wees in die noorde van ons land, en of dit selfs van tamelik late datum kan wees.....ten minste na die onderneminge op die Witwatersrand! Dit stel ook weer aan die orde die vraag of hierdie liedjie berus op 'n bepaalde historiese insident en of dit nie miskien oorspronkelik die werk van 'n indiwiduele digter is nie.
Ten slotte moet daarop gewys word dat hierdie liedjie, na die inhoud beskoud, 'n minneliedjie is, en dat dit as sulks opgevat werd deur ‘Ons Klyntji’ (waarin dit eers gepubliseer werd, n.l. in die Twede Jaargang, 1897-1898, bl. 151) en ook as sulks aangegee word in die bundel ‘Afrikaanse Gedigte’ (‘Byeenversameld uit wat in die laaste 30 jaar verskyn is 1876-1906’, Paarl, 1906, bl. 121-122), maar dat die liedjie, na die ritme en vorm beoordeeld, 'n dansliedjie is en dat dit kan gesing word by 'n ‘Wals’, 'n ‘Paddika’ en 'n ‘Polka’, al na gelang van die wysie en tempo waarop dit gesing word, soos baie, ja die meeste, Afrikaanse volksliedjies. Maar weens die inhoud, en omdat die liedjie vroeër opgevat werd as 'n minneliedjie en nie as 'n dansliedjie nie, en omdat die meeste Afrikaanse volksliedjies, historiese, minne- en skimpliedjies, ook op 'n dansdeuntjie kan gesing word, het ons hierdie liedjie 'n plekkie toegeken by die minneliedjies, waarvan dit ongetwyfeld 'n goeie model is.
Let op die samestelling van die liedjie! Eers die twee versies as vóórspel oor ‘die bruin oog’ en ‘die bruin perd’ wat in één asem genoem word, en dan die drie volgende versies oor al die ‘dié en dié's’. Dan volg die repliek van ‘die bruin oog’ self, haar ‘ma se enigste kind’, en dan, in die laaste versie weer, die jonkman se antwoord daarop:
‘Ek is die man wat die bruin perd ry,
Ek is die man wat vir jou sal kry.’