| |
| |
| |
Inleiding.
‘Afrikaanse minneliedjies’.
1. Die liedjies.
In ons inleidingswoord voorin die bundeltjie ‘Afrikaanse Volksliedjies-Piekniekliedjies’ (uitgegee by J.H. de Bussy, Amsterdam, 1918) het ons enkele opmerkings gemaak oor die ‘Lied’ as litteratuursoort, en meer bepaald oor die ‘Volkslied’, waarvan ons aldaar 'n begripsbepaling probeer aangee het, waarna ons hier wens terug te verwys, sodat 'n herhaling daarvan dus hier oorbodig kan geag word. Verder bevat die bogemelde boekdeeltjie, soos die tietel te kenne gee, 'n versameling van 'n bepaalde soort Afrikaanse Volksliedjies, n.l. ‘Piekniekliedjies’. Hier wens ons egter enkele opmerkings te maak oor 'n ander soort van vaderlandse volksliedjies, en wel oor ‘Afrikaanse Minneliedjies’.
Ons beskou die liefdesliedjies, wat in hierdie liedereversameling byeengebring is, ook as volksliedjies, omdat hul nes die reeds behandelde piekniekliedjies groteliks gemeenskapsprodukte is, uitdrukkings van volksgevoel, voortbrengsels van volksverbeelding
| |
| |
en volksvernuf. Maar wat in ons inleiding tot die ‘Afrikaanse Piekniekliedjies’ gesê is, geld ook hier, n.l. dat die min of meer subjektiewe lied van 'n indiwiduele digter dikwels deur sy betrekkelik hoë graad van objektiwiteit en algemeenheid, deur sy populariteit as 'n gevolg van sy aanpassing aan die volksmaak, deur sy ‘Volkstümlichkeit’ dus, in die loop van die tyd 'n volkslied kan word. (vgl. hier onder by die rubrisering).
Dit is b.v. die geval met liedjies soos Jannie (De Waal) se ‘Afrikaanse Pop’ (B, 14) met die naïef-luimige aanvangswoorde:
‘Die wêreld, die is baie groot:
Dit weet die aap se stert,
En oral kry jy meisies, wat
'n Hele boel is werd’.... ens.
(Vgl. Dr. N. Mansvelt: ‘Tekstboekje b.d. Hollands-Afrikaanse Liederbundel’, bl. 50).
Dit is soms ook die geval met vertalings van sulke liedere uit ander tale, soos in die geval van P.J. H(oogenhout) se ‘Grietjie’, wat 'n vertaling is van 'n Engelse liedjie. (vgl. B, 16).
Soms bly net die refrein of koor of selfs net die hoofmotief van so'n kunslied bewaard as 'n volksliedjie. Dit is b.v. die geval met die welbekende volksliedjie: ‘Môre oompie! môre tannie!’ wat berus op Oud-President F.W. Reitz se liedjie: ‘Die Steweltjies van Sannie’. (vgl. B, 20).
Dit is dus bes moontlik dat ons enkele liedjies van Afrikaanse volksdigters hier eenvoudigweg opneem as volksliedjies, deurdat hul geestelike vaderskap ons onbekend is; maar waar die bekend is, sal die naam van die digter vermeld word, al het hy ook maar net as doopsgetuie by die liedjie opgetree. Daar kom b.v. in ‘Di Patriot’ en in ‘Ons Klyntji’ verskillende liedjies voor, waaromtrent dit moeilik is om uit te maak of die insenders ook
| |
| |
die digters daarvan was, en of ons miskien hier te doen het met oorspronklike volksliedjies, waaraan die insenders of die tydskrifredakteurs of beide 'n bietjie ‘gedokter’ het om die h.i. ongelikte en onbeskaafde volkskindertjies na hulle smaak deftige salonkleertjies aan te trek vir hul ‘debuut’ in die boekwêreld. In sulke twyfelagtige gevalle meld ons in elk geval die naam van die insender, as die bekend is. Miskien is daar darem nog ten aansien hiervan deur ons foute begaan, want die feite is moeilik om te kontroleer; maar moontlike teregwysings op hierdie en ander punte van die kant van die welwillende en beter ingeligte leser sal ons hartelik welkom wees.
