| |
| |
| |
Nieamptelike Afrikaans: 'n bestekopname van die posisie van Afrikaans in Namibië
Emma Kirchner
werd geboren in 1955 in Windhoek, Namibië. Studeerde Afrikaanse letterkunde aan de Universiteit van Pretoria in Zuid-Afrika. Zij is thans voorzitter van het afrikaans Vakkomitee’ van het Ministerie van Onderwijs en Cultuur en ook departementshoofd Afrikaans aan ‘die Windhoekse Onderwyskollege’. Deze bijdrage is gedeeltelijk gebaseerd op verslagen over de positie van Afrikaans in Namibië dat zij samen met Jean Lombard en Carol Kotze opstelde.
Adres: Privaatsak 16003, Pionierspark, Windhoek, Namibië
| |
1. Inleidend
Die onderliggende tema van diskussies rondom die posisie van Afrikaans wentel altyd op een of ander wyse rondom die oorlewingsmoontlikhede daarvan te midde van 'n veeltalige opset en bedreig deur Engels as wêreldtaal. Die rede vir hierdie benouende gesprekstema rondom Afrikaans is aan verskeie faktore toe te skryf. Afrikaans is die een taal in Namibië wat die afgelope vyf jaar 'n sterk veranderde rol in Namibië vervul en vanuit owerheidsweë word vandag 'n relatief klein rol aan Afrikaans toegedig. Verder speel die veranderde taalen regeringsituasie in Suid-Afrika - die enigste ander land waar Afrikaans beduidend gebruik word - ook 'n rol om hierdie klimaat rondom gespreksvoering oor Afrikaans te skep. Ook daar verkeer Afrikaans onder bepaalde druk, afgesien van sy ‘amptelike’ status. Amptelike kontak tussen Suid-Afrika en Namibië - die enigste twee lande met beduidende getalle Afrikaanssprekendes - vind op Engels plaas.
In 1994 vind die tweede demokratiese verkiesing in Namibië plaas. Die uitslag daarvan behoort die posisie van die regerende party, Swapo, eerder verder te verstewig as te verswak. Dit is dus te betwyfel of taalbeleid in Namibië in die afsienbare toekoms beduidend gaan verander. Daarom is 'n bestekopname oor die huidige posisie van Afrikaans moontlik in hierdie stadium gewens.
Aangesien hierdie artikel se teikenlesers moontlik minder vertroud is met die geskiedenis van Afrikaans in Namibië, word 'n kort oorsig van die geskiedenis van Afrikaans gegee. Daarna word die huidige posisie van Afrikaans kortliks beskryf. Ten slotte word moontlike toekomstige ontwikkelings aangedui.
Die diskussie ten opsigte van Afrikaans moet gelees word teen die agtergrond van die feit dat Afrikaanse moedertaalsprekers SLEGS 9,5% van die
| |
| |
Uittreksel uit 'n brief van die Rehobothkaptein Hermanus van Wyk aan Maherero, Hererohoofman, gedateer 13 September 1872, as voorbeeld van vroeë Namibiese Afrikaans (Windhoekse Staatsargief).
totale Namibiese bevolking (van 1.409.902 volgens die jongste sensus) uitmaak. Dit word egter algemeen aanvaar dat tot 80% van alle Namibiërs wel 'n redelike kennis van Afrikaans het. Hierdie sprekers is oor die hele Namibië versprei met die grootste konsentrasie in die sentrale en suidelike gebiede.
| |
2. Twee honderd jaar geskiedenis
Die geskiedenis van Afrikaans in Namibië gaan terug tot ongeveer die jaar 1800, toe 'n vorm van Oranjerivierafrikaans (wat nie 'n voorloper van Standaardafrikaans was nie) deur die Oorlamgroepe Namibië binnegebring is. Die Oorlam was geakkultureerde Khoekhoe wat benewens hul moedertaal ook Afrikaans gepraat het. Een van hierdie groepe was bv. die //Aixa// aen of Afrikaners (= naam; nie behorende tot sg. blanke Afrikaners!) wat hulle teen 1790 in die Suide van Namibië kom vestig het. Ander Oorlamgroepe soos die Bethaniërs, Lambertsmense, e.s.m. het spoedig gevolg. Omstreeks 1870 het 'n tweede groep (nie-wit) Afrikaanssprekendes, wat vandag as die Rehoboth-Basters bekend staan, hulle in Namibië kom vestig. Vir hierdie groepe was Afrikaans 'n statustaal en hulle het dit as skryf- en onderwystaal gebruik. Voorbeelde van hierdie oudste vorme van Namibiese Afrikaans is o.a. in die Staatsargief in Windhoek bewaar.
