| |
2. ‘Pollie, ons gaan Pêrel toe.’
a. Lied en Spel: -
Die piekniekers vorm hand-aan-hand 'n ring of kring, wat om-en-om draai rondom 'n paar spelers, terwijl die eerste versie gesing word. Bij die aanhef van die tweede versie kies elke binnespeler 'n speelgenoot uit die kring, sodat 'n aantal pare gevorm word. Bij die herhaling van die eerste versie begin die pare met die ‘tiekie-draai-dans’, wat hul bij die derde versie links-om draai, aan die slot waarvan die eerste ringstaanders hul dansgenote agterlaat en terugkeer in die kring van die omstaanders, wanneer dieselfde proses weer herhaal word.
| |
| |
Nog altijd gaan die lewenslustige en ongekunstelde sang- en dans-kunstenaars van die afrikaanse piekniekvelde af ‘Pêrel toe’, selfs al is hul daar! Van wanneer af gaan hul al? en hoe lang sal hul nog gaan? Wanneer sal hul daar kom, as hul ‘stadig stap in die trein se pad’? of, stadiger nog ‘in die wa se pad’? Wie bekommer hom daaroor? Die wêreld is mos net vir ‘hartlam’ en vir hom alleen! Hij het ‘hartlam’ onbeskroomd gedwing om vir haar 'n stuk te krij, en sonder sentimenteligheid botweg en boudweg homself aangebied! Die dans en die liedjie gaan volkome saam! Let hier op die alliterasie, wat kentekenend is vir bijna alle ballade-poësie.
| |
b. Liedjie: -
1.
‘Pollie, ons gaan Pêrel toe,
Pollie, ons gaan Pêrel toe,
Pollie, ons gaan Pêrel toe,
2.
‘Hartlam, krij vir jou 'n stuk,
Hartlam, krij vir jou 'n stuk,
Hartlam, krij vir jou 'n stuk,
3.
‘Hartlam, ek het lief vir jou,
Hartlam, ek het lief vir jou,
Hartlam, ek het lief vir jou,
Refrein: -
‘Pollie, ons gaan Pêrel toe,’ ens.
| |
| |
| |
c. Variante: -
I.p.v. 2. en 3. hoor 'n mens soms: -
2.
‘Stadig stap in die trein se pad,
Stadig stap in die trein se pad,
Stadig stap in die trein se pad,
3.
‘Die wêreld is vir mij en jou,
Die wêreld is vir mij en jou,
Die wêreld is vir mij en jou,
Net vir mij en jou alleen.’
Refrein: -
‘Pollie, ons gaan Pêrel toe,’ ens.
Verder hoor 'n mens ook: ‘in die wa se pad’ i.p.v. ‘in die trein se pad’, en dan gee Schonken nog (O.K.-H.V. p. 113) i.p.v.
‘Pollie, ons gaan Pêrel toe,’ (driemaal),
die volgende: -
‘Pollie, ons gaan Pêrel toe,
Pêrel toe, Pêrel toe,’ ens.
Hierdie lesing is ook bekend; maar wat ons onbekend is, is die redaksie van Stephanus Maré, wat in ‘Tiekiedraai’ nog die volgende voorspel gee: -
(‘Dag, lief hartjies, dag, mooi skapies,
Dag, suikerbekkies, ons gaan jul nou verlaat.’)
| |
| |
| |
a. Aantekeninge: -
1. | ‘Pêrel’. Dis die gewone afrikaanse uitspraak van die dorpsnaam ‘Paarl’. Is hierin 'n aanduiding van die plek, waar die liedjie ontstaan is? |
| |
2. | ‘trein se pad’: - Die ouere lesing is seker ‘in die wa se pad’, en die jongere ‘in die trein se pad’, waarvan 'n mens die ouderdom min of meer kan vasstel as na die koms van die trein in Suid-Afrika. |
| |
3. | ‘O.K.-H.V.’: - Ons bedoel natuurlik F.Th. Schonken se ‘Oorsprong der Kaapsch-Hollandsche Volksoverleveringen.’ (Vertaling van D. Fuldauer, Amsterdam, 1914). |
|
|