal nie, moet aanvaar word dat die konsep ook nie bestaan het nie; dat daar dus nie plase in die Westerse betekenis was nie. Die afwesigheid van 'n woord dui dan ook op die indringing wat met die skepping van 'n ander konsep gepaard moes gegaan het. Dit is ook opvallend dat die woord ‘grond’, as eiendom vir beoefening van landbou, akkerbou, grondverbouing, weiding, of selfs net as grond-wat-daar-lê, nie in Engels voorkom nie. Grond is grondig meer as net grond in Afrikaans. Die Engelse woord ‘farm’ kom van Middeleeuse Latyn, ‘firma’, wat beteken ‘vaste betaling’, ‘die bevestiging van 'n dokument, die handtekening’. Die assosiasie met eiendom en besitting is klaarblyklik. Die Afrikaanse woord besit en die woord beset koppel besit aan inbesitneming. Plaas kom van die Latyn ‘platea’, 'n ruimte, 'n oopte, 'n groot patio; waarin mens sou wou lees: 'n ruimte vir jouself. Dan kan mens ook met assosiasies speel. Wat van boer? Daar is baie betekenisse: Middelnederlands: ‘(ge)bure’, Oud-Duits: ‘bur’ - woonplek, ook buur(man); later: landsman, landbewoner (Engels: ‘peasant’), takhaar, plaasjapie, ongekultiveer, onverfynd, boers, die teenoorgestelde van die dorpsbewoner of stedeling (ook Engels: ‘boor’). Die Oxford-woordeboek gee die volgende historiese konnotasie: ‘'n Hollandse kolonis in Suid-Afrika betrokke by landbou of veeteelt’. Sedert die | |
[pagina 10]
| |
institusionalisering van apartheid deur 'n Afrikaner-regering het boer Boer geword en 'n besliste ideologiese verbintenis gekry met polisie, weermag, mag. Vernon February (1991) haal die geskiedskrywer F.A. van Jaarsveld aan wat beweer dat die Afrikanernasie begin het met die uitgifte van plase aan die Vryburgers in 1657. Dit alles het op die plaas begin, daarom is dit 'n diskoers wat 'n mens ernstig moet opneem, veral sedert geskiedskrywers die idee gevestig het dat die begin van die plaas, die besit van grond, die begin van die Afrikaner was. Die konsep begin is in hierdie geval veral aanvegbaar, maar dit is vrugteloos om daaroor te stry. In sy essay oor die ideologie van die plaas in die plaasromans van C.M. van den Heever, beweer J.M. Coetzee die volgende: Wat betref die hantering van die natuur is Van den Heever hoofsaaklik daarop ingestel om die natuur binne die plaas te integreer; dit wil sê, om sekere romantiese gemeenplase oor die herwinning van die mens se waarheid in die natuur te koppel aan die tese dat die Afrikaner sy onafhanklikheid en (uiteindelik) sy identiteit sal verloor as hy sy basis in grondbesit verloor (J.M. Coetzee, 1988:110, eie vertaling).Die ouer plaasroman het verder ook die plaasarbeider en die swart karakter geïnskribeer binne spesifieke rolle in die Afrikaanse letterkunde, en daarom ook in die bewussyn van lesers. Jakes Gerwel se studie van 1983, Literatuur en apartheid, het al daarop gewys. Die titel van hoofstuk 3, ‘Ek het maar net saam met die baas gekom’, impliseer die projeksie van ‘die gekleurde as die ewig gedienstige en onderhorige agterryer van die... Afrikaner’. Hy verwys ook na die voorwoord van Melt Brink se Die storie van Klaas Windvoöl die ou Hotnot: ‘met die schrijven van deze storie heb ik getracht u het karakter van een Hottentot weer te geven, zoals wij er jaren gelede bij vele onzer oude Boeren-families kan aantreffen...’ (Gerwel, 1983:98, 60). Die betekenisvolste konstrukskeppende meganismes met betrekking tot sake soos identiteit, ideologie, klasseverhoudings tussen wit en swart én tussen wit en wit, en rasseverhoudings kan uit die Afrikaanse plaasroman gelees word. Klasseverhoudings, spesifiek tussen wit en wit, kom ook pertinent na vore in Engelse plaasromans, soos The conservationist van Nadine Gordimer. Vergelyk byvoorbeeld die verhouding tussen die ryk eienaar van die kleinhoewe, Mehring, en die Afrikanerbure, die De Beers. | |
