| |
| |
| |
‘Ras’ en maatskaplike verhoudinge as agtergrond van die afrikaanse letterkunde
deur C.M. van den Heever
Almal wat na die kaart van Suid-Afrika kyk, word dadelik getref deur die uitgestrektheid van die land, die groot afstande wat die stede en dorpe van mekaar skei en uiteindelik die verwyderdheid van die hele land van die Wes-Europese kulturele voedingsbodem. Bekyk ons die oppervlakte noukeurig en ondersoek ons die bevolkingsverspreidheid, dan merk ons dat net sekere gedeeltes enigsins dig bewoon is. Daar is groot gedeeltes van die Kaapprovinsie, en enigermate ook van die Oranje-Vrystaat en die Transvaal, wat weens die skrale en weerbarstige aarde, die afwesigheid van 'n gereelde reënval, heel weinig mense gedoog. Daarteenoor vind ons 'n digter bevolking langs die kusstreek, wat van Kaapstad af opstryk na Natal, 'n streek waar die klimaat goed en die reënval bevredigend is. Die geografiese agtergrond van die land, die klimaatsomstandighede, die hele bodemgesteldheid het natuurlik geweldig bygedra om die Afrikaanse volkskarakter te vorm en die verskillende maatskaplike lae daar te stel. Die rol wat die water in die wording van die Hollandse nasionale lewe gespeel het, is reeds dikwels beklemtoon en besondere kenmerke van die volksgedrag daaruit verklaar. Dit is trouens 'n oorbekende feit dat bloot uitwendige, stoflike faktore, soos wat ons juis aangestip het in verband met die bodem waarop 'n volk geplant is, woon en ontwikkel, 'n blywende en diepgaande invloed moet hê op die geesteslewe, op die maatskaplike struktuur en reaksie-wyse van so'n volk. Om die wisselwerking egter na te gaan tussen die geestelike faktore wat oorgedra is en skeppend en wysigend werk op die nuwe omgang en die fisiese omstandighede wat help om nuwe karaktertrekke te laat ontplooi en te kweek, is so moei- | |
| |
lik dat mens telkens gevaar loop om allerhande veralgemenings te maak op grond van blote subjektiewe impressies. Die rol wat die groep in die ruimer kultuurverband speel, is uiters gewigtig, want die onderlinge afwisseling in die geheel,
hulle aansluiting met mekaar, hulle strewe, gevoelens en denkbeelde is belangrike vormfaktore vir nuwe kultuurontwikkeling.
Daar word gewoonlik gepraat van die Hollandse ‘volksplanting’ aan die Kaap, en dan dink ons aan Jan van Riebeeck en die groepie blankes wat saam met hom aan die voet van Tafelberg gaan woon het in 1652. Hulle het uit Nederland gekom in 'n eeu toe die moederland 'n merkwaardige opbloei van kultuurlewe en ekonomiese ontwikkeling deurgemaak het. Die godsdienstige en maatskaplike opvatting van die Nederland van die Sewentiende Eeu is dus hier aan die Kaap de Goede Hoop oorgeplant. Wat gekweek is in die land van geloofstrijd, van water en vogtige klimaat, is oorgedra in 'n land waar die sonnige dae oorheers, waar die land self nog oorwin en makgemaak moes word, waar die inboorling primitiewe opvattings van die lewe gehad het en 'n nuwe ‘lewenstegniek’ - om dit dan so uit te druk - ontwikkel moes word. Al die belangrijke aanpassingsmoeilikhede kan dus hier werwag word.
By hierdie groepie kom 'n Franse en 'n Duitse element, en langsamerhand kristalliseer daar uit die velerlei invloede 'n nuwe kern wat ons die Afrikaanse nasie noem. Dit is dan ook te verwagte dat selfs die Nederlandse taal in die nuwe gebied en onder die invloed van talryke vervormingskragte verander en vereenvoudig word in 'n nuwe, tog nou verwante taal met die profetiesklinkende naam: Afrikaans. Die klein groepie wat by Tafelberg 'n stryd om lewe en dood gevoer het, brei uit. Ons kry 'n nuwe tipe, die trekboer, wat terwille van die veehandel diep die binneland indring en die weg voorberei vir die beskawing wat uit die Suide aangolf. Gedurende hierdie proses van verowering vind ons ook dat die verhouding tussen blanke en inboorling vasgestel word. Aan die einde van die Agtiende Eeu is dit reeds suiwer gevorm en die houding word net deur die latere Groot Trek verskerp. So skrywe C. de Jong in 'n brief gedateer 20 Desember 1729 van die Kapenaars: ‘Van den jeugd gewoon, slaven te ge- | |
| |
bieden, gelooft hy zich boven alles verheven en kan slecht gehoorsamen... Dit hoog gevoelen van zich zelven maakt, dat zelfs een boer zynen staat met dien van niemand verwisselen zoude. Op de naam van Africaan is hy trotsch; Kaapsche Burger schynt hem een grootsche titel.’ Reeds in 1788 is ernstige beswaar aangeteken deur drie burgers omdat 'n sekere persoon as Korporaal aangestel is ‘vermits derselven Swartrytig van couleur, en van Heydenen afkomstig zou zyn.’ Die groot skeidslyn, onoorbrugbaar en skerp, tussen blanke en nie-blanke het histories gegroei en 'n onwrikbare wet geword. Maar ons vind dat daar intussen reeds 'n groep ontstaan het, naamlik die kleurlinge, wat die beste bediendes van die blankes is. Teenoor die kleurling neem die blanke 'n houding van meerdere aan, maar die houding verskil aansienlik van sy optrede teenoor die primitiewe naturel. Ook die kleurling het op sy beurt 'n houding van meerderwaardigheid teenoor die naturel
wat belangwekkend is en tot vandag toe nog deurwerk. Onder die Afrikaners self - 'n benaming wat al meer op die voorgrond tree - ontstaan daar ook verskillende bevolkingstipes. Ons het reeds gewys op die trekboer, met sy ongedurige natuur en lus om steeds verder die binneland in te gaan, ververwyder van die kontak met Europese invloede. Hy hou weinig daarvan om die land rustig te verbou en eindeloos proefnemings te doen met wat die beste soort boerdery is. Hy wil steeds voort. Ver in die binneland, in die hart van die eensaamheid en wildernis, verrys daar wonings. Die maatskaplike samelewing hier moet noodwendig verarm. Deur middel van die Bybel word die godsdienstige karakter dieper ingeskerp. 'n Patriargale lewenswyse ontstaan, en waar die omstandighede van noodgedwonge samewerking met die medemens verminder, soos die geval altyd is in dun bevolkte dele, daar vind 'n buitengewone neiging plaas om baie individueel op te tree, om vry en onafhanklik te handel. Daar kom al meer 'n liefde vir die ruimte, ver weg van mense, en 'n drang ontstaan om te ontwikkel sonder inmenging van 'n onsimpatieke gesag. Dat dit alles later 'n groot terugslag moes hê op 'n gevestigde maatskappy, word duidelik bewys deur die opmerkings wat die Armblanke-Kommissie in hulle verslag maak.