Aan die ander kant word 'n originele volkslied soms deur 'n indiwiduele digter verwerk tot 'n eie subjektiewe kunslied, wat die inhoud of die vorm en ritme van eersgenoemde assimileer, of wat sig 'n ou volksliedrefrein as koormotief of as uitgangspunt van die nuwe liedverhaal toeëien. Die gevolg is dat kunsliedere en volksliedere met mekaar verwar word, en veral dat die volksliedere deur 'n assosiasieproses aanleiding gee tot allerlei vermenginge en nuwe kombinasies, wat 'n mens met 'n term uit die taalwetenskap sou kan aandui as kontaminasieprodukte. 'n Mooi voorbeeld van 'n sodanige ontwikkelingsproses is die by Dr. Mansvelt (t.a.p. op bl. 58) voorkomende volksliedjie ‘Ou Tante Koos’ wat 'n mengsel is van (1) die gelyknamige slampamperliedjie, van (2) die bekende piekniekliedjie: ‘Ander man se koffie, ander man se tee’ (vgl. by die ‘Piekniekliedjies’, A, 9) en ten slotte van (3) die allegoriese minneliedjie met sy blomtaal in die trant van die middeleeuse ‘Roman de la Rose’, met name:
‘Oorkant die spruit staan 'n mooi rooi blom;
Hoe sal ek maak om daar te kom?’ ens.
'n Dergelyke geval kom voor by Dr. G. Besselaar (‘Zuid-Afrika
| |
| |
in de Letterkunde’, bl. 138) wat uit ‘Zuid-Afrika’ van Dr. Hendrik P.N. Muller 'n Afrikaanse volksliedjie aanhaal wat ook 'n kontaminasieproduk is van drie aparte liedjies, n.l. van die twee piekniekliedjies, (1) ‘Vat jou goed, en trek, Ferreira!’ en (2) ‘En rokkies (bolle) wou sy dra’ en van (3) die minneliedjie, ‘Alie Brand’ (vgl. B, 19). Onder die minneliedjies in hierdie bundeltjie kom verskillende voorbeelde van dergelyke kontaminasieprodukte voor (vgl. A, 5; D, 40, D, 42; D, 50 en D, 54).
Dit is hier miskien die plek om iets te sê oor ons metode van rubrisering. Ons het die minneliedjies in hierdie versameling ingedeel in A. Afrikaanse Volksliedere wat berus op ou Hollandse liedere, B. Afrikaanse Volksliedere wat berus op ‘kunsliedere’ en vertalings, C. min of meer suiwer Afrikaanse Volksliedjies, en D. Fragmente?
Die liedjies onder die eerste rubriek (A) is na hul taalvorme, inhoud en gees beoordeeld, waarskynlik almal van Hollandse oorsprong, alhoewel dit moeilik is om die oorspronklike Hollandse liedere waarop hul berus terug te vind, sodat ons ons in enkele van hul bes moontlik kan misgis hê. In hierdie geval berus ons lesings in hoofsaak op die publikasies in die verskillende jaargange van ‘Ons Klyntji’. In hierdie geval is ons teks dus baie onbetroubaar, want die redaksie van die genoemde tydskrif het maar al te dikwels aan die liedjies ‘gedokter’, moontlik nog selfs nadat dit reeds gedaan was deur die insenders, wat dit uit die onnoukeurige lesings van allerlei ‘liedjiesboekies’ oorgeskrywe of uit miskien minder betroubare mondelinge oorlewering opgeteken het.
Die liedere onder die twede rubriek (B) berus min of meer almal op die liedere van indiwiduele digters.... waarvoor ons hier die naam ‘kunsliedere’ gebruik, wat egter om begrypelike
| |
| |
redes nie 'n heeltemal bevredigende benaming is nie. Dit is dan òf ‘kunsliedere’ (in hierdie sin verstaan) of vertalings van sulke liedere wat in die loop van die tyd volkseiendom geword is en daarom volksliedjies mag genoem word. In hierdie geval berus ons teks op Dr. Mansvelt (‘Tekstboekje b.d. Hollands-Afrikaanse Liederbundel’) en Oud-President Reitz (‘Twee-ensestig uitgesogte Afrikaanse Gedigte’, 5e druk) se lesings, wat veel meer betroubaar is as die van ‘Ons Klyntji’, maar wat tog nog dikwels heel wat te wense oorlaat.
Die liedjies onder die derde rubriek (C) is almal min of meer suiwer Afrikaanse Volksliedjies (vgl. Dr. Lydia van Niekerk: ‘De Eerste Afrikaanse Taalbeweging en zijn Letterkundige Voortbrengselen’, bl. 179). In 'n paar gevalle berus ons teks hier, nes in die geval van die liedjies onder A, op die publikasies in ‘Ons Klyntji’, en geld dus hier dieselfde opmerking oor die betrekkelike onbetroubaarheid van ons teks. In die meeste gevalle berus hierdie liedjies egter op mondelinge oorlewering, wat uit die aard van die saak natuurlik altyd onbetroubaar en gebrekkig is.
Dit is veral die geval met die liedjies onder rubriek D, wat byna uitsluitelik op mondelinge oorlewering berus, en waarskynlik fragmentaries oorgelewer is. Dit is moontlik, dat wat ons hier vir fragmente aansien, in enkele gevalle volledige volksliedjies is, en daarom dui ons die rubriek aan met 'n vraagteken. Oor die onderlinge verhoudinge tussen die liedjies onder die verskillende aangeduide rubrieke sal ons later 'n woordjie sê.
