Woorde is siektesimptome. 'n Man wat leef, kommunikeer. Daarom is lewe 'n aansteeklike en dodelike siekte. Die man wat kommunikasie soek of veroorsaak is verlore en op soek na homself. (Wanneer jy so-iemand op die lyf loopt, maak hom dan dadelik dood. Want alle kommunikasie is kontaminasie.) As jy jouself vind is jy dood. Nirwana is die volkome vreugde van dood-wees.
Maar: die afgryslike gedagte aan en óm dood is: dat jy dán die dood verloor. En als jy dood is en besef dat dit nie 'n uitwissing was nie, dat jou bewussyn ge-atomiseer met elke maaier en verteerde molekule die wêreld ingaan - en dán besef dat geen verdere dood (uitwissing) meer moontlik is nie?
Dat ek myself net weer bymekaar kan kry, al die dele van my liggaam, dan sal ek kan sterf. Selfkennis, nirwana, wat dood is, is slegs die onbegonne heel-wees.
Julle wat my gesteel het: gee my terug! Solank ek oor die aarde kruip, in alle rigtings van die wind, 'n imperialis en 'n uitbuiter, so lank is ek verdoem tot die lewe, tot die onvolmaaktheid en die verstrooiing en net so lank sal die woorde, daardie mierspioene wat my moet soek en my terug na die miernes van die graf moet sleep, uit my vloei. My soeke is 'n blinde wit koningin. My dood/my beloning is 'n diaspora van ballinge oor die wêreld gesaai. Dood is die tuisland van my voorouers.
Fisies sal ek dus nie kan sterf nie. My tuisland is 'n begrip. As ek my ek tot een enkele begrip kan dwing dan is ek dood. Wanneer ek is en weet ek is, ek syn-is, dan is ek dood.
Die ideaal is om 'n zombie te wees, 'n droomwandelaar; die vuur wat gees is geblus; die ruimte wat pyn is, geskroei.
En kyk dan uit! Never shit in a shade!