Drama en toneel in Suid-Afrika. Deel 1. 1652-1855
(1928)–F.C.L. Bosman– Auteursrecht onbekend
[pagina 1]
| |||||||||||
Inleiding.Ek hoop om in die volgende bladsye 'n brok Hollands-Afrikaanse kultuurgeskiedenis te gee, wat byna heeltemal onbekend is, in Suid-Afrika miskien nie minder as in Nederland nie. Die wortels van ons huidige Afrikaanse kultuur reik veel dieper in, en sit veel vaster aan ons Hollandse verlede as wat in die algemeen bekend is. Hierdie Hollandse verlede reik, globaal gesproke, tot die end van die 19de eeu. Die Eerste Afrikaanse Taalbeweging (1875-± 1900) bly, in sy werking, gelokaliseer en beperk; sy grootste waarde kry hy eintlik as voorloper van die Twede Afrikaanse Taalbeweging. Ewenso is die oorblyfsels van Hollandse kultuur na 1900 betreklik onbelangrik en word spoedig oorvleuel deur die snel opkomende Afrikaanse kultuur. In hoeverre hierdie Afrikaanse kultuur, veral op gebied van toneel, gegroei is uit sy Hollandse verlede, hoop ek in 'n voortsetting van hierdie werk aan te toon. In hierdie inleiding en elders in hierdie werk, kan ek alleen terloops op 'n paar kante van die saak wys. Hoe staan dit egter met die periode van Hollandse kultuur? Praat ons in die algemeen van Dietse kultuur in Suid-Afrika, en gaan ons na hoe hierdie kultuur homself gehandhaaf het, ten spyte van 'n ‘Eeu van Onreg’ en van meer as honderdjarige stelselmatige poginge tot verengelsing, dan wek so'n studie hoe langer hoe meer ons bewondering. In besonder staan die handhawing van Hollandse kultuur in Kaapland op die voorgrond; en, weer op sy beurt, die rol wat die Hollandse toneel in hierdie handhawing gespeel het. In hierdie werk hoop ek om die vernaamste deel van hierdie Hollandse toneelgeskiedenis te behandel. Dit sal egter steeds my strewe wees, om, naas 'n so trou moontlike mededeling van feite, die samehang van die toneel met die grotere kultuurlewe duidelik uit te bring, en om, in besonder die belangrikheid van die Hollandse toneel vir die Hollandse kultuur - 'n tot dusver vrywel ongerekende faktor - aan te toon. In hierdie werk kom ek nie verder as 1855 nie. Ek hoop om die oorblywende gedeelte in 'n volgende deel te voltooi. Vanself verval die periode van Dietse kultuur in Suid-Afrika in twee gedeeltes: die tydperk van regstreekse verband | |||||||||||
[pagina 2]
| |||||||||||
met Holland, 1652-1795 (die Bataafse tussenregering van 1803-1806 het in hierdie opsig minder te beteken); die tydperk van onregstreekse verband, sedert die Engelse inbesitname van die Kaap in 1795. Dat hierdie kultuur tot 1795, solank die Hollandse verband bestaan, by uitstek Hollands bly, spreek vanself. Dat hy na 1795, as die verband gebreek is, nog solank, en in die mate wat hy dit doen, voortbestaan, kan, gesien die teenwerking van Engelse kant, alleen verwondering wek. Die vraag is nou: in hoeverre is die handhawing van hierdie kultuur 'n handhawing uit eie krag, 'n selfstandige voortbouing op die basis van die bestaande, die gevestigde? In hoeverre is dit 'n handhawing deur gestadige versterking uit die moederkultuur in Holland? Ongetwyfeld was hierdie versterking van veel groter omvang as gewoonlik aangeneem word. Die bande wat Suid-Afrika aan Nederland bly bind het was sterker en menigvuldiger as vermoed word. Dit is nodig om 'n so helder moontlike idee van hierdie bande te kry, voor ons die gang van Dietse kultuur, of 'n deel daarvan, in Suid-Afrika probeer bepaal. Dit wil ek kortliks probeer doen. Ek wil egter nie voorgee om volledig te wees nie, veral nie vir die twede helfte van die 19de eeu nie. Die verbreking van die verband tussen Nederland en Suid-Afrika in 1795, was eintlik alleen 'n staatkundige verbreking, d.w.s. vir sover Suid-Afrika betref. Nederland het nagenoeg alle belangstelling in Suid-Afrika