So het dit met ons vaderlandse volksliedjies in die verlede gegaan, en so gaan dit seker vandag nog met hul: hul word gebore op verskillende maniere en plekke, pas hul aan hul geestesomgewing aan, groei, soms aan mekaar, soms deur mekaar, en dan weer soos parasiete op mekaar, ontwikkel en lewe in
| |
| |
die volksmond, of sterwe uit by gebrek aan aanpassingsvermoë,.. 'n gedurige stryd om die bestaan dus, waarin waarskynlik ook die wet geld van 'n ‘survival of the fittest’. Leersaam is veral die fragmente en 'n vergelyking tussen die minneliedjies en die piekniekliedjies.
Ontstaan die Afrikaanse Piekniekliedjies oor die algemeen in verband met piekniekplesierighede, dan is ons liefdesliedjies groteliks gebore by en in verband met bruiloffeeste en die vermaaklike vrolikhede van sulke geselskapsgeleenthede as die Nuwe Jaar, danspartytjies en ook die pieknieks self soms aanbied.
Soortgelyke faktore werk mee nie alleen tot die ontstaan van beide soorte van volksliedjies nie, maar ook tot hul verspreiding oor die lengte en die breedte van die land (vgl. die Inleiding by die reeds gemelde bundeltjie ‘Afrikaanse Volksliedjies-Piekniekliedjies’). As 'n gevolg van die wyse van hul oorsprong en voortplanting word beide soorte van volksliedjies dan ook in gelyke mate gekenmerk deur allerlei kontaminasieverskynsele (vgl. hierbo) en deur die aanwesigheid van 'n groot verskeidenheid variante.... 'n gemeenskappelike karaktertrek van alle volkspoësie. Hoe meer populêr en verspreid 'n volksliedjie is, hoe meer variante vertoon dit, en omgekeerd kan 'n mens die gevolgtrekking maak, wat logies onwaar maar psigologies tog waar is, dat hoe meer variante 'n volksliedjie vertoon, hoe meer is dit verspreid onder die volk gewees.
In wyse van oorsprong en verspreiding en gedeeltelik ook in uiterlike vorm bestaan daar 'n mate van ooreenkoms tussen die piekniekliedjies en die minneliedjies, sodat dit dikwels moeilik is om die verskillende liedjies van mekaar te onderskei en in vaste rubrieke te klassifiseer. Onder die piekniekliedjies het ons alleen geplaas liedjies, waarvan ons weet dat hul op pieknieks
| |
| |
gesing word, maar baie van hul het 'n liefdesinhoud en kan dus ook as minneliedjies beskou word. Aan die ander kant is daar verskillende liedjies, wat na hul inhoud beoordeeld suiwerder minneliedjies is as baie van die wat hier volg, maar wat onder die dansliedjies (in 'n volgende bundeltjie) geklassifiseer word weens hul dansritme en die feit dat hul gesing word as begeleidinge by verskillende dans-soorte. In hierdie inleiding word b.v. enkele liedjies aangehaal, wat mag beskou word tiepies te wees vir die Afrikaner se liefdesopvatting, en tog het ons hul om die hierbo gemelde redes by die dansliedjies geklassifiseer. Die liedjies wat in hierdie liederbundeltjie genoem word ‘Koudleiliedjies’ beklee b.v. ook 'n heel eienaardige posiesie, want hul werd, en word gedeeltelik nog, gesing by dansgeleenthede, terwyl die pare na afloop van die dans mekaar koudlei vóór die volgende ‘vervat’, sodat 'n mens geneig sou wees om hul by die dansliedjies 'n plek te gee, terwyl hul na die inhoud beoordeeld eintlik minneliedjies is, waarby ons hul dan ook 'n plekkie toegeken het. Daar sal gevolgelik in ons liederbundeltjies dikwels 'n skynbare onvolledigheid veroorsaak word deur ons rubrisering, sodat iemand miskien in 'n bepaalde bundeltjie van ons serie 'n liedjie sal soek wat hy daar nie sal vind nie; maar die onvolledigheid is skynbaar, omdat in elke bundel net 'n seker soort liedjies behandel word, sodat die leser moontlik in 'n volgende bundeltjie sal vind wat hy reeds in 'n voorgaande gesoek het. Natuurlik bly daar ook 'n werklike onvolledigheid, omdat 'n mens moeilik al die volksliedjies wat oor die lengte en breedte van Suidafrika versprei is in hande kan kry, en later aanvullings altyd nodig sal bly.
By al die ooreenkoms wat ons bo opgemerk het tussen die piekniekliedjies en die minneliedjies, is daar tog 'n aanmerklike
| |
| |
verskil, wat veroorsaak word deur die verskillende bestaansvoorwaardes van die twee soorte volksliedjies.