Aan die begin van die Neentiende Eeu kom daar 'n groot
| |
| |
verandering in die hele samelewing aan die Kaap. Ons het reeds enigermate die teenstelling tussen stad en platteland aangedui. Aan die een kant is daar Kaapstad en omgewing waar 'n gesete burgery ontwikkel en 'n Dietse beskawings-ondergrond nog sterk voelbaar is. Daarteenoor die steeds uitbreidende plattelandse beskawing, wat eenvoudig, dikwels primitief is in 'n omgewing waar die mens hom in allerlei omstandighede self moet kan help. Hier ontwikkel die eintlike tipiese Afrikaanse karaktertrekke die duidelikste en word die grondslag gelê vir die Afrikaanse vryheidsidee wat later tot 'n groot stu-krag sou ontwikkel. Aan die begin van die Neentiende Eeu word hierdie sosiale grondslag deur staatkundige omstandighede in die wortel aangetas en moet diepgaande wysiginge volg. Die Kaap word 'n besitting van Engeland, en soos die historicus Theal daarop wys, was dit 'n uitgemaakte saak vir die nuwe bewindhebbers dat die 30,000 Afrikaners hier so gou as moontlik in die Engelse beskawingstroom opgeneem moes word. ‘It seemed absurd that such a small body of people should be permitted to perpetuate ideas and customs that were not English in a country that had become part of the British Empire.’ Daarom word die Hollandse taal se krag oral verswak en verdwyn dit uit die staatsdepartemente en die onderwys. Selfs dring Engels die bolwerk van die Hollandse beskawing n.l. die Kerklewe sodanig binne dat hier later op gesette tye - hoe vreemd klink dit nie vandag nie! - Engelse preke gelewer is. Hierdie omwenteling wat kragdadig en bewus voortgesit word, het tot gevolg dat, in die stede veral, die maatskaplike lewe van die Afrikaner in die Neentiende Eeu 'n grondige verandering ondergaan. Die Engelse vormlewe dring deur. Gebruike in die daaglikse omgang, aan die tafel, in die gesprekke, in die houding teenoor mekaar word op 'n Engelse lees geskoei, of dikwels kry ons 'n vreemde vermenging van Hollandseen Engelse gebruike. Twee maatskaplike
wellewendheidsvorme raak deurmekaar gevleg, en alhoewel die platteland sy Afrikaanse karakter behou, word die stede al meer Engels gekleurd. Die Groot Trek, wat die ontstaan van die twee Boere-Republieke in die Noorde ten gevolge het, red 'n groot deel van die Afrikaanse beskawing, wat vinnig besig was om verswelg te word. Dit roep ook nuwe stede en nuwe
| |
| |
maatskaplike verhoudings in die lewe. Die Engelse sendelinge se verwronge opvatting teenoor die naturelle skep veel bitter gevoel en is verantwoordelik vir baie ongunstige reaksies van die Afrikaanse kant. Dit spreek vanself dat die groot historiese gebeurtenisse, soos die Eerste en Tweede Vryheidsoorlog, die vyandigheid tussen Afrikaner en Engelsman baie aangeblaas het. Dit werk deur in die hele maatskaplike lewe en laai hoog op in die party-politiek.
In die letterkunde kry ons 'n afbeelding van bepaalde gedagtes en opvattinge, van rigtings en oortuigings, nie alleen by die individuele kunstenaar nie, maar deur hom, as die gevoelige orgaan van sy tyd, van wat daar in die verskillende maatskaplike lae en groepe van die gemeenskap gedink, gedroom en gedaan word. So vind ons in die bepaalde stof wat 'n kunstenaar behandel en deurskou, sy beperktheid, 'n begrensing wat eie is aan alle menslike dade. Maar alleen deur die weergawe van 'n stuk ervaring, van die belewingswêreld van 'n mens, kan ons ook 'n uitsig kry op die ewige, waarin al die kleinere opvattinge uitmond. Dit is dus duidelik dat as ons die letterkunde bestudeer, ons sal afkom op die maatskaplike lewe in al sy verwikkeldhede, en agter die maatskaplike lewe al die talle indiwiduele kragte en bevoegdhede sal ontdek wat die onbewuste omhoogstu na die terrein van die bewuste, wat die benede-kultuurlike vorme adel tot kuns. Geen wonder dat Mackenzie in sy werk oor die evolusie van die letterkunde, die letterkunde self bestempel as ‘essentially a social phenomenon’. As ons 'n grondige begrip van die Afrikaanse letterkunde wil kry, moet ons dus ook 'n deeglike kennis dra van die geskiedenis-agtergrond en maatskaplike ontwikkeling wat soveel anders is as in ander lande; hier die nuwe groei is bepaal deur 'n nuwe wêrelddeel, ver verwyder van die Wes-Europese kultuurinvloede. Professor I. MacCrone, van die Universiteit van die Witwatersrand, het in 'n deeglike en goed gedokumenteerde werk die ontstaan van die rasseverhoudinge in Suid-Afrika nagegaan. ‘Race attitudes’, aldus die skrywer, ‘are the social products of the life of a group whose individual members have all been exposed to the same kind of psycho-social environment for a given length of time. As social, these attitudes may be regarded as the expression of the underlying unity
| |
| |
of the group since they are shared in common by all its members and provide the means by which each individual can identify himself with his own particular group or groups.’ Daar kan wysiginge in die houding wees volgens die individue, maar maatskaplik word dieselfde patroon steeds weer gevind in elke individu en daardeur word 'n kenmerkende groepseenheid bewaar. 'n Bepaalde maatskaplike houding is altyd deel van die maatskaplike erfenis van 'n sekere groep. So het elke maatskaplike gewoonte 'n geskiedenis en word daar kontinuïteit bewaar tussen die hede en verlede van die groep. Inderdaad het ons hier te doen met die land se grootste vraagstuk. Alleen as ons die letterkunde betrag van uit 'n standpunt wat volledig rekening hou met rasse- en maatskaplike verhoudings, sal baie dinge vir ons helder word wat vroeër vreemd en onverklaarbaar gelijk het. Vir 'n dergelike beskouing is dit ook nodig dat ons rekening hou met 'n opvatting in die volkskunde, wat veel daartoe bygedra het om die lang verwaarloosde skeppingskragte van die volk self te benadruk. Daardeur leer ons verstaan hoe die onder-kultuur of die volkskultuur steeds die bowe-kultuur deurdring met onbewuste invloede en dit voed, hoe dit verryking vir die kunstenaar bring wat geneig is om te veel die individualistiese weg op te gaan. Daarteenoor sak en syfer die invloed van die bowe-kultuur langsaam deur na die onderste lae en vind ons dus 'n vrugbare, wedersydse samewerking. Deur 'n ondersoek in te stel na die maatskaplike ondergrond waarop die letterkunde rus, beteken dus nie dat ons die suiwer estetiese aspek wil verwaarloos nie. Ons wil alleen die begrip van die Afrikaanse letterkunde daardeur op 'n wyer grondslag plaas. Om die uiteensetting so oorsigtelik as moontlik te maak, wil ons wys op die samestelling van die Unie van Suid-Afrika se bevolking. Volgens die sensus-opname van 1936 was die getalle as volg: blankes 2,003,857; Asiate 219,691; naturelle 6,596,689;