| |
| |
Die feit dat hierdie geskiedenis tot onlangs toe relatief onbekend was, en o.a. nooit in Namibiese skole as deel van die geskiedenis van Afrikaans aangebied is nie, is waarskynlik een van die oorsake dat die herkoms van Afrikaans (foutiewelik) aan die ingryp van Suid-Afrika in die Namibiese geskiedenis toegeskryf is. Dit is ironies dat die taal wat later as apartheidstaal gestigmatiseer is, juis deur sy nie-wit sprekers Namibië ingebring is - en dit ongeveer 100 jaar voor Afrikaanssprekende blanke boere vanuit Suid-Afrika Namibië binnegetrek het. Suid-Afrika het eers in 1919 mandaathouer van Namibië geword en nadat Afrikaans in 1925 aanvaar is as amptelike taal in Suid-Afrika, is die standaardvorm van Afrikaans ook hier te lande aktief bevorder, o.a. in die staatsdiens en die onderwys. 'n Mens sou wel kon beweer dat Standaardafrikaans dus ten koste van die meer inheemse vorm Oranjerivierafrikaans in Namibië ontwikkel is.
Aangesien Suid-Afrika Namibië vir alle praktiese doeleindes op Afrikaans regeer het, het verset teen die Suid-Afrikaanse teenwoordigheid in Namibië spoedig ook 'n verset teen Afrikaans geword. Teen 1984 het sommige skole hul medium van onderrig van Afrikaans na Engels verander en in 1986 het studenteonluste ook die universiteitstaai na Engels laat verander. Alhoewel die Afrikaanse moedertaalsprekers hul lojaliteit teenoor Afrikaans behou het, was die oormag van die anderstaliges en -denkendes net eenvoudig te groot en reeds voor onafhanklikheid het alle politieke partye (op een na, wat 'n hoofsaaklik Afrikanerminderheid verteenwoordig het) aangedui dat slegs Engels in 'n onafhanklike Namibië amptelike status sal geniet. Vanuit geen ander hoek as daardie klein Afrikanerminderheid is op amptelike status van enige ander taal aangedring nie. In die Grondwet van 'n onafhanklike Namibië is dan ook slegs aan Engels amptelike status gegee.
Vanuit Suid-Afrika se Afrikaanssprekende geledere word die Afrikaanssprekendes in Namibië voortdurend gekritiseer vir die huidige taaltoestand in Namibië. By hulle is daar min besef van die emosionele en taalklimaat van 'n vooronafhanklikheidsfase. Geen aksie van watter aard ook al sou die taalbedeling m.b.t. Afrikaans verander het nie, maar sou beslis tot groter verwydering tussen taal- en politieke groeperinge gelei het. Wat wel waar is, is die feit dat die verwagtinge wat rondom die taalartikels in die Grondwet ontstaan het, nie deur die regering gerealiseer is nie. Aksies, selfs hofgedinge, om die presiese interpretasie van die Grondwet te bepaal, bly op taalgebied tans nog agterweë.
| |
3. Die vyf jaar nieamptelike status van Afrikaans in Namibië
Die aard van die lingua franca-status van Afrikaans in 'n onafhanklike Namibië is tans 'n onbekende faktor. Vanuit regeringsweë word die moontlikhede van Afrikaans as omgangstaal nie benut nie. In die alledaagse omgang het die
| |
| |
vyandigheid teenoor Afrikaans egter in 'n groot mate afgeneem. Selfs binne die staatsdiens is daar 'n baie groter bereidwilligheid om Afrikaans met die publiek te praat ter wille van suksesvolle kommunikasie - in teenstelling met die angstigheid waarmee elke vaagweg amptelike situasie vroeër op Engels hanteer is. Die besef dat die meerderheid Afrikaanssprekendes in Namibië 'n konstruktiewe bydrae wil lewer tot ontwikkeling en stabiliteit in Namibië - ook op Engels waar nodig - is moontlik vir hierdie groter openheid teenoor Afrikaans verantwoordelik. Oor die algemeen word vir Afrikaans in Namibië dieselfde posisie gegun as vir enige ander inheemse taal. Dat hierdie mindere posisie vir Afrikaans egter 'n bepaalde verlies inhou, is onteenseglik waar.