Die hoofbestaansrede van die piekniekliedjies, soos aldaar aangetoon werd, is die behoefte aan 'n woordbegeleiding wat ritmies harmonieer met sekere dansbewegings... vandaar dat by die piekniekliedjies die woordritme hoofsaak en die woordbetekenis heeltemal bysaak is, sodat daar gewoonlik weinig sin in die piekniekliedjies is, maar veelmeer 'n ritmiese aaneenskakeling, nie soseer van woorde nie as van klanke op 'n deuntjiemaat... ‘Lieder ohne Worte’ dus! (vgl. Inleiding by die ‘Piekniekliedjies’). Waar by die piekniekliedjies die ritmemotief hoofsaak is, daar is by die minneliedjies die verhaalmotief van meer belang, want 'n liefdesliedjie moet tog tot op seker hoogte 'n storie-inhoud hê, wat op een of ander manier van 'n minneverhaal of 'n liefdesavontuur, of ten minste van 'n verliefde stemming, vertel. Die gevolg is dan ook dat die minneliedjies langer en meer verstaanbaar van inhoud is as die piekniekliedjies, alhoewel eersgenoemde ook soms in die woorde van een van die piekniekliedjies 'n ‘hoenderkop-en-pootjies-en-tamatieslaai’-affêre is!
Daar in hoofsaak alleen rymklanke en 'n deur die dansmaat aangegewe ritme nodig is vir die produksie van die piekniekliedjies, is feitelik enige woordemengelmoes geskik vir die fabrikasie van die vereiste musikale hutspot; maar die minneliedjies stel hoër eise aan die volksverbeelding en die volksvernuf, want hier is 'n verhaal, 'n liefdesverhaal, nodig, wat nie somaar voor die hand lê nie, maar wat inteendeel gedagte-inspanning en kennis vereis. Gevolgelik werd Engelse en Hollandse, veral Middelnederlandse, liedverhaalmotiewe dikwels aangewend en verwerk in die Afrikaanse minneliedjies (vgl. rubrieke A en B). So verskyn o.a. die Middelnederlandse volksliedjie ‘Ic stont op
| |
| |
hoghe berghen’ in Afrikaans as ‘Die Nonnetjie en die Riddertjie’ (A, 2), terwyl o.m. die Engelse liedjies ‘Young Lochinvar’, ‘Clementine’ en ‘Molly Dear’ respektiewelik in Afrikaans voorkom onder die tietels ‘Dapper Du Preez’ (B, 23), ‘Antjie Schut’ (B, 18) en ‘Grietjie’ (B, 16). Die Afrikaanse Volk het dus uit die ryke liederskat van hul Germaanse stamverwante geërwe en soms hot en haar geplunder, en al verdediging, wat vir hul roofdiermetode kan aangevoer word, is dat wat hul geannekseer, hul ook geassimileer het, d.w.s. hul het die vreemde liedere genasionaliseer, verafrikaans. Ook hier is dit moeilik om uit te maak watter aandeel aan die anneksasiewerk op rekening moet gestel word van die volksgemeenskap, en watter deel moet toegeskrywe word aan die anneksasie-aktiwiteit van indiwiduele volksdigters. Die resultate van dergelyke verwerkings en vertalings van vreemde liedere dra egter oor die algemeen die kenmerke van volkspoësie, n.l. verkortings, vereenvoudigings, vermenginge en variante, ens., en daarom ken ons aan sodanige verafrikaanste liedjies ook 'n plekkie toe onder ons Afrikaanse Volksliedjies. Selfs die also verkorte en vereenvoudigde verwerkings en vertalings van vreemde liedere (soos die liedjies onder rubrieke A en B), sowel as ander volksliedjies van verskillende oorsprong (soos die onder rubrieke C en D), is soms slegs fragmentaries oorgelewerd, sodat dit ons dikwels nie geluk is om meer as brokstukke skriftelik te kan opteken nie (vgl. rubriek D), en daarom sal aanvullings op hierdie gebied deur die belangstellende leser deur ons baie gewaardeer word.
