A. 1809-1821.
§ 1. Algemeen.
Was die voorafgaande tydperk een van voorbereiding en baanbrekerswerk, dan sien hierdie periode die jonge toneel homself vinnig inwortel onder die burgery en sy eerste mooie jonge vrugte dra; in die volgende tydperk bereik hy sy volste wasdom.
Die vernaamste beoefenaars is nog altyd vreemdelinge wat hul aan die Kaap tydelik bevind, b.v. die Engelse; of kom vestig het, b.v. Riaux, Boniface, de Lima e.a. Tegelykertyd voed hul 'n jong geslag (Hollandse) ingeborenes op wat in die volgende periode op volle krag kom, en nog later op eie krag die ou tradiesie waardig voortsit.
Die tydperk kry sy karakter deur sy sporadiese en enigsins tentatiewe aard; sy afsluiting deur 'n weinig vrugbare tussentyd van 1820-'21 wat betref Hollandse toneel, en volslae onvrugbare van 1819-'21 wat betref Engelse toneel.
Hierdie tydperk sien ook die belangrikste oorspronklike werk op dramatiese gebied aan die Kaap deur Boniface: Het Beleg van Troyen, Ballet, ens.