De Nieuwe Taalgids. Jaargang 56
(1963)– [tijdschrift] Nieuwe Taalgids, De– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 206]
| |
Woorde met sekondêre -ing in AfrikaansDaar is 'n twintigtal baie gewone woorde in beskaafde Afrikaans wat van die Algemeen Beskaafde Nederlands verskil deurdat hulle 'n sekondêre woordeinde -ing het. Die aantal sal verdubbel as ons uitspraakvorme wat nie as algemeen gangbaar of beskaaf beskou woord nie, en daarom nie in die Akademie-woordelijs opgeneem is nie, daarby reken. D.B. Bosman het al 'n kwarteeu gelede feitlik al die voorbeelde versamel, in groepe geplaas, en verklarings van die verskynsel aan die hand gedoenGa naar voetnoot1). Vorme van die tipe doring, kussing (d.w.s. dié waarin die oorspronklike -en na 'n alveolêre konsonant deur -ing vervang is) verklaar ny deur dissimilasie. Hy. het hier 'n homogene groep (A), en sy verklaring is ongetwyfeld juis (in woorde soos laken en teiken het die -en nie in -ing oorgegaan nie). Waarom die dissimilasie by tussen uitgebly het, kan hy nie verklaar nie, sê Bosman. Ons het hier te make met 'n voorsetsel (al die ander voorbeelde in hierdie groep is self-standige naamwoorde) wat in die taalgebruik baie dikwels deur die bepaalde lidwoord gevolg word. Waarskynlik het die alveolêre beginklank van die die alveolêre nasaal teen dissimilasie beskerm. En dat naas heiden 'n dialektiese uitspraak heiding bestaan, maar nie Christing naas Christen nie, sal sy oorsaak in die verskillende gebruiksfeer en gevoelswaarde van die twee woorde hê. Bosman se volgende drie groepe (B, C en D) is minder bevredigend. Onder B klassifiseer hy ‘'n aantal woorde met oorspronklike -ens’ (daaronder net een wat in die vorm met -ing deur die Akademie erken is). Agter blindings (die uitsondering!) plaas hy self 'n vraagteken, en dit staan myns insiens ook nie vas dat die velarisering by woorde soos hoofbreking(s), toebehoring(s) juis in die meervoud plaasgevind het nie. (Harsings sou volgens Bosman se prinsipe van indeling eintlik in groep B moes gekom het.) Groep C noem Bosman self heterogeen (daarin o.a. affêring en narsing), en groep D is dit nouliks minder, omdat hy aan voorbeelde van die tipe fraiing, kastaiing (Ndl. franje, kastanje) ook toevoeg woorde soos kaiings (waarskynlik uit dialektiese Ndl. kaaiens) en toiings (Ndl. todden), en selfs blatjang, rottang, satang en Malang (die Hugenotenaam Malan), wat geen ‘gevelariseerde -ing’ bevat nie. In sy bespreking raak hy dan ook soms in sy eie indelings verstrik en behandel vorme (ook nuwe voorbeelde) onder groepe waarin hy hulle nie geplaas het nie of waarin hulle nie tuishoort nie. Ook in sy verklarings van die laaste drie groepe staan hy veel minder vas, en in sy twyfel spreek hy homself meermale teen. (Op bl. 63 lees ons: ‘Vir die groepe B, C, D kan oor die algemeen suffikssubstitusie as verklaring aangeneem word’, maar op bl. 69: ‘Ek is geneig om aan te neem dat ons by die woorde in klas D in eerste instansie te doen het met 'n onvoltooide fonetiese ontwikkeling, en nie met analogiewerking, met name suffikssubstitusie nie’, en dan weer op bl. 70: ‘Met die oog op die moeilikheid om te onderskei tussen analogiewerking en fonetiese ontwikkeling by die gevalle onder C en D is dit die veiligste en stellig die maklikste, om aan te neem dat analogiese en fonetiese invloede in dieselfde rigting gewerk en mekaar aangevul het’. Maar ook in sy groep B is 'n fonetiese faktor aanwesig: die groepering berus daarop dat in al die voorbeelde die verbinding -en- deur 'n s gevolg word.) Vir die doel van hierdie stuk is dit van minder belang om presies te weet | |