Wat die oorlewering betref, staan die minneliedjies in 'n nadelige sowel as in 'n voordelige posiesie teenoor die piekniekliedjies. Laasgenoemde liedjies is gewoonlik slegs mondeling en gevolgelik gebrekkig en onvolledig oorgelewerd; maar die dansritme en die
| |
| |
dansbewegings, waarby hul as harmoniese woordbegeleiding moes dien, het aan die ander kant weer gehelp om die woorde deur 'n assosiasieproses in die herinnering en daardeur in die lewe te hou. Verder is die onnoukeurige oorlewering hier minder skadelik, want soos hierbo aangetoon en betoog werd, is die woordbetekenis hier bysaak. Die minneliedjies het natuurlik nie so'n assosiasieprikkel vir die geheue nie, en dus... 'n minder volkome oorlewering. Maar aan die ander kant het hul weer 'n voordeel gehad, n.l. van nie alleen 'n mondelinge oorlewering nie, maar ook 'n skriftelike, wat hul lewensloop en lewenslot ten beste gekom het. Die optekening van ons minneliedjies was die gevolg van 'n onbewus-goeie ou voorvaderlike gewoonte, wat so langsamerhand 'n volkstradiesie geword het, en deur die nalating waarvan die jonger geslagte onbetaalbare nasionale erfgoedere aan die vergetelheid en die vreemdelinge prysgegee het. In ‘Ons Klyntji’ (Twede Jaargang, Maart 1897-Februarie 1898, bl. 114) lees ons: ‘'n Veertig jare gelede was dit wonderlik in die mode onder die jong mense om liedjies te sing op bruilofte en in geselskappe. Elke jongeling en jonge nooi had 'n liedjiesboekie, wat altyd groter werd, omdat daarin gedurig nuwe liedjies bygeskrywe werd. En die jonkman wat die meeste en mooiste liedjies kon sing had al dadelik 'n strepie vooruit.... Die liedjies was meesal oud-Hollandse van afkoms, maar werd deur sing en gedurig oorskrywe hier ordentlik gewysig en verafrikaans. Dis wel jammer dat die liedjies wat eenmaal so gelewe het onder ons jeug nou geheel verlore raak.’ (Spelling veranderd, en kursivering deur ons.) En Schonken getuie hieromtrent in dieselfde gees (vgl. ‘Oorsprong der Kaaps-Hollandse Volksoverleveringen’, bl. 61-62).
Die bedoeling van hierdie boekie is dan ook om 'n beskeie
| |
| |
poging aan te wend om die minneliedjies ‘wat eenmaal so gelewe het onder ons jeug’ en wat, as 'n gevolg miskien van die instroming van vóór die Boere-oorlog af al van populêre Engelse musiek en tingeltangelliedjies (soos die van die ‘Globe Song Folio’) en Amerikaanse ‘ragtimes’ en tierelantyntjies, ‘nou geheel verlore raak’.... getuie die skrale en fragmentariese oorlewering.... sover moontlik aan die vergetelheid te ontruk, en daardeur by te dra tot die ereherstel van 'n goeie voorvaderlike volkstradiesie! Miskien kan ons beskeie werkie ook hierin die ‘Suidafrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns’ behulpsaam wees by die samestelling van 'n Afrikaanse volksliedboek.
Opmerkelik is hoe die taal en styl in die minneliedjies deftiger is as in die piekniekliedjies. ‘Omdat die piekniek betrek is hoofsakelik binne die kring van die dorpslewe, daarom was die Engelse invloed hier ook so sterk in die verlede.’ (vgl. die Inleiding by ons bundeltjie ‘Piekniekliedjies’ bl. 18). Maar die minneliedjies stam, nie uit die kringe van die dorpslewe nie, waar die Engelse invloed sterk was, maar uit die Hollands-Afrikaanse samelewing van die ‘ou’ tyd en in later tyd uit die geselskapslewe van die Afrikaanse ‘Hinterland’, uit die nasionale boerelewe van die buitedistrikte, waar die Engelse liedere of ‘songs’ nie so gou ingedring het nie. Daar die minneliedjies miskien minder spontaan as die piekniekliedjies in die lewe gekom het, was hier alleen verdringing moontlik, en geen vermenging nie, geen samesmelting. Ons sien dan ook dat die voorvaderlike erotiese liriek sonder groot verbastering padgegee het vir die Engelse indringers en eindelik in 'n fragmentariese staat beland is in die grenswêreld van die beskawing... behalwe daar waar dit deur oue van dae as relieke gekoester werd.
| |
| |
Wat die melodieë van ons minneliedjies betref, is die posiesie nog moeiliker en kan ons ons volkome verenig met die opmerking van Schonken daaromtrent: ‘Jammer, dat bijna altijd de melodieën bij de liedjes ontbreken, zodat er biezonder veel moeite en volharding voor nodig is, om ze op te sporen en men maar zelden vermag vast te stellen, in hoeverre die zogenaamde “liedjies” ook werkelik gezongen worden of werden.’ (t.a.p. bl. 62). Dikwels kry 'n mens nogal die melodieë van verskillende liedjies, en dan blyk dit later dat dit nie die oorspronkelike melodieë van die bepaalde liedjies is nie. Dan moet 'n mens dikwels maar tevrede wees om liewer 'n halwe eier te kry as 'n leë dop!
Met hierdie paar opmerkings oor die oorsprong, verspreiding, vorm, oorlewering en melodieë van ons minneliedjies kan ons voorlopig volstaan.
Ten slotte sal 'n paar opmerkings oor die inhoud, taal en gees van die hier byeenversamelde minneliedjies seker gewens wees.
