'n klub vrywel uitsluitlik van die garnisoen nie. Die klub sal ook nie meer wegsterwe nie, al beleef hy tye van agteruitgang. Die hoofdoel word nou perdeteelt; vermaak is bysaak.
Onder goewerneurs soos Cradock (1811-1814) en veral Somerset (1814-1826) geniet die wedrenne buitengewone aanmoediging, in besonder deur die invoer en aanteel van rasperde. Die perdeboerdery word inderdaad 'n vername tak van bedryf in Suid-Afrika. (Argus Annual, 1888 P. 375). Vir lange jare het die Kaap in die behoeftes van die Engelse leër in Voor-Indië voorsien.
Onder hierdie omstandighede is dit geen wonder dat wedrenne hul spoedig tot die platteland uitgebrei het nie. Reeds 28 April 1810 (K.C.) word wedrenne op Elsenburg aangekondig; in 1814 (16 Maart K.C.) op Wynberg; sedert 1815 (9 Des. K.C. aan die Pêrel; 1816 op Uitenhage (K.C. 9 Maart) en op Stellenbosch (K.C. 4 Mei), en later op allerlei ander plekke soos Uitenhage, Swellendam, Graaff-Reinet, Cradock, Grahamstad, Caledon, ens. (Argus Annual, 1890. P. 457). 'n Groot steun het die wedrenne in Kaapstad en Stellenbosch van vroeg ondervind in die ‘Indian Visitors’. Reeds uit 1814 dagteeken 'n ‘Oriental Purse’ van hulle (vgl. K.C. 1 Okt. 1814; 21 Sept. 1816; 23 Sept. 1820; State ens. by a C.S., P. 151 e.v.).
Sedert ongeveer 1814 (K.C. 26 Sept. 1814; Argus Annual 1888 P. 375) begin die Hollandssprekendes al meer en meer die leiding te neem op gebied van wedrenne Name van telers soos v.d. Byl, Cloete, Myburgh, Theunissen e.a. word met weinig uitsonderinge die gewone in hierdie tydperk. (Vgl. Notes ens. by a Bengali P. 61 e.v.; praat van sekere Rogerson egter as ‘Father of the Turf’ onder Somerset. Vgl. K.C. 8 Nov. 17, reorganisasie onder Somerset).
Die wedrenne ontgaan nie die Metodistiese bestryding tussen, in besonder, 1830 en 1840 nie, en voel dit ook. Elders het ek reeds 'n paar kante van die saak aangeraak. (vgl. bls. 351 e.v.; 471 e.v.). In 1830 hoor ons dat die wedrenne kwyn, deels deur die agitasie teen ‘gambling’. (C. Adv. 11 Aug. 1830). In 1834 word die wedrenne sleg (agteruit) genoem (C. Adv. 4 Okt. '34), en in Stellenbosch selfs van 'n ‘herleving van Paarden wedloopen’ gepraat. (C. Adv. 29 Okt. '34. Vermoedelik in die sin van ‘nuwe lewe ‘te verstaan). In 1836 C. Adv. 31 Aug.) trek 'n korrespondent te velde teen wedrenne. Dis wreed vir die diere; dit bring ongewenste elemente tesame, wat daardeur slegte invloed uitoefen op ander mense; aan hartstogte word die vrye loop gelaat. Die gerugmakende selfmoord van die hon. Berkeley Craven deur verliese by wedrenne in Engeland teen hierdie tyd word tot voorbeeld opgehou.
Maar die wedrenne, soos die drankkwessie, het 'n te sterke ekonomiese sy gehad, deur die perdeteelt en deur die uitvoer van perde naar Voor-Indië, dat die bestryding dit te veel kon tref. Tot die end van die periode (Vgl. Chase, The Cape ens. 1843, P. 210; Mon. 25 Apr. 55 e.v.) bestaan hul voort, gepaard gewoonlik met die gebruiklike dinees en bals.
Soos ander vermake (vgl. Bylae III) moet wedrenne wyk as dit op enigerlei wyse op 'n ongewenste tydstip vir kerklike aangeleenthede geag word. (B.v. C. Adv. 23 Sept. '29. Uitstel deur Lydensweek.).