[pagina 11]
| |
Die vraag wat Coetzee in sy essay vra, en wat 'n verklaring kan bied vir die menige herbesoeke aan die plaasroman deur roman- en kortverhaalskrywers, literatuurteoretici, en ook hierdie boek, is: Wat is die betekenis van die plaas? Maar dan is daar ook die vermoede dat 'n antwoord wat 'n absolute waarheid wil gee, nie kan bestaan nie. Want as daar 'n absolute antwoord is op hierdie vraag, sou dié soort roman lankal nie meer geskryf word nie. | |
Onderskeidende kenmerke van die plaasromanJ.M. Coetzee (1988:65-66) beskou The story of an African Farm as 'n mikrokosmos van koloniale Suid-Afrika, waar die plaas in diens staan van haar kritiek op koloniale kultuur. En Stephen Clingman (1986:135) beskou dit as prototipies van die Suid-Afrikaanse koloniale roman. Dit is nodig om vas te stel wat dié soort roman van ander onderskei. Waarom het dit 'n spesifieke naam gekry, en waarom sou 'n roman soos dié van Olive Schreiner, waarin die handeling op 'n plaas geskied en waar die titel duidelik wys op die verhaal van 'n plaas, nie eintlik as 'n plaasroman beskou word nie? Daar kan op sekere eienskappe, wat nie noodwendig konstant is en altyd voorkom nie, gelet word. 'n Geslote eenheid word geskep, 'n vreedsame plek, 'n selfonderhoudende wêreld waar bedreiging van buite afgeweer kan word, veral dreigemente van spesifieke sosiale veranderings en konfrontasies. Dit is natuurlik hierdie dreigemente, breuke, wat tot die ontstaan van die romansoort, en van individuele romans, van die vroeë roman en van die moderne en postmoderne roman kon gelei het. Nietemin, die eenheid wat daar geskep word, aanvanklik geromantiseer, sou bedreigings kon weerstaan; dit sou die persepsie wees. Hierdie eenheid kon egter ook 'n agtergrond gewees het sonder om substantief - as plaas binne die natuur, as ruimte waar die mens te staan kom teen die natuur ter wille van die produksie van lewensmiddele - deel van die handeling uit te maak. Dit is dikwels die geval in die werk van J. van Melle, waar die plaas die omringende ruimte is vir voorstellings van armoede, historiese gebeurtenisse, die stryd van die generasies, die krag van die individu, die didaktiese. Die ruimte van die plaas word ook in die handeling geïntegreer waar die plaas self die bron van konflik is. Daar is 'n sekere kontinuïteit by die Afrikaanse plaasroman en dié van die ‘primordiale’ Europese tekste van byvoorbeeld Knut Hamsun en Stijn Streuvels, waar die arbeid saam en teen die natuur konstant is: die verheerliking van arbeid en 'n beklemtoning van die mag van die natuur. Gedurende die twintiger- en dertigerjare, toe | |
[pagina 12]
| |
armoede en vervreemding van die bekende ruimte breuke in die samelewing gebring het, is die adel van arbeid beklemtoon en teenoor luiheid en traagheid gestel. Die eienaar van die middele tot produksie was fluks, en diegene wat niks besit het nie, lui en gedegenereer. Besittings het die weg tot verlossing geword. Die plaas, die natuur, grond het ook betekenis gehad, gedefinieer in teenstelling tot die stad: die idilliese teenoor die lelike; en die plaas as konstante, as absolute, onder die beheer van die patriarg, wie se erfgenaam, die seun, dieselfde