'n Hele os vir 'n ou broodmes. Grond en die plaasnarratief sedert 1595
(2000)–Ampie Coetzee– Auteursrechtelijk beschermdGrond en die plaasnarratief sedert 1595
[pagina x]
| |
InleidingDie verhaal word vertel van die eertydse swaargewig-stoeikampioen, Koos de Wet, wat gereeld swart gevangenes teen 'n minimale bedrag gehuur het om as arbeiders op sy plaas Traanfontein in die ou Transvaal te werk. Daar aangeland, moes hulle die tronkklere uittrek en sakke dra, met gate vir die kop en arms. In 'n ander verhaal word vertel dat toe een van hulle eenmaal geweier het, Koos hulle almal met die sweep geslaan het - as inisiasie tot sy wêreld. | |
[pagina xi]
| |
Van sonop tot sononder, onder toesig van die gedienstige baasboy (wat Koos ‘Bobbejaan’ noem), moes hulle ongelooflike harde arbeid verrig. Hulle kos het bestaan uit pap en weiwater en soms stampmielies. Slaapplek was op sakke in 'n donker, muwwe stoor. In sy outobiografiese nota voor in Call me not a man sê Mtutuzeli Matshoba oor die verhale in hierdie boek: Die man wat die verhaal vertel, een van die gevangenes, het eendag in 'n mielieland, terwyl hulle besig was om te oes, 'n kobraslang doodgemaak. Koos was woedend. Die slange eet die rotte wat sy mielies vernietig, en vir sy straf moes die verteller die dooie slang om sy nek dra. Hy het geweier, en Koos het hom aangerand en so seer gemaak met sy geweerkolf dat hy kwalik kon loop. Uiteindelik het hy ontsnap, soos vele plaasarbeiders al voorheen van dié plaas gevlug het. Later, in 'n ander verhaal, word vertel van bendes swerwende rowers wat boere en boervrouens op hulle plase aangeval het. Byna elke dag. Die boeregemeenskap het geglo dat hierdie aanvalle georganiseerde pogings was om hulle te ontwrig, en ‘... 'n eerste stap tot swart kleinboere se uiteindelike oorname van die wit boere se groot veeplase’ (Etienne van Heerden, 1993:177). Hierdie voorvalle is ‘gerapporteer’ in die letterkunde. Dit is dus fiksie. Maar koerantberigte ‘vertel’ dieselfde: ‘Plaasaanvalle het sedert die verkiesing in 1994 tot meer as 650 gestyg’; en statistieke opgestel deur die Suid-Afrikaanse Landbou-unie toon dat plaasmoorde sedert 1994 van 92 na 142 slagoffers in 1997 gestyg het.Ga naar eind1 'n Artikel getitel ‘Verskroeide aarde’ handel oor blankes se verlating van plase en verstrek die volgende inligting (Wiese, 1998:17): Die gefortifiseerde plaashuis is darem nog 'n teken van lewe; talle ander staan leeg en verlate, want die eienaar is dood of het weggetrek. Die (wit) boere word minder. Syfers van die laaste landbousensus is onbetroubaar, waarsku amptenare, want vanweë boere se agterdog oor hoe die Regering die gegewens sal aanwend, is vorms waarskynlik nie akkuraat ingevul nie. Nietemin: in 1976 was daar 75 500 boerdery-eenhede, in 1985 omtrent 65 800 en in 1993 net sowat 58 000. | |
[pagina xii]
| |
‘Killing of farmers not political, says report’, is die opskrif van 'n berig deur Mandulo Maphumulo in The Sunday Independent, 16 Augustus 1998:2. Ook die PAC het op hulle konferensie in Soshanguve besluit dat hulle met belanghebbendes soos die boere wil saamwerk om die ‘grondhonger’ uit te skakel (Die Burger: 21 Desember 1998:9).Die moorde op plase, wat steeds plaasvind, moet volgens die Minister van Veiligheid en Sekuriteit toegeskryf word aan die misdaadepidemie wat Suid-Afrika ondervind, en het nie 'n politieke oorsprong nie. 