tot die Eerste Vryheidsoorlog van 1880-1881 verloor; nie daarenteen Suid-Afrika in Nederland nie. Dis nog geen geslag gelede nie, wat ‘Hollands’ die algemene aanduiding van die Afrikaner vir homself, sy taal en kultuur was. Nederland was die bron waaruit die Afrikaner vir sy Dietse wese bly put het, en tot vandag toe bly doen, al het die doel homself gewysig van 'n strewe naar vernederlandsing tot 'n strewe naar verdietsing, in die sin van verafrikaansing. Onteënseggelik was die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika een van die vernaamste faktore, indien nie die allervernaamste nie, in die behoud van Dietse kultuur in Suid-Afrika. Tot 1859, toe die Teologiese Kweekskool in Stellenbosch gestig is, het die vorming van alle Hollandse predikante in Holland plaasgevind. Predikante van Nederlandse of Afrikaanse afkoms moes natuurlik hulle volle opleiding daar ontvang; predikante van ander afkoms - ek dink aan die Skotse - tenminste 'n gedeelte van hul opleiding daar, al was dit net om die Hollandse taal magtig te word. Die Kweekskool self in 1859 was volkome op Hollandse akademiese | |||||||||||
[pagina 3]
| |||||||||||
lees geskoei. Maar ook na die stigting daarvan het nog menige predikant Holland vir studie besoek, Utrecht by voorkeur. Uit vroeëre en latere tyd noem ek 'n paar bekende name soos ds. A. Faure, ds. van der Lingen, professor Hofmeyr. By die kerk moet ek in besonder wys op die rol van die Bybel: die Nederlandse Statevertaling. Die Boer - dis 'n bekende gesegde - het die wildernis ingetrek met 'n Bybel in die een hand en 'n roer in die ander. Die invloed van die Bybel word dan gewoonlik bepaal tot sy rol in verband met die behoud van die Kalvinistiese godsdiens; die behoud van die Afrikaanse sedelikheidsbesef en die verband daarvan weer met die behoud van die Afrikaanse volk as 'n blanke volk; die behoud van die Hollandse taal. Maar op nog 'n besondere kultuurinvloed moet ek wys. Die merkwaardige feit dat die Afrikaanse volk nooit analfabeties geword het nie, is ook voor alles aan die Bybel te danke. Om as lid van die Kerk aangeneem te word - 'n maatskaplike noodsaaklikheid vir huwelik ens. -, moes die Afrikaner o.a. sy Bybel kon lees. Op die manier, by gebrek aan ander geleenthede, het die Boere so menige verlope of ontslae Hollandse matroos of soldaat tot die baantjie van onderwyser verhef. Dit moet egter gesê word dat lang nie alle Hollandse onderwysers uit hierdie klas bestaan het nie. Daar was baie goeie tiepes onder hul, Nederlandse onderwysers van huis uit. Die verdienstes van hierdie vroeëre skoolmeesters van die Afrikaanse volk word m.i. veels te veel geringskat. Ook in die mense wat vir homself miskien waardeloos was het Nederland die Dietse bevolking van Suid-Afrika groot dienste bewys. Nie alleen op teologiese gebied nie, ook op ander gebiede van geleerdheid en beskawing, bly die bande met Nederland bewaar. Leiden, vir juriste en medisie bly, vir eersgenoemde veral, tot ver in die 19de eeu die plek waar Hollandse Afrikaners hulle hoëre opleiding ontvang. Sodaniges was hoofregter sir John Truter, advokate soos die Cloetes, Brands, De Wets, e.a., klinkende name aan die Kaap, juriste, wat die Hollands-Romeinse reg met ere bly handhaaf het; sodaniges, mediesie aan die Kaap, soos dre. Berrangé, Fleck, Smuts e.a. Trouens die Afrikaanse studente in Leiden het selfs deelgeneem aan die Tiendaagse Veldtog in 1830Ga naar voetnoot1). Vir die tydperk 1841-'43 vind ons 'n berigGa naar voetnoot2) dat ‘niemand meer dan de Kapenaars er (Leiden) den toon aangaf’, en Klikspaan kan hierdie ‘ferm ras’ nie genoeg lof toeswaai nieGa naar voetnoot3). So bly die aanraking, soms meer, soms minder ge- | |||||||||||
[pagina 4]
| |||||||||||