sekerhede sou erf. Terwyl die plaasteks sekere konstante behou het, wat reeds gevind is in die Remonstrantie: 'n narratief, die natuur, gewasse - en 'n bewustheid van stilering, 'n retoriek verbind tot oortuiging - het verskuiwende sosiale strukture die uitings binne die narratief self beïnvloed. Vanselfsprekend sal literatuurhistorici dit lees as 'n ontwikkeling tot modernisme, en later postmodernisme in die plaasroman. Maar indien daar enige ontwikkeling is, moet dit liewer gesien word as 'n aanhoudende soeke na betekenis, wat telkens verskuif wanneer die sosiale formasie verander. So het die aard van hierdie soort narratief verander en minder plaas/ grond-gesentreerd geraak na die Depressie en na die georganiseerde selfopheffing van die Afrikaner deur sy volkskapitalisme sedert die dertiger- en veertigerjare. Byvoorbeeld, in die vroeg sestigerjare verskyn Sewe dae by die Silbersteins van Etienne Leroux, waarin die plaas 'n landgoed (‘Welgevonden’, nogal) geword het en die elemente van die narratief verander het: meer filosofies, psigologies, argetipies. Die plaasroman het nou geword 'n peregrinasieverhaal, die inisiasie van 'n buitestander, 'n proses van inisiasie; Jungiaans, allegories, grotesk. Hierdie roman, geskryf binne die verskeurdheid van konflikte en groeiende kritiek op die politieke stelsel, was op sigself 'n versteuring van kontinuïteite. Dit het ook die literêre establishment ontstel, maar sou ook die lewenswaardes van die volk afbreek, gelowiges laat struikel, pornografies ‘immoreel’ wees (J.C. Kannemeyer, Deel II, 1983:355). Die reaksionêre aard van die ouer plaasroman het verskuif tot 'n literêre en intellektuele radikalisme. Leroux se Silbersteins en Een vir Azazel was 'n herbesoek aan die plaas en die plaasroman. Maar hy het nou verby die grense daarvan gegaan en die eenhede van die plaas geëksploiteer, die patriargie, orde, karaktertipes, afkoms (die vertraagde reus as afstammeling in Een vir Azazel, byvoorbeeld). Die samelewing, die sosiale formasie is gesatiriseer, en ook die primordiale plaasroman; in 'n soeke na betekenis. Maar nuwe uitings het nou die kontinuïteit van die diskoers versteur: die verstrooiing van die subjek het begin, die afstammeling is 'n idioot, skuld en 'n meganiese orde is geskep deur welvaart en mag. | |
[pagina 13]
| |
Die kolonis het orde geskep uit dít wat wild was, deur dit te beskryf en te tekstualiseer, soos die reisjoernaalskrywers die nuwe wêrelde in woorde weerspieël en dan ook herskep het. Maar die kolonis as boer het ook omhein. In die woorde van een van die wit voorvaders ‘wat ons almal verwek het’, Jacobus Coetzee in die herskepping van sy ‘Relaas’ deur J.M. Coetzee (1974:85): Ons kan nie die wild tel nie. Wild is enkel omdat dit grensloos is. Ons kan vyebome tel, ons kan skape tel, omdat die boord en die plaas begrens is. Die kern van bome in 'n boord en skape op 'n plaas is getal. Ons bedryf met die wild is 'n onvermoeibare onderneming om daarvan boord en plaas te maak. Wanneer ons dit nie kan omhein en tel nie, reduseer ons dit op ander maniere tot getalle [eie vertaling].'n Heining is 'n grens wat uitsluit en insluit; hulle wat ingesluit word, word besit deur die grense wat hulle gemaak het, en hulle besit die grond binne daardie grense. Diegene wat uitgesluit is, die arbeiders, word gemarginaliseer; en dis ook belangrik om daarop te let dat diegene wat uitgesluit is, nie altyd net swart was nie. Soos die grondbaron in die kortverhaal ‘Karoonag’ (Koos Prinsloo) wat al die boere in die distrik uitgeroei het met verbande wat hulle nie kon afbetaal nie. Eendag het 'n jong boer, toe hy die sleutel van sy plaashuis moes afgee, op die grondbaron se opstal se deur geverf: ‘Met hierdie sleutel sluit jy die poort van die hel oop en die honde sal jou nageslag se bloed oplek.’ Sy twee erfgename, seuns, is albei tragies dood. Grond is eienaarskap, en in koloniale tye is grond toegestaan ooreenkomstig die wette van die koloniseerders, met miskenning van die gebruike van die indigeen. Daarna, en in die oorerwing van geslag tot geslag, het 'n natuurlike reg die besit van die plaas verewig. Die patriarg het daarvoor betaal met bloed, nie met geld nie; dit is gekap uit die bos, verdedig teen barbare, makgemaak vir bewoning (vgl. J.M. Coetzee, 1988:85). Die plaas het uiteindelik meer geword as net 'n materiële besitting. Daarom kan Regter Lucius in Toorberg verklaar: ... My geboortereg... gee my 'n servituut oor dié grond, al sê die grondbrief dis joue... Al is dit die duiwel s'n. Deur geboorte het ek hier 'n reg van weg en ek sal hier dwaal, ex defectu sanguinis, uit gebrek aan nakomelinge, op my eie, selfs ná my dood. Hoor my aan (Etienne van Heerden, 1986:125). | |
[pagina 14]
| |
Die herlewing van die plaasroman in ons tyd bevestig dat hierdie narratief een van die belangrikste uitings binne die diskoers oor grond en mag is. Die Boer het vir lank saam met die grond geleef, en lank gestreef om een met die grond te word; sodat die persepsie bestaan, of bestaan het, dat grond en identiteit sinoniem is. Daar is ook verdere verbande, want arbeid op die plaas is 'n inskripsie van eiendomlikheid, en nie net van die arbeid van die eienaar nie. Hy besit ook sy werkers. So gesien, was die Grond Wet van 1913, wat deur geskiedskrywers geïnterpreteer is as daarop gerig ‘om die Swart reservate te vergroot ter wille van 'n meer gerieflike werwing van arbeid vir die myne’ (Davenport, 1978:259), deur die instelling van grondbesit deur toewysing ook die instelling van die besit van arbeid. Grond en grondbesit en die plaasroman kring dan uit tot 'n veel groter diskoers: van politieke mag, van tekste as deel van die konstruksie van 'n hegemonie. Maar nie net die hegemonie van Afrikaner-nasionalistiese heerskappy nie; ook die ontstaan van dié van die African National Congress, want die uitwerking van die wet van 1913 het van die South African Native National Congress, wat in 1912 gevorm is, meteens 'n nasionale versetbeweging gemaak. Sol Plaatje, sekretaris van die Congress, se boek het gelei tot 'n ondersoek na dié wet, en tot verhale oor diegene wat onteien is, vanuit sy perspektief, maar ook van dié van die onteienaars. Grond het betekenis geword. Maar as dit so geskep is in die verlede, wat van die hede, wat nie noodwendig 'n opvolg op die verlede is nie? | |
Terugkeer, herbesoekDit moet beduidend wees dat baie van die plaastekste in Afrikaans, en nie net die moderne werk van Karel Schoeman en Etienne van Heerden nie, retrospektiewe skryf is, narratiewe uit die verlede. In die literatuurgeskiedenis word daar gepraat van herinneringskuns (J.C. Kannemeyer, 1983:17, 22, 25, 41, 302). In die meeste gevalle word die verlede geïdealiseer as utopies en idillies. Hierdie herinneringe aan die verbygegane is natuurlik normale nostalgie wanneer veranderinge in die samelewing plaasvind. Maar 'n wonderlike verlede is geskep, waar onteiening en ekspropriasie nie bestaan het nie, waar lewe nog betekenis gehad het, voor die ontwrigting van Depressie, droogte en industrialisasie. Die konsep grond het dus verander, dit het nie meer die betekenis wat dit in vroeëre tye gehad het nie. Volgens die Afrikaanse literatuurgeskiedskrywing is Anna M. Louw se Kroniek van Perdepoort (1975) ‘een van die merkwaardigste romans van | |