Die volle implikasies van die verlies aan amptelikheid word nou eers deur die Afrikaanssprekendes besef. Op bestuursvlak, in die ekonomiese sektor en in die regstelsel speel Engels vandag 'n oorheersende rol. In die volgende rubrieke sal die posisie van Afrikaans in ander belangrike sektore beskryf word.
| |
Die onderwys
Die onderwysterrein is die gebied waarop ingrypende veranderinge sedert onafhanklikheid ingetree het. Dit raak Afrikaans in die besonder, omdat die Afrikaanssprekende in die verlede toegang tot moedertaalonderrig gehad het vir al twaalf skooljare. Die sterkmansbeeld wat van Afrikaans in Namibië bestaan, is dan ook die gevolg van die oorheersende rol wat Afrikaans in die skole gespeel het. Nou dat die gemeenskap 'n keuse het, verander die situasie vinnig. Wat taalbeleid in staatskole betref, bestaan die moontlikheid van moedertaalonderrig tans slegs in die eerste drie skooljare, waarna dit na Engels verander. Die moedertaal bly daarna slegs as vak in die skoolkurrikulum voortbestaan. Na die tiende skooljaar skryf leerlinge die eksterne junior sekondêre eksamen en na graad twaalf die International General Certificate of Secondary Education 'n internasionale eksamen wat deur die universiteit van Cambridge, Engeland, wêreldwyd hanteer word.
Die radikale veranderinge in die skoolkurrikulum, met die gepaardgaande taalbeleid, verduur hewige en wydverspreide kritiek in Namibië. Engels is in groot gebiede steeds 'n vreemde taal (slegs 0,8% Namibiers is Engelssprekend en slegs 26,7% radioluisteraars dui aan dat hulle Engels redelik goed verstaan). Verder is daar weinig Engels-vaardige onderwysers op die platteland en beskik talie skole nie oor genoegsame handboeke nie. Tendense soos hierdie kelder die moontlik goedbedoelde onderwysplan en kan 'n geslag Namibiers lewer wat geen taal behoorlik kan praat nie en wat onderontwikkeld is op alle terreine weens 'n onvermoë tot selfekspressie.
| |
| |
Afrikaans is medium van onderrig slegs in skole waar die gemeenskappe oorwegend Afrikaans is - en dit slegs vir drie jaar. Afrikaans word wel as vak aangebied. As in ag geneem word dat feitlik 100% leerlinge in die verlede Afrikaans op skool moes neem, het die gebruik van Afrikaans op skool geweldig afgeneem. Uit 24.000 leerlinge is slegs 7.500 vanjaar vir Afrikaans graad 10 geregistreer.
Op tersiêre vlak bied een van die 4 onderwyskolleges in Namibië die moontlikheid om as Afrikaans-onderwyser opgelei te word. Onderwysstudente wat vir die Basic Education Teacher's Diploma inskryf, is verplig om, behalwe Engels, ten minste een ander Namibiese taal vir 'n jaar te neem. Afrikaans trek hier steeds groot getalle studente. Relatief min studente oorweeg dit egter om hulself as taalonderwysers te bekwaam. Aan die Universiteit van Namibië vorm Afrikaans een van die tale in die Departement Germaanse en Romaanse tale. Dit is moontlik om Afrikaans ten minste tot op Honneursvlak te neem. Studentegetalle is wisselend, maar toon 'n sterk afname sedert onafhanklikheid.