durende die 19de eeuGa naar voetnoot1). So neem die getalle Afrikaanse studente wat in Nederland, na die Twede Vryheidsoorlog, studeer enorm toe; so vind daar tot vandag toe'n gestadige deursyfering van Afrikaanse studente deur Nederlandse Uniwersiteite plaas. Eweneens op gebied van opvoeding aan die Kaap self, het Suid-Afrika veel aan Nederland te danke. Daar was om mee te begin, die kostelike erfenis uit De Mist se tyd, die ‘Tot Nut van 't Algemeen’ skoolGa naar voetnoot2), wat van 1805 tot 1870 nie alleen die skool met die beste naam vir voorbereidende onderwys aan die Kaap was nie, maar dit in Hollands was. Hierdie skool was gedurende die grootste deel van die 19de eeu een van die magtigste middels aan die Kaap om die Hollandse jeug Hollands te hou teen die Engelse rigting van die offisiële regeringsonderwys. Eintlik as aansluiting by hierdie inrigting, om hoër onderwys te verskaf, was die ‘Zuid-Afrikaansche Athenaeum’, wat in 1829 gestig is op Amsterdamse model. Die Kerk, onder die voorgang van ds. A. Faure, het die leiding geneem in hierdie saak. Later het die ‘Zuid Afrikaansche Athenaeum’ tot ‘South African College’ verengels. Vandag is dit die Uniwersiteit van Kaapstad. Dit was om as Professor aan die ‘Zuid-Afrikaansche Athenaeum’ te dien, wat dr. A.N.E. ChanguionGa naar voetnoot3) in 1831 uit Holland naar die Kaap gekom het. Dr. Changuion word 'n man van die allergrootste belang vir Hollandse onderwys en kultuur in die eerste helfte van die 19de eeu. Hy stig later - ontevrede met die Engelse rigting wat die ‘Zuid-Afrikaansche Athenaeum’ opgaan - 'n eie ‘Instituut’, met kosskool daaraan verbonde, vir voorbereidende en meer gevorderde onderwys, 'n inrigting wat in sy tyd beroemd was vir sy goeie Hollandse (naas Engelse) onderwys. Ook as medewerker en later redakteur van die ou Nederduitsch Zuid-Afrikaansch Tydschrift (1824-'43)Ga naar voetnoot4), die besonder invloedryke Hollandse tydskrif van die tyd, het Changuion kulturele arbeid van die grootste waarde verrig. Omstreeks 1850 het hy belangrike Hollandse kunsaande georganiseer om voordragkuns en welsprekendheid te bevorderGa naar voetnoot5). Op kultuurgebied wil ek verder wys, gedurende die eerste helfte van die 19de eeu, op die belangrike figure van J. Suasso de Lima, L.L.D., vertaler, joernalis, literator, en | |||||||||||
[pagina 5]
| |||||||||||
dramaturg (1818-1858 aan die Kaap), en C.E. Boniface van dieselfde veelsydigheid as de Lima, maar veral beroem as dramaturg (1809-1854 in Suid-Afrika). Van Franse afkoms, vernederlands Boniface later heeltemal en word o.a. medeoprigter en eerste redakteur van die Zuid-Afrikaan, en skrywer van die oudste bestaande drama in Suid-Afrika. Hoewel dus nie Nederlander van oorsprong nie, verdien Boniface, deur sy werk, as 'n handhawer van Nederlandse kultuur aan die Kaap beskou te word. Ook op ander gebiede sien ons die Hollandse verband bewaar. In 1839 word S.K.H. Prins Frederik Willem Hendrik van Oranje op sy terugreis per S.N.M.S. Bellona naar Holland van die Ooste, baie geesdriftig aan die Kaap verwelkomGa naar voetnoot1). In 1855 het 'n groot watersnood in Holland geheers. Deur die lengte en breedte van Kaapland word 'n insameling van geld gehou vir die noodlydendes deur konsul-generaal Truter. Die kerk staan hom trou by en nie minder as £ 1103.0.10½ word opgebring nieGa naar voetnoot2), 'n groot som in die dae. Origens was Truter jarelank agent vir die ‘Nederlandsche Handelmaatschappy’ aan die Kaap. Tussen 1845 en 1861 bestaan 'n skema vir jeugemigrasie, veral op Afrikaanse inisiatief, waardeur meer as 664 persone uit Nederland naar Suid-Afrika gekom het en onder die landelike bevolking versprei isGa naar voetnoot3). Vir die twede helfte van die 19de eeu - vir sover een en ander reeds genoem nie daaronder val nie - wil ek alleen