[pagina 15]
| |
die sewentigerjare’ (J.C. Kannemeyer, 1983:314). Alhoewel die soort partriarg van die verlede daarin voorkom, is veral die tekstuur van die roman, die achronologiese aard daarvan, die allegoriese neigings van belang. Dit word klaarblyklik 'n bewuste verbreking van die patroon van die ou plaasroman. Maar die mees betekenisvolle is die aard van die herbesoek: die herbegrafnis van die magtige patriarg, met 'n begeleidende selfmoord en 'n besoek van die duiwel. Dit is 'n herbesoek aan die verlede wat nóg herinnering nóg nostalgie is. In die tweede van Etienne Leroux se Welgevonden-romans, Een vir Azazel, het die landgoed (nou 'n Stigting) en die mense daarop agteruitgegaan sedert die situasie soos beskryf in die eerste roman. Hier het ons ook 'n terugkeer, nie na 'n aangename herinnering nie, maar om 'n sondebok te vind, om 'n antwoord op die onbeantwoorde te soek: Wie moet die skuld vir die verval dra? In latere romans - dié van Etienne van Heerden (Toorberg, 1986), en Alexander Strachan (Die jakkalsjagter, 1990) - het die glorie van die verlede ruïnes geword. Sentrale karakters wat terugkeer na die plase van die verlede om hulle erfenis op te eis, hulle nalatenskappe, het buitestanders geword: in die werk van Karel Schoeman ('n Lug vol helder wolke, 1967; Na die geliefde land, 1972); en dié van Eben Venter (Foxtrot van die vleiseters), waar die hoofkarakter verteller sowel as verslaggewer is. Hulle het elders betekenis gevind. Die terugkeer is ook, soos in die geval van Na die geliefde land, 'n terugkeer na 'n politieke apokalips: 'n verlede wat vervul is deur gebeurtenisse in die toekoms. Daar is egter geen gerusstelling nie, want later skryf Schoeman vanuit 'n stem uit die verlede, onophoudelik aan die praat, 'n herinnering aan dood en skuld. ‘Suid-Afrikaanse pastoraal’ verwys hier nét na die Engelse Suid-Afrikaanse letterkunde. ‘South African Literature’ is vir die meeste Engelse Suid-Afrikaanse letterkundiges nét die Engelse Suid-Afrikaanse letterkunde. Die terugkeer van die liggaam, nie vir 'n herbegrafnis nie, maar om die swart mens se aandeel in grond op te eis, in Nadine Gordimer se The conservationist (1974), is al gelees as 'n aanduiding van die einde van die ‘Suid-Afrikaanse pastoraal’ (aangehaal en betwis deur J.M. Coetzee, 1988:81). Dit sou miskien kon verwys na Engelse letterkunde in Suid-Afrika, waar die soeke na betekenis nooit werklik gerig is op grond en die plaas nie. ‘Die beweging van die prototipiese plaasroman is voortdurend tot die openbaring van die plaas as 'n bron van betekenis’ (J.M. Coetzee, 1988:88). Buiten die nostalgiese plaastekste, waarin die geluksalige idille opgeroep word in poëtiese prosa, is die plaasroman sedert die twintigerjare, en tot laat | |
[pagina 16]
| |