'n Tendens tot die stigting van Afrikaanse christelike privaatskole word al hoe groter in Namibië. Baie Afrikaanssprekendes (hoofsaaklik uit die meer konserwatiewe blanke gemeenskap) voel ontevrede met die standaard, taalbeleid en algemene morele opvoeding wat tans in staatskole aangebied word. Binne die Grondwet word daar dan ook voorsiening gemaak vir die feit dat privaatskole, onder sekere voorwaardes, aan hierdie taal- en godsdienstige strewes van gemeenskappe kan voldoen. Daar is tans reeds 5 Afrikaanse privaatskole in Namibië geregistreer.
| |
Die media
Die gedrukte media speel 'n beperkte rol in Namibië, aangesien die breë Namibiese publiek geen leeskultuur het nie, en ook geen geld het om boeke en tydskrifte te koop nie. Wat Afrikaans betref, publiseer 3 uit die 7 koerante gedeeltelik in Afrikaans.
Die radio speel 'n veel groter rol in Namibië. Daar word in 11 tale deur die Namibian Broadcasting Corporation uitgesaai. Die Afrikaanse Diens is baie gewild en bedien benewens die totale Afrikaanse spraakgemeenskap ook lede van ander taalgroepe. Daar is tans twee privaatradiostasies in Namibië, wat ook gedeeltelik in Afrikaans uitsaai.
Slegs 7% van die Namibiese bevolking beskik oor televisiestelle. Hoeveel van hulle Afrikaanssprekend is, is onbekend. Die Namibian Broadcasting Corporation saai slegs in Engels uit en die privaatkanaal, M-Net, wat vanaf Suid-Afrika uitsaai, 90% in Engels (die res in Afrikaans). Nuwe ontwikkelinge dui op die waarskynlike groter beskikbaarheid van ook ander kanale in die toekoms. Dit sou die situasie van die Afrikaanse kyker heelwat kon verbeter.
| |
| |
Wenner van die Namibiese Kinderboektoekenning in die kategorie Afrikaanse Prosa, 1994 (Illustrasie Tafelberguitgewers).
| |
Die Afrikaanse boek en tydskrif
In Namibië maak uitgewerye hoofsaaklik 'n bestaan uit die druk van skoolhandboeke. Behalwe kinderboeke word fiksie feitlik net gedruk met die oog op die voorskryfmark. Die veranderde taalbeleid is derhalwe vir die Afrikaanse boekebedryf 'n gevoelige slag.
Afgesien van voorgeskrewe boeke, word daar verder baie min Afrikaanse boeke in Namibië uitgegee. Skrywers verkies om hul werke by gevestigde uitgewers in Suid-Afrika uit te gee en word ook in die Afrikaanse literêre kanon aldaar opgeneem. Tans is daar nog nie sprake van 'n werklik Afrikaanse Namibiese literêre tradisie nie.
Die skep van 'n eietydse Namibiese letterkunde in al die verskillende tale is die teiken van verskillende belangegroepe binne Namibië. Die pogings van die afdeling Afrikaans van die Universiteit van Namibië kan in hierdie verband genoem word. Die Namibian Book Development Council het tans 'n landwye skryfprojek aan die gang en die kultuurafdeling van die Ministerie van Onderwys en Kultuur doen navorsing in verband met die optekening van oratuur. Die Namibiese Kinderboekforum het 'n vierjaarplan waartydens kinder- en jeugboeke in alle Namibiese tale in aanmerking kom vir die Namibiese Kinderboektoekenning. Vanjaar is die Afrikaanse jeugboek, Silwer, jakkals van die Namib deur Pieter Pieterse bekroon.
| |
| |
Namibië beskik tans oor 27 openbare biblioteke, gesitueer in gebiede waar Afrikaans redelik sterk staan. Daarom spreek biblioteekgebruikers sterk voorkeure uit ten opsigte van die Afrikaanse boek en word daar ook 'n groot tekort aan Afrikaanse leesstof ondervind. Veranderde staatsbeleid ten opsigte van die aankoop van Afrikaanse boeke, asook die huidige ekonomiese klimaat, veroorsaak dat groot tekorte in biblioteke aan die opbou is. Feitlik alle gewilde Afrikaanse tydskrifte word vanaf Suid-Afrika ingevoer.
| |
Kultureel
In elke dorp met 'n beduidende aantal Afrikaanssprekendes funksioneer een of meer christelik-gereformeerde gemeentes (= gemeenskappe). Daar bestaan verskeie organisasies wat die kulturele belange van die Afrikaanssprekende probeer beskerm (bv. die Vereniging vir Christelike Afrikaanse Onderwys, die Namibiese Rapportryerskorps, Cultura). Hierdie organisasies dien hoofsaaklik 'n blanke Afrikaanse belang. Tans is daar egter 'n Vereniging vir Afrikaans op gang wat juis ten doel het om die totale Afrikaanse spraakgemeenskap te verenig.
