Raster. Jaargang 3(1969-1970)– [tijdschrift] Raster– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 216] [p. 216] Breyten | Die swart stad & andere gedichten Nagvy met die eerste daglumier - wat 'n mooi woord: lumier lig ja, maar ook sluimering daarom so sluimerlig met die eerste kraai van die môrester as die nag reeds ligter slaap moet ek weg op my togte die dag slaan 'n skielike kruis teen die ruit en weg op my togte deur roostuine vyeboorde verby heuwels gekorf met spelonke waar bye hul neste van heuning bou ver op soek na oases ver waar die son die vlees met liefde vrot gee my 'n woord méé beminde beminde 'n woord waarin ek kan slááp beskut teen Sarasene huilwolwe in die woestyn word 'n ligdonker woord onder my tong my tent teen die son van die stem want ek laat my nagte hier by jou agter [pagina 217] [p. 217] Laat-slaap-lied (op dryf in die lyf) iedere nag ry ek te perd my slape in reeds langs hoë paaie waar tiere lag deur tempelhowe nee deur slaapsale jaag hoewe eggos op verbý en anderkant in valleie waar mens jou oë teen die maan moet hoed sidder tromslae van rant tot rant ja hier durf ek my verstoei aan demone in vroue verlyf - die Indiërs bespeel vreemde sitare - of 'n optog van die armstes lei vooruit vooraan met my kruis gekruisig aan 'n swart vlag want só behoef die nag te wapper! dikwels dan dat ek aan my behoeftes kan voldoen word ek onder 'n roosstoel om die lewe gebring om nooit weer te slaap nie maar ook dit is net 'n tydelike verblyf daarom, uitgedryf so teen witskyn-skynwit kniehalter ek my perd aan die môrester en word smôrens uitgeput op die knieë wakker so styf in die kruis met die hart in die slape [pagina 218] [p. 218] Knotgedagtes twee armoedige ou knutselaars uit 'n vroeër een sonder hyskrane of wolkekrabbers het vandag teen die drie bome in ons binneplaas opgeklouter met spykers aan hul skoene en toue gesnoer éérs om die stamme en dan om hul lywe net soos lippe óm 'n mond 'n asem voed en snoei om al die takke kort te knot en so die lower in die knuis te kry : die takke wat met die reën kon raas : die takke wat die sneeu verdra het : die takke wat kommetjies was vir die lig somers: só word meisies wat met die besetter slaap geskeer nou kyk mens deur herinnerde groen oor 'n muur in kamers met treurende spieëls en tafels net soos vrugte bó water waar wit Witrusse solitaire sit speel al dromende van dachas en bloed in die sneeubleek geheuens kom die bevryder? is dit dan byna lente? dan sal my grys woorde mos weer in die bome klim soos kaal katte om hoog in die koue neste te span vir voëls wat in nagklubs op verebeddens lê en neurie van vervloë liedere en die eenvoudige weelde van blare [pagina 219] [p. 219] Fado: kruisiging die ou bul in die gordyngroen kamp probeer sy ou horings probeer sy horings so grys van ouderdom in die sidderende mae van die grasgroen perde boor maar die bome vol voëls van my dissiplinêre lied dwing hom tot op sy knieë sodat die grond begin blom vir jou het ek net 'n sakdoekie gehad met 'n blodrooi hart daarop geborduur en toe die voëls die dorre skêre uit die bome in die wind slaan het jy die hart uit die doek geskeur het jy die hart uit die hart geskeur sodat jou skoene skitter in die son waarom is jy so donker my beminde? waarom is die sitplekke van jou lyf so swart? dis die nagte se lê langs aan die kaggel van my lyf dis die nag van my liefde wat jou so verbrand rondom jou klam skoene smeul die perdegroen grond die spierwit sanger hang aan die taai kruis rond [pagina 220] [p. 220] Die swart stad weer jou veral teen die bitterheid, swart kind dit, en dat jy nie mag droom nie; sorg dat jy nie verstik in rooi oë - gevis in slopemmer, dat jou liggaam nie dik en galsterig word van die gal wat pal deur jou fosfor-are gaan stoot (tussen lyf en lyk dryf maar net twee letters sonder o); knip en kam liewer gereeld jou papajaboom en onthou die wolke tree op ook vir jou en rotte eet vullis ek wil onthou van 'n swart stad, swart kind waar ook jy aan die somber lig swel; seemeeue dans soos rooi ballonne bo die strand, jy kan ook lag en ook uitbundig, ook die water streel en dorpe sand bou, ook op en af hardloop langs honderde grappe waak veral teen die slymerige swart papaja van bitterheid, swart kind - hy wat daarvan eet sterf op bajonette en in biblioteke, sterf alleen in die mond kyk, oor die see gaan die son gebore word en die son het 'n regterhand en 'n linkerhand en hy sal bruin wees, so warm en so bruin soos die kieliekele van hane (Lourenço Marques) [pagina 221] [p. 221] Aandmense die aarde is nie God s'n nie kyk die aarde is nie van die Duiwel want die aarde behoort aan die mens en die mens is aarde s'n die een sal die ander se bloed nie steel nie die armes sal die aardse koninkryk verower want die bloed wat wete is is tydelik en die mens regeer in sy tydelike ewigheid kyk na hierdie aarde 'n mirakel van bloeiselende kaktusse van blou van leed van wyn van honde van soogdiere-van-lig van die mens met sy bultende donkertes luister Rykman Besitter Belêer Fascis luister Kerk en Staat vetvrot Politikus luister na die mens tot sterwens toe siek van hoop jy versuip óók eersdaags in jou pis want die aarde is g'n God s'n nie nóg behoort die aarde aan die Duiwel kyk die aarde is vasgegroei aan die Mens en iedereen kry sy gat vol aarde [pagina 222] [p. 222] Swart dood 1348 Omdat ek onkuis en vol boosheid en pap(vy) is Omdat ek nuwerwetse skoene met lang neuse dra Het God hierdie steunende plaag van Sjina gestuur Hierdie geraamte met 'n klok wat klakkend deur strate sleep snags Om sy stink asem deur ons rame te nies Maar Lucifer sal my red Die lug is styf soos 'n vis van die pes Honde opgeblaas tot groot koeie versper die deure Ek suig bloed en etter uit swere soos pere in my lieste Bure lê en vrot, weggegooi op vullishope; ek erf hul swelsels Maar my daaglikse sopie urine en menstruele bloed En Lucifer hou my regop Hoe ryk is die lewe - klokke lui die lug stukkend Ek spuit my lou oorvloedige saad in vore van dooie vroue Laasnag het ons die blinde dokter verslind, sy vleis hard soos dié van 'n ou bok Môre sal ons twintig blêrende Jode offer op die stapel Kom af God, soos wit lenteblomme - sodat ek Jou kan eet En met Lucifer sal ek hierdie dood oorleef Vorige Volgende