De Revisor. Jaargang 14(1987)– [tijdschrift] Revisor, De– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 27] [p. 27] Elisabeth Eybers Toekoms Die duisendjarige ryk so troosryk en fiktief dui onweerlegbaar aan Iemand het ons lief... Ons aardbewoners aap genade en almag na wat geen beskeidenheid of feitedwang verdra: die twee-en-sestig-jarige Mafia-voorman weet hy mag nou honderd jaar lank tronkspaghetti eet. En jy en ek? Ons laat ons hande en oë raak asof die melkwegstoet sy skittering nooit sal staak. Dooi Hierdie maartse middag toe die - byna bloot - son soos 'n gloeikous deur die newel lek en die sneeukombers hom krummelig terugtrek en die wiegelende ysmembraan ervaar dat hy in die antrasiet kanaal vergaan kom só 'n warmte in my opgestoot met skokgolfies - aanwysbaar waarvandaan - wat, op die nippertjie, ook Amsterdam omvat. Eindelik ná vyf-en-twintig jaar. Wording Die wanorde wat na volwassenheid voer duur korter dan die tweede puberteit: terwyl vergif in jou gewrigte roer hou jy jou koppig en oningewyd. Geen voetstap wat nie lei na die hinderlaag en die hand wat plotseling uitskiet na jou kraag, maar wie sy sintuie vrye speling gee maak onderweg nog een en ander mee. Die ouderdom is nie noodwendig saai: Jou liggaam tree te voorskyn, jy ontdek uithoekies waarvan mens nooit vroeër kon raai dat hulle onsigbaar hurk om pas deur pyn geopenbaar te word. Jou sintuie strek om elke ding te peil voor dit verdwyn. Ervaring vloei van alp tot oewerriet, van kalahari tot fluweel vallei... En verder 'n onbebakende terrein vaag en gevaarlik soos die grensgebied wat Sjina en Rusland samesjor en skei. Vorige Volgende