kleurlinge 769,661. Die totaal beloop 9,589,898. Die verhouding teenoor mekaar is as volg: blankes 20.9%; naturelle 68.8%; Asiate 2.3%; kleurlinge 8%; totale aantal nie-blankes: 79.1%. Belangwekkende besonderhede word ook deur die jongste sensus-uitslag verskaf ten opsigte van die gebruik van Afrikaans en Engels in Suid-Afrika. Volgens hulle self aangedui praat 1,120,770
| |
| |
persone in die Unie Afrikaans, tesaam 783,071, wat Engels gebruik. Die platteland is vrywel oorwegend Afrikaans. Mens verneem dikwels dat die stede daarteenoor heeltemal Engels is. Tog blyk uit die sensus-opgawe dat in die stede en dorpe 53% van die bevolking Engels besig in hulle huis en 41% Afrikaans.
In Suid-Afrika verkeer ons nog in die toestand dat die naturel, wat op die onderste sport van die kultuurontwikkeling staan, heel weinig bydra tot die ontwikkeling van die kultuur en letterkunde. Hy verdien weinig en kan nie juis as 'n ekonomiese krag beskou word nie, behalwe in die opsig dat hy goedkoop arbeid verskaf. Deurdat die naturel op so'n lae ontwikkelingspeil staan en dit nog lank sal duur voordat die massa tot groter bewuste lewe gegroei het, is dit duidelik dat, behalwe volkskuns wat nog net mondeling bestaan (ons dink aan die sogenaamde ‘prysliedere’) en die weinige wat daar opgeteken is, die letterkunde van die eintlike naturel eers later sal ontluik. Enkele naturelle-skrywers, wat individueel voel en probeer om vorm te gee aan wat daar omgaan in die harte en gedagtes van die swart massas, is hoë uitsonderinge. Ook by die naturel, soos elders in die wêreld, waar 'n primitiewe kultuur in aanraking kom met 'n hoogontwikkelde Europese beskawing, vind daar 'n grootskeepse ontstamming plaas. Die ou, bodemvaste kultuur en stamopvattings word ontwrig en ons kry wesens wat tussen twee wêrelde hang, sonder geestelike houvas, losgeraak van sy tradisies en tog onmagtig om volledig op te gaan in die nuwe, die ander kultuur wat hom lok en bekoor.
Die grootste vraagstuk van Suid-Afrika, n.l. die behoud van 'n blanke beskawing in 'n omgewing waar die naturel hom in getalle ver oortref, is nog deur geen enkele Afrikaanse skrywer aangepak en as vraagstuk, deur middel van lewende karakters en oortuigende omstandighede, aangrypend uitgebeeld nie. So ernstig is hierdie probleem dat die heer Cousins, wat destyds hoof was van die sensus-afdeling in Suid-Afrika, by sy bespreking van die sensus-opname van 1921, die opsienbarende verklaring gemaak het: ‘As die vooruitgang van die bevolkingsgetalle van die laaste dertig jaar nie in 'n teenoorgestelde rigting omgewend word nie, moet die blanke tot 'n gestadig terugkerende minderheid... teenoor
| |
| |
die groeiende en tenslotte oorweldigende meerderheid van die naturel word.’ Die sendeling en matematikus, Dr. A.W. Roberts, het hierdie opvatting egter bestry en die mening uitgespreek dat die inboorlingbevolking in 1947, wat getalle betref, feitelik sal bly staan op ongeveer 6,300,000. In die Afrikaanse Letterkunde is hierdie vraagstuk hopeloos onvoldoende uitgebeeld. Dit is dan ook opvallend dat in soveel Afrikaanse toneelstukke die outa en aia net dien om deur middel van hulle koddige Afrikaans en potsierlike fratse op die verhoog, die laglus gaande te maak. In sy roman Booia het Jochem van Bruggen 'n belangrike kant van die vraagstuk beklemtoon n.l. die ongedurigheid en treklus van soveel naturelle en die invloede wat op hulle inwerk. Van oudsher is die vyandigheid en verontwaardiging van Afrikaners gaande gemaak deur 'n tipe sendeling, 'n agterstevoor-filantroop, wat weinig van Suid-Afrika se probleme begryp en hoegenaamd geen kennis dra van die naturel se mentaliteit nie, maar nogtans, kersvers in die land aangekom, allerhande wysheid begin lug oor die manier waarop die arme, onskuldige naturel onderdruk word! Afrikaners moet nog dikwels van vreemdelinge, wat 'n vlugtige reis vanaf Kaapstad na die Kruger-wildtuin maak, hoor hoe verkeerd hulle hierdie vraagstuk aanpak en hoe maklik dit opgelos kan word! In die Afrikaanse Letterkunde sal die leser herhaaldelik 'n troue, edelmoedige soort naturel ontmoet wat onder die Afrikaners grootgeword het, feitelik 'n swart ‘Afrikaner’ in die beste sin van die woord is, betroubaar, deeglik, godsdienstig en beleefd. Mens moet na hierdie tipe kyk, 'n tipe wat deur die Boere-beskawing gekweek is, om te besef dat die Afrikaner se houding teen die naturel wel streng is, maar regverdig, dat hy sy blanke meerderwaardigheidsgevoel handhaaf op 'n wyse wat tegelijkertyd menslik en Christelik is. Dit is ook seker merkwaardig dat Engelse wat 'n tydlank in die land woon, presies dieselfde houding
teenoor die naturel ontwikkel wat al tradisioneel geword het. Selfs die twee Rhodesië's volg, deur ervaring daartoe gedwing, nou die beleid wat in die Unie van Suid-Afrika as die enige beskou word. Reeds in 1878 het A. Aylward in sy boek The Transvaal of Today geskrywe: ‘The Boers are constantly spoken of as treating their servants with great harshness. This charge I
| |
| |
cannot endorse. In the few pages which I have devoted to the condition of their domestics, I have shown them to be a contented class, faithfull and attached to their masters... Nothing marks more distinctly how far behind the Dutch other Europeans are in their management of natives, than the superior respect shown even to the youngest child in a Dutch house by blacks who would be savagely insolent to Englishmen and others. The native, whether servant or visitor, who crosses the threshold of a Dutchman's dwelling, does so always with smiling civility and uncovered head.’