op 'n paar dinge wys om aan te toon hoe die verband met Nederland voortduur, en van die onberekenbaarste waarde vir die Dietse kultuur in Suid-Afrika is. Ek noem in die eerste plek ds. van der Lingen van die Pêrel. Die seun van 'n Hollandse sendeling aan die Kaap, word hy opgevoed in Holland, word predikant en keer naar Suid-Afrika terug. Hy word die stigter van die Gimnasium aan die Pêrel, op Hollandse model, in 1860, 'n voorbeeld wat deur Stellenbosch nagevolg word met sy Gimnasium in 1864. Op hierdie Pêrelse Gimnasium was later die Hollander A. Pannevis onderwyser, Pannevis wat die geestelike vader geword het van S.J. du Toit en die Eerste Afrikaanse Taalbeweging. Die stigting van hierdie Hollandse inrigting van onderwys beteken verder die begin van die verlegging van die swaartepunt van Dietse kultuur in Suid-Afrika van | |||||||||||
[pagina 6]
| |||||||||||
die stad naar die platteland; van Kaapstad eers naar die Pêrel en later naar Stellenbosch. Sedert die Vryheidsoorlog van 1881 word die belangstelling tussen Suid-Afrika en Nederland nie alleen veel lewendiger nie, maar ook allesins wedersyds. Van alle kante word die bande nouer aangehaal. Die ‘Nederlandsche Zuid-Afrikaansche Vereeniging’ word gestig en gaan voor in hierdie opsig. Die Republieke in die Noorde, veral die Suid-Afrikaanse Republiek, geniet die meeste aandag. Vandag nog is Pretoria die mees Hollandse stad van Suid-Afrika. Talryke Hollanders kom naar Suid-Afrika en verrig dienste vir die Afrikaanse volk van die allergrootste waarde. Ek hoef enkel 'n naam te noem soos die van prof. Mansvelt, eers Professor in Stellenbosch, later Superintendent van Onderwys in Transvaal; 'n naam soos die van dr. W.J. Leyds, Staatssekretaris van Transvaal. In Kaapland verder, word die ‘Zuid-Afrikaansche Taalbond’ in 1890 opgerig. Die doel was die handhawing van die Hollandse taal en kultuur, en ongetwyfeld het hierdie liggaam ontsaglik veel tot stand gebring. Dit was tot op sekere hoogte 'n teenhanger van die Afrikaanse strewe van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging. Die inisiatief gaan veral uit van gebore Afrikaners soos ds. (later prof.) A. Moorrees, J.H. Hofmeyr, ‘Onze Jan’, e.a., maar ook van 'n Hollander soos prof. Mansvelt. Hollanders soos M.J. Stucki en C.P. Hoogenhout was 'n groot steun vir die Taalbond. Dr. W.J. Viljoen, 'n gebore Afrikaner, wat o.a. in Holland gestudeer het, was dit eweneens. Dr. Viljoen verdien ook verder vermelding as pro-Hollandse werker en as jarelange Professor in Nederlands in Stellenbosch, waar hy bekend was vir sy besielende onderwys, en vir sy literêre werk in Hollands, veral op gebied van toneel. Tenslotte bly daar gedurende die hele 19de eeu en selfs daarna, die band van Hollandse toneel in Suid-Afrika, om as 'n magtige invloed in die handhawing en behoud van Dietse taal en kultuur te dien. Dit is my besondere onderwerp en ek gaan daartoe oor om kortliks 'n algemene oorsig daarvan te gee, teneinde die verdeling en behandeling van my stof te verduidelik. Die Hollandse toneel aan die Kaap is eienaardig in meer as een opsig. Ten eerste is dit eienaardig hierin dat so'n gewoonte as dit is sedert die koms van die Engelse, byna so'n uitsondering is dit in die tyd daarvoor. Onder die Hollandse regime self is van Hollandse toneel (ek sonder 'n korte Franse periode uit) al weinig sprake. Ternouernood egter, is die Engelse aan die Kaap, of die Hollandssprekendes begin met komediespel. Die rede daar- | |||||||||||
[pagina 7]
| |||||||||||