Ons verwag natuurlik dat ons nasionale liefdesliedjies 'n vrug sal wees van ons volksgevoel en van ons volksverbeelding, en dat hul in die besonder 'n uitdrukking sal wees van die Afrikaanse liefdesopvatting.... en dit is ook die geval. Die Afrikaner is gewoonlik nugter van aard.... miskien ook in sy liefdesbegrip; daarvan getuie o.a. sy minneliedjies. Dit is opmerkelik dat, as 'n Afrikaanse jonkman alleen op 'n plaas moet bly en vir homself moet sorg, hy gewoonlik dan gou tot die besef kom dat hy 'n vrou nodig het. En dan raak hy verliefd.... om 'n vrou te kry! Sy liefde het tot doel die huwelik, en die huwelik is vir hom 'n onafskeidbare clement van die lewenspraktyk... die vrou is vir die man vir 'n hulp! Hy wil derhalwe 'n vrou hê wat vir hom kan kos kook en klere lap. Vandaar
| |
| |
dat daar in een van die Afrikaanse volksliedjies oor die man geklae word: -
‘Maar het hy jou maar net eers vas,
Dan moet jy al dae broeke was.
Mis moet jy plak, en potte moet jy skuur,
Nooit g'n geld om 'n meid te huur.’ ens,
In die liedjie ‘Die Afrikaanse Pop’ (B, 14) word die Afrikaanse noointjie geroem, omdat sy blykbaar frikedel kan braai, sop kan kook, kouse kan stop en skouer aan die wiel kan sit. Sy is: -
‘Gesond, beskeie, sag en soet,
Maar die jongkêrel het dikwels moeite moes doen om selfs vir daardie nugter-materialistiese boerbesigheid 'n lewensvennoot te kry. Daarvoor was gewoonlik meer nodig as net ‘die meeste en mooiste liedjies’ te kan sing. As die jonkman die jawoord kom vra, dan moet hy gewoonlik opgee aan die ouers sowel as aan die noointjie sy besittings aan vee en ander eiendom. So heet dit in ‘Floris en Anaatjie’ (A, 4): -
In ‘Grietjie’ (B, 16) heet dit weer: -
‘Griet, my skat, en weet jy wat?
En mooie meubels is gekoop.
't Wag alles net op jou!’
| |
| |
In ‘Alie Brand’ (B, 19) belowe die minnaar sy Alie: -
‘Koeitjies en kalfies, alles kan jy kry,
Perdjies om te rye, koeitjies om te melke.
Koekies en koffie vir die tantes en die ooms,
Vir die dogters en die soons.’
En in ‘Swart Jasper’ (B, 24) hoor ons weer: -
‘Vier bokke, twaalf skape: dis net na my sin,
En één koei met 'n kalf is genoeg om te begin!’
Verder voorbeelde kry ons in C, 34; C, 35; D, 45; D, 46 en D, 56.
'n Onontbeerlike hulpmiddel by die liefde en die uiteindelike huwelik was veral 'n mooi ryperd met al sy toebehore, want in 'n welbekende dansliedjie heet dit: -
‘My ma het gesê jy kan my kry,
Solang as jy op die vosperd ry;
As jy die vosperd wil verkoop,
Kan jy maar na jou moer toe loop;
As jy die vosperd wil behou,
Kan jy gerus met my gaan trou!’
In ‘Volstruis is dood’ (D, 42) het die ‘swarthaar nooi’ aan haar minnaar 'n brief gestuur: -
Maar as jy die blesperd wil verkoop,
Kan jy gerus na jou swernoot loop!’
Dapper Du Preez (B, 23) het sy noointjie gekry met behulp van sy ryperd, en van Swart Jasper (B, 24) se ryperd, ou Dapper, word beweer: -
‘Daar was in die buurt g'n ryperd so mooi,
So vurig as Dapper, as Dapper so rooi.’
| |
| |
'n Ander minnaar sing: -
‘As ek mag siek word en ek mag sterf,
Die bruinoog kan dan die bruin perd erf;
Ja, sy kan dan die bruin perd kry:
Lang het ek met hom na haar gevry!
Die geel kamas en die rybroek aan,
Die rooi perd loop op die resiesbaan;
Die rooi perd loop aan die stang en kou,
Maar die bruine het sy heer behou!’ (C, 25.)
En die jonkmans maak nie minder van hul ryperde nie as wat die noointjies doen, want by die een jonkman heet dit: -
‘Toe maar niggie, sê maar ja!
En die perd ly honger!’ (D, 55.)
En in 'n ander geval troos 'n treurende minnaar hom met die gedagte aan sy ryperd, sy trippelaar ‘kolperd’ met die ‘krulstert’.... wat ‘tienduisend spore (trap) op één plek!’ (C, 28).