Dit is die verhouding van blanke tot naturel; die blanke se verborge vrees vir oorrompeling en verbastering; die naturel se gevoel - in soverre sommige bewus is daarvan - dat toestande in die toekoms baie moet verander om aan hulle 'n beter staanplek in die ekonomies-maatskaplike struktuur van die land te gee, wat 'n groot rol in Suid-Afrika speel. Die fynere verhoudinge tussen die twee rasse sal in die toekoms ongetwyfeld 'n vrugbare terrein wees vir skrywers om motiewe uit te put. Hoe meer die vraagstuk en die naturel in 'n suiwerder menslike lig gesien word, des te meer sal die skrywers hulle geroepe voel om indringender, met 'n volle besef van hulle verantwoordelikheid as blankes, oor die vraagstuk te skrywe. En tegelykertyd sal die naturelle, deur evolusie daartoe gebring, hulle eie skrywers lewer, wat die vraagstuk, van hulle eie kant beskou, sal uitbeeld en dit so duideliker onder die aandag bring. Wat daar op hierdie gebied tot dusver deur Afrikaanse skrywers gelewer is, is inderdaad skraal en fragmentaries as ons dink aan wat 'n outeur, wat kan peil tot die groot en tragiese konstraste wat die hele stof inhou, daar werklik van kan maak.
Naas die naturelle moet die kleurlinge genoem word, en daar moet nadruk op gelê word dat hierdie groep in 'n snaakse spanningswêreld lewe tussen blanke, die betreklik nuwe komelinge in die land, en die naturel, die oorspronklike bewoner van Afrika. Die Afrikaanse skrywer Mikro het werklik veel gedaan om ons 'n insae te gee in die denklewe, in die onbekommerde bestaan van hierdie groep, wat meer as 'n halfmiljoen tel en wie se moedertaal Afrikaans is. In sy werke Toiings, Pelgrims (wat 'n vervolg is van Toiings) die bundel kort-verhale Rou Rieme en in Oeslande
| |
| |
gee hy blyke van voortreflike insae in die lewe en geestige omgangstaal van die kleurling. Veral in Oeslande raak hy die grotere probleem van botsing tussen kleurling en blanke aan.
‘Waarom,’ so het 'n kleurling-onderwyser een aand op enigsins gekweste wyse aan my gevra, ‘word die kleurling in die Afrikaanse Letterkunde (waarvan hierdie kleurling 'n deeglike en simpatieke kennis gehad het), altyd as enigsins komies voorgestel?’ Dit is inderdaad 'n vraag wat met erns gestel kan word, want baie skrywers voer die kleurling, met sy skilderagtige, beeldryke taal, alleen in hulle verhaal in as 'n grappige afwisseling nà die erns en spanning waarin verstandige wesens soos die blankes gewikkel is. Ook die naturel kan ernstig voorgestel word, maar die kleurling moet steeds gebuk gaan onder 'n grapperige gekskeerdery met sy persoon en dade. Of beskou die ‘volkies’ hulself nooit anders as in 'n komiese lig nie en ken hulle net die onbelemmerde vreugdegang van die lewe? Alhoewel Mikro die geestige en koddige in hulle taal suiwer aangevoel en weergegee het, kry ons by hom - selfs waar dit soms net aarselend deurbreek - die diepere in hierdie tragiese tussengroep se lewe, hulle hunkering na simpatie en liefde en hulle patetiese verlorenheid tussen blank en swart in. Daar sit meer as grapperigheid in die kleurling se uitroep: ‘Ek try vir witmens!’ Witmens kan hy nie word nie, alhoewel hy sy beskawing, al is dit dan op 'n laere trap, aangeneem het. Naturel wil hy nie wees nie, want dié staan te ver benede hom in begrip en dié het ook 'n swart vel. Ook hierdie konflik by die kleurling moet nog diep, met die oog op die verste wortels van die vraagstuk, uitgebeeld word. Dit is seker belangwekkend dat ons by hulle, soos Mikro voortreflik aangetoon het, veral by die ouere groep 'n navolging van die Afrikaanse kerklike tradisie kry, wat as gevolg van nabootsing deursak na karikatuuragtigheid, en by die jongere 'n naäping van Engelse stads-gewoontes - dink aan hulle ‘tea parties’ en pogings om ook ‘smart’ te wees - wat ongetwyfeld baie te doen het met
die komiese lig waarin hulle beskou word. Die kleurling is ongelukkig - juis omdat hulle in die Kaapprovinsie nog die stemreg besit - 'n volksgroep wat so in die politieke gedrang gekom het, dat die hele vraagstuk nouliks meer rustig weten- | |
| |
skaplik betrag kan word. Daarby kom nog die uiters tragiese van kleurlingbloed wat daar in 'n enkele familie loop, wat as blank geld. Regina Neser het in haar Kinders van Ismaël en Marie Linde in Bettie Maritz gewys op die groot lyding en ellende wat persone moet deurmaak wat ontdek dat alles met die bloed van hulle voorvaders nie pluis is nie. Uitsluiting uit die blanke gemeenskap moet onverbiddelik volg, en gevolglik vereensaming en verterende minderwaardigheidsgevoel. Met byna wrede nougesetheid probeer die Afrikaner om sy blankheid te beskerm teen verbastering, of soos een van die jonger Afrikaanse digters, N.P. van Wyk Louw, dit uitgedruk het na aanleiding van mense wat die probleem gladnie begryp nie en sanik oor sosiale gelykheid:
gestadig met woorde wat geen sin het,
van ‘breedheid’ en ‘gelykheid’, dat ons ras
kan wegsmelt in die donkerbloedige plas...
In hierdie kleurlinggroep is daar die Maleiers, oor wie se bydrae tot die Afrikaanse kultuur, hoofsaaklik hulle liedereskat, Dr. I.D. du Plessis, van die Universiteit van Kaapstad, 'n leersame studie geskrywe het: Die Bydrae van die Kaapse Maleier tot die Afrikaanse Volkslied. Hierdie groep, wat oorspronklik van Oosterse herkoms is, is egter lank nie meer suiwer nie. ‘Die Slamse samelewing aan die Kaap bestaan uit heterogene elemente,’ aldus Dr. du Plessis, ‘so vermeng dat 'n rasse-indeling uiters moeilik is: Die Bantu, negers, Hottentot en kleurling aan die een kant, en die Javaan, Arabier, Chinees en Ceylonees aan die ander kant, het o.a. tot die vermengingsproses bygedra. Voeg daarby die rol wat die Europeaan gespeel het, dan val dit lig te begryp dat die Kaapse Moeslims van vandag, tenspyte van sekere ras-egte trekke, in groot mate van die oorspronklike tipes afgewyk het.’ Tog is dit merkwaardig dat, ondanks die vermenging en die sterk invloede wat van buite op hierdie groep ingewerk het en gedreig het om hulle identiteit uit te vlak, die Kaapse Maleier, as lid van die Slamse bevolking van Kaapstad, sy individuele trekke behou het en deur sy aanraking met die Hollands-Afrikaanse kolo- | |
| |
niste en die deurvarende matrose 'n hele aantal liedere vir die Afrikaanse kultuurskat bewaar het. Baie Hollandse liedere wat vir die Afrikaners onbekend is, is deur die Maleiers bewaar en word nog deur hulle gesing. Die sogenaamde ghomma-liedjies, wat op hulle byeenkomste gehoor word, bevat liedere wat wel aan die Afrikaner bekend is, maar veel van hierdie stof is vir hom totaal onbekend. Die Maleier het dus 'n belangrike bydrae tot die Afrikaanse kultuurskat bewaar, en dit is die groot verdienste van dr. Du Plessis se werk dat hy veel van wat onbekend vir ons is of gedreig het om onder te gaan, opgeteken en toegelig het. So vind ons ook hier 'n bevolkingsgroep wat Afrikaans
as taal het en op hulle besondere wyse 'n kultuurlaag vorm waaruit veel goeds kan voortspruit, want ons moet onthou dat toestande, wat arbeider en kultuurdraer betref, in Suid-Afrika en Europa baie verskil. Daar n.l., in Europa, bestaan die onderste laag van die bevolking, die sogenaamde arbeider, uit blankes wat tot die eie nasie behoort. In Suid-Afrika word die hande-arbeid hoofsaaklik deur naturelle, kleurlinge en desnoods Maleiers gedaan. So het die ongelukkige begrip ontstaan dat die een of ander arbeid ‘kafferwerk’ is, en dus benede die waardigheid van die blanke staan. Die arbeidsliedere wat in die volksliedereskat van Europese volke 'n gewigtige rol speel, moet in Suid-Afrika, voorlopig altans, opkom uit die drie bevolkingsgroepe waarna ek verwys het. Wie in Suid-Afrika woon, weet egter dat ons in 'n land waar soveel rasse hulle heil wil uitwerk, baie saggies te werk moet gaan, omdat oneindig veel netelige probleme aangeraak work. Verstandige mense, wat angsvallig waak oor die behoud van die blanke beskawing in Suid-Afrika, wil, soos reeds aangedui, die kleurlyn, soos dit heet, streng gehandhaaf sien. Op maatskaplike gebied moet daar duidelike afgrensing wees. In die teorie mag dit mooi uitwerk, maar ons weet dat in die praktiese lewe, waar 'n deel van die blanke bevolking in 'n genadelose, weerbarstige land maklik nameloos kan verarm, die gevaar groot is dat die ou skeidslyn, wat deur die draers van die blanke beskawing na die Noorde, n.l. die Voortrekkers, diep ingeskerp is, kan verdwyn, terwyl 'n deel van die onderste lae, waartoe naturel, kleurling en Maleier behoort, natuurlik weer styg
| |
| |
in opvoeding en ekonomiese vooruitgang. Skrynend word dit uitgebeeld in Ampie, die armblanke, se verhouding tot die Indiër-handelaar, Ou-Moosa, of in P.W.S. Schumann se drama Hantie kom Huistoe, waarin die armblanke-familie baie meer tuis voel by die koelie as in 'n blanke se winkel.
Die Indiërgroep wat hoofsaaklik in Natal gekonsentreer is, maar oor die hele Unie versprei is, behalwe in die Vrystaat waar hulle hulle nie mag vestig nie, is 'n ander groep, 'n groep wat hulle hoofsaaklik op die handel toelê. Dat daar reeds gevalle voorgekom het waar blanke meisies, deur ekonomiese omstandighede daartoe gedwing, met Indiërs in die huwelik getree het, wys net hoe bedenklik die toestand kan word as daar nie 'n streng wakende oog gehou word nie. Om hierdie gevaar af te weer, is vir elke Afrikaner 'n saak van lewe en dood. Daar bestaan op hierdie gebied egter twee opvattings: die een groep wil deur wetgewing huwelike van dié aard verbied. Die ander groep meen dat wetgeving magteloos is om 'n pestilensie wat in die duisternis wandel, te vernietig en dat die aangewese middel is om die sosiale gewete te verskerp, die skeidslyn tussen blank en gekleurd deur die opvoeding van die openbare mening so duidelik te omlyn dat alle gevaar, deur hierdie bewuste houding wat die Voortrekkers so hoog gehou het, selfs daar waar die oog nie sien nie, afgeweer kan word.
Soos reeds aangedui: Suid-Afrika is maar net in klein stroke en gedeeltes 'n goeie en vrugbare landbouland. Daar is uitgestrekte vlaktes, waar die reënval so min is dat die bevolking beswaarlik 'n lewe kan maak. Dit spreek vanself dat die verwoestende Engelse oorlog, sowel as die stryd wat die landbou oor die hele wêreld moes deurmaak, die noodwendige gevolg moes hê dat 'n groot deel van die bewoners van die platteland, wat byna deurgaans Afrikaners is, uitgesak het en geword het wat gewoonlik heet: armblankes. So het 'n ontstellende groot getal Afrikaners verarm, hulle het na die hoofsaaklik Engelsgekleurde stede probeer verhuis om daar, as ongeskoolde werkers, in 'n wanhopige stryd met vakmanne dikwels die afdraende pad te gaan. Johannesburg, met sy geweldige goudopbrengs, moes hier 'n gewigtige rol speel. Op ekonomiese gebied het dit 'n oorweldigende in- | |
| |
vloed op Suid-Afrika. Tot aan die einde van 1935 het die goudvelde, wat in 1886 ontdek is, 302 miljoen onse fyngoud gelewer ter waarde van sowat £ 1,317 miljoen. 'N groot aantal Afrikaners het hulle vrugbaar aangepas aan die nuwe omstandighede, en in die stede het baie verarmdes se kinders, wat gebruik kon maak van uitstekende onderwysgeriewe, 'n vaste staanplek gekry en leiers op meer as een gebied geword. Hierdie skok wat die platteland moes deurstaan, het dit egter nie beroof van sy groot krag as die eintlike kweekaarde van die Afrikaanse kultuur en tradisies nie. Trots die aanslae wat deur ekonomiese en ander faktore op die boer gemaak is, het hy, veral gerugsteun deur die godsdiens en 'n fyn ontwikkelde sin vir tradisie, die Afrikaanse gees ongeskonde gehou. Die ware karakter en krag van die Afrikanerdom moet nog steeds op die plase gesoek word, maar hierdie suurdeeg trek langsamerhand na die stede deur, waar die hele handels- en omgangslewe tot onlangs nog heeltemal Engels was, Engels beskou is as die draer van beskawing, terwyl Afrikaans, net soos die geval in
Vlaandere was, in 'n posisie van minderwaardigheid en, veral van ekonomiese kant gesien, van louter onmag gehou is. In 1932 meld die ekonoom dr. Grosskopf: ‘Volgens twee fabriek-inspektriese in Johannesburg is goed 80% van die fabriekwerksters op die Witwatersrand Afrikaans-sprekend’. In die Afrikaanse letterkunde is Johannesburg dikwels gedoodverf as die stad waar die Afrikaner se ideale ondergegaan het en waar hy met sy tradisies en al ontaard. Lub se pogings in In en om die Goudstad, Totius se somber siening in Trekkerswee (‘lê op my graf geen sooi met gras maar dek dit met die heuwel-as’) en jongeres soos Pienaar, Coetzee e.a., wat veral die mynteringlyer uitgebeeld het, lê almal nadruk op die groot magte, van geld en van demoralisasie, wat die Afrikaner hier fyn maal. Die Afrikaner het egter intussen veel geleer. Hierdie sombere toestand, soos deur kunstenaars uitgebeeld, is aan die verander, want langsaam, met 'n gestadige deursettingskrag van onder af, uit die kringe van arbeiders en minderbevoorregtes, rys 'n Afrikaanse invloed in die stede omhoog, wat vir 'n aantal jare gelede totaal onmoontlik gelyk het. So het die sware aanpassing van 'n landboubevolking aan die nywerheidsontwikkeling in die land ook sy goeie gevolge gehad,
| |
| |
want terreine wat vroeër heeltemal gesluit was vir die Afrikaner, veral bepaalde professies en die georganiseerde handelslewe word stadigaan verower deur ervaring, deur sware lesse te leer en veral deur geduldig af te kyk hoe ander, met 'n groter tradisie-agtergrond, 'n sukses daarvan gemaak het. Meer as een Afrikaanse leser het al sy ergernis daaroor uitgespreek dat baie Afrikaanse skrywers so graag by die armblanke, die uitgesakte, die minderbevoorregte vertoef. Waarom so graag hierdie soort mense uitbeeld asof daar geen welgestelde, hoogbeskaafde Afrikaners bestaan wat so'n krag in die land is nie? Daar is die gevierde romanskrywer, Jochem van Bruggen wat, met egte Hollandse werklikheidsin, 'n hele reeks van die maatskaplik versukkeldes uitgebeeld het. Daar is Ampie, die kind uit 'n treurige armblanke-woning, onbetroubaar, ru en onbeskaafd; daar is die willose ‘meeldiaken’ uit sy bundel Op Veld en Rante, so'n treurige, lui ellendeling dat alleen die sweep nog vir hom goed is. Daar is die besluitelose Stols uit Teleurgestel, wat die egte ja-broer-tipe is; verder die sukkelende Oom Lood uit Die Burgermeester van Slaplaagte, 'n man wat die probleme van sy tyd gladnie verstaan nie, nog minder die van sy vooruitstrewende, mooi dogter, wat later in ellende end-toe struikel. Sy hoogste ideaal is om koster te word in sy morsdood dorpie. Daar is die Sprinkaanbeampte van Sluis met sy agterstevoor vaderliefde en koppige pligsontwyking. Maar nie alleen Van Bruggen is geboei deur die versukkeldes, verdwaasdes en ruggraatloses nie. In Die Plaasverdeling sowel as die vervolg Die Trekboer teken Abr. H. Jonker vir ons die patetiese, versukkelde persoon Antonie, wat geestelik bysiende is, sy plaas kwytraak en eindig as 'n sielige dronklap. Daar is die jammerlike klomp mense in Dawid Coetzee se
Armoede en Hartkwaal wat van ellende krepeer, maar tussen hulle is tog 'n vooruitstrewende paar oues, wat gruwelik gekul word deur 'n gewetenlose papbroek vir wie borg gestaan is. Daar is T.C. Pienaar se Die Duister Sluier, wat vir ons 'n karakterlose vader teken, wat deur onnosele koppigheid alles verniel en 'n las word vir sy wakker dogter wat onderwyseres geword het en haar bo die treurige omgewing uitgewerk het. Daar is P.W.S. Schumann se drama Hantie kom Huistoe,
| |
| |
waarin die skrynende ellende uitgebeeld word van 'n dogter wat vroeg van haar ouers weg is, fyn opgevoed is en nou, as maatskaplike werkster, terugkeer na haar ouers, wat so agterlik is dat hulle nog net tuis voel in 'n koelie-winkel; ouers wat drank onder die naturelle insmokkel en rusie maak soos volslae minderwaardiges. Daar is...... maar waarom sal ek die hele ry, met hulle geboë rugge, lawaaierige taal, minderwaardigheidsgevoel, wat beurtelings 'n hondeblik is en dan weer oorgaan in redelose agressiwiteit, voor u laat verbytrek? Soos ek reeds aangedui het, wil sommige Afrikaners, wat baie seer voel oor hierdie kanker in die volkslewe, dat hierdie mense liewers vergete bly in hulle sukkelbestaan, altans wat die letterkunde betref - en dat van welgestelde boere, advokate, geneeshere, mynengineurs, predikante, onderwysers, professore, knap kêrels en mooi meisies geskrywe word.
Daar is seker baie motiewe waaraan die Afrikaanse skrywers hulle aandag kan gee, maar elkeen wat die flouste benul het van letterkunde, weet immers dat 'n kunstenaar nie sy stof kies nie - dit doen alleen tweederangse geeste wat die een of ander propagandadoel nastrewe - maar dat sy gees, op grond van die intieme kennis en liefde vir 'n bepaalde stof, magneties daartoe aangetrokke word en dat uit die versmelting van stof en idee 'n voldrae kunswerk gebore word. Indien 'n groot aantal Afrikaanse kunstenaars in die afgelope paar jaar 'n sterk drang gevoel het om die minderbevoorregtes in die Afrikaanse samelewing uit te beeld, dan is daar duidelike psigologiese verklarings voor te gee. Maar ewe duidelike psigologiese verklarings is daar vir mense wat oorgevoelig is omdat hierdie tipes taamlik veel uitgebeeld word. 'n Angsvallige vrees dat onsimpatieke buitestaners maklik tot die gevolgtrekking kan kom dat die Afrikanervolk net uit 'n klomp armblankes bestaan, kan alleen ontspring uit 'n sleg verbloemde minderwaardigheidsgevoel. Dat al die verskillende tipes en karakters, wat dan verteenwoordigend is van verskillende volkslae, van sosiale aspekte, later uitgebeeld sal word, val nie te betwyfel nie, maar die tekening van welgeklede en sogenaamde fyn beskaafde dames en here hoef nog geen kuns genoem te word nie. Alleen die wyse van belewing, die diepte van probleembesef en die meester- | |
| |
skap waarmee die ewige in die mens, wat wel gebonde is deur tydelike uitingsvorms, in die fynheid van die taal se ekspressiekrag uitgebeeld word, bring ons op die ware terrein van die letterkunde.
Dit is seker buitengewoon leersaam, met die oog op die maatskaplike agtergrond van ons letterkunde, om die verskillende menssoorte wat optree in die sogenaamde armblanke-romans, sorgvuldig na te gaan in hulle houding teenoor hulle medemens, hulle reaksie op hulle omgewing, hulle godsdiensgevoel, aanpassingsvermoë, verantwoordelikheidsbesef en die vreemde deureenvlegting van 'n boerebeskawing, wat as grondlaag in hulle karakters lê, met die nagebootste nuwe, die stedelik-Engelse. Die rol wat Johannesburg as sametrekkings- en opsuigingssentrum speel, is van die grootste gewig. Volgens die volkstelling van 1911 het die stedelike bevolking (dorpe bygereken) 51.7% van die blanke bevolking beloop. In 1921 was dit reeds 61.25%. Volgens die sensus-getalle van 1936 was 19.9% van die blanke bevolking op die Rand gekonsentreer - ongeveer een-vijfde van die geheel dus! Terwyl die hele Transvaal in 1890 maar omtrent 19% van die blanke bewoners van die hele Suid-Afrika bevat het, woon daar in die provinsie nou sowat 40%. Die persentasie blanke stedelinge in Suid-Afrika tel vandag 65.2% teenoor 34.8% plattelandse blankes. Die Afrikaner word stedeling!
Dit is dan tenslotte hierdie allervernaamste kulturele en maatskaplike probleem in Suid-Afrika n.l. die voortbestaan van 'n Engelse tradisie en 'n Afrikaanse tradisie in dieselfde land - wat op die agtergrond lê van veel Afrikaanse gedigte, romans en dramas. Afrikaans is inderdaad die taal van die veld, van die ruimte, van die natuur. Daarom het dit soveel kernagtige en fonkelende uitdrukkings en beelde, wat aan die omgewing waar dit gebore is, ontleen is. Dit is ook seker opmerklik dat twee uitmuntende skrywers van Afrikaanse boeke, die broers Hobson, Engelssprekend is. Hulle werke oor die dierelewe, Kees van die Kalahari, Buks en Skankwan van die Duine (wat die lewe van die Boesmans behandel) is in Afrikaans geskrywe, omdat, soos hulle self erken, hulle gevind het dat dit onmoontlik is om oor die veldlewe in Engels te skrywe, aangesien Afrikaans,
| |
| |
wat die gees van die veld en die vrye dierelewe in hom het, vanselfsprekend die natuurlike en spontane draer vir hulle idees was. Ook in Sangiro se uitmuntende Uit Oerwoud en Vlakte en Op Safari, waarvan Frans Coenen gesê het dat Afrikaans daarin lank nie meer so ‘knarsig’ klink nie, voel ons die ware gees van die oneindigheid van oerwoud, vlakte en hemel wat in volkome harmonie is met Afrikaans se suggestie-krag, die atmosfeer van die woorde, en die gebaar van elke wending en volsin.
Maar die Afrikaner het, as gevolg van die verskuiwing van ekonomiese omstandighede, vir hom aangepas aan die stedelike lewe, met die onvermydelike gevolg dat sy taal 'n aanvulling en verbreding moes ondergaan. Hierdie ‘verbreding’ was dikwels niks anders as die klakkeloos oorneem van Engelse woorde nie, of 'n letterlike vertaling van die Engelse woord en sin. Die Engelse maatskaplike opvattings en modeverskynsels het stadigaan die Afrikaanse begin deurdring, selfs tot op die platteland. Hier is dit belangwekkend om weer die nadruk te lê op die verhouding van Afrikaanssprekendes teenoor Engelssprekendes wat vandag sowat 60:40 is. Die Engelssprekendes se maatskaplike oorwig, juis deurdat so'n groot getal nog 'n lewende kontak met England bewaar, op sosiale en ekonomiese gebied, is nog baie sterk veral in die stede. Dr. A.J. Barnouw, van die Columbia Universiteit, wat Suid-Afrika 'n paar jaar gelede besoek het, het selfs tot die gevolgtrekking gekom: ‘The effect of this anglicising process is a strange anomaly, of which the Afrikaners themselves are apparently unaware. Their outlook on life, their conceptions of the world abroad, their methods of government, even their manners and forms of social intercourse, bear the trade-mark Made in England...’ Sonder om na te gaan of dr. Barnouw se opmerkings heeltemal juis is, kan ons net daarop wys dat die ontwikkelde Afrikaner bewus is van die verengelsingsgevaar. Daaraan skrywe dr. Barnouw ook 'n anti-Britse agressiwiteit toe by mense wat uit vrees daartoe gedwing word. Op die agtergrond van die Afrikaanse letterkunde voel ons gedurig die bewustheid van Afrikaans wat in gevaar verkeer om deur Engels volkome geassimileer te word. Van die eenvoudige liedjie voor die Engelse oorlog:
| |
| |
Engels! Engels! alles Engels! Engels wat jy siet en hoor;
In ons skole, in ons kerke, word ons moedertaal vermoor...
tot die kragtige nasionale liriek van Celliers, Leipoldt en Totius, toe die Afrikanerdom byna uitgedelg was deur oorlog, klink dieselfde vrees om oorrompel te word. In Suid-Afrika se volkslied hoor ons dit tril:
Skenk aan ons die krag, O Here, om te handhaaf en te hou... En later kom dit sterk in die romans en dramas op die voorgrond. Eers is die voorstelling natuurlik naïef, sonder indringing in die ingewikkelde menslikheidskarakter van die probleem. Die skurk in die eenvoudige intrige-roman moet noodwendig 'n Engelsman of verengelste Afrikaner wees. Maar met die toename van die psigologiese insig by die romanskrywers word die behoefte gevoel aan objektiwiteit van betragting, aan gebalanseerde oordeel om deur die rassegevoel die dieper menslikheidsondergrond te verstaan. D.F. Malherbe gryp in sy romans Die Hart van Moab, Saul die Worstelheld, Die Profeet na 'n Bybelse stof, maar op die agtergrond van sy uitbeelding voel ons steeds hoe die vraagstuk van rasseverhouding in Suid-Afrika hom besighou en hoe diep bekommerd hy is dat die Afrikaanse nasie, na al die opofferinge wat hulle gemaak het vir die idee van afsonderlike nasie-skap, tog maar sal ondergaan. Mev. S. Bruwer behandel in haar roman Bodemvas die huwelik van 'n eentalige Engelsman uit Durban met 'n ‘bodemvaste’ Boeredogter. Dit spreek vanself dat baie netelige situasies ontstaan wat nie so maklik opgelos kan word nie. Terwyl 'n skrywer soos Leon Maré terughunker na die rustige lewe op die boereplase, toe die ongebonde jagterslewe nog bestaan het en die ou boerefeeste nog die harte verbly het, beeld J. van Melle die politieke verbittering uit wat daar onder die Afrikaners heers, hoofsaaklik om die verhouding teenoor die Engelse (Dawid Booysen, Bart Nel). Terwyl Abr. H. Jonker in sy nuwe bundel kortverhale Maskers karakters en omstandighede teken wat baie min te doen het met die tipies-Afrikaanse, wat ons vroeër in die meeste Afrikaanse romans gekry het, kom Joubert met sy bundel kortverhale Steiltes en Boerneef
met sy Bo-plaas aandag vra vir die skoonheid van die Afrikaanse boerelewe, vir
| |
| |
die krag van die Afrikaanse aarde. Ook in die romans van Afrikaanse skryfsters vind ons dat die oue en die nuwe worstel met mekaar en dat die huweliksprobleem sterk op die voorgrond is (Sophie Roux: Wrede Grense, Fyn en Broos; T.C. Pienaar: Verlate Vlaktes). Dit is duidelik dat hierdie maatskaplike verhoudinge: Engels teenoor Afrikaans, die ou meer patriargale Afrikaanse lewensopvatting teenoor die moderne, vlottende lewensbetragting, wat in alle lande geopenbaar word, 'n kragtige impuls vorm vir die Afrikaanse kunstenaar.
As die probleme egter aangedui is, wil dit nog nie sê dat hulle almal diep en blywend uitgebeeld is nie, dat die besondere omstandighede in die ontwikkeling van 'n nasie so skerp gesien en van ewigheidswaardes deur die kunstenaar deurdring is dat die letterkunde self bo die klein-realisme uit is en ons 'n sterk simboliese siening kry nie. Die Afrikaanse volk is nog jonk, die vraagstukke veel en ingewikkeld, die maatskaplike verhouding, vanweë die land se ontwikkeling, die verskillende rasse wat hier saam woon en die inwerking van Europese invloede op die Afrikaanse volkskarakter, uiters moeilik om duidelik en eenvoudig voor te stel. Hierdie vraagstuk van maatskaplike en rasse-verhoudinge, wat so sterk die bewussyn van ons Afrikaanse skrywers beheers, raak natuurlik die diepste wortels van die hele Afrikaanse nasie se bestaan. Dit is dan ook seker opmerklik hoe seer die probleembewustheid in die laaste jare toegeneem het by skrywers, denkers, politici, maatskaplike werkers en studente. Die Afrikaner voel 'n sware verantwoordelikheid teenoor die nasie waaraan hy behoort, teenoor die tradisies en geskiedenis en die toekoms, so erg selfs dat alle ernstige gesprekke en byeenkomste steeds weer daaroor gaan. Dat daar veel verskil van mening bestaan, is begrypelik. Die Afrikaanse skrywer en denker moet Europese opvattings oor kuns en geestelike strominge assimileer en dit, volgens eie belewingsvorme, in Suid-Afrika uitwerk. Die Hollandse kritikus kla dikwels dat die Afrikaner se mentaliteit, soos dit tot uiting kom in Afrikaanse boeke waarmee hy kennis maak, weinig ‘kompleks’ is, dat die Afrikaner nie die ingewikkelde, vreugdeberowende ontledingsvermoë van die Europese mens ken nie. Dit is ongetwyfeld waar, maar dit is ook waar dat die Afri- | |
| |
kaner 'n lewenskragtigheid, 'n ongebruikte energie en lewenswil het wat veel beteken in 'n tyd van soveel geestelike ontaarding. Waar hy dus in sy kuns soek na 'n gees en
uitdrukkingswyse wat sy eie is, verwaarloos hy seker nie wat elders reeds so magtig deur die menslike skeppingskrag uitgebou is nie. Dit gaan aarselend, temidde van baie neerdrukkende invloede, maar die veroweringsdrang is daar nog net so ongeskok by die jong Afrikaner soos by sy weerbarstige voorouer, die Voortrekker. En al is sy kuns nog nie so psigologies fyn en fundamenteel van juiste formulering en estetiese skerpheid nie, die leefkrag, die wye stuwing van die kragtige lewe is daar. En waar die kragtige lewe is, moet die gesonde kuns vanselfsprekend volg.
|
|