in die veertigerjare geskryf uit 'n besef van verlies: teenoor die natuur, teenoor die ekonomie, teenoor industrialisasie. Die soeke na die betekenis van die plaas kom vanuit 'n ontwrigting: die onteiening van die plaas. Die opeenvolging van plaasromans was 'n poging tot herbevestiging van identiteit, want identiteit sou die persepsie gebring het van die soliditeit van betekenis. Grond is gelyk aan identiteit, identiteit gelyk aan betekenis. Maar die plaas, opeenvolging van die geslagte, daardie kultuur, het van diskoers verander, in kapitaal en politieke mag. Soos geïllustreer in die gedagtes van die sterwende verteller, wat altyd buitestander was, in Schoeman se Hierdie lewe: sy onthou nou slegs wat sy gesien, maar vergeet het, en die stemme wat sy, gefragmenteer, gehoor het. In hulle soeke na betekenis kon die skrywers van die ou plaasroman nie die maatskaplike ontwrigting hanteer nie, hoofsaaklik omdat sin vir hulle moes kom uit 'n kontinuïteit met die verlede; 'n kontinuïteit wat nie bestaan het nie. Maar die ander uitings binne hierdie diskoers oor grond, naamlik die onteiening daarvan sedert kolonisasie, die Grond Wet van 1913, die Nasionale Party se bewind - daardie stemme het nie geëindig nie. Poëties word hervestiging van die weggeworpenes ironies gedenk in 'n strofe in dié gedig van Breyten Breytenbach (1972:22. Die name Dimbaza ens. verwys na die name van hervestigingsghetto's): welgeluksalig is die kinders van Dimbaza,
van Welcome Valley, Limehill en Stinkwater
vrek
van siektes, ondervoeding, armoede -
want hulle maak die baas se gesigsveld skoon,
want hulle ontkom aan die hel,
want hulle ontruim die gebied van die boer
- die Boer en sy God -
- die hand van die God -
Die herbesoek aan die plaasroman sedert die sestigerjare moet dan gesien word as 'n verdere uiting binne dieselfde diskoers. Wat beteken hierdie herbesoek dan? Die literêre voortsetting van 'n diskontinuïteit wat voorheen nie herken is nie? Die verwerping van 'n soeke na betekenis wat nooit in die verlede gevind is nie? Opnuut 'n soeke na betekenis? 'n Nasionale allegorie wat nog nie vertel is nie? Dit kan ook wees dat geen breuk met die verlede besef is nie, dat opeenvolging nog gesoek word, maar nou deur 'n veranderde literêre skryfwyse: van die refleksie van | |
[pagina 17]
| |
die realiteit in die verlede, tot 'n konstruksie van 'n werklikheid, met die erkenning dat woorde slegs betekenaars is, in die hede. Die allegorie as vertelwyse, veral die etiese en morele eienskappe daarvan, behoort binne dié soeke na betekenis gelees te word. Die kartering van die produksie van betekenis in die plaasroman moet sekere keuses en situasies van die skrywer in ag neem, soos die rol van vertelling, fokalisasie, die gebruik van die didaktiese, die bewustheid van styl, karakters wat die outeur representeer - en wie die outeur is. In moderne tye het slegs Nadine Gordimer (The conservationist, 1972), Anna M. Louw (Kroniek van Perdepoort, 1975; Vos, 1999) en Rayda Jacobs (Eyes of the Sky, 1996) plaasromans geskryf binne dié tradisie. Die ander skrywers is almal mans. Dan is daar ook die soeke van die literêre historikus, soos dié van J.M. Coetzee in sy genoemde boek, maar ook in sy romans, soos byvoorbeeld In the heart of the country (1976). Die bewustheid van skryf, wat eers werklik sedert die poësie van die Dertigers na vore gekom het en in die huidige postmodernisme onafskeidbaar van skryf en skrif geword het, is in die vroeë plaasromans gemanifesteer in die nougesette beskrywings van die natuur. Literatuurhistorici het telkens geïrriteerd geraak met die ‘natuuruitweidings wat die verhaalgebeure tot 'n stilstand dwing’ (J.C. Kannemeyer, Deel I, 1984:305); maar dit moet ook gesien word as 'n sigbaar bewuste poging om die natuur, die landskap, in skrif weer te gee. Om betekenis aan die natuur te gee, nie net deur die deureenvlegting van karakters se handelinge en die beweging en fratse van die natuur nie; maar veral deur die vermensliking van die natuur in skrif self, in die beskrywende. 