[pagina 207]
| |
watter faktor of faktore in elke geval of groep van gevalle vir die sekondêre -ing verantwoordelik was. Dit is duidelik dat by die voorbeelde in Bosman se klasse B, C en D analogie 'n belangrike rol gespeel het (ook by groep A sal ek dit nie wil uitsluit nie) terwyl fonetiese faktore die werking van die analogie kon teëgehou of vergemaklik het. En deurgaans moet rekening gehou word met stilistiese faktore: in ongekultiveerde taal sal fonetiese aanpassings en analologiese verskuiwings makliker plaatvind as in die taalgebruik van beskaafde en geletterde sprekers. Net waar dit in besondere gevalle nodig mag wees, sal ek let op die proses of aard van die verandering wat in die woordvorm ingetree het. Bosman het daarop gewys dat die neiging tot dissimilasie (en ek voeg by: die uitbreidingskrag van die formans -ing) nog laat in Afrikaans werksaam was, soos blyk uit volksuitsprake van jong ontlenings uit Engels: gelling, luséring (ek ken ook die nou al weer verouderde fessing vir fashion en feiting vir phaeton). Die vraag wat my hier die meeste interesseer, is eintlik hoe oud die verskynsel is en in hoever tipies Afrikaans. Nou kyk ons eers wat die Kaapse bronne, en spesiaal die versamelde argiefmaterial, ons leerGa naar voetnoot1). Garing kom al in 1707 voor (‘3 vaam cabelgaring’) in boedelpapiere van die Uyse, MOOC, 14/195; daarna in 1763, 1764, 1765 in 'n anonieme Kaapse rekeningboek, MOOC 14/213, omslag 1765. Kussing is aangetref in 'n inventaris van 26 Mei 1734, St 5/15; daarna Ao. 1755, MOOC 8/8, invent. 38; Ao. 1763, MOOC 8/10; 27 April 1767, MOOC 8/10; Okt. 1767, MOOC 8/12, invent. 39; 17 Mei 1769, MOOC 8/13, invent. 2; 26 Maart 1770, MOOC 8/13, invent. 60; 26 April 1770, MOOC 14/214, omslag 1777; Ao. 1770, MOOC 8/13, invent. 62; ens. Karring is die eerste gevind onder datum 9 Maart 1743, MOOC 8/6, invent. 58; verder Ao. 1763, MOOC 8/10; Ao. 1770, MOOC 8/13, invent. 47; 26 Maart 1770, MOOC 8/13, invent. 60; 1 Nov. 1778, MOOC 8/17. Koring se vroegste datering is 17 Mei 1769, MOOC /813, invent. 2; daarna Ao. 1773, MOOC 8/14, invent. 47; Ao. 1786, KT 311; Ao. 1787, KT 99; ens. In verband met bostaande vier woorde (almal van Bosman se groep A) kan ook genoem word die geografiese naam Wavering (‘die lant van Wavering’) i.p.v. Waveren: Ao. 1776, KT 295; en Stellingbosch: 4 sept. 1779, St 10/164 nr. 16; Ao. 1785, KT 78; Ao. 1803, KT 173. Die Ndl. woord scheerbekken is in Afrikaans nie bekend nie; as dit bekend was, sou dit geen -ing gehad het nie (vgl. baken, deken, laken, ens.); tog kom die vorm scheerbekking voor in 'n Kaapse stuk van 1755 (MOOC 8/8, invent. 38). Dit is miskien 'n aanduiding dat by die ontstaan van vorme soos koring, kussing nie net dissimilasie nie maar ook die uitbreidingsdrang van die uitgang -ing werksaam was. Van die woordtipes wat Bosman in sy groep B opgeneem het, is in die argief-materiaal net twee voorbeelde met -ing aangetref: toebehoring (‘1 ploeg met sijn toebehoring’ - 26 Sept. 1752, MOOC 8/7, invent. 24, hs. van J. Kruger, seun van die stamvader; ‘een swart onder Pak ... met sijn toebehoring’ - 18 Des. 1756, MOOC 14/213, bl. 52), en die persoonsnaam Maartings vir Maartens (‘kowis maartings’ - Ao. 1786, KT 90). Die enkelvoudsvorm toe-behoring in vroeë bronne versterk die twyfel hierbo uitgespreek dat ons in Bosman se groep B uitsluitend met die oorgang van -ens in -ings te make sou hê. | |
