Taal en tegniek
In die omdigting en herdigting van poësie moet die probleme wat ontstaan, hetsy linguisties, kultureel of ideologies van aard, poëties hanteer en verstegnies opgelos word. Vanselfsprekend is die semantiese en die tematiese ooreenstemming 'n vereiste, maar alles moet poësie bly.
Die feit dat Afrikaans en Nederlands heel dig by mekaar lê, maak dit verstegnies maklik én moeilik. Daar kan nooit 'n te voor-die-hand-liggende oplossing gekies word, sonder om seker te maak dat dit wel goeie Afrikaans én poëties is nie. Vir 'n vertaler wat self ook dig, is dit egter fassinerend dat Afrikaans wat so eenders is ook so anders is as Nederlands. Die digter/vertaler moet dus regtig diep in die taal ingryp en diep delf vir sowel alternatiewe woorde as poëtiese tegnieke.
Almal is bekend met die verskynsel van die sogenaamde valse vriende, woorde met dieselfde vorm waarvan die betekenis oor tyd heen verander het. 'n Nederlandse ‘schommel’ is 'n Afrikaanse swaai, ‘uitspanning’ is in Afrikaans 'n verouderde woord wat met die uitspanplek van ossewaens geassosieer word, 'n ‘hoge kombuis’ is in Afrikaans gans onbekend asook 'n ‘mooie kamer’ en dit moes 'n ‘outydse kombuis’ en ‘voorkamer’ word in die vertaling.
'n Interessant geval was die woord ‘valwind’ wat eintlik 'n nuutskepping van Van Toorn is en net so behou kon word omdat dit ook 'n baie mooi nuwe woord in Afrikaans is, meer nog, 'n woord waarvan die betekenis nie misverstaan kan word nie.
Die bedrieglikste verskille setel egter in die skynbaar kleinste woordjies, in die woordorde, in die opeenvolging van frases. Die eis waaraan voldoen moet word, is juis om daardie nuanses wat jy aanvoel suksesvol weer te gee om die resonansies van die gedig nie te laat skade ly nie. Daar moet ook deurlopend in ag geneem word dat in 'n gedig alles aan mekaar verbonde is. 'n Goeie gedig is 'n netwerk, 'n spinnerak, 'n web wat in sy geheel roer as daar aan een spinnedraadjie getrek word.
Die verhouding tussen sintaksis en tipografie is dikwels gebruik om probleme op te los: om die dubbele negatief minder opvallend te maak asook om die versterkende werking daarvan uit te buit. Die verledetydsvorme is ook soms hanteer deur woorde na 'n volgende reël oor te skuif sodat die Afrikaanse gedig wel al die inligting behou maar nie altyd in presies dieselfde versreël nie.
Ek gee 'n enkele voorbeeld om te illustreer hoeveel veranderinge, kontekstueel, grammatikaal en verstegnies, nodig is om 'n teks van Nederlands na Afrikaans om te werk.