Hoofstuk V.
1809-1839. Hollandse en Engelse Toneel aan die Kaap.
Samehang; Indeling.
In hierdie tydperk bereik die Kaapse liefhebberytoneel sy hoogste bloei; Hollandse en Engelse toneel, hoewel die Hollandse die Engelse in belangrikheid ver oortref. Die Engelse toneel dank veel van sy bloei aan die aanwesigheid van tydelike beroepselemente aan die Kaap.
Talryke geselskappe ontstaan en vergaan, maar sommige is daar wat lange jare 'n roemryke bestaan voer, b.v. Tot Nut en Vermaak, Honi soit qui mal y pense, Door Yver bloeit de Kunst (Vlyt en Kunst), en All the World's a Stage.
Belangrik is die opkoms van 'n Kaapse geslag spelers. Tot 1808 was die toneel die van ‘uitheemse’ (in die buiteland gebore) spelers aan die Kaap; sedert 1809 begin die jonge ‘inboorlingen dezer Colonie’ meer en meer naar vore te kom.
Die Engelse toneel - aanvanklik die garnisoen, maar mettertyd ook die burgery - konsentreer hom in die Afrikaanse Skouburg. Die Hollandssprekendes rig in die reël eie lokale in.
Een persoon se naam is in besonder verbonde met die Hollandse toneel: C.E. Boniface. Vir sy goeie werk as tooneelleier, in besonder vir sy oorspronklike werk, is hy van groot kultuur-historiese en literêre belang. Hy is die eerste wat die Kaapse toneel tot persoonlike en maatskaplike strydperk maak. Persoonlik trek hy veral te velde teen sy aartsvyand J. Suasso de Lima; iemand wat, hoewel in veel minder mate, 'n soortgelyke rol as Boniface in verband met toneel speel. Maatskaplik trek hy veral te velde teen die dweepsugtige filantropie van sy tyd.
Die end van die periode sien die toeneem en oorwinning van Metodistiese geesdrywery aan die Kaap, en die omsetting van die Afrikaanse Skouburg (wat kon gepaster wees?) in... 'n kleurlingkerk!
Die indeling van die periode is as volg.
Op gebied van Hollandse toneel: