| |
| |
| |
Die groei van die Afrikaanse prosa: 1910-1935.
Om 'n terugblik op die wonderbaarlike ontwikkeling van ons prosa gedurende die afgelope kwarteeu te vergemaklik teken ek hier 'n paar belangrike datums op:
Johannes van Wijk (1904).
Stukkies en Brokkies (1911).
Vergeet nie (1913).
Teleurgestel (1916).
Uit Oerwoud en Vlakte (1921).
Kees van die Kalaharie (1929).
Afrikaanse Bybel (1933).
Bande (1933).
Piet Retief (1906).
(Later Ons Weg deur die Wereld) (1914).
Twee Susters (1914-Hertzogprijs).
Die Nuwejaarsfees op Palmiefontein (1918).
Ampie I (1924).
Hans die Skipper (1930).
Groei (1933).
Vuurvlieg en Sterre (1934).
| |
Die Propaganda-periode 1910-1921.
By die totstandkoming van die Unie kon daar nog geen sprake wees van 'n prosakuns nie. Die taalstryd was nog in volle gang, en ofskoon daar in die groot aantal polemiese geskrifte telkens brokstukke van geesdriftige welsprekendheid voorkom, het die letterkundige pogings nog maar weinig beteken. Die leiers van die Tweede Beweging het egter goed besef dat al die redenasies oor taalkwessies ons nie veel verder sou bring nie. In 1907 pleit Jan Celliers met groot erns vir 'n eie letterkunde:
‘Maar dit is voor elke Afrikaner duidelik dat slegs 'n eige letterkunde, deurtrokke van die Afrikaanse gees en vir Afrikaners verstaanbaar, deur en deur in taal en inhoud, dat so 'n letterkunde alleen bereken is om hier werkelik doel te tref. Wie wil ons help om so 'n letterkunde voor ons mense op te bouw? Ons het 'n volk om te behou, ons het 'n nasie om op te voed; ons kannie wag nie!’
Let op die woorde: ‘Ons kan nie wag nie!’ Daar moes bewyse gelewer word van die voortreflikheid van die Afrikaanse taal. Elke nuwe Afrikaanse boek was 'n wapen in die stryd. Die Hoog-Hollandse party, wat triomfantelik uitgeroep het: Afrikaans het geen letterkunde nie! moes stilgemaak word. As gevolg van die
| |
| |
koorsagtige strydstemming het daar baie minderwaardige prosawerke verskyn. In jeugdige oormoed het ons na die pen gegryp, nie juis omdat daar 'n heftige ontroering was, wat tot vertolking gedwing het nie, maar meer om te bewys dat die verguisde ou taaltjie ook sy man kon staan. Mooi word die mentaliteit van hierdie propagandaperiode gekarakteriseer deur die volgende naïewe uitlating van Ds. Brümmer:
‘As elkeen van nou af aan begin om vir sy boek stof bymekaar te maak, dan sal dit wel niet te lang duur nie of ons het 'n eie letterkunde.’
Gou genoeg het die eerste skrywers egter uitgevind dat die ruige volkstaal, hoe lewenskragtig en kernagtig dan ook, nie sommer dadelik omgetower kon word tot 'n geskikte literatuurmedium nie. By alle volke is hierdie veredelingsproses 'n langsame groei, wat parallel loop met die ontwikkeling van 'n eie kultuur. Wie vandag die werke van onze eerste skrywers deurblaai sal dadelik opmerk hoe hulle geweifel het tussen Hoog-Hollands en Afrikaans, en hoe diep die Anglisistiese kanker ingevreet het in die weefsel van hul styl. Laat ons egter onthou wat Newman gesê het:
‘In its earliest times, while it is yet unformed, to write in a language at all is almost a work of genius. It is like crossing a country before roads are made communicating between place and place.’
Met al hun gebreke het hierdie voortrekker-skrywers ons volk van 'n geestelike hongerdood gered. Hulle het eenvoudige leesstof gelewer toe baie begaafde Afrikaners nog stil gesit het, of niks anders as spot had nie vir 'n beweging wat 'n end gemaak het aan ons lang periode van geestelike knegskap. Dit is maklik om nou na die verskyning van Uit Oerwoud en Vlakte, Ampie en Groei te beweer dat die grootste gedeelte daarvan prulwerk was. Volgens 'n streng literêre maatstaf wàs dit prulwerk, maar ons mag nie vergeet dat dit tog voortreflike dienste bewys het in ons taal-en kultuurstryd nie. Dié van ons wat jongmense was in die eerste jare van die taalstryd sal nog onthou met hoeveel gejuig selfs die onbenulligste Afrikaanse boekie ingehaal is, hoe ons met vergeeflike trots gespog het oor die groei van 'n eie letterkunde. Die verskyning van 'n nuwe Afrikaanse boek was toe nog 'n gebeurtenis van belang, want die volk moes gered word, die nasionale bewussyn moes wakker gemaak word. En vandag? Na al die honderde toesprake oor die opbou van 'n eie kultuur
| |
| |
kan die verskyning van 'n Afrikaanse kunswerk, wat gunstig vergelyk met baie uit die buiteland, slegs geesdrif wek by 'n klein kringetjie boekliefhebbers, en laat dit die groot volksmassa totaal ongeroerd. Ja, selfs party van ons kultuurredenaars sal, as hul eerlik wil wees, moet erken dat hul heel weinig afweet van die nuwere Afrikaanse letterkunde.
Die eerste skrywers wou wel letterkundige genot gee, maar deur die drang van omstandighede moes hul ook regstreeks opvoed. Die volk was besig om te verbaster onder die oorheersing van 'n vreemde kultuur en 'n groot gedeelte het ekonomies so agteruitgegaan dat hulle alleen kon bereik word ‘langes die weg van die allernederigste eenvoud.’ By Langenhoven het die jammerte vir die onbevoorregte massa inderdaad dié ontroeringstaat gewek, waaruit besielde didaktiek kon ontstaan. Waar die mindere gode dit nie verder bring as soetsappige vermanings of sedesprekery nie, en van die letterkunde 'n propagandamiddel maak, voel ons by Langenhoven die trilling van 'n bewoë gemoed.
Met die groei van die volksbewussyn word die belangstelling vir die vaderlandse geskiedenis lewendiger, en een van die eerste werke van die Tweede Beweging was Preller se Piet Retief (1906), wat 'n bron van inspirasie vir digters en romanskrywers geword het. Maar by ons prosaïste ontbreek nog die skeppende verbeelding wat die historiese feite moet interpreteer en wat moet deurdring tot die innerlikste kern van 'n tydperk. Die historiese agtergrond dien meestal om 'n eindelose reeks avonture waarskynliker te maak. Die avontuurroman van hierdie periode het ek elders as volg gekarakteriseer: ‘Prikkel die nuuskierigheid 'n bietjie, sorg dat daar 'n paar waaghalsige vaderlandse helde en 'n klompie gewikste skurke of landverraaiers in optree, maak gebruik van al die konvensionele kunsies: 'n onverwagte erfenis, 'n geheimsinnige vondeling, 'n engelagtige meisie, wat deur 'n barbaarse rou-kaffer ontvoer en op die laaste minuut deur 'n übermensch gered word, ens., giet dan oor die hele kooksel 'n sentimentele sousie.... dit is die resep vir 'n suksesroman!’ In hierdie periode soek ons tevergeefs sielkundige diepte, fyn ontleding van menslike hartstogte, die saampak en ontlading van tragiese konflikte in onafwendbare noodlottigheid.
Jan Celliers skryf dit toe aan die groot stryd wat nog elke dag moes gestry word:
‘Ons roman is nog veel meer op handeling en vermenigvuldiging van gebeurtenisse aangelê as op karakterstudie....
| |
| |
Dis vir ons onmoontlik om soiets doodkalm te behartig en ons grote stryd te vergeet; onwillekeurig straal die stryd, en alles in verband daarmee in ons werk deur - romans, toneel, alles.’
En in Die Huisgenoot van Oktober 1919 verklaar J.W. dat ‘die grote gros van fatsoenlike mense 'n pittige, boeiende verhaal belaai met “kunsies” verkies bo 'n sielkundige studie van mens en natuur.’ Tog het die avontuur-roman van die eerste periode vermaak en nutte lering verskaf in die landstaal, toe daar nog weinig ander leesbare boeke was. Dit het gehelp om die nasionale eergevoel te laat ontkiem en die moontlikhede van die veragte kombuistaal geopenbaar.
| |
Die Oorgangstydperk na 1921.
Die propagandaperiode (1900-21) het op prosagebied dus wel lewe in ons letterkunde gebring, maar nie die hoër skoonheid van 'n kuns wat nou nog in staat is om ons te ontroer nie. Wie lees vandag nog die boeke van De Waal, Joubert Reitz, Tomlinson, Von Wielligh, Du Biel, Sadie Bosman, Slypsteen, P.R. Gauché e.a.? Party daarvan doen nog diens as kinderlektuur, maar die meeste is tog al lank vergete en het alleen nog kultuurhistoriese waarde.
In 1922 verskyn Onder die Olyfboom deur Fichardt, en Japie deur dr. van Bruggen. In hierdie romans kry ons nie meer 'n vernuftig immekaar gepeuterde intrige nie, maar die eenvoudige geskiedenis van 'n mens. Die kakelbont avonture, afhanklik van die willekeur van die skrywer word vervang deur geestelike avonture, 'n noodwendige gevolg van sekere karaktertrekke. Die hooffigure is lewende mense, wat 'n eie emosionele lewe het. Hulle is verteenwoordigers van die klas ontwikkelde Afrikaner, wat deur middel van eie ondersoek of op die universiteit kennis gemaak het met die moderne wetenskaplike opvattings, en nou met hul ‘verligte’ denkbeelde op allerhande patriargale oorblyfsels in die Afrikaanse samelewing stuit. Ons kry nou die mens wat ly deur die teenstrydige magte in sy eie siel; daar ontstaan 'n drang om agter die gewone daaglikse uiterlikheidjies te soek na die verborge sin van die lewe. Dit is presies dieselfde ontwikkelingslyn wat Stoddard ook opgemerk het by die Engelse roman: ‘The description of the external, objective, carnal, precedes in every form of expression of which we can have records, the
| |
| |
consideration of the internal, the subjective, the spiritual. We go from shapes and forms, and bulk and externals, to the presentation of the life within.’
| |
Ampie, Die Eerste Lewende Mens in die Roman.
Die twee romans van Fichardt en Jan van Bruggen was nog maar onsekere klanke wat die nuwe rigting ingelui het. In Ampie (1924) kry ons die eerste volledig lewende Afrikaanse mens in ons prosaletterkunde. Eindelik 'n mens.... wat nie semels in sy ingewande het nie! 'n Lewe, wat as vanself, ongedwonge, ontwikkel. So voortreflik was die tekening van hierdie figuur dat Ampie binne korte tyd dwarsdeur die land bekend geword het as die simboliese verteenwoordiger van die armblanke. Van Bruggen se sukses het soveel ander skrywers aangemoedig om die psige van die veragterde Afrikaner uit te beeld, dat 'n vrouwevereniging, die N.C.V.V., onlangs moes protesteer teen die voorskryf van sulke boeke vir ons openbare eksamens!
Byna gelyktydig met Ampie verskyn Marie Linde se Onder Bevoorregte Mensce (1925) waarin o.a. die botsing tussen uitheemse idees en voorvaderlike sedes ook sterk beklemtoon word. Dit is 'n motief wat baie ander skrywers ook uitgewerk het, o.a. Langenhoven in Doppers en Filistyne (1922) en Van den Heever in Groei. Die ou Boerebeskawing mag nog wel op die platteland bestaan, maar in die groot dorpe en stede moes die afstammelinge van die patriargale boer hul gedurende die laaste kwarteeu aanpas aan al die ingewikkelde verhoudinge van die ‘moderne’ maatskappy.
| |
Kunsprosa.
Drie jaar voor die verskyning van Ampie het 'n jong Stellenbosse student, Sangiro, op oortuigende wyse getoon dat ons prosa definitief die stadium van kunstprosa bereik het. Uit Oerwoud en Vlakte (1921) is die produk van 'n skeppende verbeelding, wat ons op een lyn kan stel met die verskuns van ons digters. Met gebruikmaking van die Nederlandse taalskat skep Sangiro uit die sappige volksidioom 'n literêre uitingsmiddel, verfynd genoeg om selfs die onvatbaarste gewaarwording uit te beeld, tekenend genoeg om die geringste beweging van gedagte en aandoening weer te gee. By Sangiro sien ons presies dieselfde ontwikkeling as by die romansskrywers: van die uiterlike be-
| |
| |
weging tot die innerlike roersels. Hy word soos 'n voortrekkerseun groot met die geweer in die hand in Oos-Afrika. En tog sien hy in elke leeu en renoster veral 'n persoonlikheid, ‘in sy soort ruim so interessant as dié van die mens.’
In 1922 begin Langenhoven sy rubriek Aan Stille Waters. Hy verras ons deur die speelse kronkelinge van sy sprankelende gees; die skielike blitsliggies van 'n ratse verstand flikker en dans deur sy lugtig geboude periodes. Dan dreun die hamerslae van sy logies redenerende verstand weer op die yster van sy argument, totdat die vonke rond en bont spat. Somtyds word sy stem teer van aandoening; dit ruis op uit dieptes van innige gevoel, en as hy wegraak in sy fantasieë is dit of die klank van sy rustige volsinne wegdein in vertes van huiwerende weemoed....
Preller het in 1906 al kunsprosa geskrywe, want, afgesien van sy historiese waarde, was Piet Retief die eerste prosawerk van die Tweede Beweging wat letterkundige verdienste gehad het.
Preller se styl het 'n eie geluid, en ofskoon hy geen eintlike verteller was nie, kon hy historiese gegewens tot 'n aangrypende verhaal omwerk. Onder die eerste skrywers het hy as stilis feitlik alleen gestaan totdat D.F. Malherbe in 1913 ons verras het met sy digterlike prosa in Vergeet Nie.
D.F. Malherbe, Jochem van Bruggen, sangiro en Langenhoven, hierdie viertal was - na Preller - die eerste prosaskrywers wat werklik styl gehad het. Daar was baie ander wat op verstaanbare wyse hul gedagtes in leesbare Afrikaans uitgedruk het. Maar by hulle vind ons 'n persoonlike visie, 'n eie klank en lewensritme, 'n meesterskap oor die taalmaterie; nie net praattjies oor die lewe nie, maar 'n uitstraling van innerlike belewing.
| |
Die Afrikaanse Bybel.
Die Afrikaanse Bybel sal ongetwijfeld, net soos die Nederlandse Statevertaling, 'n weldadige en verreikende invloed op ons prosakuns uitoefen. Ook in die Engelse letterkunde van die afgelope driehonderd jaar kan ons die invloed van die Bybel naspew van Milton tot by Bernard Shaw, en tereg het Thackeray verklaar: ‘It is in everything we see, hear, feel, because it is in us, in our blood.’ Gelukkig is ons Bybelvertaling nie onderneem aan die begin van die Tweede Beweging nie, toe selfs ons beste skrywers nog geworstel het met 'n weerbarstige taalmaterie. Die taak is uitgevoer nadat Afrikaans 'n veredelingsproses deurgemaak had,
| |
| |
nadat daar feitlik eenstemmigheid bereik is oor wat as algemeen beskaafd moes beskou word. Dis miskien te gou om nou reeds 'n finale oordeel oor die Afrikaanse Bybelvertaling uit te spreek, maar ons kan tog veilig konstateer dat die verhewe eenvoud, statigheid en gewyde erns van sy styl 'n heilsame invloed op die ontwikkeling van ons prosa sal uitoefen.
Die Bybelvertaling sal ons in staat stel om met fyner onderskeidingsvermoë die gevoelswaarde van volksuitdrukkings en gesegdes te beoordeel, want dit gebeur nog te dikwels dat ons godsdienstige verrigtinge ontsier word deur plattaal, wat wel tipies-Afrikaans mag wees, maar tog nie pas in die gewyde atmosfeer nie. Ek herinner my hoedat 'n prediker 'n twintigtal jare gelede ewe ernstig kon uitroep: ‘Broeders en susters, ons moet vanaand de ou duiwel opdons tot in die populierbos!’ So bont sal geen kanselredenaar dit vandag wel maak nie, veral as hy die Afrikaanse Bybel as toetssteen van goeie smaak en suiwere styl gebruik.
| |
Verinnerliking en verdieping.
Heel treffend word die snelle groei van ons prosa aangetoon deur die blote vermelding van 'n paar feite. In 1914 word met die Hertzog-prys van die Akademie bekroon Twee Susters van Chris Euvrard, 'n onbenullige oorlogsverhaaltjie, vandag totaal onbekend, en in 1925.... Ampie. Wanneer die Letterkundige Kommissie in Augustus 1933 die Hertzog-prys moet toeken, dan word gerapporteer dat in die vorige drie jaar nie minder as sewentig prosawerke verskyn het nie. Ofskoon ouer skrywers soos Leipoldt, Langenhoven, De Waal, Léon Maré, D.F. Malherbe en Van Bruggen nog steeds produktief was, het daar 'n nuwe geslag prosaïste opgestaan. Baie van die jongeres het alleen kinderboeke en ontspanningslektuur gelewer; die merendeel het dit nie verder as 'n leesbare middelmatigheid gebring nie; maar onder die nuwere skrywers is daar tog enkeles wat wesenlike talent geopenbaar het. Ek dink veral aan C.M. van den Heever, Jonker en die Hobson's. Verblydend is dit dat die vrou 'n steeds belangriker wordende rol in ons letterkunde begin te speel. Anna de Villiers, Lulu Brewis, Helmuth Lüttig, M. Theron en Helen Blackmore het verdienstelike werk gelewer.
As ons die werk van hierdie tydvak vergelyk met dié van 'n vorige, dan word dit duidelik dat die peil van ons prosa aanmerklik gestyg het. Die periode waarin 'n skrywer uit pure vader-
| |
| |
landsliefde 'n storie immekaargeknoei het, en ewe gemaklik 'n uitgewer kon vind is vir goed verby. Dit is vandag 'n uitsondering as daar 'n heeltemal minderwaardige prul verskyn.
Onder die jongeres is Van den Heever, Jonker en die Hobson's ongetwyfeld die kragte van die toekoms. Elders het ek hulle werk breedvoerig bespreek en ek bepaal my hier tot enige vlugtige opmerkings. Van den Heever en Jonker gee ons veel meer as knap vertelde gebeurtenisse. By hulle vind ons nie net 'n interessante kopie van die werklikheid nie, maar lewenskonsentrasie en lewensintensivering in 'n heg geboude raamwerk. Deur skerp indringende analise openbaar hulle die innerlike lewe van hul karakters tot in die fynste skakerings. Uit die gewir-war van die daaglikse lewe gryp hul die essensiële en bou daaruit vir ons op 'n klare lewensbeeld. Vuurvlieg en Steere en Bande is seker die twee beste bundels kort-verhale wat ons het, terwyl Groei met sy breedopgesette skildering van ons wordende volkslewe in al sy lae tot ons beste romans moet gereken word.
Jochem van Bruggen se werk bly nog altoos belangrik, ofskoon dit in hoofsaak 'n voortborduring op bekende motiewe is. Veel kan ons seker nog verwag van D.F. Malherbe, wat deur Hans die Skipper en Die Hart van Moab getoon het dat hy aan die spits van ons prosaïste staan. Onder die allerjongste werk is dit veral Mikro (Toiings) en Botha (Joggie) wat ons ontroer deur suiwerheid van siening en innigheid van deurlewing. Sulke werke toon definitief dat ons skrywers nie meer tevrede is met die buitekantse dop van die lewe nie, maar dat hul nou besig is om die interessante moontlikhede van die mens se binnewereld te ontdek.
Vrijheid, Natal.
Dr. P.C. Schoonees. |
|