[pagina 208]
| |
Van Bosman se groep C het ons ook weer net twee voorbeelde van betekenis, albei pas uit die begin van die 19de eeu affêring (‘oom gelieft deese aferrings voor meijn beij de heer drots te verregten’, ‘oom, verregt tog meijn afferings tog dedeleijk’ - Ao. 1803, KT 171; ‘een noot sake leykke averreng’ - Ao. 1829, KT 283), en bending (‘nu versoek ik mijn Heer dat UE mijn de magt geeft om de bendeng ['n bende Hottentots] uijt makaar te stellen’ - Ao. 1802, KT 170). Ook hier moet ons weer op die twee enkelvoudsvorme let. Ons materiaal laat ons byna heeltemal in die steek wat woorde van Bosman se laaste klas betref Geen vorm op -ing is in bronne van voor die middel van die 19de eeu gevind nie. Ek kan net wys op 'n paar vorme wat moontlik as tussen-stadia in die ontwikkeling na -ing toe kan beskou word en daarom vir ons betekenis het Afr. baie, met die onerkende wisselvorm baiing, het ontstaan uit Maleis banja(k). Die vorm banje tref ons aan in 1769 (KT, dl. 3, bl. 33), in 1780 (kyk Franken, Taalhistoriese Bydraes, bl. 142, n 5) en nog dikwels in later bronne; verder is daar 'n verskeidenheid van vorme waarvan vir ons die belangwekkendste is banjang in 1805 (kyk Theal, Belangrijke Historische Dokumenten over Zuid Afrika, dl. III, bl. 384), in 1851 (brief van Hendrik Bezuidenhout - kyk Die Huisgenoot, 27 Junie 1941, bl. 65) en bye as Engelse spelvorm vir baie in 1815 (John Campbell, Travels in South Africa, bl. 120)Ga naar voetnoot1). Die enigste ander woord waarvan daar 'n moontlike tussenvorm in ons bronne voorkom, is pluiens/pluiings (uit Ndl. plunje). Die vorm is pluijen, wat Louis Trichardt as meervoud in sy dagboek gebruik (bl. 158 van die 1ste druk van Preller se uitgawe). Suffikssubstitusie, of in die algemeen die wysiging van die klankvorm van 'n woord na 'n veel voorkomende model, is 'n bekende verskynsel in baie tale. Nederlands ken dit van vroeg af aan, en in die besonder ook die uitbreiding van -ing as woordeinde. Bosman het in sy artikel verskillende voorbeelde genoem, o.a. ketting (naas keten), rotting (uit Maleis rotan), honing (naas honig), velling (via vellig uit velg)Ga naar voetnoot2), weddingschap (naas weddenschap), die skeepsterme laning en presenning en, alleen in ouer Nederlands geboekstaaf, hoofdbreking (naas hoofdbreken) en blinding (naas blind, uit blinde). Indertyd kon ek Bosman voorsien van bewysplase vir die vorme garing, kussing, lantaring, sening uit hedendaagse Hollandse en aangrensende dialekte. Nou kan aan dié voorbeelde | |
[pagina 209]
| |
nog toegevoeg word horing uit die Vechtstreek by Utrecht (kyk De Nieuwe Taalgids, dl. L, bl. 229). Dit is nie bekend hoe oud hierdie dialekties Nederlandse vorme is nie; maar as ons bedink dat ons in Kaapse bronne garing teruggevind het in 1710, kussing in 1734, karring in 1743, ens., dan ontstaan die vermoede dat ook die Hollandse vorme oud moet wees. Daar is dialekties Nederlandse vorme met sekondêre -ing wat Afrikaans nie ken nie, o.a. peuling (Ndl. pehuw), zwaling (Ndl. zwaluw) en galling (via gallig uit galg) - kyk WNT, dl. XVIII, kol. 1634. Peuling is wel in vroeë Kaapse stukke aangetref, maar was blykbaar nie deel van die kolonistetaal nie (die Afr. vorm is peul)- MOOC 8/3, invent. 