42. ‘Volstruis is dood’.
Hierdie liedjie is in die Vrystaat en in die noordelike Kaap Provinsie bekend.
Of Volstruis 'n vorige ryperd was wat dood is, en of sy opvolger, ‘die blesperd’, die een is wat duur is, en of dit met die volstruisboerdery (in die Karoo?) nie goed gaan nie, is nie heel duidelik nie. Die woorde ‘dié een’ (in reël 1) kan eintlik net gebruik word, as Volstruis ook 'n perd is. Dít is ten minste duidelik dat die jonkman ‘die blesperd’ nie sal verkoop nie, want daarmee wil hy ‘dwarsdeur die Vrystaat dwaal’ na sy ‘soetliefie’ toe.
Hierdie minneliedjie herinner aan die dansliedjie ‘My ma het gesê jy kan my kry. So lang as jy die blou perd ry,’ of ‘So lang as jy in die Vrystaat bly.’