voor het gelê in die prikkel wat van Engelse inisiatief in hierdie opsig uitgegaan het. Moontlik was die Hollandssprekendes tot beoefening van toneel gekom, ook sonder Engelse voorgang. Maar of dit op hierdie tydstip of in dieselfde mate sou gekom het, is 'n ander vraag. Ten twede is die Hollandse toneel eienaardig hierin dat al begin dit onder prikkel van die Engelse, is dit van meet af deur en deur Hollands. Nie alleen is die taal en die stukke Hollands nie (d.w.s. gangbare stukke in Holland), maar die hele wyse van inrigting is dit eweneens. Die Hollandssprekendes speel vir die grootste deel van die tyd as liefhebberygeselskappe, met vaste lede (hoewel die groot publiek ook toegelaat word), en onder allerlei sinspreuke, wat voor alles die broederskap van nut en vermaak en die noodsaaklikheid van vlyt vir kuns verkondig. Die voorstelling bestaan gewoonlik uit 'n ernstige voorstuk en 'n klugtige nastuk. Die geheel was 'n vorm van liefhebberytoneel wat veral sedert 1750 op die oorblyfsels van die ou Rederykerskamers in Holland verrys hetGa naar voetnoot1). Vir sover die Hollandssprekendes nie in sulke liefhebberygeselskappe georganiseer is nie, is hulle dit in die vorm van rasegte Rederykerskamers. En die seldsame van die geval is dit, dat die Rederykerskamers volg as die liefhebberygeselskappe hulle hoofrol uitgespeel het. Die Rederykerskamers maak hulle vertoning eers goed in die twede helfte van die 19de eeu, - as kersverse nuwe invoerartiekel uit Holland! Origens bereik die Hollandse toneel sy hoogste luister en grootste belangrikheid in die periode voor 1855. Die toneel aan die Kaap, Hollands en Engels, tot 1855 is verreweg oorwegend liefhebberytoneel. Vir sover dit anders is, d.w.s. beroepstoneel deur beroepspelers, toon die professionele element homself in die Engelse toneel. Dis moontlik dat professionele elemente by uitsondering in die Hollandse toneel voorgekom hetGa naar voetnoot2), maar dan is dit van 'n heel andere soort as die Engelse gewoonlik is. By die Engelse bestaan die beroepselement gewoonlik uit verbygaande Engelse akteurs, op weg naar of van Voor-Indië of Australië. Hulle vertoef 'n tydlang aan die Kaap - soms selfs 'n paar jaar - en gee opvoeringe in samewerking met amateurspelers. Die meeste periodes van bloei op gebied van Engelse toneel is aan die aanwesigheid van sulke elemente te danke. Tog is die Engelse toneel oorheersend amateurstoneel tot 1857. Dan begin Sefton Parry, wat tevore op sy eentjie in Kaapstad was en die gewone soort beroepstoneel met amateurs uitgeoefen | |||||||||||
[pagina 8]
| |||||||||||
het, met 'n professionele geselskap. Hiermee begin die Engelse toneel aan die Kaap 'n oorwegende beroepskarakter aanneem, wat hoe langer hoe meer word en tenslotte die Engelse liefhebberytoneel volkome in die skadewee stel. Uitsterf doen dit natuurlik nie. Ook die Hollandse toneel wat tot 1855, oor die geheel genome, die Engelse oortref het, kom hierdeur mede in die verknorsing. Die verengelsing van die Kaap het reeds die lewe van die Hollandse toneel begin moeilik maak. Toe die Engelse toneel sulke kragtige vorme aanneem, het die Hollandse toneel selfs 'n tydlank tot 'n end gekom. Eers in die jare om 1865 kom dit tot nuwe lewe, gebore uit die opkomende Hollands-Afrikaanse nasionale bewussyn in Suid-Afrika. Maar dan word dit byna uitsluitlik groepstoneel, in hierdie geval vir die Hollandssprekendes. In die grote maatskappy beklee die Engelse beroepstoneel verreweg die oorheersende plek. Die Hollandse toneel het nooit sulke beroepselemente soos die Engelse ryker geword nie. Die Nederlandse Koloniale Ryk het nie die Nederlandse spelers tot dieselfde voordelige swerwerslewe uitgelok soos die Engelse Koloniale Ryk die Engelse spelers nie. Selfs in Nederlands-Indië was die toneel enkel een van liefhebbers, tot die reis van Brondgeest daarheen, d.w.s. tot in 1904Ga naar voetnoot1). Soms het die Hollandse toneel wel besondere baat van professionele elemente ondervind. Hierdie elemente het bestaan uit dans- en musiekmeesters aan die Kaap. In besonder het hul hul dienste verleen by die ballette wat steeds 'n uitstaande kenmerk van die Hollandse toneel was. Eienaardig is die oorwig van Franse onder hierdie meesters. Hiervoor sal die nabyheid van Mauritius grotendeels verantwoordelik gewees het. Ek noem hierdie elemente professioneel omdat hulle waarskynlik soms persoonlike voordeel uit die opvoeringe getrek het - vermoedelik in verband met die ballette. Boniface, die ‘Cape dramatist’, was o.a. 