Kort en bondig vra die jonkman die jawoord in die vorm: -
‘Kom ons ja ons skapies by mekaar’,
of
‘Kom ons ja ons skapies in één klompie’,
of met die volgende rympie: -
Kom ons same trou’. (vgl. B, 19).
En in een van ons minneliedjies (D, 56) klink die jonkman se pleidooi ook weer veelmeer nugter-materialisties as verheweidealisties: -
‘Niggie, niggie, sê tog ja:
Die rooi span osse en die bont bokwa,
Daarmee sal ons kerk toe ry,
As ek maar net vir jou kan kry!’
| |
| |
of, as die ‘opsit-kers’ haas uitgebrand is, heet dit: -
‘Die hoenders die kraai, en die rooidag breek aan,
Tannie, gee die jawoord; ek wil huis toe gaan.’
Geluk dit die jonkman nie om die jawoord te kry nie, dan troos hy homself met die wysgerige opmerking: ‘Hul is nie geplant nie: hul is gesaai!’ of met ‘Vra is vry, en weier daarby!’ Sonder sentimentele wanhoop en ‘Weltschmerz’ of tranerige ‘Katzenjammer’ sing hy nugter van sy teleurgestelde liefde: -
‘Daar waar die son en die maan ondergaan,
Daar het ek gistraand my nooi laat staan;
Sewe jaar lang na haar gevry,
Die agste jaar verneuk sy my!’
Daar is gewoonlik selfs 'n toon van kalme berusting onder sulke omstandighede. Die een teleurgestelde jonkman sing: -
‘Ek sal met geduld drae die wêrelds beloop.’ (A, 8).
En 'n ander: -
‘Vaarwel, Kittie, leef gelukkig!
Dis my diepste hartewens,
Want ons lot is afgebaken
Deur die Heer, nie deur die mens.’ (C, 27).
Maar geluk dit die jonkman wel om die jawoord te kry, dan is hy douvoordag in die vosperd se rug en weg oor die bulte... om 'n huis klaar te maak, of, soos hy sê, ‘'n nessie te skop’, en gebooie op te gee. Dan heet dit: -
‘Daar by die fonteintjie om die hoek
Bou ek vir jou 'n huisie mooi,
Waar jy jou vriende in kan nooi.’ (C, 34).
En as dit sover gevorderd is, dan is dit ook tyd om te sing: -
‘Kom laat ons na die dorp toe gaan
Om te haal die predikant.’ (B, 19).
| |
| |
Dan kom die bruilof, die groot feesgeleentheid, waar kelkies wyn en sonneskyn, polka, pierewiet en paddika, seties, horrelpyp en koddeljons hul aandeel bydra tot die voortplanting en die ontstaan van dans- en minneliedjies, gewy aan ‘das ewig Weibliche!’ (vgl. Schonken: ‘O.K.-H.V.’ bl. 19-21). Maar die gees van die Provensaalse minnepoësie of van die erotiese Renaissanceliriek van Suid- en Weseuropa is in die Afrikaanse liefdesliedjies net so skaars as die Platoniese liefdesidee by die Afrikaner, wat hom wel Europese liefdesverhaalmotiewe toeëien, maar gewoonlik nie uitheemse liefdesstemminge nie. Hy het sy eie Afrikaanse, sy nasionale, liefdesopvatting, waarvan sy liedjies 'n uiting is, al druk hy hom soms deur eie skeppingsdrang gedrewe, by gebrek aan eie skeppingskrag, in die woorde van ander nasies uit. Sy minneliedjies het veeleer 'n Hollands-Afrikaanse nugterheid, soos baie van Bredero se liefdesliedjies of enkele van die Middelnederlandse minneliedjies.
Daar is egter ook 'n ander opvatting aan die woord, n.l. dat die Afrikaner nie so materialisties en prosaïes in sy liefdesopvatting is nie, maar dat hy inteendeel wel degelik idealisties is in sy liefdesbegrip en selfs emosioneel in sy liefde, maar dat hy te stug is om openlik, veral in sy lied, uitdrukking te gee aan sy hartstogte en liefdesopwellinge. Af en toe doen hy dit egter ondanks sigself, en dit sou dan sulke liefdesstemminge in die Afrikaanse Minneliedjies as die volgende verklaar:-
‘Sannie Beyers, eer ons skei,
Gee my hart terug aan my!’ (B, 21).
en die romantiese:-
‘Ewig sal ek jou beminne!’ (A, 6).
en verdere verklaringe van ewigdurende liefde, soos in A, 3; A, 5; A, 7; A, 8 en A, 9. Dit, so word verder geredeneer, sou
| |
| |
ook die opgang in Suidafrika van die sentimentele Engelse liedjies verklaar.