13, 19 Nov. 1714; MOOC 8/3, invent. 20, 2 Feb. 1715: ‘1 peuling en 3 hoof cussens’ (die WNT ken geen ou bewysplase vir die vorm peuling nie). 'n Stelselmatige ondersoek van Ndl. dialekte sal moontlik meer voorbeelde met sekondêre -ing aan die lig bring as wat tot hiertoe bekend is. Op een vorm wil ek nog die aandag vestig. Die WNT, dl. VIII, kol. 2559, sê van loenje: ‘op de zuidholl. eilanden verbasterd tot loejәng en loei’. Nou is loejәng uit loenje parallel aan Afr. fraiing uit franje, goiing uit gonje, kastaiing uit kastanje, en ook baiing uit banje, terwyl loei weer vergelyk kan word met - baie. By die laaste verdien ook vermelding die Wes-Voornse vorme fraә ja vir franje en karstaәja vir kastanje wat Van Weel, Het dialect van West-Voorne, par. 118, aangee (die verklaring deur sinkopee van die n laat ek vir sy rekening). Wat is nou af te lei uit die gegewens waaroor ons beskik? Ons weet met sekerheid dat verskeie vorme met die sekondêre woordeinde al vroeg gewoon in Nederlands was; hulle het normaal aan die Kaap bly voortbestaan en lewer geen probleem op nie (bv. ketting, heuning, velling). Sommige vorme is wel uit die ouer Nederlands bekend, maar dis onseker hoe verbreid hul toe was (b.v. hoofbreking, blinding); ander is net uit Nederlandse dialekbronne van die einde van die 19de eeu of die begin van die 20ste eeu opgeteken (bv. garing, horing, kussing) en niks is verder oor die tyd van hul ontstaan bekend nie. Die feit dat die vorme toebehoring, garing, karring, koring, kussing vroeg in Kaapse bronne optree, gee aanleiding tot die vermoede dat altans sommige van hulle ook oorgeërf moet wees. In dié vermoede word ons gesterk deur die wete dat peuling, wat geen Afrikaans is nie maar wel dialekties Nederlands, tot hiertoe uit geen vroeë Europees Nederlandse bron opgeteken is nie, terwyl dit uit Kaapse argiefstukke van die begin van die 18de eeu aan die lig gekom het. Die groep woorde waaroor die grootste onsekerheid bestaan, is dié van die tipe Ndl. franje, kastanje (Afr. fraiing, kastaiing). Hulle is almal woorde van vreemde herkoms (afgesien van die enigssins duister plunje) met 'n vir Afrikaans, en ook wel Hollands, fonologies abnormale woordeinde. Die kanse was dus groot dat juis hierdie woorde in die volksmond klankaanpassings sou ondergaan; dit is daarom vreemd dat daar tot nog toe so min voorbeelde van die aanpassings in Nederlandse dialekte gevind is,Ga naar voetnoot1) en dat ook die Kaapse voorbeelde almal van laat datum (19de eeu) is. Die klankaanpassing kon hom aan die Kaap veel makliker by alle sprekers en by meer woorde as in Holland voltrek, omdat by ons die remmende faktore (invloed van gekultiveerde taalgebruik) oor 'n lang tyd en oor 'n groot deel van die taalgebied byna heeltemal afwesig was. Die gewoonste woorde het die maklikste die klankaanpassings | |
[pagina 210]
| |