'n dans- en musiekmeester. Reg in die begin van die 19de eeu bestaan selfs 'n hele paar jaar Franse liefhebberytoneel aan die Kaap. Hierdie toneel egter (saam met 'n bietjie Duitse) kry sy ondersteuning veral van die Hollandssprekendes, en sy medewerkers verhollands later. Die hele inrigting van hierdie toneel was ook op Hollandse grondslag. Daarom reken ek hierdie toneel, in die algemeen, by die Hollandse toneel as 'n besondere onderdeel van Hollandse kultuur. In die twede helfte van die 19de eeu egter is heeltemal geen sprake van beroepselemente in die Hollandse toneel nie. | |||||||||||
[pagina 9]
| |||||||||||
In hoever was daar wisselwerking tussen Hollandse en Engelse toneel? Met die oog op die aanleidende oorsaak tot Hollandse toneel sou mens allig groot invloed van die Engelse toneel op die Hollandse verwag. Dit is nie so nie. Dit is selfs weinig te noem. In hoofsaak bly dit beperk tot stimulerende voorgang, by tussenpose, ten opsigte van 'n nuwe soort stuk, nuwe dekors, of 'n nuwe varieté-element. Daarenteen beinvloed die Hollandse toneel die Engelse ook: in besonder ten opsigte van die wyse van inrigting. Een van die beroemdste Engelse geselskappe was 'n suiwere navolging van die Hollandse liefhebberygeselskappe. As ons praat van toneel in Suid-Afrika beteken dit, tot 1855, vrywel uitsluitlik toneel aan die Kaap. Ook vir die res van die 19de Eeu is Kaapstad, vir Hollandse toneel, verreweg de vernaamste plek. Eers teen die end van die 19de eeu sal 'n Toneelvereniging Onze Taal, pragtige werk in Pretoria lewer. Ander plekke is van minder belang. In die jare om 1870 word verder die Afrikaanse toneel uit die Hollandse in Kaapstad gebore. Dit begin met die werk van Melt Brink. Hy skrywe klugtige nastukkies in ‘Kaaps-Hollands’ vir die Rederykerskamer Aurora. Melt Brink se werk word baie populêr en veral op die platteland gespeel na 1900. Die res van die Afrikaanse toneel is 'n ontwikkeling uit hierdie kern. Sedert 1926 bestaan 'n reisende Afrikaanse beroepstoneelgeselskap: die Paul de Groot Geselskap. Origens sien Kaapstad (b.v. in 'n herleefde Aurora) en Stellenbosch (b.v. in Ons Spreekuur) in besonder die laaste reste van Hollandse toneelkuns na 1900 in Suid-Afrika, tenminste tot 1927Ga naar voetnoot1). Want sedert hierdie jaar is o.a. Anton Verheyen besig met Hollandse toneel in Suid-Afrika, en het selfs met Adam in Ballingschap groot sukses gehad. Hoe staan dit met die Engelse toneelkuns na 1855? Sefton Parry was reeds tiepies vir die vaste Engelse beroepstoneel in Suid-Afrika. Dit bestaan gewoonlik uit reisende toneelgeselskappe wat na 'n ‘season’ in Londen die verskillende dele van die Britse Ryk afreis. Gewoonlik is die geskiedenis van Engelse toneel, in Suid-Afrika, sedert die vestiging van beroepstoneel en sedert die opkoms van die verskillende groot stede (in besonder sedert die ontdekking van diamante in 1856 en goud in 1886), eintlik die geskiedenis van hierdie reisende toneelgeselskappe. Die toneelgeskiedenis van een stad is vrywel die geskiedenis van 'n ander. Met die oog | |||||||||||
[pagina 10]
| |||||||||||
op hierdie uiteensetting stel ek my voor om hierdie hele gebied af te werk in twee dele. Deel I: 1652-1855. Deel II: 1856 tot die hede.
Deel I - hierdie werk - verval vanself in:
Deel II verval in:
|
|