'n Mens sou C.M. van den Heever se Somer (1935) as 'n klaarblyklike voorbeeld kon neem. Buiten die uiterlike handeling in die novelle, waar die wisseling van seisoene, groei en doodgaan, deel van die mens se lewe is, in aankoms en vertrek, lewe en dood; soos in die volgende: Uit die volgroeide somerlewe, die vlammende kleurgeweld om haar, die swaar geur van vrugte in die boord, die deursonde struike en plante en die groot sonnehemel so wyd-stralende oor alles, kom die boodskap na haar gewonde hart: afskeid. Dit is die ware betekenis van die lewe; dat in alles wat vir jou skoonheid was, waar jou hart aan hang of jy dit nooit kan verloor nie, die afskeid reeds te lees is (C.M. van den Heever, 1957:143).Buiten hierdie verhaalkern is die verbintenis tussen mens en natuur geïnskribeer in die teks self. In beelde en vergelykings: die koringhalme staan ‘vorstelik met effens geboë hoofde eerbiediglik en luister na die komende | |
[pagina 18]
| |
vrede en stilte van die aand’; ‘die koringhalme roerloos, met die deemoedige are soos in gebed voor die heerlikheid van die komende dag...’; die koring staan ‘... skugter en ootmoedig en wag op die storm, weerloos en tog so trots, so hoog-gehalm’; ‘... net die geruis van die koring, soos 'n groot skare wat bid voordat die geweld van 'n veldslag losdreun’; ‘... die beweginkie wind wat daar nog was, het lui gaan insluimer op die ryp are van die koring’; ‘... sipresboompies wat naald-regop by die kerkhof staan, donker wagte...’; ‘... 'n gloed van hartstog straal uit die donker rose langs die windpomp, die oopgaande knoppe een wonder van tere ontroering...’ (C.M. van den Heever, 1957:13, 25, 34, 35, 50, 77, 142). Hiermee word daar 'n ontologiese verbintenis in skrif tussen die bestaan van die mens en die natuur gemaak. Dít is die betekenis van die natuur in die konteks van die plaas in 'n vroeë plaasroman. Maar later, in die latere plaasroman, sal daar nie eens meer in woorde betekenis in die plaas te vind wees nie. Karel Schoeman (1967:6) vertel van 'n jong man wat terugkeer na die plaas wat hy erf, maar waarin hy nie belangstel nie. Hy hoor die stem van sy grootmoeder wat voorlees uit die Bybel: Waar Kobus op die stoep staan, kan hy sy grootmoeder hoor. Waar is die skeidslyn, wonder hy, tussen daardie woorde en die wydheid van die veld hier voor hom, die mielieland, die skaaptroppe, die verre rante? Daar het geen onderskeid oorgebly nie, en haar stem gaan voort soos wolke deur die lug. Beteken dit iets?In die ‘spekulerende geskiedenisse’ (die woorde van Magda in In the heart of the country) van Coetzee en Schoeman en Etienne van Heerden praat daar stemme in stilte, oor die verlede, oor 'n verhaal wat alreeds beëindig is; monoloë aan die beweeg deur tyd. Hulle het hulleself geskep in woorde wat vervreem (J.M. Coetzee, In the heart of the country, 1977; Karel Schoeman, Hierdie lewe, 1993; Etienne van Heerden, Die stoetmeester, 1993). Daar is ook die bediendes, hulle wat geen grond het nie, wat altyd gesê het: ‘Mies is die mies’, ‘Ja mies’, ‘Dankie mies’, ‘Dankie baas’ - hulle stemme kan nie meer onthou word nie. Of hulle hakkel van verslaenheid, soos Jan Baster. Die diskoers van die onterfdes van die grond het begin; miskien sal hulle betekenis vind, identiteit. Die plaasroman van die Afrikaanse skrywer kon dit tot nog toe nie volledig genoeg daar vind nie, behalwe in die visioene van 'n apokalips. |
|