Hoofstuk IV.
1800-1808: Engelse en Hollandse Toneel aan die Kaap.
§ 1. Algemeen.
Hierdie periode sien die geboorte van duursame toneelkuns aan die Kaap. Dit begin by die Engelse garnisoen met liefhebberytoneel en met die bou van die ‘Afrikaansche Schouwburg’ op die Boereplein in 1800Ga naar voetnoot1). Onder die Bataafse regime van 1803-1806 word die toneel voortgesit, en na hulle weer onder die Engelse. Engelse, Franse, Hoogduitse en Hollandse geselskappe speel, 'n verskeidenheid, wat in hoofsaak te verklaar is uit die talryke en veelsoortige troepemassas aan die Kaap aanwesig. Hierdie periode sou met enige reg 'n ‘internasionale’ kan heet. Ongetwyfeld moes die aanwesigheid van soveel verskillende elemente vrugbaar en opbouend op mekaar ingewerk, en van waarde gewees het by hierdie grondlegging van 'n Kaapse toneelowerlewering; veral wat betref speelwyse en soort van stukke.