ondergaan. So sien ons dat die eiename Spanje en Oranje (as kleurnaam is oranje 'n jong ontlening in Afrikaans) onaangetas gebly het, terwyl drie uitspraakvorme van die familienaam Labuschagne bekend is: die oorspronklike op -anje, die spellinguitspraak op -agne, en die ‘eg Afrikaanse’ Lawwerskaiing, watteenswoordig as minder beskaaf of minderdeftig geld en besig is om verdring te word. In watter vorm het die eerste makers van Afrikaanse woordelyste hierdie tipe woord opgeneem? Geeneen van hulle kom in Changuion se ‘Proeve van Kaapsch Taaleigen’ agter in sy grammatika De Nederduitsche taal in Zuid-Afrika hersteld van 1844 voor nie, behalve bajan (‘ook wel banje’), noij en tamaai - dus net die woorde van Maleise of Baster-Portugese oorsprong, wat nie 'n sekondêre -ing het nie. Mansvelt, Proeve van een Kaapsch-Hollandsch Idioticon (1884), gee banje (met wisselvorme bajang en baing), gonje- of gonjingsak, en fraains; die ander woorde ontbreek by hom. Die Patriot-woordeboek gee in die Afrikaans-Engelse deel (1902) net baing (met die wisselvorm banja), maar in die Engels-Afrikaanse deel (1904) kry ons kastanje en franjiis as vertalings van chestnut en fringe. Wat moet 'n mens uit skryfvorme soos gonjing, franjiis en kastanje aflei? Sou dit inderdaad wees dat in dié tyd die uitspraakvorme fraiing, goiing, kastaiing nog nie so vas en algemeen was soos vandag nie, of het ons hier net maar te make met die onvermoë van die eerste optekenaars van Afrikaans om die van Nederlands afwykende uitspraakvorme suiwer te hoor en min of meer duidelik op skrif weer te gee? Waarskynlik wel die laaste, want in die eerste druk van die Akademie-woordelys van 1917 staan al net fraing, going en kastaing; by baing is daar die wisselvorme baie en baje (banja, banje is verwerp), terwyl pluiings nog nie naas pluiens erken is nie. Tog is ek geneig om aan te neem dat die wegwerk van die konsonantverbinding -nj- in die woorde van hierdie groep betreklik laat plaasgevind het. As dit anders was, waarom kry ons dan so konsekwent in ons bronne die behoud van -nj- in banje (1769, 1780), banjer (1803 - kyk Tydskrif vir Wetenschap en Kuns, Mei 1947, bl. 26 i.v. baie), banjang (1805 - t.a.p.) en verder in soortgelyke vorme tot in die 20ste eeu? Ons het hier tog nie met 'n tradisionele, uit Nederlands stammende spelvorm te make nie. In die algemeen kan ons sê dat die proses waardeur die woordeinde -en, -e of -nje hetsy deur fonetiese, hetsy deur analogiese oorsake deur -ing vervang is, aan die Kaap groter momentum gekry het as in Nederland; dialekties Nederlandse vorme soos galling vir galg, en swaling, peuling vir zwaluw, peuluw, toon dat die proses daar soms ander woorde getref het as by ons. Eers 'n opsetlike en stelselmatige ondersoek van Nederlandse dialekte, soos van Afrikaans gemaak is, sal aanwys hoe ver en in watter rigtings die proses in Nederland inderdaad gegaan het; daardeur sal dit miskien duideliker word wat in Afrikaans alles ook op hierdie terrein sy oorsprong in die 17de- en 18de-eeuse Hollands het. Die kanse is groot dat vorme op -ing wat vroeër in Hollands bestaan het, reeds heeltemal verdring is onder invloed van die gekultiveerde Nederlands van die omliggende kultuursentra, soos b.v. in Afrikaans vandag die uitspraak Lawwerskaiing verdring word deur die ‘beskaafder’ vorme op -anje of -agne (of selfs die verengelste uitspraak Labusjaan). Daarom sal dialekte buite die eintlike herkomsgebied van Afrikaans ook ondersoek moet word. Miskien sou nog intensiewer ondersoek van vroeë Kaapse argivale bronne iets meer kan oplewer as wat tot hiertoe gevind is, maar daardoor is ek nie baie hoopvol gestem nie: die aard en omvang van ons bronne, veral van voor omstreeks 1720, is daar nie na nie. Universiteit van Kaapstad. J. du Plessis Scholtz. |
|