'n Persepsie bestaan egter reeds by die (Afrikaanse) boeregemeenskap dat dié moorde wel 'n politieke oorsaak het, en die PAC praat van 'n ‘tydbom van grondloosheid’. Of plaasmoorde dus met politiek of misdaad verband hou, is eintlik nie meer ter sake nie: diegene wat daardeur getref word, glo dat die oorsaak polities van aard is. Die plaasromanskrywer Etienne van Heerden se kommentaar op die slagtings som die gevoel onder Afrikaanssprekendes raak op - juis omdat daar miskien nog altyd êrens in die onbewuste iets van 'n verbintenis met 'n plaas is: ‘Daar's motorkapings en rooftogte - maar min slagtings roer soos 'n moordaanval op 'n plaasopstal.’Ga naar eind2 Hierdie boek wil die verhaal van grond, grondbesit en die plaas in Suid-Afrika vertel. Nie om die verlede te herskryf nie, ook nie om die geskiedenis van die verlede in terme van die hede te vertel nie. Maar om die geskiedenis van die hede te vertel.Ga naar eind3 In hoe 'n mate die geskiedenis van die hede in grondkonflikte gewortel is, blyk duidelik uit koerantberigte en inligtingspamflette soos Grondeise ingevolge die Wet op Herstel van Grondregte (1994) uitgegee deur die Departement van Grondsake. Hierin word verduidelik hoe hierdie wet in November 1994 aanvaar is deur die Parlement om voorsiening te maak vir die herstel of vergoeding van regte ten opsigte van grond wat deur rasgebaseerde diskriminerende wette sedert 19 Junie 1913 ontneem is. Daarin word verduidelik wat herstel ingevolge hierdie wet beteken; wie vir herstel kwalifiseer en wie nie kwalifiseer nie; en hoe 'n eis ingevolge die wet ingedien word. Daar word verder gedebatteer en geskryf oor die probleme wat met grondhervorming gepaard kan gaan.Ga naar eind4 'n Onlangse akademiese publikasie deur Charles van Onselen (1996) waarin die lewensverhaal van 'n swart bywoner vertel word, het dié roerende motto: ‘Die saad is myne. Die ploegskaar is myne. Die span osse is myne. Alles is myne. Net die grond behoort aan hulle’ [eie vertaling]. Ook in die onlangse Afrikaanse poësie word die bewustheid van ons verhouding tot grond opnuut verwoord. Antjie Krog se gedig ‘grond’ (1995:72) besing die liefde vir grond, dit wat meer is as net grond; grond wat ook taal word: | |
[pagina xiii]
| |
onder bevele van my voorgeslagte was jy besit
had ek taal kon ek skryf want jy was grond my grond
maar my wou jy nooit
hoe ek ookal strek om my neer te lê
in ruisende blou bloekoms
in bees wat horings sak in Diepvlei
rimpelend drink die trillende keelvel
in tafsytossels in leksels gom
in doringbome afgegly na die leegtes
mý wou jy nooit
my verduur kon jy nooit
keer op keer skud jy my af
rol jy my uit
grond, ek word langsaam naamloos in die mond
nou word geveg om jou
beding verdeel verkamp verkoop versteel verpand
ek wil ondergronds gaan met jou grond
grond wat my nie wou hê nie
grond wat nooit aan my behoort het nie
grond wat ek vergeefser as vroeër liefhet
Die plaas en grond is dus dele van 'n meerstemmige gesprek, 'n dodelik ernstige debat - 'n diskoers in die ware sin van die woord. Die prosanarratief in Afrikaans sal egter die hoofbron van die studie wees, veral die plaasroman. Nadine Gordimer het eenmaal die stelling gemaak: as jy die feite van die terugtrekking uit Moskou in 1812 wil lees, kan jy dit in 'n geskiedenisboek lees; maar as jy wil weet hoe oorlog is en hoe mense op 'n spesifieke tyd en plek daarop reageer, moet jy Oorlog en vrede lees.Ga naar eind5 In 'n onlangse studie (Esbenshade, 1995) oor die onthou en vergeet van politieke wandade in die verlede, spesifiek met betrekking tot Oos- en Sentraal-Europa, word die roman van Milan Kundera, The book of laughter and forgetting, en van Gyorgy Konrad, The loser, as hoofbronne gebruik. ‘De genealogische opgevatte geschiedschrijving wil niet de wortels van onze identiteit terugvinden, integendeel, zij wil haar in alle windrichtingen verstrooien; zij wil niet de huiselijke haard vinden waar wij vandaan komen, dat eerste vaderland waar wij zoals de metafysici beloven, zullen terugkeren; veeleer wil zij alle diskontinuïteiten zichtbaar maken die ons doorkruisen’ (Foucault & Deleuze, 1981:38). Hierdie boek lees dus die roman as | |
[pagina xiv]