Wat die eerste argument betref, moet hier daarop gewys word dat die meeste Afrikaanse sentimentele minneliedjies, soos die hierbo aangehaalde voorbeelde, berus op ou Hollandse liedere (die meeste voorbeelde val onder rubriek A), of vertalings of bewerkings is van vreemde liedjies, waaruit dus weinig kan afgelei word. Die Afrikaner se liefdesopvatting het in sulke liedjies 'n vreemde baadjie aan, wat nie al te goed pas nie! Dit is 'n aangematigde sentimenteel-romantiese liefdesstemming vir die Afrikaner! Merkwaardig en opvallend is daarenteen dat daar in die min of meer suiwer Afrikaanse minneliedjies en onder die fragmente (rubrieke C en D) feitelik niks van so'n idealisties-romantiese liefdesopvatting te bespeure is nie!
Wat die twede deel van die aangevoerde argument betref, n.l. die opgang van die sentimentele Engelse liedjies in Suidafrika, moet opgemerk word, dat die Afrikaner se Hollandse stamverwante ook sterk die trek vertoon om die liedjies van hul Europese bure na te sing. Die Hollandse straatjongetjies sing en fluit b.v. met groot voorliefde Duitse en Engelse deuntjies en liedjies op straat na. Verder het, die Engelse liedjies deur die bevoorregting van die Engelse taal op elke gebied van die Afrikaanse kultuurlewe onder die Engelse staatkundige owerheersing vir hul 'n plek verower, eers in die stede en dorpe en daarna tot in die ‘Backveld’!
Maar sentiment en die gees van die Engelse sentimentele minneliedjies is vreemd aan die Afrikaanse volkskarakter en liefdesopvatting soos die ten minste natuurlik geopenbaar word en spontaan opborrel in die eie Afrikaanse Minneliedjies. Op die agtergrond van die Afrikaanse volkshart mag daar 'n mate van sentimentele
| |
| |
gevoeligheid skuil, wat hy nie graag uiting aan gee nie; maar in sover as daar aan die Afrikaanse liefdesopvatting in die eie Afrikaanse minneliedjies uiting gegee word, is die mees sigbare en mees geopenbaarde element daarin 'n nugter vooropstelling van die praktyk van die alledaagse liefdelewe wat sig openbaar in, of tot doel het, die huwelik. Verbonde hiermee is 'n waardering van gesonde humor en 'n mate van singenot in die liefdesverhoudinge.
Ten slotte wens ons 'n paar opmerkings te maak oor die taal van ons minneliedjies. In rykdom van woordeskat en uitdrukking kan die Afrikaanse minneliedjies tamelik goed die toets van 'n vergelyking met die Europese ballades deurstaan. 'n Paar staaltjies daarvan! Die jonkman se ryperd word beskrywe as 'n ‘blesperd’, 'n ‘blouperd’, 'n ‘rooiperd’, 'n ‘bruinperd’, 'n ‘vosperd’, 'n ‘kolperd’, 'n ‘krulstert’, 'n ‘skimmel’ of 'n ‘trippelaar’.
Hyself heet 'n ‘jonkman’, 'n ‘jongkêrel’, 'n ‘kêrel’, 'n ‘minnaar’, 'n ‘jongheertjie’, 'n ‘vriend’ of 'n ‘herder’. Hy is ‘deurwond’ of ‘deurgriefd’ of voel ‘smart’ in sy hart, wanneer hy dink aan sy ‘swarthaar’, sy ‘vaalhaar’ sy ‘geellokhaar’, aan sy nooi met ‘bonte (blonde) lokke’, wat sag is ‘soos lammertjieswol’! Sy is 'n ‘blou-oog’, 'n ‘bruinoog’ of 'n ‘swartoog’, en al haar skoonhede is behoorlik gekatalogiseer, die eienskappe van haar lokkies, ogies, neusie, lippies, mondjie, voetjies, handjies en nekkie.
Haar name is legio! Sy heet ‘sielsvriendin’, ‘engelin’, ‘sielsjuweel’, ‘hartjie’, ‘liefie’, ‘nonnie’, ‘nooi’, ‘pop’, ‘nonna’, ‘noointjie’, ‘vriendin’, ‘kortrokdraer’, ‘wyf(ie)’, ‘niggie’, ‘sussie’, ‘koek’, ‘skat’ ..... maar veral ‘soetliefie’! Soms word sy aangedui deur 'n soort van natuursimboliek as 'n ‘blaartjie’, 'n ‘blommetjie’, 'n ‘appelliefie’ of 'n ‘doringblaar’, en sy is
| |
| |
gewoonhk ‘rietskraal’! Sy, 'n ‘hartlief’ en 'n ‘hartedief’, ontmoet die jonkman by 'n ‘moerbeiboom’ of 'n ‘geeldoringboom’.
Hierdie paar opmerkings oor die Afrikaanse minnetaal bring ons tot die volgende punt: die Afrikaanse vryery. |
|