Die Nasionale Teater van Namibië bedien die totale spektrum van Namibiese kultuurbelange betreffende musiek, dans en toneel - hoofsaaklik in Engels. Dit het tot gevolg dat daar feitlik geen aandag aan Afrikaans bestee word nie. Deur middel van privaatinisiatiewe (o.a. die kerk) word geweldig baie vir Afrikaanse musiek in Namibië gedoen. Afrikaanse sangers vanuit Suid-Afrika toer op gereelde basis, soms saam met Namibiese kunstenaars, deur die Afrikaanssprekende gebiede. Afrikaanse talentkompetisies en skryfkompetisies vind gereeld plaas.
| |
4. Vooruitsigte
Na vyf jaar vervul Afrikaans 'n redelik onbeduidende rol in Namibië op bestuursvlak, in die regstelsel en in die ekonomie. Dit is egter duidelik dat Afrikaans op ander lewensterreine steeds aktief funksioneer. Die Afrikaanssprekende het steeds toegang tot die Afrikaanse boek en koerant, tot Afrikaans in die skool, oor die radio en op sosiaal-kulturele terrein. Tesame met die verlies aan amptelike status het hoëfunksiegebruik van Afrikaans egter 'n geweldig drastiese afname getoon.
'n Ander ontwikkeling wat merkbaar is, is die toename aan privaatinisiatief om Afrikaans in stand te hou in kulturele en sosiale funksies. Hierdie aksies spruit dikwels primêr uit 'n behoefte tot godsdienstige en kulturele ekspressie.
Dit is verder duidelik dat die Afrikaanssprekende gemeenskap 'n sterk interafhanklikheid toon met hul eweknieë in Suid-Afrika. Weens die groter getalle Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika, asook 'n baie groter mate van
| |
| |
kundigheid en infrastruktuur, is Afrikaans se posisie in Suid-Afrika sterker as hier en is die welvaart van Afrikaans in Namibië direk afhanklik van die situasie in Suid-Afrika. Druk op die voortbestaan van die Afrikaanse tydskrif en boek aldaar, sal direkte gevolge hier te lande hê.
Bogenoemde tendense sal waarskynlik vir die afsienbare toekoms voortduur. Die invloed van 'n nuwe geslag Namibiërs wat nie blootgestel was aan Afrikaans op skool nie en wat nie meer'n kennis van Afrikaans hoef te hê om binne die staatsbestel te vorder nie, sal binne die volgende dekade gevoel word. Daar is alreeds leerlinge op skool wat nie meer 'n onderwerp binne die grense van die Wiskunde, die Geografie of die Wetenskap op goeie Afrikaans kan bespreek nie. Dit plaas druk op ouers en Afrikaansonderwysers om aan die terminologiese behoeftes van leerlinge te werk.
Uiteindelik is Afrikaans se toekoms, as daar dan daaroor bespiegel moet word, in die hande van die Afrikaanssprekende. Hy sal sy betrokkenheid moet toon deur bv. Afrikaanse boeke te koop, en na Afrikaanse musiek te luister om so die voortbestaan van Afrikaans as kultuurtaal te verseker. Die sg. sterk posisie van Afrikaans in Namibië voor onafhanklikheid is moontlik in 'n groot mate 'n mite as ons sien hoe vinnig 'n nuwe geslag van Afrikaans as tweede of derde taal afstand doen.
'n Mens kon waarskynlik nie 'n ander taalplan t.o.v. Afrikaans van die meerderheid Namibiërs verwag het nie, maar beter taainavorsing en taalbeplanning sou groter sukses vir die taalbeleid in die skole - en die lewende voortbestaan van alle tale in Namibië - 'n groter moontlikheid gemaak het!
|
|