| |
geskiedenis. Maar nie geskiedskrywing binne 'n ideële kontinuïteit, teleologies en met 'n natuurlike aaneenskakeling van gebeurtenisse nie, waar gebeurtenis te make het met magsverhoudings, die omkeer van magsverhoudings, indringing, versteuring van lewenspatrone, of die intrede van ander heersers. As die roman ook as geskiedskrywing gelees word, kan dit die drie eienskappe van die ‘werklike geskiedskrywing’ bevat, aldus Nietzsche: geskiedskrywing as parodie, as karnaval, waar ons almal gedurig van identiteit verander; geskiedskrywing as ontbinding van identiteit; en geskiedskrywing as instrument tot die vernietiging van beskermende illusies, en van die eenheid van die onderwerp. Hierin het die roman die vermoë om die verering van monumente te parodieer, die respek vir kontinuïteit te ontbind, en die sekerheid van die mens oor die onregverdighede van die verlede deur die verstrooiing van die subjek te vernietig (Foucault & Deleuze, 1981:41). Die roman ontstaan verder nie net uit die sosiale en politieke formasies waarin dit geskryf is en waarna dit direk of indirek verwys nie, maar dit skep ook konstrukte vanuit daardie formasies. Dit maak dus ook geskiedenis. Die plaasroman word redelik nougeset gesien as dié soort roman waarin die plaas sentraal staan: ten opsigte van sake soos erfpag, opeenvolging van geslagte, die natuur, arbeid, afskeid van die plaas; maar daardeur maak dit deel uit van 'n veel groter ‘diskoers’: die diskoers oor grond en grondbesit. ‘Before approaching, with any degree of certainty, a science, or novels, or political speeches, or the oeuvre of an author, or even a single book, the material with which one is dealing is, in its raw, neutral state, a population of events in the space of discourse in general. One is led therefore to the project of a pure description of discursive events as the horizon for the search for the unities that form within it’ (Foucault, 1972:27). Die konsep diskoers, diskursiewe gebeurtenis, kom uit die omskrywing van Michel Foucault. Dit kom daarop neer dat 'n roman byvoorbeeld saamgestel is uit verskeie elemente - of wat Foucault die enoncé, die uiting, noem - en die verspreiding en totaliteit van hierdie uitings/elemente vorm 'n diskoers. Die diskoers oor grond bestaan dan uit uitings soos die volgende: besit, grondtoewysing, die natuur, die plaas, die plaasroman, erfreg, die nageslag. Die Afrikaanse letterkunde is so deurtrek van die plaas, en van die natuur, as idille of as afbrekende mag, dat selfs romans wat klaarblyklik nie as plaasromans beskou kan word nie, ook die plaasruimte êrens betrek. Nie noodwendig as ruimte waarin die karakters | |
[pagina xv]
| |
bestaan en handel nie, maar as onderbewussyn, of as bron van taalkreatiwiteit. Voorbeelde in moderne romans sluit in: hoofsaaklik politieke romans soos Houd-den-Bek van André P. Brink, Blaaskans van John Miles; herskeppings van die verlede soos Uur van die engel van Karel Schoeman; en geskiedkundige navorsingromans, soos Op soek na generaal Mannetjies Mentz van Christoffel Coetzee. Daar is ook voorbeelde van plaas-‘verhale’ by die moderne kortverhaal, spesifiek by Koos Prinsloo en Etienne van Heerden. Die navorsing vir hierdie boek is hoofsaaklik gedoen oor die plaas-roman soos dit in die Afrikaanse letterkunde voorgekom het. Die Suid-Afrikaanse Engelse letterkunde bevat ook sodanige romans: van Olive Schreiner se The story of an African farm, tot veral J.M. Coetzee se In the heart of the country (en die lofsang op die plaas in sy onlangse Boyhood) en Nadine Gordimer se The conservationist. Dit gaan egter hier in die eerste plek om die verhouding tussen wat mens met 'n mate van onsekerheid vandag tentatief ‘die Afrikaner’ en die plaas kan noem; oor die boer wat Boer geword het. |
|