(van die 18de eeu) in Europa. Hierdie twee fases van Renaissance kan as parallel uitstekend dien om Afrikaanse toestande te verklaar. Die eerste Europese Renaissance het naar gelykwaardigheid met die ou Klassieke gesoek, bowenal deur troue navolging, deur naar vorm en inhoud, selfs naar die taal, so gelyk moontlik aan die Oues te wees. Dit het dus grotendeels verloop in vormlike nabootsing en kunsmatigheid. Die nuwe Renaissance het egter in eie oorspronklike skoonheid, in eie wese, in eie taal, gelykwaardigheid aan die Oues gesoek en dit gevind.
So ook het die ‘Nederlandse’ oplewing in Suid-Afrika in die 19de eeu naar gelykwaardigheid gestreef met die Nederlanse kuns deur navolging en vormlike gelyksoortigheid, deur gebruik van die Nederlandse taal. Daarmee is veel goeds bereik, maar, behoudens miskien 'n enkele uitsondering, nooit eie, grote kuns nie, sodat die beweging, deur sy inherente swakheid, deur sy kunsmatigheid, tenslotte in die stryd teen die Engelse kultuur moes faal. Die ‘Afrikaanse’ oplewing is egter een wat uit eie aard ontspring, wat die landstaal besig en wat in eie oorspronklike waarde naas die Nederlandse kuns wil kom te staan, en belangriker nog, naas die Engelse. Daardeur is dit juis aangewese om die oorwinning te behaal, waar die Nederlandse kultuur gefaal het.
Verder: net soos die Eerste Renaissance buiten die lewe van die eintlike volk bestaan het, was dit ook met die ‘Nederlandse’ oplewing in Suid-Afrika. Die Nederlandse oplewing was in hoofsaak tot die Kaap en (later) enkele andere kultuursentra beperk, en tussen hierdie en die platteland, waar die eintlike Afrikaanse volk gewoon het, het 'n groot kloof bestaan. Op die platteland weer, in teenstelling, het die groot krag van die ‘Afrikaanse’ oplewing, die Eerste Taalbeweging, berus. Die ‘Afrikaanse’ oplewing het gesteun op die volk in sy oerkrag. Dit het opgebloei uit die volk se eie aard en wese. Tenslotte verower dit in die Twede Afrikaanse Taalbeweging ook die intellektuele en kulturele sentra. Met so veel Engelse elemente in die stede, resp. weinig Afrikaanse, by so 'n klein volkie as die Afrikaanse, sal organisering van en samewerking met die platteland ongetwyfeld nog lang 'n eerste vereiste vir die Afrikaanse kultuur bly.
Tegelykertyd was die Nederlandse oplewing - ewenas die eerste Renaissance vir die Twede - die vernaamste leerskool, waarin die wete en ryping verkry is, wat sou lei tot selfkennis en persoonlike, oorspronklike begrip, m.a.w. tot die grondslag van selfstandige kultuuropbou, tot die ‘Afrikaanse’ kultuur. Die ‘Nederlandse’ fase was dus essensieël vir die ‘Afrikaanse’.